God se Wonderwerk Berg

David Wilkerson

Jesaja 25 beskryf ‘n ongelooflike visie. Daarin word die profeet Jesaja in die toekoms in weggevoer na die heel laaste dae. Bybelkommentators stem saam dat dit een van die duidelikste beelde in die Skrif is aangaande die eindtye. Dit is geen mistiese, vae voorspelling nie. Jesaja wys ons presies wat God se plan is vir die nasies en vir sy kerk net voor die einde. En huidiglik, leef ons in dieselfde uur wat Jesaja beskryf.

In die eerste twaalf verse, sit Jesaja uiteen wat God vir die nasies beplan. Eerstens sien die profeet dat Satan ‘n demoniese koninkryk opgebou het en hele nasies onder slawerny gebring het. Die duiwel het hierdie mense vir eeue met ‘n ystergreep gevange gehou.

Jesaja beskryf hierdie duiwelse werk in terme van ‘n magtige stad. Satan het ‘n hoë, massiewe fort met ondeurdringbare mure gebou. Dit is ‘n geestelike stad, vol geestelike woninge, paleise en herehuise. Vanaf hierdie stad, beheer Satan al die nasies onder sy gesag. Hy het massas mense gevange geneem met geeste van wellus, gierigheid, moord en boosheid van allerhande soorte. En hy het hulle leiers beset en gemanipuleer om alle invloed van die evangelie uit te hou.

Hierdie nasies is ‘n beeld van die hel se onderdrukkende mag. Die armes het geen krag nie. Die behoeftiges is in groot behoudheid. En verwoede storms bring vreeslike verwoesting. Jesaja beskryf hierdie storms as groot rukwinde van uiterste hitte. Dit stel ernstige verleidings voor soos wat die mensdom nog nooit ervaar het nie. Hierdie diaboliese storms vee oor hele nasies met vernietigende krag.

Maar dan sien Jesaja ‘n wonderlike gesig. Hy het in verwondering gekyk hoe God vinnig met Satan se werk afreken. Die profete het geroep, “Want U het van die stad ‘n hoop klippe gemaak, van ‘n versterkte vesting ‘n puinhoop; ‘n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie. Daarom sal ‘n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees” (Jesaja 25:2-3).

Binne ‘n oomblik reduseer God Satan se koninkryk tot puin. En skielik, word nasies wat onder demoniese tirannie gehou is, vrygemaak. Jesaja breek uit in jubelende lof oor die gesig: “HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou” (Jesaja 25:1). Hy sê, “Here, U word nooit verras nie. U het groot wonders in die verlede gedoen en nou het U ‘n plan vir hierdie uur. U het dit vasgestel vandat die fondament van die aarde gelê is.”

Soos Jesaja God se plan sien ontvou, verbly dit sy siel. Hy roep dit uit vir generasies wat sou volg: “In die laaste dae, sal God die Satan se mag verwoes en vernietig. Hierdie paleise van vreemde duiwelse wesens sal in puin gelê word. En die duiwel se stad sal tot ‘n hoop stof afgebreek word.”

Nou is daar kettings wat van die geboeide massas afval. Hulle word vrygemaak van sataniese tronke van vrees en sonde. Jesaja noem hulle “’n magtige volk,” wat beteken “’n eens sonde-verharde volk.” En hy vertel vir ons dat hierdie selfde mense begin het om God te verheerlik. Vir jare was hulle vreesbevange vir hulle onderdrukker, Satan. Maar nou vrees hulle net die Here, die Een wat hulle verlos.

In daardie uur, sal vers 4 vervul word vir die hele wêreld om te sien: “Want U was ‘n vesting vir die arme, ‘n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; ‘n skuilplek teen die stortreën, skaduwee teen die hitte – want die geblaas van die tiranne is soos ‘n stortreën teen ‘n muur” (Jesaja 25:4).

Ek sien dit huidiglik selfs gebeur vir miljoene van mense oral oor die wêreld. Die armes van gees word sterk. Die behoeftige word gered. En die beangste vind oorvloedige vrede. Christus het hulle beskerming, hulle toevlug, hulle verdediger en hulle skuilplek geword. Wanneer ‘n geblaas van vurige versoeking teen hulle kom, slaan dit vas teen die muur wat hulle omring en disintegreer. Satan se eens verwoestende aanvalle val skadeloos op die grond.

