Hierdie Tye Vereis Spesiale Vertroue

David Wilkerson

Elke Christen maak daarop aanspraak dat hulle die Here vertrou. Maar in werklikheid, is baie van God se kinders nie gereed om die swart storm van ellendes wat oppad is na die wêreld te trotseer nie!

Die skale van God se toorn gaan binnekort uitgegiet word oor die aarde in ‘n tyd van ellende soos nog nooit in die mensdom se geskiedenis nie. En tensy ons besit neem van ‘n spesiale, onwrikbare vertroue in die Here, sal min Christene die baie moeilike tye wat voorlê, oorleef.

Wanneer die volle drif van die storm oor ons losbreek – wanneer destruktiewe oorloë uitbreek, anargie die strate oorneem, werkloosheid die land teister en onsekerheid soos ‘n wolk oor die mensdom neerdaal – sal ‘n menigte Christene nie in staat wees om dit te hanteer nie. Oorval deur vrees, angs en hopeloosheid, sal hulle hulle oorwinningslied verloor. Hulle sal geestelik en fisies bankrot wees, sonder ‘n greintjie vertroue in die Here. Hulle sal skielik moed verloor en verdrink in droefheid en onsteltenis!

Wie is hierdie gelowiges wat nie gereed sal wees om die storm te deurstaan nie? Hulle is diegene wat nie ‘n konsekwente, daaglikse gebedslewe met die Here gekweek het nie!

Gelowiges in ons en ander gemeentes, hoor herhaaldelik hoe hulle herders hulle smeek om om tyd eenkant te sit om God in hulle binnekamers te ontmoet! Slegs diegene wat geleer om hulle harte voor die Here in die binnekamer van gebed uit te stort, sal beloon word met ‘n heilige geloof en vertroue!

Jy sien, gemeenskap gee geboorte aan vertroue. Slegs deur al ons vrese en bekommernisse voor God uit te stort, kan ons Sy rus en versekering kry: “Vertrou op Hom altyd … Stort julle hart uit voor sy aangesig” (Psalm 62:8). Vertrou en uitstort is onafskeidbaar!

Dit kan nie duideliker wees nie. As ons God te alle tye moet vertrou – selfs in die donkerste tye – dan moet ons ons harte voortdurend voor Hom uitstort.

Soos die dae meer angswekkend word, sal daar ‘n volk van God opstaan wat moediger en moediger sal word. Hulle sal gelowiges wees wat daagliks die Naam van die Here aanroep, “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie, wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:6).

Dawid het geleer om na God uit te roep in elke krisis van sy lewe. Keer op keer het hierdie goddelike man na sy binnekamer gevlug, en al sy vrese voor die Here uitgestort: “Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore … Hy het my verlos” (2 Samuel 22:7,18).

Toe die grootste storm van sy lewe oor hom losgebars het, was Dawid gereed. Hy hoef nie op iemand te gesteun het nie. Hy het reeds ‘n lied in sy hart gehad wat hy deur die duisternis en onsekerheid kon sing:

“Die Here is my rots, en my bergvesting en my redder; God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my Verlosser; van geweld het U my verlos. Ek roep die Here aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos” (2 Samuel 22: 2-4).

Dawid het die storm gesien kom – ‘n storm van geweld, vloedstrome van goddelose mense, “bande van die doderyk … strikke van die dood” (2 Samuel 22:5-6). Tog kon geen een van hierdie dinge Dawid ontstel nie! Sy vertroue in God was vas en geanker, as gevolg van sy daaglikse gemeenskap met Hom.

Vandag is daar gelowiges wat hulle gereeld afsonder met God en Hom leer ken – en daardie intimiteit gee geboorte aan ‘n groot vertroue! Onder sterk prediking sit, na bandopnames luister, te aanbid en lof bring in die huis van die Here – al hierdie aktiwiteite is prysenswaardig en nuttig. Maar nie een daarvan verskaf die krag wat jy nodig het om sterk te staan in tye van moeilikheid nie! Niks sal jou vertroue so opbou soos afgesonderde, daaglikse gebed met jou hemelse Vader nie!

