Heilige Gees, Kom Terug na U Kerk

David Wilkerson

Toe God geboorte gegee het aan sy kerk, het Hy sy Heilige Gees daarop uitgestort. Hy het dit met die Heilige Gees gedoop, dit met die Gees vervul en die met die Gees gesalf. En waar die Gees van God ook al teenwoordig is, is daar duidelike bewyse. As hierdie bewyse egter nie teenwoordig is nie, dan is die Heilige Gees nie teenwoordig nie.

My vraag is, toon die hedendaagse kerk hierdie bewyse? Wat van jou kerk? Beweeg dit in die krag van die Heilige Gees? Verder, toon jou lewe hierdie bewyse? Leef en wandel jy in die volheid van die Gees?

Joël het geprofeteer dat wanneer die Gees kom, sal profetiese lering een van die bewyse van sy teenwoordigheid wees. Joël beskryf dit as ‘n opwindende tyd waarin ouer gelowiges geestelike drome sal droom en jongmense visioene sal ontvang. God se mense sou wonderlike verlossings beleef en daar sou ‘n groot insameling van siele volg.

Die profeet Jesaja het ook beskryf wat gebeur wanneer die Heilige Gees op mense neerdaal. Hy profeteer, “Totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ‘n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ‘n bos gereken” (Jesaja 32:15).

Jesaja sê in wese, “Wanneer die Heilige Gees kom, sal dit wat eens ‘n dor wildernis was, ‘n oesland word. ‘n Dooie stuk grond sal skielik oorloop met vrugte. En dit is nie ‘n tydelike oes nie. Daardie vrugteboord sal groei tot ‘n bos. En jy sal in staat wees om jaar na jaar steggies van hierdie bos te neem en voortdurend op jou vrugbaarheid bou.”

Jesaja het bygevoeg, “En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord” (Jesaja 32:16). Volgens die profeet, bring die Heilige Gees ook ‘n boodskap van oordeel teen sonde. En daardie boodskap vorm geregtigheid in die mense.

Skielik verander die bedienaar se prediking. Hy is nie meer tevrede met ‘n dooie of droë preek nie. In plaas daarvan, preek Hy God se suiwer Woord en die boodskap is aan die brand met oortuiging. Sluimerende mense besef nou, “Dit is die salwing van die Heilige Gees. Ek kan my teruggevalle vriende hiernatoe bring en weet dat die Gees tot hulle harte sal spreek.”

Die Heilige Gees begin altyd sy werk in die preekstoel. As die oordeel in die huis van die God begin, is dit net reg dat die Here sy werk by die herders begin. Hy behandel hulle met liefde en oortuig hulle van elke afgod, elke vleeslike wellus, elke mate van self wat homself teen die kennis van God verhef. Inderdaad, dit is die werk van die Heilige Gees: om te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

Jesaja het egter nie gepraat van ‘n eenmalige uitstorting van die Gees nie, hoewel sommige mense daaraan dink as “herlewing.” Jesaja beskryf iets wat hou. Studies deur Christelike sosioloë toon dat die meeste hedendaagse herlewings vir ‘n gemiddeld van vyf jaar hou en laat daarna baie verwarring en verdeeldheid agter. Ek weet van sommige kerke waar sogenaamde herlewings plaasgevind het, maar nou, binne ‘n paar jaar, is daar geen spoor van die Gees oor nie. Daardie kerke is dood, droog en leeg. Kerke wat eens ‘n bywoning van 1,000 mense gehad het, is nou hol grafte met net vyftig mense wat dit bywoon.

Ek weet egter ook van kerke waar die Gees vyftig jaar gelede uitgestort is en God is steeds magtiglik daar aan die werk vandag. Dit is die werk van die Gees wat Jesaja beskryf.

Daar is nie langer ‘n uitroep teen die vlees en dwaasheid wat God se huis infiltreer nie. Ons sien dit in ‘n brief wat ek ontvang het van ‘n toegewyde pastoor wat in ‘n hoof Protestantse denominasie dien. Hy is bedroef oor wat in die denominasie se jaarlikse konferensie plaasgevind het:

“Ons het gestem vir gedeeltelike geboorte-aborsie, selfs al het die V.S. Kongres daarteen gestem. Dit is ‘n hartseer saak as die Kongres meer goddelik is as die kerk.

