God Verbind tot Sy Eie Woord

‘n Waarheid wat jou gebedslewe kan verander vir altyd
David Wilkerson

Die Here heers oor die hele skepping met majesteit en mag. Sy wette beheer die hele heelal – die hele natuur, elke nasie en al die sake van die mens. Hy heers oor die seë, die planete, die hemelse liggame en al hul bewegings. Die Bybel sê vir ons:

“Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies” (Psalm 66:7). “Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed. Die HERE is bekleed, Hy het Hom met sterkte gegrond...Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U. U getuienisse is baie betroubaar” (Psalm 93:1-2,5).

Hierdie Psalms was deur Dawid geskryf en getuig in wese: “Here, u getuienisse – u wette, insettinge en woorde – is onherroeplik. Dit is uiters betroubaar.” Die outeur van Hebreërs herhaal dit en verklaar dat God se Lewende Woord ewig en onveranderlik is: “gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).

Dink daaraan: daar is wette wat sonder uitsondering in die heelal opereer en beheer hoe dinge werk. Beskou die wette wat die bewegings van die son, maan, sterre en aarde beheer. Hierdie hemelse liggame was almal in plek gestel toe God ‘n woord gespreek het en sedert daardie tyd, word hulle beheer deur wette wat God ook in wording gespreek het.

Dwarsdeur die Nuwe Testament word vertel dat hierdie groot God ons Vader is en dat Hy medelye het met sy kinders. Hebreërs sê vir ons die Here word aangeraak deur ons gevoelens van swakheid en dat Hy elke roepstem hoor en al ons trane in bottels opvang. Ons word ook vertel dat Hy die regverdige Koning is wat oordeel deur sy wet. En hierdie Woord is sy grondwet en bevat al sy wetlike insettinge waardeur Hy regverdig heers. Alles wat bestaan word geoordeel deur sy onveranderlike Woord.

Eenvoudig gestel, ons kan die Bybel in ons hande hou en weet, “Hierdie boek vertel vir my wie God is. Dit beskryf sy eienskappe, natuur, beloftes en oordele. Dit is sy oppergesag van die reg, uit sy eie mond, waardeur Hy heers en regeer. En dit is ‘n Woord waaraan Hy Homself verbind.”

God heers nie deur jammerte of gevoelens nie, net soos enige aardse regter ook nie oor sake beslis met menslike simpatie nie.

Elke aardse regter lê ‘n eed af om ‘n saak voor hom te beslis volgens die gevestigde reg. Hy mag nie op sy eie gevoelens of oordeel vertrou nie, maar moet beslissings lewer volgens die riglyne van die grondwet van die land.

Net so, heers en rig God alles voor Hom volgens die ewige wet – dit is sy eie gevestigde Woord. Wanneer die Here ‘n beslissing maak, praat Hy deur sy lewende Woord, ‘n Woord waaraan Hy Homself verbind het.

Ons weet dat ons Vader ook Koning en Regter is en ons onbeperkte toegang tot sy hof gegee het. En Hy het ons genooi om tot Hom te nader, wat ons moet doen deur gebed. Daar is baie definisies van gebed en baie boeke en instruksies oor hoe om te bid, maar in die eenvoudigste terme beteken gebed om binne-in God te teenwoordigheid te kom waar Hy is.

Kortliks, dit is deur gebed dat ons na God se troon gaan waar Hy sit. En daar, in sy teenwoordigheid, moet ons ons versoeke aan Hom bekend maak. Paulus moedig ons aan, “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles, deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6).

Ek hoor dikwels Christene sê, “Ek vra regtig nie baie vir God nie. Ek bid net vir sy wil in my lewe, vir sy plan om op die aarde vervul te word. Ek vra Hom nie vir wat Hy vir my kan gee nie. Ek soek Hom net vir Homself, nie vir sy gawes nie.”

