God is vir ons ‘n toevlug en beskerming

Kom ons kyk na een van die wonderlikste beloftes in die Woord van God:

“God is vir ons ‘n toevlug en beskerming, Hy was nog altyd bereid om ons te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom. Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting … die oorloë oor die hele wêreld laat Hy ophou” (Psalm 46:2-7,10).

Wat ‘n geweldige belofte. Ek het hierdie gedeelte oor-en-oor gelees, ‘n paar keer, en dit oorweldig my nog steeds. God se woord is hier so kragtig, so onbeweeglik, Hy sê vir ons: “Julle hoef nooit weer bang te wees nie. Dit maak nie saak of die hele wêreld in beroering is nie. Die aarde mag bewe, die oseane vol word, die berge mag in die see verdwyn. Alles mag deurmekaar wees.

“Deur My woord sal julle vrede – soos ‘n rivier – hê! Terwyl al die nasies raas en te kere gaan, sal daar strome van vreugde na my kinders vloei. Dit sal hulle harte bly maak.”

Op die oomblik is die hele wêreld in beroering. Nasies bewe as gevolg van terrorism, niemand en niks is immuun teen die bedreiging nie. Persoonlike probleme en lyding neem toe. Tog, te midde van dit alles, weerklink Psalm 46 tot God se kinders oor die aarde. “Ek is in julle midde. Ek is by julle te midde van alles. My kinders sal nie vernietig of beweeg word nie. Ek sal ‘n altyd-teenwoordige hulp vir hulle wees.”

Verstaan u wat die Here vir ons in hierdie Psalm sê? God is tot ons beskikking te enige tyd van die dag of nag. Hy is voortdurend aan ons regterkant, gewillig om met ons te praat en ons te lei. Hy het dit moontlik gemaak deur vir ons sy Heilige Gees te gee om in ons te woon. Die Bybel sê vir ons dat Christus self in ons is, en ons in Hom.

Ek twyfwl of enige Christen hierdie waarheid volkome begryp. As ons eerlik is sal ons moet erken, dat ons begrip van God se inwonende teenwoordigheid, ontoereikenheid is. Baie van ons voel dat die Heilige Gees in ‘n klein kapel in ons hart woon. As ons Hom nodig het, hardloop ons na die kapel en klop aan tot Hy antwoord.

Hierdie opvatting is glad nie Bybels nie. Ek glo dat die Here dit deur hierdie Psalm aan ons wil openbaar. Ons het almal behoeftes en moeilikhede. Ons beleef almal onstuimighede, versoekinge, tye van verwarring wat ons siele verontrus. Sy boodskap in Psalm 46 is juis vir sulke tye bedoel. Wat is die boodskap? Eenvoudig dit: as ons toegee aan vrees – as ons terneergedruk en moedeloos raak – leef ons in ontkenning van sy teenwoordigheid in ons lewe.

Petrus skryf: “Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskend het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (1 Petrus 1:4). Bonatuurlike vrede is deel van God se goddelike natuur. Van al sy wonderlike beloftes is Psalm 46 die Psalm wat ons help om vrede “soos ‘n rivier” te bekom. Ek wil met u deel wat ek in die verband geleer het.

Paulus getuig: “Ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen is die slegte” (Romeine 7:21). “Ons stry nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12).

Daar is ‘n vyand van ons siel en hierdie vyand stry teen ons, dag en nag. Paulus wil seker maak dat ons dit verstaan. As ons dit nie verstaan nie – as ons onkundig is oor teen wie ons veg – sal ons verslaan word.

Van die Evangelies na Paulus se briewe tot in Openbaring, dwarsdeur die Nuwe Testament word ons gewaarsku om nie onkundig te wees ten opsigte van Satan se lis nie. Dit beteken nie dat ons Satan se mag hoef te vrees of te beklemtoon nie. Maar Satan is nog “die vors van die onsigbare bose magte” (Efesiërs 2:2). En hy regeer oor die bose ryk van demoniese magte. Hierdie magte doen wat hy beveel en maak dit moeilik vir God se kinders.

