God se Visie Vir Die Laaste-Dag Kerk!

David Wilkerson

Ek wil met jou deel wat ek glo God se visie vir Sy laaste-dag kerk is. Dit is ‘n visie gebaseer op die geopenbaarde Woord van God – omdat die Bybel duidelik beskryf hoe die kerk van Jesus Christus sal wees net voor Sy wederkoms.

Die kerk in Amerika is sekerlik ver van wat God se visie daarvoor is. Die meeste van dit wat ons vandag sien plaasvind in die naam van Christus is ‘n gruwel. Tog is daar oorblyfsel kerke versprei dwarsdeur hierdie nasie en dwarsdeur die wêreld wat voldoen aan God se heilige standaarde. Hulle lei heilige lewens, verkondig geregtigheid, glo in bonatuurlike dade. Hierdie kerke is lewend, vol van die Gees van God en maak ‘n impak op lewens en hele gemeenskappe vir Jesus.

Maar, vandag, werk hele denominasies meestal sonder die Heilige Gees. Hulle is gestroop van die teenwoordigheid van Jesus, bankrot van alle geestelike gawes. Hulle beoefen ‘n vorm van godsdiens sonder enige krag, oortuiging of reddende boodskap. Hulle is gesellig met die wêreld en is meer polities as geestelik. Hulle paai sonde – vertroetel homoseksuele, sien egskeiding oor, bespot die bonatuurlike en skuif opsy alle lering oor die hemel, hel, bekering en oordeel.

Sulke kerke wonder selfs of God lewe. Hulle is so koud, swak en bangerig, dat die wêreld hulle verag! Hulle het hoegenaamd geen invloed, geen respek, geen impak op die samelewing nie.

Maar die Nuwe Testament kerk het duiwels laat sidder! Dit het legioene demone in die afgrond in gedryf, tronkdeure oopgebid en het gemaak dat heersers ineengekrimp het van vrees. Geen wapen kon iets daarteen uitrig nie! Daardie vroeë gelowiges het sulke geloof en krag gehad dat kreupeles jubelend opgespring het, bedelaars het evangeliste geword. Hulle het in die bonatuurlike geglo – en hulle het blinde oë laat sien, dowe ore oopgemaak en allerhande soorte siektes genees. Hulle het selfs die dooies opgewek!

Ek sê nie God se laaste-dag kerk sal ‘n herhaling of kopie van die eerste eeuse kerk wees nie. Nee – ek sê dit sal selfs groter wees as dit! Dit sal magtiger, sterker, met ‘n selfs groter openbaring van Jesus wees. Dit sal ‘n groter salwing van die Heilige Gees hê as ooit – groter selfs as by Pinkster! God bêre altyd Sy beste wyn vir laaste!

Die profeet Daniël bevestig dit. Hy het gesê sekere profetiese waarhede was opgesluit, om slegs geopenbaar te word in die laaste dae:

“...die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe...en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Daniël 12:9-10).

God se volk sal begin om “nuwe dinge in Sy Woord” te verstaan! Hierdie dinge is reeds in die Bybel; dit is bloot nog nie ten volle geopenbaar nie. En Daniël het gesê hy het hierdie dinge gesien, maar kon dit nie verstaan nie, selfs met al sy goddelike wysheid: “En ek het dit gehoor maar nie verstaan nie...” (Daniël 12:8).

Maar vandag openbaar die Heilige Gees hierdie dinge aan geestelik onderskeidende heiliges!

“Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:9-10).

Die Heilige Gees woon in ons om hierdie dinge aan ons te openbaar!

Op hierdie oomblik is die Here besig om ‘n kragtige en tog nederige leër van herders na Sy eie hart voor te berei. En Hy berei ook ‘n oorblyfsel gemeente van honger skape voor wat weggedraai het van die doodsheid en sonde van die hedendaagse kerkliggaam. Alles word gereedgemaak vir daardie kerk teen wie die poorte die poorte van die hel nie sal seëvier nie. Dit sal warm wees, nie louwarm nie – en dit sal die einste fondamente van die hel skud. Geen krag op aarde sal in staat wees om dit te ignoreer of te verag nie!

