Harde Harte in die Huis van God!

David Wilkerson

Wat ek op die punt is om te sê mag jou skok – maar ek dit met my hele hart: Die hardste harte in die wêreld is nie onder die goddelose nie – maar onder God se mense!

As ons dink aan mense met harde harte, is die meeste van ons geneig om te dink aan geswore ateïste soos Madalyn Murray O’Hair – die vrou wat instrumenteel was om gebed uit publieke skole te verwyder. Ateïste soos O’Hair bespot die idee van God. Wanneer hulle na Christene verwys, het hulle woorde ‘n  harde, snedige toon. Ander ateïste spog met hulle haat vir God – soos die rock kunstenaar Marilyn Manson, wat Bybels opskeur tydens sy verhoogoptredes. Wanneer ons van sulke mense hoor, dink ons, “Húlle moet die mense met die hardste harte in die wêreld wees!”

Of, ons mag dink aan militante gay aktiviste, soos hulle wat met Fifth Avenue in New York Stad afgeloop en betoog het verskeie weke gelede. Talle van daardie marsjerende homoseksuele het Christenskap bespot en God se naam gelaster. Een man het ‘n plakkaat gedra wat gelees het, “Jesus is Gay.” Wanneer ons van sulke mense hoor, dink ons, “Hulle harte het verhard geword weens sonde. Hulle is onbereikbaar!”

Of, ons mag dink aan die kommunistiese nasies wat vir dekades lank Christene vervolg het. In Kuba, byvoorbeeld, net myle weg van die Florida kuslyn, het Fidel Castro se kommunistiese regering alle kerke toegemaak en katedrale verander in opleidingsentrums vir kommunisme. Kuba se leiers het gespog, “Ons het alle godsdiens uitgewis!” Op ‘n stadium, het baie Christene gedink, “Niemand kan harder harte hê as hierdie God-haters nie!”

Ek kan aan en aan gaan en allerhande soorte spotters, lasteraars en verwerpers van Christus beskryf. En, inderdaad, hulle almal kan akkuraat beskryf word as mense met harde harte. Maar, as jy die hardste harte van almal wil ontdek – dié wat die Here die meeste verag – moet jy in God se huis gaan kyk. Die hardste harte word altyd onder sy mense gevind!

Volgens die Bybel, het die hardheid van harte wat God die meeste verag, te doen met die hoor en verwerping van sy Woord.

“’n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is” (Spreuke 29:1).

Die Hebreeuse woord vir “bestraf” in hierdie vers beteken regstellende lering. En die woord vir “sonder genesing” hier is “marpe” – wat “sonder geneesmiddel” beteken, “sonder enige kans op verlossing.” Hierdie vers sê vir ons dat hardheid van hart kom deur waarskuwings herhaaldelik te verwerp – ‘n opsy stoot van alle bearbeidings van die waarheid. En, tweedens sê dit vir ons dat met verloop van tyd word so ‘n hardheid onmoontlik om te genees, So, wie is die mense wat die dikwelsste hierdie waarskuwings hoor? Hulle is vermeende Christene – diegene wat in God se huis sit en luister na preke van teregwysing elke week!

Die tragiese waarheid is dat ten spyte daarvan dat hulle vurige boodskappe uit die hemel hoor, doen menigtes van Christene nie wat hulle hoor nie. Hulle weier om God in ‘n sekere gebied van hulle lewens toe te laat. En terwyl hulle aanhou om te hoor sonder om te luister, begin daar ‘n hardheid in hulle posvat. Op die ou end, sal hulle afgesny word sonder hoop om ooit herstel te word!

In teenstelling hiermee, is daar sommige gay aktiviste wie se hardheid van hart genees is. Eers het hulle Christus gevloek en ‘n kwaai vuis in God se aangesig geswaai. Maar toe hulle die evangelie gehoor het en die suiwer, liefdevolle tugtiging van die Heilige Gees beleef het, het hulle harte versag. Hulle het berou gehad en hulle tot Jesus bekeer met hulle hardheid genees.

