God Van Ons Monsters

Enige bespreking oor lyding en swaarkry moet begin met die mees beproefde, ongelukkigste, wanhopigste gelowige van alle tye. Die man van wie ek praat, was 'n regverdige gelowige en godliewende dienaar van God, wat homself toegewy het aan gebed en aanbidding. Tog, toe moeilikheid en verdriet sy lewe oorheers het, het hierdie selfde man soos 'n ateïs begin klink.

Op die laagste punt van sy lyding het hy die volgende gesê: "As ek na Hom sou roep en Hy my sou antwoord, sou ek nie kon glo dat Hy my gehoor het nie, want dit is Hy wat my met 'n stormwind pynig, wat my baie wonde slaan sonder dat ek dit verdien."

Die man wat ek hier beskryf is natuurlik Job, sien (Job.9:16-17 *NAV). Hier was 'n man wat alles verloor het, sy familie, sy gesondheid, sy welwillendheid, sy besittings en sy hoop. Hierdie stelling wat Job maak omtrent God is maar net een van die baie wanhopige aanmerkings soos wat sy vreeslike lyding vermeerder het.

Om dinge nog ondraagliker vir Job te maak, het al die rampe skielik oor hom gekom, alles in een dag. Job het verklaar: "Hy .wat my nie 'n kans gun om asem te skep nie, maar my deurdrenk met bitter lyding" (Job.9:18). Ook in sy diepste uur van wanhoop het Job ook gesê: "As 'n vloedramp skielik die dood bring, lag God oor die wanhoop van die onskuldiges" (Job 9:23). Met ander woorde, Job sê, "dit betaal nie om heilig te wees of opreg te wandel nie. God behandel die goddelose en die reines dieselfde. Almal ly, so waarom dan sukkel om opreg te wandel?

Ek het God liefgehad met my hele hart. Ek was 'n man wat baie gebid het, regverdig en eerlik. Ek was vriendelik en meelewend, het omgegee vir die armes en het die naaktes geklee. Ek was 'n toegewyde, boetvaardige gelowige. Ek het my kinders met die grootste ontsag vir God grootgemaak. Maar kyk wat het met my gebeur! My lewe is nou niks anders as vol verdriet, moeite en ontberings nie.

Niemand gee regtig vir my om nie en niemand kan my raad en vertroosting gee nie. Ek het nie 'n tussenganger aan my kant nie. O, laat die Here tog asseblief hierdie juk van my rug afhaal. Laat hy ophou om my te verskrik. Al hierdie rampe oorweldig my. As God in enige van hierdie dinge werksaam is, sien ek dit nie raak nie. My lewe is 'n grap, en God spot met my in al my verdriet!

Wat ek nou gaan sê, mag u dalk verbaas. Dit is eenvoudig dit: Job se voorbeeld moet 'n groot troos vir ons almal wees. U sien, ek glo dat Job die laaste dae se gelowiges verteenwoordig wat wrede vervolgings in die dae wat voorlê, sal ondervind. Inderdaad sal miljoene, Godvresende Christene dieselfde vure ondervind wat Job ondervind het. Ons het dus hierdie lydende man se voorbeeld nodig om hoop vir onsself te vind.

Ek glo ons land is baie vinnig op pad na 'n periode van rampe en ellende ver bo ons begrip - 'n tyd soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Op hierdie oomblik, is ellende op ellende besig om op te hoop in die lewens van baie wonderlike, toegewyde Christene. Sommige het hulle werk verloor in die huidige ekonomiese afplatting. Ander weer is al weke en maande sonder werk. Net soos Job, is baie van hierdie toegewyde gelowiges kaal gestroop, en niks wat hulle in die afgelope jare ondervind het, het hulle vir sulke ontberings voorberei nie.

Daarmee saam word hordes Christelike huwelike getoets. Families is onder ongelooflike druk en ondervind allerhande soorte hartseer. Jong mense is besig om verlore te gaan in die kranksinnigheid van die oomblik. Bo-op al hierdie huishoudelike probleme is ons nasionale en persoonlike welvaart besig om te verdwyn. Ook ons gesondheid kwyn soos wat nuwe siektes en plae jong en ou mense teister.