Jy moet ‘n plek hê waar jy met God kan ontmoet elke dag! Jy mag nie ‘n probleem hê wat jy nie vir Hom gee nie, ‘n las wat jy nie op Hom wil plaas nie. En jy kan nie Sy teenwoordigheid verlaat totdat jy gerusgestel daar kan weggaan en op Sy ewige arms leun nie!

Luister na hierdie waarskuwing: As jy nie daagliks jou hart uitstort in jou binnekamer nie, sal jy getref word met “dubbele angs” en “dubbele vrees” wanneer dinge regtig erg word! Jy sal te laat wakker skrik om te besef jy is tussen die dwase maagde, wat lampe met lamppitte gereed het en ‘n begeerte het om in die bruilof te wees – maar geen olie om die vlam te laat brand nie!

Hierdie tye vra vir meer as net ‘n algemene vertroue in God – dit vereis ‘n spesiale vertroue vir spesiale tye!

Alle Christene het ‘n algemene vertroue in die Here. Ons staan almal op ‘n paar beloftes wat toepaslik is op die hele liggaam van Christus, soos:

Hebreërs 13:5 – “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

Romeine 8:28 – “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Psalm 84:11 – “Want die Here God is ‘n son en skild; die Here sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.”

Hierdie welbekende beloftes het deur die eeue heen groot vertroosting en seën vir God se volk gebring. En saam met al hierdie beloftes, gee God egter spesifieke beloftes vir spesiale tye – insluitende moeilike tye. En ons moet hierdie beloftes ken en dit saam met ons neem wanneer ons met vrymoedigheid na God se troon van genade gaan!

Die Puriteine, wat kragtig deur God geseën was, het gesê elke belofte van God is ‘n heilige betoog. Hulle glo ‘n Christen behoort nie voor die Here te kom met slegs ‘n algemene geloof nie.

Wanneer God ons beveel om met vrymoedigheid voor sy troon te verskyn, om genade en barmhartigheid te ontvang in ons tyd van nood, kan ons nie net ‘n algemene idee hê van waarom ons daar is nie, behalwe dat die Bybel sê jy moet daar wees. Ons kan nie net sê, “Here, U ken my hart. Gee my wat U ook al sien wat ek nodig het” nie.

Dit mag dalk goed klink – maar God wil aan ons ‘n spesiale, spesifieke belofte vir spesifieke tye in ons lewens gee. En Hy wil hê dat ons hierdie beloftes met ons hele hart in besit moet neem, sodat ons sterk kan staan en versekerd kan wees as ons met Hom redeneer! Hy wil hê ons moet voor Sy troon staan met volmaakte vertroosting, algehele versekering en geen twyfel hoegenaamd nie!

Miskien is die rede waarom jy nie van God hoor nie, omdat jy vir Hom ‘n algemene geloof gee sonder om spesifiek te wees. God sê, “Kom met goeie redes te voorskyn. Waarom moet Ek dit vir jou doen? Waarom moet Ek jou seën?” Hy weet waarom, natuurlik – maar Hy wil hê jy moet weet waarom!

Ek wil drie spesifieke tye uitwys wanneer spesiale of spesifieke vertroue nodig is, gebaseer op God se spesiale beloftes. Daar is baie meer kere wanneer so ‘n vertroue nodig is, maar hierdie drie gevalle is veral noemenswaardig:

1. Wanneer ‘n daad van gehoorsaamheid jou in die onbekende werp!

God het ‘n ongelooflike daad van gehoorsaamheid van Abraham vereis – Hy het hom gevra om in die onbekende toekoms in te stap! Abraham moes hierdie stap neem met niks anders tasbaars as net hierdie belofte van God: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys” (Génesis 12:1).