Hier is wat ek in die Skrif sien as God se visie vir hierdie laaste-dag oorblyfsel kerk:

1. Weereens sal die “evangelieverkondiging volbring” word!

Jy wil dalk nie my volgende stelling aanvaar nie. Maar, soos ek dit sien, is die evangelieverkondiging van Jesus Christus nog nie “volbring” in hierdie geslag nie! Behalwe vir die bedienings van ‘n paar regverdige mans en vroue van God, is die evangelie wat ons vandag hoor, nie wat Paulus gesê het die “evangelieverkondiging volbring” nie.

Paulus kon vir sy geslag sê: “...ek [het] die evangelieverkondiging van Christus volbring...” (Romeinge 15:19). En hy het sy “evangelieverkondinging wat volbring is,” beskryf as een wat uit baie meer bestaan as woorde. Dit is ‘n evangelie van woord en daad!

“Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie – om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad...” (Romeine 15:18).

Paulus het in wese gesê, “Die heidene het hulle tot Christus bekeer, nie weens my verkondiging alleen nie – maar omdat my woorde vergesel was met wonderwerke!”

“Deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illirikum” (Romeine 15:19).

As Paulus gepreek en geleer het sonder tekens en wonders wat volg, sou sy boodskap nie sy volle impak gehad het nie. Dit sou nie die evangelieverkondiging volbring het nie! Hy het vir die Korinthiërs gesê, “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:12).

Let op Paulus se woorde in hierdie vers: tekens, wonders en kragtige dade. Die meeste Christene deins vandag terug wanneer hulle dit hoor! Waarom? Dit is omdat hierdie woorde ‘n gruwel gemaak is deur gewetenlose, mag-honger predikers en leraars!

Vir die laaste veertig jaar het ons ‘n droewige verdraaiing van die volle evangelieverkondiging gesien. Talle intelligente, Christus-liefhebbende gelowiges was geskok of teleurgestel oor die bespotting en misbruik van bonatuurlike werkinge deur indringers wat hulleself voorgestel het as figure van geloof en krag. Hierdie leuenaars het die volbringde evangelieverkondiging verander na dade van trots en persoonlike wins.

Jy sien hulle uitgebasuin word op televisie en in koerante. Jy sien ‘n gesmous, toneelspelery, valse genesings, ongegronde aansprake, geldvergrype, oordrywing – alles so gruwelik in God se oë. Dit is een van die mees skandelike episodes in die geskiedenis van die kerk!

Asof hierdie verdraaiings nie genoeg was nie, het die “voorspoedsevangelie” gekom, wat die verdraaiing erger gemaak het. Basies, om Christus te aanvaar, het beteken om “die lotery te wen”! Dit het beteken om die belofte van rykdom te hê – karre, klere, huise, lande. Wat ‘n gelowige “tot stand gespreek het” sou ‘n werklikheid word in sy lewe. Erger selfs, hierdie evangelie stel Jesus voor as een of ander wyndrinkende sport fanatikus wat lief is daarvoor om gek te skeer met Sy “kinders”!

Die grootste tragedie van dit alles is dat hierdie einste verdraaiings talle Godvresende herders, evangeliste en gemeentelede laat wegdraai van die waarheid van ‘n volbringde evangelieverkondiging. Hulle wil niks met tekens, wonders of wonderwerke te doen hê nie.

Geliefde, God is egter steeds God – en Hy werk magtiglik deur wonderwerke en wonders! Hy is steeds ons geneesheer – en Hy wil Homself magtig bewys aan diegene wat op Hom vertrou! Groot bonatuurlike werkinge het plaasgevind in die Nuwe Testament kerk sonder enige verdraaiings – sonder advertensies, windmakery, of een persoon wat aanspraak maak op al die mag en gesag. Die bediening van Paulus verleen ‘n voorbeeld:

By Troas, het Paulus so ‘n lang boodskap verkondig, dat ‘n jongman genaamd Eútichus aan die slaap geraak het terwyl hy op ‘n vensterbank gesit het. Die seun het drie verdiepings tot op die grond geval – en die Bybel sê Eútichus “is dood opgetel” (sien Handelinge 20:5-12).

Toe Paulus by die toneel daar onder opgedaag het, het hy almal stilgemaak. Toe het hy gedoen soos Elia gedoen het: Hy het homself oor die dooie seun uitgestrek. Skielik het lewe teruggekom in Eútichus. Die seun het opgestaan – opgewek uit die dood! Wat ‘n kragtige wonderwerk!