Raak ons bewus van al die ellende wat rondom ons ophoop, dan is dit asof ons vanaf 'n ashoop van moedeloosheid afkyk. Om in die toekoms in te kyk, kan 'n vreesaanjaende vooruitsig wees. Al wat ons sal sien is meer onsekerheid, vrees en krisisse. Net soos Job sal ons harte ook uitroep: Wat gaan ons doen? Hoekom gebeur hierdie dinge met die gelowige dienaars van God? Waarom gryp God dan nie in en stop dit nie?

Helaas, wat ons sien gebeur met ons geslag is presies wat met Job gebeur het, en ons kan baie leer deur sy storie te bestudeer!

In die dae vorentoe, kan ons nie ons hoop daarin stel om veilig binne 'n sagte kokon van gemak te bly nie. Dit is maar net 'n lugkasteel. Dit gaan eenvoudig nie vir enigeen gebeur nie. Soos alle ander mense sal Christene ellende aan alle kante sien. Tog kan ons verseker wees hiervan: ons Hemelse Vader sal ons deur al ons beproewings getrou deurdra, net soos Hy met Job gedoen het.

Ek hoor hierdie waarheid vanaf preekstoele dwarsoor Amerika. Dit word verkondig deur predikante wat deur God opgelei is as profetiese stemme in hierdie laaste dae. Hierdie getroue en gelowige herders is vasbeslote om God se mense gereed te maak vir dit wat gaan kom. Nou, soos wat honderde sulke pastore bymekaar kom om in verskillende stede te bid, hoor hulle soortgelyke verslae van mekaar: "Nooit tevore was so baie van my skape so hard getoets nie. Iets is losgelaat in die land gedurende die laaste paar maande. Baie van die gelowige mans en vrouens wat ek ken, het veral onder 'n vloed van rampe, smarte, lyding en verdriet gekom.

Hierdie vloed van rampe het 'n persoonlike wese agter hulle: Satan. Die feit van die saak is dat die duiwel Job se moeilikheidmaker was, en hy maak vandag nog steeds moeilikheid vir al God se mense. Weereens staan die vyand voor God en maak groot aantygings teen die kerk. Hy daag God uit deur te sê: "U het geen ware liggaam in hierdie laaste uur nie. U sal nie die rein bruid, waaroor U Woord profeteer, hê nie. Kyk goed na U mense, God. Hulle is nie wyse maagde nie. Meeste van hulle is vas aan die slaap. Hulle is materialisties, selfsugtig, en jaag na rykdom en die goeie lewe. Hulle steur hulle nie aan die geestelike dinge nie. Hulle is meer besorg daaroor om die lewe vir hulleself beter te maak."

"Luister net wat hulle leiers hulle leer. Hulle vertel die mense dat hulle nie nodig het om te ly nie. Hulle sê elke materiële ding is hulle s'n, gereed om op te eis. Ek daag U nou, God: neem die muur van beskerming wat rondom u mense is, weg. Laat my net 'n kort rukkie met hulle alleen. Ek sal al u vetgevoerde volgelinge toets."

"U weet goed genoeg dat hierdie geslag meer gepamperlang is as enigiemand anders. As U my net toelaat om hulle te sif, sal U self sien dat U nie eens 'n oorblyfsel oor het nie. Ek sal hulle verslaan met vurige pyle van verleiding, armoede oor hulle bring, 'n gees van wanhoop oor hulle uitgiet. Dan sal U sien hoe val al U volgelinge. Ek verseker U, God, hulle sal almal verkrummel en moed opgee binne die eerste uur. Daar is nie een soos Job oor in U liggaam op aarde nie. Hulle is almal geestelike papbroeke."

Die apostel Johannes skryf profeties: "Daarom, hemel en die wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het" (Openbaring 12:12). Vandag, soos wat die duiwel onbeskryflike kwellinge oor die mensdom bring, roep baie mense uit as gevolg van hulle uiterste verwarring, net soos Job gedoen het.

