God Het Reeds Begin om Amerika ‘n Wildernis en Woesteny te Maak!

David Wilkerson

“En Ek sal die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal ‘n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees...Dan sal hulle weet dat Ek die HERE is, as Ek die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak oor al hul gruwels wat hulle bedryf het” (Esegiël 33:28-29).

Dit is ‘n waarskuwing uit die mond van die Almagtige God – en die vervulling daarvan word dwarsdeur die Bybel gevind. God het dit baie duidelik gemaak: “Indien enige land hulleself verdorwe maak en hopeloos goddeloos word, sal Ek daardie land ‘n wildernis en woesteny maak totdat hulle weet dat Ek God is!”

Die betekenis van die woorde “wildernis en woesteny maak” is inderdaad ontsagwekkend. Om ‘n wildernis of woesteny te maak beteken om te verlaat – om dit ongeskik te maak vir bewoning, om dit te stroop van vriende en hoop, om daarvan af weg te loop, te laat staan, te ruïneer en te verwoes. En dit is presies wat God begin doen het aan Amerika!

Die meeste mense is moeg daarvoor om te hoor van die agteruitgang van hierdie land. Die President het alle verdere swartgallige praatjies kwaai veroordeel. En baie Christene sê, “Ek kan net nie nog neerdrukkende prediking verdra nie. Ek het bemoediging nodig wanneer ek kerk toe gaan.

Maar dit is die einste gesindheid waarteen God se Woord waarsku. Dwarsdeur die Ou Testament, het God se volk hulle ore gesluit vir profetiese waarskuwings op die vooraand van verwoesting. Terwyl die uur van oordeel nadergekom het, het hulle hul harte verhard teen alle waarskuwings – en skielik het die verwoesting plaasgevind!

Daar is nie baie mense oor in Amerika wat sê “Dit kan nie hier gebeur nie!”

Die meeste Amerikaners erken iets onheilspellends is aan die gebeur, iets ontsagwekkend en bonatuurlik – en dit is bo enige menslike mag om dit te keer. ‘n Stem diep binne-in die Amerikaanse siel roep uit, “Ons is nie meer nommer een nie – en ons gaan vinnig agteruit. Die Amerikaanse Droom het verdwyn, en ons staar ‘n gevaarlike toekoms in die gesig!”

Ek gaan nie al die tekens van agteruitgang en verwoesting noem wat reeds aan die werk is in Amerika nie. Ons sien dit daagliks oral rondom ons. Ons het in werklikheid so baie daarvan gesien, dat ons immuun daarteen geword het.

Maar ek wil jou neem na God se Woord en vir jou wys hoe dat God sonder twyfel samelewings wat teen Hom gesondig het en Hom verwerp het, laat ondergaan en verwoes het! As jy sien wat God gedoen het aan nasies wat minder sondig was as Amerika, sal jy besef dat God onmoontlik ons verwoesting kan terughou!

Jy sal moontlik sê, “Dit is Ou Testament. Dit ontbreek die genade van die Nuwe Testament. Dit is nie relevant vir ons tyd nie.”

Maar niks kan verder van die waarheid af wees nie! Die apostel Paulus skryf, “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Paulus het in hierdie gedeelte oor die verwoesting van Israel gepraat!

Petrus het gesê Sodom en Gomorra was ‘n voorbeeld vir alle goddelose samelewings wat daarna sou kom:

“En deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou word” (2 Petrus 2:6).

Judas gee dieselfde waarskuwing: “Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (Judas 7).

In Paulus, Petrus en Judas, gee God vir ons drie getuies wat bevestig dat Sy verwoesting van die nasies in die Ou Testament bedoel was om ons wat in die eindtye leef, te onderrig en te waarsku. Toe God na Sodom en Gomorra gekyk het, het hy vir die hemelse leërskare gesê: “Ek gaan Sodom en Gomorra verwoes – hierdie samelewing wie se sonde aan die hemel geraak het – sodat elke opeenvolgende geslag duidelik bewyse sal hê van wanneer om oordeel te verwag! Dan sal hulle ‘n geïllustreerde waarskuwing hê van wat Ek sal doen en wanneer Ek dit sal doen – wanneer ‘n geslag My uitsluit en met sy sonde spog!”