Die skrywer van Hebreërs sê, “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is … gehoorsaam; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” (Hebreërs 11:8). Die Here het geen netjiese, uitgewerkte reisplan, voor Abraham neergelê nie. In plaas daarvan, het Hy bloot gesê, “Maak jou familie bymekaar, pak jou besittings, laat jou bloedverwante agter en gaan na ‘n plek wat Ek vir jou sal aanwys.”

Op die ouderdom van vyf-en sewentig jaar, het God Abraham gevra om homself volkome op God se getrouheid te verlaat. Hy was beveel om op te pak en te vertrek – met geen verduidelikings, geen beskrywing van waarheen hy op pad was, of die moontlikheid van gevare wat op hom gewag het nie. Abraham het vertrek sonder om iets te weet. Hy moes slegs rus in die belofte: “Ek sal jou wys – Ek sal jou seën!”

Sy vrou, Sara, was heel moontlik nie anders as enige ander hedendaagse vrou nie. Sy het sekerlik die vrae gevra wat enige vrou sou vra: “Gaan ons suid of noord? Watter soort klere moet ek inpak? Sal ons onsself êrens vestig of gaan ons aanhou trek?”

Al wat Abraham kon antwoord was, “God het gesê gaan, daarom gaan ons. Hy sal ons wys wat die volgende stap is, sodra ons begin beweeg.” God kon nie vir Abraham enigiets wys voor hy vertrek het nie – en selfs hierna, was dit vir hom ‘n dag-tot-dag wandel!

Soms dink ons wanneer God ons beveel om iets te doen en ons gehoorsaam, sal alles glad verloop van daardie punt af aan. Ons dink God behoort so dankbaar te wees vir ons gehoorsaamheid, dat Hy ons op ‘n vier-laan snelweg na die hemel sal plaas!

Daar was tye toe God my beveel het om in geloof uit te stap, en ek het. Maar daarna het ek gesê, “God, moet dit nooit weer van my vra nie. Ek het dit gedoen en U het my geseën – maar ek wil nie so lewe nie!”

 Abraham het God se Woord gehoorsaam – maar een daad van gehoorsaamheid weeg nie op teen ‘n lewe van gehoorsaamheid nie. Hy het inderdaad ‘n belofte van God gehad – maar langs die pad moes hy deur die Negev-woestyn gaan, oor sneeu-bedekte berge, nog ‘n woestyn, en die oorlogvoerende volke van Kanaän en toe beland hy in die middel van ‘n hongersnood in Egipte. Ek is so bly God het niks vir hom gesê oor die pad wat hy sou stap nie!

Die spesifieke pad was egter soos geen ander pad waarop Abraham al ooit gestap het nie. En tog, deur dit alles heen, was hy nooit in gevaar nie. Niemand kon hom kwaad aandoen nie. God was sy skild en sy beskermer elke dag. En as gevolg van sy geloof, het Abrahm ‘n vriend van God geword!

God vra al sy dienaars om voortdurend die onbekende te betree! Dit is dit nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie – dit is ‘n wandel wat ons hele leeftyd vereis!

Maar ons gehoorsaamheid verwerf vir ons ‘n groot beloning: nie slegs die konstante, onsigbare beskerming van ons Verbondsgod nie, maar die Here self! “Die woord van die HERE het tot Abraham gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abraham, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot” (Génesis 15:1).

God maak hier ‘n heerlike verklaring aan ons! Diegene wat Hom gehoorsaam – wat uitstap en nie weet wat met hulle sal gebeur nie, en tog blindelings Sy Woord vertrou – sal nooit in gevaar wees nie! “Ek sal oor hulle waghou soos ‘n skild. En Ek sal hulle beloning wees. Ek sal Myself vir hulle gee!”

