Het Jy Al Die Vader Gesien?

David Wilkerson

Jesus het na die aarde toe gekom as ‘n mens om die mensdom van ons sondes en van allerhande soorte slawerny of gevangenskap te verlos. Daardie waarheid is gevestig in die gedagtes en harte van die meeste Christene. Maar Christus het ook na die aarde gekom met die doel om aan ons die hemelse Vader te openbaar.

Eerstens het Hy vir die dissipels gesê dat “...die Vader My gestuur het.” (Johannes 5:36).

Toe het Hy gesê, “Ek kan uit Myself niks doen nie...omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30).

En laastens het Hy verklaar, “...omdat Ek na my Vader gaan” (Johannes 14:12).

Luister noukeurig na wat Jesus sê: “Ek kom van die Vader af. En terwyl Ek hier is, doen Ek slegs sy wil. Binnekort gaan Ek terug na my Vader toe.”

Jesus het gesê dat sy hele lewe gehandel het oor die hemelse Vader – sy koms na die aarde, sy doel terwyl Hy hier was en sy terugkeer. Dit het alles daaroor gegaan om die Vader te openbaar!

“...die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie...die Vader...toon Hom alles wat Hy self doen...” (Johannes 5:19-20).

“Ek kan uit Myself niks doen nie... omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30).

Jesus het gesê Hy het geen wil van sy eie gehad nie – dat Hy niks op aarde gedoen het, behalwe die wil van sy Vader nie. Christus het inderdaad vir die Fariseërs gesê, “Kyk na my lewe, my bediening, al die wonderwerke en goeie werke wat Ek doen – en julle sal die hemelse Vader sien. Alles wat Ek doen, is ‘n weerspieëling van wie Hy is. En die doel van alles is om Hom aan julle te openbaar!”

“Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar” (Matthéüs 11:27).

Jesus sê in wese hier, “Dit is onmoontlik vir julle om die Vader te ken, tensy Ek Hom aan julle openbaar. Julle kan nie daardie openbaring op julle eie kry, deur bloot die Bybel te lees of om kerk toe te gaan nie. Ek moet Hom aan julle openbaar!”

“...niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).

Veelbetekenend voeg Jesus by in die volgende vers: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28).

Dit is belangrik om te weet waarom hierdie vers verbind is aan die vorige een. Jesus sê dat as jy rus vir jou siel wil hê – as jy alle innerlike strewes wil beëindig – dan moet jy ‘n openbaring kry van wie die Vader is. Jy moet weet dat jy ‘n Vader in die hemel het wat vir jou omgee!

Maar niemand ontvang hierdie openbaring van die hemelse Vader sonder Christus nie. Jesus sê vir ons, “Alles wat die Vader is en alles wat Hy vir die mensdom wil doen, is aan My getoon. Ek het na die aarde gekom met die volle kennis van wat Hy wil bereik. So, in alles wat Ek doen en sê, wys Ek vir julle hoe God is.

“Sy Gees beweeg my. Ek is die verpersoonliking van wie Hy is. So, kyk na My. Luister na my woorde. Aanskou my wonderwerke, al my goeie werke en al my leerstellinge. Ek openbaar aan julle my Vader – en julle Vader!”

Jesus het vir sy dissipels gesê, “...Salig is die oë wat sien wat julle sien” (Lukas 10:23). Hy het in wese gesê, “Julle is net baba’s. Tog het God gekies om Homself aan julle te openbaar, as julle Vader!”

“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel dat die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees” (Galásiërs 1:6-8).

In die Ou Testament, het die kinders van God net ‘n kykie gehad van God as hulle Vader. Dawid het gesê: “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees” (Psalm 103:13). Jesaja het God “...Ewige Vader...” (Jesaja 9:6) genoem. Jeremia het van Hom geskryf, “Jy sal My noem: My Vader...” (Jeremia 3:19).

