God van die Monsters

David Wilkerson

Laat my jou bekendstel aan die mees beproefde, ongelukkigste, wanhopigste gelowige van alle tye. Hy was ‘n regverdige, Godliewende man – maar toe moeilikheid en verdriet hom egter oorweldig het, het hy soos ‘n ateïs begin klink!

Op die laagste punt van sy lyding het hy gesê: “As ek na Hom sou roep en Hy my sou antwoord, sou ek nie kon glo dat Hy my gehoor het nie, want dit is Hý wat my met ‘n stormwind pynig, wat my baie wonde slaan sonder dat ek dit verdien” (Job 9:16-17).

Jy het waarskynlik teen hierdie tyd geraai – ek praat van Job! Die man wat alles verloor het –  sy familie, sy gesondheid, sy welwillendheid, sy besittings en sy hoop!

Ek dink nie vandag kan baie mense hulleself sulke lyding voorstel nie. Al Job se ellende het so skielik gekom, dat hy te midde van die erge droefheid die dag waarop hy gebore is, vervloek het: “Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie, net toe ek gebore is, my laaste asem uitgeblaas nie?” (Job 3:11).

“Waarom moes God dan die lewenslig gee aan ‘n man wat net swaar kry, waarom moet Hy lewe geel aan ‘n man wat so bitter ly, aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood...?” (Job 3:20-21).

In Job 9-10 hoor jy die wanhopige taal van ‘n heilige man wat nie kon verstaan waarom God toegelaat het dat hy so ly nie. Selfs die slegste sondaars waag nie om so fel te praat oor hoe God hulle behandel nie.

Job het gesê, “Hy wat my nie ‘n kans gun om asem te skep nie, maar my deurdrenk met bitter lyding” (Job.9:18) – wat beteken, “God gee my nie eens tyd om asem te haal tussen my bitter beproewings nie. Die lewe het niks anders as ellende, lyding, droefheid en pyn geword nie.”

“God, waarom stry U teen my? Gaan U toelaat dat ek vernietig word? U het my uitgegiet soos melk en my soos kaas laat dik word. Die lewe skiet so gou verbly, soos ‘n vinnige skip wat verbyseil. Voor ek sterf, sou ek graag ‘n bietjie blydskap wou hê in plaas van al hierdie somberheid met een probleem op die ander.”

Uiteindelik het Job, diep in wanhopigheid, ‘n baie harde stelling gemaak – die ergste van al sy klagtes en wanhopige woorde, “[God] lag... oor die wanhoop van die onskuldiges” (Job 9:23).

Met ander woorde, Job het gesê, “Dit betaal nie om heilig te wees of opreg te leef nie. God behandel die goddelose en die reines dieselfde – almal ly. So, waarom dan werk om opreg te wees?

“Ek was ‘n biddende man en het God liefgehad met my hele hart. Ek was boetvaardig en het my kinders in die vrese van die Here grootgemaak. Ek was regverdig en eerlik. Ek was vriendelik en meelewend, het omgegee vir die armes en het die naaktes geklee – en kyk wat het met my gebeur.

“My lewe bestaan uit verdriet, moeite en ontberings – niks anders nie. Niemand gee regtig om nie -  daar is niemand om my raad te gee nie. Ek het nie ‘n voorbidder nie!

“Laat die Here tog asseblief Sy roede van rug afhaal. Laat hy ophou om my te verskrik. Ek is werklik vreesbevange. Alles is oorweldigend! As God aan die werk is, sien ek dit nie raak nie.”

“As Hy by my verbygaan, gewaar ek Hom nie, Hy sweef verby, maar ek kom dit nie agter nie” (Job 9:11).

Oor en oor het Job uitgeroep, “As ek gesondig het, was is dit? Waar is ek verkeerd? Hoe het ek God bedroef? Ek weet nie eens meer wat om vir die Here te sê nie. En selfs as my gebede wel deurgekom het, dink ek nie Hy sou verhoor nie.

“Die erste van alles, ek kan nie die kwellende gedagte afskud nie: Dit voel asof die hemel my bespot deur my lyding en beproewings. My lewe is ‘n grap en God spot met my in my verdriet!”