In vers 5, vind ons een van die wonderlikste voorspellings van almal. Die oorspronklike Hebreeus lees as volg: “God sal die rumoer van die vreemdes demp...en die triomfsange van die tiranne verstom.” Die King James lees, “Thou shalt bring down the noise of strangers…the terrible ones shall be brought low.” Dit beskryf terrorisme. Ons lees reeds in vers 3 van “die vesting van die tirannieke nasies.” Die  Here beloof om terrorisme tot ‘n val te bring.

Ek dank God dat ons weermag Saddam Hussein gevang het. In werklikheid kan selfs ‘n wêreldwye koalisie wat deur die V.S. gelei word, nie terrorisme keer nie. Dit is ‘n onmoontlike taak vir mense. Maar Jesaja maak dit kristal helder: God sal vir sy mense optree. Soos die profeet vooruitgesien het wat oor die nasies gaan kom, gee hy raad, “Moenie angstig wees en vrees nie. Die Here het ‘n plan in aksie gestel. En dit was reeds voor die skepping in plek. Hy gaan die vreemde bedreiging, die vreemdeling en die terroris keer.”

TV nuus het gewys hoe terroriste op die lyke van V.S. soldate dans. Maar God het bekend gemaak: “Hulle gesange is op die punt om te op te hou. Ek gaan die tiranne onderwerp.” Radikale Islam is nie ‘n bedreiging nie. Die Here het belowe om dit neer te werp. Hy gaan die terroriste se gesange in roubedryf verander.

Huidiglik leef ons in die Bybelse periode bekend as die “laat reën.” En God se plan is in werking gestel. Oral rondom die wêreld, val die mure van Satan se stad om.

Dink aan wat met Kommunisme gebeur het. Letterlike mure is verwyder in Duitsland, Rusland en regdeur Oos Europa. Nou word die Bamboesgordyn ook stadigaan verwyder in Sjina en Mongolië. Miljoene mense wat eens onder Satan se tirannie geleef het, word bevry. En menigtes hoor die evangelie vir die eerste keer. ‘n “Magtige volk,” eens verhard in sonde, prys God nou.

Ek vertel vir jou dat ons in ‘n besonderse tyd leef. Ek het nog nooit in my vyftig jaar plus van bediening so iets gesien nie. Verlede jaar het ons span ‘n veldtog in Nigerië gehou en 500,000 mense het in ‘n enkele aand gekom. Daar is ‘n honger na God wat ongekend is. Ek sien dinge gebeur wat ek nooit gedroom het moontlik is nie.

Een van daardie wonders vind plaas in Iran. Verskeie dekades gelede, was my boek The Cross and the Switchblade daar in die geheim gedruk. ‘n Beraamde 25,000 kopieë was in omloop. Die Jesus film was ook in die geheim aan honderde groepe vertoon. Nou is daar honderde van duisende Iranese wat gered word deur evangelie boodskappe soos hierdie.

Ek het onlangs ‘n roerende verslag ontvang oor ‘n Teen Challenge dwelmprogram in ‘n Midde Oosterse nasie, wat ek nie mag noem nie. Hierdie Isalmitiese land is deurspek met  alkoholisme en dwelmverslawing. Regeringsamptenare erken die probleem het hande uitgeruk. Deur die verlossende krag van Jesus Christus, het daardie Teen Challenge program honderde gegradueerdes, wat gered, verlos en vrygemaak is, geproduseer.

Een gegradueerde is nou die opsiener van ‘n Pinkster denominasie daar. Hy sê dat die nasie se dwelmtsaar onlangs Teen Challenge se gradeplegtigheid bygewoon het. Die prominente Islamitiese leier het gehoor hoe dosyne jong manne opgestaan het en getuig het hoe Jesus hulle van hulle verslawings verlos het. (Wat die dwelmtsaar waarskynlik nie geweet het nie, is dat meer as eenhonderd gegradueerdes voortgegaan het om kerke in daardie nasie te bou.) Die regering erken nou Teen Challenge as die mees suksesvolle dwelmprogram in die land.

Dit gebeur oral oor die wêreld op ongelooflike maniere: Satan se ommuurde stad kom tot ‘n val!

