Hoe Geduldig Is Jy?

David Wilkerson

Onlangs het die Here my oë oopgemaak vir ‘n ontsaglike waarheid oor geduld – iets wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Dit verskyn in Jesus se verduideliking van die gelykenis van die saaier:

“Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul hart weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.

“En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.

“En wat in die dorings geval het – dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstrik deur die sorge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.

“En wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Lukas 8:11-15).

Hierdie gelykenis handel alles oor geduld! Ek bedoel nie geduld met mense nie – maar geduld met God. Jesus praat hier van geduld in ons wandel met God, geduld wanneer ons Sy werk doen, geduld met Sy werking in ons.

Ek glo wanneer jy eers sien wat God hier sê, sal jy baie duideliker verstaan waarom so baie Christene afvallig word en verlore gaan. En jy sal ook die werking van die Here in jou eie hart beter verstaan!

Die “goeie grond” wat Jesus noem, is diegene wat die Woord hoor en uiteindelik vrug “met volharding” voortbring. Die ander hoorders het ook ‘n mate van vrug gedra – maar slegs vir ‘n rukkie. Waarom? Dit is omdat hulle ongeduldig met die Here en Sy werking in hulle lewens was – en hulle het verlore gegaan!

Ek bid dat terwyl ons hierdie gelykenis ondersoek, jy elkeen van hierdie hoorders in ‘n heel nuwe lig sal sien. Ek glo daar is ‘n nuwe woord hier vir jou van die Here af.

Eerstens, beskou die “padhoorders”!

“Dié langs die pad is die hoorders... ‘ (vers 12).

Hierdie hoorder het die Woord van God in sy hart geplant gehad. En hy het dit gehoor soos enige geïnteresseerde hoorder: Hy het gesit, geluister en het dit nie verwerp nie. Hy was nie ‘n spotter nie – hy het respek vir die Woord gehad.

Jesus sê egter, “...Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul hart weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie” (vers 12).

Ek het egter nog altyd gesukkel met met hierdie vers. Moet ek glo ek kan vir ‘n gemeente preek, die magte van die hel uitdryf, die duiwel beveel om te wyk – en tog kan Satan voor die voet inkom en ‘n mens beroof van die Woord wat hy of sy pas gehoor het? Kan die vyand oor ‘n gelowige sweef, wag vir die Woord om op daardie persoon se hart te val en dit dan vrylik uitruk?

Dit is vir my soos om die Woord van God reguit in die duiwel se bek te gooi! Ek kan dit net nie aanvaar nie. In plaas daarvan, glo ek ons moet vra: Is hierdie padhoorder bloot ‘n onskuldige, kinderlike persoon wat gretig is om die Woord te hoor? Is dit waar dat, deur geen fout van die hoorder, die duiwel kan neerdaal, hom van die verkondigde Woord beroof en hom geestelik blind maak, sodat Hy hom nie tot God bekeer nie?

Nee – nooit nie! Ons dien nie ‘n God wat só is nie! En dít is nie die evangelie wat ons verkondig nie. Ons moet verstaan dat Jesus iets baie dieper hier sê.

Jy sien, die padhoorder het ‘n hart wat “vertrap” is: “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet” (vers 5).

Hier is ons leidraad! Jesus beskryf die soort hart wat hierdie padhoorder het. En die woord wat Hy hier gebruik, is vertrap. Met ander woord, hierdie persoon het dikwels “gehoor.” Hy is inderdaad ‘n “professionele hoorder” – ‘n kenner daarop. Sy hart is vertrap, hard gemaak soos ‘n deurtrapte pad, deur jare van hoor sonder om ooit te luister!

Hierdie padhoorder word beskryf in Jesaja 5. Die profeet sê vir Israel hoe God hulle gaan verander in ‘n vertrapte wingerd – omdat hulle so baie teregwysings gehoor het en dit alles verwerp het:

“...Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n wildernis maak” (Jesaja 5:5-6).

Jesus haal aan uit dieselfde gedeelte om die gelykenis van die saaier in te lei: “...Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle terwyl hulle sien, nie sien nie, en terywl hulle hoor, nie verstaan nie” (Lukas 8:10). Jy sien, God het Jesaja opdrag gegee: “...Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie” (Jesaja 6:9-10).

Wat Jesaja beskryf, is die toestand van die padhoorder!

