Hoe om Getrou te wees aan God

“Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van die belydenis, Christus Jesus, wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis” (Hebreërs 3:1-2).

Die brief aan die Hebreërs bevat ‘n belangrike oproep aan almal wat “deelgenote is van die hemelse roeping”. Hierdie “hemelse roeping” beteken dat jy die hemel na jou hoor roep.

Selfs vandag roep die hemel na mense wat vry van die materialisme en dwaasheid van die wêreld leef. Wat elke oggend wakker word en Jesus na hulle hoor roep. Hulle kyk na alles wat rondom hulle is en roep: “Jesus, my hart is nie hier nie, my toekoms is nie hier nie. Niks in hierdie wêreld bevredig my nie. U alleen, Here, is my lewe!”

Ek glo dat daar baie binne die liggaam van Christus is wat waarlik aan niks op hierdie aarde gebonde is nie. Jy kan hulle huis, bankrekening, werk of besigheid wegneem – alles behalwe die klere aan hulle lyf – en tog sal hulle God met hulle hele hart liefhê.

Maar getrouheid teenoor God beteken nie slegs ‘n gewilligheid om alles te verloor nie. In werklikheid sê die Skrif jy kan jou liggaam oorgee om verbrand te word as ‘n getuienis, maar sonder die regte motief – sonder liefde in jou hart – sal jy tevergeefs sterf (lees 1 Korintiërs 13:3).

Sommige dink dat getrouheid beteken om sonder wellus te lewe en oorwinning te hê oor sondige gewoontes. Andere dink dit beteken om gereeld Bybel te lees, te bid, kerk-toe te gaan en tiendes te gee. Nog andere dink dit beteken om goed te doen, rein te lewe en alles te vermy wat sleg is. Maar hierdie dinge kan ons nooit getrou maak teenoor God nie.

U vra miskien “Bedoel jy dat al my strewe om nie te sondig nie, al my geheiligde diens aan God, al my gebede beteken nie getrouheid nie? As dit nie getrouheid is nie, wat is dan?”

Al hierdie dinge word wel vir ons voorgeskryf deur die Woord – en ons sal dit doen as ons getrou is. Maar dit op sigself is nie die wese van getrouheid nie. U sien, getrouheid teenoor God is onmoontlik as dit nie sy oorsprong het in ‘n gelowige vertrouende hart nie!

Ek wil ‘n eenvoudige verklaring maak – maar dit is iets wat ons nie kan miskyk as ons getrou aan God wil wees nie:

Ongeloof selfs in die ligste vorm, is afskuwelik voor God. Dit is ‘n verdoemende sonde, iets wat jou siel vernietig. Dit verhinder God se werk in ons – en dit is die sonde agter alle wegdraai van God.

Jy kan absoluut gespeen wees van alle wêreldse besittings en in jou hart, na Christus se koms, verlang. Jy kan onder ‘n preek sit en lofsange sing in God se huis. Jy kan God se Woord elke dag ondersoek. Maar as jy nie bid, “O God, help my om u Woord in my binneste te hoor, help my om te glo dat ek dit kan toepas. Laat dit lewe bring in my,” sal dit geen uitwerking hê nie. Wat jy hoor moet gepaard gaan met geloof.

“Dit het hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie” (Hebreërs 4:2). Laat hierdie woorde insink. “As dit wat julle lees of hoor nie in geloof ontvang word nie, is dit van geen waarde nie.”

Die Skrif sê, “(Jesus) is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was aan die hele huis van God” (Hebreërs 3:2). Hoe is hulle getrouheid gemeet? Hoe was hulle in alles getrou?

Hulle was getrou beoordeel want hulle het nooit die hemelse Vader se woord aan hulle in twyfel getrek nie. Hulle het geweet wat God sê, sal Hy doen. Sien u, getrouheid beteken eenvoudig om te glo dat God sy Woord hou.

