God se Verborge Laaste-Dag Leër

David Wilkerson

Daar is iets baie kragtig en wonderlik aan die gang in die wêreld vandag! God is aan die werk om iets in die verborgene en stilte te doen – en dit is so bonatuurlik dat dit bokant menslike begrip is. Wat Hy tans doen, gaan die hele wêreld beïnvloed in hierdie laaste dae.

God berei ‘n klein maar magtige leër van Christene voor! Hierdie leër gaan die mees toegewyde leër op die hele aarde wees. En die Here sal verskyn om hulle te beveel om heldedade te doen en die hel te laat bewe. Hy gaan die eeue afsluit met ‘n rein, toegewyde, vreeslose oorblyfsel!

My hele lewe lank het ek stories gehoor oor ons goddelike voorvaders wat sonde gehaat het. Hulle was manne en vroue wat ure en selfs dae deurgebring het in vas en gebed. Hulle het God se stem geken. Hulle het sonder ophou gebid. En hulle het die krag en vermoë gehad om suksesvol op te staan teen die sedeloosheid van hulle tyd.

Hierdie voorvaders het lank gelede reeds gesterf. Maar God is tans in die proses om nog ‘n leër op te rig – hierdie keer sal Sy krygers egter nie bestaan uit bejaarde, gryshaar vaders en moeders van Sion nie. Hierdie nuwe leër sal bestaan uit gelowiges, beide jonk en oud – gewone Christene wat van God besit geneem het! ‘n Hele nuwe realm van bediening is op die punt om te voorskyn te kom!

Die denominasionele kerkstelsel lyk of dit in sy doodsnikke is. Dit het amper geen invloed in die sekulêre wêreld nie, geen magtige sterkte in Christus nie. ‘n Groeiende aantal bedienaars raak oral afvallig – met owerspel, hebsug, trots en verdraaiings van allerhande soorte. Herders van evangeliese kerke bring vermaak en windmakery in. Een herder het geroem, “Ons gee Broadway vir ons mense.” Ek weet van evangeliese gemeentes waarin ten minste 50 persent van die paartjies geskei is. In sommige streke is daardie syfer so hoog as 80 persent, volgens wat gemeentelede vir my skryf.

Owerspelers, hoereerders, mense betrokke by die okkult en heksery – dit kruip alles in die kerk van Jesus Christus in. Sommige beskuldig my dat ek “hard” op herders is. Dit is nie so nie – omdat ek in aanraking is met talle goddelike herders wat net so bedroef is as ek oor die afvalligheid in die bediening vandag. Daar is ‘n heilge oorblyfsel van goddelike herders in die land en ek dank God vir elkeen van hulle. Dit is egter ‘n feit dat meer en meer bedienaars wat haastig op pad is na kompromie en verdorwenheid en tans bespot die wêreld die huis van God! Die duiwel spog daaroor en maak aanspraak op oorwinning deur wettige aborsie, geil homoseksualiteit, dwelms, alkohol, Satanisme en ‘n Islamitiese inval.

Die Bybel sê egter ons moenie angstig wees nie! God het ‘n plan en Sy plan word geopenbaar. In die Skrif word dit eenvoudig uiteengesit. Elke demoon in die hel weet inderdaad daarvan!

Baie van God se plan kan gevind word in die eerste vier hoofstukke van eerste Samuel.

Die profeet Samuel is ‘n tipe van God se heilige oorblyfsel. Die Here het hom gekies te midde van die slegste van tye en het hom weggesteek terwyl hy in opleiding was, totdat dit vir hom tyd was om Sy nuwe dinge te voorskyn te bring. God het vir Samuel gesê, “...Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit” (1 Samuel 3:11).

Hierdie nuwe dinge sou hulle verwonder en almal wat dit gehoor het, verskrik. Wat was dit egter? Dit was die oordeel van God oor die ou, verdorwe, afvallige godsdienstige stelsel – en die opleiding, opwek en salwing van ‘n nuwe, heilige oorblyfsel!

Hou nou in gedagte – wat God gedoen het in Samuel se dag, doen Hy in elke geslag. Wanneer die georganiseerde kerk afvallig word, kompromieë maak en koud word, verloor God moed daarmee en wek ‘n ander een op. In elke geslag was daar ‘n oorblyfsel, ‘n biddende volk na Sy eie hart.

