Hindernisse vir Volgehoue Gebed

Dwarsdeur die Bybel word God se volk beveel om gedurig te bid. Ons moet bid wanneeer ons teneergedruk is, wanneeer dit goed gaan en wanneer dit sleg gaan met ons. Ons moet onder alle omstandighede bid – in tye van vreugde en gesondheid, sowel as in siekte en neerslagtigheid, in tye van rus en vooruitgang, sowel as onder beproewing en hartseer. Dit maak nie saak wat ons toestand is nie, ons moet onophoudelik bid.

Ek glo dat elke ernstige Christen wil bid, maar nie almal van ons doen dit nie. Selfs volgroeide Christene verslap in die gebed. As hulle tog bid, vind hulle dit moeilik en vermoeiend, en verloor belangstelling.

As ek vir my vriende vra waarom hulle dit moeilik vind om te bid, haal hulle die skouers op. Hulle het Jesus opreg lief, en hulle het ‘n begeerte om te bid; maar hulle is oorbluf dat hulle nie meer toewyding in die gebed het nie.

Na veel gebed en bestudering van God se Woord, glo ek dat die Here vir my lig op die saak gewerp het. Hier is vyf algemene hindernisse vir volgehoue gebed:

Selfs nadat hulle vir jare geluister het na die evangelie van genade, ontbreek dit sommige Christene nog aan die sekerheid dat hulle deur die Here aanvaar word. Niks verhinder die begeerte om te bid, soos hierdie gedagtegang nie. Totdat jy hierdie wanbeeld die nek ingeslaan het – dat jy na Gods troon kan gaan sonder veroordeling – sal jy nie kan volhou in die gebed nie.

God sê vir ons dat Hy ons aangeneem het bloot omdat Hy vir ons lief is. “Deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Efesiërs 1:5-6). God het jou aangeneem om geen ander rede nie, as dat Hy jou baie lief het.

Jy mag sê: “Ek weet dat God se Woord sê dat ek aanvaar is, en ek weet dat Jesus vir my direkte toegang tot die troon van genade gee, maar ek is te skaam om te gaan. Ek worstel nog met ‘n groot versoeking. Ek sondig nog soms. Ek het nie algehele oorwinning nie. Die enigste gebed wat ek kan bid is: “Here, help my!”

Ek wil jou ‘n eenvoudige vraag vra: Het jy Jesus lief? Is jy sy kind, en is Hy die Hoëpriester wat vir jou intree? Volgens die Skrif maak dit dan nie saak wat jy gedoen het nie – jy het die reg om in sy teenwoordigheid in te gaan, om genade en barmhartigheid, soveel as wat jy nodig het, te ontvang. In werklikheid is dit juis in sulke tye wat Hy as Hoëpriester vir jou intree:

“Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:15-16).

Christus sê vir ons, “Ja, ek deurgrond elke gedagte, goed of sleg. Ek sien elke geheime eersug of ambisie, elke geheime wellus en daad. Tog, nooi ek jou uit om na my troon te kom. Ek verlang om die genade en barmhartigheid aan jou te bewys, wat jy so dringend nodig het.

Dikwels reageer Christene nie op hulle Here se aanbod nie. In plaas daarvan hardloop hulle van God af weg, elke keer wat hulle aan ‘n versoeking toegegee het. Hulle dink, “Hoe kan die Here my aanneem, as ek Hom so dikwels op dieselfde plek teleurstel gestel het? Ek kan nie weer na Hom toe teruggaan nie. Hy was my al te veel genadig, op hierdie plek. Hy kan my nie weer vergewe nie.”

Nie lank gelede nie, het ‘n desperate man vir my geskryf: “Ek is verslaaf aan pornografie. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie – ek is net vasgevang. Dit breek my hart, ek verag myself. Ek het dit teenoor my vrou en my Heer bely. En ek weet dat ek Jesus nog steeds lief het, maar ek kom nie vry nie. Ek is bang om na God toe te gaan met hierdie sonde. Sê vir my, broer David, kan God my vergewe?”

