God Wil Hê Dat U Sy Stem Ken!

Die duiwel doen alles in sy vermoë om sy stem te laat hoor in hierdie wêreld. Een keer het hy selfs die vermetelheid gehad om Jesus te onderbreek toe Hy in die sinagoge gepreek het:

“En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die Sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer… En daar was in hulle sinagoge ‘n man met ‘n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met ‘n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan” (Markus 1:21-26).

Die Satan het die stem van die man gebruik en hard uitgeroep met net een doel - om vrees deur die hele gemeente te stuur. Hy wou elke persoon met die geluid van sy stem laat bewe van vrees -om hulle te laat glo dat hy krag en outoriteit het, selfs wanneer hy uitgedrywe word.

Petrus het die eindtyd gelowiges gewaarsku dat Satan na hulle toe sou kom met ‘n harde stem om hulle te laat vrees: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Dit is my punt: As Satan sy stem dik maak in hierdie laaste dae en so sy krag bekend maak aan die massas, hoeveel belangriker is dit tog nie vir God se kinders om hulle Vader se stem te hoor? Dink u die Here sou net bly sit as Satan teen die wêreld brul - terwyl Hyself stil bly? Nooit! Jesaja het gesê: “En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor…” (Jesaja 30:30).

Sedert Adam en Eva se tyd het God met die mens gepraat. Die Skrif sê dat van die begin af het hulle “die stem van die HERE God gehoor (Genesis 3:8). Adam het gesê, “Ek het u geruis gehoor in die tuin” (vers 10).

Vanaf Genesis en verder aan deur die Nuwe Testament, het God sy stem aan sy mense bekend gemaak - aan Abraham, Moses, Kaleb, Josua, Samuel en Dawid, aan regverdige konings en regters. In die boeke van die profete sien ons hoe hierdie frase herhaal word keer op keer: “En God het gesê…” God se stem was bekend en is verstaan. Hy het altyd Sy stem laat hoor!

Jesus het dit in die Nuwe Testament bevestig deur die voorbeeld van die Goeie Herder: “… die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Johannes 10:3-5).

Jesus het vir Pilatus gesê: ”Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Die boodskap is duidelik. As jy God se Gees in jou het, dan sal jy Sy stem hoor en ken!

Tog leef ons in ‘n tydperk waar daar baie stemme roep om ons aandag te kry. Paulus het gewaarsku: “Daar is wie weet hoeveel soorte tale (kan ook vertaal word as stemme) in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie” (1 Korinthiërs 14:10).---

Miskien het u die ervaring van baie ander Christene: Wanneer u bid en soek om God se stem te hoor en te ken, word u verstand gevul met allerhande soorte stemme. U mag wonder, “Hoe kan ek onderskei tussen God se stem en my eie vlees te stem? Hoe kan ek seker wees dat dit God is wat praat, en nie die stem van ‘n versoekende gees nie?”

Laat my met u ‘n paar insigte met u deel wat ek glo God aan my gegee het insake om God se stem te hoor en te ken.

As u ‘n geheime sonde vertroetel, kan u seker wees dat u nie regtig God se stem wil hoor nie. Dit is omdat u alreeds weet wat Hy vir u sal sê - en u wil dit nie hoor nie!

Toe Adam en Eva gesondig het, het dit skaamte gebring. En saam met die skaamte, het daar skuld, vrees en veroordeling gekom. Hierdie skaamte is in die Ou Testament “naaktheid” genoem - en om naak te wees beteken om in God se teenwoordigheid te staan met net skuld.

“Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg (Genesis 3:9-10).

Adam het vir God se stem weggekruip as gevolg van die skuld en skaamte van sy sonde. En dit is presies waar baie van God se mense vandag staan - hulle kruip weg, bang om God te hoor praat!

U mag louwarm Christen vriende hê, wat nie daarvan hou om kerk toe te gaan nie. Toe u hulle die eerste keer ontmoet het, het hulle roekeloos gelewe. Hulle was werklik met skuld en skaamte belas - maar hulle was nie gereed om hulle geheime sonde op te gee nie.

Toe u hulle saam met u kerk toe gebring het, het God se Woord hulle gewetens deurboor. Hulle het geweet hulle het God se stem, wat na hulle uitroep, gehoor, “Waar is jy - wat maak jy?” Vrees het hulle harte binnegekom! Die heilige teenwoordigheid van Jesus het hulle sonde vuil laat lyk en hulle kon nie wag om uit die kerk te hardloop en weg te kruip nie.

