God se Kinders Ly

David Wilkerson

‘n Dierbare suster het na die mikrofoon gekom om te bid by een van ons onlangse byeenkomste by Times Square Kerk. In trane het sy gebid, “O God, U kinders ly! Here, al U kinders ly – regtig swaar! Help ons – asseblief!” Deur die hele ouditorium kon mens die reaksie van die mense voel, asof hulle sê, “Ja! Dit is ek. Ek ly – swaar!” Die hele pad huistoe daardie aand, het ek innerlik geween. Ek het gebid, “Here, dit is nie net U kosbare skape daar buite in die gemeente wat ly nie. Ek is een van U herders en soms ly ek ook.”

Daar is ‘n teologie in die land vandag, wat sulke gedagtes sou brandmerk as negatiewe belydenisse. Ek sien mense gestamp en stukkend, hulle lippe byt en positief bely, “Ek ly nie. Ek voel piekfyn.” Hulle het gelieg! Hulle het eintlik swaar gely. Ons Christene, insluitend bedienaars, steek dikwels ons ware gevoelens weg agter ‘n masker – ‘n masker van gedwonge glimlagte en skynheilige belydenisse. Daar is die gevoel dat alle Christene altyd moet glimlag, altyd moet bly wees, altyd moet weet waarheen hulle op pad is – altyd selfvervul en tevrede moet wees. Agter die glimlagte, die lofsange, en die opgehefde hande, kan daar ‘n persoonlike hel wees. Jy kan reguit huistoe gaan vanaf ‘n byeenkoms, na jou slaapkamer gaan, en jou kussing met trane natmaak!

So was dit met Dawid, ‘n man na God se hart. “Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met trane” (Psalm 6:6). Hierdie reusverslaner, hierdie magtige kryger van wie hulle gesin het, “Dawid het sy tienduisende doodgeslaan,” hierdie digter wat soveel geskryf het oor God vertrou en alle bekommernisse op Hom werp, dieselfde man van God wat uitgeroep het, “Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik” (Psalm 6:2). Dawid het verskriklik gesondig en het bely, “Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword. My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid. Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou...Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart” (Psalm 38:4-6,8).

Dawid uiter presies waardeur sommige van julle tans gaan: ‘n gevoel van oorweldig wees deur sonde, soos onverwagte oseaangolwe wat oor jou siel spoel. Jy kan nie verstaan waarom jy weer oorlaai is nie. Jy roep uit, “O God! Dit is te veel vir my – ek kan dit nie meer hanteer nie.” Jy is stukkend en jy weet dat jy innerlik stink van sonde. Jy weet jy was dwaas en dom. Jy voel die geestelike besoedeling en is so siek in jou gedagtes dat dit jou liggaam affekteer. Jou mislukkings, jou gebrek aan oorwinning, laat jou werklik “die hele dag gaan...in die rou.” Daar is depressie en vrees. Jy is “...krom...heeltemal geboë...kragteloos en heeltemal verbrysel...brul van die gebons van jou hart.”

Dawid het ‘n gevoel gehad dat hy ly oor die sondes wat hy gepleeg het. Hy het nie gesê dat God onregverdig was om hom te tugtig nie. Al wat Dawid wou hê, was om in liefde vermaan te word: “o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie. Wees my genadig, HERE, want ek is verswak...” (Psalm 6:2-3). Jeremia het gebid, “Tugtig my, HERE, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie. Stort u grimmigheid uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor die geslagte wat u Naam nie aanroep nie...” (Jeremia 10:24-25). Die geroep van beide Dawid en Jeremia is die volgende: “Here, my eie dwaasheid, my eie boesemsonde, het baie van my lyding op myself gebring! Ek weet U het die reg om my te vermaan en te tugtig. Maar asseblief – onthou dat ek steeds U kind is! Stort U toorn uit op diegene wat U nie wil hê nie. Ek het gesondig, maar ek het U steeds lief. Tugtig my in liefde. Wees barmhartig – U toorn sal my vernietig.”

Daar is ‘n toorn van God en ‘n tugtiging vir moedswillige goddeloosheid. Maar daar is ‘n liefdevolle tugtiging vir hulle wat hul sonde bely en hulle bekeer. As jy daar sit en God se pyle in jou siel voel en ly oor vorige of huidige sonde, as jy ‘n berouvolle hart het en jou sonde wil laat staan, kan jy uitroep vir Sy tugtigende liefde. Jy sal getugtig word, maar met groot barmhartigheid en deernis – net soos ‘n sorgsame vader sy kinders piets uit liefde. Jy sal nie Sy toorn voel soos die heidene nie. Maar met Sy stok, sal jy Sy liefdevolle, uitgestrekte arms voel.