Maar hierdie antieke mense het nie die volle openbaring van die Vader gehad nie. Jesus self het gesê, “Die profete het verlang om te sien wat julle sien en te hoor wat julle hoor – maar hulle kon nie!” Diegene in die Ou Testament tye het nooit ‘n visie van die hemelse Vader gehad nie. Ja, hulle het Jehova geken deur al die name wat Hy aan hulle geopenbaar het. Maar Hy het Homself nie aan hulle geopenbaar as Vader nie.

Daardie openbaring kon in werklikheid nie kom totdat die Seun die Vader geopenbaar het nie. Jesus het gesê, “Niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun – en aan wie die Seun kies om Hom te openbaar.” Christus het gekom om die Vader aan hierdie laaste geslag te openbaar, op ‘n manier waarop geen ander geslag Hom ooit geken het nie!

Alles wat Jesus gedoen het – van die water wat in wyn verander het tot die dooies opwek – was ‘n geïllustreerde preek!

Alles wat Jesus gedoen en gesê het was bedoel om te sê, “Dit is my Vader aan die werk. Dit is hoe Hy is!”

“...Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:28-29).

Met ander woorde: “Ek het vrylik dwardeur die land gepraat. En toe Ek op die strate van Jerusalem, Bethlehem en Judéa geloop het, het Ek julle keer op keer gesê dat alles wat Ek doen van die Vader is. As julle net julle oë en ore wou oopmaak en my woorde aanvaar, sou Ek Hom vir julle gewys het. Hy is geopenbaar!”

Die godsdienstige leiers het daarop aanspraak gemaak dat, “Abraham was ons vader.” En toe Jesus gesê het, “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30) was hulle so verontwaardig, dat hulle Hom ‘n duiwel genoem het en klippe opgetel het om Hom te stenig.

Maar Jesus het Hom geantwoord: “Julle sê Ek is ‘n lasteraar. Sal julle egter die Een wat die Vader self gekies het om na hierdie wêreld te stuur, stenig? Ek soek nie my eie heerlikheid nie. Ek verheerlik my Vader. Ek ken Hom en ek bewaar sy woorde, omdat Hy en Ek een is.

“As julle nie my Woord daarvoor neem nie, kyk net na die werke wat Ek doen. Glo ten minste dat hierdie dinge ‘n uitdrukking van die Vader is. Ek het hierheen gekom om vir julle te sê – en vir julle te wys – dat Abraham alleen nie julle vader is nie. Julle het ‘n hemelse Vader!” (sien Johannes 10:31-38).

Dit was belangrik vir Jesus. Hy het geweet dat sy tyd op aarde kort was. En Hy het geweet dat as die mense nie ‘n openbaring van die hemelse Vader – sy liefde, sy barmhartigheid en sy genade – gehad het nie, sou hulle met ‘n dooie godsdiens agtergelaat wees, dooie voorvaders en niks lewendig om aan vas te gryp nie. Hulle sou geen gevoel van rigting gehad het nie, geen hoop en geen visie nie.

Hoe pynlik moes dit vir Jesus gewees het. Hy sou terugaan na sy Vader – en die mense sou agtergelaat word met geen openbaring van die Vader in die hemel, wat so verlang het daarna om hulle as sy eie aan te neem nie!

In Johannes 14 lees ons van een van ons Here se pynlikste belewenisse was.

Al was dit pynlik vir Jesus om vewerp en verkeerd verstaan te word deur die ongelowige Jode, was iets anders baie pynliker. Dit was die blindheid van sy eie dissipels!

Die nagmaal was verby. Judas het reeds uitgegaan om die Here te verraai. Binnekort sou Jesus op pad wees na Getsémané. En nou, terwyl Hy by sy dissipels gesit het, het Hy sy laaste opdragte met hulle gedeel waarin Hy hulle gesmeek het om mekaar lief te hê na sy vertrek. Hy het drie jaar deurgebring waarin Hy die Vader aan hulle geopenbaar het.