Jy mag dalk nou dink, “Wag ‘n bietjie. Sê jy dat ‘n sonde-verharde, radikale homoseksuele die hoop het om genees te word van sy hardheid – maar ‘n sonde-verharde Christen het glad nie so ‘n hoop nie? Hoe kan dit wees?” Die verskil is, die homoseksueel waarna verwys word, het nie boodskap op boodskap gehoor en voortgegaan om homself daarteen te verhard nie. Maar die Christen het!

Die lewe van Madalyn Murray O’Hair se seun illustreer dit. Hy was grootgemaak in waarskynlik die mees ateïstiese huishouding in Amerika. En hy het later vir sy ma gewerk en betogings gehou teen God en godsdiens. Maar toe hy die evangelie gehoor het, het hy wonderbaarlik tot bekering gekom – en hy het later ‘n bedienaar geword en Christus verkondig in plaas van om Hom te vloek. Hierdie man se hardheid was ook geneeslik – omdat hy nie onder preke van teregwysing gesit en dit voortdurend verwerp het nie.

Dieselfde is waar van talle mense wat vir jare onder kommunistiese heerskappy geleef het. Toe die Ystergordyn geval het, het die evangelie onmiddellik gestroom na  daardie voormalige Kommunistiese lande en duisende het Jesus aanvaar. Rooi Leër troepe het links en regs tot bekering gekom en selfs sommige van die top generaals het kragtige getuies vir Christus geword. Binne ‘n kwessie van dae, het regeringsamptenare, skoolonderwyders en selfs die KGB gevra vir Bybels en het Jesus verkondig aan diegene onder hulle invloed.

Ons bediening het veldtogte in Pole gehou net voor die ineenstorting van Kommunisme in daardie land. Dit was een van die min tye wat amptenare enigeen toegelaat het om openlik godsdienstige vergaderings te hou. Elke aand terwyl ek gepreek het, het honderde jongmense letterlik na die altaar gehardloop – huilend met gebroke harte en ‘n honger na Chrisus. Hulle almal was gebreinspoel teen godsdiens. Maar hulle hardheid was geneeslik – omdat hulle nog nie onder voortdurende tugtiging gesit het nie en hulself verhard het teen God se woord nie.

Volgens my ondervinding, word die hardste harte – die ongeneeslike soort – nog altyd gevind binne hoorafstand van Heilige Gees-gesalfde prediking. Sulke hardheid bestaan nie in koue, dooie, formele kerke, waar die evangelie geslagte lank verdraai word nie. Nee – dit word altyd gevind waar suiwer woord verkondig word van die kansel af – en verwerp word in die kerkbanke!

Jy mag vra, “Wat presies is ‘n harde hart?” ‘n Harde hart is een wat vasbeslote is om gehoorsaamheid aan God se woord te weerstaan. Hulle het onmoontlik geword om aangeraak te word en is immuun teen die oortuigings en waarskuwings van die Heilige Gees.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Om jou hart te verhard is nie net ‘n kwessie van teen God draai, of Christus verwerp, of weier om kerk toe te gaan nie. Trouens, jou hart kan hard word selfs as jy in die kerk is elke keer wanneer die deure oop is. Jy kan verhard word terwyl jy na opnames van lering luister...God se lof besing...dien as iemand wat sitplekke aanwys, ‘n onderwyser, ‘n lid van die aanbiddingspan. Trouens, jy kan so verhard word teenoor God se woord terwyl jy dienswerk doen dat as Jesus self vir jou van die preekstoel af gepreek het, jy ‘n dowe oor vir Hom sou draai!

Op hierdie oomblik mag jy vir jouself sê, “Sjoe! Dit klink alles ‘n bietjie te skrikwekkend vir my.” Wees gerus, ek wil niemand met vrees dwing om ‘n berouvolle hart te hê nie. Maar as jy in der waarheid gereeld die waarskuwing van God se woord ignoreer, moet jy liewer begin om die doodste kerk wat jy kan vind by te woon. Op daardie manier sal jy nie so ernistig geoordeel word as wat jy aanhou sit in ‘n Heilige Gees kerk en die gesalfde woord wat jy hoor, verwerp nie. As jy dit aanhou doen, sal jou hart te hard word vir enige genesing!

Laat my vir jou ‘n skietlood uithou en jou meet ooreenkomstig die evangelie waarheid wat jy gehoor het.