Eli en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, verteenwoordig die dooie, verdorwe kerk wat die Here se weë verlaat het. Die Bybel sê vir ons, “Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie” (1 Samuel 2:12). Hierdie jongmanne het die heilige dinge van God bespot. Hulle het owerspel gepleeg by die deur van God se Tabernakel! Toe hierdie vroue daarheen gekom het om die Here te dien, het Eli se seuns hulle uitgesoek en verlei. Hierdie mans het geen vrees vir God gehad nie – hulle het bloot deur die rituele van die offers gegaan.

Die erste van alles was dat hulle vader hulle sonde oorgesien het! Eli was nou meer as negentig jaar oud, en hy het vet, gemaklik en hardnekkig geword. Hy het verslaaf geraak aan die keur, rooi vleissnitte wat sy seuns uit die Tempelofferanders geneem het. Eli het geweet hierdie vleis was verfoeilik – maar hy het niks gedoen om sy seuns te keer om dit te steel nie. Hy het hulle owerspelige bevredigings oorgesien.

Dit is ‘n beeld van die goddeloosheid waarna die georganiseerde kerk hulle wend vandag. Hele denominasies is nou besig om homoseksuele te wil aanstel – om ‘n gruwel in God se huis in te bring! Eli en sy seuns verteenwoordig ook die dooie, koue, formele priesterskap wat sag geword het teenoor sonde. Soos Eli, is baie herders vandag lafaards wanneer dit daarby kom om sonde by die naam te noem. Hulle gaan bloot deur die rituele van die bediening, en het ‘n gedaante van godsaligheid, maar geen krag nie. Dit is omdat hulle gemaklik geword het in hulle posisies! Hulle het God se aanraking verloor het hoor nie meer sy stem nie, omdat hulle sonde oorsien!

God het gesê, “En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seun skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie” (1 Samuel 3:13). Omdat Eli geweier het om goddeloosheid te oordeel en te bestraf, het God sy geestelike gesag verwyder. En dit is presies wat in die kerk van Jesus Christus gebeur vandag!

‘n Ruk gelede het ek gepraat met verskeie Pinksterherders wat ons kerk besoek het. Toe ek vir hulle vertel het van my kommer oor al die verdorwenheid wat in die kerk ingesluip het en die gebrek aan goddelike teregwysing, het die leier van die groep bloot sy kop laat sak. ‘n Ander herder het bely: “Broer Dave, Ek is bang as ek opstaan en praat, sal helfte van my gemeente weggaan.” Al die mans in daardie kring was sag teenoor hulle mense – bang om hulle aanstoot te gee!

Ek kan eerlik sê ek weet nie van tien gryshaar bedienaars met die moed om teen sonde uit te vaar nie. Die meeste ouer krygers vir die Here is óf geestelik dood of sterwend – geparkeer voor hulle TV, drooggesuig van alle krag, omdat hulle gedagtes getreiter word deur die gees van hierdie wêreld. Hule is moeë Eli’s – wieg hulleself tot in die vergetelheid in, word vet en voorspoedig, bang om met sonde af te reken!

God was siek en sat vir die Eli-geslag!

Die Here het ‘n naamlose profeet gestuur om Eli te waarsku: “Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen behaarde in jou huis sal wees nie” (1 Samuel 2:31). God het in wese, met ander woorde gesê, “Ek verlaat hierdie huis – Ek verwyder My teenwoordigheid. Ek sal jou magteloos maak en Ek sal jou goddelose herders oordeel. Ek gaan hierdie ou stelstel aan die vyand oorgee!” “Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou...” (vers 32).

Op die huidige oomblik, word baie van die Nasionale Raad van Kerke se sogenaamde diskresionêre fondse gebruik om Kommunistiese guerillas dwarsdeur die wêreld te ondersteun.

En dan wonder ons waarom die kerk in Amerika nie enige geestelike mag of invloed het nie! Talle denominasionele kerke het verander in lykshuise en roudienslokale. Hulle het geen lewe nie, geen krag nie – omdat God van hulle af weggegaan het!

Eli se kerk –  die kerk by Silo – is ‘n voorbeeld hiervan. Die Here het daardie kerk ernstig geoordeel en verlaat en dit het alles in een dag gebeur: “...en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertigduisend voetgangers geval. Die ark van God is ook geneem , en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, het gesterwe” (1 Samuel 4:10-11).

God het gesê, “Genoeg!” En binne een dag was die ark van die Here gevange geneem om die verwydering van Sy teenwoordigheid te simboliseer. Die heerlikheid het weggetrek – Íkabod is gebore – en God het vinnig opgetree en hierdie bediening geoordeel! Toe Eli die nuus dat die ark gevange geneem is, gehoor het, “...val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar” (1 Samuel 4:18).

