God van Kinderverwaarlosing Beskuldig

David Wilkerson

God het ‘n manier waarop Hy met Sy kinders praat deur vir hulle vrae te vra. En die manier waarop Hy hierdie vrae vra, openbaar ons ware gedagtes.

Byvoorbeeld:

Toe Elia in die grot weggekruip het, het die Here gevra, “Elia, wat doen jy hier?”

Toe Petrus begin het om op die water na Christus te loop, en twyfel veroorsaak het dat hy in die golwe weggesink het, het Jesus gevra, “Waarom het jy nie geglo nie?”

Toe Saulus, wat binnekort Paulus sou word, op die Damaskuspad was, het Christus vir hom gevra, “Waarom vervolg jy My?”

Hierdie vrae was deurdringend. Dit was ontwerp om die mense te laat dink en diep in hulle eie harte te laat kyk. En vandag gebruik God steeds vrae om tot die hart van sake met Sy kinders deur te dring.

Dikwels praat die Here met my deur ‘n vraag. In werklikheid het ek nie lank gelede nie, met ons kerk ‘n vraag gedeel wat God aan my gerig het: “David, is jou God ‘n afgod?”

Ek het gewonder wat die Here eintlik gevra het. En ek moes my hart diep ondersoek om uit te vind wat Hy bedoel het.

Ek het gou besef dat die vraag te doen gehad het met of ek die Here gesien het as lewend – dat Hy waarlik hoor en gebed verhoor – of as een wat nie sien of hoor nie. Was Hy vir my niks meer as hout of klip nie, of soos enige ander dooie afgod? Of het ek Hom werklik vertrou om my gebede te hoor en te verhoor as ‘n lewende, sorgsame Vader?

 Terwyl ek Hom in die afgelope weke in gebed gesoek het, het ‘n ander vraag in my hart opgekom. Die Here het vir my vra:

“David, beskuldig my van kinderverwaarlosing?”

Ek was verstom oor die gedagte! Toe het die Heilige Gees vir my siel gefluister, “Jy is My kind - Ek is jou Vader. Twyfel jy egter in My? Beskuldig jy My in jou gedagtes  dat Ek jou verwaarloos, of dat Ek nie jou opregte smekinge hoor nie?”

Weer moes ek my hart ondersoek voor ek kon antwoord. En die Here het vinnig ‘n aantal ander vrae opgehaal – almal wat gehandel het oor God van verwaarlosing beskuldig!

Ons as Christene verwoord selde ons twyfel en ongeloof. Ons sê nooit vir ander dat die Here ons verwaarloos nie - dat Hy stil is oor ons smekinge nie, dat Hy nie ons gebede verhoor nie en dat Hy nie om ons onthalwe optree nie.

Maar die feit bly staan – ons dink wel sulke gedagtes! Hierdie vrae en ander vertwyfelinge bestaan diep binne-in ons. Dit is gevoelens wat ons kry wanneer dit lyk of God afwesig is van ons lewens.

Ek glo God het vir my hierdie boodskap gegee, omdat die Gees met elkeen van ons daaroor wil praat om ons Vader ten volle te vertrou. Ons heerlike aanbidding in die kerk, ons hartlike lof en ons daaglikse Christen wandel – is alles pure verniet as ons dink God verwaarloos ons in enige area van ons lewens!

Laat my toe om met jou sommige van die vrae te deel wat die Here onlangs aan my gestel het. As jy duidelikheid in jou siel kan kry oor hierdie drie vrae, sal jy versterk word in jou geloof en vertroue in die Here.

1. Het God die antwoord op elke vraag en behoefte in my lewe?

Enige gelowige wat God graag in sy gebedslewe wil behaag, moet eers die volgende vraag uitklaar: “Het God alles wat ek nodig het? Of moet ek elders heen gaan om ‘n antwoord te gaan soek?”

Dit blyk ‘n eenvoudige vraag te wees – miskien een wat nie eens hoef gevra te word nie. Die meeste Christene sal dadelik antwoord, “Ja, natuurlik glo ek dat God alles het wat ek nodig het.” Maar in werklikheid, is baie van ons nie oortuig nie!