Nadat dit gebeur het, het Paulus niemand uitgestuur om die nuus te versprei dat ‘n wonderwerk plaasgevind het nie. Hy het nie vir Eútichus uitgenooi na sy sendingreise en getuig van sy opstanding nie. Daar was geen pamflette wat aangedring het, “Kom kyk na die seun wat uit ‘n gebou geval het en gesterf het. God het hom opgewek uit die dood! Kom luister na die prediking van Paulus, ‘n man van groot geloof en krag!” nie.

Nee – dit was glad nie wat gebeur het nie. In plaas daarvan, het almal bloot teruggegaan na die derde verdieping, het nagmaal gebruik en Paulus het voortgegaan om te preek. Die Skrif noem Eútichus nie eens verder nie. Waarom nie? Omdat die kerk verwag het dat bonatuurlik werke sou gebeur! Hulle het die evangelieverkondiging volbring – met tekens en wonders wat gevolg het!

Hierdie magtige dade het daagliks onder die heiliges plaasgevind – en geen mens het die eer gekry nie.

Hierdie groot dade was “buitengewone kragte” genoem.

“En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het” (Handelinge 19:11-12).

Hoe kan ‘n doek of ‘n voorskoot enige eer ontvang? Paulus het die gelowiges uitgestuur met sulke items, en op sy beurt het hulle vir ander vertel: “Die heiliges het oor hierdie kledingstuk gebid. As jy God sal glo en dit op jou neerlê, sal Hy jou genees.”

Toe die mense hierdie artikels neergelê het op hulle voorhowe, ledemate of liggame, het hulle gou uit die bed of bedmatjie uit opgestaan. Hulle was genees!

Hierdie “buitengewone kragte” het ‘n verwagte deel van die gelowiges se daaglikse lewens en aanbidding geword. Hulle hoef nie een of ander groot vergadering met trompetgeskal by te gewoon het nie. Nee – hulle het hierdie magtige dade as deel van hulle alledaagse wandel met die Here gesien!

Hier is my punt: As prediking alleen God se begeertes kon vervul, sou Amerika lank gelede al vir Christus gewen gewees het. Beskou wat gebeur het in Éfese, na drie maande van vreeslose prediking:

“...toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die weg...” (Handelinge 19:9)

Éfese was ‘n goddelose, afgodiese stad wat oorgegee was aan die okkult. Die bevolking was behep met okkultiese boeke en praktyke, towery, heksery. En na drie maande van vrymoedige prediking deur Paulus, het die mense net harder geword.

Maar toe het God begin om buitengewone kragte deur Paulus se hande te doen. Skielik was die siekes gesond gemaak, die kreupeles was gesonde ledemate gegee, die blindes het hulle sig herstel gehad!

Dit was tóé dat die demoniese kragte van Éfese begin het om geïrriteerd te raak. Sewe seuns van ‘n priester genaamd Skeva, het na ‘n sekere man se huis gegaan om duiwels uit hom te dryf “in die naam van Jesus wat Paulus verkondig.” Maar die legioen binne-in hierdie man het teen die sewe gedraai en hulle aangeval, hulle klere uitmekaar geskeur en hulle woes geslaan. Hulle het gehardloop vir hulle lewens, kaal en gillende!

Die gerug het vinnig deur die hele stad versprei: “...en ‘n vrees het op almal geval, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak” (Handelinge 19:17). Mense het uitgeroep, “Hierdie volgelinge van Jesus het gesag oor demoniese magte!”

Daarom het Paulus ‘n brandstapel aangesteek in die stadsplein:

“En verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was” (Handelinge 19:19).

Duisende boeke oor duiweluitdrywing, towery, okkultiese wetenskappe, towerspreuke, heksery – alles het in vlamme opgegaan! En dit het gebeur om dat die mense van Éfese gekonfronteer was met ‘n “evangelieverkondiging wat volbring was” – met tekens, wonders en magtige dade!

God voorsien ‘n laaste-dag kerk wat meer doen as preek en leer!

Ek glo die evangelieverkondiging kan nie volbring word nie, tensy dit vergesel word met die krag en demonstrasie van die Heilige Gees – en magtige wonders, wat bewys die evangelie is waar!