“Ons nuwe moderator, wat as woordvoerder sal dien vir die volgende twee jaar, ondersteun openlik die aanstelling van gays en lesbiërs, en is in werklikheid, van ‘n ‘meer lig’ gemeente (so genoem omdat hulle glo dat hulle ‘meer lig’ het as die res van ons op die kwessie van homoseksualiteit). As ‘n bedienaar van hierdie denominasie, word ek nou toegelaat om huwelike tussen dieselfde geslag te seën. Hoe kan ek dit wat God pervers noem, seën?

“Ons het gestem of ons die taal wat die aanstelling van ‘self-bevestigende, praktiserende homoseksuele’ van ons grondwet moet verwyder. Gelukkig het dit nie geslaag nie, maar die stem was 259-255 — net vier stemme weg van totale gruwel. Die ‘meer lig’ kerke juig omdat hulle glo dat by die volgende vergadering — in 2006 — sal die stem slaag om gays aan te stel. Ek dink hulle is reg.

“Dit is amper asof ons soek na maniere om die Almagtige aanstoot te gee. Die denominasie het in Junie om Israel onder sensuur te plaas en ‘n afstoting te beveel van die hele denominasie se bates — $7 biljoen — van alle Israelse maatskappye en van daardie maatskappye wat besigheid met Israel gedoen het...

Hierdie man word geforseer om sy denominasie te verlaat, omdat die Heilige Gees skynbaar opgehef is. Daar is nie langer ‘n krag wat sonde of vlees teëhou nie, so enigiets geld. En die hel breek los.

Wanneer die Heilige Gees kom, is sy werk eerste om sy kerk skoon te maak. Hy reinig alles wat die vloei van die Gees van God verhinder. En dit beteken om elke individu te reinig. Alle vlees word uitgejaag. Skinder en ander wat bitter tonge teen die goddelikes het, word ontbloot. Diegene wat lieg en ander valslik beskuldig word geïsoleer en word gemaak staan en die waarheid aanskou. Gou leef diegene wat twis veroorsaak onder ‘n donker wolk wat hulleself gemaak het.

Dit is hoe dit gebeur het tydens Pinkster toe die Gees gekom het. Die Skrif sê, toe Petrus met die Gees se salwing begin preek het, was mense se harte diep getref. Hulle het uitgeroep, “Wat moet ons doen om gered te word?” Duisende het daardie dag tot Christus gekom. Hulle het nie nodig gehad om oortuig te word deur foefies of professionele vermaak nie. Nee, hulle het hulle sonde herken en hulle wou vryheid hê.

En diegene wat nie met hulle verborge sonde gedeel het nie, was ontbloot. In werklikheid het een paartjie — Ananías en Saffíra — met hulle lewens geboet vir hulle bedrog. Jy mag wegkom met verborge sondes in dooie, droë kerke, maar nie in ‘n kerk waar die Heilige Gees teenwoordig is nie.

Jy sien, die Heilige Gees is ook die skenker van die vrede van Christus. Hy deel vrede uit beide in die preekstoel en in die kerkbanke. Daar kan egter geen vrede wees sonder geregtigheid nie. Jesaja het voortgegaan met sy profesie: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ‘n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus” (Jesaja 32:17–18).

Vrede kom omdat geregtigheid aan die werk is. Die Heilige Gees is besig om alle onrus, steurnisse en veroordelings weg te vee. Wat volg is vrede in jou gemoed, vrede in die huis en vrede in God se huis. En wanneer God se mense die vrede van Christus het, word hulle nie maklik daarvan afgebring nie: “Maar dit sal hael as die bos inmekaarstort en die stad wegsak in die laagte. Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en esel vry laat loop” (Jesaja 32:19–20).