Geliefde, as u God se stem wil hoor, moet u gereed wees vir algehele reiniging. U moet gewillig wees om elke sonde aan die lig te bring en te weg te werp!

Die profeet Jesaja het ‘n wonderlike visie van die Here wat op ‘n hoë en opgehefte troon gesit het. Serafins het hulleself met hulle vlerke toegemaak as gevolg van die heilige teenwoordigheid van God. Hulle het uitgeroep: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jesaja 6:3).

“Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen” (verse 6-7).

God se stem was so magtig dat dit die tempel geskud het. En toe die profeet Jesaja die geluid hoor het hy gesê: “Weë my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (vers 5). Jesaja was vervul met ‘n gevoel van sonde en onreinheid - omdat God se stem ‘n reinigende stem is!.

“Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen” (verse 6-7).

Jesaja kon nie God se “rigtingwysende stem” hoor totdat hy eers Sy “reinigende stem” gehoor het nie.

U sien, rigting en leiding kom slegs na reiniging omdat, as u nie gereinig is nie, kan u nie verder met die Here gaan nie. Tog is daar duisende op duisende van God se mense van vandag wat in byeenkomste saamkom om ‘n kits, “alle probleem oplossende” woord van God te kry. Hulle wil ‘n profeet hê om hande op hulle te lê - om vir hulle te sê wat om te doen en wat die toekoms inhou. Meeste van wat hulle hoor, is egter vleitaal: “Jy sal kragtig deur God gebruik word!” “Jy sal geseënd en voorspoedig wees!”

Hoeveel van hierdie mense dink u sal na die byeenkomste kom as hulle gunsteling prediker ‘n vinger na hulle wys en hulle die reinigende Woord van God gee? “Jy is steeds onrein - jy het nog nooit van jou geheime sonde afstand gedoen nie! Jy het geen visie van Jesus se heiligheid nie. Luister na sy stem - bekeer jou!

As jy God se stem wil hoor om jou rigitng te gee, moet jy eers gereed wees om jou siel te reinig en te was. Sy Woord kom om ons gewetens te deurdring en boosheid bloot te lê -sodat Hy ons kan gebruik!

Eers toe hy reiniging ontvang het, het Jesaja rigting van God ontvang: “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my. En Hy het gespreek: Gaan …” (verse 8-9).

Hoe opgewonde word ons na die reiniging! Wanneer ons onsself bekeer en gebroke word, bid ons, “ Here, U weet dat ek gereinig is, dat alle sondes afgewas is. Nou is ek gereed om U stem van rigtingwysing gemaklik te hoor praat met U dienaar - ek is gereed om te gehoorsaam!”

As u rigting soek - as u dink u is gereed om te doen wat Hy vra - laat my u dan vra: Is u gereed vir ‘n ongemaklike woord - ‘n sending van ontbering en verwerping - ‘n lewe van geloof wat geen vertroosting bied anders dié van die Heilige Gees?

Dit is presies wat met Jesaja gebeur het! Die profeet het vrywillig uitgeroep, “Stuur my, Here.” En God het hom op ‘n harde, moelike sending gestuur!

En Hy het gespreek: “Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie” (verse 9-10).

Die woorde wat Jesaja gehoor het, was glad nie vleiend nie! In teendeel, dit sou hom ‘n gehate, onpopulêre man maak. Die Here het vir hom gesê, “Gaan verhard dié wat weier om My te hoor praat! Maak hulle oë en ore toe - maak finaal hulle harte hard!”

Geliefde heilige, as U graag God se stem wil hoor, moet U gewillig wees om enigiets te hoor wat Hy sê! God sal nooit sê, “Gaan!” totdat Hy u eers gevra het, “Wie sal gaan?” Hy kom na u en vra - is jy gewillig om dit op My manier te doen? Is jy gewillig om jou lewe neer te lê?”

‘n Paar jaar gelede toe ek om rigting gebid het, het die Here duidelik aan my gesê, “Gaan terug na New York.” Dit was die mees ongemaklike woord vir my! Ek was gereed om af te tree. Ek het beplan om boeke te skrywe en by geselekteerde plekke te preek. Ek het gedink, “Here, ek het al my beste jare daar spandeer. Gee my ‘n ruskans!”