Natuurlik weet ons, as God se kinders, dat Satan ons nie kan aanraak nie. Dit kan alleenlik gebeur as God besluit om Sy muur van beskerming af te breek en die duiwel toelaat om ons te beproef. Dit is my opinie dat dit presies nou besig is om te gebeur, dwarsdeur die kerk van Christus. Die Bybel waarsku ons duidelik in hierdie laaste dae dat God sy kinders deur 'n reinigende vuur sal laat gaan. Nou, terwyl ons ellende op ellende in die gesig staar, kan ek nie genoeg beklemtoon nie dat ons tydens elke beproewing ons vertroue in God moet stel.

Natuurlik was dit nie die raad wat Job gehoor het nie. Toe hierdie lydende man op sy laagste punt was, was hy omring met kritici, wat as raadgewers opgetree het. Hierdie sogenaamde vriende het Job net verder ontmoedig. Hulle het hom aangekla dat hy sonde in sy lewe wegsteek en het hom gesmeek om dit te bely. God het egter aan Job geopenbaar dat hierdie mense se aantygings net was omdat hulle nie van beter geweet het nie.

Nou wil ek dadelik 'n waarskuwing rig aan elke Christen wat nie self ly nie, maar wat 'n broer of suster ken wat wel ly. Miskien het u 'n gelowige vriend wat werkloos is, met geen werk in sig nie. Of, miskien het 'n groot ramp 'n vriend se huis getref. Of, miskien word u vriend oorlaai met probleem op probleem, met geen einde in sig nie!

My waarskuwing aan u is dit: Dit is 'n wrede ding om 'n wanvoorstelling van God te bring aan diegene wat ly. Daarom, as u iemand sien wat ontmoedig is deur sy/haar swaarkry, moenie hulle veroordeel nie. Net God alleen kan in daardie persoon se hart sien of hy/sy sonde huisves.

So, wees versigtig om nie nog ellende by u broer se swaarkry te voeg nie. Plaas liewer u arms om hom en bemoedig hom. Laat hom weet dat u vir hom omgee met Jesus se liefde. As u vriend huil, huil saam met hom. As hy rou, rou saam met hom. Dit is ware goddelike raad en vertroosting omdat dit direk van God se woord kom. Bid ook dat God aan u sy eie liefdevolle hart gee vir mense wat ly. Per slot van rekening kan u miskien die volgende een wees wat die vuur van swaarkry en lyding moet trotseer.

Miskien beleef u nou 'n folterende beproewing. Tog weet u die rede daar agter is nie omdat God besig is om met die sonde in u lewe af te reken nie. Nou wonder u waarom God dan toelaat dat u sulke vreeslike pyn moet verduur?

Dit kan wees omdat die smeltkroes van u beproewing bedoel is om aan u 'n openbaring te bring wat u lewe sal verander. Dit is presies wat met Job gebeur het. Te midde van Job se swaarkry het hy 'n wonderlike ontdekking gedoen: ten spyte van al sy kennis van God, het hy God nie regtig geken nie. Hy het bely, "Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou in sak en as" (Job 42:5-6).

Teen die tyd dat Job sy beproewings ondergaan het, was hy ongeveer sewentig jaar oud. En hy het sy lewe lank geweet van God. Op een stadium het Job 'n altaar vir God opgerig, waar hy baie kosbare ure spandeer het om God te aanbid en te prys! Vir jare het God hom onderrig in al sy weë en verborgenhede. Job het geleer van God se vertroosting, sy heiligheid en karakter, ook sy natuur en sy toorn! Ook het hy geleer van God se majesteit, sy krag en wysheid.

Maar toe Job se ondenkbare krisis opduik, was hy glad nie in staat om God raak te sien nie. In plaas daarvan het God vir hom niks anders as 'n vae teologiese term geword. Die God wat so 'n groot deel van sy elke dag se bestaan was, blyk nou so afwesig te wees van alles waardeur Job gegaan het. Skielik het God gelyk asof Hy net 'n reeks preke, 'n dooie woord, 'n kennis sonder enige krag van lewe daar agter was!