Die Here mag jou dalk beveel het om iets of iemand op die altaar neer te lê. Hy mag dalk vir jou vertel het om ‘n stap van gehoorsaamheid te neem – en jy weet as jy dit doen, sal dit jou buite in die onbekende inwerp en jou alles kos: jou loopbaan, jou besigheid, jou geliefdes. Jy mag mal of dwaas genoem word – maar in jou hart weet jy God het jou liefdevol beveel, “Gehoorsaam My – nou!”

‘n Lid van ons kerk, Diane Venora, is ‘n bekroonde aktrise. Maar net ’n paar weke gelede het sy die film bedryf heeltemal te verlaat, as ‘n daad van gehoorsaam aan die Here. Sy het in haar hart geweet dat die Here haar vra om dit alles prys te gegee!

Daarom het sy ‘n toekenning vir beste ondersteunende aktrise van die hand gewys en die groot onbekende betree. Sy het geen werk, of enige waarborg van enige soort werk gehad nie. Sy het uitgegaan en nie geweet waarheen sy op pad was nie!

Die volgende dag het haar agent haar geskakel en haar ingelig dat sy ‘n hoofrol in ‘n film aangebied is saam met drie van die bekendste akteurs in die besigheid. Nadat sy afgelui het, het sy gesê, “Nee, Satan, ek weet wat jy besig is om te probeer doen. Ek sal nie van plan verander nie!”

Geliefde, dit is hoe dit vir baie van ons ook gaan wees! Wanneer jy ook al in getroue gehoorsaamheid uitstap, sal die duiwel die een of ander verleiding bring om jou terug te trek na die kant van ongehoorsaamheid. Gehoorsaamheid sal jou altyd iets kos!

Dieselfde week, het Diane hof toe gegaan en ‘n groot oorwinning behaal in ‘n kindertoesigsaak. Haar Skild het vir haar gewerk! Sy het Christus gewen! Haar beloning was die Here self.

Drie jaar gelede, het God die herders van hierdie kerk en ons families geroep om ‘n groot stap van gehoorsaamheid te neem toe Hy vir ons gevra het om ons gerieflike Texas omgewing te verlaat en na New York Stad te kom. Ons het geen ‘n gemeente en geen gebou gehad nie en baie min geld. God het slegs gesê, “Gaan, en Ek sal met julle wees! Ek sal julle seën, Ek sal julle beloning wees...”

“Toe het Abraham weggetrek soos die HERE hom gesê het” (Génesis 12:4). En net so, het ons! Die Here het vir ons ‘n skild geword, en Hy het Homself jaar na jaar vir ons gegee. Vandag het ons ‘n groeiende, volwaardige gemeente wat staan as ‘n getuienis van Sy wonderwerk!

God se Woord wemel met spesiale, spesifieke beloftes aan diegene wat geroep is om in gehoorsaamheid uit te stap!

Hier is ‘n paar van die beloftes om saam met jou na God se troon te neem! Jy kan jou lewe op die spel plaas met hierdie beloftes:

“As julle dan nou terdeë na my stem luister [sonder ‘n halfhartige verbintenis] en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees” (Exodus 19:5)

“As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word” (Jesaja 1:19-20).

“Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan” (Jeremiah 7:23).

Ons het ook ‘n waterdigte belofte dat die Heilige Gees met ons sal wees deur al die stappe van gehoorsaamheid en in tye van beproewing: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Hand 5:32).

As God vir jou sê om iets te laat staan, staan op en doen dit! Die Bybel sê duidelik dat as jy die Here gehoorsaam, Hy die Heilige Gees vir jou sal gee om jou Gids en krag te wees – om jou van alles te voorsien wat jy nodig het om die daad van gehoorsaamheid te volbring!

2. Ons het ‘n spesifieke, spesiale geloof nodig wanneer ons bestaan bedreig word!

In my leeftyd, het ek nog nooit met soveel vreesagtige mense gepraat soos in die afgelope drie maande nie. Amerika is regtig bang!

