Hoe Om die Seën en Guns van God te Verkry en te Behou

Carter Conlon

Die boek Haggai is ‘n wonderlike les oor hoe om die seën en guns van die Here te verkry en te behou. In uiterste eenvoudigheid, beskryf die profeet Haggai hoe God se kinders kan leef en wandel onder God se voortdurende seën en guns.

Haggai wys egter ook die oorsake en redes waarom mense God se seën verloor – en wat hulle moet doen terug te kom in sy guns! Dit is waar vir nasies, families en individue.

Die wonderlike waarheid is dat God diegene seën wat in getrouheid wandel – Hy bewys guns aan diegene wat Hom guns bewys. Ek weet nie van jou nie, maar ek is lief daarvoor om tussen mense te wees wat die guns van God het! Daar is iets van Christus se lewenslus in hulle. En hulle het ‘n bestendige vrede. Jy hoef nie een dag na die ander bekommerd te wees of hulle op of af is nie, want daar is ‘n standvastigheid in hulle wandel met God.

Een van die grootste hartsere wat ‘n herder egter kan verduur, is om die verskriklike verandering wat plaasvind in Christene wat agteruitgaan, gade te slaan. Hierdie gelowiges was eens aan die brand vir God, toegewyd en ywerig vir Sy werk. Hulle was gelukkig, geseënd, het gegroei in geloof en het geestelik volwasse geword.

Dan eendag, begin jy agterkom dat iets verkeerd is. ‘n Frons het hulle glimlag vervang. Skielik het hulle opgehou groei. Geestelike agteruitgang het ingetree!

Dit gebeur met getroude pare! Miskien is dit waar van jou huwelik. Slegs ‘n jaar of wat gelede, het julle albei so gelukkig gelyk. Daar was ‘n sprankel in julle oë, en julle was mekaar se lieflinge. Oral waarheen julle gegaan het, het God julle geseën. Mense rondom julle het gedink niks kon ooit tussen julle kom nie. Julle het die volheid van God se guns geniet.

Maar nou is iets verkeerd. In ‘n kwessie van ‘n paar maande, leef beide van julle in droefheid! Julle kan oor niks saamstem nie – daar is voortdurende misverstande tussen julle. Julle liefde vir mekaar en vir God is besig om te taan. Sy seën en guns op julle huwelik is teruggetrek!

Dit gebeur ook met individuele Christene! Ek word baie geseën deur die getrouheid en ywer van talle individuele Christene, waarvan baie enkellopend is. Hulle is so vol blydskap, opgewonde oor die Woord van God en plaas altyd die werk van die Here eerste. Wanneer ek hulle sien, sê ek vir myself, “Daar gaan iemand wat nooit sal ophou of stagneer nie. Hy [of sy] is vasbeslote om die hele pad met die Here te stap!”

Dit is egter jammer dat sommige van hierdie ywerige gelowiges begin om te verander. Hulle begin byeenkomste misloop, terwyl hulle gewoond was om na al die dienste te kom. En ‘n hartseer, stroef kyk verskyn op hulle voorkoms. Die seën van God is nie langer daar nie – jy kan dit amper uit hulle sien tap!

Wanneer ek hulle nou sien, wonder ek, “Here – wat het gebeur? Hoe kon hulle net wegdryf? Hoe het so ‘n koudheid in hulle gees ingekom? Hoe kon hulle vergeet het van die geheim van U seën en guns oor hulle te hê?

Dieselfde ding gebeur met nasies! Van die dag af wat God Sy seën oor Israel beveel het, tot by hedendaagse Amerika – het nasies wat eens onder oorvloedige goedheid geleef het, God vergeet! Hulle het vergeet waarom Hy hulle geseën het – het Sy vyande geword, en van seën na verskriklike oordele gegaan!

Geen nasie was ooit so geseën soos Israel nie. God het vir hulle gesê, “Ek het jou gekies uit al die volke van die nasies – en Ek het jou in My arms gedra! Ek het jou gekry, gebad en geklee. Maar toe het jy koud teenoor My geword! Julle het teen my gedraai en geestelike owerspel gepleeg!”