Ek glo Job verteenwoordig die laaste-dae gelowige wat groot toetse en beproewings ondergaan en menigvuldige swaarkry verduur. Ek glo ook dat, in die naderende dae, menigtes van Godvresende, heilige gelowiges deur dieselfde vuur sal gaan – die vuuroond van Job!

Ek weet nie of ons reeds daardie tyd binnegegaan het nie. Maar ek weet dat ons ‘n tyd van swaarkry deurgaan wat ons nie kan verstaan nie – ‘n tyd soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie.

Talle wonderlike, toegewyde Christene het reeds hulle werk verloor, of is al vir weke of maande sonder werk.  Sommige het amper alles verloor. Net soos Job, is hulle kaal gestroop. Talle is op die rand van armoede. En baie van hulle sê dat in hulle nog nooit sulke ellende in hulle hele lewe beleef het nie.

Baie ly op ander maniere. Huwelike word getoets. Families is onder ongelooflike druk en ondervind allerhande soorte hartseer. Ellende op ellende stapel op.

As jy in die toekoms inkyk, kan dit jou bangmaak. Al wat jy kan sien is meer onsekerheid, vrees en krisisse – en jou hart roep uit, “Wat gaan ek doen? Waarom gebeur al hierdie dinge met diegene wat so getrou is aan God? Waarom gryp God dan nie in en stop dit alles nie?”

Geliefde, dit wat met Job gebeur het, het met hierdie geslag gebeur! Jy kan dit oral rondom ons sien! Ons het ons jongmense verloor aan dwelms, alkohol, seks, rebellie en die gekheid van die uur. Ons nasionale en persoonlike rykdom verdwyn. Ons gesondheid taan. Ons kyk rond en sien ons is op die ashoop van wahoop!

Ons wat Jesus liefhet, is nie immuun teen die uur van ellende wat binnekort oor die aarde sal kom nie!

Ek sou lieg as ek vir jou sê dat Christene ellende, swaarkry, werkloosheid en depressie oral sal sien – maar self veilig binne ‘n sagte kokon van gesondheid en rykdom sal bly. Nee! Die Bybel sê God veroorsaak dat die reën op beide die regverdiges en die onregverdiges val! (sien Matthéüs 5:45).

Job was heilig – maar hy het gely! En net soos God Job uit al sy verdrukkings gehaal het, sal Hy ons ook uit daar uithaal. Maar ons sal ook deur die vuur gaan!

Ek hoor hierdie boodskap vanaf preekstoele dwarsoor die land. Dit word verkondig deur manne wat deur God opgerig is as ware profetiese stemme en hulle is besig om Sy mense gereed te maak vir dit wat gaan kom.

Honderde bedienaars kom bymekaar in verskillende stede om te bid en dieselfde belydenis word gehoor: “Nog nooit tevore was só baie mense só diep getoets nie. In die laaste paar maande is iets in die land losgelaat. Satan het ingekom soos ‘n vloedstroom en nou word alle Christelike huwelike ernstig getoets – ons s’n ingesluit! ‘n Stroom van probleme, swaarkry, diepe droefheid en lyding het die goddelikes oorval.”

Jy sien, Satan het Job in die ongeluk gestort het – en hy wil jou ook in die ongeluk stort! Kan dit wees dat hy weer voor God staan en ‘n groot beskuldiging bring teen die kerk van die laaste dae? Sou hy God uitgedaag het, “Dit is die laaste uur, maar U het geen ware kerk nie! U het geen vlekkelose bruid nie! Hulle is nie wyse maagde nie – die meeste van hulle is vas aan die slaap!

“Kyk na hulle – materialisties, selfsugtig en jaag na rykdom en die goeie lewe. Luister na hulle leraars wat vir hulle sê hulle hoef nie te ly nie – dat alle dinge daar vir hulle is om te vra!