Ek het met tye dieselfde dinge gesê, omdat ek gedink het so ‘n gesindheid is heilig, maar in der waarheid is dit nie. Dink daaraan: die alwetende, almagtige God van die skepping het vir ons sy persoonlike uitnodiging gee om “met vrymoedigheid voor sy troon te kom.” En wanneer ons daar is, nooi Hy ons om van Hom te vra, om versoeke tot Hom te rig en ons behoeftes voor Hom bekend te maak. Beskou die volgende verse:

“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). “In wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efésiërs 3:12). Hierdie verse spreek dat ons met vrymoedigheid na God moet kom met ons dringende behoeftes en dit behaag Hom.

Moenie ‘n fout maak nie: Ek geniet my gebedswandelinge met die Here, wanneer ek Hom bloot aanbid. Dit is stiltetye waar ek alleen saam met Hom kan wees en die Heilige Gees sug en steun in my. Op sulke tye, kan ek met die Vader kommunikeer uit my diepste wese.

Daar kom egter ‘n tyd wanneer die toestand van ons lewens so kritiek word, dat ‘n ander soort gebed nodig is. As situasies ons oorweldig – wanneer dit lyk of ons behoeftes onmoontlik is om te vervul, wanneer mismoedigheid ons neerslagtig maak, wanneer siekte, finansiële probleme, vrese of familie probleme ons oorlaai – dan moet ons met vrymoedigheid na die Vader kom.

In sulke tye, sal ons behoeftes nie aangespreek word deur anemiese, halfhartige gebede wat moed verloor na ‘n dag of twee nie. Gedurende hierdie tye, vermaan die ware, onveranderlike Woord van God ons, “Kom na die Vader se troon en doen dit met vrymoedigheid. Die deur staan vir jou oop. Kom met die vertroue dat Hy sy Woord gestand sal doen.”

Die onderwerp van vrymoedigheid in gebed is ‘n beslissende onderwerp.

As God vir ons sê om met vrymoedigheid na sy troon te kom, met vertroue, dit is nie ‘n voorstel nie. Dit is sy voorkeur en dit moet gehoorsaam word. So, waar ontvang ons hierdie vrymoedigheid, hierdie toegang-met-vertroue, vir gebed?

“Die [kragdadige] vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). Die woord “kragdadig” hier kom van ‘n Griekse stamwoord wat “’n vasgestelde posisie” beteken. Dit dui op ‘n onbeweeglike, onwrikbare ingesteldheid. Net so spreek “vurige” van ‘n vrymoedigheid gebou op absolute, vaste bewyse wat jou versoek ondersteun. Saam beteken hierdie twee woorde “kragdadige vurigheid” – om in God se hof in te kom ten volle oortuig dat jy ‘n goed voorbereide saak het. Dit strek verder as emosies, luiddrugtigheid en opgepompte entoesiasme.

Sulke gebede kan slegs kom van ‘n dienaar wat God se Woord ondersoek en ten volle oortuig is dat die Here daartoe verbind is om dit te eerbiedig. Dit is inderdaad belangrik dat nie een van ons in God se teenwoordigheid ingaan sonder om sy Woord saam met ons te bring nie. Die Here wil hê ons moet sy beloftes bring om Hom daaraan te herinner, Hom daartoe te verbind – en daarop te staan.

Ons sien dit gedemonstreer in Handelinge 10, toe ‘n visioen aan Petrus gegee is. God het vir die dissipel gesê. “’n Paar mans kom na jou deur toe en hulle sal jou vra om saam met hulle te gaan. Ek het hierdie mans gestuur, Petrus, so ek wil hê dat jy saam met hulle moet gaan en nie twyfel nie.”

Wat sê hierdie gedeelte vir ons? Dit sê dat as God verklaar het dat iets waar is, moet ons dit glo en daarop staan, sonder om ons vlees te raadpleeg. Ons kan eenvoudig nie die betroubaarheid van God se Woord meet deur ons eie situasie of ons waardigheid te ondersoek nie. As ons dit doen, sal ons op die ou end net sien dat ons onwaardig is. En ons sal onsself daar uitpraat om aanspraak te maak op sy Woord en dit toe te eien.