Ja, ons wil die stem van God hoor, maar ons wil dit gemaklik hoor! Ons wil nie dat dit ons moet ruk nie. Tog, hoekom sou God ons Sy stem van rigting gee as Hy nie seker is dat ons Hom sal gehoorsaam nie?

Abraham het geleer om God se stem te hoor deur eers te gehoorsaam wat hy gehoor het - toe hy dit gehoor het! God se woord aan hom, was ‘n harde woord: “Offer jou seun, Isak!” Abraham het op daardie woord gereageer en sy gehoorsaamheid het ‘n soet geur geword wat die hele wêreld aangeraak het: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:18).

Die onderwysers van Israel het na Moses toe gekom en gesê: “Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe. Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het? Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen (Deuteronomium 5:25-27).

Hierdie manne het vir Moses gesê, “Gaan jy na God toe! Luister na sy stem en kom vertel vir ons wat Hy sê en ons sal dit doen.”

Maar Moses het hierdie leiers herinner dat hulle ‘n vorige keer self die stem van die Here gehoor het: “Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek” (Deuteronomium 5:4). God het persoonlik met hulle gepraat - en hulle het bly lewe! In werklikheid, dieselfde nag, voordat hulle gaan slaap het, het hulle erken: “Ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly” (vers 24).

Nee, hierdie Israeliete was nie bang om God se stem te hoor nie - hulle was bang vir wat Hy hulle gaan sê! Dit was omdat hulle steeds aan afgode vasgeklou het - goue muise wat hulle van Egipte saam met hulle gedra het!

God het hulle reeds beveel:

“Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie… Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie” (Exodus 20:3,5). En nou het Hy vir hulle gesê, “Ek wil julle hele harte hê. Laat staan julle afgode!”

Amos het namens God gesê: “Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel, en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het?” (Amos 5:25-26).

Die skrywer van Hebreërs sê Israel het gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie: (want hulle kon die gebod nie verdra nie…)” (Hebreërs 12:19-20).

Hier is die sleutel! Die Israeliete kon nie verdra wat God hulle beveel het nie, omdat hulle nie daaraan wou dink om hulle weggesteekte afgode en geheime sondes op te gee nie.

Hulle het gedink, “Moses is saggeaard. Ons sal hom met God laat praat en dan sal ons na hom luister. Hy het ons al hierdie jare gelei en hy het nog nie agtergekom dat ons afgode wegsteek nie. Hy sal nie so hard op ons wees soos God nie!”

Nee! God is nie ‘n vermaaklikheidspersoon wat speletjies met afgodsdienaar Christene speel nie! Hy soek intimiteit - Hy wil praat oor die kleinste details van ons lewens. En Hy praat met een doel voor oë - om ons hele hart te besit! Hy wil alle afgode vernietig en alle sondes reinig sodat Hy ons kan seën, ons begunstig en ons beloon!

Die Here het van Israel gesê: “Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan“ (Deuteronomium 5:29).

Israel kon God se stem nie hoor nie omdat, hulle verkies het om die stem van ‘n mens te hoor. Ek vra u: Kan dit die rede wees hoekom u nie in staat is om Sy stem te hoor nie?

Miskien het u ‘n afgod - ‘n sekere prediker, onderwyser of evangelis. Hy praat met u oor goeie dinge - gesondmaking, voorspoed, geloof en seëninge. Maar hy delf nie in jou hart in om sonde bloot te lê nie! U wil nie deursoek word nie, u wil net geseën word - so u luister na sy kassette vir ure aaneen, u verslind sy boodskappe. Maar u is besig om by ‘n mens te voed in plaas van by God.

Geliefde, die rede waarom baie Christene vandag nie die stem van God kan hoor nie, is omdat hulle geïndoktrineer is deur ‘n mens! Die Bybel praat daarvan as die ergste afgodery van die laaste dae - verslawing aan valse leerstellings, valse leermeesters, geïndoktrineer deur mense wat nie namens God praat nie.

Ek praat nie teen hierdie mense nie, maar wel teen dwaal leerstellinge en misleiding - teen valse doktrines wat kom en mense se siele ruïneer. Diegene wat sulke doktrines najaag, eindig op moedeloos, verward, ontspoor. Hulle mis die ware seën en guns van God!