Laat ons ‘n paar van hierdie verwoestings, “wat as voorbeelde gestuur is,” beskou.

1. Levitikus 26. Hierdie waarskuwing beskryf duidelik hoe God diegene sou verwoes wat Hom verwerp en goddeloos word:

“Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie...en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie. En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig.

“En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie” (Levitikus 26:14-20).

Klink dit nie na wat in goddelose Amerika gebeur nie? God sê in wese, “Julle weier om My te gehoorsaam en is vyandiggesind teenoor My – daarom sal Ek julle trots verbreek! Ek sal die land stroop en dit kwesbaar maak. Julle vyande sal julle hulpbronne oorneem. Ek sal julle verlaat, en julle stede en grond sal woes word. Julle sal eensaam, alleen, vreesagtig en ellendig wees!”

2. Jesaja 1. Luister na hierdie waarskuwing:

“Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag...Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank....

“Julle land is ‘n wildernis, julle stede met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes” (Jesaja 1:4-7).

Hoe naby kom Amerika aan Jesaja se beskrywing van ‘n samelewing deur God verwoes? “’n Sondige nasie...swaar van skuld...kinders wat verderflik handel...die HERE verlaat...die Heilige verag...vreemdes verteer julle landerye in julle teenwoordigheid...’n wildernis soos by omkering.”

Dit is duidelik Jesaja het gepraat van die verwoesting van Israel weens daardie nasie se sondes. Maar hierdie profesie beskryf Amerika tot die letter!

Japan, Korea en Europese nasies verteer almal ons landmerke, sluk ons eiendomme en besighede in. Die Japanese sit en bespot ons werkers en industrieë met die wete ons is hulpeloos om daarop te reageer.

God wou regtig iets anders vir Amerika gehad het – en vir ‘n tydperk het ons dit gehad. Hier is God se belofte vir enige nasie wat Sy stem hoor en Hom gehoorsaam:

“Die HERE sal die seën oor jou gebied...Hy sal jou seën in die land...En die HERE sal die goeie oorvloedig aan jou gee...Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak...om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe...gaan” (Deuteronómium 28:8,11-18).

Tot tien jaar gelede, was Amerika die wêreld se bankier, en het aan ander lande uitgeleen. Maar in die laaste vyf jaar, het ons die wêreld se nommer-een skuldenaar nasie geword. Ons het slawe van ons uitleners geword!

Amerika het eens al die seëninge gehad wat God belowe het – omdat God eens op ‘n tyd waarlik geëer was hier. Presidente en Kongresse het God eens erken. So onlangs as dertig jaar gelede, het wetgewers gebid tydens hulle sittings, en hulle het opgemerk dat hulle kollega’s ween. Maar nie meer nie! Nou het ons God by ons regering en skole uitgedryf.

Kyk na wat Moses gesê het sou gebeur wanneer God verwerp word – en sien of dit nie plaasgevind het in Amerika nie:

“As jy Hom nie gehoorsaam is nie, sal verwarring en bestraffing oor jou oorval in alles waarin jy jou hand begewe. Siekte sal jou aankleef. Die Here sal jou met tering tref. Jou land sal paniekbevange word. ‘n Ander land sal al jou rykdom verteer, en jou kinders sal vir jou droefheid bring.

“Die vreemdeling in jou midde sal verhef word, en jy sal baie laag gebring word. Hy sal jou aan jou leen; hy sal die kop wees en jy sal die stert wees. Verskriklike, ongehoorde plae en siektes sal oor jou kom. En die Here wat daarin wil juig om jou te seën, sal in plaas daarvan, teen jou draai. Hy sal juig daarin om jou land te verwoes en jou te vernietig!” (sien Deuteronómium 28:15-68).