Dit is ‘n lewendige beeld van wat met baie van georganiseerde godsdiens in Amerika gebeur vandag. Die stelsel is onder oordeel – sy bedienaars val links en regs, sy leiers is geestelik dood. Die heerlikheid van die Here is weg – en die kerk is oorgegee aan die vyand!

Dit is net soos dit was in die dae van Jeremia. Die mense van sy tyd het gesê, “Ons is veilig – ons is in geen gevaar nie. Ons sal nie ons saligheid verloor nie.” Maar God het deur Jeremia gepraat:

“Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! – om al hierdie gruwels te doen?...Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel “ (Jeremia 7:9-12).

In elke geslag waarsku God koue, verdorwe kerke: “Gaan terug na Silo – gaan terug na die kerk van Eli. Sien wat Ek met Hofni en Pinehas gedoen het! Sien wat het gebeur toe ek My teenwoordigheid weggeneem het. My heerlikheid sal wyk wanneer daar sonde in die laer is!”

Terwyl die kerk van Eli onder oordeel was, was die Here besig om ‘n oorblyfsel op te rig! Samuel verteenwoordig hierdie heilige oorblyfsel – ‘n voorbereide liggaam van gelowiges wat uitstyg bo die murasies van die ou, vervalle kerk.

Ek wil vir jou wys wat ingaan in die opleiding en voorbereiding van hierdie laaste-dag oorblyfsel:

1. Die oorblyfsel word altyd gebore deur gebed en smekinge!

Hanna het geboorte geskenk aan haar seun, Samuel, deur bitter trane en baie gebed: “En bitter bedroef het sy tot die HERE gebid en bitterlik geween” (1 Samuel 1:10).

Probeer om die toneel voor te stel: Hanna is elke dag by die tempel, op haar knieë voor die altaar, verpletter en gebroke omdat sy kinderloos is. En terwyl sy huil, spot haar teëstander – Penina, haar man se ander vrou – met haar. “En haar mededinger het haar ook bitterlik geterg om haar te vertoorn...” (1 Samuel 1:6).

Daar is drie belangrike dinge wat ek wil uitwys in hierdie gedeelte:

Eerstens, die oorblyfsel wat Samuel verteenwoordig, word gebore in droefheid en smekinge.

Tweedens, diegene wat bid en rouklaag na God se hart, sal deur teëstanders uitgetart word.

En derdens, God se oorblyfsel word altyd verkeerd verstaan! Let op wat gebeur met Hanna terwyl sy bid:

“En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee [haar dopgehou] – want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het beweeg...het Eli gedink dat sy dronk was. En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos ‘n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg” (1 Samuel 1:12:14).

Eli was so uit voeling met God – so dood in sy gees – dat hy gedink het Hanna is dronk! Hy het vir haar gesê, “Vrou, hoe lank gaan jy só hier inkom? Sit weg die bottel!”

Dit is vir my verstommend! Eli wou nie sy seuns berispe vir hulle openlike dronkenskap en owerspel nie – tog het hy hierdie vrou van God as ‘n dronklap aangesien!

Vandag het niks verander nie. Toegewyde Christene gee hulleself oor aan gebed, leef heilig en afgesonder tot Jesus – en tog is daar herders wat dikwels hulle teëstanders word en hulle bespot en vervolg!

Toe Hanna by die altaar was, was sy vol droefheid, belas met die geboorte van ‘n seun. Al wat sy kon doen, was om haar lippe te beweeg weens haar gekreun in die Gees. Sy het gebid, “...as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ‘n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe...” (1 Samuel 1:11).

As jy God sal liefhê met jou hele hart, siel, verstand en krag, dan sal jy soos Hanna die pyn en droefheid van God vir Sy kerk voel. God het Hanna egter verhoor! Dit is wat Samuel se naam beteken: “God het my gebede verhoor!” En net so vandag hoor God die gebede van diegene wat smag na die geboorte van ‘n heilige, nuwe werk van die Gees.

Hierdie gelowiges wil sien hoe God op ‘n besonderse manier werk – en die Here gaan hulle smeking verhoor! Uit die geestelike baarmoeder van ‘n onbekende, maar klein leër van voorbidders, word ‘n liggaam van gelowiges gebore – ‘n Samuel Geselskap, wat hulleself heeltemal aan God oorgee!