Paulus het vrymoedig verklaar, “En my rede en prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Korinthiërs 2:4).

Die Grieks beteken hier, “met bewyse.” Paulus het in wese gesê, “Ek verkondig die evangelie met bewyse. God en die Heilige Gees ondersteun my met wonders!”

Hebreërs 2:4 sê inderdaad God het Paulus se boodskap bevestig met tekens en wonders: “Terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil” (Handelinge 4:30). Die Nuwe Testament gelowiges het een gebed gehad: “...dat tekens en wonders deur die Naam van u Heilige Kind Jesus plaasvind” (Handelinge 4:30). Hierdie apostels het oral gegaan en die evangelieverkondiging volbring:

“...en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind” (Handelinge 2:43). “En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind...En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue...” (Handelinge 5:12-14). “En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaar gekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle almal is genees” (Handelinge 5:15).

Laastens, hier is een van die mees oortuigende van alle verse – wat bewys dat om die evangelieverkondiging te volbring moet dit tekens en wonders insluit:

“Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade geuitenis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind” (Handelinge 14:3).

Hierdie vers sê die apostels het vrymoedig bedien vir ‘n lang tydperk, genade en bekering verkondig – en God het gegee dat “tekens en wonders deur hulle hande plaasgevind het”!

In teenstelling, het die kerk vandag swak en oneffektief geword. Waarom? Omdat dit nie langer glo in die bonatuurlike nie! Teoloë sê vir ons op een of ander punt het God opgehou om buitengewone dade te doen. Presies wanneer al hierdie bonatuurlike aktiwiteit egter opgehou het, kan niemand sê nie!

Sommige maak aanspraak dat wonderwerk opgehou het toe Paulus gesterf het. Ander sê dit was ongeveer 150 A.D. Maar ek vra jou: Wie het die vermetelheid om die vermeende dag, week, maand of jaar te kies toe God gesê het, “Genoeg! Vir duisende jare het Ek tekens, wonders en wonderwerke verrig vir diegene wat geglo het. Maar nou het julle ‘n voltooide Bybel en is meer intelligent. So, nou kap ek julle af! Geen wonderwerke meer nie – niks meer tekens of genesings nie!”

Geliefde, moenie bedrieg word nie! Daar is ‘n groot misleiding agter dit alles.

Jy sien, Paulus sê vir ons dat in die laaste dae, sal Satan kom met “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thessalonicense 2:9). Jesus self het gesê, “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Markus 13:22).

Dink daaraan: Demone, valse Christusse, valse profete – almal op soek om hulle boodskap te bevestig met tekens en wonders van die leuen! Is ek egter veronderstel om te glo dat God sy Kerk sal blootstel aan so ‘n kragtige, wonderwerkende duiwel – maar ons laat met geen magtige wapens of bonatuurlike werkinge van ons eie nie? Sal Hy ‘n kerk hê wat sê, “Satan kan tekens en wonders doen, maar God kan nie?” Nooit! Dit is gans en al ondenkbaar!

Liewer, die Bybel sê God se heilige oorblyfsel kerk sal “uitgaan en oral preek, en die Here sal saamwerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop volg” (sien Markus 16:20).

Dit is wat God vir ons beplan het!

Jy vra, “Maar wat van al die tekens en wonders van die leuen onder Satan se hordes?”

Ek sê vir jou, net soos Moses se stok Farao se slange ingesluk het, sal God se magtige dade in die laaste dae al die duiwel se duistere werke insluk. Satan se werk sal nietig lyk in vergelyking met God se ontsaglike tekens en wonders!

Die wonderwerke van hierdie laaste-dag kerk sal eg, werklik, onweerlegbaar, onbetwisbaar wees – en tog sal dit nie welbekend wees nie. In plaas daarvan, sal dit voortkom van die hande van gewone, heilige, afgesonderde heiliges wat God ken en intiem met Jesus is.

Hierdie gelowiges sal uit die afgesonderde binnekamer van gebed kom – as ‘n klein, voorbereide leër vol geloof, met geen ander begeerte nie as om die wil van God te doen en Hom te verheerlik. Sonder trompetgeskap sal hulle in hospitale, huise en die strate ingaan, en hande lê op die siekes en ontsaglike wonderwerke van genesing sien. Hulle sal vreesloos teen demone staan en groot owerhede en magte neerwerp. Hulle sal so magtig in gebed wees, dat hulle hele nasies sal oopmaak vir die evangelie. En God sal Sy Woord bevestig deur magtige dade!