Soos Israel, het Amerika God se seën en guns verloor! Op een stadium was hierdie nasie baie geseën. Ons voorvaders, altans die meeste van hulle, was goddelike manne. En tot ‘n paar jaar gelede, het Amerika die hele wêreld geseën as die nommer een uitleen nasie. Nie meer nie! Ons is nou die nommer-een skuldenaar nasie en skuld meer geld as die hele wêreld saam! Ons is so diep in die skuld dat ons nooit daaruit sal kom nie!

Wat het met Amerika gebeur? Dit het sy siel, sy seën, sy guns by God verloor! Ons is nie langer onder Hom nie – maar Hy het ons aan ons sondes oorgelaat. Ons het goddeloos geword – en nou is ons onder Sy goddelike kastyding!

Hoe verloor nasies, families, individue die seën en guns van God? Wat veroorsaak hierdie veval tot ondergang en skande? Haggai lys drie redes hiervoor:

1. Eiebelang begin om God se belang te vervang!

“Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie” (Haggai 1:2). Die Israeliete het opgehou om die Here se huis te bou – om hulle eie huise te bou!

Hierdie toneel het gebeur agt-en-sestig jaar nadat Salomo se tempel vernietig is. ‘n Oorblyfsel het uit Babiloniese ballingskap teruggekeer na Jerusalem, spesifiek om God se huis te herbou. En, hulle het inderdaad die fondament van die tempel met ywer en opwinding gebou!

Maar toe het hulle begin om moeilikheid te kry – probleme, ontmoedigings. Stadig het hulle belang in die werk van God verloor. Hulle het gesê, “Dit is net nie nou die tyd nie – ons het te veel probleme. Buitendien, ons bring soveel tyd hier deur. Ons verwaarloos ons families en ons besighede.”

Een vir een het hulle gedros om na hulle eie belange om te sien. En die Here se belange – waarvan hulle eie welstand afgehang het – het tweede gekom!

Hulle het hulle eie huise begin bou. En hulle het die hout gebruik wat opgeberg was om die tempel te bou – al die pragtige seders wat van die berghange gekom het.

Toe Haggai op die toneel gekom het, het hy die gekap van spykers gehoor en huise oral sien opgaan. Toe het hy verby die huis van God gegaan – en dit was verwaarloos! Niemand het aan die tempel gewerk nie!

Hy het begin uitroep: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?...So spreek die HERE...Gee ag op wat julle wedervaar het” (Haggai 1:4-5). Hy het met ander woorde gesê, “Word wakker – dink aan wat julle doen!”

Jy mag vra: Wat is die tempel van God wat vandag gebou word? Die Skrif sê dit is ons liggame: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is nie, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Korinthiërs 6:19).

Die kerk van Jesus Christus is Sy liggaam op aarde. Hy is die Hoof, in die hemel – en ons primêre werk hier op aarde is om Sy geestelike liggaam op te bou. Alles wat ons vir Jesus doen, bou nie net ‘n plaaslike kerk of bediening op nie – dit bou Christus se liggaam op aarde!

Hoe verloor gelowiges dan vandag die seën en guns van God? Deur op te hou werk aan Sy tempel! Dit gebeur wanneer ons ophou bid en God soek – wanneer ons ophou om Sy geestelike liggaam op te bou!

Die Skrif sê dat as net een lid ly, dan ly die hele liggaam. Ek weet daarvan as ek my vinger raakslaan of my toon stamp en my hele liggaam reageer – selfs my kop voel dit! Daarom, as jy nie jou deel doen in die opbou van Christus se huis nie – as jy Hom nie soek met jou hele hart nie – dan maak jy die hele liggaam seer. Jy maak selfs die Hoof, Jesus seer!