“Haal af die muur van beskerming, God! Laat ek hulle toets. U sal nie eens ‘n heilige oorblyfsel oor hê nie! Ek sal hulle werk wegneem. Ek sal hulle tref met smarte. Ek sal ‘n gees van vrees en neerslagtigheid uitgiet. Ek sal hulle oorstroom met versoekings. Ek sal hulle in armoede dompel. U sal sien dat hierdie laaste, bedorwe geslag vou – hulle sal in duie stort en moed verloor! Daar is geen Werk in hierdie kerk nie. Hulle is almal geestelike lafaards!”

Geliefde, dit is waarom die Skrif sê, “Maar vir julle [inwoners van] land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Sommige van julle, het te midde van julle beproewing reeds die wanhopige taal van Job aangeneem. Jy het jou hart ondersoek – en jy kan geen sonde kry wat so ‘n ernstige bestraffing noodsaak nie. Jy kan glad nie agterkom waarom God toegelaat het dat jy in die put van wanhoop gegooi word nie!

Jou hart roep uit, “God, wat het ek verkeerd gedoen? As daar sonde in my is, noem dit, openbaar dit! Ek verstaan nie waarom hierdie teëspoed oor my gekom het op ‘n tyd waarin ek U die liefste gehad het nie – toe my wandel heilig was, my hart rein was en my gees na U verlang het! Dit lyk asof hoe nader ek aan U gekom het, hoe dieper het ek in die moeilikheid geraak en hoe meer smarte het gekom!”

Ons besef nie hoe belangrik dit vir God is dat ons Hom vertrou deur al die vloedstrome van swaarkry wat uit die hel oor ons kom nie! Jy sien, die duiwel kan jou nie aanraak of jou toets nie, tensy God eers die muur laat sak en dit toelaat.

Ek glo dat daardie muur nou weggeneem word vir almal van ons – en ons word getoets en beproef, soos die profete verkondig het. Die Bybel sê in hierdie laaste dae, sal God ons deur ‘n reinigende vuur laat gaan.

Maar dit was nie die raad wat Job gehoor het nie! Toe Job op sy laagste punt van wanhoop was, was hy omring met kritici, wat as raadgewers opgetree het. Hulle het na hom gekom en gesê, “Ek het ‘n woord vir jou van die Here af!”

Agter al hulle “begaande advies” was hierdie een leuen: “Job, alles het oor jou gekom weens sonde. God is kwaad vir jou! Daar is een of ander verborge sonde in jou lewe – raak ontslae daarvan!”

 Maar God het vir Job gesê, “Hulle is raadgewers van nietigheid. Moenie luister na een woord wat hulle gespreek het nie. Dit is alles dwaasheid.”

Ek het twee waarskuwings – een vir diegene wat ly, en een vir diegene wat nie ly nie, maar wat ‘n broer of suster ken wat wel ly.

Miskien het u ‘n gelowige vriend wat werkloos is, met geen werk in die vooruitsig nie. Of, miskien het ‘n groot ramp ‘n vriend se huis skielik getref. Of, miskien lyk dit of hy een probleem op ‘n ander het wat uit die bloute op hom afkom.

As jy iemand sien wat moedeloos is oor ‘n verdrukking, moenie daar sit en hom veroordeel nie. Plaas liewer jou arms om hom en sê vir hom, “Ek is lief vir jou en ek gee om oor jou!” Ween saam met hom wat ween en treur met hom wat treur! Dit is die raad uit die Woord van God!

Dit is ‘n verkeerde ding om ‘n wanvoorstelling van God te maak teenoor diegene wat ly! Moenie jou broer se droefheid erger maak nie! Verlig sy las – dra hom – ween saam met hom – deel sy droefheid. Bid dat God vir jou Sy hart van deernis en medelye sal gee – omdat jy volgende kan wees!

Jy wat ly en deur die vuur van beproewing gaan – onthou dat Job ‘n heilige man was. Hy was rein – hy het nie gesondig nie. God het toegelaat dat daardie ellende oor hom kom! As iemand na jou toe kom en sê, “Daar is verborge sonde in jou lewe – bekeer jou!”, glimlag net, loop weg en vergeet daarvan.