En nou het Hy gesê, “Ek gaan terug na my Vader. In sy huis is baie wonings en Ek gaan daarheen om vir julle ‘n plek gereed te maak. Eendag sal julle kom en daar saam met My wees.”

Dit moes Jesus geskok het om te hoor hoe Thomas gereageer het, “...Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” (Johannes 14:5). Thomas het eintlik gesê, “Jesus, U praat so intiem daarvan dat U na u Vader gaan. Maar ons weet nie hoe om by Hom uit te kom nie. Ons ken Hom nie soos U Hom ken nie. Hoe kan ons die weg na die Vader ken?”

Dit was ‘n belydenis. Thomas het erken, “Here, ons ken U. Ons was intiem saam met U vir die afgelope drie jaar. Maar ons het geen openbaring van wie die Vader is nie – van sy liefde, sy sorg en sy teerheid nie. Voor U weggaan – wys asseblief vir ons die Vader!”

Dit is egter presies wat Jesus vir die afgelope drie jaar gedoen het. Sy dissipels het die openbaring misgekyk!

As ons ten volle verstaan dat ons ‘n liefdevolle, sorgsame hemelse Vader het, waarom sou ons ooit neerslagtig wees wanneer die vyand teen ons kom? Waarom sou ons ooit mismoedig wees oor ‘n finansiële las wat oorweldigend voorkom? Waarom sou ons ooit wonder waarom ons klaarblyklik nie oorwinning oor ‘n boesemsonde kan kry nie?

Luister aandagtig na Jesus se antwoord aan Thomas. Dit het alles te doen met ons: “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het...” (Johannes 14:7).

Toe het Filippus gepraat: “...Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (Johannes 14:8). Jesus was ontsteld hieroor! Hy kon nie glo wat Hy hoor nie. Jy kan amper die ongeloof in sy stem hoor toe Hy vir Filippus geantwoord het: “...Ek is so lankal by julle, en jy het My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?” (Johannes 14:9).

Met ander woorde: “Thomas, Filippus, my waardevolle dissipels – hoe kan julle dit vir My vra? Julle sê julle ken My, dat ons intieme vriende is. Hoe kon julle egter die openbaring, wat Ek die laaste drie jaar vir julle gegee het, misgekyk het? Sien julle nog steeds nie dat al die magtige dade wat Ek gedoen het, die Vader in My was nie – wat geopenbaar het wie Hy is, hoe Hy is en wat Hy vir julle wil wees? Alles wat Ek vir julle geleer het, was uit sy hart, nie Myne nie!”

Die openbaring van ‘n menslike vader het nog altyd misluk. Dit het misluk in die Ou Testament. En ons huidige geslag van vaderlose jongmense, het geen konsep van wat ‘n vader is nie. Jesus het geweet daar moes ‘n openbaring van ‘n sorgsame, deernisvolle, barmhartige vader wees vir ons om hoop te hê. En Jesus self was die menslike beeld van daardie hemelse Vader!

Jesus se hele lewe was ‘n geïllustreerde preek. Dag vir dag, met elke wonderwerk wat Hy gedoen het en elke gelykenis wat Hy geleer het, het Hy uitdrukking gegee aan wie die Vader is. En Hy het sy Heilige Gees gestuur sodat sy volgelinge selfs groter werke kon doen en kon aanhou om die Vader se liefde aan nuwe geslagte te openbaar. Jesus het geweet hulle moes hierdie openbaring van die Vader hê, sodat in al hierdie dinge “die Vader verheerlik kon word in die Seun.”

En nou het Hy vir die dissipels gesê, “Julle het ‘n openbaring nodig van wie julle Vader is. Julle moet in staat wees om ander, wat soos tans soos skape is sonder ‘n herder, te leer. Hulle dink niemand gee om nie, dat hulle buite-egtelike kinders is. Daarom moet julle werke doen net soos Ek gedoen het en spreek net soos Ek gespreek het. Hulle moet weet dat hulle ‘n liefdevolle Vader in die hemel het!”