Die padhoorder is hard en vertrap omdat hy die Woord so dikwels verwerp het!

Lukas gebruik ‘n Griekse woord vir vertrap wat beteken, “Verwerping met misnoeë; ‘n gesindheid van meerderwaardigheid.” Die padhoorder is so dikwels en vir so lank tereggewys, dat hy nou grimlag vir die evangelie. Hy lag daarvoor – tart dit! Niks ontroer hom meer nie.

Ek dink aan ‘n jong Joodse man wat na Times Square Kerk gekom het gedurende ons eerste twee jaar hier. Hy was haweloos en die gemeente het hom aangeneem. Amper almal het die evangelie met hom gedeel. Liefdevolle mense het vir hom geld gegee en hom uitgeneem vir etes. Jesus Christus was baie duidelik aan hom bekend gemaak.

Daardie jongman het ten minste twee keer na die altaar gekom. Beide kere het ek hom daar gesien met sy hande gevou – en ‘n duiwelse gryslag op sy gesig! Ek het gewoonlik op na die balkon gekyk en hom gesien slaap dwarsdeur die preke. Ek het gebid dat ten minste een boodskap die vertrapte grond van sy hart sou deurdring.

Dit het nooit gebeur nie! Uiteindelik het hy so gemeen, ontwrigtend en uitbarstend geword dat ons hom uit die kerk moes verban. Hy het hard geword – ‘n man met ‘n vertrapte hard. Geen mens in New York het die evangelie méér gehoor nie. Niemand het soveel liefde ontvang nie. Niemand was meer voor gebid nie. Maar hy het sy hard verhard en sy ore toegesluit!

Geliefde, dit is wanneer die vyand inkom – wanneer die hart verhard word! Satan duik af en steel die saad wat gesaai is voor daar selfs ‘n kans is dat daar ‘n klein krakie in die grond oopmaak. Die duiwel het nie voor die voet toegang tot enige hart wat die evangelie hoor nie. Glad nie! Hy steel liewer van diegene wat reeds tereggewys is – maar tog met afsku grynslag teenoor God se Woord!

Hierdie “vertrapte” hoorder is die mees ongeduldige van alle mense. Hy wil nie met sy probleme afreken nie. Hy sal dit liewer verdrink in plesier – alkohol, dwelms, seks, enigiets – om sy verskriklike skuldgevoelens te laat kalmeer!

Jy praat met hom daaroor om eendag die hemel te hê – maar hy wil dit alles nóú hê! Hy wil net goeie tye hê – geen probleme, geen selfverloëning, geen swaarkry nie. “Die kruis opneem? Lyding verduur? Geen wil van my eie nie? Vir God wag om karakter in my te vorm? Jy moet mal wees!”

Menigtes Amerikaners is inderdaad baie haastig om voorspoedig te wees – om “hulle s’n te kry” terwyl die kanse goed is. Dit is wat Ivan Boesky, Michale Milken en soveel ander gierige Wall Streeters gemotiveer het. Hulle het almal gedink die ekonomie sou in duie stort, sodat hulle ‘n vinnige fortuin kon maak om in ‘n Switserse bankrekening te kon wegsteek.

Hoe jammer is dit, dat hierdie gees egter in die kerk in gesluip het! Talle Christene het geen geduld om getoets en beproef te word nie. Hulle het geen tyd om op God te wag en vrug te dra met geduld, soos Jesus beskryf het nie. In plaas daarvan, wil hulle ‘n vol, geseënde, pynlose, voorspoedige lewenstyd hê met geen gewag, geen voorbereiding en geen teregwysing nie. En, dit is jammer dat hulle leraars en ‘n evangelie het om dit te ondersteun!

Hierdie gelowiges haat enige prediking oor gehoorsaamheid, afsondering, heiligheid, bekering. Hulle noem dit “oordeelsdag prediking.” Waarom sulke weerstand, sulke haatlikheid? Dit is omdat hulle vertrap is deur die drang om “alles nóú te kry!” Hulle wil vermaak en geseën word – om kerk toe te gaan, gelukkig te voel en in dieselfde toestand te vertrek as waarin hulle opgedaag het. Hulle wil nie hê die Heilige Gees moet hulle prikkel en diep delf om die stadige werk van geloof te doen nie. Hulle sal liewer na ‘n charismatiese sirkus toe gaan!