Die Sowjet Unie is ‘n voorbeeld van antieke Babel, ‘n goddelose volk

In die afgelope twee jaar, het ons gesien God doen ‘n ondenkbare ding: Hy het die Sowjet Unie heeltemal verwoes! Die mees gevreesde, goddelose land in die wêreld het in totale disintegrasie verval. En Jesaja het voorspel wat God sou doen aan sulke nasies as ‘n voorbeeld:

“Hoor dan nou dit...wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie...En jy het op jou boosheid vertrou...Daarom oorval ‘n onheil jou wat hy nie sal weet om te besweer nie en ‘n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou ‘n verwoesting sonder dat jy dit weet” (Jesaja 47:8-11).

Ek vra jou – het die val van die Sowjet Unie skielik gekom? Is dit nie waar dat niemand kan verduidelik hoe dit gebeur het nie; dat niemand die skielike ineenstorting kon keer nie?

GOD HET DIE SOWJET UNIE LAAT VAL AS ‘N HEDENDAAGSE, LAASTE VOORBEELD OM DIE WÊRELD SE AANDAG TE KRY – VERAL AMERIKA S’N! Hy het in wese vir ons gesê:

“Jy beskou of luister nie na die voorbeelde van die geskiedenis nie; dit maak geen impak op jou nie. Daarom gaan ek die wêreld se mees goddelose en magtigste nasie – ‘n land wat sê daar is geen God nie, wat vrees oor die hele aarde inboesem – neem en Ek sal dit verwoes en ruïneer voor jou oë!”

Amerika sit nou skepties en sien op hulle televisies en in hulle koerante prentjies van honger Sowjette wat in rye staan vir brood. Die New York Times het onlangs ‘n Russiese vrou gewys wat brood bak en vertel hoe dit “uitgemeet” word aan winkels. Geliefde, dit is woord vir woord uit Levitikus 26:26 geneem! “As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.”

God sê vir Amerika en die wêreld, “Ek gee jou een laaste waarskuwing! Kyk wat Ek in Rusland gedoen het in twee jaar. Hulle leiers is verward, onbevoeg. Ek het die winkels leeg gemaak. En ek het dit oornag gedoen aan ‘n nasie wat My verwerp het. Bekeer jou, of Ek sal dieselfde aan jou doen! Kom terug na My toe en verneder jouself – of ek sal jou land verwoes!”

Broodrye in Amerika? Vyftig persent werkloosheid? ‘n Regering in chaos? Anargie en vrees aan alle kante – in Amerika? Ja! Lees net die hoofberigte jy sal sien dat dit op hierdie oomblik gebeur!

God het gesweer om enige nasie te verwoes wat nie na Sy waarskuwings wil luister nie: “Maar as julle na hierdie woorde nie luister nie, dan sweer Ek by Myself, spreek die HERE, dat hierdie huis ‘n puinhoop sal word” (Jeremia 22:5).

Daar is oorweldigende Bybelse bewyse dat enige nasionale agteruitgang – óf maatskaplik, godsdienstig, óf ekonomies – wys dat God aan die werk is om sonde en haat teenoor Hom te oordeel:

“En wees nie soos julle vaders en julle broers wat ontrou teen die HERE, die God van hulle vaders, gehandel het nie, sodat Hy hulle ‘n voorwerp van verbasing gemaak het soos julle self sien” (2 Kronieke 30:7). Waarom maak God hulle ‘n voorwerp van verbasing? Weens hulle sonde!

“So slaan Ek jou dan ook met ‘n smartlike wond, met verwoesting weens jou sondes” (Miga 6:13).

“Naby is die groot dag van die HERE, naby baie haastig...Dié dat is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid...Ek Ek sal die mense in benoudheid bring...omdat hulle teen die HERE gesondig het” (Sefánja 1:14-17).

Die Skrif maak dit duidelik waarom God nasies en samelewings omverwerp: Hy doen dit weens hulle sonde!

God het ‘n uiteindelike doel agter sy verwoestings

Deur ons ekonomie en instellings te verwoes, wil God een ding bereik: Op een of ander manier, sal Hy erken word as Here en God – óf deur bekering óf deur verwoesting! Amerika sal hulle dalk nie bekeer nie – hierdie land sal steeds probeer om God uit ons samelewing te stoot – maar almal sal weet Hy is die Here!

“Dan sal hulle weet dat Ek die HERE is, as Ek die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak oor al hul gruwels wat hulle bedryf het” (Esegiël 33:29).