Ek glo dit is wat God al die tyd in Job se lewe wou blootlê. U sien, ons liefdevolle Vader wil hê dat sy kinders Hom beter moet leer ken as net deur aanbiddingsdienste, Bybelstudie of gebedstyd. Hy wil hê dat ons Hom intiem moet ken in elke aspek van ons lewens. En dit sluit ons diepste beproewings en swaarkry in. Ons God verlang dat Hy vir ons meer moet wees as net 'n God van een of ander dooie letter teologie, veral in ons tyd van lyding. Hy wil hê ons moet weet Hy is 'n Vader wat alles weet, wat altyd naby ons is, wat alles in beheer het, wat alles in die holte van sy hand hou.

Tog is dit jammer dat baie Christene hulle huise van geloof op die sand van gemak en seën gebou het. Tragies egter, wanneer die storms van beproewing en swaarkry aankom, sal hierdie gelowiges totaal weggewaai word!

Ek sien alreeds gelowige mans en vrouens wat weggewaai word deur al die rampe wat skielik op hulle afkom. Hulle het nooit geleer wat die rol van lyding in die lewe van elke volgeling van Jesus speel nie. In plaas daarvan, is hulle geleer dat omdat hulle in God glo, hulle verseker kan wees van 'n voorspoedige, lydinglose bestaan. Hulle dink hulle elke gebed moet dadelik beantwoord word sonder enige beproewing hoegenaamd!

Tog sê die Bybel nooit dat God ons sal vrywaar van beproewings nie. Dit sê eerder Hy sal ons daaruit verlos. Dit is dan ook presies wat God vir Job gedoen het. Skielik het 'n stormwind voor Job verskyn wat sy beproewing en pyn verteenwoordig het. Te midde van hierdie bo-natuurlike stormwind, het God aan Job geopenbaar hoe hy bokant sy probleme kan uitstyg.

Hoe het God dit gedoen? Hy het sy dienaar in die gesigte van twee ontsaglike monsters laat kyk: die magtige seekoei en die slang-agtige krokodil. God het aan Job gesê, "Kyk daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou." (Job 40:10) "Kan jy die krokodil met 'n hoek uittrek of hom 'n tou in die bek sit?" (40:20).

Eerstens het God hierdie probleem aan Job gestel: "Kyk Job, hier kom die seekoei agter jou aan. Wat gaan jy doen? Kan jy teen hom stoei met jou fisiese krag? Nee? Miskien kan jy hom met mooipraatjies probeer oorreed!

"Kyk nou hoe dreigend is die krokodil! Hoe gaan jy hom hanteer? Sal jy net eenvoudig na hom stap en 'n tou deur sy neus sit? Kan hy hom mak maak soos 'n troeteldier of met hom speel? Sê my, is jy sterk genoeg om sy groot bek oop te sper en na sy tande te kyk? Natuurlik nie. Hierdie dier het 'n hart van klip. Hy het geen begrip van genade nie!

Moenie 'n fout maak nie: dit was meer as 'n eenvoudige lesing omtrent die diereryk! God het Job iets vertel van die lewe se "monsters"! Hy het sy dienaar gewys dat hierdie twee massiewe, wrede, magtige kreature die monsteragtige probleme in Job se lewe verteenwoordig. God het vir Job gewys, "As jy dink dat jy hierdie twee massiewe kreature kan beveg, maak jy 'n groot fout. Al probeer jy ook hoe hard, jy kan nooit wen nie! En ek verseker jou jy sal nooit die geveg vergeet nie!"

"Dink aan die seekoei. Hy trap op enigiets in sig! Hy is eenvoudig net te 'n groot probleem vir jou om te oorkom. So Job, sê my, hoe kan jy teen hom veg? Sal jy hom in 'n strik vang of hom omkoop met 'n gerf koring? Nee, jy is glad nie opgewasse teen hom nie. Niks wat jy doen sal hom mak maak nie. Net Ek, God alleen weet hoe om hierdie monster te stop."

