God is 'n Beloner

David Wilkerson

“Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:5-6).

Een van die groot tragedies van hierdie geslag – en een van God se grootste smarte – is dat so baie Christene nie werklik gelukkig is nie! Hulle hou ‘n groot front voor: sing, klap hande, glimlag, loof en prys. Maar wat net onder die oppervlak loer, is ernstige ellende. Die blydskap hou nooit nie. Hulle is eensaam en hartseer.

Die gebrek aan oorwinning in Christus is haglik! So baie is warm, dan skielik koud. Hulle kan nie vrees hanteer nie. Depressie ry oor hulle soos ‘n stoomroller. Een week is hulle hoog, die volgende week laag.

Daar is baie huwelike wat ook warm-en-koud is. Een dag gaan alles goed met man en vrou; die volgende dag is hulle ellendig. Sommige dae kan hulle nie eens met mekaar praat nie. Hulle dink, “Wel, dit is hoe die huwelik veronderstel is om te wees. Jy kan nie verwag om heeltyd gelukkig en liefdevol te wees nie!”

Paulus waarsku dat daar Christene is wat “weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Timótheüs 2:26). Dit beskryf talle Christene perfek. Satan beweeg vinnig in en uit hulle lewens net soos hy wil! Hulle het geen krag of gesag om hom te stop by hulle hart se deur nie. Hy roem in sy houvas op hulle: “Jy het geen krag van Christus in jou om my te stop nie! Jy is my gevangene. Jy sal doen soos ek vir jou sê.”

Sommige van julle wat hier lees, mag vasgevang wees in ‘n duiwelse strik. Paulus het gesê dit is omdat julle weerspannig is (sien 2 Timótheüs 2:25). Hulle wil nie doen wat gedoen moet word om verlos te word van die duiwel se strik nie.

Om “weerspannig” te wees, beteken dat jy jouself opgestel het om verstrik te word. Jy het God se manier van verlossing en oorwinning geweier. Jy het Sy manier weerstaan – en jou eie manier opgestel. Dit is waarom jy verstrik is!

So baie ken nie die oorwinning in Christus nie. Satan plaas vrees, eensaamheid, depressie of wellus op hulle net wanneer hy wil. Is dit egter waarvoor Christus gesterf het? Om kinders groot te maak wat onder die mag van die duiwel se wil is? Is dit die Christen se getuienis vir die wêreld: “Gee jou hart vir Jesus, maar jou wil vir die duiwel!”? Nooit!

Jy kan nie jou ongelukkigheid blameer op swak gesondheid, verkeerd verstaan word, of dat jy ‘n maat, baas of vriend het wat nie omgee nie. Trouens, jy kan blameer net wie en wat jy wil. Maar in werklikheid is daar geen verskoning vir ‘n Christen om te lewe as ‘n slaaf van die duiwel nie.

As die duiwel op jou emosies speel en jy erger word, nie beter nie; as jou probleme groter word; as vrees groter word, blydskap verdwyn, hartseer inskop – beteken dit jy is ‘n gevangene van die vyand van jou siel en word deur hom gemanipuleer!

Iets baie ernstig is verkeer. Jy moet die strik waarin jy is, herken en daarna streef om verlos te word. Jy sien, as jy die Here vir meer as ‘n paar maande dien, behoort jy daagliks in die genade en kennis van Jesus te groei. Jou geestelike oorwinnings behoort soet te wees. Jy behoort verseker te wees van Sy voortdurende teenwoordigheid en dat jy verander word van heerlikheid tot heerlikheid na Sy beeld. Teen hierdie tyd behoort Satan vir jou te vlug!

So, wat is die probleem? Waarom het so baie gevangenes geword?

So min wandel werklik met God.

Diegene wat met God wandel, word uit Satan se bereik, uit sy koninkryk van duisternis oorgebring tot in Christus se koninkryk van lig: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13). Ons word nou op hierdie oomblik uit die duiwel se strik oorgebring tot in die hart van Jesus.

Die Griekse woord vir “oorgebring” beteken hier dat Christus persoonlik gekom het en ons weggedra het van die duiwel se mag en ons in ‘n hemelse plek neergesit het. Maar God bring slegs diegene oor wat naby Hom wandel, soos Henog. Diegene wat gevange gehou word volgens Satan se wil, kan nie weggeneem en verlos word van die duisternis nie.

Jy is nie waarlik gered totdat jy jou hart volkome daarop ingestel het om met God te wandel nie. Wegneming uit die duiwel se ryk behoort aan diegene wat intiem met die Here wandel. Jy kan daarop aanspraak maak om gered te wees en Hom lief te hê. Jy kan die wêreld vertel jy behoort aan Hom. Jy mag selfs bid, oor Hom ween en Sy Woord lees. Maar tensy jy elke dag met Hom wandel, sal jy nooit verander nie. Jy sal dieper en dieper in slawerny verval.