Verder, is hulp aan ons gegee om God se troon van genade te nader. Die Bybel sê ons is bidders voor sy troon en dat Christus daar is as ons middelaar of advokaat. Deur sy gestorte bloed aan die Kruis, het Jesus die deur na die Vader se troon vir ons oopgemaak. Dit is deur Hom dat ons toegang het om persoonlik ons versoeke na God te bring.

Ons het ook die Heilige Gees wat langs ons staan in die Vader se hof. Die Gees is ons “parakletos,” die Een wat dien as ons raadgewer. Hy staan by ons om ons te herinner aan die ewige insettinge en goddelike grondwet wat God se Woord uitmaak.

En so het ons hierdie ontsaglike beloftes – van ‘n Advokaat en ‘n Raadgewer, wat langs ons staan – om vir ons vrymoedigheid en versekering te gee om voor God te troon te staan.

Vrymoedigheid in gebed kom van ‘n kennis van iets genaamd “bindende presedent.”

As jy hierdie waarheid kan begryp, sal dit die manier waarop jy bid vir altyd verander.

‘n Presedent is ‘n “vorige saak” wat dien as ‘n voorbeeld vir daaropvolgende sake. En ‘n “bindende presedent” is ‘n wettige besluit wat in die verlede gemaak is en ‘n gesaghebbende beslissing word vir soortgelyke sake in die toekoms. Vir regters beteken dit dat hulle moet bly by ‘n besluit wat reeds gemaak is.

Goeie prokureurs vertrou dikwels op “bindende presedent” vir hulle sake, omdat hulle weet dat ‘n presedent in die hof gehandhaaf sal word. Daarom deursoek hulle hul wetboeke om gunstige sake van die verlede te vind waarmee hulle hul argumente kan versterk in die hof. Hulle vra ook die raad van bekwame wetlike raadgewers, wat presedent beslissings kan aantoon en van toepassing is op hulle eie sake.

Dwarsdeur die Bybel, kry ons heilige mans en vroue wat hierdie soort “bindende presedent” nagevors het. Hulle kom in die Here se teenwoordigheid in om ‘n versoek te rig en hulle verbind Hom tot sy Woord. Hierdie vrymoedige heiliges daag nie net onvoorbereid op nie; hulle kom en dra so te sê ‘n “geestelike briewetas” vol presedente van hoe God sy mense se gebede beantwoord het in die verlede. Hulle herinner Hom aan al die beloftes wat Hy gemaak het en verwys na saak op saak waar Hy sy Woord vervul het vir diegene wat in soortgelyke nood was.

Ek vra jou: hoe verkry iemand die vrymoedigheid om met vertroue God se teenwoordigheid binne te gaan en so ‘n versoek te maak? Hy doen dit deur voor te berei, deur na God se Woord te gaan om presedent sake te kry. So ‘n dienaar gaan nie God se hof ongeërg binne nie, maar met ‘n waterdigte geskiedenis van voorbeeld op voorbeeld waarin die Here Homself tot sy Woord verbind het.

Laat my jou nou vra: wie ken God se insettinge en onveranderlike wette beter as die Heilige Gees? Dit is die Gees wat elkeen van ons na God se Woord neem, vir ons die Here se optredes in die geskiedenis wys en ons voorberei met die geskiedenis van sake wat ons vrymoedigheid opbou. Dit is inderdaad hoe ons vrymoedigheid vir gebed verkry: deur God se beloftes en vorige barmhartighede te ken, daarop te staan en daarop aanspraak te maak in ons huidige saak.