Bouers, eiendomsagente, Wall Street beroepslui, kleinhandelaars, uitvoerende bestuurders, regsgeleerdes, restaurant-eienaars, eienaars van klein besighede – hulle almal sê dieselfde ding: “Dit is erger as wat die meeste mense besef. En dit gaan nog erger word! Alles gaan tot ‘n stilstand kom – daar is slegs verkopers en geen kopers nie!”

Geliefde, ons jaag na baie moeilike tye! Talle Christene is onder die menigtes wat hulle werk verloor het, en nog baie meer sal werkloosheid beleef!

In een staat, is 21,000 huise teruggeneem. In New York Stad, moes 100,000 mense met hulle families saam met ander families intrek in enkelfamilie-woonstelle. In Denver, moes baie mense wegloop van huise en verbandsverpligtinge, omdat hulle meer skuld as was die huis werd is. Hulle stroop die huis, trek uit en laat geen versendingsadres nie.

Nie een van ons hou daarvan om hierdie soort berigte te hoor nie – dit is so neerdrukkend! Die Puriteine het ‘n gesegde gehad: “Ons liefdes koop ons onderskeidingsvermoëns om.” Ons almal is lief vir Amerika en ons manier van lewe. Maar tensy ons die waarheid eken dat swaar tye voor die deur is, sal ons nooit die vertroue en vrymoedigheid hê wat ons gaan nodig kry nie! Ons moet in staat wees om die tye te kan onderskei, sodat ons onsself daarop kan toespits om van God ‘n baie spesifieke vertroue te kry wat ons sal deurdra deur dit wat voorlê!

Wees verseker, niks hiervan vang Jesus onkant nie. Hy het dit alles gesien kom! Hy wat elke mens se hare en elke mossie wat val getel het, het lank reeds geweet wat elkeen van ons in hierdie laaste dae sou beleef.

Hy weet waarheen elke dollar in die federale begroting sou gaan – en dat jou huur en belastings die hoogte sou inskiet. Hy weet van elke werksverlies, van jou behoeftes, selfs die aantal kinders wat jy het. Daar is nie een ding wat ons geseënde Verlosser nie geweet het nie, toe hy vir ons in Mattheüs 6:25-33 gesê het, “Moenie julle kwel nie. Jou hemelse Vader weet van al jou persoonlike behoeftes. Hy sal vir jou sorg!”

Jesus het ons ook vertel van die rampspoedige tye wat sou kom – die hongersnode, oorloë, peste, aardbewings, verbouereerdhede, onheile, die vrees van oral af. Steeds het Hy gesê, “Moenie julle kwel oor wat julle nodig het nie. Moenie oor iets bekommerd wees nie!”

Jy sê, hoe kan ‘n Christen wat in die nood is nie dink aan sy fisiese toestand nie? Geliefde, ons kan nie terugdeins van Jesus se belofte aan ons nie. Sy woorde is vir ewig: “Ek sê vir julle…” Om die waarheid te sê, jy kan daardie presiese woorde na die troonkamer van God neem en vir Jesus sê, “Dit is U woorde: ‘Ek sê vir jou, moenie jou kwel nie. Ek sal vir jou sorg.”

Dit maak nie saak hoeveel banke sluit, of hoe lank die werkloosheidsrye groei nie, ons Here sal steeds die voëls van die hemel voed, die lelies van die veld klee, en die oseaan vol vis voorsien vir hulle daaglikse behoeftes! “Julle hemelse Vader voed hulle” (Matthéüs 6:26). Nie een skepsel sal ly sonder dat die Here dit weet nie!

Watter soort Vader sou Hy wees as Hy die honde kosgee, maar sy kinders verwaarloos? Watter soort God sou die hare op jou kop tel, maar nie jou munte nie? Die blote gedagte is godslastering!