Op hierdie manier het Jesus en Moses “end-uit volhard met die vertroue waarmee hulle begin het” (Hebreërs 3:14). Hulle het nie ‘n op-en-af, warm-en-koud, “vandag-hier-môre-weg” soort geloof gehad nie. Hulle geloof het nooit gewankel nie, tot die einde toe!

Soos wat Jesus getrou was in sy sekerheid in sy Vader, so sal ons geloof ook gemeet word: “Christus … is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop” (Hebreërs 3:6).

Soos ons beproewinge toeneem, kan ons vlees moeg raak. Met die tyd, laat baie Christene toe dat vrees en wantroue inkruip. Hulle verloor hulle oorgawe aan God en hulle kinderlike geloof in Hom. In die plek daarvan kom versigtigheid en vrae vul hulle gemoed.

As ek na my lewe kyk, weet ek dat my tyd kort raak. Meer as enigiets anders verlang ek om blymoedig en hoopvol te bly tot die einde. Ek wil nie soos so vele andere my lewe afsluit sonder hoop, omdat ek nie geweet het waar ek staan in Christus nie. As die einde vir hulle gekom het, het ek verwag dat hulle ‘n sekere krag sal openbaar, iets wat hulle sal begeester omdat hulle sou weet dat hulle nader kom daaraan om die Here te sien. In plaas daarvan het hulle, hulle lewe afgesluit met ‘n kreun – omdat hulle nie vasgehou het tot die einde nie.

Laat ek met julle deel, hoe dit moontlik is om tot die einde toe getrou en vol vertroue te bly. As julle teen die einde netso sterk wil bly soos julle nou is, dink aan die volgende drie dinge:

Ons moet daagliks onsself herinner, “Ek het ‘n vyand wat daarop uit is om my te vernietig! Hy is ‘n leuenaar, ‘n bedrieër, en ‘n verleier. Jesus het gesê: “die duiwel … was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44).

Jesus het aan ons die “vader van die leuens” uitgewys – die opstoker van elke valsheid. Alle leuens word deur Satan uitgebrei. God het sy kerk gewaarsku dat die duiwel, veral in die laaste dae, al sy tyd sal gebruik om God se kinders te beskuldig. “Die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uitgegooi… Die aanklaer van ons medegelowiges … hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het” (Openbaring 12:9-10).

Die duiwel staan voor God, vier-en-twintig uur per dag, terwyl hy ons beskuldig en leuens oor ons vertel. Sy leuens is daarop gerig om ons vrede en vertroue in God te ontwrig. Die Skrif sê “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15). Hierdie stroom, is ‘n stroom leuens! En die duiwel wil ons daarmee meesleur deur twyfel in ons gedagtes te plant.

Satan mors nie sy tyd deur vir sondaars te lieg nie; hulle is alreeds sy gevangenes, gevange deur sy misleiding. Nee, die Satan lieg vir daardie gelowiges wat hulle harte op die Here rig. Hy plant leuens in die harte van die wat opreg soek, God se heiliges. Ons kan dit selfs nog nader trek:

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:9-11).

“Rus in God” dui ‘n plek aan van algehele vertroue in sy Woord. Dit is ‘n geloofstand waar daar geen plek is vir worstel, vrees of twyfel nie. Dit is ‘n vaste rus, ‘n onafgebroke vertroue dat God met ons is, dat Hy ons nie sal faal nie – en dat Hy wat ons geroep het, ons krag sal gee tot die einde toe.

Tog, net as jy dink jy het ‘n nuwe lewe van absolute rus en vertroue op God, ingegaan … sodra jy dink die vlees is nou gekruisig, dat jy nie meer op jou eie werke vertrou nie en in plaas daarvan op die Here vertrou … dan kom die ou slang met ‘n sak vol leuens en aantygings. As jou gewetensoor luister – gebruik hy afskuwelike leuens uit die hel, hy beskuldig jou oor alles wat jy doen!

Satan se mikpunt is jou geloof in God. Hy weet, dat as jou geloof toegelaat word om te groei, al sy leuens waardeloos sal wees. En as jy voor God staan en sê; “Ek wil niks anders in hierdie wêreld hê, as net Jesus nie,” dan weet die duiwel dit. Hy weet dit nie slegs deur jou woorde nie, maar deur jou dade, want dit is nie net ‘n verklaring nie, maar ‘n lewenswyse.