1. Beskou Moses se voorbeeld.

Ek neem jou na Exodus 32, waar God vir Moses gesê het dat Hy Israel sou verteer vir hulle skaamtelose aanbidding van die goue kalf. Moses het gereageer deur dadelik te vas, op sy aangesig neer te val en sy saak te bepleit. Maar daar was meer om te doen. Hy wou God verbind tot die beloftes wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het.

Moses het gestaan op beloftes wat God jare tevore gemaak het – verbondsbeloftes, onbreekbare beloftes om te seën, beskerm en Israel se gebede te beantwoord, “vir jou, jou kinders en jou kindskinders.” Moses het Hom nou daaraan herinner. “Wag ‘n bietjie, Here, U het ‘n belofte aan Israel gemaak. U het gesê hierdie mense is u saad en dat u saad vir ewig sou wees. As U Israel verteer, sal U teen u eie Woord gaan.”

God het Moses geantwoord, “Laat My met rus. Ek sal ‘n nuwe geslag vir jou oprig.” Maar Moses het aan God se presedent beloftes vasgehou: “Nee, Here, dit is u eie Woord, wat U aan u kinders bekend gemaak het. Dit is wat U beloof het.” Op daardie punt, “het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen” (Exodus 32:14). Moses het stewig gestaan op “bindende presedent” en God het dit gestand gedoen.

2. Beskou die voorbeeld van Koning Jósafat.

Toe Jósafat oor Juda geheers het, het hy ‘n inval deur ‘n massiewe leër in die gesig gestaar. Die nasie het hulpeloos gebewe voor hierdie sterk mag. Daarom het Josafat “sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ’n vasdag uitgeroep” (2 Kronieke 20:3). Die mense het gebid, gevas, voorbidding gedoen en hulle bekeer – daar was egter meer om te doen. Die Koning het onthou van God se “presedent barmhartighede” en hy het dit voor die Here gebring:

“HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie, en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie.” (2 Kronieke 20:6). Jósafat het God verbind tot sy vorige barmhartighede: Het U, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?” (2 Kronieke 20:7).

Jósafat het God nou herinner, “Here, ons is daardie saad! U het vir u mense ‘n ewige woord gegee en ek bring dit nou voor U. Die beloftes wat U aan Abraham en ons vaders gemaak het, is steeds bindend vir U om te vervul vir ons, die beloofde saad. Natuurlik het God Jósafat geantwoord en Juda se vyande is verslaan. God was verbind tot sy eie Woord.

3. Beskou Koning Dawid se voorbeeld.

Dawid sou ‘n bekwame prokureur gewees het in enige gelowige se hof. Hy het gereeld voor God se troon gekom met petisies en die Here aan sy Woord verbind met presedent sake van die barmhartigheid wat Hy betoon het. Dawid skryf byvoorbeeld:

“o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd. U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant” (Psalm 44:2-3). Dawid het geredeneer, “Daardie vorige verlossings was nie bereik deur Israel se krag nie. U het dit laat gebeur, Here, deur die krag van u hand. Dit was deur u Woord bereik, omdat U u mense guns gegee het.”

Die rekord het duidelik gewys wat God vir sy mense in soortgelyke gevalle gedoen het, in hulle tyd van ontsettende nood. Daarom het Dawid sy petisie met vertroue gedoen, gebaseer op sy kennis van hierdie vorige barmhartighede. Hy het vrymoedigheid gesê, “Here, dit is hoe U daardie tyd oor hulle geheers het. Nou vra ek U om weer u verlossing vir ons te beveel. Doen dit vandag vir ons, God! Dit is tyd vir u mense om oorwinning oor hulle vyande te hê.”

Psalm 74 som elkeen van hierdie voorbeelde op: “Aanskou die verbond...verdedig u saak...vergeet nie die geroep” (Psalm 74:20-23).

Nehemia 9 bevat een van die duidelikste voorbeelde van om “presedente van barmhartighede” na God se troon te bring.

