GROTER WERKE

Nicky Cruz

Soos ek deur die land toer, praat en evangeliseer, vertel ek dikwels stories wat God se werk in ons bediening illustreer. Stories van verharde kriminele en bendeleiers wat na ons veldtogte kom met die bedoeling om moeilikheid te veroorsaak, maar in plaas daarvan, deur die Heilige Gees oortuig word van sonde en God om vergifnis vra. Ander kere, vertel ek getuienisse van bonatuurlike genesings – beide fisiek en geestelik – wat plaasvind.

Amper elke keer nadat ek hierdie getuienisse van die Gees se krag gedeel het, kom mense na my toe met verwondering in hulle oë. “Ek kan nie glo hoe wonderlik die Here in jou bediening werk nie,” sê hulle vir my. “Ek het nooit gedink God werk op daardie manier nie.”

Dan kom die onvermydelike vrae: “Dink jy regtig God werk vandag op dieselfde manier as in die Nuwe Testament? Indien wel, waarom sien ek Hom nie daardie dinge in óns kerk doen nie?”

Die antwoord op die eerste vraag is maklik. “Natuurlik doen Hy dit,” sê ek vir hulle. “Sedert die dag wat ek ‘n Christen geword het, sien ek geen verskil in wat ek lees in die boek Handelinge en wat ek in ons bediening beleef nie.”

Die tweede vraag raak ‘n bietjie meer persoonlik, en met die moontlikheid om aanstoot te gee, antwoord ek, “Die rede waarom jy God nie magtige werke sien doen nie, is miskien omdat jy nie werklik glo in ‘n magtige God nie. Hy doen nie wonderwerke as daar nie van Hom verwag word om dit te doen nie.”

My aanhoorders is natuurlik geskok, want dit is nie die antwoord wat hulle verwag het nie, maar dit kry gewoonlik hulle aandag. Ek probeer om hulle met die Woord te bemoedig: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Dieselfde Heilige Gees wat met die dissipels gewandel, genesings en allerhande wonderwerke gedoen het, wandel met ons vandag.

Jesus het beloof dat iemand wat in Hom glo, die werke sal doen wat Hy gedoen het; Hy het immers gesê hulle sal selfs groter werke doen (sien Johannes 14:12).

Nicky Cruz, ‘n internasionaal bekende evangelis en produktiewe ouditeur, het hom tot Jesus bekeer van ‘n lewe van geweld en misdaad nadat hy David Wilkerson in New York Stad ontmoet het in 1958. Die storie van sy dramatiese bekering was eers oorvertel in The Cross and the Switchblade deur David Wilkerson en later in sy eie topverkoper boek Run, Baby, Run.