God rig nou Jesaja se aandag op die kerk. Hy wys die profeet ‘n weelderige, bonatuurlike banket wat op ‘n berg plaasvind: “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6).

Verstaan jy wat Jesaja hier sê? Hierdie wonderlike fees sal plaasvind net voor Jesus se koms. Teen daardie tyd, sal God se mense nie roubedryf, in vrees rondrol, gespanne en verslane wees nie. Hulle sal nie lyk soos tenger geraamtes van geestelike maerte nie. Nee, Christus gaan terugkeer om sy mense te vind waar hulle feesvier op “vetspyse vol murg.”

God self het hierdie feesmaal voorberei. En huidiglik, in hierdie laaste uur, is die banket aan die gang. Die Here vertel vir ons in wese, “Ek het die beste wyn vir laaste gelos. En nou giet Ek dit vir my mense uit. Hulle nuttig wonderlike dinge in my teenwoordigheid.”

Ek sien hierdie ongelooflike fees plaasvind, terwyl ek oral oor die wêreld reis. Jong mans en vroue van God honger na ‘n evangelie wat hulle diep in hulle gees aanraak. Hulle het die evangelies wat ‘n ophef maak, skares en professionalisme verwerp. Hulle soek om met Jesus toegesluit te wees en om openbaring van Hom te ontvang. En hulle kom uit gebed met ‘n vuur wat almal rondom hulle aanraak.

Die berg waar hierdie fees plaasvind, is baie betekenisvol. Dit verteenwoordig ‘n heilige plek, ‘n huis waar die teenwoordigheid van Christus manifesteer. Dit is ‘n plek waar God se mense met hom gemeenskap en maaltyd hou en Hom in gees en in waarheid aanbid. Hierdie berg van God se teenwoordigheid is ‘n belangrike konsep vir sy mense. Waarom? Alles wat die Here in hierdie laaste dae doen, is nou verbind aan sy teenwoordigheid. En sy fees van vetspys en wyn kan net plaasvind waar Jesus se teenwoordigheid gemanifesteer word.

Wanneer ek van Christus se gemanifesteerde teenwoordigheid praat, praat ek nie van iets misties of uit ‘n ander wêreld nie. Wanneer Jesus Homself ook al bekend maak, word dit deur almal wat daar teenwoordig is, ervaar. Die Psalmis sê die berge smelt weg soos was in die Here se teenwoordigheid (sien Psalm 97:5). Eenvoudig gestel, elke geestelike muur en vleeslike blokkasie verdamp wanneer Jesus Homself bekend maak. Christus se teenwoordigheid is so werklik wanneer dit gemanifesteer word, dat jy dit amper kan aanraak.

So, wat van jou kerk? Is die tasbare, deurdringende, gemanifesteerde teenwoordigheid van Jesus merkbaar in julle midde? Smelt die mense soos was voor Hom, huil hulle oor hulle sonde en jubel hulle oor die ontsagwekkende vrede wat Hy bring? Gaan hulle op hulle knieë in allesoorheersende bewondering van Hom?  En verlaat hulle die plek met die besonderse gloed wat wys dat jy in Christus se teenwoordigheid was?

Wat van in jou huis? Ervaar besoekers die teenwoordigheid van Jesus in jou huishouding? Deurtrek die aroma van sy heiligheid jou gesin, jou huwelik en jou verhoudings? Is daar trane van smeekgebede deur gesinslede, uitroepe van gebrokenheid, ‘n opregte begeerte om alle verkeerde dinge reg te maak? Of heers die vlees?

Glo my, daar is ‘n geestelike berg wat hoog en heilig is. En dit word gevind in die binnekamer van gebed. Dit maak nie saak hoe groot of klein jou gemeente is nie. Al wat belangrik is in God se oë, is die gemanifesteerde werklikheid van sy Seun. Christus se teenwoordigheid moet ten volle duidelik wees vir die oog, die hart en al die sintuie. As dit nie is nie, dan sal geen van die heerlike werke wat Jesaja voorspel het so ‘n plek aanraak nie.

Daardie werke sal ook nie by ‘n huis plaasvind as Christus se teenwoordigheid nie meer daar is nie. Dit kan nooit gebeur as sy teenwoordigheid nie begeer, gesoek en gekweek word nie. So ‘n huis sal in teenstelling daarmee, geken word deur verwarring en wanhoop.