As ons die voorbeeld in Nehemia 9 lees, is dit asof ons die bladsye van God se Wetboek oopmaak en lees, “Die Saak van Nehemia en die Oudstes van Israel.” Ons word selfs die datum gegee – die vier-en-twintigste dag van die maand Tisri – en volgens die geskiedenis, het dit plaasgevind om en by 445 V.C.

Die toneel begin waar Israel bymekaargekom het om te vas, te bid en hulle sondes te bely. Die nasie was diep in die moeilikheid en hulle het God se barmhartigheid, genade, beskerming en vergifnis baie nodig gehad. Daarom het die priesterlike Leviete die mense in gebed gelei, “en met ‘n groot stem die HERE hulle God aangeroep” (Nehemia 9:4). Dit was geen ongeërgde byeenkoms met doellose, ongefokusde gebed nie. Hierdie goddelike, berouvolle Leviete het gevas en gebid vir meer as ‘n dag lank. Maar weereens was daar meer om te doen as om te vas en bid. Hulle moes God tot sy Woord verbind en sy vorige handelinge met Israel in herinnering bring. Hulle het hulle presedent saak as volg bepleit:

“Here, U het ons vaders se geroep in Egipte verhoor. U het die Rooisee vir hulle oopgemaak en hulle veilig deurgelei. Toe het U hulle wonderbaarlik deur die woestyn gelei met ‘n wolk in die dag en ‘n kolom van vuur in die nag. U het hulle met brood uit die hemel gevoed en vir hulle water uit ‘n rots gegee. U het inderdaad groot genade aan ons vaders bewys. Maar hulle het trots gereageer en hulself verhard en was aan u Woord ongehoorsaam. U is egter ‘n God wat gereed is om te vergewe, genadig en barmhartig, stadig om kwaad te word en van groot goedertierenheid en U het hulle nie verlaat nie” (sien Nehemia 9:9-17).

Die Leviete het toe ‘n lang litanie begin oor Israel se sondigheid en die barmhartighede wat God aan hulle bewys het in elke geval:

“Ons vaders het ‘n goue kalf gemaak en dit aanbid. In u menigvuldige barmhartighede het U hulle egter nie verlaat nie. In plaas daarvan, het U hulle vergewe en u Gees gestuur om hulle te lei. U het hulle onderhou en hulle het geëet, het versadig en vet geword. Maar weereens het hulle afvallig geword. Hulle het die profete, wat U gestuur het om die mense terug te bring na U toe, doodgemaak. Uiteindelik moes U hulle in die hande van hulle vyande oorgee, waar hulle ‘n geteisterde volk geword het.

“Weereens het hulle om genade gepleit. En volgens U menigvuldige barmhartighede het U hulle verlos en weereens gered. Maar nadat U vir hulle rus gegee het, het hulle weer kwaad gedoen. Weer het hulle gely en na U uitgeroep – en weer het U hulle roepstem gehoor. Keer op keer het U hulle verlos volgens u barmhartighede. Ten spyte van hulle mislukkings, al hulle aanhoudende afvallighede, het U elke roepstem van hulle hart gehoor. En U het nooit U barmhartighede en genade van hulle weerhou nie.”

Toe die Leviete klaargemaak het met hierdie lang lys van “presedent dade” deur God, het hulle met vrymoedigheid gebid: “Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie...want U is ‘n genadige en barmhartige God” (Nehemia 9:32,31). Die Leviete het God tot sy Woord verbind. Hulle het met vrymoedigheid Hom om genade gevra, omdat hulle ‘n historiese kennis gehad het van sy vergewende, teer barmhartighede: “hulle na u barmhartigheid baiekeer gered” (Nehemia 9:28).

Hierdie voorbeelde sou enige neerslagtige gelowige, wat dink hy is te ver heen om God se genade te beleef, bemoedig.

‘n Pastoor het onlangs teenoor my bely, “Broer David, ek het diep in sonde verval. Ek sien nie hoe ek kan terugkeer nie. Ek het teen so ‘n groot lig gesondig. Hoe kan God my ooit genadig wees?”