Hier is die probleem! Haggai wys dit uit: Wanneer die mense God se belange eerste stel, sal Hy vir hulle voedsel en skuiling voorsien. Hulle was inderdaad deur Hom versorg in alle opsigte: Hulle wingerde het gegroei, hulle druiwe was swaar. Hulle het in vrede in die nagte geslaap, en hulle kinders het in die strate gedans. Geen van hulle vyande het oor hulle geseëvier nie. Dit was ‘n wonderlike tyd van God se seën. Maar toe het die mense behep geraak met hulle eie belange!

God is nie daarteen dat jy vir jou huishouding sorg nie. Ons moet vlytig wees in ons daaglikse werk en besigheid. Maar die Israeliete het heeltemal opgehou om God se werk te doen. Eiebelang het al hulle gedagtes in beslag geneem!

Vandag kom talle Christene na God se huis en sit net. Hulle doen nooit iets om Sy liggaam op te bou nie. Hulle is te besorgd oor hulle eie loopbane en families – te besig met hulle eie belange!

Hulle sê, “Eendag sal ek tyd hê – dan sal ek in staat wees om die Here se belange eerste te stel. Sodra ek my rekenings afbetaal het en ‘n neseier opsy gesit het, dan sal ek meer tyd aan geestelike sake gee.” Nee! Hulle is louwarm, selfs koud – en gee God minder en minder van hulle tyd en hulpbronne!

Miskien het jy eens regtig na die Here se huis gekom met ware ywer vir Hom. Jy was vol van Christus – Hy was jou alles, jou lewe. Maar nou het jy daarin vasgevang geraak om geld te maak, terwyl jy probeer om jou lewenstyl te verbeter. Skielik het jóú belange die belange van God oorweldig. Jy het Sy werk uit jou lewe gestoot!

God sê jy sal ‘n hoë prys betaal as jy eiebelang eerste plaas!

“Julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; Julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek” (Haggai 1:6).

God het in wese vir die mense gesê: “Julle hardloop agter materiële dinge aan – huise, grond, geld – en dit eet al julle tyd energie! Wanneer julle verteer word om My werk te doen, het jy blydskap en bevrediging gehad. Maar nou is jy leeg, ontnugter, ontevrede. En dit maak nie saak wat jy doen nie, dit sal jou nooit bevredig nie!”

“Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in punt lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop” (Haggai 1:9).

God het gesê, “Jy wou dit so graag hê en het so hard daarvoor gewerk. Maar jy het My beroof om dit in die hande te kry! Jy het dit huistoe gebring, en dit het jou nie bevredig nie – omdat Ek al die bevrediging weggeblaas het!”

Dit gebeur in Amerika vandag! Dink daaraan: Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was daar ‘n land van so baie, met soveel – met geen bevrediging nie! Julle koop dinge wat julle begeer en hard werk om in die hande te kry – maar sodra julle dit huistoe bring, verdwyn al die nuwigheid! Dit bring geen blydskap, geen bevrediging nie. Julle kan werklik die leegheid in julle voel invloei!

Ons land is verteer met self – self-trots, eie-ambisie, eiewil – met elke mens ingestel op sy eie belang! Geen wonder nie dat so baie dronk en bedwelm is met dwelms, al strompelend in duisternis en verwarring. God het ons materialistiese strewinge weggeblaas – en niks daarvan kan ooit tevrede stel nie!

God sê: “En Ek het droogte oor die land geroep...en oor alle arbeid van die hande” (Haggai 1:11). Hy sê in wese, “As jy begin om jou siel te verwaarloos en jou wend na materiële dinge, sal jy op die ou end vreugdeloos, ontevrede, leeg en droog wees! Ek sal ‘n geestelike droogte bring – en al jou harde werk sal jou net slegter laat voel! Jy sal sê, ‘Is dit al wat daar aan die lewe is?”

Vir die vleeslike Christen, sê God: “Ek het geroep vir ellende, droogheid, sodat jy geen bevrediging kan kry nie – sodat dit jou kon terugdryf na My! Ek wil hê jy moet My belange eerste stel, sodat Ek jou weereens kan seën en guns gee!”