Geliefde, ons het ook daardie openbaring nodig! Ons moet in staat wees om vir die wêreld te kan sê, “Kyk na my lewe. Luister na wat ek sê. Sien die werke wat ek doen. Dit gaan alles oor my hemelse Vader!”

Laat ons ‘n bietjie dieper ingaan op hierdie toneel saam met die dissipels. Ek stel my voor Jesus sê die volgende vir hulle: “So, Filippus. Wil jy hê Ek moet die Vader vir jou wys? Dink net terug aan die troue by Kana, waar Ek die water in wyn verander het. Dit was nie Ek wat dit gedoen het nie – nie my wil of my plan nie. Dit was ‘n beeld van my Vader! Hy het sy sorgsaamheid getoon vir selfs die kleinste, mees betekenislose behoeftes van sy kinders. Hy het gewys Hy gee om oor familie, oor die huwelik en oor voedsel vir sy kinders. Dit was die Vader aan die werk, Filippus! Ek het nog nooit iets op my eie gedoen nie, maar slegs wat Hy my beveel het om te doen.

“Onthou jy die kosgee vir die vierduisend en later die vyfduisend? Daardie mense was sonder kos vir amper drie dae. Jy het gesien hoe honger hulle was. En jy het gevra, ‘Hoe moet ons vir hulle kosgee?’ Toe het Ek die broodjies en die vissies gebreek en dit opgedeel. En jy het gesien hoe die mense die oorvloed kos gegryp het. Jy onthou al die mandjies oorskiet.

“Dit was egter nie my plan of my werk nie. Ek het net gedoen wat die Vader My beveel het om te doen! Selfs al het my Vader geweet die meeste van die mense sou My later verlaat en My verag, was Hy begaan oor hulle mae en hulle fisiese behoeftes. Dit was ‘n openbaring van sy sorgsaamheid vir honger soekers! En as jy die Vader soek, sal Hy ook in jou daaglikse behoeftes voorsien. Het Ek julle nie onderrig dat Hy elke haar op julle koppe getel het nie – dat geen mossie op die grond val sonder sy wete nie?

Hoe kan jy vir My sê, “Wys vir my die Vader? Onthou jy nie die wenende weduwee van Naïn nie? Daar was die hartseer begrafnisstoet, toe sy haar seun geneem het om hom te begrawe. Toe het Ek uitgereik en die kis aangeraak – en die seun is opgewek. Dit was nie my plan nie – dit was my Vader se werk! Dit is hoe Hy is. Hy was aangeraak deur die vrou se trane. Dit was ‘n beeld van my Vader se sorg vir die pyn, die hartseer en die smart van sy kinders.

“Jy sê jy wil die Vader ken. Onthou jy nie die vrou wat in egbreek betrap is nie? Die selfregverdigende priesters en Fariseërs was op pad om haar te stenig. Maar, Ek het vir haar gesê, ‘Gaan. Ek oordeel jou nie. Gaan en sondig nie meer nie.’ Dit is nie my woorde nie – dit was my Vader s’n! Ek het niks gesê en niks gedoen, tensy dit in sy wil geopenbaar was nie. Hy het die woorde deur My gespreek. Dit was ‘n kykie na sy barmhartigheid en sy begeerte om te vergewe!

“En wat van die man wat besete was met ‘n legio duiwels, wat Ek verlos het? Ons het hom gesien toe ons uit die boot geklim het. Daar was vrees op sy gesig en in stem toe hy uitgeroep het, ‘Wees my genadig, Seun van God!’ Jy onthou hoe hy vasgeketting was, met snye en kneusings oral oor sy lyf. Ek het daardie duiwels beveel om hom te verlaat en te vaar in ‘n trop varke, wat vernietig is. Toe het jy hierdie man by sy volle verstand gesien. En nou vra jy vir My om vir jou die Vader te wys. Dit was my Vader aan die werk! Hy het dit deur My gedoen! Hy het vir jou gewys hoe Hy Satan sou wegdryf van al sy kinders, Hy sal alle demoniese boeie breek van alle kinders wat Hom aanroep!”

