God Oorbeantwoord Gebed

Een van die gesegdes wat die meeste in die kerk gehoor word, is, “God beantwoord gebed!” Tog is dit net die helfte van die waarheid. Die hele waarheid is, “God oorbeantwoord gebed!”

Ek wil nou graag as ‘n prokureur voor jou optree. Ek gaan ‘n saak maak wat aan jou gaan bewys dat in elke geslag — reg deur die hele Bybel tot vandag toe — dat God altyd die gebede van Sy kinders oorbeantwoord. Hy gee die heeltyd baie meer as waarvoor ons vra — en dikwels dinge waaraan ons nie eers sou dink om te vra nie!

Ek gaan reguit na die Bybelse rekords om my saak te maak. Dit word geskoei op herhalende voorbeelde in die geskiedenis — wat alles bewys dat God gebed oorbeantwoord!

Hier is ‘n duidelike beeld van hoe God nie net gebede beantwoord nie — maar oorbeantwoord het!

Hoséa het aan Israel geprofeteer, “Julle het teruggeval — maar julle is steeds God se mense. Keer nou terug na die Here en bid.” “Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die Here; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is...” (Hoséa 14:2).

Hulle gebed was eenvoudig. Al wat Israel God gevra het om te doen, was om hulle sonde weg te neem en hulle genadiglik aan te neem. “Here, gee ons genade. Reinig ons — neem ons terug in U genade.”

Tog het God nie net hulle sondes vergewe nie – Hy het hulle nie net gereinig nie, maar hulle genadiglik teruggeneem — Hy het ook seëninge bokant wat hulle kon dink, bygevoeg!

“Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag  wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Libanon. Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Libanon” (Hoséa 14:5-8).

Die dou van die hemel is die teenwoordigheid van die Here. Tot op hierdie stadium, was daar droogte — alles was aan die doodgaan, omdat God se guns weggeneem was. Maar nou, omdat daar ‘n waarlike bekering was saam met ‘n gebed uit die hart uit, het God gesê dat Hy lewe aan alle kante sal uitspruit. Israel sal nie net vergewe word nie, maar sal groei ook! Hulle sou groei, goeie wortels ontwikkel, uitsprei en  gedy!

All waarvoor hulle gevra het, was genade, vergifnis en aanvaarding. Maar in plaas daarvan, het God die vensters van die hemel oopgemaak en seëninge op hulle uitgegiet, seëninge waarop hulle nie eers gedurf hoop het nie! God het hulle gebede grootliks oorbeantwoord!

Geliefde, God het dieselfde vir jou gedoen! Toe jy jouself bekeer het, was al wat jy vir God gevra het ‘n rein hart, vergifnis en vrede. Tog, kyk hoe het Hy ook vir jou oorbeantwoord: Hy het jou ‘n honger in jou hart gegee — ‘n dors vir meer en meer van Jesus! Jy het jou oë om te sien en ore om te hoor gegee. Hy het jou ‘n liefde vir Sy liggaam gegee.

Hy het in jou ‘n haat vir die sonde gegee. Hy het jou beskerm van ‘n woedende, bose duiwel. Hy het jou siel met hoop, vreugde en blydskap gevul!

Jesus het soos jou oggenddou geword. Hy maak jou siel daagliks nat met Sy Woord. En jy groei — jy is nie dood of aan die doodgaan nie, maar baie lewendig in Hom!

Jy het net gevra om gered en gereinig te word. Maar God het seëning op seëning op jou uitgegiet! Hy het jou oorbeantwoord.

“Gee dan aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?” (1 Konings 3:9).

Salomo het gebid, “Here, al wat ek wil hê, is wysheid hoe om U mense te hanteer. Ek wil het ‘n koning en heerser oor hulle wees.”

Dit was ‘n eenvoudige, direkte versoek. Maar God het Salomo se gebed op ‘n ongelooflike manier beantwoord:

“En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ‘n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom  begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ‘n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie” (1 Konings 3:11-12).

Hier sien ons hoe angstig God is om onselfsugtige gebede te oorbeantwoord! Salomo het net vir ‘n verstandige hart van onderskeiding gevra. Maar God het hom nie net die hart waarvoor hy gevra het, gegee nie — Hy het ook belowe om hom wyser as enige iemand anders in die geskiedenis van die mens gemaak!

Tog het God nie daar gestop nie. Hy het aan Salomo gesê: “Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie. En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal ek jou dae verleng” (1 Konings 3:13,14).