As jy waarlik bedoel wat jy gesê het, kan jy seker wees dat die hel op jou losgelaat gaan word. Die duiwel sal na jou toe kom tydens jou stiltetyd, in die kerk, by jou werk – en hy sal vir sy demoniese magte sê, “Gee vir hom hierdie leuen … gee nou hierdie een!” Ek het die lewensverhale van baie dinamiese kinders van God gelees, en hulle almal is dit eens, dat Satan hulle aanval met sy leuens, tydens hulle mees geseënde en produktiefste tye.

Hier is sommige van die duiwel se grootste leuens:

‘n Stem fluister, “Ondanks jou honger na God, jou selfverloëing, en al die preke wat jy gehoor het, het jy geen vordering gemaak in jou wandel met Jesus nie. Jy is nog steeds sondig, hardkoppig en vol van jouself. Jy het so baie ontvang, maar dit het jou so min verander. Jy sal nooit geestelik volwasse word nie, al word jy honderd jaar oud. Iets is verkeerd met jou. Andere groei en gaan jou verby. Wat ‘n huigelaar is jy! Jy is ‘n swak, ruggraatlose Christen!”

Hoe dikwels het die duiwel na jou toe gekom, met sulke leuens? In die eerste plek, geliefdes, vergelyk ons nooit ons geestelike groei met die van andere nie. Ten tweede, is die duiwel nie die een wat ons moet vertel of ons geestelik groei nie. In elk geval sou hy jou nie met sy leuens geteister het, as jy nie geestelik gegroei het nie!

Die duiwel vertel vir jou, “Die geestelike oorlogvoering is te erg vir jou. Jy is moeg en gedaan. Jy het nie krag om nog te veg nie.” Solank jy nog wakker is, fluister hy, “Moeg … gedaan … uitgeput … aan die einde van jou krag … gee oor … stadiger … moeg … moeg … moeg…”

Daniël het ons gewaarsku dat die duiwel suksesvol sal wees in sy stryd teen die gelowiges: “Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg … (Daniël 7:25). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is, “geestelik moeg, uitgeput na gees en verstand.” Miskien het jy nog onlangs daardie woorde in jou gedagtes gehad: “Ek is geestelik uitgeput, verwoes, vernietig!”

Geliefde, dit is nie die taal van ‘n oorwinnaar nie. Ja, daar is tye wanneer ons fisies moeg is. Die duiwel wil dit gebruik om ons te beroof van ons oorwinning en vreugde wat in die Heilige Gees gevind word.

Die feit is dat ons geestelike vermoeienis veroorsaak word deur die aanvaarding van hierdie helse leuen! Satan sê vir jou, “Moenie so ernstig raak oor die dinge van God nie, oor die verlorenes en treurendes, oor die armes en behoeftiges. Moenie so hard werk nie. Ontspan.”

“Iets is verkeerd – jy raak uitgeput. Jy behoort rustig te wees. Jy het seker sonde in jou hart. Watter vreeslike, verborge dinge is in jou?”

U mag vra, “David, plant die Satan sulke gedagtes in jou hart ook?” Ja, absoluut! Hy probeer my studie onderbreek en fluister in my hart, “Jy is nie ‘n goeie herder nie – jy het nie ware Bybelse rus in jou hart nie. Kyk, hoe sukkel jy om ‘n boodskap te kry. David, jy is moeg en uitgeput…”

“As jy geloof het, sal jy nie ‘n dogter hê wat deur bestraling en chemoterapeutiese behandeling moet gaan nie. Jy sal nie ‘n verkoue hê wat jou al weke teister nie. Jy sal vol wees van geestelike krag en openbarings, dat menigtes na God sal kom! Jy is net uitgeput – jy het so min geloof.”