"En wat van die krokodil, Job? Daardie vlymskerp tande wat jy in sy kakebeen sien, is dieselfde demoniese tande wat Satan vir jou ontbloot het gedurende jou beproewing. Geen mens kan teen so 'n kreatuur baklei nie. En geen mens kan die krokodil ontneem van sy dik harnas nie. Dieselfde is waar van jou geestelike vyand, die duiwel. Net Ek kan die geveg teen hom wen!"

Kan u hoor wat God in sy toespraak sê? Hy praat nie net met Job nie, maar met alle gelowiges. En Hy verklaar: Staar die waarheid in die gesig omtrent die monsters in jou lewe. Jy kan hulle nie hanteer nie. Ek is die enigste Een wat dit kan doen."

Op hierdie punt, verbeel ek my ek sien 'n klein liggie in Job se kop aanskakel. Hy moes besef het, "Hierdie monsters wat God my wys, groot en oorweldige, vreeslose kreature verteenwoordig al my probleme, en ek sal nooit in staat wees om met hulle te stoei en oorwin nie."

"Die hele tyd, sit ek op hierdie ashoop en probeer uitpluis waarom God toelaat dat hierdie monsteragtige probleme na my toe kom. Ek het probeer om 'n manier te vind om hulle te beveg en hulle weg te jaag. In der waarheid het ek vergeet dat my God alles kan doen. Hy gaan vir my veg."

Nou het Job se woorde 'n ander rigting ingeslaan. Die skrif sê vir ons, "Daarna het Job vir die Here gesê: Nou weet ek dat U tot alles in staat is, en dat U kan uitvoer wat U besluit" (Job.42:1-2). Job het in wese gesê: "My God is almagtig. Hy kan alles doen. Geen van sy doelwitte kan ooit gedwarsboom word nie. Daarom weet ek my lewe is nie buite beheer nie. God het 'n plan agter al my lyding.

"Ek weet dat my God op hierdie oomblik met 'n swaard in sy hand by my staan om my te beskerm, en Hy gaan my verlos op die oomblik wat Hy dink goed is. Geen man of monster kan sy gedagte verander of sy plan affekteer nie. Hy sal sy sin kry op sy manier. Ek weet ek kan nie teen die seekoei of die krokodil veg nie, maar dit maak nie saak nie! Ek weet God kan. Al wat ek moet doen is net om stil te staan en die verlossing van God te aanskou."

Gedurende my vroeë jare van bediening, het ek my dae spandeer om deur die strate van New York te stap. Ek het vir dwelmverslaafdes en bendelede gepreek. Na 'n ruk het ek egter heeltemal uitgebrand, gebroke in liggaam en siel. Die gevolg was dat ek klier koors ontwikkel het en moes in die hospitaal opgeneem word vir ses weke.

Op 'n stadium het 'n groeisel in my keel ontwikkel. Ek kon nie sluk of enigiets drink nie. Met tye kon ek nie eers asemhaal nie. Gou het my gewig onder 115 pond gesak. Daar was geen manier wat ek kon reis nie; en dit is hoe ek geld ingesamel het vir fondse vir die bediening. So, terwyl my verblyf in die hospitaal langer geword het, het die bediening se fondse begin opdroog. Dit het gelyk asof die einde in sig was vir ons bediening aan dwelmverslaafdes en alkoholiste.

Die ou krokodil het sy tande gewys, en nou terwyl ek plat op my rug in die hospitaal gelê het, was ek meer as 'n bietjie geïrriteerd met God. Mense het my kom besoek, maar ek het geen troos in hulle geselskap gevind nie, hulle het my net senuweeagtig gemaak. Ek het soos Job begin voel. Ten minste drie persone het na my kamer gekom om 'n "woord van God" te spreek, en dit het my net depressief gemaak.

Uiteindelik het ek een nag wanhopig na God uitgeroep en gepleit, "Here, ek gee op. Ek kan nie hierteen veg nie. Ek het besef hierdie hele saak is in U hande. Ek sal maar net moet op U vertrou. Ek moet egter net een ding van U vra. As U die deure van die bediening wil sluit, is dit U besigheid, maar haal asseblief hierdie "ding" uit my keel uit."