Dit is tyd vir elke gelowige om direk na die Here te gaan en sy stem te hoor sonder ‘n mens in die middel! U moet self leer om God se stem te hoor. Ja, Sy Gees sal delf, soek, oortuig van sonde, en met u deel. Maar u sal nooit Sy stem hoor totdat Hy u hele hart besit nie!

Ek wil nou met diegene praat wat hulleself werklik bekeer het, die oorblyfsel van gelowiges wat wil hoor en hulle Here se stem wil ken:

God se begeerte is om met u te praat asof u langs die etenstafel met Hom sit. Hy wil met u gesels, hart tot hart, oor enige en alle sake! Die Bybel sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20).

Die vers word altyd verkeerdelik aan die ongelowiges toegeskryf. Ons praat van Jesus wat by die deur van ‘n sondaar se hart staan en wil inkom. Nee - dit is met die gelowige wie Christus hier praat!

Die konteks wys dat Christus praat met hulle wat geklee is in wit klere (geregtigheid), wie goud gekoop het wat in die vuur gelouter is, wie se oë gesalf is (openbaring het), wie geliefd is, bestraf en getugtig is (sien verse 15-19). Hierdie is die bekeerde, heilige mense wat die stem van God wil ken!

Terwyl ek vers 20 in hierdie paragraaf oor en oor lees, is daar drie woorde wat bly uitspring “Maak oop die deur! Maak oop die deur!” En die Gees van God het duidelik tot my hart gespreek: “David, die rede waarom jy My nie gehoor soos wat Ek gehoor wil wees nie, is omdat jy nie heeltemal oop is in jou gees om te hoor nie!”

Nou, ons weet teologies dat Jesus in ons harte woon. Tog hou meeste van ons ‘n klein plekkie in ons harte wat ons nooit voor die Here oopmaak nie. Dit is die setel van ons siele, die kern van ons wese - dit maak van ons die persoon wat ons is. En daaruit spruit al ons emosies.

Dit is die kamer waaraan Jesus kom klop en roep. Hy sê dit is ‘n geslote deur tussen uself en Hom - iets wat Hom keer om in te kom.

Hierdie deur, soos ek dit sien, verteenwoordig ‘n oorgawe - een wat baie Christene nog nie behoorlik gemaak het nie. Meeste gelowiges bid, “Here, al wat ek nodig het, is ‘n bietjie raad, ‘n paar woorde wat my die rigting kan wys - ‘n herhinnering dat u my liefhet. Laat my net weet of ek reg of verkeerd doen. Gaan voor my uit en maak al die deure oop!”

Maar Jesus antwoord ons: “As al wat jy van my wil hê rigting is, kan ek ‘n profeet stuur om dit vir jou te sê. As jy net wil weet wat om te doen en waarheen om te gaan, kan Ek iemand stuur en Ek kan alles deur hom vir jou sê. Maar jy sal My mis!”

Om die waarheid te sê, Jesus wil meer hê! Hy wil u nabyheid hê, u diepste emosies in u toegesluite kamer. Hy wil langs u gaan sit en met u deel wat in Sy hart is - om met u van aangesig tot aangesig te praat. Hy wil meer intiem met u wees! Hy roep u na ‘n ete vir twee!

Openbaring 3 is ‘n wonderlike prentjie hiervan. Dit praat van liefde en intimiteit, van geheime deel, van sagte, liefderyke stemme. Christus sê hier, “Ek wil my hart met jou deel. Ek wil hê dat jy My weë ken, sodat die gedagtes wat jy dink, My gedagtes is. Ek wil my stem meer en meer in jou hart laat kom - totdat jou gedagtes, die gedagtes van Christus is!”

Hy staan by die deur en klop en vra vir ‘n oorgawe - ‘n stap van geloof wat sê dat u u hart, siel en gees vir Hom sal oopmaak. Dit kan nie gebeur deur emosies of gevoelens nie. Die moet eerder ‘n oorgawe van geloof wees wat sê, “Jesus, ek gee myself oor aan U, nie aan antwoorde, nie aan rigting nie. Ek maak die deur van my alles vir U oop!”

Wanneer Jesus inkom, bring Hy voedsel, brood - in ander woorde, Homself.En wanneer u op Hom voed, sal u ten volle versadig word!