Ek vra vir jou – waarom sê Jesus die Heilige Gees sal ons herinner aan alle dinge? Dit is sodat ons ‘n openbaring kan hê van die Vader! Dit is sodat ons in ons gedagtes al die wonderwerke wat Hy in ons lewens gedoen het, oor en oor kan speel – elke verlossing en elke wonderbare daad. Jesus sê deur dit alles, “Alles wat Ek vir julle doen, is ‘n beeld van die hemelse Vader – wie Hy is en wat Hy vir julle wil wees!”

Aan ons wat in die Nuwe Testament eeu leef, is ‘n groot getuienis gegee. Nie net het ons die werke van Jesus om te aanskou nie, maar ook die groot werke van die eerste-eeuse kerk, sowel as tweeduisend jaar van goddelike ander wat “groter werke as hierdie gedoen het.” Dit is wie ons hemelse Vader is.

Jy mag sê, “Ek ken die Here. Ek het intimiteit met Hom. Ek weet wie ek is in Christus.” Jesus mag egter vir jou sê, “Ons is al vir solank saam – en steeds ken jy God nie as jou Vader nie!”

Die doel van intimiteit met Jesus is om ‘n openbaring te hê van wie die Vader is. As jy sê jy het intimiteit met Christus, maar jy ken nie die Vader nie, het jy nie die volheid van intimiteit betree nie – omdat jy nie jou oë laat oopmaak het deur Christus vir die Vader nie!

Sommige Christene word heeltyd oorwin deur vrees. Sommiges is altyd neerslagtig. Ander word verswelg in skuld, vreesbevange dat hulle nooit oorwinning oor sonde sal kry nie. Hulle vrees hulle gaan hul werk, hul gesondheid en hul familie verloor. Hulle het geen vrede, blydskap of rus nie.

Dit is wanneer ek Jesus hoor vra, “Ek is al so lank by jou en steeds sien jy nie? Ken jy steeds nie God as jou Vader nie?”

Uit ons intimiteit met Christus moet ‘n openbaring kom dat ons ‘n Vader in die Hemel het wat noukeurig vir ons gewys het hoe Hy is – en wat Hy vir ons wil wees!

Laat my met jou deel wat ek glo Jesus vir my geopenbaar het oor my hemelse Vader:

1. Hy het gekies om ‘n Vader vir my te wees.

Ek het Hom nie gekies nie. Dit is eerder die rol wat Hy gekies het om vir my te wees – ‘n Vader. Hy sê, “Ek het gekies wat Ek vir jou wil wees, hoe Ek wil hê jy moet My sien. Ek wil hê jy moet My ken as jou liefdevolle hemelse Vader!”

Is God heerser van hemel en aarde? Ja. Is Hy almagtig? Ja. Is Hy alwetend? Ja. Is Hy Koning oor die watervloed? Ja. Maar in hierdie laaste dae, wil God hê ons moet ‘n ander openbaring van Hom besit: “Ek wil ‘n Vader vir jou wees – en Ek wil hê jy moet ‘n seun of dogter vir my wees!”

Jesus het sy hele leeftyd op hierdie aarde gewandel en geweet wie die Vader was, sy wil geken en sy stem gehoor. Hy het elke uur onder die sonlig van sy liefde geleef, nooit in verwarring of twyfel nie. En daarom kon Hy enigiets trotseer wat die vyand teen Hom gebring het – enige beproewing, enige swaarkry – omdat Hy geweet het sy Vader was met Hom. Hy kon sê, “Ek weet Ek het ‘n Vader wat My gestuur het. Hy het My gekies en my aangestel. En Hy is altyd by My. Ek is nooit alleen nie!”

“Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Johannes 17:21).