Ek wil vir jou ‘n toets gee om te sien of jy reeds die eerste stappe in die rigting van ‘n hardheid van hart geneem het. Laat my vir jou die volgende vrae vra:

1. Hoeveel keer het jy boodskappe gehoor of gelees oor die gevaar van die verwaarlosing van daaglikse gebed en Bybelstudie?

Ek het al baie boodskappe oor hierdie onderwerp geskryf, met die wete dat moeilike tye op die punt is om oor samelewing te kom. En tog weier talle lesers egter om hulle Bybels op te tel of net vyf minute deur te bring om met hulle hemelse Vader te praat. Geliefde, as jy jou geheime binnekamer verwaarloos – as jy dink dat om by die kerk te bid in al jou behoeftes sal voorsien – sal jy nooit die komende moeilike dae oorleef nie. Dink daaraan: As jy nie luister na die woorde wat bedoel is om jou in goeie tye te genees en versterk nie, hoe sal jy ooit krag kry om te oorwin tydens die moeilike dae wat kom?

As jy die Heilige Gees se bearbeiding ignoreer om jou na die geheime binnekamer te trek vir intimiteit, dan het jy die eerste stap geneem in die rigting van hardheid van hart. Jy mag al jou tyd tyd deurbring om goeie werke te doen, mense te seën en jou hart uit te stort in Christelike dienswerk. Maar as jy tyd met die Here verwaarloos – weier om sy aangesig te soek en sy woord te gehoorsaam – sal jy swak, vreesbevange, depressief, en uiteindelik ‘n slagoffer van die duiwel word. Om ‘n persoonlike kennis te hê van jou hemels Vader is die enigste manier om voor te berei vir wat kom!

2. Hoeveel keer is jy gewaarsku oor die verskriklike gevolge van skinder?

Soms was my waarskuwings oor die onderwerp van skinder soos ‘n sagte, fyn reën – en in ander tye, was dit soos ‘n dreunende donder. Ek het geskryf oor hoe skinder en murmurering Israel alles gekos het. Keer op keer was die Israeliete gewaarsku oor die gevare van hulle sonde. Maar hulle het aangehou om die Here ongehoorsaam te wees – en dit het hulle ‘n leeftyd van ellende in ‘n slang-geïnfesteerde woestyn besorg!

Laat my nou weer die skietlood teen jou lewe hou: Het jy iets teen ‘n broer of suster gesê gedurende die afgelope week – iets wat jy geen reg gehad het om te herhaal nie? Of het jy geluister na enige geskinder oor daardie persoon? As dit so is, het jy toegelaat dat ‘n saadjie van twyfel oor hom of haar in jou siel geplant word?

Ek vra jou – hoe kon jy aanhou om te skinder in die lig van al die waarskuwings wat jy gehoor het? Die enigste antwoord is dat jy reeds begin het op jou pad in die rigting van hardheid van hart!

3. Hoeveel waarskuwings het jy gehoor om nie ‘n geheime sonde te herberg nie?

Wat van daardie boesemsonde in jou hart – die een waaroor God se Gees jou voortdurend aanspreek? Oor die jare het ek talle waarskuwing geskryf oor die gevare van flankering met ‘n troetelsonde. Tog het ek nie net teen sonde gepreek nie, maar ek het onderrig oor God se opstandingskrag. Ek het gepreek dat die Here ons toerus met beide seëvierende krag deur die Gees en ‘n wil in ons harte om reg te doen.

Ek ken egter mense wat onder my lering gesit het by Times Square Church vir jare – en hulle drink, rook, vloek en fuif. Geliefde, dit is ‘n harde hart! Wie waag dit om onder ‘n liefdevolle bestraffing te sit week na week en steeds aan te hou sondig en nooit toe te laat dat oortuiging van sonde insink nie? Dit is iemand wat op die pad is na hardheid van hart!

Dit is moontlik om lief te wees om God se Woord te hoor – om te waardeer en goed te keur wat gepreek word – en tog ongeneeslik hard te word terwyl jy luister!