Beskou volgende die “wortellose hoorder.”

 “...hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af” (Lukas 8:13).

Hierdie hoorders maak die bekeerlinge wat die heel beste voorkom as wat jy nog ooit gesien het. Hulle is gelukkig, vol vreugde en lewendig. Hulle getuig van Christus se werk in hulle lewens. En hulle het ‘n ware bekering gehad. Hulle wil verder gaan met die Here – word oortuig deur die Woord, is berouvol en lewe in Sy blydskap.

Ek vra egter elke nuwe bekeerling wat nou hierdie boodskap lees om aandagtig op te let: As jy ooit van die Here afvallig word, sal dit wees omdat jy in hierdie kategorie is – ‘n “wortellose hoorder”!

Jy is gered, gevul met God se vrede en jy prys die Here. Jy sing, jy aanbid en jy het blydskap. Maar daar is steeds een probleem: Jy stry steeds teen ‘n kragtige versoeking! Dit is soos ‘n slang, opgekrul en sissend, gereed om jou te pik met sy gif.

Jy haat hierdie boesemsonde wat eens jou lewe beheer het. En nou is jy op jou knieë en roep uit, “O, Jesus, verlos my! Ek wil nie hê hierdie ou begeerte moet my dryf nie. Ek wil vry en rein wees. Help my – dit het ‘n houvas op my hart!”

Jesus sê wortellose hoorders “...in die tyd van versoeking val hulle af” (vers 13). Dit beteken nie die versoeking is so oorweldigend dat dit hulle wegsleep nie. Dit beteken nie hulle val weens ‘n oorweldigende begeerte vir dwelms, ‘n seksuele drang, ‘n dors vir alkohol nie. Nee – dit het alles te doen met ongeduld met die werk van God!

As jy terugkyk na ‘n tyd toe jy geval het of God teleurgestel het, wat sou jý sê het gebeur? Jy het kwaad geword vir God omdat Hy nie jou gebed verhoor het nie! Jy het nie geglo Hy sou Sy Woord hou om jou te bewaar en verlos nie. En in tye van versoeking, het jy afvallig geword omdat jy ongeduldig was met Sy werk in jou!

‘n Vrou in ons kerk het ‘n suster wat van genade afvallig geword en teruggekeer het na dwelms. Hierdie afvallige vrou word geteister deur haar verslawing. Sy is egter soos ‘n evangelis en vertel vir bekeerlinge wat sukkel met ongeduld: “Bly in die kerk – bly naby die Here! Kyk na wat met my gebeur het. Dit is so moeilik om terug te keer!”

Ek is seker as jy saam met haar gaan sit het, sou sy waarskynlik vir jou sê, “Ek het gebid – maar was oorweldig. My prediker het vir my gesê Jesus is my Verlosser – dat Hy my sou bewaar van die mag van sonde. Ek het geroep, ek het gebid en ek het gehuil. Maar niks het gebeur nie!” Geliefde, haar sonde was ongeduld!

O, watter pynlike uitroepe stuur die wortellose hoorder op in tye van versoeking: “Here, maak my vry! Neem weg my begeertes, die ou sondes. Wanneer sal U my ooit verlos, sodat ek nooit weer bang hoef te wees nie?” Wanneer die wortellose hoorder in die tyd van versoeking kom, val hy – omdat hy nie geduldig genoeg is om wortel te skiet nie!

Jy sien, dit is nie genoeg om tot bekering te kom – om bloot “ja” te sê vir God nie. Jy moet jou wortels in die Here laat wortelskiet – en dit verg geduld. Jy kan nie bloot ‘n saadjie in die grond laat val en daaroor gaan staan en beveel, “Groei wortels!” nie. Nee – dit is ‘n natuurlike proses wat tyd in beslag neem. Dit is ‘n soewereine werk van God.

As ‘n jong gelowige, was jy egter verras wanneer jy ook al misluk hetl! Jy het jouself dadelik veroordeel. En na herhaalde mislukkings, het jy vir jouself gesê dat dit nie die moeite werd is om te probeer nie. Toe het die duiwel vir jou gefluister, “Jy is nikswerd – jy is te goddeloos. Jy kan dit nie maak nie. Jy kan net so wel handdoek ingooi!”