Hierdie man het die Here lief gehad, maar hy is ernstig siek. Hy het ‘n Geneesheer dringend nodig. Ja, hy het gesondig teen die lig wat hy ontvang het. Maar die feit bly staan – Jesus het gekom vir hulle wat ‘n Geneesheer nodig het, die siekes, die duiwel-besetenes, die gevangenis van pornografie. Christus is steeds hierdie man se Hoëpriester.

Hierdie gebonde Christen het in soveel woorde gesê, “My skuldgevoel oor my sonde het my van die genadetroon weggehou.” Ek sê vir hom: “Hardloop na jou binnekamer, en stort jou hart uit voor die genadetroon. Verkry al die genade wat Jesus vir jou het. Dan, as jy sy liefde ontvang het, onderwerp jou sonde deur die krag van die Heilige Gees.”

Sommige Christene dink hulle gebede sal nie verhoor word nie, want hulle het te lank nagelaat om te bid. Vir maande of jare het God se Gees hulle gedring om na die binnekamer te kom – hulle gesoebat en oortuig deur ontelbare preke en ‘n brandende gewete. Oor ‘n tydperk het hierdie mense so ‘n skuld opgebou. Hulle het geweet hoe om te bid, maar het dit nie gedoen nie.

‘n Ongelowige man wou nooit saam met sy vrou kerk toe gaan nie. Elke keer as sy hom gevra het om te gaan, sou hy sê: “Ek voel so skynheilig, want ek gaan in elk geval nooit.” Eindelik, toe hy op ‘n dag inwillig, kom hy tot bekering.

Onder die leiding van die Heilige Gees, het ek eenkeer ‘n groot finansiële bydrae gestuur aan ‘n man wat my kwaad aangedoen het. Na ‘n tyd het ek ‘n brief ontvang. Die man het verduidelik, “Ek kon nie dadelik antwoord nie, want ek het geen woorde gehad om dankie te sê nie. Ek kon nie glo dat jy so-iets, na al hierdie tyd kon doen nie. Dit het my lank geneem om die moed te kry om dankie te sê.”

Baie Christene is soos hierdie man. Hulle kan nie glo dat God hulle sal vergewe en lief sal hê, nadat hulle Hom solank verontagsaam het nie. Dan kom hulle nie. Tog, as ek iemand kan vergewe wat my seergemaak het, hoeveel te meer sal die Here nie sy volk vergewe en seën nie.

God verklaar in Jeremia 2:32: “My volk het My jare gelede al vergeet.” Maar in die volgende hoofstuk, dring die Here daarop aan: “Kom terug na My, sê die Here” (Jeremia 3:1, 7).

As sommige Christene in die moeilikheid is, val hulle op hulle knieë en bid asof hulle huise aan die brand is. Maar tussen die krississe deur, bid hulle selde of ooit. Die meeste is te skaam om dit te erken. Hulle dink “Waarlik, ek roep tot God as een van my kinders in ‘n ongeluk was. Ek bid vurig as ek hoor dat ‘n Geliefde ‘n lewensgevaarlike siekte het. Al wanneer ek bid is wanneer ek aan die einde van myself is.”

Geliefdes, ek veroordeel dit nie, want die Bybel doen dit nie: Die Woord sê:

  • “Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie” (Psalm 102:18). God sal nooit ons gebed verwerp as ons dit in ‘n noodgeval bid nie.
  • “Toe het hulle die Here aangeroep in hulle benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered. En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon” (Psalm 107:6-7). Hierdie verse beskryf mense wat uitgeroep het na die Here toe hulle aan die einde van hulleself was. Tog het God nie vir hulle gesê: “Julle roep net na My as julle in die moeilikheid is, waar was julle toe dit goed gegaan het?” Nee – Hy het hulle gebede geantwoord, sonder voorbehoud.
  • “Hulle het getuimel en gewaggel soos ‘n dronk man, an al hulle wysheid is verwar. Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte” (Psalm 107:27-30). Het God hulle betig omdat hulle in hulle nood uitgeroep het? Nee, Hy het hulle gered en hulle storm laat bedaar.