2. Hierdie laaste-dag oorblyfsel kerk sal bestaan uit Christene wat weier om deur brood alleen te lewe!

As jy dink jy is te alledaags vir God om te gebruik, luister aandagtig: God sal nie Sy laaste-dag werk doen deur groot-naam evangeliste of herders nie. Hulle alleen sal nie in staat wees om die groot beweging van Sy Gees te hanteer nie! God gaan in werklikheid elke huisvrou, tiener, bejaarde an almal wat Hom liefhet, nodig hê om Sy magtige werk te doen!

Hierdie laaste-dag leër sal bestaan uit Christene wat gespeen is van brood alleen. Laat my verduidelik wat ek bedoel:

God het deur Moses gesê:

“...dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens se lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (Deuteronómium 8:3).

Jesus self het hierdie vers aangehaal toe Satan Hom versoek het in die wildernis om klippe in brood te verander.

Brood staan vir alle natuurlike, materiële dinge noodsaaklik vir hierdie lewe. Dit sluit in voedsel, skuiling, klere, arbeid, lone. Brood verteenwoordig lewensmiddele – daardie aardse dinge wat ons nodig het en nie op sigself boos is nie.

Nee, die Here weet dat ons al hierdie dinge nodig het. Maar menigtes Christene leef slegs vir die dinge van hierdie lewe! Hulle lewens draai om hul werk, hul huis, die rekeninge betaal. En al hul gebede is slegs gefokus op hierdie behoeftes – hul hartseer, hul probleme, hul begeertes. Hulle leef van brood alleen!

Natuurlik, is dit eerbaar om ‘n werk te hê en vir jou familie te sorg. Dit is alles deel van die Woord om God te gehoorsaam en te leef deur elke woord wat uit Sy mond uitgaan. Maar sommige Christene gaan nooit verder as brood nie. Hulle bring ‘n leeftyd deur net om te oorleef!

Byvoorbeeld – hoeveel Christen jongmans en –vroue bring al hulle tyd deur om te dink oor hulle behoefte vir ‘n maat? Hoeveel van hulle gebede word daarop gefokus om God te vra om hulle eensaamheid te vul! Hulle leef van brood alleen.

Hoeveel getroude pare bring al hulle tyd deur om gefokus te wees op beproewings en probleme met hulle kinders? Hierdie een saak verg al hulle aandag, al hulle gebede. Hulle is gefokus op een behoefte – op brood!

Jesus het ons geleer om ons te bid, “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matthéüs 6:11). Maar eerstens sê Hy ons moet bid, “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied...” (Matthéüs 6:10). Ons moet eers op God se belange fokus – om te bid dat Sy wil geskied!

Waaroor het jy bo alle ander dinge gedink die afgelope ses maande? Wat het die meeste van jou tyd en gebede in beslag geneem? Was dit meestal broodsake – persoonlike behoeftes?

As jy slegs op brood fokus, dan sal jy geen lewe hê nie! Jy leef in ‘n wildernis, soos die kinders van Israel. Elke dag het hulle opgestaan en begin smeek om brood. Nadat God dit egter vir hulle gegee het, het hulle geskreeu vir vleis. Hulle roep gedurig uit dat hulle persoonlike behoeftes aangespreek moet word – elke dag vir veertig jaar!

Geliefde, dit is verveeldheid – sleurwerk! God het nooit dít bedoel vir Sy kinders nie. In plaas daarvan, het Hy vir Israel deur Moses gesê, “Julle behoort te leef deur elke woord wat uit My mond uitkom! Ja, Ek het vir julle gesê Ek sal vir julle brood gee. Maar moenie daar ophou nie. Gaan verder! Ek het vir julle gesê daar is ‘n land daar voor wat vloei met melk en heuning, met riviere, bome, woude, groen weivelde. En Ek wil daardie plek vir julle hê!”