Jesus het in wese hier gesê, “Jy sê jy wil My ken en dit is reg en goed. Maar nou wil Ek hê jy moet my Vader ken. Ek wil hê jy moet Hom ken soos Ek Hom ken en geniet – as ‘n Vader!”

Die Vader sê vir ons, “Ek wil oor jou sweef, jou beskermer wees, om alle demoniese aanvalle weg te dryf, om elke behoefte te voorsien, om jou deur al jou beproewings te dra. Ek kies om ‘n Vader vir jou te wees. Laat My jou Vader wees!”

Dink daaraan: Hy het jou gekies, uit al die honderde miljoene mense op die aangesig van die aarde. Jy het Hom nie gesoek nie; jy het nie gevra om in sy koninkryk in gebore te word nie. Hy het jou gekies! Hy het jou egter nie net gekies nie, maar jou as sy kind aangeneem. En sy Gees lei jou om “Abba” tot Hom uit te roep en te sê, “U is my Vader. U is nie net Abraham se Vader, of Petrus en Paulus se Vader nie, maar my Vader. En U het my ‘n mede-erfgenaam gemaak, ‘n broer vir Jesus. U is waarlik myne!”

2. Hy het gekies om my Vader te wees en het my gekies om sy kind te wees op grond van liefde en barmhartigheid alleen.

Daar is geen ander voorwaarde nie. God het nie gewag tot ek “goed genoeg” geword het om sy seun te wees nie. Hy het nie gewag totdat ek al my leerstellinge uitgewerk het nie. Nee – Hy het gesê, “Selfs toe jy verlore was in sonde, het Ek na jou gekom om versoen te word. Ek het jou liefgehad toe jy nog in sonde verswelg was. Ek het jou geroep, jou gekies en jou aangeneem om geen ander rede as dat Ek jou liefgehad het nie!”

Soms wonder ek hoe God ooit na ons kon afkyk en ons liefgehad het. Ons is so onbeminlik – soms so gemeen, so onwaardig. Maar in sy barmhartigheid het Hy vir elkeen van ons gesê, “Ek wil jou hê – Ek het jou gekies – omdat Ek ‘n Vader vir jou wil wees!”

“Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!...” (1 Johannes 3:1).

“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening van ons sondes” (1 Johannes 4:10).

Dit is alles ‘n liefdesdaad!

Hy het my gekies, nie omdat ek Hom eerste liefgehad het nie, maar omdat Hy my eerste liefgehad het. Hy het my as sy kind aangeneem, slegs omdat Hy my liefgehad het. En dit bring my tot ‘n wonderlike slotsom:

Ek hoef dit nie alles te verstaan nie. Ek hoef nie diep leerstellinge van regverdigmaking, vryspraak, heiligmaking, afsterwing, verheerliking te verstaan nie. Al wat ek moet weet is dat Hy my uitverkies het om sy seun te wees – en dat ek liefgehê word deur God die Vader!

Dit maak nie saak wat die hel teen my bring nie; niks kan my laat afwyk van hierdie wonderlike kennis nie. Ek is geliefd en uitverkies! Ek weet Hy het my uitverkies as sy seun om geen ander rede as dat Hy my liefgehad het en ek kan rus in daardie liefde. Hy sou nie gekies het om my Vader te wees as Hy van plan was om my te verlaat of my te laat gaan nie. Hy, wat my gekies het en het my liefgehad het, sal my bewaar en my dra. Hy sal nooit my hand laat los nie, omdat Hy Abba Vader is – myne!

Geliefde, ek is ‘n aardse vader. En jy kan nie een rede in die hemel of op die aarde noem waarom ek ooit een van my kinders sal verlaat of laat gaan nie. Ek vra vir jou: Hoeveel meer sal jou hemelse Vader met jou wees deur alles wat jy in hierdie lewe verduur nie?