Jy kan opreg glo dat jy ‘n preek aanvaar het bloot eenvoudig omdat jy dit gehoor het, daaroor nagedink het en dit oor Sondagmiddagete bespreek het. Tog kan jy dit alles doen en steeds net ‘n hoorder wees – en nie ‘n dader van God se woord nie!

Die kinders van Israel was lief daarvoor om die kragtige prediking van Esegiël te hoor – maar hulle het dit nooit gehoorsaam nie: “En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaring met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem...hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Esegiël 33:31-32).

Talle mense in ons gemeente het my genader na ‘n diens, my omhels en gesê, “Pastoor, dit was ‘n kragtige woord wat jy verkondig het.” Maar as hulle wegstap, fluister die Heilige Gees vir my, “Hulle het nie ‘n woord gehoor wat jy gesê het nie!”

Die boek Hebreërs gee vir ons ‘n kragtige waarskuwing: “Daarom soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie” (Hebreërs 3:7-8). “Wie was dit dan wat gehoor het en Hom verbitter het?” (Hebreërs 3:16). Hierdie gedeeltes wys baie duidelik dat hardheid nie gekoppel is aan ateïsme, kommunisme of enige ander “isme” nie – maar, eerder, om God se woord te hoor, maar nie te doen nie.

Ek ken talle mense in Times Square Church wat goedhartig, vriendelik en selfopofferend is – en tog loop hulle gevaar om harde harte te ontwikkel! Ek het die Here hieroor geraadpleeg en gevra, “Vader, hoe kan hierdie toegewyde, hardwerkende mense preek na preek van teregwysing hoor en tog nooit verander nie? Hulle kom na u huis week na week, aanbid U, prys U – maar hulle groei nie tot volwassenheid nie. Ek weet dit, omdat ek hulle hoor skinder en ek weet van die ander sondes in hulle lewens. Hulle hou daarvan om u woord te hoor – maar hulle gehoorsaam dit eenvoudig nie. Here, wat weerhou hulle daarvan om u woord te gehoorsaam?”

God het vir my gewys dat dit alles teruggaan na hulle bekering. Hierdie agtelosige mense was nooit in die eerste plek bekeer nie! Jy sien, die Bybel praat van twee soorte bekerings: Eerstens is daar ‘n bekering wat lei tot genesing en verlossing van alle sondes. Dit is die soort wat die meeste Christene beleef. Maar daar is ook ‘n bekering wat lei tot hardheid en blindheid. Laat my vir jou ‘n illustrasie gee.

Israel het met blydskap na die kragtige prediking van die profeet Jesaja geluister – tog het hulle voortdurend hulle sondes geregverdig en het sleg goed genoem en goed sleg. Daarom het God Jesaja beveel: “Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar merk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hulle oë en met hulle ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie” (Jesaja 6:9-10).

God het geweet die Israeliete was nie gewillig om hulle boesemsondes neer te lê nie. Hulle het hulle vleeslike plesiere en goddelose metgeselle te liefgehad. Daarom het die Here vir Jesaja gesê, “Hierdie mense gaan nooit hulle harte verander nie. En van nou af, sal Ek nie ‘n woord met hulle praat nie. In plaas daarvan, wil Ek hê jy moet hulle in hulle hardheid verhaas, Jesaja. Op daardie manier sal sommiges miskien luister voor dit te laat is!”

Eenvoudig gestel, God het vir ‘n volle oorgawe van sy mense gevra. Hy het in wese gesê, “As julle met my Naam genoem gaan word – as julle harte bekeer gaan word – dan moet dit op ‘n manier gebeur wat julle van julle sondes gaan verlos, julle gaan genees en julle van alle slawerny bevry!”

Ek dank God vir die menigtes van Christene wat hulle wandel met Jesus op die regte manier begin het – deur waarheid lief te hê en God se woord te gehoorsaam. Hulle het goddelike berou gehad oor hulle sondes en hulle bekering was heelhartig. Toe hulle die weë van die vlees versaak het, het hulle verlief geraak op die Here en sy woord het vir hulle ‘n leidende lamp geword. En vandag gee hulle hulself onvoorwaardelik om sy woord te gehoorsaam.

Die tweede soort bekering is wat die leër noem “Jakkalsgat” godsdiens.

