God sal jou nie in die steek laat nie

Onlangs het ‘n jong predikant wat die bediening wou verlaat my kom sien. Die Here het hierdie man wonderlik gebruk. Maar nou was hy moedeloos – hy het nutteloos, waardeloos en onbruikbaar vir God gevoel.

Die probleem was dat hy en sy vrou huweliksprobleme gehad het. Hulle het vreeslike woordewisselinge gehad wat steeds erger geword het. Hy het gesê dat hy al vir maande bid dat God die verhouding sal herstel, maar dit word steeds erger. Hy sê hy het meer oor hierdie saak gebid as oor enigiets anders in sy lewe en sy bediening.

Laat een aand na ‘n vernietigende argument het hy uitgestap. Onmiddelik het hy teen God begin rebelleer. “Hoekom help U ons nie, Here?”

In sy woede en magteloosheid, het hy teruggestrompel in ‘n ou gewoonte, waarvan hy verlos was – alkohol. Hy het gesê, “Ek het alles verloor. Ek het weer gaan drink.” In die vroeë oggend ure het hy dronk huistoe gekom. Sy vrou het paniekerig geword toe sy hom so sien; skielik het dit soos ‘n hopelose nagmerrie gelyk.

In plaas van sondebelydenis na die drinkery, het hierdie jongman gedoen wat Adam in die tuin gedoen het: Hy het vir God weggekruip! Vir sy vrou het hy gesê: “Dit help nie. Ek kan maar net sowel die bediening neerlê en petroljoggie word. Ek kan jou en niemand anders in die oë kyk hierna nie.”

Toe hy my gebel het, was hy gedaan. Hy het gesê: “Broer David, ek gaan handdoek ingooi. Ek kan dit nie meer volhou nie. Ek het gedrink, maar het dit verafsku. Ek het vir myself gesê: ‘Waarom doen ek dit?’ Ek het geweet dit was omdat ek kwaad was vir God. Waarom het Hy nie my gebede verhoor nie?”

Hy het so gebroke geklink, dat ek geen veroordeling teenoor hom gevoel het nie. In teendeel ek het net God se liefde en deernis vir hom gevoel.

Wat hy gedoen het, was vreeslik. As’n prediker ‘n woordewisselinge met sy vrou het, gaan hy nie sommer drink nie. Nee – hy vlug na God, na sy binnekamer. Elkeen van ons moet na God vlug in so ‘n tyd. Ons moet uitroep na Hom, “Vader, neem hierdie las van my skouers af!”

Ek het nie vir die jongman gepreek of hom betig nie. In plaas daarvan het ek sag begin bid. “Here, wat moet ek vir hierdie jongman sê wat sielsgenesing sal bring? Wat wil U vir hom sê – watter troos gee die Heilige Gees?”

Onmiddelik het die Here my laat dink, “Stuur hom na Psalm 107!” Ek sê toe vir hom, “Die oplossing vir jou probleem is in Psalm 107. Gaan, lees dit en vra die Here om met jou te praat deur sy Woord.” Die jongman het dit gedoen, en hy ondervind nou God se helende, verlossende liefde.

Ek het later uitgevind dat hierdie Psalm “die Ou Testamentiese liefdesfees” genoem word. Dit is een van die bemoedigendste gedeeltes in die Woord van God – en dit is juis bedoel vir hulle wat vergifnis, verlossing en herstel nodig het. Die laaste vers gee aan die leser die belofte dat hy sal verstaan wie God werklik is:

“Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou “ (Psalm 107:43).

God sê hier: “Kyk, lees, bestudeer hierdie psalm – en jy sal ‘n idee kry van My lankmoedigheid en liefdevolle goedheid. “Ek glo dat as jy hierdie psalm bestudeer, jy ook, ‘n idée sal kry van God se liefdevolle goedheid, selfs teenoor die opstandige en ongehoorsame. Want kyk, dit is ‘n belofte – ‘n bewys dat God nooit sy kinders in die steek sal laat nie, al het hulle ook hoe laag gesink!

Ek onthou die nag toe die Heilige Gees met my persoonlik gepraat het oor die Here se liefdevolle goedheid. Ek het ‘n swaar las gedra, daardie nag, ek het op-en-af geloop en geroep, “O God, ek moet meer weet van U liefdevolle hart!”