“En Henog het met God gewandel” (Génesis 5:24).

Die oorspronklike Hebreeus vir “wandel” impliseer dat Henog op en af gegaan het, in en uit, heen en weer, arm in arm, heeltyd in geselskap met God en besig om te groei.

Henog se vader, Jered, het 962 jaar oud geword. Sy seun Metúsalag het 969 jaar oud geword. Maar Henog het 365 jaar geleef – of ‘n “jaar” van jare! Hy het ons aan ‘n nuwe soort gelowige bekendgestel, want hy is ‘n tipe van die toegewyde gelowige in Christus. Vir 365 dae elke jaar van sy lewe, het hy arm in arm met die Here gewandel. Die Here was sy hele lewe!

Henog het geleer om met God te wandel te midde van ‘n goddelose samelewing. Tog was hy ‘n gewone gesinsman met dieselfde probleme en laste wat ons dra. Hy “het seuns en dogters gehad” (Génesis 5:22). Hy was geen kluisenaar, weggesteek in ‘n wildernis grot nie. Hy was betrokke in alledaagse lewe met ‘n vrou, kinders, verpligtinge en verantwoordelikhede. Hy het met God gewandel terwyl hy ‘n familie grootgemaak en vir hulle voorsien het. Henog kon nie wegkruip om heilig te wees nie!

In hierdie dae, vlug talle Christene na die heuwels om weg te kruip vir die toenemende teëspoed. Sogenaamde profete sê vir mense om na hulle veilige, plattelandse wegkruipplekke te kom. Christen Jode word gewaarsku om terug te gaan Israel toe om die verwagte finansiële ineenstorting in Amerika te ontvlug. Maar Henog het bewys dat dit die groter getuienis is om met God te wandel in ‘n plek soos Broadway, te midde van die storm – maak nie saak wat nie!

Ek weet waar ek wil wees wanneer dinge in duie stort. Wanneer die finansiële markte in duie stort, wil ek teruggaan Wall Street toe – daar waar ek was tydens die laaste ineenstorting op 19 Oktober 1987! Ek wil daar wees soos ‘n hedendaagse Henog, terwyl ek met God wandel en met Hom praat, sonder vrees – ‘n vredevolle, vreeslose getuie terwyl ek Jesus verkondig aan ‘n volk wie se wêreld verpletter is.

Jesus het gesê, “Gaan!” nie “Kruip weg!” nie. Ek wil daar wees waar die Heilige Gees is – en jy kan seker wees Hy sal in die voorste linies van die stryd wees, waar Hy die bekommerdes en vreesbevangenes na Hom toe roep.

Henog het hierdie wêreld as goddeloos bestempel. Sy eie samelewing was boos, en terwyl hy afgekyk het deur die hele geskiedenis tot op die heel laaste dae, was al wat hy kon sê, “Goddeloos! Goddeloos! Goddeloos.” “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het” (Judas 14-15 ).

Wandel jy met die Here? Dan moet jy die wêreld sien soos Henog dit gesien het: goddeloos en vol van die gees van die Antichris en harde toesprake teen jou God. Hoe kan jy ‘n deel wees van dit wat goddeloos is? Hoe kan jy jou assosieeer met diegene wat Hy kom oordeel? Hy kom met tienduisende van Sy heiliges om ‘n sondige, verlore wêreld te oordeel. Aan wie se kant is jy?

Ek veroordeel nie die prag van die natuur en die goeie dinge wat God geskep het nie. Ons behoort te let op “die lelies van die veld” (Matthéüs 6:28). Maar as jy arm in arm met Jesus is, met Hom praat, na Hom luister, dan sal jy hierdie goddelose stelsel haat. Jy sal standpunt inneem vir Hom teen diegene wat teen Hom praat. Jy sal Hom hoor sê, “Hy wat ‘n vriend van die wêreld is, is ‘n vyand van My” (sien Jakobus 4:4).

Elia en Henog, die enigste twee profete wat lewend hemel toe is, het iets in gemeen gehad: Hulle was albei haters van sonde en het hulle daarteen uitgespreek. Hulle het albei so naby aan God gewandel, dat hulle nie anders kon as hom Sy haat vir goddeloosheid te deel nie.