Die Bybel sê vir ons dat die Here geen aannemer van die persoon is nie. En omdat Hy nie voortrekkery toon nie – omdat sy beloftes nooit verander nie, van geslag tot geslag – kan ons vir Hom vra om dieselfde genade aan ons te bewys wat hy aan sy mense bewys het dwarsdeur die geskiedenis. ‘n Goeie presedent saak was God se genade oor Koning Manasse, wat erger gesondig het as elke koning voor hom, maar hom egter bekeer het en herstel was.

Die Here se barmhartighede misluk nooit en sy presedent voorbeelde van vorige barmhartighede moet vir elkeen van ons met die vrymoedige versekering voorsien om ons eie versoeke na Hom te bring. So, geliefde: wanneer jy vrees jy het te dikwels teen die Here se barmhartigheid gesondig...wanneer jy dink jy het te ver gegaan en dat God moed verloor het met jou...as jy moedeloos is oor jou mislukkings en neerslagtig is oor jou onchristelike optrede...wanneer jy wonder of God jou op die rak gesit het, of sy liefde van jou weerhou weens vorige sondes – as jy werklik ‘n berouvolle hart het, hou dan vas aan hierdie waarheid: GOD VERANDER NIE.

Bind God aan sy Woord. Skryf elke herinnering neer wat jy het oor wat Hy vir jou in die afgelope jare gedoen het. Gaan dan na die Skrif en kry ander gevalle van sy “barmhartige presedente” met sy mense. Bring hierdie lyste voor die Here en herinner Hom: “God, U kan nie U eie Woord ontken nie. U is dieselfde gister, vandag en vir ewig.”

Ek dring by jou aan, moenie nalaat om dit te doen nie. Dikwels jaag ons in God se teenwoordigheid in en bring ons versoeke met passie en ywer. Maar ons kwyn in ons tyd van gebed, omdat ons nie voorbereid na sy troon kom nie. Ons moet ‘n stewige posisie hê wanneer ons na God kom. Ware vrymoedigheid begin nie met emosies nie; dit begin wanneer ons ten volle oortuig is. En so moet ons voor die tyd ‘n saak bou nie net om voor God te bring nie, maar om ons eie geloof te versterk.

Vandag het ons iets wat die Ou Testament heiliges net kon droom van. En dit is God se eie Seun wat sit aan die regterhand van ons Vader-Regter. Ons ken die Seun, omdat Hy ons bloedverbond broer is, deur aanneming. En ons is in staat om ons bloedband met Hom op te eis wanneer ons voor die Regter staan en Hom bind aan sy eie argumente:

“Vader, ek het niks om na U te bring, behalwe u eie Woord nie. U het beveel van die grondlegging van die wêreld af dat u Seun, Jesus, sou sterf. En U het beloof dat deur sy bloed ek gereinig is en deur sy wonde, ek genees sou word.

“U het ook beloof dat ek volmaak in Christus wou wees. U sê U sou my van struikeling bewaar en dat Jesus my middelaar sou wees. U het beloof dat deur geloof in Hom, ek ten volle aanvaar en aangeneem sou word.

“Dan het U beloof U sou u ore oopmaak vir my gebede. U het beloof om in al my behoeftes te voorsien. En U het vir my gesê om te glo in u profete wat u beloftes om my genadig te wees en altyd gereed te wees om my te vergewe in die Skrif opgeteken het.

“U het beloof U sou nie toelaat dat ek meer sou dra as wat ek kan verdra nie. En U het vir my gesê, ‘Alle dinge werk ten goede mee vir hulle wat My liefhet en deur My geroep is.’

“Vader, hierdie dinge is alles U insettinge. Dit is U eie beloftes. En U kan nie U eie woorde ontken nie. U is die God van Abraham, Isak, Jakob en U is ook my God. O, Here, wees my barmhartig en genadig in my uur van nood. Amen!”