Maar jy het vergeet dat God jou altyd met groot deernis oordeel! Hy weet jy het nie tyd gehad om wortels te skiet nie. En dit is die einste rede waarom jy misluk het: Jy het nie tyd gehad om jou wortels te laat groei nie!

Dit mag klink na ‘n verskoning, maar dit is nie. Dit is ‘n geldige verduideliking vir wat in ons wandel met die Here gebeur. En die antwoord vir dit alles is: Gaan terug! Bid, grawe diep. Vra die Here vir wortels. En vra Hom vir geduld totdat dit kom!

Maar, jy vra, wat van volwasse Christene wat eens wortels gehad het – mense wat gegrond was in Christus, maar in sonde verval het? Jy ken Christene wat jarelank gered is, wat gelyk het of hulle diep wortels het - maar wat verskriklik misluk het!

Die Bybel sê, “...hulle wortel het verdor, hulle dra geen vrug meer nie...” (Hoséa 9:16). Sulke gelowiges het nie naby aan Jesus gebly nie! Hulle het eens wortels gehad – maar hulle het weggedryf, en daardie wortels het verdroog. Die winde van valse leerstelling het hulle weggeblaas, omdat hulle toegelaat het dat hulle wortels verdor!

God toets ons om te sien of ons geduldig vir Hom wag om ons te verlos!

God weet dat ons ongeduld heeltemal verwoestend is. Beskou Israel se ongeduld:

Moses het met die berg opgegaan, en God het hom daar laat talm. So wat het daar onder gebeur? Die mense se geduld het opgeraak! Na veertig dae, het hulle opgestaan om te speel, te dans en te fuif in ‘n dronk orgie. Uiteindelik het hulle al hul juwele gesmelt en ‘n goue kalf gemaak om te aanbid!

Ek stel my voor die Israeliete sê, “Waar is Moses? Waar is ons God, ons hulp? Watter soort verlossing is dit? God het ons teleurgestel! Hy het ons gered net om ons oor te laat aan hierdie verskriklike woestyn. Nou gaan ons ons eie ding doen!”

Op daardie oomblik was Moses oppad berg af, met God se Woord in sy hande! God is inderdaad altyd op pad – Hy is altyd voor die deur!

Beskou wat met Saul gebeur het. Samuel het Saul beveel om vir hom te wag by Gilgal voor hy teen die Filistyne sou gaan veg. Hy het hom gewaarsku om nie te gaan oorlog voer totdat Samuel teruggekeer het en aan die Here offers kon bring nie. Samuel het gesê, “Dit mag my ses, sewe, agt dae neem. Maar ek sal daar wees!”

Toe het Saul en Israel saamgekom by Gilgal. Maar na vyf dae, het die Israeliete ongeduldig geword. Die Filistynse leër het vergader en sterker geword – en Saul se volk het links en regs begin vlug! Gou het die koning net ‘n handjie vol soldate oorgehad. Uiteindelik, het hy op die sewende dag baie ongeduldig geword: “Waar is daardie profeet? Waar is die brandoffer? Ons het dit nóú nodig!”

Wat Saul nie geweet het nie, was dat God Samuel laat talm het – omdat Hy wou sien wat in Saul se hart was! God wou weet of hy aan sy geloof kon vashou terwyl alles so sleg gelyk het – en of hy sou sê, “Ek sal sterf terwyl ek God vertrou. Ek gaan staan op Sy Woord aan my!”

Saul het in werklikheid sake in sy eie hande geneem. Hy het gesê, “Bring vir my die lam!” En hy het dit uitgestrek en die offer self gebring (wat teen Israel se wet was!) Toe skielik, sê die Skrif, “En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan...” (1 Samuel 13:10).

Hier het Saul se oplossing en sy verlossing gekom. Maar hy het reeds in ongeduld opgetree! Hy was nie gewillig om sy toekoms op God se Woord te skoei nie. Die oplossing was al die tyd voor die deur, maar hy het dit alles verloor!

Miskien is dit ook waar van jou: Jou verlossing was naby. Maar jy het misluk omdat jy nie net ‘n bietjie langer kon uithou nie. Jy het moed verloor – jy het te gou beswyk!

Dawid is nog ‘n man wat moeg geword het om te wag. Hy het gekla, “Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp” (Psalm 31:22).