Hier is twee onderskeidende kenmerke van God se heilige oorblyfsel:

1. Hulle bid soos Hanna. Hulle las is diep en hulle hart is omgekrap oor die boosheid in God se huis.

2. En, soos Hanna, gee hulle hulleself oor aan gebed elke dag van hulle lewens. Hulle is nie op en af, koud en warm nie. Nee – hulle is heeltemal aan God oorgegee! Hulle gaan na Hom toe en stort hulle siele uit: “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons...” (Psalm 62:9).

“Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my...” (Psalm 42:5).

Samuel het ‘n belangrike man van gebed geword – soveel so, dat Israel hom nooit vir raad gevra het nie. In plaas daarvan, het hulle vir hom gevra om vir hulle te bid! Die Skrif sê dat toe die mense ‘n koning  wou hê, “...die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel. Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die HERE u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie...” (1 Samuel 12:18-19).

Keer op keer lees ons van die mense wat by Samuel aandring, “Bid vir ons.” Dit was omdat hulle geleer het om sy gebede te vertrou! En in hierdie laaste dae, gaan daar ‘n biddende oorblyfsel wees vir wie mense ook sal vra vir gebed. Mense sal hardloop om hulle in die hande te kry en uit te roep, “Ek ken iemand wat God aanraak!”

Berading self sal nie die behoefte aanspreek nie. Liewer, dit sal die krag wees van biddende mense wat die gedagtes van Christus ken.

Dierbare heilige, God wil jóú daardie persoon maak! Hy wil hê jy moet in staat wees om Hom aan te raak en van Hom te hoor. Hy wil jou ‘n bediening aan ander gee wat na jou toe sal kom met hulle laste en beproewings. En terwyl jy vir hulle bid, sal Sy Woord na vore kom!

2. Die Oorblyfsel is opgelei om die stem van die Here te ken!

God het nie op hierdie stadium met Israel gepraat nie weens die sondigheid van die priesterskap en die mense. Die Bybel sê: “...en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie” (1 Samuel 3:1)... Tog, te midde van hierdie hongersnood van die Woord, het die Here aan Samuel verskyn: “...die HERE het Samuel weer geroep...Maar Samuel het die Here nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie” (1 Samuel 3:8,7).

Samuel was net twaalf jaar oud op daardie stadium. En hoewel hy ‘n toegewyde kind was, het hy nog nie die stem van die Here geken nie. Daarom het God na Samuel se bed gekom en eenvoudig na hom geroep. Eers het Samuel gedink dit was Eli wat gepraat het. Hy het nie geweet hy was besig om opgelei te word om stemme te onderskei – om direk van God te hoor nie!

Let asseblief hier op: God het nie met Eli gepraat nie! Dit lyk inderdaad of daar tot nou toe net een profeet was wat van God gehoor het – die naamlose man wat Eli gewaarsku het dat God op die punt was om hom af te kapf. Dit was egter ‘n mens se stem, die enigste stem wat Eli kon hoor – omdat hy doof geword het vir die stem van God!

En so gaan dit vandag! ‘n Eli-bediening, geestelik dood en vol kompromie, het alle onderskeiding, alle gesag en alle aanraking met God verloor. Wat vandag nodig is in die kerk, is mans en vroue wat kan opstaan met geestelike gesag – omdat die woord wat hulle verkondig, ondersteun word deur ‘n lewe van geregtigheid! Soveel predikers vandag is nie in staat om voor mense te staan en te sê, “So sê die Here!” nie – want hulle is nie ingestel op God se stem nie!

Om van God te hoor, verg meer as stiltetyd alleen. Dit verg meer as om eenvoudig te sê, “Spreek, Here, U dienaar luister!” Nee – daar is nie ‘n formule om God te hoor nie – daar is nie tien stappe om te volg nie. Jy sien, voor jy God kan hoor, moet Hy met jou praat!

Eli kon maande alleen deurgebring het, met God afgesonder het en uitgeroep het, “Here, praat met my!” Maar hy het geen kans gehad om God se stem te hoor nie – omdat God nie met hom gepraat het nie. God wou met Samuel praat. Hy praat slegs met diegene wat voorbereide harte het om te hoor!

Jy kan vergeet dat goddeloosgesinde predikers ooit die stem van God sal hoor. Vergeet van enige gemeente om moontlik God se stem te hoor as hulle voortgaan in voor die voet egskeiding, hoerery en oormatige oorgawe aan sport, vermaak en plesiere. Die enigste dinge wat God met hulle sal praat, is enkele woorde: “Bekeer julle! Keer terug! Ween!”