Wat ‘n ongelooflike reaksie. God het by Salomo se wysheid gevoeg seëninge, eer en rykdom wat meer was as wat enige man ooit ontvang het. En daarop, het Hy hom ‘n lang lewe gegee: “Ek sal jou dae verleng.”

Nog ‘n gebed was grootliks oorbeantwoord!

“Daarby het die kinders van Ammon die Jordaan oorgetrek om... te veg, sodat Israel dit baie benoud gehad het” (Rigters 10:9).

Ammon was deur God gebruik om Israel se sondes te straf. En nou het hulle leër na Israel opgeruk! God se volk was verleë en neergeslane — hulle het hulle sonde begin bely:

“Toe sê die kinders van Israel aan die Here: Ons het gesondig; maak met ons net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag” (Rigters 10:15).

Hulle was so verskrik deur hulle sonde, dat hulle nie eers daaraan kon dink om God vir enigiets anders te vra as net om hulle te spaar nie. Hulle gebed was die eenvoudigste van gebede: “Here, red ons net hierdie een keer! Moenie dat ons deur ons vyande oorwin en verslaan word nie!

Hulle het vir ‘n enkele oorwinning gevra. Maar God het iets meer ingedagte gehad, Hy het hulle gebede magtiglik oorbeantwoord! Nie net het Israel beskerming gekry nie — hulle het die oorhand gekry! Hulle het die Ammoniete heeltemal onderwerp!

“Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die Here het julle in sy hand gegee. En hy het hulle verslaan van Aroër af in die rigting na Minnit, twintig stede... sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinder van Israel” (Rigters 11:32-33).

Nie net het God Israel verlos nie — Hy het hulle ook die moed en die rigting gegee om die Ammoniete te verslaan! Hulle het hulle onderwerp van daardie tyd af — en hulle is nooit weer deur hulle gepla nie! Hulle het totale oorwinning oor hulle gehad!

Dit is presies hoe God vandag ook sy mense wil oorbeantwoord! Meeste Christene bid, “Here, gee ons net die oorwinning in hierdie een geveg.” Maar die Here reageer, “Ek sal jou dit gee — tog het ek baie meer vir jou in stoor! Ek wil jou vyande onderwerp sodat jy nie net een oorwinning op ‘n keer oor hulle sal kry nie. Ek wil hê dat julle totale oorwinning oor hulle sal hê!”

Geliefde, Hy wil jou krag gee om nie net te oorwin nie — maar om elke vyand te oorwin! Hy wil nie net hê dat jy sonde oorwin nie — maar om meer as ‘n oorwinnaar te wees! Nie net om die lewe te hê nie, maar die lewe in oorvloed! Nie net vreugde nie — maar onuitspreekbare vreugde en volheid van heerlikheid! Nie net om vry te wees van vrees net vir ‘n dag, week of maand nie, maar vir elke dag van jou lewe!

Dawid se versoek was eenvoudig — Hy het God gevra om hom te red van die dood. En God het sy gebed beantwoord: “...U het hom dit gegee, lengte van dae, vir ewig en altyd” (Psalm 21:5).

Maar God het baie verder gegaan om Dawid se gebed te oorbeantwoord. Hy het hom nie net die lewe gegee nie — Hy het ook ‘n kroon op sy kop geplaas en hom koning van Israel gemaak! En Hy het eer en majesteit aan hom geskenk: “...op sy hoof sit U ‘n kroon van fyn goud...majesteit en eer het U op hom gelê” (Psalm 21:4,6). Dawid het uitgeroep, “Here, U het dit regtig op my gelê!”

Tog, om alles te kroon, het God “oortreffende blydskap” bygevoeg: “U maak hom bly met vreugde by U aangesig” (Psalm 6:7).

Dit is geen wonder dat Dawid geskryf het, “... by Hom is daar veel verlossing” (Psalm 130:7). Hy het gesê, “Here, U het my net gered nie — maar U het U verlossing op my uitgestort!”

Die Ou Tesamentiese patriage en profete het alles geweet van hierdie mees vrygewige neiging van God. Hulle het geweet Hy verbly Hom daarin om baie oorvloediglik en menigvuldiglik te wees in sy seëninge tot ons. Jesaja het gesê: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:7).

God vergewe nie net sondes nie — Hy oorbeantwoord ons uitroep vir vergifnis met oorvloedige genade en vergifnis!

Mense oorbeantwoord in hulle gawes — hoeveel te meer sal ons God nie!