Waarom antwoord God so genadiglik as ons in ons nood uitroep, selfs al bid ons nie in goeie tye nie? Hy doen dit om een rede: Hy wil hê ons moet later in dankbaarheid na Hom terugkeer. “In hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei … Hulle het hulle verheug oor die kalmte … Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.” (Psalm 107:28-31).

Ek dink God sê vir ons, “Ek sal enigiets doen om gemeenskap met julle te hê. As dit beteken dat Ek julle moet help en seën as julle in die moeilikheid is, om julle na die binnekamer te lei, dan sal Ek dit doen.”

Soms gaan ek my binnekamer binne, beswaard, getoets, verward. In sulke tye het ek my hart uitgestort voor God. Ek het nie iemand nodig gehad om vir my ‘n gebed uit te skryf nie. Om die waarheid te sê het ek nooit my binnekamer in gegaan met ‘n gebedeboek nie. Ek glo nie die Heilige Gees reageer op voorgeskrewe gebede nie. In teendeel, God verkies gebede wat uit die hart kom. Dink daaraan, as ek my liefde teenoor my vrou, Gwen wil betoon, sal nie vir haar ‘n sonnet van Shakespeare voordra nie. Dit sal eenvoudige nie uit my hart kom nie, en sy weet dit. Ek sal liewer sê, “My liefling – ek het jou lief.” Dit is welsprekenheid, want dit kom uit my hart. En God verwag dieselfde welsprekende gebed, wat uit die hart kom. Vir Hom is die mooiste gebed, die gebed van dankbaarheid vir sy goedheid, wat uit ons diepste wese kom.

Ons maak ‘n fout as ons dink, God sal ons gebed nie hoor as ons nie soos Jakob worstel nie, of driemaal per dag hardop bid soos Daniël nie, of doodmoeg raak van geestelike oorlogvoering nie. Natuurlik kom daar tye dat dit wel sal gebeur. Maar ons moet ontslae raak van die opvatting dat God ons nie sal hoor as ons nie ons stemme verhef in gebed en worstel nie.

Hierdie wanopvatting is die rede waarom skaam, teruggetrokke bekeerlinge nie ‘n gewoonte daarvan maak om te bid nie. Hulle hoor ouer Christene wat vurig bid, en met groot uitgesrpokenheid – en hulle voel bevrees. Hulle dink, “Ek kan nooit so bid nie. Ek is selfs te skaam om in die publiek te bid. Ek hoop ek word nooit uitgeroep om in die kerk te bid nie.”

Toe ek en Gwen onlangs saam met ‘n paar Christen egpare geëet het, het ek vir een van die mans gevra om vir ons te bid. Hy het gou gefluister, “Pastoor, vra asseblief iemand anders.” Ek weet dat hierdie liewe man dikwels alleen bid, maar hy was te skaam om selfs voor ete te bid.

Ek dink God verstaan dit. Natuurlik is daar ‘n tyd om hardop uit te roep – om te ween en te worstel, om by God aan te dring totdat Hy antwoord. Jesus self het met ‘n harde stem uitgeroep toe Hy in Getsemane was.

Tog kan ons so intens bid, sonder ‘n geluid. Ons gebede kan netso vurig en kragtig wees, sonder stemverheffing. So was dit met Hanna toe sy vir ‘n seun gebid het:

“En bitter bedroef het sy tot die Here gebid en bitterlik geween; (1 Samuel 1:10) “… want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie – het Eli gedink dat sy dronk was. (1:13)

“Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is ‘n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort.” (1 Samuel 1: 15).

Terwyl Hanna haar siel uitgestort het voor God, het sy nie ‘n enkele woord geuiter nie. Tog het haar gebed die hemele beweeg. En die Here het hierdie biddende vrou met ‘n seun beloon – die profeet Samuel wat die stem van God in Israel verteenwoordig het.