Jesaja se profesie oor die Heilige Gees was gerig aan Israel tyden Ussía se heerskappy. Dit is egter ook van toepassing op God se mense vandag. Dit is bekend as ‘n tweeledige profesie. Die werklikheid is dat elke geslag ‘n uitstorting van die Heilige Gees nodig het. En ek glo die kerk vandag het nog nie iets beleef wat kan vergelyk met wat die Heilige Gees wil bereik nie.

Daar is ook duidelike bewyse wanneer die Gees nie teenwoordig of uitgestort is nie. Jesaja beskryf hierdie haglike toestande: “’n Jaar en ‘n paar dae – en julle sal sidder...want dit is gedaan met die druiwe-oes, daar sal geen insameling van vrugte kom nie. Bewe...Sidder...Hulle slaan op die bors vanweë die begeerlike velde, vanweë die vrugbare wingerdstok; vanweë die akkers van my volk wat met doring en distels opskiet, ja, vanweë al die huise van vreugde van die uitgelate stad” (Jesaja 32:10–13).

Met ander woorde: “Jou lewe sal nie langer vrugte dra nie. Jou familie, jou kerk, jou verhoudings sal geestelik stagneer. Word wakker! Jy het nodig dat die Heilige Gees terugkeer.”

Wat is die dorings en die distels wat Jesaja hier beskryf? Dit dui op leegheid, droogheid en teleurstelling. Sulke tye kom dikwels in die vorm van onheilige gemeentelede wat opstaan en verwoesting veroorsaak. Oral oor die wêreld by ons bedienaarsbyeekomste, ontmoet ek en my span honderde pastore wat kan getuig van sulke dorings. Hulle praat daarvan dat hulle gekwel word in die gees deur ‘n individu of kliek wat glo dat hulle die geestelike gesag is.

Hierdie dorings is oproerig, ongedissiplineerd en veroorsaak heeltyd chaos. Hulle het elke prediker wat in hulle kerk gedien het vervolg, geteister en skinderstories oor hom versprei. Hulle dink die prediker moet arm wees en soos ‘n slaaf arbei. En op die ou end jaag hulle elke nuwe bekeerling weg. Die kerk word klein gehou weens hulle voortdurende onderbrekings.

Die gevolg is dat baie predikers gereed is om te bedank. Hulle sien nie enige vrug in hulle bediening nie en nou is hulle moeg, uitgeput en uitgemergel tot niks. Hulle vroue het gesien hoe neerslagtig hulle geword het en hoe hulle moed verloor het. So, hulle het hulle aangemoedig, “Liefling, asseblief, bedank. Jy hoef nie met hierdie soort druk te leef nie. Selfs ‘n sekulêre werk sal beter wees as hierdie.”

Kerke wêreldwyd maak reeds by dosyne toe elke dag. Verlede jaar toe ons bediening in Engeland was, was twaalf pragtige kerkgeboue van hulle “heilige status” ontneem, wat beteken dat hulle deure vir goed gesluit het. Sommige was verkoop om nagklubs te word. Een was selfs verkoop aan ‘n okkult groep wat dit in ‘n okkulte museum wil omskep.

Die doringagtige mense wat tot hierdie tragedie bydra, is soos die Israelitiese vaders wat uit Egipte uitgekom het. Daardie oproerige mans het teen Moses se gesag opgestaan. En hulle het uiteindelik onverlosbaar geword, omdat hulle skaamteloos gekla en gemurmureer het. God het ook vir Israel gewaarsku, “Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon” (Númeri 33:55).

In der waarheid, kan mens nie sulke mense verander nie. Hulle sal leef en sterf in ‘n wildernis van wanhoop en verwarring, net soos hulle in Israel gesterf het. Hulle harte het eenvoudig harder en harder geword, totdat hulle heeltemal weerstandig teen die Heilige Gees geword het.

Op hierdie oomblik, glo ek die kerk van Jesus Christus het nodig om huis skoon te maak. En geen prediker of evangelis het die krag om die huis skoon te maak nie. Dit kan nie gedoen word deur charisma of krag of vermoëns nie. Nee, die laaste ding wat die kerk nodig het is nog ‘n mensgemaakte foefie, of ‘n stel hoe-om boeke, of ‘n lys van metodes om ‘n dooie gemeente te motiveer. Daardie dinge dra by tot wat die profete noem “na Egipte gaan vir hulp...vertrou op die arm van die vlees.”