Die onbetwisbare effek op almal wat met God wandel, is ‘n toenemende haat vir sonde – en nie net haat nie, maar afsondering daarvan ook. As jy steeds hierdie wêreld liefhet en tuis is by die goddeloses – as jy ‘n vriend is van diegene wat Hom vloek – dan wandel jy nie met God nie, en jou saligheid is ‘n klug. Jy is wandel nie met die Here nie, maar sit op die draad en maak Hom openlik tot skande.

“En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem” (Génesis 5:24). Ons weet uit Hebreërs dat dit verwys na Henog se opname in die hemel, die feit dat hy nie die dood gesmaak het nie. Maar dit beteken ook iets baie dieper as dit: “Hy was daar nie meer nie” soos gedefinieer in Génesis 5 beteken ook “hy was nie van hierdie wêreld nie.”

In sy gees, in sy sinne, was Henog nie deel van hierdie goddelose wêreld nie. Hy was oorgebring in sy gees na ‘n hemelse realm. Elke dag terwyl hy met die Here gewandel het, het hy minder gebonde aan die dinge hieronder geword! Dag vir dag, jaar vir jaar, het hy opgegaan, op pad huistoe, nader aan die hemel. Soos Paulus, het hy daagliks gesterf aan hierdie wêreld.

Henog het steeds al sy verantwoordelikhede nagekom: Hy het vir sy gesin gesorg, gewerk, bedien en was besig. Maar “hy was daar nie meer nie” – hy was nie aardsgebonde nie! Geen van die eise op sy lewe kon hom weghou van sy wandel met God nie. Die Here het hom verteer. Elke oomblik waarin hy wakker was, het sy gedagtes teruggekeer na Hom toe. Sy hart was aan God vasgeheg met wat gelyk het soos ‘n groot rubberband. En hoe meer jy daardie rubberband uitstrek, hoe vinniger spring dit terug as jy dit laat los. Henog se hart het altyd “teruggespring” na die Here toe!

Henog het heeltyd verander na die Here se beeld.

Soos die mensdom om hom meer goddeloos geword het, soos mense verander het in wilde diere vol wellus, hardheid en sensualiteit, hoe meer het Henog geword soos die Een met wie hy gewandel het. Ek en jy verander almal. En teen hierdie tyd, moes talle Christene baie meer soos Jesus geword het. Maar in plaas daarvan, het hulle hard en selfsugtig geword. Hulle behoort in genade te groei, heeltemal tevrede in Hom. Maar nee – talle keer terug, raak afvallig en gaan agteruit.

Waarom? Hulle wandel nie met God nie. Hulle bid selde. Hulle delf selde in God se Woord. In plaas daarvan, top hulle en word hard. Hulle kerm en maak hulleself oop vir die duiwel se wil. Die punt is dat, anders as Henog, het hulle nie Jesus lief genoeg om by Hom te wil wees nie.

Dit is waarom daar so baie verwarring, vrees en ongelukkigheid in so baie Christelike huise en lewens is. Hulle het geen wandel met God en geen begeerte om met Hom afgesonder te wees nie. Hulle bid niks deur nie – hulle probeer dit deur dink. Hulle staan nie op God se Woord nie – hulle staan op hulle “regte”!

Henog se wandel met God het ‘n geloof opgewek wat God behaag het!

“Voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.” Wat was dit omtrent Henog wat God so behaag het? Dit was dat sy wandel met God in hom daardie soort geloof, wat God liefhet, opgewek het. Hierdie twee verse kan nie geskei word nie: “Voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:5-6).

Dwarsdeur die Bybel en die hele geskiedenis, het diegene wat met God gewandel het, mans en vroue van geloof geword. As die Kerk daagliks arm in arm met God wandel envoortdurend met ons Here gemeenskap hou, sal die gevolg wees ‘n volk wat vol van geloof is – ware geloof wat God behaag.

Sommige hou geloofseminare, versprei geloofsbandopnames, kwoteer geloofsverse – alles om geloof te probeer opwek. En dit is waar, “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Maar Jesus is die Woord. “Die letter maak dood,” sê die Skrif, en sonder intimiteit met Jesus, wek die letter ‘n dooie, selfsugtige, veeleisende emosie op wat glad nie geloof is nie – en God haat dit. Geloof kom deur Sy Woord te hoor en naby Hom te wandel. Nie deur te praat sonder die wandel nie! Ons behoort altyd “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” te hou (Hebreërs 12:2).

Hierdie intieme wandel met God ontbreek in die Kerk vandag. Geloof is om werklik te weet wie God is. Dit is om vertroud te word met Sy heerlikheid en majesteit. Diegene wat Hom die beste ken, vertrou Hom die meeste.