Ek praat nie van die raad van biddende mense wat deur God aangestel is en die deernis van Jesus Christus het nie. Hulle sal na jou toe kom met die vertroostende, bemoedigende, opbouende Woord van God. Ontvang dít wat jou siel bemoedig!

As God egter iets vir jou probeer sê, hou jou hart ontvanklik. Hy sal vir jou wys. Luister na die bearbeiding van die Heilige Gees – en maak seker dat jy jou siel in geloof hou en jou hoop lewend. Jesus het groot versoekings en lyding verduur – maar Hy was sonder sonde!

As God wel iemand stuur met ‘n boodskap vir jou, sal dit bevestig wat Hy reeds tot jou hart gespreek het. En jy sal kniel en sê, “Dank God! Dit bevestig wat in my hart is! Jy het my bemoedig dat God my verhoor het!”

Job het ‘n magtige openbaring van God gekry wat hy nooit sou kon gekry het as hy nie op so laagtepunt gebring is nie!

Jou huidige lyding sal een van twee dinge in jou produseer: of ‘n ewige hardheid en ‘n gees van ongeloof wat nie verbreek kan word nie – of ‘n heerlike visie van God se beheer oor alles wat jou aangaan!

Jy sien, te midde van al sy lyding, het Job ontdek dat ten spyte van al sy kennis van God, het hy God nie regtig geken nie. Hy het bely, “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou in sak en as” (Job 42:5-6).

Teen hierdie tyd, was Job ten minste sewentig jaar oud en hy het sy lewe lank van God gehoor. Sy raadgewer vriende het baie vir hom gepreek oor die dieptes en verborgenhede van God. Hulle het hom geleer van die vertroostinge van God, die heiligheid van God, die karakter en natuur van God, die toorn van God. Hulle het gepraat oor die grootheid van Sy mag, Sy wysheid, Sy toorn!

Job het ‘n leeftyd daaraan toegewy om God te prys en te aanbid en het ‘n altaar vir Hom opegrig. Sonder twyfel het hy God se mag ek krag besing. Maar in ‘n onverstaanbare krisis, kon hy God glad nie sien nie! God het ‘n vae teologiese term geword – ‘n reeks preke, ‘n dooie woord, ‘n kennis wat geen lewe of krag gehad het nie. Job het met sy ore gehoor – maar die oë van sy hart het God nie gesien nie!

Dit is wat God na vore wou bring in Job se lewe. Jy sien, God wil meer hê as heilige mense wat kniel by ‘n altaar, neergeboë voor Hom, Sy lof besing en Hom verheerlik. God wil ‘n gelowige hê wat Hom kan sien in alles waardeur hy gaan – nie ‘n God van die dooie letter van die boek nie, maar wat alwetend is, alomteenwoordig is, Een wat alles onder beheer het!

Dit is so jammer dat baie Christene vandag hulle huise van geloof op die sand van gemak en die goeie lewe gebou het. En wanneer die storms van beproewing en swaarkry kom, sal hierdie gelowiges weggewaai word.

Ek sien reeds Christene wat weggewaai word in hierdie laaste dae. Hulle verstaan nie die beproewinge en toetse van die Here nie. Hulle glo dat, omdat hulle God soek met hulle hele hart, Hom liefhet en na Hom smag, hulle geregtig is op ‘n lewe van voorspoed en pynlose bestaan – dat elke gebed onmiddellik verhoor moet word met geen beproewings hoegenaamd nie

Di Bybel sê, “Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal” (Psalm 34:20). God vrywaar ons nie van beproewings nie – Hy verlos ons daaruit!

Dit is wat God vir Job gedoen het. Te midde van ‘n stormwind (wat beproewing en verdrukking verteenwoordig), het God aan Job verskyn om vir hom te wys hoe om uit te styg bo sy swaarkry. En Hy het dit gedoen deur Job te laat kyk na twee verskriklike monsters – die magtige seekoei en die slang-agtige krokodil:

“Kyk die seekoei. Ek het hom gemaak” (Job 40:10) “Kan jy die krokodil met ‘n hoek vang?” (40:20).