Dank God, Hy doen dit! Elkeen van ons behoort te bid, “Here, as ek enige tyd van U af wegdryf, maak my ellendig!”

2. Die tweede rede waarom mense God se seën en guns verloor: Hulle weier om ‘op te hou om goed genoeg te probeer wees’”

“Die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die HERE...En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God! (Haggai 1:12,14). Uiteindelik was die mense oortuig van hulle eie-belang en het teruggekeer om aan die tempel te werk. Hulle was terug waar hulle moes wees – by die bou van die huis van God!

Terwyl hulle voor die fondament van die tempel gestaan het, het die mure begin opgaan. Maar iets was verkeerd – baie van die ouer mense het begin huil! Waarom? Omdat hulle die heerlikheid van Salomo se tempel ag-en-sestig jaar tevore gesien het – en hierdie nuwe een het nie daarteen opgeweeg nie. In vergelyking met die oue, het dit soos niks gelyk!

Hulle het begin praat van die voormalige heerlikheid en het gesê, “Hierdie tempel het geen ark daarin nie. Daar is geen versoendeksel nie, geen gérubs nie. Daar is geen verterende vuur op die altaar nie, geen shekinah heerlikheid wat op die huis neerdaal nie. Na al ons harde werk – al ons opoffering en gehoorsaamheid, alles waar ons God se belang eerste gestel het – is ons nie goed genoeg nie! Dit is niks wat vergelyk met wat ons eens gesien het nie. Waarom sukkel, waarom voortgaan, as ons so min sien van wat ons gedoen het?”

Die implikasies van hierdie gesindheid was baie ernstig – en dit het God kwaad gemaak! Haggai het vir hulle gesê: “Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroëere heerlikheid gesien het?...Lyk dit nie soos niks in julle oë nie?” (Haggai 2:3). Hy het in wese gesê, “Julle staan hier en vergelyk julle huidige situasie met iets in die verlede – en dit maak julle ellendig!”

Dit raak die kern aan van wat in die kerk van Jesus Christus gebeur vandag. Dit is een van die sleutelredes waarom mense die seën en guns van God verloor!

‘n Leërskare van God se mense gee vandag moed op – omdat hulle nie dink hulle sal ooit goed genoeg wees nie! Soos die Israeliete, het hulle teruggekeer na God toe, terug na om Hom eerste te stel, na Sy wil te soek, na Sy huis te bou. Maar as hulle na hulle lewens kyk, sê hulle, “Ek het so min om te wys vir al my gesukkel! Ek het so min van God se heiligheid, so min van Sy heerlikheid in my lewe. In vergelyking met ander Christene, sal ek nooit goed genoeg wees nie. Wat is die nut van al die gesukkel? Ek sal nooit oorwinning hê nie.”

Ek is oortuig dit is waarom so baie toegewyde Christene die stryd gewonne gee. Hulle vergelyk hulleself met ander gelowiges – en hulle word moedeloos omdat hulle hopeloos minderwaardig voel!

Jare gelede het dit met my gebeur toe ek die van Puriteinse skrywers begin lees het. Ek het hulle heilige vuur vir God gesien – hulle het tussen 4 en 5 in die oggende opgestaan en ses tot agt ure per dag gebid, nooit ‘n dwase woord gespreek nie en was verteer met die Woord van God. Hulle het so heilig voorgekom, so goddelik. Dit het my skuldig laat voel – ek kon nooit met hulle vergelyk nie!

Geliefde, die probleem is dat ons ons oë op ons toestand het! Ons besef nie dat met God se werking in ons lewens, ons presies op die regte plek is nie. Ons kan nie ons geestelik lewe meet teen iemand anders s’n nie. As jy gaan aanhou om dit te doen, sal jy begin dink dat God se heerlikheid uitgeloop het, dat dit nie meer daar is vir jou nie. Jy sal dit nie in jou lewe verwag nie!