“En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is” (Esegiël 20:26).

God sê vir ons: “Ek het jou jarelank geseën, sodat My goedheid jou sou lei tot bekering. Tog wil jy My steeds nie eer nie. Hoogmoedige Amerika het My uitgedryf – sy erken nie My heerskappy nie. Maar sy sal!”

“Ek sal haar van haar verhewe posisie afhaal en haar in die stof laat lê. ‘n Donker, onheilspellende dag kom wanneer ACT-UP homoseksuele, ateïste, New Agers, die Hooggeregshof, aborsioniste en almal wat My bespot het – almal sal weet Ek is God!”

Geliefde, ek sê nie hulle almal sal God erken nie – maar hulle sal weet Hy is agter alles wat gebeur om ons land in duie te laat stort!

Jy sien, verwoesting kom omdat Amerika gesê het, “Ons het God nie nodig nie!” Maar God gaan vir ons die teendeel bewys, soos Hy met die Sowjet Unie gedoen het – en ons gaan weet Hy is die Here!

God verwoes nasies op twee maniere: die manier van die leeu – en die manier van die mot!

God het teen Sodom gekom soos ‘n woedende leeu. Daar was geen waarskuwing nie – geen Noag prediking vir 120 jaar, geen Jona wat roep, “Bekeer julle!” nie. Die engele het een nag gekom – en verwoesting het skielik die volgende oggend gekom!

Nou, soos ‘n leeu wat woedend sy prooi bespring, het God die Sowjet Unie getref sonder waarskuwing. “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie?” (Amos 3:8).

“Toe het Ek vir hulle soos ‘n leeu geword...Waar is nou jou koning dat hy jou kan verlos uit al jou stede?” (Hoséa 13:7,10).

God bewys egter genade aan Amerika; Hy bespring nie skielik soos ‘n leeu nie. In plaas daarvan, verwoes Hy ons soos ‘n mot:

“Want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel...Daarom is Ek vir Efraim soos ‘n mot en vir die huis van Juda soos ‘n verrotting in die gebeente” (Hoséa 5:11-12). Met ander woorde, God het ‘n stadige verrotting gestuur!

“Tugtig U die mense met strawwe oor die ongeregtigheid; dan laat U sy skoonheid vergaan soos deur ‘n mot” (Psalm 39:12). Soos ‘n mot verteer die Here alles wat kosbaar is vir ‘n mens. En Amerika is nou binnegeval deur God se verwoestende motte! Hulle eet al ons geagte instellings: die familie, ons skoolstelsel, ons ekonomiese basis, ons regstelsel. ‘n Stadige verrotting verteer ons – en die basis van ons nasie is vol motgate!

Noag se samelewing het nie ‘n groot resessie beleef as ‘n waarskuwing nie. Hulle het nie ‘n duik van 500 punte op aandelemark gehad om hulle aandag te trek nie. Maar as daardie geslag gesien het hoe al hulle besighede verkrummel en VIGS duisende lewens vernietig, sou hulle miskien gesê het, “Kan Noag reg wees? Is al hierdie dinge tekens van ‘n naderende verwoesting?”

Amerika mag ‘n tydelike herstel hê in sy ekonomie. Maar dit sal nie die mot doodmaak nie! Jy kan sien hoe gat na gat gevreet word. Dit maak nie saak as die aandelebeurs tot 5,000 punte styg nie, of as ons industrieë en groei alles herstel nie. Omdat die mot steeds daar is – en dit verwoesting en vernietiging saai!

Die VIGS mot sal steeds lewens verslind. Die onderwys mot sal voortgaan om ‘n vernietigende pad deur ons skole te vreet. Die homoseksualiteit mot sal toeneem in krag, en ons sedelike raamwerk wegvreet. Die finansiële mot sal aanhou om ons bankstelsel en vervaardigings raamwerk laat verkrummel. Die mot van sonde sal veroorsaak dat bose mense erger en erger word. En die verkrummeling sal voortgaan agter ‘n fasade van voorspoed wat dit alles verskans!