As jou hele lewe draai rondom oorlewing – as jy nie jouself afgesonder met Jesus, groei in Sy Woord en jou hart gereed maak soos ‘n bruid haarself vir haar Man mooi maak nie – dan sal jy geen lewe hoegenaamd hê nie! Jy is verveeld, onvervuld! Jy mag kerk toe kom en ‘n bietjie lewe hier en daar ontvang. Maar jy bring nie lewe voort nie!

Op hierdie oomblik is God besig om ‘n volk op te rig wat nie gefokus is op broodsake nie. In plaas daarvan, is hulle gefokus op Sy wil vir hierdie middernaguur! Hulle is moeg om te leef in ‘n wildernis van blote oorlewing. Al wat hulle wil hê, is om God se wil te ken te doen. Hulle is gewone mense wat gespeen is van ‘n lewe van brood alleen. Hulle opleiding het gekom van die Heilige Gees – in die geheime binnekamer van gebed!

Elke lid van hierdie laaste-dag leër moet gereed en voorbereid wees in hulle harte – omdat God gereed staan om Sy groot, laaste uitstorting vry te stel!

Voor Jesus gekom het, het Johannes die Doper uitgegaan “om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei” (Lukas 1:17). Dit was ‘n prediking van bekering – ‘n oproep tot mense om hulle harte voor te berei.

Paulus het ook gepraat van “toeberei vir elke goeie werk” (2 Timótheüs 2:21). En Samuel het vir Israel gesê dat God ‘n nuwe ding vir hulle sou doen, as hulle die volgende sou doen: “rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen” (1 Samuel 7:3). Ook sê Dawid, “HERE, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk, u oor sal luister” (Psalm 10:17).

In hierdie laaste vers, beskryf Dawid ‘n eenvoudige, drie-stap plan om die Here se plan en wil vir jou lewe te ken:

1. Smeek Hom (bid).

2. Berei jou hart voor om Sy stem te hoor.

3. Hy sal sorg dat jy weet. Die Gees sal met jou praat!

Binnekort sal God Sy uit heerlike beker die grootste maat van Sy Gees uitstort wat die wêreld nog ooit gesien het. Groot oortuiging van sonde sal oor jou bure, medewerkers en ongeredde familielede kom. Die Heilige Gees sal oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel!

Oral sal mense hartseer wees. En hulle sal van hulle dooie kerke af wegdraai om diegene te soek wat met God wandel. Hulle sal desperaat wees om iemand te vind wie se hart voorberei is!

Geliefde, jy is een van diegene wat God roep! Hy gaan honderde duisende gewone dienaars gebruik vir Sy eindtye werk van mens-tot-mens bediening. Daarom vra ek jou: Berei jy op hierdie oomblik jou hart voor om Sy werk te doen, beide in jou en deur jou? Of sit jy op die kantlyn en verduur ‘n wildernislewe?

Bely voor God vandag: “O, Here – ek wil hê my lewe moet tel! Ek weet op hierdie oomblik dat ek in ‘n wildernis van wanhoop leef, op brood alleen. Maar ek wil lééf!”

Delf in Sy Woord in. Leer om Hom daagliks te soek. Daar is ‘n rewolusionêre krag in die voorbereiding van jou hart! Dit is deur hierdie voorbereiding dat betekenis en volheid in jou lewe inkom. Dit verander jou gevoelens, jou persoonlikheid – en dit stel krag in jou vry!

Wanneer God sien jy is gereed, sal Hy jou by groot geleenthede uitbring om Sy werk te doen. Jy sal nie eens jou huis hoef te verlaat nie. God sal die behoeftes tot voor jou deur bring!

Maar wees gewaarsku: As jy Hom nie begin soek nie, sê die Bybel, sal jy jou na goddeloosheid wend. “En Hy het gedoen wat verkeerd was, want hy het nie sy hart gerig om die HERE te soek nie” (2 Kronieke 12:14).

Ons dien ‘n magtige God wat in hierdie uur Sy mense voorberei vir ‘n magtige werk:

“Die HERE sal uittrek soos ‘n held, Hy sal die ywer opwek soos ‘n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar” (Jesaja 42:13).

So berei jou hart voor om Hom te ontmoet. Word ‘n parate dienaar, toegerus en voorberei vir Sy groot, laaste-dag uitstorting. En jy sal Sy heerlikheid sien lewend word binne-in jou in hierdie laaste uur!

Halleluja!