Haggai het vir Israel gewys dat hulle op die verkeerde onderwerp gefokus het. Hulle het uit die oog verloor dat God se heerlikheid nie uitgeloop het of uitgeput was nie! God het hierdie woord vir hulle gestuur:

“Nou dan, skep moed...spreek die HERE...skep moed, julle almal, volk van die land...en werk! Want Ek is met julle...my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie” (Haggai 2:4-5). “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare” (Haggai 2:9).

God het in wese vir hulle gesê, “Julle mag gedink het die heerlikheid van die eerste huis was groot. Maar dit is niks in vergelyking met die heerlikheid wat kom nie! Julle het My vrede op julle – My heerlikheid sal julle siele oorstroom! Bly net in die kosbare vrees van die God. Gaan voort, hou aan om My werk te doen, maak nie saak hoe julle voel nie. Wees sterk, want Ek is met julle!”

As jy net getrou sal bly staan – as jy in die Here sal bly glo en nie sal probeer om jouself te meet aan enigiets anders as jou eie liefde vir Jesus nie – dan kan jy verseker wees, jy groei. En God belowe om met jou te wees!

Haggai het hulle gewaarsku, “Ek smeek julle – voor julle moedeloos word omdat julle nie goed genoeg is nie, kyk terug en hersien jou vorige wandel met God. Onthou hoe dit was toe God verlaat. Jy het Sy seën en guns verloor! Wil jy teruggaan na daardie dae toe God jou met brandkoring moes tref? Toe Hy die hael van teleurstellinge op jou neergereën het en alles wat jy gedoen het pure verniet was?

“Nee – julle moet terugkeer na die Here en dan is julle op die regte pad! God is met julle, maak nie saak hoe min vordering julle dink julle maak nie. Gaan voort – die heerlikheid is net hier naby!”

Toe kom hierdie ontsaglike woord van God:

“Merk tog op...hierdie dag...van die vier-en-twintigstedag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die HERE gelê het; merk op...Van hierdie dag af sal Ek seën” (Haggai 2:15-19).

Geliefde, jy kan dit ook afmerk – dit is God se belofte aan jou! Van die presiese uur af wat jy weer fokus op die opbou van Christus se liggaam – met die opsy sit van alle selfsugtige weë, wanneer Hy jou alles word – kan jy begin om uit te kyk om Sy veelvuldig seën te beleef. Jy kan dit letterlik afmerk! Jy sal weet Sy guns is op jou, dat Hy oor jou glimlag – Hom in jou verbly!

3. Die laaste rede waarom God se seën en gunste verloor word: Die aanraking van dood!

Joodse wet het gesê: “Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees...Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE” (Númeri 19:11,13).

Luister nou na Haggai se woorde aan Israel:

“Daarop sê Haggai: As iemand wat deur ‘n lyk verontreinig is, aan al hierdie dinge sou raak, sal dit onrein wees? En die priesters het geantwoord en gesê: Dit sal onrein wees. Toe antwoord Haggai en sê: Só is my oë hierdie volk en só hierdie nasie, spreek die HERE, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer – onrein is dit” (Haggai 2:13-14).

Haggai het gesê, “As dood jou op enige stadium aanraak of jy raak dood aan, het jy besoedel geword. Jy is onrein – jy het jou hele liggaam, die tempel van God, besoedel!”

God het hierdie streng wette vir gesondheidsdoeleindes ingestel, om die mense te beskerm teen die verspreiding van aansteeklike siektes. Maar vir die Joodse verstand, was dood altyd ‘n tipe van verdorwenheid en Sonde. Selfs die Nuwe Testament verbind dood met sonde: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes” (Efésiërs 2:1).

Volgens Esra en Nehemia, was die dood wat Israel aangeraak het, sensualiteit en vermenging met die wêreld. Israelitiese mans het heidense Kanaänitiese vroue begeer en met hulle getrou. Hulle het kinders gehad wat nie eens die Joodse taal kon praat nie. Daar was ‘n onheilige mengsel!