3. As Hy is waarlik my Vader is, sal Hy vir my voorsien, my bewaar en seën, net soos enige ander goddelike vader sou doen. Maar Hy kan nie ‘n regverdige, liefdevolle Vader wees nie, tensy Hy my waarsku wanneer ek in gevaar is!

My hemelse Vader sal nie die waarheid van my weerhou nie. En ek moet Hom toelaat om dit te doen, of ek nou hou van wat Hy vir my moet sê of nie.

My aardse vader het my elke keer liefdevol getugtig wanneer ek verkeerd opgetree het. Elke keer nadat hy my egter geslaan het, het my gedwing om vir hom ‘n drukkie te gee. So min as wat ek hom wou omhels, sal ek nooit vergeet hoe ek my kop op sy skouer gesit het en my trane uitgehuil het nie. Hy het altyd vir my gesê: “Ek het jou lief, Dawid. God het sy hand op jou en ek gaan nie toelaat dat die duiwel jou kry nie. Ek weet wat God vir jou gaan doen.”

Net soos in Paulus se tweede brief aan die Korinthiërs, hoor ons van ‘n liefdevolle bestraffing van ons hemelse Vader. Hy waarsku: “Kom so ver weg van sonde en die wêreld as wat jy kan. Hardloop weg van boosheid!”

“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:17-18).

Wat sê God vir ons hier? Hy sê, “Ek het gekies om jou Vader te wees. En Ek sal nie my rol met die duiwel deel nie!”

Om gemeenskap met die Vader van die ligte te hê, moet jy alle bande breek met die vader van die leuens. Elke goddelose persoon waarmee jy rondgaan, is vir jou ‘n vloek. Jy moet die wêreldse skare verlaat. En jy moet gewillig wees om alle onrein dinge, alle vuil gewoontes, alle boosheid, te versaak.

Jy sien, die duiwel het sy eie mense. Hy is die vader van alle leuens, almal wat in rebellie is en almal wat in ‘n mengsel leef. God sê vir ons, “Jy kan ‘n openbaring van My hê. Jy kan ‘n mate van Jesus hê en Hom beter ken as wat jy Hom ooit tevore geken het. Jy kan selfs sê, ‘Ek weet my Vader het my lief.’ Maar laat My nou met jou praat soos wat enige vader sou praat met sy kind, wat Hy liefhet...

“As jy met die wêreld gaan meng – as jy aan een of ander onrein ding in jou lewe gaan vashou – dan sal ons gemeenskap nie werk nie. Jou openbaring van wie Ek is, is dan pure verniet! As Ek jou enigste Vader gaan wees, dan moet jy die wêreld en sy plesiere prysgee. Jy moet jou sonde neerlê. Jy kan nie aan enige onrein dinge in jou lewe vashou nie.

“Ek wil vir jou ‘n Vader wees – om jou in blydskap en oorwinning te bring en om jou te lei en rig. Ek wil jou bevoordeel soos net Ek my kinders kan bevoordeel. So, Ek sal jou nie toelaat om na My te kom met enige mengsel nie – met hande wat enige onrein dinge aanraak nie. Kom uit na My toe deur met al daardie dinge te breek. Dan sal Ek jou ontvang as ‘n seun, ‘n dogter. Ek verlang om ‘n Vader vir jou te wees!”

So, jy sê jy wil Jesus volg? Moet dan nie halfpad na Hom toe uitkom nie. Kom heeltemal uit die wêreld uit. Jou Vader het gesê, “As jy My vertrou as jou Vader om jou te verlos, sal Ek die Heilige Gees stuur en jou mag en gesag gee. Ek sal jou hoop gee terwyl jy in die stryd is. En Ek sal jou deurdra. Bietjie vir bietjie, sal jy oorwinning sien. As dit is wat jy wil hê, kan jy dit kry – omdat Ek jou Vader is. Ek sal niks van jou weerhou nie!”

Neem daardie stap nou dadelik. Lê alle wêreldse liefdes neer. En volg Hom die hele pad. Dan sal Hy jou red – en vir jou ‘n Vader wees!