Soms mag ons soos Hanna, te swak en te verward wees om ons stem te verhef. Partykeer kan ons net voor die Here ween. Ek was al op daardie plek. Ek het al na my binnekamer gegaan, so moeg en uitgeput, bedroef en terneergedruk, dat ek niks gehad het om aan die Here te offer nie. Al wat ek kon doen was om in die Here se teenwoordigheid te sit en te sê: “Hou my vas, o God, ek het U nodig!”

Dawid beskryf die ondervinding in Psalm 6.

  • “O Here, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie” (Psalm 6:2). Dawid se probleme was so erg, hy was oortuig dat God kwaad was vir hom, en hom gestraf het vir ‘n verborge sonde.
  • “Wees my genadig, Here, want ek is verswak; maak my gesond, Here, want my gebeente is verskrik” (Psalm 6:3). Dawid se situasie was so oorweldigend, dit het sy liggaam verswak en sy gedagte verwar.
  • “Ja, my siel is baie verskrik; en U, Here, tot hoe lank?” (Psalm 6:4). Dawid kon nie verstaan waarom God so lank geneem het om hom te verhoor nie. Hy roep uit: “Here, wanneer gaan u my verlos?”
  • “Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met trane. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders” (Psalm 6:7-8). Dawid was so ontsteld, dat hy deur die nag gehuil het en nie kon slaap nie.

Ten slotte gee God vir Dawid ‘n openbaring. Dit begeester hom so, dat hy opstaan en die demoniese magte bestraf. “Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die Here het die stem van my geween gehoor” (Psalm 6:9).

Hoe ontvang God hierdie openbaring? God het sy gebed gehoor. “Die Here het my smeking gehoor; die Here neem my gebed aan” (Psalm 6:10). Elke traan van Dawid was ‘n gebed, elke sug ‘n stem wat na Bo roep. God is getrou om elke stem te hoor wat na Hom roep.

Ons het reeds gekyk na die waarde van stille, onuitgesproke gebede. Ek dink dat as Paulus praat van “bid sonder ophou”, praat hy van stille gebed. Dit is die gebede wat jy kan bid terwyl jy motor bestuur, in die bus, terwyl jy huis-of tuinwerk doen of in ‘n besigheidsvergadering is. (Ek moes soms onafgebroke bid in kerkraadsvergaderings met bouers en regsgeleerdes in New York.)

Dit is selde dat stille gebed alleen, voldoende is. As die stille gebed die enigste gebed is wat
ons bid, sal ons nooit absolute oorwinning oor sonde kry nie. Ons sal ook nie die diepte van gemeenskap met Jesus geniet nie. Christus sê: “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde” (Mattheüs 6:6).

Ek het geseënde verligting ervaar, wanneer ek na die Here uitgeroep het. Soms ry ek uit die stad uit, klim uit my motor uit en loop rond, met my arms opgehef tot God terwyl ek uitroep na Hom. Ek roep my pyn en frustrasie uit na Hom totdat ek verligting kry.

Ek dink Dawid het ook so gebid. Hy skryf in Psalm 3:

  • “O Here, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op” (Psalm 3:2). Dawid het gesien hoe sy vyande, om hom, toeneem.
  • “Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie” (Psalm 3:3). Mense gee op met Dawid en sê hy kan nie gehelp word nie.
  • “Luid roep ek die Here aan, en Hy verhoor my van sy Heilige berg” (Psalm 3:5). Dawid roep uit na God om hulp. Wat is die gevolg? “Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die Here ondersteun my” (Psalm 3:6). Dawid ontvang hulp deur tot God te roep. Hy sê, “Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie” (Psalm 3:7).

Geen mens het ‘n natuurlike neiging om te bid nie. Niemand kan effektief bid uit sy eie begeerte nie. Volgehoue gebed kan nooit uit menslike wil of deursettingsvermoë bewerk word nie.