Dawid het teruggekyk en gesë, “In my ongeduld het ek die Here beskuldig dat Hy nie my hulpgeroep verhoor het nie. Ek het Hom beskuldig dat Hy my verlaat het in my versoeking en beproewing. Maar die hele tyd, het Hy my gehoor en my bewaar. Ek staan hier vandag heeltemal bewaar deur Hom!”

Daar is ook die “doringagtige hoorder.”

“En wat in die dorings geval het – dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstrik deur die sorge van die lewe en dra geen ryp vrug nie” (Lukas 8:14).

Jesus sê vir ons dat hierdie hoorder nie misluk het nie. Hy het nie teruggegaan wêreld toe nie. Nee, hy het aanhou vorentoe gaan. Maar hy het geen vrug gedra nie!

Die “doringagtige hoorder” gaan kerk toe, luister na preke, lees sy Bybel, kuier saam met God se mense. Hy gaan deur al die rituele – maar hy dra geen vrug tot volheid nie! Hy maak baie beloftes aan God, maar vervul dit nooit. Hy is bloot daar – geestelik leeg, net ‘n liggaam wat in die kerkbank sit!

Jesus sê die doringagtige hoorder “gaan weg.” Met ander woorde, wanneer hy die Woord hoor, gaan hy weg en voort met sy eie lewe. O, hy bid ‘n bietjie elke dag, praat Christelik, getuig per geleentheid voor ander. Maar sy aadag word afgelei en hy is besig – met sorge, plesiere, besigheid!

Hoe het hy so oorweldig geword met die sorge van hierdie wêreld? Deur rykdom! Die Bybel sê dat hierdie soort hoorder vasgevang word in wellustige plesiere as gevolg van sy begeerte na rykdom: "Maar die wat wil ryk word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Timótheüs 6:9).

Ek glo die doringagtige hoorder is meer geduldig as al die ander in hierdie gelykenis. Ek stel hom voor as ‘n hoogs gedrewe, aktiewe, entrepeneur, ‘n mens van aksie – vriendelik, mededeelsaam, nie selfsugtig nie. Maar ‘n verskriklike soort ongeduld het van hom besit geneem: Dit is ‘n ongeduld met die duur eise van die kruis van Christus!  

Die doringagtige hoorder kan nie selfverloëning ten volle omhels nie. Hy kan nie die idee van om alles te verlaat om Jesus te volg, verdra nie. Hy “verstik” (Lukas 8:14) op die eis om uit die wêreld uit te kom en afgesonder en rein te wees. En hy verstik op die roeping om sy loopbaan ondergeskik te stel – om sy lewe vir God se belange te gee.

Ek ken baie min ryk mense wat selfverloëning omhels. Hulle is gewoond daaraan om alles self te voorsien en hulle vlees te behaag. Hulle is soos die doringagtige hoorder, wat nooit gespeen word van die dinge van die wêreld nie. Hierdie hoorder weet niks van die gees wat in Moses was nie, wat “... verkies het om lewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê” (Hebreërs 11:25).

Dank God daar is sommige welgestelde Christene wat in staat is om dit te kan doen. Maar, soos die Bybel dit duidelik maak, spandeer die meeste ryk mense hulle tyd, engergie en al hulle gedagtes op beleggings, sorge en plesiere. En hulle “gaan weg,” tevrede met ‘n vrugtelose wandel!

‘n Pinkster bedienaar het eenkeer ‘n jammerlike belydenis voor my gemaak. Hy het gesê hy het sy ouers in hulle klein treilerhuis gaan besoek. Sy bejaarde pa was ‘n afgetrede bedienaar en was baie arm, met geen versekering nie. Toe die seun na sy ouers se karige omgewing gekyk het, het Satan vir hom gefluister, “Sien jy dit? As jy jou hele lewe vir die evangelie gee, sal jy in armoede beland! Dink aan al die sendelinge wat hulle lewens deurbring vir God. Hulle almal kom huistoe met niks!”

Iets het oor daardie seun gekom. Op daardie oomblik, het hy besluit hy sou nooit arm wees nie! Hy was vasbeslote om al die geld wat hy kon, te maak, sodat hy in styl kon aftree.