Daardie nag het die Gees vir my gesê, “David, moet nooit jou hemelse Vader daarvan beskuldig dat Hy minder liefdevol en goed sal wees as ‘n aardse vader nie. Dink vir ‘n oomblik na – daar is geen sonde, geen omstandigheid, geen opstandige daad wat jou kinders kan doen wat jou sal verplig om hulle in die steek te laat nie. Selfs as hulle uit die tronk na jou roep, sal jy gaan met liefde en erbarming. Moet dus nie dink dat jou hemelse Vader ooit minder bedagsaam en liefdevol teenoor jou sal wees nie.”

Dit het my wakker geskud. Toe het die Here my ‘n lewendige voorstelling van myself gegee. In die visie het ek myself gesien op ‘n hoek van 42ste straat, gereed om ‘n straatbyeenkoms toe te spreek. Toe sien ek een van my eie kinders wat vreeslik teen my gesondig het. Hierdie kind het al my raad verontagsaam, al my waarskuwings in die wind geslaan en is nou in ernstige moeilikheid.

Nou is hy oorweldig deur wanhoop, hy kom nou na my toe, berouvol en in trane, smekende vir my hulp en liefde. Maar ek draai weg van hom af en sê, “Jammer – ek het jou baie gewaarsku maar jy het nooit geluister nie. Jy het my waarskuwing eenkeer te veel verontagsaam. Nou betaal jy eenvoudig vir jou sonde. Daar is niks meer wat ek vir jou kan doen nie. Jy is op jou eie!”

My kind bly daar staan en die straatdiens begin. Ek preek met ‘n mikrofoon en ek roep uit, “Al julle moordenaars, verkragters, diewe, seuns van die duiwel – kom na God toe en ontvang genade en genesing vir julle siele!” Al die vuil sondaars begin om my saamdrom. Dan kom my kind vorentoe, - die een wat ek verwerp het. Hy vra, “Pappa, wat van my?”

Ek vra julle: Watter soort Pa sal ek wees, as ek daardie wanhopige, desperate kind wat uitroep, “Pappa, ek is jammer – hierdie saak is te veel vir my. Sal u asseblief doen wat u kan om my te help? U het die outoriteit en die mag. Asseblief, Pappa, doen iets!” Sal ek dit waag om te sê, “Jammer – ek het ‘n ander straatdiens waarheen ek moet gaan.” Nee, nooit!

Tog, hoeveel meer liefdevolle goedheid en erbarming het ons hemelse Vader met ons? Hy sal ons nie verwerp as Hy sy liefde en vergifnis aan elke verbygaande spottende sondaar aanbied nie.

Dit is die wonderlike boodskap van Psalm 107. Ons ontmoet in hierdie Psalm vier soorte van God se kinders wat in probleme en swaarkry beland as gevolg van wat hulle doen. Maar God laat nie een van die mense in die steek nie – nie een nie! Selfs dwase, wat moeilikheid vir hulleself maak deur hulle dwaasheid, ontvang genade en verlossing as hulle na God roep om hulp.

Laat ons na die vier kategorieë, van mense in die moeilikheid, kyk. Vind jy jouself onder hulle?

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie. So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, die wat Hy uit hulle nood bevry het en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide. Party was verdwaal in die woestyn, in ‘n barre wêreld, en kon die pad na ‘n bewoonde stad nie kry nie. Hulle was honger en dors, hulle was uitgeput” (Psalm 107:1-5).

Hier is ‘n groep mense wat eenmaal die volheid van die Heer geken het en wat op ‘n stadium in hulle lewe volle bevryding gesmaak het. Maar nou is hulle in ‘n eensame woestyn, alleen, en hulle kan die stad nie kry nie.

“Die stad” in die Ou Testament is altyd, Sion, wat God se ware kerk simboliseer. Vandag is daardie stad die ware liggaam van Christus, wat in gees en waarheid aanbid. Hierdie eerste groep gelowiges kan die stad nie vind nie. Hulle woon nie meer eredienste by nie, hulle weier om met ander gelowiges saam te kom, omdat daar weinig of geen geestelike werklikheid te vinde is.

Natuurlik is daar baie uitgehongerde Christene vandag wat van kerk na kerk gaan en nie hulle plek kan kry nie. Ten slotte probeer hulle nie eers meer om ‘n goeie kerk te kry nie – want hulle het tot die slotsom gekom dat daar geen een is nie.