Elke Christelike huishouding is veronderstel om ‘n verhewe plek te wees, ‘n berg van skeiding van die wêreld en van die vlees, ‘n heilige banketsaal met Christus. Dit gebeur egter nie in baie Christelike huise nie, omdat dit met gemors besmet is. Onkuise, veragtelike boosheid word toegelaat om in te kom deur TV, films en die Internet.

Hoe verbaas moet die engele nie wees as hulle sulke boosheid in huishoudings, wat veronderstel is om Jesus se teenwoordigheid te kweek, sien nie. Menigte van Christene bring nou hulle tyd deur om internet pornografie, gehuurde sensuele video’s en verdorwenheid op TV in te drink. Dan gaan hulle uit na die filmteaters en betaal eintlik om te hoor hoe Christus se naam gelaster word. En hulle wonder waarom die vaalheid van geestelike dood oor hulle huis hang.

Dit is die Heilige Gees se werk om die teenwoordigheid en krag van Christus in ons kerke, ons huise en ons harte te bring en te behou. Maar menigtes gaan voort om die Gees te bedroef met ons afgodery. Ek vra jou: hoe kan Jesaja se visioen van heerlike seëninge en vryheid plaasvind in ‘n atmosfeer van wellustige genot? Watter sin maak dit vir ons om te bid vir ongeredde geliefdes wanneer ons huise besoedel is?

God is van plan om ‘n wonderlike reeks wonderwerke te doen wat ons hart en verstand sal oorweldig. En Hy het dit alles beplan nog voor die wêreld bestaan het. As Hy so ‘n verbondsplan ontwerp het, dan moet en sal dit gebeur. Sommige gaan egter nie die bankettafel haal nie. Diegene wat louwarm geword het, liefhebbers van gemak, mense wat hulleself oorgegee het aan die wêreld se plesiersoek-malligheid — nie een van hulle sal by die feesmaal wees nie.

Let op Jesaja se beskrywing van diegene wat teenwoordig is: “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6). Dit spreek van mense wat nie tevrede is met net die melk van God se Woord nie. Hierdie dienaars het hulle Here se teregwysing lief. Hulle honger na vaste kos waarheid, ‘n goddelike woord van getoetse, beproefde herders, ‘n boodskap wat deur die Heilige Gees aan die brand gesteek is. En hulle soek God se Woord daagliks vir hulleself en dors daarna om sy verfynde, verouderde wyn te proe.

“En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is” (Jesaja 25:7). Hier is twee wonderlike profesieë. En die eerste een sluit die Jode in. Die sluier waarna Jesaja hier verwys, is die geestelike blindheid wat die Jode se harte sedert Moses se tyd bedek het. Die apostel Paulus praat breedvoerig van hierdie blindheid:

“Maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem” (2 Korinthiërs 3:16). “Dat die verharding te dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Romeine 11:25-26).

Paulus het geglo wat Jesaja oor Israel geprofeteer het: dat die Verlosser die sluier van blindheid sou afgooi. ‘n Joodse oorblyfsel sou hulle tot die Here bekeer en sy barmhartigheid ontvang (sien Romeine 11:30). Geliefde, hierdie profesie word tans vervul. Dwarsdeur die wêreld gaan Jode se oë oop vir Christus. Een sekulêre tydskrif berig dat Jode opnuut na Jesus kyk. Ek sê, “Halleluja!” Dit is al wat dit verg, net een kyk.

Maar Jesaja se profesie het ook ‘n ander betekenis. Dit het te doen met ons onmiddellike familie. Dit is van toepassing op elke eggenoot, elke kind, elke familielid wat ‘n sluier het van geestelike blindheid, wat die Satan oor hulle gegooi het. Ek ontvang baie briewe van ouers wat skryf oor hulle kinders wat deur die vyand verblind word. Hulle het hulle kinders in ‘n Christelike omgewing grootgemaak. Maar nou is hulle verward en verbouereerd, “Ek verstaan nie wat gebeur het nie. Hulle glo net nie. Niks wat ek sê dring tot hulle deur nie. Ek kan hulle skynbaar nie bereik nie.”