Dit is uiters gevaarlik om blind te wees teenoor Satan se lis. Ons moet aanvaar dat ons huidige geveg nie teen mense is nie. Dit maak nie saak watter worsteling ons ervaar, en teen watter sonde ons te velde trek nie. Ons moet verstaan dat dit nie eenvoudig ‘n defek in ons karakter is nie. Dit is nie ‘n gewoonte wat ons moet breek nie. Ons konflik is niks anders as ‘n bonatuurlike geveg wat in ‘n geestelike realm plaasvind nie.

Ons teenstander is die altyd teenwoordige vyand. Satan se magte slaap nooit. Hulle hou nooit op met lieg, bedreig en boosdoenery teen ons nie. Die enigste doel is om ons geloof te verwoes en ons te vernietig.

Dit is waarom Petrus by ons aandring, “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë” (1 Petrus 5:8-9). Petrus het dit ervaar. Jesus het hom gewaarsku, “Simon, Simon, … Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31). Christus het geweet dat die duiwel hierdie apostel wou hê. Jesus gee vir Petrus ‘n duidelike waarskuwing oor wat sou kom.

As dit jou posisie is, kan jy verwag dat Satan en sy trawante jou sal aanval met beskuldigings, hindernisse, leuens wat jou gedagtes sal deurspoel. Jy sal versoek word, vervolg word, onderbreek word in jou gebede. Dit alles is, deel van Satan se plan om jou geloof te vernietig.

Jare gelede het ek ‘n toegewyde profeet van God gevra om by een van ons byeenkomste te praat. Ek het altyd groot agting vir die man gehad. Hy was een van die nederigste mense wat ek geken het, ‘n eenvoudige skrynwerker wat selde gepreek het. Maar as hy gepreek het, het God se Gees tot so ‘n mate gewerk dat mense diep geraak is.

Dit is presies wat gebeur het, die aand wat hy by ons gepreek het. Toe stop hy meteens in die middel van sy boodskap. Hy het van die preekstoel afgeklim en my eenkant toe gelei en in ‘n kalm, bewende stem, gefluister: “David, bid vir my. Lê hande op my. Nou! Slegte gedagtes teister my. Ek het dit jare laas ervaar. Dit oorweldig my gedagtes en ek kan dit nie afskud nie.”

My eerste gedagte was, “Miskien het ek my met die man misgis.” Maar die teenoorgestelde was waar. Hier was ‘n dienskneg wat so oorgegee was aan Jesus soos min ander. Satan het hom op die mees onverwagte oomblik aangeval: terwyl hy met ‘n groot geestelike taak besig was.

Hierdie nederige man het gesoebat, “David, jy ken my. Jy weet dat dit nie my gedagtes is nie. Ons moet outoriteit neem oor hierdie gedagtes, anders kan ek nie aangaan nie.” Ons het gebid en die aanval was gebreek. Terwyl die diens voortgegaan het, was ek onder die indruk van hoe die duiwel se aanval op God se kinders te enige tyd kan toeslaan.

Paulus het geweet waaroor dit gegaan het. Elke dag van sy lewe het Satan hom agternagesit met helse aanvalle. Ons het ‘n verslag van hierdie aanvalle in die boek Handelinge en in Paulus se briewe. Ons sien hoe hy geteister word, om elke hoek en draai, in gees, siel en liggaam, selfs tot naby die dood. Op ‘n sekere punt, sê Paulus duidelik. “die Satan het ons verhinder” (1 Tessalonisense 2:18). Tog, sê Paulus, God het ons met oorvloedige genade beklee.

Satan, pla nie sy eie kinders nie. Hy het geen saak met hulle nie. “Julle is kinders van die duiwel, hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen” (Johannes 8:44). Nee, die duiwel se wapens is gerig op ‘n uitgesoekte paar. Hy soek hulle wie se harte daarop gerig is om Christus na te volg. Hierdie heiliges het ‘n vurige liefde vir Jesus, en hulle het hulleself afgesonder in die binnekamer om Hom te volg. Hulle is vasbeslote om in die Gees te wandel en sy Woord te gehoorsaam.