Die Skrif sê dat hierdie houding gevaarlik kan wees. Hierdie Christene weet wat God beveel het:

“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).

Dit is waar dat dit deesdae moeilik is om kerke te vind wat die moeite werd is om by te woon. Dit is die hoofklag van die lesers op ons adreslys van die Verenigde State en Kanada. So baie skryf: “Ek kan geen kerk vind wat my aanspoor om regverdig te lewe nie. Ek wil nie kerk toe gaan nie, want die kerk wat ek bywoon is vervelig en dood. My kinders val terug.”

Een vrou in Kalifornia Suid het na omtrent vyf-en-twintig kerke gegaan, in haar omgewing op soek na ‘n goddelike aanbiddingsplek. Eindelik het sy vir my die nuusbriewe en aankondigingsblaadjies gestuur en gevra, “Asseblief, Broer David, lees hierdie en sê vir my na watter een moet ek gaan.”

Hier is ‘n opsomming van een so ‘n nuusblaadjie. Die kerkaktiwiteite vir Augustus was soos volg:

  • Vrydag-aand, 7 tot 10 – Vader-dogter dans.
  • Volgende Vrydag – familie aand by die stadion, Padres teen Giants.
  • Volgende Vrydag – ‘Country-Western line dancing.’
  • Saterdag – tennis toernooi.
  • Maandag – korfbal.
  • Dinsdag – junior Hoër Bybelstudie op die strand; Hoërskool Bybelstudie by die baai.

Dink julle hierdie tipe aktiwiteite laat die duiwels in die hel bewe? Nee! Baie kerke is vandag ‘n bespotting van God. Die predikers het teruggeval – en die gemeente wil net hulle behoeftes bevredig hê.

Aan die ander kant, is iets baie gevaarlik besig om in kerke te gebeur. Sommige Christene het so krities geraak – so moeiik om tevrede te stel – dat geen kerk ooit hulle standaarde kan bevredig nie. Die geringste tekortkoming dryf hulle weg.

Dit het ‘n gewoonte geraak onder gelowiges om sodra hulle die geringste afwykings in hulle kerk sien waarvan hulle nie hou nie, gee hulle pad. Een predikant het vir my gesê. “Ek weet nie wat om te doen nie. As nuwe mense inkom, vra hulle ‘n onderhoud met my, oor kerksake. Hulle vra honderde vrae oor wat ek glo en oor die kerk. Sodra hulle nie saamstem met ‘n antwoord nie, staan hulle op en loop.”

‘n Prediker het my vertel van ‘n egpaar wat na hom gekom het en gesê het. “Ons was by elke kerk in ons omgewing en nie een daarvan is die moeite werd nie. Hulle skik hulle almal na omstandighede. Ons het uitgestap uit die laaste kerk wat ons besoek het, want ons het ‘n afkondiging gesien in die Nuusbrief van ‘n “Aand vir ongetroudes”. Watter reg het die kerk om ongetroudes bymekaar uit te bring?

Die pastoor het vir hulle probeer verduidelik dat dit nie die bedoeling van die afkondiging was nie. Dit was eenvoudig net ‘n aand waarin die jongmense saamgekom het om die Here saam te loof. Maar hierdie egpaar was so krities hulle was oortuig dat dit ‘n bose bedoeling gehad het.

Ons het ook ‘n brief van ‘n vrou gekry, wat ‘n boek oor musiek geskryf het. Sy het geskryf. “Ek is jammer maar ek kan nie na die Times Square kerk se koorbandjie luister nie. Dit is ‘rock-‘n-roll’. Tog sê 40,000 mense dat hulle daagliks daarna luister en geseën is!

Sonder gemeenskap met ‘n ware liggaam van gelowiges, kan sulke Christene koud raak – hulle kan hulle eerste liefde verloor en rondloop – alleen, honger, dors – terwyl hulle hulleself voed op sogenaamde “christelike TV etes” – radio en televisie dienste. Of hulle probeer hulleself bevredig met preek-bandjies.

Nee, dit is nie waaroor dit gaan nie! Dit gaan oor gemeenskap met die gelowiges, die band wat tussen ons is deur die Gees. Dit gaan oor gesamentlike gebed en om God se aangesig te soek. Ons sal almal verhonger daarsonder!