Geliefde, as jy op enige punt in jou Christelike lewe, ‘n aanraking van die wêreld gehad het – ‘n tikkie kompromie, ‘n begeerte wat jou trek – is dit ‘n aanraking van die dood en dit gaan jou die seën en die guns van God kos!

Haggai het ‘n ander vraag vir die volk gevra:

“As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee” (Haggai 2:12).

Haggai neem as voorbeeld ‘n priester wat van die heilige vleis van die offer-altaar vat en huistoe neem. Die profeet vra: “Dra daardie heilige vleis heiligheid oor aan sy kleed? Wanneer hy dit op die tafel by die huis neersit, dra dit heiligheid oor aan die ander kos daar?” Die antwoord was duidelik, “Nee!”

Hier is Haggai se punt: Om in die omgewing van heilige dinge te wees, dra nie heiligheid aan jou oor nie!

Hierdie Israeliete het gedink die land self was heilig, so deur op die land te lewe het hulle heilig gemaak. Net so vandag, oortuig talle Christene hulleself hulle is reg met God solank hulle na Sy huis kom. Hulle dink dat deur die heilige lofprysing en gebede van God se mense, die heiligheid van God op een of ander manier aan hulle oorgedra sal word.

In die koor sing, goeie werke doen, by die Here se tafel sit – nie een van hierdie geestelike dinge op sigself kan jou regverdig maak nie. Jy kan in ‘n Heilige Gees byeenkoms sit en al die seën van God inneem – maar dit sal jou nie heilig maak as dood jou aanraak nie!

Aan die ander kant, die dood en verdorwenheid van sonde is oordraagbaar. Sonde is ‘n oordraagbare siekte – dit steek alles aan wat dit aanraak! As sonde jou op een of ander stadium aanraak, begin dit deur jou hele liggaam versprei. Wys vir my ‘n man wat die dood êrens in sy lewe aanraak, en ek sal vir jou wys hoe dit by sy vrou, sy kinders en sy hele huishouding ingesluip het!

Hier is waarom God al Sy seën oor Israel weggeneem het! Dit is waarom Hy hulle met brandkoring en heuningdou getref het en onguns, droogte, ontevredenheid, ekonomiese chaos, leegheid en swak oeste gebring het. Dit was omdat hulle onrein voor Sy altaar was! Hule het roekeloos geword oor die aanraking van die dood en hulle het verdorwe geword, goddeloos!

Is daar iets van die wêreld in jou hart – as die aanraking van dood nie gereinig word nie – kan jy geen seën van God ontvang nie. Jy is in Sy onguns – en alles wat jy doen is onrein in Sy oë!

Dank God – Hy het voorsiening gemaak vir die reiniging van elke aanraking van sonde!

Stry jy teen ‘n boesemsonde? Het daardie sonde die vloei van God se seën na jou toe verhinder? Voel jy leeg, droog, eensaam? Luister na God se Woord aan jou:

“My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorsrpaak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Johannes 2:1-2). “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

As jy rein wil wees, hardloop na Jesus! “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efésiërs 1:7). “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy al die misdade vergeef het” (Kolossense 2:13).

Nuwe lewe en nuwe seëninge is joune – op hierdie oomblik, in Christus! Dit neem God nie lank om alles te reinig nie. Erken net voor Hom: “Here, ek het U teleurgestel. Maar ek wil dit weg hê – ek wil U seën hê!”

Roep Sy reinigende krag aan. God sal jou terugbring onder Sy hele guns: “’n Betroubare man is ryk aan seëninge” (Spreuke 28:20).

Diebare heilige, ek dring by jou aan – besluit in jou hart om nie na die verlede te kyk nie. Word weereens getrou, plaas Sy belange eerste en soek Hom met jou hele hart. Begin werk aan die tempel van die Heilige Gees. Die Here het jou beloof: “Merk dit af op jou kalender – van hierdie dag af gaan Ek jou seën. Ek gaan jou guns gee!”

Halleluja!