Paulus sê die god van hierdie wêreld het hierdie jongmense verblind. Hulle het geloof verloor, omdat die vyand die lig van die evangelie versluier het. Daarom help dit nie vir ‘n ouer om te probeer kyk na ‘n dieper rede daaragter nie. Dit is alles die werk van Satan. Hy wil daardie kind gebonde, verward en in sonde hou. Die probleem strek verder as wat berading, prediking of ouerlike strategieë kan help. Dit gaan eenvoudig ‘n wonderwerk kos.

Onthou, die Bybel sê die vyand soek die kosbare lewe uit (sien Spreuke 6:26). Hy is op die uitkyk om sade van bitterheid en onvergewensgesindheid in die harte en gedagtes van mense te plant. Dit is hoe hy sagte, liefdevolle siele verander in slawe van sonde. En ons kan eenvoudig niemand bereik wat ‘n sluier oor sy hart het nie. Preke verhard hulle net nog meer.

Nee, ons stryd moet in die Gees plaasvind. Ons stryd is immers teen ‘n gees van die god van hierdie wêreld. En daardie bose gees word net geaffekteer deur ons feesmaal op die berg. Dit gaan die teenwoordigheid van Christus in ons lewens verg soos wat ons dit nog nooit geken het nie. Slegs Jesus se gemanifesteerde werklikheid sal Satan se slawerny laat wegsmelt en dit kragteloos maak teen ons geliefdes.

Alle rebelsheid, dwelms of partytjie-hou is sluiers van verhindering. Daar kan immers geen verandering in jou kind wees totdat hy of sy gewillig is om te vergewe nie. En dit vereis ‘n ontmoeting met die smeltende krag van Christus se teenwoordigheid. Dit is nou vir jou tyd om saam met Jesus by die feesmaal aan te sit. Jesaja vertel vir ons dat God alle demoniese sluiers sal vernietig en weggooi.

Hierdie belofte word egter nog beter. Elke spoor van geestelike dood in jou gesin gaan ook vernietig word: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee” (Jesaja 25:8). Jy mag vra, “Kan ek dit regtig glo? Geen trane meer oor my geliefde nie? Geen geestelike dood wat my kind gryp nie? Ek kan myself dit nie voorstel nie. Hierdie belofte kan nie vir vandag wees nie. Dit moet beteken dat dit bedoel is vir wanneer Christus in ewigheid heers.” Nee! Die volgende vers is bewyse dat hierdie profesie vir vandag is: “En hulle sal in dié dag sê” (Jesaja 25:9). Dit is ‘n “nou” profesie. God is van plan om dit te vervul in ons leeftyd, in hierdie uur.

In die komende dae, sal baie onder die krag en teenwoordigheid van Christus kom. Diegene wat ten volle na Hom toe terukeer — wat hulle bekeer, vergewe en na die berg gaan om met Hom ‘n feesmaal te hou — sal sien hoe al hulle trane in blydskap verander. Regdeur die wêreld is daar baie riviere van trane wat vloei by diegene wat reeds vrygemaak is. Na eeue van sataniese binding en slawerny, word mense se kettings losgemaak. En hulle huil trane van bekering en lof vir hulle Verlosser.

Jesaja was so opgewonde oor wat hy gesien het, dat hy amper in verwondering uitgebars het. Hy het geprofeteer dat wanneer ons begin om God se wonderwerke in ons midde te sien, sal ons uitroep, “Dit is die Here. Ons wag op Hom en Hy stuur vir ons sy verlossing” (sien Jesaja 25:9).

“En Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem” (Jesaja 25:8). Die woord smaad hier kom van ‘n Hebreeuse grondwoord wat dui op “lasterlike skande.” Dit spreek van sataniese magte wat spot en uitvaar teen toegewyde gelowiges. Sulke aanvalle kom veral wanneer ons vir ‘n geliefde bid om verlos te word van ‘n demoniese vesting.

Miskien het jy hierdie lasterlike smaad uit die hel gehoor. Hulle tart jou en sê, “Jy roem daarin dat God gebede beantwoord. Wel, waar is sy antwoord? Jy het gevas en vir jare gebid vir jou kinders, maar jy het steeds nie deurgedring nie. Na al hierdie tyd, het niks verander nie. Hy gaan nooit gered word nie.”