Maar miskien kan jy eerlik sê: “Broer, David, ek kan geen Christus-gesentreerde, heiligheid-soekende kerk in my omgewing kry nie. Ek kan die “stad” nie vind nie. Geliefde, God gee ‘n uitweg!

“Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp en Hy het hulle gered uit hulle ellende. Hy het hulle op die regte pad gebring en by ‘n bewoonde stad laat uitkom” (Psalm 107:6-7). God sê: “Ek sal jou die Liggaam wys, ek sal jou na hulle toe lei.”

Wees verseker Jesus het sy liggaam van gelowiges oral oor die wêreld. As jy tot Hom roep, sal Hy soortgelyke Christene op jou pad stuur.

Intussen, totdat Hy so iemand op jou pad stuur, sal Hy jou nie alleen laat nie. Hy het beloof waar twee of drie in sy naam vergader sal Hy ook wees.

“Party het in die donker gesit, in diep duisternis, hulle was gevangenes, in ellende en boeie, want hulle het hulle verset teen die bevele van God, hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan. Hy het hulle laat knak onder swaarkry, hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie” (Psalm 107:10-12).

Waarom was hulle gevange en in boeie?

“…want hulle het hulle verset teen die bevele van God, hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan (vers 11). Geliefde kan dit jy wees? Jy het onder deeglike oortuigende prediking gesit. Die Gees het jou oortuig. Jy het beter geweet. Tog het jy gegaan en opsetlik gesondig! Nou is jy terug in die kloue van ‘n ou verslawing. Die juk is weer op jou nek.

Jy is ongelukkig, gebind in die kettings van droefheid. Jou hart is “geknak onder die swaarkry”. In Hebreeus beteken dit “Hy het hulle hart onderwerp aan swaarkry.” (vers 12).

As ‘n mens willens-en-wetens sondig, die Woord van God ongehoorsaam is, dan kruip hy weg, en vroetel in droefheid – en hy voel, dit is alles verby, God kan my nie meer gebruik nie. As dit jou toestand is, sal die duiwel vir jou fluister, “Jy is nou vir altyd vasgevang! Daar is geen verlossing vir jou nie. Jy is een van daardie mense met wellus-obsessies, wat nooit verander nie. God is klaar met jou. Jou sonde het veroorsaak dat Hy sy rug op jou gedraai het.”

Satan sal jou met die Skrif slaan, hy sal alles verdraai. Hy sal probeer om jou doof te maak vir die genade van God. As jy in ‘n diens sit, sal jy net veroordeling van die preekstoel af hoor. Jy sal nie van God se genade hoor nie – omdat jy gebuk gaan onder skuld, veroordeling en vrees!

Ek praat nou nie van mense wat vir God wegkruip omdat hulle die sonde liefhet nie. Nee, ek praat van Christene wat geval het – maar wat in hulle ellende ‘n droefheid en haat vir sonde het. Iets in hulle roep uit, “Ek het God teleurgestel!”

Vir hierdie Christene sê God se Woord: “Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis laat uitkom. Hy het hulle boeie stukkend gebreek. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen, want Hy het koperdeure oopgebreek, ystergrendels stukkend geslaan” (Psalm 107:13-16).

Luister goed: God het nog nooit – en sal ook nooit – sy Aangesig verberg vir ‘n kind van Hom wat ween nie! Dit maak nie saak hoe ver jy geval het nie. Jou sonde, al was dit so rooi soos skarlaken, sal wit word soos sneeu – as jy net na Hom sal uitroep om hulp!

Jy mag dink, jy kan jou verslawing breek. Jy mag die hele nag wakker bly en alles uitredeneer – maar jy sal net moeg en hartseer wakker word, sonder genoeg slaap – en nog netso gebonde soos toe jy gaan lê het! Slegs God kan daardie bande verbreek. Slegs Hy kan jou red uit jou duisternis. Dit is ons krag en ons hoop!

Baie Christene het al na my toe gekom, in die straat, letterlik in my arms geval en gesnik, “Broer David, ek weet nie hoe God my ooit kan vergewe nie!”

Dan het ek geantwoord, “Ja, Hy kan.”

“Maar jy weet nie wat ek gedoen het nie!”

“Ek hoef nie te weet wat jy gedoen het nie,” sou ek sê, “want ek ken jou Vader.”