Wanneer jy raadop is

Dit is geestelike, fisieke en verstandelike bankrotskap! Daar is geen baklei, geen weerstand meer oor nie. Jy is heeltemal gedreineer, leeg, droog, en soms sonder gevoel. Dit is die wete dat sonder bonatuurlike inspuiting van Christus se krag, jy bloot nie kan aangaan nie. Dit is ‘n absolute einde van die pad – die einde van jou raad – die einde van jou krag! Dit is nie ‘n saak van moed verloor met die Here nie; dit is omdat jy elke greintjie menslike krag wat jy gehad het, opgebruik het en niks anders as die Here kan help nie. ‘n Vakansie sal dit nie regkry nie. Rus en ontspanning sal nie help nie. Jy het bonatuurlike krag en wil nodig!

Dawid was daar. Was jy daar? Is jy nou daar? Wonder jy of jy onder God se oordeel is? Ken jy die sondigheid van jou vlees en voel jy onwaardig? Roep jy innerlik uit soos Dawid, “Ek is swak en my siel is verward. My sondes is te ingewikkeld om te verstaan. Ek is so siek en sat vir die skuld en innerlike gekerm van my siel. Ek huil ‘n rivier van trane en ek voel soms om te sterf...”?

Die Woord van God is vol verhale van groot manne van God wat raadop geword het, en alle krag verloor het. Ek verkondig ‘n boodskap genaamd “Die Maak van ‘n Man van God” waarin drie dinge bespreek word wat Jesus in die tuin beleef het: ‘n beker van lyding, ‘n uur van verwarring en ‘n nag van isolasie. Alle ware mans en vroue van God gaan hierdeur. [Een bedienaar wat hierdie boodskap gehoor het, het vir my gesê, “Dit is somberheid! Ek glo dit nie! Hierdie lewe gaan alles oor oorwinning – geen hartseer – geen trane nie – alles net blydskap!” Dit is jammer dat hy dit die laaste paar jaar self alles moet verduur!]

Dawid het bely, “Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos ‘n man sonder krag, vrygelaat onder die dooies...” (Psalm 88:4-5). Psalm 22 is die geroep van Jesus van die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp...My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie...Ek is uitgestort soos water...my hart het soos was geword...My krag is verdroog soos ‘n potskerf...Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help” (Psalm 22:2-3,15-16,20). Dawid het vrylik bely dit was sy sonde wat hom swak gemaak het en hom by moedverloor se vlakte gebring het: “Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid...” (Psalm 31:11). Maar toe het hy uitgeroep tot God, “...verlaat my nie as my krag gedaan is nie” (Psalm 71:9).

Miskien was jou huidige lyding selftoegedien. Hoeveel vroue ly nou omdat hulle getrou het met mans waaroor God hulle gewaarsku het om nie mee te trou nie? Nou word hulle mishandel en lewe in ‘n hel! Hoeveel kinders breek die harte van hulle ouers, en bring hulle by moedverloor se vlakte? Dit is weens vorige jare van sonde en verwaarlosing en kompromieë. So baie is wanhopig oor VIGS en ander siektes weens vorige sondes. Maar dit is nou tyd om verder te gaan as dit wat jou moelikheid veroorsaak het en te gaan na gebrokenheid, bekering, en geloof. Dit is tyd om ‘n nuwe inspuiting van Heilige Gees krag te kry. Jy hoef nie ‘n prediker te wees om jouself te diagnoseer nie – jy weet self jy het by jou laagste punt gekom. Jy weet waarom en jy weet jy het aan die einde van jou krag gekom! Dit is tyd om vernuwe te word – tyd om verkwik te word – tyd om jou geestelike krag te binne-in jou te laat uitspuit!

As jou hart goddelike berou het en jy Hom liefhet, sal jy dalk neerslagtig wees, maar Hy sal jou lamp nie laat uitgaan nie! Hierdie selfde Dawid, het toe hy in geloof en bekering gewandel het, gesê, “Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar. Want met U loop ek ’n bende storm, en met my God spring ek oor ’n muur. Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil. Want wie is God buiten die HERE, en wie is ’n rots behalwe onse God? God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak. Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes. Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms ’n koperboog span. Ook het U my die skild van u uitredding gegee, en u regterhand het my ondersteun, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak. U het my voetstap ruim gemaak onder my, en my enkels het nie gewankel nie. ...En U het my met krag omgord vir die stryd; U het my teëstanders onder my laat buk” (Psalm 18:29-37,40).

God belowe krag aan Sy gesalfdes: “Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor. Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang. Die HERE is ’n sterkte vir hulle, en Hy is ’n vesting van verlossing vir sy gesalfde. Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle ’n herder en dra hulle tot in ewigheid” (Psalm 28:6-9). As jy sal uitroep, sal Hy krag in jou stort: “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel...As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my” (Psalm 138:3,7).