Om die huis skoon te maak is die werk van die Heilige Gees alleen. En wanneer Hy kom, is sy werk deeglik, van bo tot onder, van preekstoel tot in die kerkbanke. Dit maak nie saak hoe groot ‘n kerk is nie; dit mag selfs in die veelvoudige duisende wees. Die werklikheid is, dat as daardie kerk nie met Heilige-Gees geregtigheid gevul is nie — as daar nie ‘n Geesvervulde bedienaar in die preekstoel is nie, as sonde nie onbloot en afgesterf word nie, as daar geen altaar vir bekering is nie — dan sal daar net leegheid wees. Daardie kerk is ‘n huis van die dood.

As ‘n herder, moet ek erken dat dit vir my moontlik is om toe te laat dat die Heilige Gees uit my siel uitlek. Jy vra, “Uitlek?” Ja, die Heilige Gees woon in ons net soos in ‘n put van lewende water. En as my hart nie gerus is nie — as ek moedeloos word en my vrede verloor, as ek myself in introspeksie verloor, as ek toelaat dat gevoelens van mislukking in my gees draal, as ek met die gedagte speel om die bediening te verlaat weens die swaarkry — dan weet ek dat ek toegelaat het dat die Gees se lewende water by my uitlek.

Soms, mag jy jouself afvra, “Waarom is my siel teneergedruk? Waarom is ek so moedeloos? Waarom het ek al hierdie vrese?” Jy moet weet, dit is altyd ‘n Heilige Gees kwessie. Soos Jesaja sê, wanneer die Heilige Gees uitgestort word, is vrede die gevolg. En as daardie effek nie teenwoordig is nie — as daar steeds onrus is — dan moet ons in ons eie harte kyk. Jesaja wys duidelik dat alle bekommernis, onvrugbaarheid en wanhoop ‘n gebrek aan die toeëiening van die krag van die Heilige Gees is.

Weer vertel Jesaja dit as volg. Hy sê die Gees was nie uitgestort nie, weens Israel se sorgeloosheid en gemak. Kortliks, die probleem was geestelike luiheid. “Staan op, geruste vroue, hoor my stem! Sorgelose dogters, luister na my woord” (Jesaja 32:9).

Die woord “vroue” verwys eintlik na die hele gemeente. Hierdie beeldspraak verskyn regdeur die Skrif: Hooglied van Salomo verwys na God se uitverkorenes as “dogters van Jerusalem.” Psalm 45:14 praat van Israel as die “koning se dogter.” Elders in die Ou Testament word die frase “dogters van Sion” gebruik. En natuurlik in die Nuwe Testament, staan die kerk bekend as die “bruid van Christus.”

God waarsku Israel twee keer teen gemak. Eerstens lees ons, “Staan op, geruste vroue, hoor my stem...Sorgelose dogters.” Dan voeg Jesaja by, “Bewe geruste vroue! Sidder sorgelose dogters!” (Jesaja 32:11). Die Hebreeuse woord vir sorgeloos hier beteken “moedig, met selfvertroue.” Wat gesê word, is, “Staan op uit jou gemak, o gelowige. Jy is moedig in jou sonde. Jy is so vol vertroue in jouself dat jy geestelik lui geword het. Skud jouself uit hierdie sorgeloosheid uit!”

As ek vandag na die kerk kyk, sien ek menigte gelowiges wat in die bed van selfvertroue lê. Hulle verag profetiese boodskappe en sluit hulle ore vir alle waarskuwings om wakker te word. Sulke gelowiges slaap in die middernaguur.

Amos skryf, “Wee die gerustes in Sion en die sorgelose op die berg van Samaria...julle wat die dag van onheil veraf stel en die setel van geweld nader skuiwe! Wat op die bedde van ivoor lê en uitgestrek lê op hulle rusbanke en...eet...Wat liedjies sing met begeleiding...Wat uit offerkomme wyn drink en hulle met die beste soort olie salf, maar hulle nie oor die verbreking van Josef bekommer nie” (Amos 6:1, 3–6).