“Wel – wat moet ek doen?” sal hulle vra.

“Roep uit om genade.”`

“Hulle het in hulle nood na God uitgeroep en Hy het hulle gered…” (vers 13).

Die verdruktes in hierdie Psalm het nie na God uitgeroep nadat hulle uit die gemors was nie – maar terwyl hulle daarin was. En die Woord sê: “Hy het hulle bevry van hulle ellende!

“Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. Alle kos het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai” (Psalm 107:17-18).

Volgens die woordeboek is ‘n dwaas iemand sonder oordeel en goeie begrip – iemand wat verspotte, dom foute maak. Hy doen wat hy wil, sonder om aan die gevolge te dink.

Wat kan dwaser en ondenkbaarder wees as om in seksuele aktiwiteit te verval met ‘n onbekende persoon? Die hele wêreld weet dat VIGS ‘n internasionale probleem is. En tog raak mense oor die hele wêreld steeds weer besmet.

Mense weier eenvoudig om te skrik. Vroue waag hulle lewe vir een nag van wellus. Mans waag hulle toekoms vir een uur van vleeslike lus. Nou ly baie as gevolg van agehele domheid. Hulle was dwase!

‘n Steeds groeiende aantal Christene is nou HIV positief of het VIGS. Baie van hulle is wonderlike Christene wat dom opgetree het, voordat hulle Jesus geken het – en nou kry hulle die doodsvonnis: “Jammer – jy het die virus.

Hulle vertel van die angs wat hulle ervaar het toe hulle besef daar is iets verkeerd met hulle liggame. Hulle het besef iets is nie pluis nie – en skielik het ‘n spookgedagte na hulle teruggekom van ‘n dwase daad in die verlede, of ‘n seksuele daad of verbonde met verdowingsmiddels. Dit het gebeur terwyl hulle in sonde geleef en gek geskeer het:

“…deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland” (vers 17).

Die wanhoop van baie van hierdie Christene is onuitspreeklik. Hulle voel hulpeloos en op die rand van moedverloor se vlakte. Een man het gesê: “Dit voel asof my lewe verby is. Daar is niks meer wat ek aan die saak kan doen nie. Ek sien uit na die dood.”

“… hulle het by die dood omgedraai” (vers 18).

Ander Christene betaal ‘n hoë prys vir hulle dwaasheid. Sommige val in ‘n finansiële put as gevolg van dwase geldverkwisting. Andere is vasgevang in ‘n vreeslike huwelik, omdat hulle soos dwase daarin gejaag het. Sommige vroue kom na ons kerk pimpel-en-pers geslaan deur hulle mans se mishandeling.

Ek wonder hoeveel van die wat hierdie woorde nou lees, gaan saans lê en huil: “O God, ek was so dwaas. Ek het ‘n vreeslike fout gemaak. Ek betaal vir my eie domheid!” Hulle kan nie eet of slaap nie.

“… alle kos laat hulle walg …” (vers 18).

Geliefde, tog hoef jy nie sonder hoop te lewe nie. Jy hoef nie op te gee nie. God het jou sy Woord gegee dat Hy jou nie in die steek sal laat nie, al was jy hoe dwaas!

“Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle met ‘n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom” (Psalm 107:19-20).

Ek word so bly as ek hierdie verse lees – want ek onthou al die dom foute wat ek in my lewe gemaak het. Ek is skaam oor die dom-onnosel dinge wat ek gedoen het.

Die Here weet dat daar dinge is wat ons nie kan verander nie. Woorde wat ons gesê het, wat ons nie meer kan terugtrek nie. Tog vra hy nie van ons om boete te doen of beloftes te maak nie. Al wat Hy vra, is dat ons na Hom sal uitroep in ons nood. Hy kan genees, lewe verleng en bonatuurlike genade skenk: “Hy het hulle met ‘n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom” (vers 20).

God sal iemand na jou toe stuur, met sy Woord! Miskien sal die prediker ‘n boodskap bring – net vir jou. Of die Heilige Gees sal jou na ‘n sekere gedeelte lei. Dit sal jou genesende Woord wees. Al wat jy moet doen is om na Hom te roep!

Die volgende verse is vir hulle wat probleme optel by hulle werk of besigheid:

“Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. Op sy bevel het ‘n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; en hulle seemanskuns het niks gehelp nie” (Psalm 107:23-27).