Ons sê dat ons dit glo. Ons sing gesange en preek daaroor. Maar wanneer ‘n krisis toeslaan en dit lyk of God nie antwoord nie, glo ons nie werklik dat Hy het wat ons benodig nie.

Paulus verklaar: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). Die Here het ‘n stoorkamer van oorvloed waarmee al ons behoeftes aangespreek word.

Waarom het die geteisterde vrou in Jesus se gelykenis aangehou om die onregverdige regter lastig te val en te sê, “Doen reg aan my!” Dit was omdat sy geweet het dat hy alleen die mag en gesag gehad het om haar probleem op te los. Sy kon na niemand anders gaan nie!

O, as ons maar tog so ‘n innerlike kennis gehad het dat God alleen alles is wat ons nodig het! Ons sou ons nooit verniet na enige ander bron gewend het nie. Die Here is ‘n regverdige en heilige Regter – en Hy het al die wysheid, krag en gesag om enige probleem wat ons het op te los.

God het veertig jaar lank probeer om Israel te oortuig dat hulle nooit gebrek sou ly nie – dat Hy hulle konstante bron en voorsiening sou wees: “Want die Here jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die Here jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie” (Deuteronómium 2:7).

God het gesê, “Daar is geen skaarste, geen gebrek by My nie. Ek het alles wat jy ooit nodig sal hê”

 “Want die Here jou God bring jou in goeie land...’n land waarin...niks jou sal ontbreek nie...en jy sal eet en versadig word” (Deuteronómium 8:7.9-10).

Vandag het die Here ons in die Beloofde Land ingebring – Christus! Jesus is vir ons ‘n woning waar daar nooit enige gebrek is nie. Hy verteenwoordig die volheid van die Godheid liggaamlik.

As jy dit nie glo nie, dan sê jy dat die Ou Testament iets beters voorsien het as wat ons nou in Christus het. Jy sê onder die Wet het die mense oorvloed en ‘n volheid gehad – maar in Christus het ons minder!

In die Ou Testament, het gelowiges inderdaad die shekinah heerlikheid van God gehad. Maar God sê dat Hy iets beters vir ons voorberei het - en dit is die teenwoordigheid van Jesus self. Hy is voortdurend teenwoordig in ons!

Die Skrif sê van Moses se tyd: “En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie...en hulle het...weelderig gelewe deur u grote goedheid” (Nehemia 9:21,25).

Ek vra jou – verheug jy jou in die Here se goedheid vir jou? Of is jy meer geneig om in jou hart te fluister, “God was nie goed vir my nie. My gebede word nie beantwoord nie. So baie dinge in my lewe is nie afgehandel nie....”

Dierbare heilige, as God 3 miljoen Israeliete deur die woestyn kon lei, dink jy nie dat Hy vir jou kan sorg nie?Of dink jy Hy is meer getrou aan die Wet as wat Hy is aan genade? Verwonder jy jou oor hoe Hy vir Israel gesorg het, maar as jy egter na jou eie lewe kyk, sê jy, “Arme ek”? Dit is om God van kinderverwaarlosing te beskuldig!

Israel was nooit oortuig dat al hulle behoeftes voorsien sou word deur volkome op God te vertrou nie. Hulle was nie ‘n heilige volk nie. Hulle was ongehoorsaam, astrant en afgodies. Moses het selfs vir hulle gesê, “Sedert ek julle ken, is julle geneig om afvallig te word!”

Tog, wanneer hulle tot God uitgeroep het, het Hy hulle geantwoord! Hy was hulle barmhartig! Ek vra jou – sal die Here nie des te meer die uitroepe van diegene wat hulle afgodery laat staan het en Hom vandag passievol liefhet, hoor nie?

Jy moet oortuig wees – jou antwoord is alles in Hom! Dit is nie in iets wat jy kan doen nie, or een of ander vriend of ondersteuningsgroep nie. Dit strek verder as wat jy van dinge weet op hierdie! Die Skrif sê ons moet “die oog vestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2).

As jy dit nie glo nie – as jy nie oortuig is dat God alles het wat jy nodig het nie – beskuldig jy Hom dat Hy ‘n ongeskikte Vader is. Jy sê Hy het geen reg om ‘n kind groot te maak nie. Jy beskuldig Hom dat Hy al die mag en gesag het om vir jou te voorsien – maar dat Hy dit vir jou wegsteek!