As jy so ‘n gelowige is, moet jy weet: jy sal nooit vry wees van die duiwel se aanvalle nie. Satan het net een doelwit om jou geloof te ondermyn. Hy wil hê jy moet God se getrouheid betwyfel. Hy sal jou met probleme en versoekings probeer oorweldig tot jy jouself sal afvra: “Hoe kan die Here met my wees, as dit so gaan?”

Baie lewenslange diensknegte het die Here begin betwyfel in hulle beproewing. Hulle kon nie verstaan wat met hulle gebeur nie. Ek het met pastore gepraat wat na dae van vas en gebed daaruit kom en hulleself afvra: “Bestaan God werklik?” Hulle het nie besef dat hulle onder geestelike aanvalle ly nie.

Moenie ‘n fout maak nie: die vyand se aanvalle is uitsonderlik hewig in hierdie laaste dae. Volgens my, het ons geslag God se leiding meer nodig as ooit tevore. Satan probeer ons oortuig dat wanneer ons Jesus op die nodigste het, sal Hy ons in die steek laat.

Sulke aanvalle sal nie ophou, tot Christus terug kom nie. Natuurlik sal ons tye van genade ervaar, deur die ontferming van ons Heer. Maar die werklikheid is, ons is in ‘n oorlog. Ons moet dit nooit vergeet nie.

Die uitdrukking “alomteenwoordige hulp” beteken “altyd beskikbaar”, “altyd daar”, “altyd bereid om te help.” Kort gesê, die blywende teenwoordigheid van die Here is altyd in ons. As Hy altyd in ons is, wil Hy altyd met ons kommunikeer. Hy wil hê ons moet met Hom praat, maak nie saak waar ons is nie: by die werk, tussen ons familie, by ons vriende, selfs te midde van ongelowiges.

Ek weier om die Satan se leuen, wat onder so baie van God se kinders versprei word, te glo: naamlik dat God opgehou het om met sy kinders te praat. Die vyand wil hê ons moet glo dat God Satan toegelaat het om in mag en invloed te groei, en dat Hy nie sy eie kinders met groter outoriteit toegerus het nie. Nooit! Die Skrif sê: “Wanneer die teëstander aanstorm soos ‘n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop.” (Jesaja 59:19) Dit maak nie saak waarvan die duiwel ons beskuldig nie. God se krag, in sy kinders sal altyd groter wees as die Satan se aanval.

Hierdie vers verwys eintlik na die vlag-draer, wat voor Israel se leër uitbeweeg. Die Here lei altyd sy kinders, in ‘n geveg, vooruitgegaan deur sy magtige vaandel. So is dit ook vandag, God het ‘n deurlugtige hemelse leërskare, wat onder sy banier uitreik, om sy planne ten opsigte van ons uit te voer.

U mag vra, “Hoe bring God vir ons hulp in ons probleme?” Sy hulp bestaan uit die gawe van die Heilige Gees in ons, wat die Vader se wil in ons lewe ten uitvoer bring. Paulus sê vir ons keer-op-keer dat ons liggame die tempel van die Heilige Gees is. Ons is die Here se woning op aarde.

Natuurlik hoor ons hierdie woorde herhaaldelik in ons eredienste. Tog, neem baie van ons dit nie ernstig op nie. Ons begryp nie die krag wat in die waarheid skuil nie. As ons dit verstaan en glo, sal ons nooit weer bang of bekommerd wees nie.

Ek het dit nog nie ten volle my eie gemaak nie. Selfs na al my jare as prediker dink ek soms nog dat ek ‘n mate van emosie moet opwerk om van God te hoor. Nee, die Here sê: “Jy hoef nie vir ure op my te wag nie. Ek bly by jou. Ek is hier, nag en dag.

Luister na Dawid se getuienis: “Ek sal die Here loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie” (Psalm 16:7-8).

Dawid verklaar: “God is altyd voor my. Ek is vasbeslote om Hom in my gedagtes te hou. Hy lei my, dag en nag. Ek hoef nooit verbouereerd te raak nie.”