Binne 'n uur het ek begin hoes en 'n gewas die grootte van 'n okkerneut het uitgekom. Skielik in daardie kort bestek van tyd, was ek weer gesond. Ek het die hospitaal kort daarna verlaat en my fisiese krag het begin terugkom.

Toe ek teruggaan na die "Teen Challenge" kantore, het ek ontdek dat die bediening oorleef het terwyl ek weg was. Ek weet nou nog nie hoe God dit laat gebeur het nie. Dit was sekerlik nie deur 'n wonderlike groot tjek waarvoor ek gehoop het nie. Terwyl ek siek was, het die bediening se personeel begin om God te vertrou, eerder as om op my te staat te maak. Ek glo dit is wat God al die tyd bedoel het en ook bereik het.

U sien, ons moeilikhede in die lewe is nie eenvoudig onvoorsiene ongelukke nie. Dit maak nie saak wat ons in die gesig staar of hoe diep ons pyn is nie, deur dit alles heen is God se doelwit seker. Hy is ook altyd betyds om ons monsters te beveg. Met tye sal ons dink dat Satan ingekom en God se plan onderbreek het, maar dis nooit die geval nie. Ons Vader het altyd alles onder sy beheer en Hy gaan alles wat Satan bedoel as kwaad aanwend en dit vir ons ten goede laat meewerk.

As ons in die middel van 'n beproewing is, moet ons ons oë afhaal van die monsters. In sulke tye moet ons onsself aanspoor deur te sê; "My God kan alles doen. Hy het my nie vergeet nie. Sy oë is juis nou ook op my terwyl ek hierdie aaklikge toestand verduur. Ek weet, dit maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie, Hy het alles onder beheer! Niks en niemand kan die planne wat Hy vir my het verander nie.

Miskien is u juis nou wanhopig, en wonder: "Ek sien geen uitweg uit my probleme nie. Sal ek ooit uitkom uit hierdie vurige beproewing? Of sal my lyding voortduur tot Jesus kom? Here, sal ek ooit weer in staat wees om te jubel en te juig?"

Hier is God se antwoord aan u: "Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming" (Jakobus 5:11). "Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het" (Job 42:10).

U mag dalk nie verdubbel wat u verloor het nie, maar u sal iets baie groter besit. U sal 'n getroue hartskennis hê dat God in beheer van u lewe is. Sy liefde vir u sal nie langer net 'n teologiese konsep wees nie. In plaas daarvan, sal u weet hoe diep sy verlossing strek, op 'n persoonlike manier. U sal nooit weer bang wees vir enige teenstand of swaarkry nie. Hoekom? Omdat u deur u beproewing gekom het, meer as 'n oorwinnaar wat in hemelse plekke saam met Jesus sit.

Op die oomblik weet u van God deur van Hom te hoor deur middel van preke en Bybelstudie, net soos Job aan die begin van sy beproewings. Dit is goed so, want die Skrif sê vir ons dat dit presies is waar ons geloof vandaan kom: om die Woord van God te hoor. Maar, nou wil God hê dat ons Hom ook moet sien. Hy wil hê dat ons 'n absolute vertroue moet ontwikkel sodat ons kan weet dat Hy 'n goddelike plan vir ons lewens het. Hierdie ewige doel kan nie gedwarsboom word deur enige demoon van die hel, of enige monster wat u pad kruis nie.

Dan, te midde van u grootste beproewing, sal u in staat wees om van God se goedheid te getuig, soos Job gedoen het. Dan sal u ook met vertroue die groot verklaring van die geloof kan kwoteer: "Kyk, al wil Hy my ombring - ek hoop op Hom.(Job 13:15 *OAV).

Aan God al die eer, vertaal deur Teresa Jonck.

In hierdie preek is die NAV gebruik tensy anders vermeld.
* NAV - Nuwe Afrikaanse Vertaling
* OAV - Ou Afrikaanse Vertaling