Waarom sou God sy openbaring begin deur Job aan hierdie twee ontsaglike, massiewe, verstommende monsters te laat dink?

Eerstens het Hy die volgende probleem aan Job gestel: “Hier kom die seekoei? Wat gaan jy doen – met hom stoei? Mooipraatjies maak?”

“Kyk na die krokodil! Kan jy ‘n tou deur sy neus sit? Kan jy met hom speel, hom mak maak soos ‘n troeteldier? Hom vasbind met jou eie krag? Gaan jy sy groot bek oopsper en sy tande ontbloot? Hy het ‘n hart van klip, hy het  geen genade nie.”

“Hy is baas selfs oor al die grootdiere” (Job 41:25).

Dit was meer as ‘n lesing oor die krag en wreedheid van twee massiewe monsters. God het vir Job iets vertel van die lewe se monsters! En Hy het in wese vir hom gesê, “As jy probeer om teen hierdie twee monsters te veg, sal jy nooit die geveg vergeet nie!”

Die seekoei en die krokodil verteenwoordig die oorweldigende, monsteragtige probleme wat in Job se lewe gewoed het! Die seekoei vertrap alles in sig. Hy is ‘n probleem wat te groot is om te hanteer. Hoe stoei jy ‘n seekoei plat? Vang jy hom in ‘n strik of koop jy hom om met ‘n gerf koring? Nee – jy is glad nie opgewasse teen hom nie. Net die Here alleen weet hoe om hierdie monster te stop!

Die krokodil verteenwoordig die demoniese  tande wat die duiwel vir jou wys. Hy is wreed! Geen mens kan hom met menslike krag ontneem van sy harnas nie. Slegs God kan die stryd teen hom wen!”

Job het sy ore op God ingestel – maar sy oë op die monsters!

Praat jy van monsters? Job het hulle gehad soos niemand wat ek nog ooit geken het nie. Hy het geen bron van inkomste gehad nie, geen geliefdes wat saam met hom kon treur nie. Hierdie man was plat teen die grond.

Maar God het vir Job gesê – en vir almal wat wil hoor – “Erken die waarheid omtrent die monsters in jou lewe. Jy kan hulle nie hanteer nie - Ek is die enigste Een wat kan!”

Ek kan my verbeel ek sien ‘n klein liggie in Job se kop aangaan: “Hierdie monsters – groot, oorweldigend, skrikwekkend – is al my probleme! En ek sal nooit in staat wees om hulle plat te stoei nie.”

“Ek sit op hierdie ashoop en probeer uitpluis waarom God toelaat dat hierdie monsteragtige probleme my aanval – en hoe om hulle te beveg en weg te jaag. Ek het vergeet dat my God alles kan doen!”

Die Skrif sê, “Daarna het Job vir die Here gesê: Nou weet ek dat U tot alles in staat is, en dat U kan uitvoer wat U besluit. Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom” (Job.42:1-2).

Skielik het Job duidelik gesien: “My God is almagtig. My lewe is nie buite beheer nie. God het ‘n plan agter al my lyding. Hy staan by my, met ‘n swaard in die hand, om my te verlos op die oomblik wat Hy goed dink. Geen man of monster kan Sy gedagte verander of Sy plan beïnvloed nie. My God sal Sy sin kry!

“Ek kan nie teen die seekoei of die krokodil veg nie. Maar ek gaan stil staan en die verlossing van God aanskou!”

Dierbare heilige, wat is jou monster? Miskien probeer jy hom plat stoei, maar hy gooi jou weg met ‘n swaai van sy kragtige stert. God sê vir jou, “Haal jou oë af van hierdie monster. Jy kan hom nie met ‘n harpoen steek nie, jy kan nie teen hom baklei nie – hy is te groot vir jou. Laat My die monsters hanteer! Hulle voer My bevele uit. Hulle buig almal voor My Woord en reageer op My swaard!”

Glo my, ek het my monsters beleef. Jare gelede, nadat ek die deur die strate van New York gestap het – uitgebrand, gebroke in siel en liggaam – het ek klierkoors gekry. Ek het in die hospitaal beland vir ses weke en ‘n groeisel in my keel ontwikkel. Ek kon nie drink of sluk nie en soms het ek gesnak na my asem.