Wys my ‘n volk wat naby Hom wandel, sonde haat, losgemaak word van hierdie wêreld en Sy stem leer ken, en jy sal ‘n volk sien wat nie baie prediking en lering oor geloof nodig het nie. Jy het nie “10 stappe” nodig oor wat geloof is en hoe om dit te kry nie. Ware geloof kom uit die hart van Jesus. En dit sal Sy eie geloof wees – nie ons s’n nie – wat in ons groei en uit ons harte voortkom!

Henog se wandel met God sou nie die moeite werd gewees het nie, tensy dit ‘n ooreenstemmende geloof opgewek het wat heeltyd gegroei het. “Deur die geloof is Henog weggeneem.” Wat ‘n ontsaglike waarheid! Al sy geloof was gefokus op een groot begeerte van sy hart: om by die Here te wees!

God het gekom en Henog weggeneem in antwoord op sy geloof. Henog kon nie langer verdra om agter die voorhangsel te staan nie – hy moes net die Here sien! Hy het gebid, geglo dat God sy geroep sou verhoor om in Sy werklike teenwoordigheid te wees. Hy was so “ontuis” hier op aarde dat hy vir God gesê het, “Kom...daar is niks hier vir my nie.”

Dink aan hoe Christene dit wat hulle “geloof” noem vermors. Hulle geloof is alles op hulself gerig – hulle behoeftes, wat hulle wil hê. En hulle kry dikwels wat hulle wil hê, maar dit maak hulle net meer ellendig. Waar is die Henogte wat hulle geloof spandeer om oorgebring te word uit die duiwel se duisternis tot in die hande van God se geliefde Seun?

Henog het geen Bybel gehad nie, geen gesangeboek nie, geen mede-lidmate, geen leraars, geen inwonende Heilige Gees, geen geskeurde voorhangsel met toegang tot die Allerheiligste nie. Maar hy het God geken! Sonder die tugtiging of aanmoediging van ‘n profeet, sonder die voorbeeld van ander, het Henog hom daarop ingestel om die Here te volg. Waarom is dit vandag so moeilik met al die hulp, die oortuigings, die profetiese waarskuwings, die smekinge van die Heilige Gees? Is dit nie vir ons ‘n bestraffing dat Henog uitgestyg het bo sy goddelose tyd nie, ‘n man wat met God gewandel het ten spyte van so min hulp? Vandag is daar menigtes wat nie saam met Hom in oorwinning kan wandel nie, ten spyte van al die hulp van God hulle gegee het!

Henog het geglo God was ‘n beloner van die wat Hom ywerig soek!

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat to God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Hoe weet ons dat Henog geglo het God is ‘n beloner? Omdat dit die enigste geloof is wat God behaag – en ons weet dat Henog Hom behaag het!

God is ‘n vergelder, ‘n vergoeder, dit is, ‘n God wat goed betaal vir getrouheid. Hoe beloon die Here Sy yweriges? Dit is my ervaring dat wanneer ek arm in arm met Jesus wandel en so verlief op Hom is, dan breek beloning uit aan alle kante. Alles wat ek doen of het is geseënd: my vrou, kinders, vriende, bediening. Daar kom ‘n lewe van Christus van binne wat vloei soos ‘n magtige rivier. Ja, ons het beproewings en verdrukkings. Maar deur dit alles beloon Hy ons met openbarings van Sy teenwoordigheid.

Daar is drie belangrike belonings wat voortkom deur geloof:

1. Die beloning van beheer: God sal jou weer beheer gee. Diegene wat die Here verwaarloos, tol vinnig buite beheer as die duiwel inbeweeg en oorneem. So ‘n persoon het ‘n verwoeste selfbeeld. Sy of haar gevoelens en gedagtes kan nie beheer word nie en hulle tonge klap en beweeg onder die mag van bitterheid en woede.

As ons tog net verlief sal word op Jesus – met Hom wandel en gesels – sou Hy gou aan ons openbaar dat Satan geen heerskappy oor ons het nie. Ons sou Hom gou toelaat om ons te beheer. Dan sou ons die demone wegjaag, die duiwel laat vlug, duisende op die vlug laat slaan, opstaan in geloof teen elke vrees, elke leuen, alles wat uit die hel na ons toe kom.

Paulus gee ‘n waarskuwing aan “arme vroue” wat nie wellus wil neerlê nie: “Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word” (2 Timótheüs 3:6). Vroue wat nie die prys wil betaal en met Jesus wandel nie, wat nie goddelike tugtiging wil aanneem, hulle sondes erken en bely en hulle bekeer nie, maar agter ‘n leraar sal aangaan wat vir hulle sal bid – en hulle dan beroof! En glo my, hierdie “huiskruipers” is altyd by ons. Hulle het oë wat vroue begeer en beloftes aan hulle maak en sê, “Kom na ons byeenkomste – jy sal vryheid kry!” Nee, jy sal nie! Jy sal op die ou end ‘n gevangene wees, twee-maal gebonde, en daardie mans sal reguit na jou beursie gaan!