Hierdie tweede soort bekering is wat met sommige soldate gebeur wanneer hulle in die oorlog ingaan. Wanneer hulle die koeëls by hulle hoor verbyfluit en die bomme oral rondom hulle sien val, dan staar hulle die dood in die gesig – en hulle roep vinnig uit na God!

Dit is die soort bekering wat Farao gehad het. Op een stadium het hy sewe bestraffings van die Heilige Gees ontvang, maar hy wou steeds nie die Here se opdrag om Israel te bevry, gehoorsaam nie. En nou het God Moses na Farao gestuur vir die agste keer, met hierdie boodskap: “So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien” (Exodus 10:3).

God het Moses reeds gewaarsku oor wat Farao se reaksie sou wees: “...Gaan na Farao toe, want Ek het sy hart verhard...” (Exodus 10:1). Jy mag vra, “Watter kans het Farao gehad? Die Here het immers sy hard verhard.” Nee! Die woordspeling kan hier misleidend wees. Farao se verharding het nie deur ‘n ewige besluit gebeur nie; eerder, die Skrif vertel vir ons in ‘n vroeëre gedeelte: “En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het” (Exodus 8:15).

Elke keer wat Farao geweier het om die Here se bevel te gehoorsaam, het God Egipte besoek met ‘n ernstige plaag. En elke keer wat Farao uitgeroep het, “Reg, Here – Ek sal doen wat U wil hê. Kry my net uit hierdie gemors uit!” Wanneer hy egter verlos was, het hy teruggegaan na sy wederstrewigheid.

Die Bybel het dieselfde ding oor Israel se vaders gesê: “Maar hulle, naamlik ons vaders, het vermetel gehandel en hulle nek verhard en nie na u gebooie geluister nie; ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hul nek verhard...” (Nehemia 9:16-17).

God weet altyd wat in ‘n mens se hart is. En Hy weet wanneer iemand sal luister, maar nie gehoorsaam nie en kies om liewer sy eie pad te loop. Hy het dit oor Farao geweet – omdat Farao se hart na sewe bestraffinge en plae van oordeel mettertyd harder geword het.

Nou sou ‘n agste plaag oor die Egiptenaars kom en dit was iets waarvoor hulle baie bang was: sprinkane. Dwarsdeur die Bybel beteken sprinkane vernietiging en verwoesting. In vele gevalle verteenwoordig dit God se oordeel oor ‘n nasie. Trouens, die profeet Joël vergelyk ‘n sekere invallende leër met ‘n swerm sprinkane: “En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan...verslind het – my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het...magtig die uitvoerder van sy woord...” (Joël 2:25,11).

God het nie altyd sulke plae gestuur bloot om te straf nie, maar eerder om sy goddelike orde en wil te bewerkstelling. Talle inwoners van ons Timothy House en Sarah House bedieninge ken dit eerstehands. Hulle het werk, finansies, gesondheid, huwelike en families verloor – alles omdat die sprinkane van alkohol en dwelms alles in hulle lewens verslind het. Dit was egter deur sulke plae wat hierdie mans en vroue hulle tot Jesus bekeer het.

In Egipte, het swerms sprinkane oornag op die land neergedaal en alles in sig verslind – gewasse, plante, nuwe spruite, selfs die bas aan die bome. Teen die tyd dat die goggas klaar was, het selfs nie eers ‘n grasblaartjie oorgebly nie:

“Die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, ‘n baie groot menigte...En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome...daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie” (Exodus 10:14-15).

Die massiewe swerms het die Egiptenaars se huis gevul. Oral waarheen die mense gegaan het, het hulle sprinkane gesien – op die vloer, in die kniedeeg, in die melk, in hulle klere, op hulle beddens. Hierdie sprinkane het hulle vlerke geklap met ‘n skrikwekkende geluid en alles in sig geknaag en opgevreet. Binne dae, was Egipte verwoes.

Op hierdie stadium het ‘n klein, maar baie belangrike woord in die Skrif verskyn – die woord “toe.” “Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die HERE julle God en teen julle” (Exodus 10:16).