Waar kom dit alles vandaan? Van die vader van leuens, reguit uit die hel! Satan bevraagteken ons geloof, beskuldig ons geloof, en lieg oor ons geloof!

Satan fluister, “Hy het jou nog lief, maar Hy is nie by jou nie. Daar is iets in jou, iets ongesiens, onbekends. Sy seën en guns is nie met jou nie.”

Die duiwel sal jou teister met God se Woord – uit konteks. Hy sal sê: “Het God Israel nie verlaat toe hulle gesondig het nie? Hy het hulle afgesny en verlaat! Jou droogheid, jou daaglikse worsteling met probleme en toetse is ‘n bewys dat God nie met jou is nie. Die Heilige Gees het jou verlaat!”

Dit was die leuen wat die duiwel in Gidoen se gedagte geplaas het. Israel is oorgegee in die hande van die Midianiete en het swaargekry onder hulle wreedheid. Maar God het ‘n engel gestuur wat vir Gideon gesê het, “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigters 6:12).

Gideon het rond gekyk – toe hoor hy die duiwel se leuen – en hy sê vir God, “Ag, my heer, as die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die Here ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete” (Rigters 6:13).

Dit is waar, God het hulle aan die Midianiete oorgegee, slegs om hulle te tugtig. Hy het hulle nooit verlaat nie. Hy het nog nooit sy geliefde volk laat vaar nie. Hy sal ons laat teister deur die vyand, maar as dit genoeg is, sê Hy, “Hou op, hierdie is my volk.” God het sy woord gehou, al kon Gideon dit nie sien nie.

Ek dink die duiwel het Moses ook probeer oortuig, met sy leuens, dat God sy volk sal verlaat en nie verder met hulle sal wees nie. Maar Moses het God se hart geken en die leuen verwerp. Hy het die volk gewaarsku dat hulle sal afdwaal, in die toekoms, en hulle na die afgode wend en God sal vertoorn. Sonde sal hulle hele bestaan bedreig en hulle oor die aarde verstrooi.

“Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die Here jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronomium 4:29-31).

Geliefdes, ons het vandag selfs beter beloftes van die Here: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:5-6). “En kyk Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:20).

Selfs nou, wat jy ookal deurgaan, onthou Jesus het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie – jou nooit begewe nie.” God is altyd by jou!

As jy die Here gesoek het, is Hy by jou, dit maak nie saak watter leuens jy hoor, wat jy voel of wat jou omstandighede is nie. Jy moet voor die duiwel en al sy demone kom staan en kan sê: “Ek gee nie om wat jy sê oor hoe ek voel nie – God is by my!” en “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:12). Dit word nie vir ongelowiges gesê nie, maar vir gelowiges. Hy sê: “Julle – deelgenote van die hemelse roeping. Pas op, wees op julle hoede, wees waaksaam. Maak seker dat julle nie in ongeloof verval nie!”

Hierdie gedeelte sê baie duidelik dat ‘n hart vol ongeloof saamval met wegdraai van God af. Nie met verdowingsmiddels, alkohol of egbreek nie, daardie dinge kom wanneer jy van God weggedraai het. Nee, die Woord sê die ding wat veroorsaak dat ons van God wegdraai, is ongeloof in die hart.

Die skrywer van Hebreërs bind dit alles saam: 1) ‘n bose hart vol ongeloof, 2) verharding van die hart 3) wegdraai van God. So gebeur die verhardings proses: Eers sal jy die duiwel toelaat om vir jou te lieg. Dan is ‘n saad van ongeloof geplant. Die gevolglike verharding het die volgende vrugte: droogheid, leegheid, ‘n afhanklikheid van emosies en gevoelens. Uiteindelik keer jou hart van God af weg.

As gevolg van ongeloof het Israel geweier om in Kanaän in te trek, en die land in besit te neem. Die tien Israelitiese verspieders het die volk se vertroue verwoes, met hulle slegte berigte. Daarom het die Here hulle almal in die wildernis laat rondswerf, vir veertig jaar. Hulle het toe besluit om na die bergwêreld in te vaar en dit te verower, sonder God, maar die Amoriete het hulle kaf gedraf. “En julle het teruggekom en voor die aangesig van die Here geween, maar die Here het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie” (Deuteronomium 1:45).