Ons Vader sorg vir die hele diereryk, en geen aantal moeilike tye sal sy voorsienigheid keer nie: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?... As God dan die gras van die veld … so beklee, hoeveel te meer vir julle?” (Matthéüs 6:26,30).

Ek glo dat God vir ons ‘n baie spesifieke belofte gegee het vir die spesifieke moeilike tye wat oppad is. Dit is aan Abraham en sy nageslag gegee as ‘n eed. En God moet dit teenoor jou nakom, omdat dit Sy eie Woord is:

“Aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe” (Lukas 1:73-75).

God het belowe dat Hy ons sal verlos van al ons vyande, van alle vreesaanjaende dinge, sodat ons Hom al die dae van ons lewens, sonder vrees kan dien! Geliefdes, honger is ‘n vyand. Naaktheid en armoede is vyande!

Hierdie eed van God moet die fondament van ons vertroue wees in elke krisis, teenspoed en vreesaanjaende tyd! Memoriseer dit! Laat dit jou heilige betoog wees by die troon van genade!

In Psalm 121 verskaf Dawid vir ons een van die kragtigste Heilige Gees betoë wat ooit aan die mens gegee is. Die hele psalm sê vir ons dat al ons hulp van die Here alleen kom! Psalm 124 is nog ‘n heilige betoog – dit is jou spesifieke belofte om jou in staat te stel om spesiale vertroue te bou! 

3. Ons het spesiale vertroue nodig in tye van teenspoed wat kom as gevolg van goddelike oordeel!

Tans is Amerika onder die “handtekening-oordeel” van God. Handtekening-oordeel dra ‘n spesiale teken van die Here, daarin dat die oordeel die sonde weerspieël wat teen Hom gepleeg is. Hierdie oordele is regdeur die Bybel sigbaar:

Adoni-Besek was die koning wat die duime en groottone van die sewentig konings wat hy oorwin het afgekap het. Toe die kinders van Juda Adoni-Besek gevange geneem het, het hulle sy duime en groottone ook afgekap. Hy het geweet dit was ‘n handtekening-oordeel van God, omdat hy gesê het, “Soos ek gedoen het, so het God my vergeld” (Rigters 1:7).

Isébel het die dood van Nabot veroorsaak, wie se bloed deur die honde opgelek is. Weereens, sien ons God se handtekening-oordeel: Isébel is by ‘n venster uitgegooi en het gesterf – en haar liggaam is begrawe in die pense van honde! Die oordeel het die misdaad weerspieël!

In die boek Ester, het Haman ‘n galg opgerig wat bedoel was vir Mórdegai – maar hy is self  daaraan opgehang!

Koning Asa, wie God se profeet in voetboeie opgesluit het, het self gesterf aan ‘n siekte van sy voete!

Ons noem sulke gebeurtenisse ironie – maar dit is God se handtekening-oordele. Obadja 15 som dit goed op: “Soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.”

Geliefde, al God se oordele oor Amerika word weerspieël deur haar sondes! Ons grootste sonde is ‘n grootpraterige hoogmoed, ‘n “kan-doen” mentaliteit. Ons is vol selfvertroue dat ons nasie enige probleem kan oplos, enige oorlog kan wen en ‘n oplossing kan vind vir enige siekte. Ons polisieer die hele wêreld, vol vertroue in ons gewapende magte!

Vir ‘n lang tydperk, was God met ons. Ons het presidente en wetgewers gehad wat in staat was om ons nasie se probleme te oorkom. Ons wetenskaplikes het verskillende entstowwe vir verskillende siektes ontdek: malaria, witseerkeel, kinderpokkies, tuberkulose en masels. Toe polio die land geteister het, het God vir Jonas Salk die entstof gegee om dit te voorkom.

Nou is die geneesmiddels skaars! Daar is geen ‘n entstof teen VIGS in sig nie. En ons verdrink in “onopgeloste” probleme: die dwelm plaag, die Spaar-en-Lening-ineenstorting, haweloosheid, heersende misdaad en wanorde in skole, tronke en hospitale – noem dit op, en ons kan dit nie oplos nie!