Ek hoor party Christene sê: “Die Here praat nooit met my nie. Ek hoor nooit sy stem nie.” Ek wonder hieroor. Hoe kan ons sê dat God se Gees in ons woon en werk, en tog praat Hy nie met ons nie? As ons sê dat ons werk en wandel in sy Gees – as Hy altyd by ons is, in ons harte, en ons lei – dan wil Hy ook met ons praat. Hy verlang daarna om ‘n gesprek met ons te voer, om van ons te hoor en met ons te praat.

Sommige gelowiges is bang om na innerlike stemme te luister. Hulle dink hulle sal mislei word deur hulle vlees of deur die vyand. Hulle het dit voorheen gedoen en hulle koppe gestamp. Dit is ‘n geldige gevaar vir elke dienskneg van Jesus. Die duiwel het self met Jesus gepraat. En hy praat selfs met die heiligste van God se kinders.

Dikwels word sulke versigtigheid ‘n verlammende vrees. Hierdie vrees weerhou baie van God se kinders om in die geloof uit te reik, en God se Gees te vertrou om hulle te lei. Die waarheid is dat hulle wat tyd in God se teenwoordigheid deurbring gewoonlik God se stem kan onderskei van alle ander stemme. Jesus sê van homself, “sy skape volg hom, omdat hulle sy stem ken … my skape hoor my stem … en hulle volg my” (Johannes 10:4, 27).

Hier is ons waarborg. Jesus, die Goeie Herder, sal nooit toelaat dat die Satan een van sy kinders, wat ten volle in die Here se leiding vertrou, mislei word nie. Hy beloof om duidelik te praat met almal wat daagliks met Hom kommunikeer. In teendeel, as ons nie in die geloof uittrek nie – as ons weier om in die Heer se leidende teenwoordigheid te vertrou – sal ons in misleiding val. Waarom? As ons nie daarop vertrou dat sy Gees met ons sal praat nie, sal ons slegs die stem van die vlees hoor.

As die Heilige Gees gepraat het, het hulle wat gehoor het, altyd geweet dat Hy gepraat het. Die Heilige Gees praat met duidelike, presiese, gedetaileerde instruksies.

Kyk na die Gees se instruksies aan die Romein – Cornelius: “Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen” (Hand. 10:5-6). Is dit nie gedetaileerde instruksies nie?

Terselfdertyd gee God net sulke presiese opdragte aan Petrus: “En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur” (Hand. 10:19-20).

So werk die Gees ook in Paulus se lewe. In Handelinge 9, terwyl hy nog Saulus was, was hy blind vir drie dae in Damaskus. God beveel ‘n man genaamd, Ananias, om na Paulus te gaan en vir hom te bid. Hier vind ons net sulke volledige opdragte: “Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananias sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien” (Hand. 9:11-12).

Ons sien dat die Heilige Gees net sulke instruksies gee in Handelinge 27. Paulus was op ‘n skip wat vir dae in die storm rondgegooi was. Juis toe die matrose wou opgee, bemoedig Paulus hulle met die boodskap – ryk in besonderhede:

“Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar” (Hand. 27:22-24). Dit gebeur presies soos Paulus voorspel.

Waar sê die Skrif dat die Heilige Gees nie langer gedetaileerde instruksies gee nie? Wanneer het die Gees opgehou om teenwoordig te wees in ons lewens? Wanneer het Hy ons verlaat? Die duiwel praat met sy eie kinders. Waarom sal die Here sy kinders in die steek laat?

Tog moet ons verstaan: die intieme wandel wat ons toelaat om God se stem te hoor, gebeur nie oornag nie. Die Gees moet ons leer om Hom te soek in ons daaglikse lewe. Slegs dan kan Hy ons lei. Die psalmis praat oor hierdie leerproses: “Wie is tog die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies” (Psalm 25:12).

As ons God in al ons weë soek, is Hy getrou en sal met ons praat. Sy Woord beloof: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:6). Dwarsdeur my vyftig jaar plus in die bediening, het ek hierdie vers dikwels aangehaal. Tog, onderhou ek dit nie altyd in geloof nie.

Dikwels het God met my gepraat en gesê: “Doen dit, David … Moenie dit doen nie…” ‘n Paar keer, het ek nie geluister nie en my eie kop gevolg. Elke keer het God toegelaat dat ek in ‘n penarie beland het, wat my duur te staan gekom het. Hy het gesê: “So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ‘n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:17-18).