Besigheidsmense word hier vergelyk met matrose in bote. En die groot waters verwys na die groot wêreld van kompetisie, ‘n oseaan van aktiwiteit.

Nou is hierdie mense God se geliefde heiliges. Hulle staan in eerbied en ontsag voor God se grootheid en mag. Maar ‘n strom breek uit wat buite hulle beheer is. Dit is nie oordeel en vergelding vir sonde nie. Tog, oorweldig die golwe hulle skielik. Hulle steier onder probleme van alle kante, en dit lyk of hulle sink. Nou is hulle oorbluf en verbeisterd.

“… die manne was radeloos van angs” (vers 26).

Baie besigheidsmense het my op verskillende tye vertel, “Dit lyk sleg. Ek weet nie wat gebeur het nie, maar skielik is ek in ‘n gemors.” In die verlede kon hulle, hulle eie probleme oplos, en kon in een krisis na die ander oorleef. Maar hierdie keer lyk dit asof daar geen uitkoms is nie. Hulle is geestelik en fisies gedaan.

“Hulle… is aan die einde van hulleself” (vers 27).

Hoe gou vergeet ons dat ons liefdevolle hemelse Vader ons vennoot is in ons werk, wat ons roeping of nering ookal is. Werklik niks gebeur met ons by die werk waarin Hy nie ook betrokke is nie. Hy het mag oog alle mense en al ons moeilikhede – en Hy het ‘n rede, ‘n doel agter alles.

Wat kan jy doen as jou vennoot jou geen antwoord kan gee of enige advies nie – as konsultante nie kan help nie? Waarheen draai jy as jou eggenote, pastoor en beste vriend geen raad weet nie?

Ek is nie ‘n besigheidsman nie, maar ek kan jou aanraai om Psalm 107 te lees:

“Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom” (Psalm 107:28-30).

‘n Tyd gelede het ek met ‘n godvresende, jong pastoor gepraat, wat nie geweet het wat om te doen nie. Dit het gelyk asof die kassier van die gemeente, wat al twintig jaar in die gemeente diens gedoen het, die leisels wou oorvat. Hy het al vir jare lank geld verduister en het al ‘n paar pastore weggedryf. Op die oomblik was hy besig om al die onderlinge op te sweep teen die pastoor. Die pastoor se vrou het maagprobleme ontwikkel van al die spanning.

Toe ek met die pastoor gepraat het, was hy besig om voor te berei aan ‘n preek wat hy vir die gemeente wou preek. Die boodskap het gegaan oor om hulle oor te gee aan die duiwel sodat die vlees vernietig kan word, en hulle siele gered kon word. Hy het verduidelik, “Broer Dave, ek moet dit preek voordat dit my doodmaak. Ek moet hulle oorlewer aan die duiwel!”

Ek het vir hom gesê: “Nee! Moenie met hulle baklei nie! Moenie toelaat dat jou gees besoedel raak nie. Moenie aan wraak dink nie. Wys liewer vir hulle die Lig van God se Woord. Preek Jesus vir hulle.

“Wat jy moet doen is om God aan te gryp. Roep uit na Hom. Hy sal jou gemeente oorneem Hy kan doen wat jy nooit kan regkry nie. Hy kan hulle verwyder of hulle red!”

Ek het ‘n profetiese woord vir sommige van ons lesers: Moenie toelaat dat jou situasie in jou gees kruip nie! Bring dit alles uit na God toe. Gaan in jou binnekamer en vertel alles vir Hom. Hy sal jou uitred – uit al jou probleme en hartseer!

Hoe lank gaan jy nog snags wakker bly en jou bekommer? Hoe lank gaan jy nog in angs lewe en jou eie probleme probeer oplos? Slegs God kan jou storm stilmaak. Net Hy kan die dreigende golwe laat bedaar. Net Hy kan blydskap en vrede bring – en jou na ‘n kalm hawe lei.

“Talle kere het die Here sy volk gered, maar hulle het opstandig gebly en dieper in hulle sonde weggesink. Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie; Hy het hulle smeekgebede verhoor” (Psalm 106:43-44).

God gaan jou nie in die steek laat in die geveg nie. Hy is in die geveg tot die einde toe. Hy is in jou, by jou – afgesien van alles.

Halleluja!