As Jesaja skryf, ““Bewe geruste vroue,” beteken bewe “sidder van vrees.” God praat hier met dooie kerke. Hy waarsku hulle dat hulle die Gees verloor het. Hulle kerke geword wat meer in die vlees beweeg het en mense nie brood of lewende water bedien het nie, maar hooi en stoppels. Hulle het vermaak lief sodat hulle nie ‘n profeet in hulle midde wil hê nie. Hulle was meer geïnteresseerd in getalle as in bekering en geregtigheid.

Geliefde, Jesaja se waarskuwings was nog nooit so relevant soos vandag nie. Ek voel ‘n goddelike bekommernis in my hart, ‘n siddering in my siel oor wat ek sien kom. Al wat dit gaan verg, is ‘n enkele terroriste bom, wat miskien honderde of duisende gaan doodmaak. En binne een uur, sal die hele wêreld paniekerig wees.

Ons wil nie daarvan hoor nie, maar selfs wêreldleiers waarsku van hierdie moontlikheid. Sommige kenners sê die toestand is nie langer ‘n saak van “as” nie, maar van “wanneer.” Gou sal Jesus se eie profetiese woorde voor ons oë vervul word as mense se harte begin beswyk van vrees. Hoe baie sal hartaanvalle beleef as wêreld markte ineenstort...as menigtes die hoofweë vol pak wanneer hulle na berge en woestyne vlug...terwyl wêreldleiers bewe en in hulle bomskuilings wegkruip...terwyl miljoene jongmense wild in die strate rondhardloop, heeltemal onbeheers, omdat hulle oortuig is dat hulle môre sal sterf?

Eens sou baie Christene teen hierdie soort prediking beswaar gemaak en uitgeroep het, “Stop, ons kan dit nie hanteer nie. Dit is te ontstellend. Gee vir ons ‘n positiewe boodskap.” Ek glo dieselfde Christene sou uitgeroep het, “Onmoontlik!” as ek voor hulle in Augustus 2001 gestaan het en verklaar het, “Binne een uur, sal die Twin Towers val deur twee terroriste kapers. Duisende sal sterf, en die hele wêreld sal ween.” Ek sou beskuldig word, “Jy wek vrees op!”

Ek is geskeduleer om hierdie maand in Spanje te preek. As ek ‘n paar jaar gelede na daardie land gegaan het en geprofeteer het dat honderde sou omkom in ‘n terroriste treinbomaanval, sou min my geglo het. Verlede jaar het ek myself probeer voorstel om in Rusland te preek, terwyl ek sê dat daardie nasie sou ween, omdat honderde skoolkinders doodgemaak sou word deur ‘n terroris wat hulle gyselaar geneem het. So ‘n boodskap sou ongeloofwaardig geklink het,

In der waarheid, ons is alreeds ‘n kykie gegee na wat aan die kom is tydens die verskriklike orkane in Florida en die Suide. Alle paaie was gesluit, terwyl lane wat noord gelei het, gepak was met miljoene wat probeer vlug het van ‘n wilde, losgelate natuur. Diensstasies was gou sonder brandstof en hotelle was oorvol. Mense het net gery, met nêrens heen om te gaan nie. Die skade in daardie gebied word beraam om in die biljoene van dollars te wees.

Jesaja profesie waarsku, “Maar dit sal hael as die bos inmekaarstort en die stad wegsak in die laagte” (Jesaja 32:19). Kortliks, hierdie weer-katastrofes is God se waarskuwings. Hy heers en regeer oor die kragte van die natuur. En nooit in die geskiedenis het Hy oordeel op mense gebring sonder dat hy hulle in liefde herhaaldelik gewaarsku het nie.

Hoe moet ons voorberei vir die vreeslike dinge wat kom? Met bekering volgens Jesaja: “Staan op, geruste vroue...Bewe geruste vroue... Sidder...Hulle slaan op die bors” (Jesaja 32:9–12).

Waar sal die herders wees wat saam met God in hulle binnekamers toegesluit was? Waar sal ons die herders vind wat aan die brand is met die Heilige Gees, mense wat hoop en bekering kan bied?