’n Goddelike man en vrou in Sunem het ‘n profete kamer in hulle huis gebou vir Elisa om te gebruik. Elisa was so dankbaar dat hy sy dienskneg, Gehási, gestuur het om te vra, “Jy het vir ons gesorg — wat kan ons vir jou doen?” Maar die vrou het geantwoord, “Niks nie.”

Die dienskneg het teruggekom en aan Elisa gesê dat sy niks wou hê nie. Maar iets in die profeet was nie tevrede nie. Hy het gesê, “Sy het te veel vir my gedoen!”

Skielik het die dienskneg onthou: Sy was kinderloos en het ‘n kind begeer. Dit was die antwoord! So Elisa het haar geroep: “En hy sê: Roep haar. En toe hy haar geroep het en sy in die deur gaan staan het, sê  hy: Sulke tyd oor ‘n jaar sal jy ‘n seun omhels” (2 Konings 4:15-16).

Elisa het God aangeroep en die Here het sy gebed verhoor — en die vrou het ‘n seun gebaar! Al het sy vir niks gevra nie, het sy die begeerte van haar hart gekry!

Miskien onthou jy Naäman, wat heeltemal van sy melaatsheid genees is. Elisa het aan hom gesê, “Ek wil niks van jou hê nie. Dit is ‘n gratis geskenk van God.” Maar later het Gehási in sy gierigheid Naäman gestop en gesê, “My meester het van plan verander. Hy wil graag “’n talent silwer en twee stel klere hê” (2 Konings 5:22).

‘n Talent silwer was baie geld op daardie tydstip. Dit sou hom seker ‘n hele plaas kon laat koop. Tog het Naäman dadelik geantwoord, “...Neem asseblief twee talente” (2 Konings 5:23).

Die Here het Naäman so aangeraak — hy was so gelukkig en geseën — dat hy graag die versoek wou oorbeantwoord! Iets in sy hart het begeer om Elisa te seën!

Ek vra jou — hoe is dit dat ons manne soos Elisa en Naäman met oor-gee kan krediteer, terwyl ons glo dat God minder goed en liefdevol teenoor ons? Ons maak dikwels of Hy suining is! Ons dink ons moet dinge uit Hom uit trek en angstig voor Hom wees voor ons kry wat ons wil hê. Nee — ons Vader hou daarvan om dit vir ons te gee! Hy hou daarvan om ons uitroep te oorbeantwoord!

“As julle wat sleg is, dan weet om goei gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:11).

Kyk na die volgende voorbeelde: 

1. Wat van die verlamde man wat na Jesus toe gebring is op ‘n bed?

“En hulle het ‘n verlamde man wat op ‘n bed lê na Hom gebring” (Matthéüs 9:2).

Hierdie verlamde man het Jesus vir genesing gesoek – maar Jesus het sy gebed oorbeantwoord! “Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.... — toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe” (Matthéüs 9:2,6).

Die siek man het vir genesing gevra — maar Jesus het hom baie meer gegee. Hy het die grootste gawe wat Hy moontlik kon gee, bygevoeg! Die man het sy genesing gekry — maar selfs beter, hy het vergifnis, die ewige lewe en blydskap gekry om sy jare van hartseer te vervang!

Jesus het die hele tyd geweet wat Hy van plan was om te doen; Hy het geweet dat hierdie man weer sou loop. Maar Hy het gesê, “Eerstens wil Ek jou seën — Ek wil jou oorbeantwoord. Ja, Ek sal jou liggaam genees — maar Ek sal ook jou siel en jou verstand genees. Neem nou jou bed op en gaan huistoe!”

2. Wat van die dief aan die kruis?

Die dief wat langs Jesus gehang het, het net een ding van Hom gevra: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom” (Lukas 23:42). Sy versoek was eenvoudig: “Dink aan my.”

Jesus het hierdie man se versoek oorbeantwoord: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Hy sê, “Ek sal jou onthou — jy kom saam met My!”

Praat van oorbeantwoorde gebede! Hierdie bose dief kon nie eens daaraan dink om gered te word nie. Maar hy was gesê dat hy ‘n paar uur later saam met Jesus in die paradys sou wakker word — langs Jesus! 

3.  Wat van die kreupel bedelaar wat aalmoese van Petrus en Johannes gevra het toe hulle die tempel binne gekom het?

“En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was.... toe sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra” (Handelinge 3:2-3). Weer, ‘n eenvoudige versoek — net ‘n bietjie geld. Tog, watter heerlike antwoord het die bedelaar nie gekry nie!