Dan hoor jy hierdie beskuldiging: “Dit is jou skuld. Jy het die saad van rebelsheid in hom geplant. Dit was jy wat sy hart verhard het.” Geliefde, dit is die duiwel se grootste beskuldiging teen God se mense. Ons moet nooit daarna luister nie. In plaas daarvan, moet ons op God se vaste Woord staan: “En Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem” (Jesaja 25:8).

Dit word selfs beter. Jesaja het die vernedering van Satan vooruitgesien. Hy het ook gesien hoe God al die mag en trots van bose owerhede vernietig het. “Want die hand van die HERE sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van ‘n miskuil” (Jesaja 25:10). Jesaja het dit duidelik gemaak: Satan se vernedering vind plaas op die berg, in die plek van aanbidding, waar Christus se teenwoordigheid gemanifesteer word.

Moab was ‘n werklike vyand van Israel. Maar dit het die simbool geword van alles wat boos en satanies was. God het sy mense vertel, “Ek gaan Satan in ‘n rioolput gooi. Jy is op die punt om jou dreigende vyand verslaan te sien.” Dit verwys nie na die toekomstige gebeurtenis waarin God die duiwel met kettings sal boei en hom in ‘n heltronk gooi nie. Nee, hierdie vernedering sal in ons leeftyd gesien word. En dit sal slegs gesien word deur diegene wat op die Here wag en Hom soek op die berg en sy teenwoordigheid in hulle laat manifesteer.

Satan sal steeds heers in die goddelose wêreld. Maar ‘n heilige oorblyfsel sal hom verneder sien in hulle harte en huise. God sal hom in ‘n modder van riool intrap. En die duiwel sal naarstigtelik probeer om uit te swem: “En as hy sy hande daarin uitsprei soos ‘n swemmer dit uitsprei om te swem” (Jesaja 25:11). In Hebreeus, dui hierdie beeld op wriemelende, konkelende skelmstreke. Eenvoudig gestel, wanneer Satan weet dat jou geliefde begin het om na Jesus te kom, sal hy elke skelmstreek denkbaar gebruik om sy duiwelse greep te probeer behou. Maar ons moenie bekommerd wees nie: God sal hom onder sy voete vertrap.

Op die ou end, sal die Here elke muur van Satan se stad-agtige vesting vernietig: “En die steil versterkings van jou mure werp Hy neer, gooi Hy af, laat Hy kom tot op die grond, tot in die stof” (Jesaja 25:12). Kan jy jou dit voorstel? Miskien kan jy nie. Is dit vir jou te moeilik om te glo vir so ‘n wonderlike ding in jou lewe? Ek vermaan jou om op Jesaja se profesie te staan. “Glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees” (2 Kronieke 20:20).

Petrus het verkondig dat Jesaja se visioen alreeds besig was om vervul te word in die kerk in Jerusalem. “Maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly. Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Handelinge 3:18-19). Petrus het geredeneer dat as die profesieë oor Christus tot die letter vervul was, dan sal al die ander profesieë ook vervul word. En dit sluit in tye van verkwikking deur in die Here se teenwoordigheid te wees.

Jesaja het verwys na sulke tye van verkwikking (sien Jesaja 28:12). Dit is tye wanneer God kies om te vernuwe en te genees. En Hy doen dit nie omdat ons dit verdien nie, maar vir die heerlikheid van sy eie Naam. Petrus het dit vervul gesien by Pinkster: Christus se teenwoordigheid was gemanifesteer en het herlewing en verkwikking gebring aan ‘n skare van duisende. Menigtes was vrygemaak, insluitende hele families. Ons sien dit later waar Petrus Jesus se teenwoordigheid in Cornelius se huis ingebring het en die hele huishouding gered is.

Op hierdie oomblik, glo ek dat ons aan die begin van die laaste herlewing is. Ons gaan sien hoe families uit slawerny gebring word. Miljoene teruggevalle mense se sluiers sal verwyder word. En afvallige seuns en dogters sal herstel word aan hulle ouers.

Wat moet ons doen? Ons moet doen soos Daniël gedoen het toe hy Jeremia se profesie gelees het en die tyd onderskei het: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy” (Daniël 9:3). Daniël het gedoen wat ons almal geroep is om te doen: om na God se heilige berg te kom. Mag elke toegewyde dienaar van Jesus Christus in hierdie laaste dae daar bymekaarkom!