Wanneer gebed onbeantwoord bly

Ek wil vir jou die diepe pyn wys van ‘n baie heilige man in die geskiedenis. Kyk of jy kan raai wie praat: “Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig... Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord...My roem het vergaan en my hoop op die HERE” (Klaagliedere 3:1-18). Is dit moontlik vir ‘n regverdige man om sulke woorde te spreek? Wie was hierdie man wat hoop verloor het, wie gesê het dat God sy gebede uitgesluit het? Dit is niemand anders nie as die heilige profeet Jeremia. “U het uself in ‘n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie”(Klaagliedere 3:44). Dit is ook ek en jy tydens een of ander krisis in ons lewe, wanneer dit lyk of God die hemele toegemaak het en ons gebede verlore is. Roep jy saam met Jeremia uit, “Ek is die een wat ellende beleef – ek is in ‘n situasie waaruit ek nie kan kom nie”?

As jy nie in Heilige Gees tydsbereking glo nie, sal jy nooit verstaan waarom gebede lyk of dit vertraag word nie. Elke belofte van God sal na vore kom om jou te toets – tensy jy rus in die Here se tydsberekeing! Dit word geskryf van Josef, wat hulpeloos in die tronk gelê het: “Tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het” (Psalm 105:19). Hierdie vers oor Heilige Gees tydsberekening word tussen hierdie twee stellings gestel: 1) “Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom” (Psalm 105:18) en 2) “Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat” (Psalm 105:20). Sy beproewing van wag het sy hart gebreek. Luister na Josef se patetiese pleidooi aan die skinker nadat Josef vir hom geopenbaar het dat hy herstel sou word en uit die tronk vrygelaat sou word: “Hou my tog net in gedagte as dit goed met jou gaan, en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit...ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie” (Génesis 40:14-15).

Daar is diegene wat sou vra waar Josef se geloof was. Hy was so naby aan God, dat hy drome en geheimenisse kon uitlê. God het met hom gepraat. Hy was heilig en in nabye gemeenskap met God. So, waarom het hy nie net gerus en gebid en vertrou op God om daar uit te kry nie? Waarom so ‘n jammerlike pleidooi: “Praat met Farao – help my om uit hierdie lewende hel te kom”? Hy was besig om deur die woord getoets te word! Jy kan dit lees, dit bid, dit verkondig. Maar totdat dit in jou getoets is, sal dit nie lewe produseer nie. Sommige van julle word tans hewig deur die Woord getoets. Jy het gesien hoe God menigte gebede beantwoord, maar tans soek jy na ‘n langverwagte onbeantwoorde gebed. Jou geroep, jou geskree, jou opgehefte hande, jou moeite – lyk alles onbeantwoord met geen bewyse van ‘n antwoord nie. Sommige sien iets wat lyk soos ‘n wonderwerk, net om weer in trurat oor te slaan!

Laat my vir jou sê wat jou sal laat oorwin in hierdie laaste dae. Ons moet op elke belofte staan, elke belofte glo, en in geloof bid, effektief, vurig, sonder twyfel – dan wag en rus terwyl ons die Here vertrou om te doen wat reg is, op Sy tyd en op Sy manier. Min Christene vandag wag met geduld vir God om op Sy tyd te werk. Hoe meer dit vertraag word, hoe kwater word sommige. Ander verloor uiteindelik moed, en dink God verhoor nie. Kan jy saam met Habakkuk sê, “Omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid... Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewe nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte...en Hy laat my tree op my hoogtes...” (Habakkuk 3:16-19)?

Moenie dink Jeremia het by wanhoop gebly nie! Soos Dawid, het hy uitgekom by ’n heerlike plek van hoop en oorwinning. Hy het onthou dat sy God vol deernis en teer barmhartighede was: “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop. Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE...Want die HERE sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenheid” (Klaagliedere 3:21-26,31-32).

Dawid het in dieselfde Psalm waarmee ons begin het, gesê, “Want die HERE het die stem van my geween gehoor. Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan” (Psalm 6:9-10). Hy het elke traan opgevang, het elke uitroep ontvang, het aandagtig geluister na elke gebed. Jy kan gerus voel dat as jy deur ‘n warm vuuroond van verdrukking moet gaan, sal Hy reg langs jou wees. God het ‘n doel vir alles wat Hy toelaat – en vir elke moeilike beproewing, gee Hy besondere genade.

Wanneer jy reg doen en dinge loop steeds verkeerd

In God se hele Woord, is Dawid ‘n tipe, ‘n voorbeeld van ‘n man wat ‘n hart vir God het, ‘n tipe van een wat reg gedoen het (behalwe vir die sonde met Batséba en Uria!). “Omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die HERE, sonder om af te wyk van alles wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van Uria, die Hetiet” (1 Konings 15:5). Van die dag wat Samuel olie oor hom gegooi het, en hom as koning oor Israel gesalf het, het “...die Gees van die HERE...van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword...” (1 Samuel 16:13). Dit word gesê, “En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was...En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom... Saul sien en merk dat die HERE met Dawid was...” (1 Samuel 18:12,14,28).