Gou het my gewig onder 115 pond gesak. Ek kon nie reis nie en kort voor lank het al ons geld opgedroog. Dit het gelyk na die einde van Teen Challenge. Die krokodil het sy tande gewys!

So, ek het plat op my rug in die hospitaal gelê het en ek was ‘n bietjie geïrriteerd met God. Mense het my kom besoek, maar dit het my net senuweeagtig gemaak. Meer as drie raadgewers het gekom om vir my ‘n “woord van God” te gee wat my net depressief gemaak het.

Maar ek onthou die nag wat ek wanhopig gesê het, “Here, ek gee op, ek kan nie hierteen stry nie. Dit is alles U s’n - Ek gaan U net vertrou. Ek moet egter net een ding van U vra. As U die deure van Teen Challenge wil sluit, is dit U saak. Maar asseblief Here – haal hierdie ding uit my keel uit!”

Binne ‘n uur het ek begin hoes en ‘n gewas die grootte van ‘n groot okkerneut het uitgekom. En skielik binne ‘n kort bestek van tyd, was ek weer gesond!

Ek het die hospitaal binne ‘n dag of twee verlaat en het my krag teruggekry. En ek het ontdek dat terwyl ek weg was, het Teen Challenge oorleef. Ek weet nie hoe God dit gedoen het nie – dit was beslis nie deur ‘n wonderbaarlike $10,000 tjek nie. Maar terwyl ek siek was, het die personeel begin om God te vertrou, eerder as om op my te staat te maak. En dit is wat God probeer bereik het!

Geliefde, jou probleme is nie onvoorsiene ongelukke nie. Dit maak nie saak waardeur ons gaan of hoe diep ons pyn is nie, God se teiken is in die kol en Hy is betyds om ons monsters te beveg!

Jy mag dalk dink dat die duiwel ingekom het en God se plan vir jou lewe omvergewerp en gesê het, “Laat ek hom toets!” Nee – dit is nie die geval nie. Dit maak nie saak of jy iets verkeerd of roekeloos gedoen het. As jy jou bekeer het, kan die Here alles wat bedoel was vir kwaad, ten goede laat meewerk.

Moenie terugkyk nie. Moenie op jou vorige foute fokus nie. Haal jou oë af van die monsters! Hy het belowe om te vergoed vir al die jare wat die sprinkaan verslind het. Maar hierdie woord moet vir jou meer wees as ‘n preek – dit moet jou lewe en hoop word!

Bemoedig jouself met hierdie woorde: “My God kan alles doen. Hy het my nie vergeet nie. Niemand kan sy planne verander nie. Dit maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie, God het alles onder beheer!”

Jy mag moontlik vra, “Sal ek ooit uit hierdie vurige beproewing kom?  Sal daar ‘n gelukkige einde wees – of sal my lyding voortduur totdat Jesus kom? Sal ek ooit weer jubel en juig?”

Hier is God se antwoord aan jou:

“Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming” (Jakobus 5:11).

“Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het” (Job 42:10).

Jy mag dalk nie verdubbel wat jy in geldwaarde verloor het nie. Maar jy sal iets baie groter besit. Jy sal ‘n ware hartskennis hê dat God in beheer van jou lewe is. Jy sal nooit weer die duiwel vrees nie. Jy sal nooit weer bang wees vir enige teëstander of ellende nie – omdat jy deurgekom het en in hemelse plekke saam met Jesus sit, meer as ‘n oorwinnaar!

Vir my is dit ware rykdom: meer as ‘n oorwinnaar in Christus Jesus!

Jy ken God moontlik deur van Hom te gehoor het – dit is goed. Dit is waar geloof vandaan kom. Maar, God wil vir jou ‘n absolute vertroue gee dat Hy ‘n goddelike plan vir jou lewe het, en dat Sy ewige doel nie gedwarsboom kan word deur enige demoon uit die hel of enige monster wat jou pad kruis nie. God gaan Sy sin kry!

Jou God is die God van die monsters!