Waar sal vlugtende menigtes in staat wees om kerke te vind wat skuiling bied, waar die Heilige Gees hulle met waarheid kalmeer? In hierdie kerke, sal niemand skinder of op die nietige dinge in die lewe fokus nie. Niemand sal sorgeloos wees oor hulle wandel met Jesus nie. Niemand sal praat oor kerkgroei of in filmteaters se hoekies gaan sit en gemors inneem nie. Nee, daar sal net een kwessie wees vir elke herder en gemeentelid in hierdie kerke: “Het ek die ondersteuning van Heilige Gees in my? Het ek hierdie ondersteuning om andere rondom my wat ontsteld van vrees is te bedien?”

So, hoe kan ons bedienaars voorberei? Wat moet gemeentes doen? Jesaja vertel ons daar kan geen hoop, geen toekomstige oes, geen vrugte wees nie, “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte” (Jesaja 32:15). Elke kerk, elke bediening, elke herder en elke gelowige moet ‘n uitstorting van die Gees beleef voor die komende oordeel kom.

Laat my jou herinner aan Jesaja se woorde: En my volk sal woon in ‘n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus” (Jesaja 32:18). Waar die Gees ook al uitgestort word, daar is vrede, kalmte en versekering. Ja, daar kom ‘n tyd van geweld, terreur, paniek en ontsteltenis van die nasies. Maar in daardie uur, sal God herders en heilige mense hê wat Hom soek vir ‘n vars ondersteuning van die Heilige Gees. Hierdie mense aanbid Hom reeds in waarheid en vertrou Hom vir ‘n persoonlike Pinkster. Uit hulle lewens sal riviere van lewende water vloei.

Inderdaad, wanneer die verwoestende kragte van die natuur losgelaat word en ons plekke van trots en handel verneder word, sal die Gees uit die hoogte op ons uitgestort word. Hierdie uitstorting sal egter slegs op diegene kom wat bid. Dit sal kom op diegene wat bewe vir God se Woord, wat hulleself wakker gemaak het uit hulle sluimer, wat hulleself van alle vertroue in die vlees afgelê het en streef om ‘n gebroke gees en verslae hart gegee te word.

Verder, die Skrif vertel vir ons dat die Heilige Gees gegee word aan diegene wat in geloof vra. Ek vra jou: Is jy vervul met die Heilige Gees? Het jy geleef, gewandel en beweeg in die Gees? Dit maak nie saak hoe voorspoedig jou kerk voorkom nie, of hoe suksesvol jou eie lewe lyk nie. Selfs al kan jy instemmend tot al hierdie vrae antwoord, moet jou ondersteuning van die Gees altyd vernuwe word. Paulus praat van sy eie “ondersteuning van die Gees van Jesus Christus” en vra die Filippense vir “julle gebed” (Filippense 1:19).

Ek dank God vir al die herders en kerke van vandag, wat nie die Gees verloor het nie. Ek is dankbaar vir elke man en vrou wat aan die brand met die Heilige Gees is, vir elke aan die brand kerk wat aan lewe geboorte skenk. Dit is tragies dat daar egter so min oor is. My hart roep, “O Here, o Heilige Gees, kom terug na u kerk. Kom terug en vee al ons dwaasheid weg. Kom terug en raak ons aan met ‘n brandende passie vir Christus. Kom terug en reinig ons van al die skema’s en planne van mense. Sluit alle vleeslike godsdienstige TV en media wat u Naam oneer aandoen.

“En, Heilige Gees, bring my siel in beroering. Trek my na die binnekamer van gebed met U. Mag my gebede nie meer haastig wees nie. Dissiplineer my om op U te wag, om uit te roep en nie in te gee todat U my volgemaak het nie. En gee my u beloofde vrede in my gemoed. Ondersteun my met u kalm rus en versekering dat U ons deur alles wat kom sal dra.”

Jesaja laat ons met hierdie goeie nuus: “Maar luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het! So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het” (Jesaja 44:1–2).

Ten slotte, verseker Judas ons: "Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede wandel. Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie. Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 17–21).