My liefdevolle Vader red my elke keer van my mislukkings. Ek leer nog steeds. Ek wil hê sy bonatuurlike vrede moet soos ‘n rivier deur my siel vloei.

Israel het nooit geleer om God se altyd-teenwoordige hulp te vertrou nie. Die Here het hulle deur die woestyn gelei, met ‘n wolkkolom bedags en ‘n vuurkolom snags. Hierdie buitengewone tekens was ‘n voordurende herinnering aan God se konstante teenwoordigheid. Hy was aan hulle regterhand elke oomblik van die dag. Hy het hulle soos ‘n liefdevolle, besorgde herder gelei. As hulle Hom gehoorsaam, was hulle veilig en vreedsaam ongeag watter probleme voor hulle was.

Tog, ondanks God se liefdevolle leiding, “Omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie. En Hy het aan die wolke daarop bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak … So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking” (Psalm 78:22-23, 33). Kan u sien wat die psalmis sê? Hy verbind die buitengewone vuur-en wolkkolom met God se verlossing. Deur letterlik op daardie tekens te vertrou het, sou vir hulle redding gebring het. Maar omdat hulle nie op God se werk, ten opsigte van hulle, vertrou het nie, het hulle vir die res hulle lewe in verwarring rondgeswerf.

Nou wil ek teruggaan na waar ons begin het, na Psalm 46. Ek dink dit is ‘n beeld van die Nuwe Testamentiese “beloofde land”. Werklik Psalm 46 verteenwoordig die godgegewe rus waarvan Hebreërs praat. “Daar wag nog ‘n Sabbats rus vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Psalm 46 beskryf hierdie rus vir God se kinders. Dit praat van die altyd-teenwoordige krag, sy hulp in moeilike tye, sy vrede in tye van verwarring. God se teenwoordigheid is te alle tye met ons, en sy hulp is altyd betyds.

Tog het Israel hierdie rus verwerp: “Hulle het ‘n waardevolle land versmaai en die belofte van die Here nie geglo nie” (Psalm 106:4). Ongelukkig is vandag se kerk net soos Israel. Ondanks God se groot beloftes aan ons – sy versekering van vrede, hulp en volle verskaffing van voorraad – glo ons Hom nie ten volle nie. In plaas daarvan kla ons, “Waar is God in my beproewing? Is Hy by my of nie? Waarom laat Hy hierdie moeilikhede op my toesak?

Hoe reageer Hy teenoor ons ongeloof? Hy sê van Israel se murmurering, “Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar hulle het my weë nie leer ken nie…En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie (Hebreërs 3:10, 17-19). Op dieselfde manier word ons gewaarsku: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in die rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie … Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:1,11).

Vandag hoor ek dat die Here vir sy kerk vra, “Glo julle dat ek nog met my volk praat? Glo julle dat ek julle wil help en lei? Glo julle waarlik dat ek met julle daagliks, uurliks, van oomblik tot oomblik wil praat?” Ons reaksie moet soos die van Dawid wees. Daardie godvresende man se reaksie het die hel geskud toe hy gesê het: “want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar” (Psalm 33:9).

Hier is God se belofte vir elke geslag wat glo dat God met ons wil praat. “Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag” (Psalm 33:11). Die Skepper van die heelal wil sy gedagtes met ons deel!

Die Skrif maak dit duidelik: ons God het met sy mense in die verlede gepraat, en Hy praat nog met ons, en Hy sal met ons bly praat tot in Ewigheid. Om tot die punt te kom, God wil met jou praat, oor jou probleem. Hy mag dit deur sy Woord doen, of deur ‘n godvresende vriend, of fluister deur die Gees se stil, klein stemmetjie: “Dit is die weg, wandel daarin.”

Afgesien van watter metode Hy gebruik, jy sal sy stem herken. Die skape ken die stem van die Herder. En Hy is getrou om “(te bewaar) die siele van sy troue dienaars; Hy red hulle uit die greep van die goddelose.”