Dit maak nie saak wat jou probleem is, of wat jou verwarrende doolhof mag wees nie – as jy getrou op Jesus wag, sal Hy praat. Hy sal vir jou genoeg gee van al die wysheid, kennis en genade, wat jy nodig het vir jou beproewing. Hy het nog altyd ‘n weg gemaak vir hulle wat volkome op Hom vertrou. En Hy sal dit vir jou ook doen!

2. “Sien my Vader waardeur ek gaan – en gee Hy om?”

Dit is nog ‘n eenvoudige vraag – maar ek glo hierdie vraag word nie baie eerlik deur baie Christene beantwoord nie.

Die Here vra, “Glo jy werklik Ek sien regtig presies wat jy op hierdie oomblik verduur?” Terwyl jy hierdie boodskap lees, gaan jy miskien deur iets waarin jy nodig het dat Hy namens jou optree. Die ware aard van jou probleem vereis ‘n antwoord.

Geliefde – glo jy dat God al jou bewegings dophou, net soos ‘n pa sy kleuter dophou? Glo jy dat Hy elke gedagte wat jy dink interpreteer? Glo jy Hy is aan die werk – besig om elke traan op te vang, elke sug te hoor en oor jou te waak soos ‘n liefdevolle, sorgsame Vader?

Dit is presies hoe die Bybel Hom beskryf!

“Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep...Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hulle benoudhede” (Psalm 34:16,18).

“Want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9).

“Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7).

Glo jy God is absoluut, totaal bewis van al jou gedagtes, droefheid, smart, pyn, finansiële las en familie probleme – en dat Hy jou deur dit alles wil dra?

Die Psalmis sê vir ons, “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Psalm 103:13).

Die Hebreeuse woord hier vir “ontferm” beteken “om te liefkoos, te omhels, lief te hê en om deernisvol te wees.” Die Skrif sê dat God hulle wat Hom vrees in sy arms omhels!

God plaas sy arms rondom jou, Hy streel jou wange en hou jou teen sy bors. En Hy sê vir jou, “Ek ken al jou gedagtes en al jou bekommernisse. Ek ken elke stryd wat jy moet stry. En Ek gee om.”

Dawid het gesê, “Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver af my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, Here, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor...“Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U” (Psalm 139:1-5,17-18).

Dawid sê eintlik, “God weet alles van my af. Hy sien al my bewegings en ken selfs my gedagtes. Oral waar ek gaan, is Hy daar!”

Dink daaraan. Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, of hoe jy voel nie, die Here sien dit alles raak! Hy voel die werklike gevoelens van jou swakhede. Hy weet van elke beweging wat jy maak – en alles wat jy sê en doen.

 En die hele tyd dink Hy kosbare gedagtes oor jou! In wese sê Hy, “My gedagtes oor jou is so magtig en so baie, hulle is meer as die sand van die see.”

Talle Christene gaan deur die lewe met die gedagte dat God vir hulle kwaad is. Hulle dink hulle kan Hom nooit behaag nie. Hoe verkeerd is hulle tog nie! Dawid was nie ‘n volmaakte man nie, en tog was Dawid in staat om te getuig, “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!”

Diebare heilige, God is nie op hierdie oomblik vir jou kwaad nie – Hy dink kosbare, liefdevolle gedagtes oor jou. Hy weet hoe jy voel – en Hy gee om!

Hy sê, “Ja, jy gaan deur ‘n groot beproewing – jy word versoek en geteister. Maar jy is My kind – en Ek sal nooit toelaat dat die vyand jou verstrik nie. Ek sal jou deurdra.”

Daar ‘n derde vraag wat jy moet antwoord:

3. “Is God gewillig om my te help?”

Glo jy dat God bereid is om jou probleem gou op te los?

Dit is waar baie Christene misluk. Hulle weet God het alles wat hulle nodig het – hulle erken Hy gee om. Maar hulle is nie oortuig dat Hy gewillig is om hulle te help nie.

Wanneer God nie dadelik hulle hulpgeroep verhoor nie, dan verbeel hulle dat daar hindernisse en innerlike blokkasies in hulleself is. Hulle dink aan allerhande redes waarom die Here nie gewillig is om hulle te hulp te kom nie.