New Hamshire Senator Warren Rudman het hardop gewonder of ons nie dalk die punt in die geskiedenis bereik het waar die drie takke van die federale regering dalk regtig nie meer werk nie. Hy beweer hulle “het tot stilstand gekom met geen verantwoording” nie.

Daar het jy dit – God se handtekening-oordeel oor ons is ‘n vernederende verwarring en hulpeloosheid! Deur sy eie erkentenis, funksioneer die regering nie!

Waar is ons trots, ons “kan-dit-doen” versekering? Vyf jaar gelede was Amerika die nommer een krediteur in die wêreld. In daardie kort tyd het ons die nommer een debiteur nasie in die wêreld geword! Vir jare was ons die kop, en nou is ons die stert, net soos in Deuteronomium 28 geprofeteer is!

God se swaarste handtekening-oordeel oor Amerika kom nog!

Wat dink jy sal hierdie oordeel wees?

Dink aan hoe Amerika alles wat moreel, heilig en goddelik is onder sy voete vertrap met sogenaamde “kunste” wat die gekruisigde Jesus uitbeeld as onderdompel in ‘n vat uriene! Christus word vertrap in die teaters en filmsale, waar die heilige dinge bespot word en die goddelose dinge verhef word.

Ek vra jou, watter handtekening-oordeel sal van dieselfde stoffasie wees? Watter straf pas by die oortreding?

Hier volg wat ek beskou as God se handtekening-oordeel oor Amerika, wat vir jare die nommer een supermoontheid was, die magtigste nasie in die hele wêreld: “Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop” (Jesaja 63:6).

God sal hierdie volk se militêre mag verneder – ons leërs, ons teaters, ons instellings, al ons voormalige sterktes! Hy sal Amerika Sy voetbank maak weens die bloed van die 30 miljoen babas vermoor deur aborsioniste!

Daar is bloed op ons land se hande! Dink jy dat God sy oë hiervoor gaan sluit – dat Hy dit gaan ignoreer, omdat Hy ‘n oorblyfsel, ‘n handvol heilige mense sien? Nee, Hy is ‘n regverdige God!

Tans is ons mag vinnig besig om te taan! Reeds het ons geval tot nommer drie van die ekonomiese moondhede, na Duitsland en Japan. Al ons rykdom gaan eenvoudig wegsmelt! Die Europese Gemeenskap – die tien koninkryke van die herrysde Romeinse Ryk – sal as nommer een wêreldmag opstaan.

God se voet is op ons nek! Hy is besig om ons naaktheid te openbaar aan die wêreld! Hy is besig om ons uiterlike voorkoms te laat ooreenstem met die toestand van ons siel - en ons geestelike bankrotskap is besig om in ‘n finansiële wanorde te verander op stedelike, staat en federale vlakke. Filadelfia, New York Stad en Massachusetts is almal op die randjie van bankrotskap.

Ons aanskou nou God se handtekening-oordele. En Hy gaan dit so so duidelik maak dat geen ander nasie in die wêreld dit sal kan miskyk nie.

Terwyl hierdie oordele reg voor ons oë afspeel, is ons enigste antwoord om Jesus as ons skild te hê. Jaag vandag om Hom in die binnekamer te ontmoet – laat jou wortels diep in Hom afskiet. Weet dat Hy wat die hare op jou hoof getel het, jou onder alle omstandighede sal bewaar.

Neem hierdie spesiale beloftes in besit en wees gereed vir enige en alle ellendes wat jy moontlik mag beleef:

  • “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis … Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien” (Psalm 112:4,7-8).
  • “En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid … So is die Here dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here” (Psalm 9:8-10).

En hier is jou spesifieke, kragtige, heilige betoog vir die troonkamer van God:

“Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ‘n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek. Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots” (Psalm 27:3-5).