Na die Opstanding het ongeloof die harte van die elf apostels verhard. Hulle het gehoor dat Jesus gesê het Hy sal weer opstaan, maar hulle harte was vol ongeloof:

“En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het. Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom gewees het, terwyl hulle treur en ween. En toe hulle hoor dat Hy lewe en deur haar gesien is, het hulle dit nie geglo nie.

“En hierna het Hy in ‘n ander gedaante verskyn aan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld. Hulle het ook gegaan en dit aan die ander vertel, maar die het hulle ook nie geglo nie. Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom na sy opstanding gesien het, nie geglo het nie” (Mark 16:9-14).

Jesus bind ongeloof en hardheid van hart, saam. Ongeloof was die een ding wat Hy nie kon verdra nie. Toe Hy aan hulle verskyn, het Hy hulle “verwyt”, dit wil sê Hy het hulle uitgetrap, bestraf, berispe. Hy het gesê: “Hiervoor is daar geen plek nie!”

As ek, voor die Here, na my hart kyk, moet ek sê: “God, ek vertrou op U om vir my te sê wanneer ek droog en leeg is. Selfs al het ek U met my hele hart lief, voel ek soms so. Here, wat is die grond oorsaak hiervan?”

Hebreërs 3:12 gee die antwoord: “Julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.” Wat? Ongeloof in my hart? Vra jy.

Ja! Want as jy waarlik glo wat God sê, dan het Hy alles wat jy nodig het, as jy Hom vra. Leef jy onder veroordeling? Is jy droog, alleen, mismoedig? Toets jou hart vir ongeloof. As jy nie in God se rus kan ingaan nie, dan is ongeloof jou probleem. Jy is skuldig aan ‘n wankelende geloof!

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7). Innerlike onrus word veroorsaak as ons God, op een of ander manier, wantrou. En tog, hoe skerp en streng is sy woorde oor hierdie saak: “so ‘n mens … moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie!”

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:14-16).

Ons is ingenooi in die troonkamer van die Almagtige: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:13).

Hy weet waardeur jy gegaan het, en waardeur jy nou gaan en waardeur jy nog sal gaan. En Hy wag dat jy met vrymoedigheid na Hom sal kom!

Kyk, Hy het self ondervind wat ons deurgaan. En Hy is simpatiek, liefdevol, vol genade en gewillig om te help in tyd van nood. Jy het nie nodig om te verduidelik nie. Jy kan net voor Hom kniel en met vrymoedigheid sê: “Jesus, U weet waardeur ek gaan. Ek kan dit nie in woorde sê nie. Maar U was ook op hierdie plek – help my asseblief!”

Is dit nou jou tyd van nood? Weet jy dat Hy te enige tyd te vinde is? Jy hoef nie te sê: “Ek moet huistoe gaan, na my binnekamer om by God uit te kom nie.” Nee, Hy is daar te enige tyd en enige plek. En God nooi jou om met volle vertroue en sonder voorbehoud te kom, wetende dat Hy jou sal antwoord - Hy hou altyd sy Woord!

Maar ons moet nie die gruwel van ongeloof in sy teenwoordigheid bring nie. Inteendeel ons moet onsself oortuig. “Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees” (Judas 20).

Gelowiges, ons leef deur die beloftes, nie deur wat ons sien nie. As ons getrou wil wees teenoor God, kan ons onsself nie oorgee aan twyfel nie. In plaas daarvan moet ons onsself daagliks in die Here versterk. Die ongeloof aanspreek met die woorde: “Here, ek sal dit nie verdra nie!” Verwerp die duiwel se leuens, en bou jou geloof op God se Woord. Dan sal dit vir jou moontlik wees om in al jou beproewings te sê: “Ek sal my verheug, want ek weet waarheen om te gaan in al my nood.” Hallelujah!