Die bruid in die Hooglied van Salomo sê:

“Ek het geslaap, maar my hart het gewaak. Hoor, my beminde klop: Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif, my volmaakte! Want my hoof is vol dou, my haarlokke vol nagdruppels” (Hooglied 5:2).

Die bruidegom in hierdie verhaal verteenwoordig Jesus. Hy klop aan die deur van sy bruid en sê, “Maak vir My oop, My beminde, My hoof is vol dou [beteken, Ek het gely vir ons liefde].” Die bruid hoor Hom klop, maar sy is in die bed. Sy het die bruidegom lief, maar sy is te moeg om op te staan en die deur oop te maak.

Dan gebeur daar iets. Sy sê, “My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom” (vers 4). In Oosterse tye was deure gemaak met ‘n opening. Die bruidegom wou so graag by sy beminde bruid wees, dat Hy Sy hand in die opening gesteek het en probeer het om die slot van die binnekant af oop te maak. Maar vir een of ander rede, is hy verhinder. Toe kyk hy deur die opening na sy bruid - en sien haar deur die slaap en half wakker.

Geliefde heilige, dit is presies wat die Here van Sy kerk wil hê! Hy wil hê dat ons by die deur moet wag, vol liefde - nie Hom verontagsaam asof Hy nie die allesoorheersende lieflike Een van ons harte is nie!

Mense wat verlief is, wil graag alleen bymekaar wees. En hierdie beeld wys Christus se hart teenoor ons. Hy wil so graag intimiteit met ons hê dat Hy letterlik tot binne in ons uitreik en probeer om die deur oop te sluit! Tog vra ek u - hoeveel kere het Jesus intimiteit met u gesoek, maar u het Hom uitgesluit?

Teen hierdie tyd, het die bruid haarself wakker geskud en sy ruik haar geliefde se geur (die mirre) op die slot van die deur: “ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak, terwyl my hande drup van mirre en my vingers van vloeiende mirre op die handvatsels van die grendel” (vers 5).

Uiteindelik sê sy, “Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie” (Hooglied 5:6).

Die bruidegom was weg! Hy het haar steeds liefgehad - maar sy dade het gesê, “Sy het geen intense liefde vir my nie - sy neem my as vanselfsprekend! Ek moet myself onttrek totdat sy leer om te waardeer wie ek is.”

Geliefde, partykeer moet die Here Homself van ons onttrek vir dieselfde rede! Wanneer Hy dit doen, sê Hy vir ons, “Ek wil hê dat jy na My toe moet kom met jou hele hart. Ek wil hê dat jy My moet liefhê - dat jy na My moet smag met alles wat in jou is!”

Skielik het die bruid besef dat sy haar bruid as vanselfsprekend aanvaar het! Toe hardloop sy die strate in en roep, “Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, as julle my beminde vind, wat sal julle hom vertel? Dat ek krank is van liefde” (5:8). Sy het vir almal vertel, “hy is geheel en al die lieflikheid self” (vers 16).

Dit is ‘n prentjie van ‘n kerk wat wakker geword het - wat haar behoefte vir Christus besef het! Diegene wat honger na die Bruidegom, staan alreeds by die deur wanneer Jesus klop. Hulle is gereed, met hulle hande op die deur om vir intimiteit met Hom oop te maak!

Soos die bruid in hierdie gedeelte, moet ons wakker word en besef wie Jesus vir ons is en wat Hy vir ons beteken! Ons moet sê soos die bruid, “Dit is my liefde, my lewe, ek kan nie sonder Hom nie!”.

Het u nog nie die deur tot liefdevolle intimiteit met Jesus oopgemaak nie? Het u nog nie die Bruidegom laat inkom nie? Maak oop u siel en gees vir Christus, en vertrou dat Hy sal inkom. Laat Hom u bron wees, u alles en glo wat Hy sê: “Ek sal ingaan en saam met jou maaltyd hou” (sien Openbaring 3:20).

In Sy teenwoordigheid, toegesluit saam met Hom alleen, sal u Hom leer ken - Sy geur, Sy weë, Sy hart. En u sal leer om Sy stem te ken - die stem van die Een wat u lief genoeg het om aan te hou klop en te smeek vir u intimiteit.

Kom nader na Hom toe - en jy sal Sy stem ken!