Farao het sy sonde bely en sy verkeerde optrede erken. En dit het geklink of sy belydenis ten volle en volkome was. Maar wat was sy motief deur te bely? Die Skrif spel dit duidelik uit in Farao se eie woorde: “Vergeef dan to nou net dié keer my sonde, en bid tot die HERE julle God, dat Hy net hierdie dood van my wegneem” (Exodus 10:17). Farao het in wese gesê, “Ja, ek het gesondig – en ek is jammer. Maar nou gou, Moses en kry my uit hierdie gemors uit. Bid tot jou God vir my. Ek is in die moeilikheid en moet verligting kry!”

Farao het gesien dat hy op die punt was om alles te verloor – daarom het hy bely met die hoop dat God hom uit die gemors wat hy vir homself veroorsaak het, sou verlos. Al wat hy wou hê, was verligting uit sy moeilikheid!

Wat het jou die eerste keer by die Here uitgebring?

Het jy eerste na die Here gekom soos Farao – slegs omdat jy iets van God wou hê? Het jy jou na Hom gewend om van ‘n dwelmgewoonte ontslae te raak, om jou huwelik herstel te kry, of om verlos te word van finansiële moeilikheid? Het jy vir jouself gesê, “As ek na Jesus kom, sal dinge miskien uitwerk.”

Christus kan in werklikheid wonderwerke vir jou doen. Hy sal die onmoontlike in jou lewe doen. Maar as jy na Hom toe kom net om iets van Hom te kry – net om van jou probleme verlos te word – sal jy nooit een duim in volwassenheid groei nie. In teendeel, jy sal net verhard word!

Dink terug aan die tyd van jou bekering. Het dit gebeur nadat een of ander sprinkaan alles opgevreet het? Was jou gesondheid op een of ander manier aangetas? Was een van jou kinders in die moeilikheid? Het jy in verwoesting beland met dood en vernietiging wat oor jou gehang het?

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Natuurlik is God lief daarvoor om mense wat in verwoesting beland te red. Wanneer alles verlore is, is Hy altyd naby – en Hy is getrou om te verlos. Maar, geliefde, jy kan nie na Jesus kom net om verligting te kry nie! Jy moet na Hom kom omdat Hy God is – en omdat Hy jou lewe, jou aanbidding en jou gehoorsaamheid verdien.

Dit is ‘n moeilike ding om God se huis binne te kom en te aanbid net omdat jy moet. Jy kan onderrig gee, jy kan sitplekke aanwys, jy kan in die koor sing – en jy kan vir jouself sê, “Ek onthou my bekering goed. Ek het Jesus in my hart ingenooi vyf jaar gelede.” Maar as jou hart  werklik bekeer was op daardie tyd, sou dit in jou lewe gewys het vandag.

Jy sou geestelik gegroei het – die Bybel dikwels gelees het, al jou probleme na God geneem het en kosbare tyd met Hom deurgebring het in jou binnekamer. En waar jy ook al waarskuwings oor komende sprinkane gehoor het, sou jy geluister het – omdat jy weet jou Vader se gebooie bring sy liefde vir jou te voorskyn.

Op hierdie oomblik mag jy moontlik sê, “Ja, Broer Dave – ek erken ek het God se woord verwaarloos. Ek is steeds gebind aan ‘n boesemsonde. Is ek te verhard – te ver heen – om die Here se genesende aanraking te ontvang?”

Nee – glad nie! As jy sal begin om die Here aan te roep vandag, te midde van jou behoefte, sal Hy vir jou tye van verkwikking bring. Wanneer jy waarlik vir Hom ‘n berouvolle hart bring, sal Hy nie optree as jou Regter nie, maar as jou Middelaar en Voorbidder. Op hierdie oomblik sê Hy vir jou, “Roep My net aan en Ek sal dit vir jou doen. Ek sal na jou toe kom en alles wat jy nodig het voorsien om jou hart sag en gebroke voor My te hou.”

Wil jy groei tot volwassenheid in Christus? Wil jy hê die Here moet jou bewaar in liefde en jou lei na ‘n lewe van goddelikheid? Roep Hom dan aan vandag. Niks sal jou meer op sy voorgenome pad vir jou hou as ‘n gebroke en verslae hart nie!