Die Skrif sê, “Petrus... het hom stip aangekyk” (Handelinge 3:4). Die bedelaar het moontlik gedink, “Ek gaan ‘n Rand of tien kry. Dit gaan my gelukkige dag wees. “In plaas daarvan het hy iets gekry wat al die geld in die wêreld nie kon koop nie — ‘n nuwe liggaam!

“Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop... en onmiddelik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys” (Handelinge 3:6-8).

Hierdie bedelaar is nie net genees nie — hy het ook ‘n uitstorting van die Heilige Gees ontvang! Die gees van lofprysing het op hom gekom en hy het gedans en God geprys. Dit is verseker ‘n oorbeantwoorde gebed!

4. Cornelius het ywerig gebid vir ‘n openbaring van God se Woord – en God het sy gebed wonderbaarlik oorbeantwoord!

Die Here het met Cornelius oor Petrus gepraat in ‘n visioen. Toe het die hoofman oor honderd drie diensknegte na Joppe gestuur om Petrus, “om te hoor wat u sal sê” (Handelinge 10:22). Dit was sy enigste versoek — om die evangelie te hoor: “Ons wil die woord van die Here hoor.”

Tog, kyk na hoe God sy gebed oorbeantwoord het: “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.... dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak” (Handelinge 10:44-46).

Dit was asof God so opgewonde was dat Hy nie kon wag dat Petrus ophou preek nie — en Hy het inbeweeg om dit te oorbeantwoord! Die mense wat naby gestaan het, het nie net die Woord gekry nie — hulle het ook die Heilige Gees gekry! En nie net die Heilige Gees nie, maar die gawe van tale. En nie net tale nie, maar die waterdoop! “En hy (Petrus) het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here” (Handelinge 10:48).

Cornelius wou net die evangelie gehad het — maar God het die hemel op hom uitgestort!

Die bekendste belofte van almal is Efésiërs 3:20. Ons ken dit almal baie goed — to leef baie min van ons asof ons dit glo: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alle wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk...”

God is in staat om nie net ons gebede te beantwoord nie. Hy wil vir ons baie meer doen, buitengewoon, oorvloedig meer as wat ons onsself kan indink! Hy wil ons nie antwoord volgens  ons nietige versoeke nie, maar volgens Sy rykdom en mag. Hy wil gee tot daar niks meer oor is nie!

Elders leer die Bybel ons dat Hy geneig is om ons te antwoord met buitengewoon meer: “Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee...” (Lukas 6:38).

“Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur Sy Gees openbaar” (1 Korinthiërs 2:9-10).

“Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:4).

“...die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet...” (1 Timótheüs 6:17).

God smeek ons letterlik om Hom vir groot dinge te vra!

Ons hou daarvan om die Here “ons Koning” te noem. Maar bid jy groot versoeke waardig ons Koning se grootheid? ‘n Koning is verplig om vir sy onderdane te sorg. En sy mense eer Hom deur vir groot dinge te vra, terwyl hulle glo dat Hy alles het wat hulle nodig het en oorvloediglik sal voorsien. Liewe heililge, jy kan nie God “koning” noem en Hom dan beskuldig dat Hy een van sy onderdane in blywende nood laat nie!

‘n Welbekende filosoof het Alexander die Grote genader om ‘n versoek tot hom te rig, omdat hy ‘n goeie daad aan hom gedoen het. Hy het die koning gevra vir ‘n geskenk van ‘n honderd talente — ‘n fortuin silwer — vir sy dogters.

Almal teenwoordig was verstom. Maar Alexander het ‘n groot glimlag op sy gesig gehad. Hy het gesê, “Gee dit vir hom! Dit is ‘n versoek waardig Koning Alexander. Dit is waardig my rykdom en my vermoë om te gee!”

Ek vra jou — het jy God beskaam deur jou nietige versoeke? “...beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleági 3:10).

Ons dink dit is geestelik om te sê, “Ek aanbid die Here net — ek vra Hom vir niks nie. Wat Hy ookal vir my wil hê, is goed genoeg.” Dit mag heilig klink — maar dit is nie, volgens die Woord van God!

Oor en oor smeek Jesus ons, “Vra! Vra in My Naam! Vra en jy sal ontvang. Vra enigiets — wat jy ookal vra. Vra wat jy wil. Julle het nie, want julle vra nie. God gee goeie dinge aan hulle wat vra. Hy weet wat jy nodig het voor jy vra. Vra die Vader in My naam, en Hy sal dit vir jou gee....”