Maar jy kan beheer kry. Jy kan terugkeer na ‘n vurige, liefdevolle, arm in arm wandel met Jesus. In plaas daarvan om slegs jou eie troos te soek, probeer Jesus troos: “Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelye, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie” (Psalm 69:21).

2. Die Beloning van Suiwer Lig. Wanneer jy met die Here wandel, sal jy beloon word met lig, leiding, onderskeiding, openbaring – ‘n sekere wete! Soos jy dag vir dag sterf aan hierdie wêreld, sal die lig helderder word. Jy is op pad na die son. Sagaria het geprofeteer dat Christus gekom het “om te skyn oor die wat in duisternis...sit, om ons voete na die pad...te rig” (Lukas 1:79).

Is jy onder die bekoring van een of ander soort duisternis of besluiteloosheid? “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). “Sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Johannes 12:46). “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13).

 Jy mag daarop aanspraak maak dat jy Jesus liefhet, maar jou lewe bewys dat jy steeds in duisternis wandel: verward, verbysterd en in ‘n dwaal! Wanneer jy werklik verlief is op Jesus, arm in arm met Hom gesels, skakel Hy die lig aan. Daar is geen duisternis in Sy teenwoordigheid nie.

Die ergste moontlike duisternis vir die mensdom is nie in die harte van God-hatende Kommunistiese leiers or in die haatvervulde Ayatollah Khomeini of die Christus-hatende ateïste nie. Dit is eerder die verskriklike duisternis wat sogenaamde Christene verblind wat weier om in die lig te wandel.

Jesus het gewaarsku: “Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie” (Lukas 11:35). Jesus het vir die Fariseërs gesê dat ‘n oordeel val op diegene wat die lig verdraai of weier: “Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat...die wat sien, blind mag word. En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het...vir Hom gesê: Is ons dan ook blind? Jesus antwoord hulle...maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde” (Johannes 9:39-41).

Soos die Fariseërs, dink sommige Christene hulle “weet dit,” dat hulle in die lig is. Hulle sê, “Ek sien.” Of, “Ek sien net so goed of beter as die herders of enigiemand anders!” Hulle behoort te kyk na hulle eie lewens en huise, al die bekommernis en verwarring in hulle harte en erken, “Here, ek sien nie! Wys my! Ek is blind?”

As ons nie oopmaak vir ware, suiwer lig nie, dan sal ons oordeel net ‘n valse lig wees. Slegs die ergste vorm van duisternis en vervloekte trots gaan rond en sê, “Ek sien!” Keer terug daarna om met Hom te wandel, en Hy sal alle duisternis openbaar en jou laat terugkeer na Sy suiwer lig.

3. Die beloning van beskerming teen al jou vyande: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie” (Jesaja 54:17). Alles wat Satan probeer om jou te laat val, sal net nie werk nie! Daardie groot gewere wat teen jou gerig word, sal wegsmelt in Sy teenwoordigheid. Dink jy Satan sal sy visier instel op Jesus – Hy met Wie jy wandel?

In die oorspronklike Hebreeus, word hierdie vers vertaal as: “Geen plan, geen instrument of verwoesting, geen sataniese artillerie, sal jou verdruk of oor jou ry nie, maar dit sal vernietig word.” God het belowe om Satan se aanval teen jou te vernietig. Die beloning van diegene wat Hom vurig soek, is die voorreg om meer as oorwinnaars te word (Romeine 8:37).

Vir 365 jaar het Henog elke vurige pyl afgeskud. Hy het in algehele oorwinning gelewe tot sy laaste asemteug. Hy het nie uitgekruip nie, ook nie uitgestrompel nie. Hy het uitgegaan in ‘n vuur van lewe en heerlikheid!

“Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie. As hulle ook die aanval begin – dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val” (Jesaja 54:1-15).

Waar daar geregtigheid is, is daar vrede. Jy sal verlos word van verdrukking wanneer jy in heiligheid wandel. Jy sal nie vrees nie, want daar sal geen skade wees nie vir diegene wat wandel in geregtigheid. “Ook het Ék die verderwer geskape om te verniel” (Jesaja 54:16). Selfs die “verderwer” is onder die Here se beheer. God het beheer oor alle vernietigende wapens.

Ons sekuriteit is in geregtigheid, in ons wandel met Jesus. En ons moet absoluut niks vrees nie!