Die begeerte en vermoë om te bid, kom slegs deur die inwoning van die Heilige Gees. Sonder sy volle ondersteuning kan niemand bid nie, want ons weet nie hoe nie. Paulus skryf: “En net so kom die ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Romeine 8:26).

Die Heilige Gees fokus ons aandag op Jesus. Terwyl ons bid open Hy vir ons die begrip van die woorde van Christus en die res van die Skrif. Menige Christen glo dat dit goed is om te bid, terwyl hulle hulle gedagtes afskakel. Dan glo hulle dat elke stem wat hulle dan hoor, die stem van God is. Geliefdes, dit is hoe menige dwaling begin.

Christene het na ons sending geskryf en verklaar dat hulle een van die twee “getuies” is waarvan in Openbaring gepraat word. Hoe kom hulle tot so ‘n oortuiging? Hulle sê, “’n Stem het met my gepraat terwyl ek gebid het.”

Daar is vernaamlik een misleiding merkbaar onder hulle wat vir ons skryf. ‘n Stem sê vir hulle, “Julle gaan ‘n groot som geld ontvang, dan kan julle, julself volkome aan God se werk toewy. Dan sal julle leiers en volke na die Here lei.” Sommige Christene het onder so ‘n wanbeeld, vir jare, geleef. Hoe kom hulle daarop? Hulle sê: “Ek het gebid, my gedagtes leeg gemaak, en gewag dat God sal praat.”

Elke keer as ons gaan bid, moet ons ons gedagte, op God se Woord rig: “elke gedagte gevange neem, in gehoorsaamheid aan Christus (2 Korintiërs 10:5). Ons moet ons gedagte toespits op die Skrif, sy aangesig soek, en op die Heilige Gees vertrou om ons te lei.

Dit moet God se Gees bedroef om geestelike blinde massas te sien wat bid, terwyl Christene voortgaan om die binnekamer te verontagsaam. Dink hieroor na:

  • Miljoene Moslems kniel daagliks, drie tot vyf keer in die rigting van Mekka om te bid. Maak nie saak waar hulle is nie, hulle gooi ‘n mat oop, kniel en bid, maak nie saak wat andere van hulle dink nie.
  • Oral oor die wêreld bid Jode – in busse, in vliegtuie, in winkelsentrums – maak nie saak wat andere dink nie.• Katolieke bid met krale, en sê: “Heil Maria’s en Onse Vaders”, steek kerse aan vir die gestorwenes – maak nie saak wat ander dink nie.
  • Buddiste priesters bid eindeloos, draai gebedswiele onophoudelik. Hare Krishnas galmsing vir ure, tot hulle omval van uitputting. Heidene staan vroeg en laat en bid, galmsing en lui klokke – op straathoeke, in winkels, in tempels en moskee’s. Oorkant die straat van ons gebou in New York, sien ek ‘n Oosterse Guru wat in sy woonstel elke nag rondloop terwyl hy sy god aanroep vir ‘n uur of meer.

Ondanks dit alles, bly die enigste ware God – die Een wat gebede verhoor – afgeskeep. Terwyl ‘n verloregaande wêreld vurig bid, vir hulle gode en afgode, bly evangeliese Christene ongeërg oor gebed. Ons bid selde, of spandeer tyd met ons Heer. Tog het Hy sy eie Gees tot ons beskikking gestel, om ons te leer bid, tot ons eie seën en voordeel.

Ek vra nou – wil jy ‘n bestendige gebedslewe hê? As dit so is, vra die Heilige Gees om jou te leer. Hy bly in jou, want Hy is uitgestort op alle gelowiges. Volg eenvoudig sy leiding.

Hy sal ‘n gees van dankbaarheid in jou hart sit. En ‘n verlange om te bid. Jy mag gedurende die dag besig wees, wanneer daar skielik ‘n begeerte om te bid oor jou sal kom. Soos wat jy toegee aan die begeerte, sal jou tong losraak en ‘n stroom van goddelike gebed sal uit jou stroom.