Samuel het geen diep teologiese kennis van God gehad toe die Here die eerste keer met hom gepraat het nie. Maar hy het ‘n teer, rein, toegewyde hart gehad wat oop was vir die Here. So, wat dink jy was die eerste ding wat God vir Samuel geleer het nadat Hy met hom gepraat het?

“Ek sal nie sonde in My huis toelaat nie! Ek sal nie ongeoordeelde sondes in my dienaars oorsien nie.”

In wese het die Here vir Samuel gesê, “Ek gaan Eli oordeel – omdat hy geweet het sy seuns was goddeloos, maar hy het niks gedoen om hulle te keer nie! Hulle moes van hulle mantels gestroop en aangesê gewees het, ‘Julle kan nie naby die heiligdom gaan nie!” Samuel, nou wil Ek vir jou My haat vir sonde in My huis wys. Ek wil vir jou wys wat dit gaan kos om My stem te hoor en saam met My te wandel!”

Samuel moes gesidder het oor die Here se volgende woorde aan hom: “Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit” (1 Samuel 3:11). Samuel het besef dat God Eli, wat hy so bewonder het, gaan verlaat. En hoe moes die seun getreur het toe God vir hom gesê het, “Ek gaan hierdie goddelose, slegte bedienaars vernietig. En ek gaan ‘n volk oprig wat smag na My!”

Die heilige oorblyfsel in hierdie laaste dae weet dat God tans besig is om Sy kerk te oordeel. En hulle weet wat God se plan is. Hulle weet Hy gaan onheilige bedienings neerfel en vernietig!

Dit is geen wonder nie dat die Bybel sê Samuel het sulke betroubare woorde gespreek – hy het die stem van God gehoor! Hy het baie tyd in gebed deurgebring om die Here te soek, om met Hom afgesonder te wees – en God het duidelik met hom gepraat te alle tye.

Daar is ook tans ‘n heilige volk wat opgelei is om God se stem te hoor. Hierdie biddende heiliges stort hulle harte uit voor Hom – en op Sy beurt stort Hy Syne uit in hulle!

3. Die oorblyfsel sal opgelei word in ware verlossing – deur die kennis van die weë van God!

Ek het in talle voorafgaande boodskappe gewaarsku: Amerika stuur af op chaos en ‘n ineenstorting! Haat-spuwende Louis Farrakhan het gewilder geword in die swart gemeenskap as enige ander figuur behalwe Jesse Jackson. (Farrakhan is nou meer bekend onder swartes as selfs Marhin Luther King!) En baie wit geselsprogramgashere, sommige van hulle hier in New York, wakker haat teen swartes aan.

Jy het moontlik my boodskap oor die komende rasse-oorloë gelees of daarvan gehoor. Nou mag dit lyk asof dit nie sal gebeur nie. Maar binnekort, wanneer ekonomiese chaos kom, pasop! Daar sal “rasse-leërs wees – wittes teen swartes, swartes teen Jode, Koreane teen swartes.

Ons staar só ‘n tyd van oordeel in die gesig dat die woord verlossing ‘n heel nuwe betekenis sal aanneem! In die verlede het Christene hoofsaaklik aan verlossing gedink as fisieke genesing – herstelde gesig, kreupel ledemate genees. Maar binnekort sal daar soveel toorn uit die hemel op ons neerdaal dat die grootste verlossing dié van vrees en angs sal wees!

Verlossing in daardie tyd sal beteken om “’n betroubare woord uit die hemel te hê.” Jesus het gesê mans se harte sal hulle laat beswyk van vrees as hulle die verskriklike dinge sien wat oor die aarde kom. En mense sal inderdaad uitroep om te weet wat God volgende gaan doen. Hulle sal in alle rigtings laat spaander en die stem van iemand wil hoor wat kalm, vredevol is en nie mal te kere gaan nie. Hulle sal skreeu, “Sê my – is dit God se oordeel? Wanneer gaan dit alles ophou?”

En wie dink jy sal die antwoorde hê? Jy – die gewone Christen wat met God afgesonder het! Jy sal vol kalmte en vrede wees terwyl alle ander dinge in duie stort – omdat God met jou is, en jy het uit die hemel gehoor. Hy het jou gewaarsku dat dit alles sou gebeur – en Hy het belowe om jou te beskerm!

Ek het ‘n idee in my kop wat ek glo van die Here is. Dit is honderde karre wat uit New York Stad uit vlug...van motorkampeerplekke in New Jersey en Pennsylvania...van mense wat in hulle karre slaap vir weke aaneen, net om weg te kom van al die chaos af. Dieselfde sal ook gebeur in ander stede. Dit gaan bokant enigiets wees wat ons ons kan indink. Maar God gaan Sy heilige oorblyfsel hê – ‘n groep mense wat standvastig, seker en onbeweeglik is! Soos Samuel, sal hulle woorde nie op die grond val nie!