So, hoe is Dawid beloon vir al sy goedheid? Moeilikheid van oral af! Maar onthou – God is steeds met hom. “Daarna het Saul het sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak...Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes..” (1 Samuel 19:1,10). Dawid het met vrees vir Saul gevlug “...en by Agis, die koning van Gat, gekom...en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat. Daarom het hy hom voor hulle oë kranksinnig aangestel en hom mal gehou onder hulle hand en op die deure van poort gekrap en sy speeksel in sy baard laat afloop” (1 Samuel 21:10-13).

Dink terug aan toe hierdie goddelike man vreesloos voor die Reus Goliat gestaan het. Dink aan die skare wat juig, “Dawid het sy tienduisende verslaan.” Nou deins hy terug in vrees – sy beste vriend is van hom vervreem – hy is so oorweldig deur vrees, dat hy maak asof hy mal is om sy bas te red! Hy beland op die ou end in die grot Adullam met vierhonderd ontevrede uitvaagsels wat by hom versamel het. Nadat hy deur Saul se leër gejaag is, weggekruip het en gevlug het, het Dawid gesê “...Nou sal ek een van die dae omkom deur die hand van Saul; daar is vir my niks goeds nie, tensy ek dadelik ontsnap na die land van die Filistyne...” (1 Samuel 27:1). Dawid was nou verskeur deur baie vrese. Hy moes teruggedink het aan die dag van sy salwing as ‘n groot fout. Het Dawid gedink: “Here, U kan nie met my wees nie – ek kan nie U gesalfde wees nie – alles loop verkeerd! Dit help nie. Ek sal moet oorgaan na die vyand. God is duidelik kwaad vir my”? Het jy al ooit gesê, “Daar is vir my niks oor nie, behalwe on te vlug nie”?

Maar God het Dawid nie verlaat nie – nie vir ‘n oomblik nie. Want ons weet “die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword.” So is dit met jou en my. Die dag waarop God se Gees ons na Jesus gebring het en ons geseën het, het Hy gekom om te bly, om te by ons te woon. In jou beproewing, in jou ongerief – is Hy jou trooster! Dinge lyk of dit verkeerd loop, maar vir jou wat vertrou, het God alles onder beheer.

Waarom het dinge verkeerd geloop vir Dawid? Omdat hy in die skool van die Heilige Gees was! God het karakter gevorm – en slegs moeilikheid kan dit te voorskyn laat kom. Daar was nie meer Sauls nie, ongedissiplineerd en onopgelei deur gebrek aan beproewings. Saul het reg begin, maar het gou verlep omdat hy nooit getoets was nie. God het nou ‘n man gesoek wat Hy kon vertrou, ‘n man deur wie Hy ‘n blywende huis kon bou. Daar was nooit ‘n oomblik waarop die Heilige Gees nie met Dawid was nie. God kon sy engele gestuur het – Hy kon die Woord gespreek het – Hy kon ‘n hemelse leërskare gestuur het om Dawid uit al hierdie moeilikheid uit te hou. In plaas daarvan, het Hy dit alles toegelaat, sodat Dawid raadop kon word en homself heeltemal op die Here kon werp. Ons sou nie een van daardie groot Psalms van vetroue en geloof gekry het, as dit nie was dat Dawid getoets was nie. En as hy nie getoets was nie, sou die Psalms bloot dooie teologie wees!

Sommige van julle is by Siklag saam met Dawid – of julle is op pad daarheen! In 1 Samuel, Hoofstuk 30, word die storie vertel hoe die Amalekiete God se volk oorval het en lewens en eiendomme vernietig het. Dawid was in groot nood, want sy eie mense het daarvan gepraat om hom te stenig, en het hom blameer vir die ramp. “Maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God” (1 Samuel 30:6). Toe hy hom na die Here gewend het (vers 8), was hy verseker dat alles wat verlore was, aan hul herstel sou word. In vers 19, sien ons die uiteinde: “Dawid het alles teruggebring.”

Dank God dat Dawid sy familie en sy besittings teruggekry het, maar daar was soveel meer wat aan hom teruggegee is. Die belangrikste was dat hy sy vertroue in die God teruggekry het, sy versekering dat God steeds met hom was. Die krag van sy salwing was vernuwe, saam met ‘n nuwe haat vir die vyand. Op daardie dag, het Dawid sy diploma gekry! Hy het geleer om self raad by die Here te kry en homself in die Here te bemoedig. Van daardie dag verder, het hy slegs sterker en sterker geword – en het oorwin.