Nee! Dit beskuldig God dat Hy sy kind verwaarloos!

Op die berg Karmel, het Elia die profete van Baäl beskuldig van kinderverwaarlosing:

“En hulle...het die naam van Baäl van die môre tot die aand aangeroep en gesê: o, Baäl, gee ons antwoord. Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie...”

“En toe dit middag was, het Elia met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy of moet hy wakker word.

“En hulle het hard geroep en hulleself...stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het...maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En geen opmerksaamheid nie” (1 Konings 18:26-29).

Hoor hierdie woorde weer: “Daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En geen opmerksaamheid nie...”

Dit is presies hoe ons God van kinderverwaarlosing beskuldig. Ons bid en roep hardop tot God – maar dan gaan ons weg sonder om te glo dat Hy ons gehoor het! Ons loop weg van die Here se teenwoordigheid – weg van die kerk, weg van ons binnekamer – terwyl ons wonder of Hy aan ons smekinge gehoor gegee het!

Nee! Die Here is altyd gereed om ons hulpgeroep te hoor en te verhoor. Ek hou van wat Dawid van Hom sê:

“Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep...In die dag van benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my” (Psalm 86:5,7).

Dawid getuig, “My God is gereed en gewillig om my op die oomblik wat ek tot Hom roep, te help. Ek hou nie aan om aan my moeilikheid te dink nie. Ek probeer nie daaroor treur of dit uit te pluis nie. Ek gaan na my Here en roep, ‘Help!’”

Dit is al waarvoor God wag – jou hartverskeurende smeking wat in kinderlike geloof uitgespreek word!

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).

Die Bybel sê van die slawerny in Egipte, “En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God...En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond...En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken” (Exodus 2:23-25).

God het nie Israel verhoor omdat hulle waardig was nie. Inteendeel, die Here het baie gehad om hulle te leer. Nee – Hy het hulle verhoor omdat hulle ernstig geroep het - en Hy het hulle raakgesien en hulle geroep gehoor!

Net voor Moses gesterf het, het hy die volk herinner aan God se getrouheid om op hulle hulpgeroep ag te gee:

“Maar die Egiptenaars het ons mishandel en verdruk en ‘n harde diens op ons gelê. Toe het ons die Here, die God van ons vaders, aangeroep; en die Here het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;

“En die Here het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders” (Deuteronómium 26:6-8).

Die Israeliete, so afvallig en afgodies wat hulle was, het eenvoudig na die Here uitgeroep. Net so sê God aan sy geliefde kinders vandag, “Jy kan My aanroep en na My uitroep – en Ek sal verhoor!”

Is jy geteister? Verslaaf? Bekommerd? Het jy verlossing nodig? Roep hard – met geloof! God is gereed om jou met wonders deur sy magtige arm te verlos!

Israel se geskiedenis kan opgesom word in ‘n paar verse:

“En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en die Here hulle God vergeet...Maar toe die kinders van Israel die Here aanroep, het die Here ‘n verlosser vir die kinders van Israel verwek” (Rigters 3:7,9).

God se volk het Hom herhaaldelik vergeet. Maar toe hulle geroep het, het Hy gekom.

Die profeet Samuel het Israel inderdaad berispe deur hulle te herinner aan hoe hulle vaders tot die Here geroep het:

“Toe het hulle die Here aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat…maar red ons nou uit die hand van ons vyande...En die Here het Jerúbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het” (1 Samuel 12:10-11).

God het altyd verlossing gestuur! Dit maak nie saak hoe erg die mense teenoor Hom gesondig het nie en hoe vreeslik hulle Hom verlaat het nie – op dieselfde oomblik wat hulle na Hom geroep het, het God begin werk om hulle te red en te verlos.

Geliefde, glo jy dat God ‘n dowe oor het vir al jou smekinge? Glo jy Hy was gewillig om die smekinge van ‘n hardnekkige, afvallige volk, wat Hom selde of nooit volkome vertrou het nie, te verhoor – maar dat Hy Hom egter doof sal hou vir die opregte pleidooi van ‘n opregte, bloedgewaste, gelowige kind?