Samuel het die antwoorde gehad vir Israel; hy het ware verlossing aan hulle gebied. Meer as vyftigduisend mense het gesterf omdat hulle in die donkerte van die ark ingeloer het. Oral waarheen die ark gestuur was, het mense gesterf soos vlieë. Die hele land was in chaos – niemand het geweet wat om te doen nie!

Die mense het gesê, “Hierdie oordeel moet van God af wees! Wie sal na Hom toe gaan namens ons?” Toe het hulle vir Samuel gestuur. En hy het vir hulle gesê, “Ek wil hê julle moet saam met my na Mispa gaan. Daar sal ek jou die weg daaruit wys!” Samuel het die regte boodskap vir die krisis uur gehad:

“Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne” (1 Samuel 7:3-4).

Die antwoord sal nie gevind word om vir almal en elkeen te bid nie, maak nie saak hoe sondig hulle toestand is nie. Daar was geen omvattende belofte van verlossing vir almal wat dit wou hê nie. Nee – Samuel het uitgeroep, “Kry julle harte reg! Oordeel julle sonde! Maak julle harte gereed voor die Here!” Eerstens, sonde moet bestraf, geoordeel en laat staan word.

“Daarop het die kinders van Israel die Baäls en die Astartes verwyder en die HERE alleen gedien. Verder het Samuel gesê: Versamel die hele Israel by Mispa, dan sal ek tot die HERE vir julle bid” (1 Samuel 7:4-5). Daarom het die mense gevas en hulle voor die Here verneder: “Hulle kom toe bymekaar by Mispa...en daar gesê: Ons het gesondig teen die HERE. En Samuel het die kinders van Israel in Mispa gerig [geoordeel]” (1 Samuel 7:6). Hy het hulle geoordeel – hy het sonde in die laer ontbloot! ‘n Herlewing van ware berou was die gevolg van Samuel se kragtige bestraffing.

God sê vir ons Sy Samuel Geselskap sal groot verlossings teweegbring deur die krag van voorbidding: “...en Samuel het die HERE aangeroep vir Israel; en die HERE het hom verhoor. Want onderwyl Samuel die brandoffer bring en die Filistyne nader kom om teen Israel te veg, het die HERE dit dié dag met groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel” (1 Samuel 7:9-10).

Daar was ‘n groot gedonder uit die hemel, gevolg deur ‘n groot slagting – en God se mense het die oorwinning betaal! Dit het alles gebeur omdat een man die antwoord geken het. Samuel het geweet wat om te doen – omdat hy van God gehoor het!

Ek het geglo God gaan Sy heilige oorblyfsel gebruik in hierdie laaste dae om menigtes op te wek, herders te vernuwe en kerke te ontwaak. Hierdie leër sal mense se harte laat terugkeer na God deur hulle tot bekering te bring – deur die krag van gebed en goddelike bestraffing van sonde.

Jou bure en medewerkers wil almal antwoorde hê. Hulle ken jou reeds oor jou vrede en kalmte – en eendag sal hulle na jou toe aangehardloop kom en uitroep, “Wat is die woord van die Here? Wat sê God?”

As ek praat van ‘n heilige oorblyfsel in opleiding, bedoel ek nie ‘n leër van predikers, evangeliste en sendelinge nie. Ek praat van gewone heiliges – liefhebbers van Jesus wat self tekens en wonders vir die wêreld sal wees, vol vrede en kalmte. God wil nie ‘n professionele leër opgelei in menslike metodes hê nie. Hy wil mans en vroue hê wat opgelei is in gebed deur die Heilige Gees! Hy soek gelowiges wat afgesonder is met Hom en hulle harte voor Hom berei en leer om Sy stem te hoor.

Beskryf dit jou? Is jou lewe nou ‘n getuienis aan ‘n bang en bewende wêreld? Ek dring by jou aan – sonder jou af met God en laat Hom begin om met jou te praat. Vra Hom om die sonde in jou lewe te openbaar. Laat staan alle sonde waarvan die Heilige Gees jou oortuig. En stel jouself beskikbaar vir Hom om jouself aan gebed oor te gee. Dan sal jy ‘n parate soldaat in Sy groot, laaste-dag oorblyfsel leër wees. Halleluja!