Maar ons het nie die geloof om te vra nie!

“En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek” (Jesaja 65:24). God sê, “Jy het nie die geloof of vertroue om te vra vir wat Ek regtig vir jou wil gee nie. So, Ek gaan jou uitoorlê. Ek gaan jou antwoord selfs voor jy vra, omdat jy klein dink. Ek weet jou versoek sal nie naby kom wat Ek eintlik wil doen nie!”

“En die Here het verder met Agas gespreek en gesê: Eis vir jou ‘n teken van die Here jou God: sal diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe. Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die Here nie versoek nie” (Jesaja 7:10-12). Agas se reaksie mag heilig geklink het — “Ek sal God nie versoek nie.” Maar dit het God kwaad gemaak! Dit was skynheilig — omdat God geweet het dat Agas sy geloof lank voor daardie tyd verloor het!

Agas verteenwoordig die teruggevalle kerk — Christene wat hulle geloof in God verloor het, hulle wat nie in Sy groot bronne glo nie, “Hulle  sê, “Moenie God vir genesing vra nie. Jy versoek God.” Dit klink goed, maar dit is skynheilig!

Agas wou nie sy geloof laat toets nie, omdat hy geen geloof gehad het nie! En baie Christene vandag vra God nie vir enigiets nie, omdat dit hulle geloof wat hulle nie het nie, sal toets!

Jy sien, Israel het verlossing nodig gehad. Dus het God Agas genooi om te vra vir bevestiging van sy getrouheid deur enige teken wat die koning aan kon dink — van die hemel tot die hel. Maar Agas het alreeds beplan om koning Tiglat-Piléser en Samaria om hulp te vra. God het gesê, “Nee! Ek gaan jou stryd vir jou stry. Ek wil hê dat jy My moet vertrou!” “Luister tog, o huis van David! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie?” (Jesaja 7:13).

Die Hebreeuse woord vir “vermoei” beteken “afgryse.” God het gesê, “Hoe lank gaan jy aanhou om my afgryse te gee omdat julle te bang is om op My woord te staan? Wanneer sal julle ooit leer dat Ek alles het wat jy nodig het — dat Ek vir jou sal sorg omdat Ek Koning en Here is?

Jesaja het aan Israel gesê, “Jy het nie vir ‘n teken gevra nie — maar God gaan jou in elk geval een gee.” “Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem” (Jesaja 7:14).

Geliefde, dit is die grootste oorbeantwoorde gebed van enige gebed in die geskiedenis! Die mense het uitgeroep, “Stuur ons ‘n verlosser,” terwyl hulle gehoop het op ‘n man, het God geantwoord, “Ek sal julle ‘n man gee. En ja, Hy sal ‘n verlosser wees — vir die ganse mensdom!” God het oorbeantwoord deur Immanuel te belowe!

In Jesus Christus — Immauel — het ons God se heerlikste oorbeantwoording van alles gekry. Hy is die volheid van God. In Hom is alle rykdom en seën in oorvloed. Hy is ons groot bron. En in Hom is oneinding baie meer as wat ons kan bid of dink!

Die Skrif sê, “En Samuel het groot geword, en die Here was met hom; en Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie” (1 Samuel 3:19).

Hierdie vers beteken dat Samuel se gebede en profesië — nie een van hulle het nutteloos op die grond geval nie! Nie een gebed het onbeantwoord gebly nie. Elke woord van God se beloftes wat Samuel in gebed herhaal het, was ‘n daad wat baie oorvloediglik vrug gedra het!

Geliefde heilige, wanneer jy na jou binnekamer gaan, onthou: “...hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Kwoteer altyd daardie vers — werk dit in jou sisteem in terwyl jy bid: “Ek kom na U toe, Jesus, omdat  ek weet dat U God Almagtig is. U het al die bronne wat ek ooit nodig sal hê. U is ver bo my verstand in grootheid — maar ek glo U sal hulle wat U ywerig soek, beloon!”

Bring al jou versoeke na God toe. Bid, glo dat Hy jou met blydskap sal oorbeantwoord op Sy eie manier en in Sy eie tyd. Begin om vandag vir genesing te vra vir hulle wat jy gedink het, nie meer gehelp kan word nie. Vertrou Hom vir jou hopelose finansiële situasie, vir jou ongeredde geliefdes.

Hy gaan jou antwoord — Hy gaan jou gebed oorbeantwoord — buitengewoon, oorvloedig baie meer as wat jy kan bid of dink!