Nooit! Dit maak nie saak wat jy beleef nie, Hy sal nie toelaat dat Satan jou oorwin nie! Hy het ‘n muur van vuur rondom jou opgestel! Hy is gereed om jou op kort kennisgewing te hulp te kom!

Dawid het dikwels na die Here geroep – en hy was verlos uit al sy bekommernisse en al die strikke van die vyand!

Dawid sê vir ons waarom God hom verhoor het: “En Hy my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het” (Psalm 1:20).

“Behae” hier beteken “om ‘n plesier of blydskap te hê.” Dawid het in wese gesê, “Ek is vir God ‘n plesier. Hy verlos my bloot omdat Hy ‘n welbehae in my het!”

Ja – en, geliefde, Hy het ‘n welbehae in jou en my ook!

Jy sien, ons wat op die Here vertrou, is Sy heilige Sion, Sy heilige oorblyfsel. Oorblyfsel beteken bloot, “diegene wat die Here aanroep uit ‘n rein hart.” Hulle is diegene wat geroep is uit ‘n lui Christendom en is totaal toegewyd aan Jesus.

Aan die uitverkore Sion, sê God:

“En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die HERE en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God. Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het ‘n behae in jou, en jou land sal getroud wees” (Jesaja 62:3-4).

Waarom kom God tot my redding, en is so gewillig om my te verlos? Dit is omdat Hy ‘n behae in my het! Ek is vir hom ‘n plesier. Hy geniet my vriendskap!

‘n Kosbare jongman het vir my vertel, “Ek was nooit werklik oortuig dat ek deur die Here aanvaar is nie. Ek voel selde goed genoeg vir God – asof ek nooit voldoen nie. Ek hou aan op Hom te probeer behaag deur iets goeds vir ander te doen.”

So baie Christene voel so! Oor die jare het ek baie outydse Pinkstermense leer ken wat nooit versekering in die Here gehad het nie. Hulle het onwaardig, onrein en ongeliefd gevoel. Hulle het nooit geglo dat hulle ‘n welbehae vir die hart van God was nie.

Daarom het hulle altyd iets probeer doen in hulle lewens om Hom te behaag. As hulle op een gebied misluk het, het hulle drie dinge op ‘n ander gebied gedoen om te probeer om God gelukkig te maak.

Geliefde, dit kan nooit so werk nie! Wanneer jy na Jesus kom, kan jy niks vir Hom doen om op te maak nie. Nee – My maak alles vir jou op. Dit is wie Hy is! Hy sê, “Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het – my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het” (Joël 2:25).

Dit maak nie saak wat jou mislukking of tekortkoming is nie – God vergoed dit alles vir jou!

God se Kinders is getattoeëer in die palm van sy hand!

“Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges. Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!

“Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My” (Jesaja 49:13-16).

God sê ek is gegraveer in die einste palm van Sy hand! Die Hebreeuse woord vir “gegraveer” beteken “getattoëer” – dit is, onuitwisbaar en kan nie uitgevee word nie. Hy kan nie Sy hand uitstrek sonder om aan my herinner te word nie!

Dierbare heilige, ek wil jou verseker: Jy mag deur beproewings en lyding gaan. Jy mag baie ver wees van wat jy graag vir die Here wil wees. Maar jy kan een ding weet, meer as enigiets anders: Jy is vir Hom ‘n welbehae!

Ek skryf nou aan jou met ‘n vertroue en ‘n wete in my hart, dat hoewel ek nog nie daar is nie, het Hy my ‘n deel van Sy oorblyfsel gemaak. Ek glo met my hele hart dat ek ‘n koninklike kroon, ‘n diadeem in Sy hand en ‘n welbehae vir Sy siel is. Hy is nie kwaad vir my nie – Hy verbly Hom in my!

Luister na hierdie wonderlike belofte:

“Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in diehand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan...

“o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders” (Psalm 31:8-9,20).

Kan jy dit kinderverwaarlosing noem? Nooit!

God het vir jou alles gegee wat nodig is om vry en te wees en te oorwin. Hy sien jou toestand – en Hy gee om. Hy omhels jou as jy Hom aanroep. En Hy is gereed om vorentoe te kom om jou te help die oomblik wat jy Hom aanroep.

Verbly jou in die Here – want jy is ‘n welbehae vir Sy siel! Halleluja!