Hierdie man was ‘n ampsdraer in sy denominasie en was welbekend en gerespekteerd. Maar hy het begin om gewetenloos te konkel met sy finansies. Al sy tiendes het in beleggings ingegaan. Hy het voortgegaan met sy lewe, was betrokke in die bediening – maar sy beheptheid met rykdom het begin om sy liefde vir Jesus te verstik.

Uiteindelik het al sy beleggings in duie gestort. Maar, dit is jammer, daar was geen bekering of verandering in hom nie. Hy bedien steeds, preek dikwels by konvensies. Maar hy konkel steeds op die sylyn en probeer vir homself ‘n neseier bymekaarmaak.

Anders as sy pa, sal hy dalk eendag aftree met baie geld. Maar sy pa sal hierdie aarde verlaat in heerlikheid! Ek glo die Here sal altyd voorsien vir daardie bejaarde bedienaar en sy vrou. Hulle sal dalk nie ryk wees nie, maar hulle sal altyd kos op die tafel hê. En wanneer daardie vader sterf, sal hy in rus en vrede na die Here toe gaan – huistoe om sy nuwe liggaam en ‘n herehuis wat daarmee saamgaan te ontvang!

Maar die seun sal vasval in die sorge van hierdie lewe. As hy ooit sy toekoms verseker, sal jy nooit in staat wees om dit te geniet nie. Waarom nie? Dit is omdat hy sal leef en sterf met geen volmaakte vrug nie!

Laastens is daar die “goeie grond hoorder”!

“En wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Lukas 8:11-15).

Hierdie hoorders het ‘n “goeie hart”! Wat beteken hierdie frase egter? Die antwoord word gevind in 2 Thessalonicense: “Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus” (2 Thessalonicense 3:5).

Hierdie vers bevat die twee onderskeidende kenmerke van ‘n “goeie grond” hoorder: (1) ‘n hart wat vasbeslote is om God lief te hê, en (2) een wat oortuig is dat Jesus altyd betyds sal red. Hierdie twee kenmerke is noodsaaklik vir ‘n hart wat blywende vrug produseer!

Die goeie-grond hoorder is net soos al die ander. Hy verduur groot verdrukkinge, vurige beproewings en toetse wat vir hom vreemd is. Sy liggaan word moeg. Soms word hy depressief. Soms word hy deur die vlees verlei en is sy passies onbedwingbaar. Soms is sy gedagtes oproerig en moet tot gehoorsaamheid aan die Here gebring word. Soms word sy liefde vir Christus getoets en het hy lang droë tye. Soms word hy geteister deur ‘n gewroegde gewete.

Maar sy hart het ‘n defnitiewe leiding! In alle omstandighede lei hy homself eerste na die liefde van God en dan om geduldig te wag vir Jesus Christus.

Om geduldig op Christus te wag het ‘n tweeledige betekenis: Heel eerste beteken dit om te wag op Jesus se Wederkoms. Maar dit beteken ook om vir Jesus te wag om skielik te kom in antwoord op jou gebede om jou te verlos of te seën.

Die goeie en edele hart sê, “Jesus, ek weet ek is nie volmaak nie. Ek weet my hart is swart sonder U reinigende bloed. Maar ek weet ook ek het U lief met my hele hart en ek is vasbeslote om U te gehoorsaam. Ek wil voor U wandel om U te behaag. Ek het egter nie die krag om enigiets op my eie te doen nie. U het beloof om my te bewaar. En ek gaan vir U wag om tot my redding te kom!”

Jesus het ‘n spesiale woord met verwysing na vrug dra met geduld: “blymoedig.” Dit beteken letterlik, “hoopvolle lydsaamheid deur alle toetse en beproewings.” God se Woord is inderdaad mees produktief in ons wanneer dit ‘n stille, vertrouende rus in die Here produseer.

Hebreërs sê vir ons: “Want julle het lydsaamheid nodig om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry” (Hebreërs 10:36). Het jy jou hoop – jou hele lewe – op hierdie Woord ingestel? Glo jy dit sal jou bewaar deur al die jare van jou wandel met die Here?

Neem God se Woord en maak dit nou dadelik vas in jou hart. Laat dit ‘n edele, rein, goeie hart in jou vorm. Jy sal vind dat dit jou in elke beproewing en versoeking altyd dadelik sal lei na Sy liefde en geduld – totdat Jesus kom met genesing en oorwinning.

Halleluja!