Geliefde, die ergste oordeel wat God tans op Amerika kon uitstort, is nog ‘n vlaag van voorspoed! Dit sou wees soos om die deksel op ons kis te plaas. Mense sou sê, “Ons het uit daardie een gekom – ons kan uit enige ding kom! Ons het God nie nodig nie. Ons het Hom weggejaag, en steeds was ons voorspoedig. Waar is die oordeel van God?

Ons sal word soos die mense van Noag se dag, wat hulle nie wou bekeer nie, omdat voorspoed tot op die heel einde geduur het: “En dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie” (Matthéüs 24:39).

Esegiël 33 wys vir ons wat vir Amerika voorlê:

God se wagte sal binnekort hulle laaste waarskuwings uitroep!

God is op die punt om Sy wagte stil te maak! Hulle sal nie langer waarskuwings uitroep nie. In plaas daarvan, sal hulle bloot opstaan en ween soos Jeremia en Esegiël. Jy sien, dit sal nie meer nodig wees om te profeteer nie – omdat die vyand reeds by die poort staan!

Die woord wat God se wagte verkondig, sal reeds vervul wees – en die bloed van die mense sal nie langer op hulle hande wees nie:

“As dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie...Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel” (Esegiël 33:4-5).

God gee vir Sy kinders waarskuwings om hulle te verlos! Reeds in die laaste twee jaar, het ek ‘n dramatiese stilmaak van die wagte beleef. Eens op ‘n tyd was daar boek na boek, uitroep na profetiese uitroep. Maar nou word so min gesê, want God het uiteindelik besluit, “Daar is niks meer oor om te sê nie!”

Wanneer die raamwerk van ons samelewing wat deur die motte gevreet is, uiteindelik begin skeur, dan sal ons weet dat verwoesting op ons is. En dit sal nie stop totdat God klaar is met ons nie! Niemand sal in staat wees om te sê, “Ons het nie geweet nie – waarom het jy ons nie gewaarsku nie?” Omdat die Skrif sê hulle bloed sal op hulle eie hoofde wees!

Alle sogenaamde “veilige hawens” sal in duie stort!

Wanneer God ‘n nasie ‘n verwoes, soek Hy die goddeloses wat wegkruip: die gaarders, die ommuurdes, die goed voorbereides – almal wat probeer om die oordeel te oorleef. Geen hoeveelheid rykdom sal hulle kan dra deur die ineenstorting wat onafwendbaar is nie. Omdat die Here sê Hy sal hulle vind – en hulle sal nie ontsnap nie! “So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal gewis deur die swaard val, en hom wat op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word, en die wat in die vestings en die spelonke is, sal deur die pes sterwe” (Esegiël 33:7).

Menigtes Amerikaners sê nou, “Ek wil net genoeg verdien om deur te kom.” Ek weet van een ekonoom wat alles verkoop het – en ‘n skuiling in die heuwels van Mexico gaan bou het om die naderende storm uit te wag!

Maar God stuur ‘n duidelike woord aan diegene wat probeer ontsnap: “Daar is geen veilige skuilings nie – die kieme en pestilensies sal jou daar inhaal!”

“Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal. En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt” (Amos 9:2-3).

As jy regtig wil weet hoe dit alles eindig wanneer God ‘n nasie verwoes – waarheen Amerika op pad is sonder totale, verenigde nasionale bekering – bestudeer dan Klaagliedere. Hierdie profetiese boek beskryf die toestande wat bestaan wanneer die verwoesting in volle gang is. Dit verduidelik die verwoesting van Jerusalem, Juda – en Amerika:

“Sy ween nou, hartseer in die nag. Haar vyande is voorspoedig. Die Here verdruk haar oor die menigtes van haar oortredings. Sy kan nie glo haar einde het aangebreek nie – haar krag is weg. Die Here het haar vyand geword! Haar wette het gefaal. Haar vyande blaas nou teen haar. Jong mans lê in haar strate. Dit is slegs die Here se genade dat sy nie verteer is nie....

“Vrees het oor haar gekom. Ellendige vroue maak hulle eie kinders dood. Haar kinders is voedsel vir verwoesting; sy het haarself besoedel met bloed. Haar strate is onveilig. Sy is heeltemal verwerp deur die Here, maar weet nie haar einde het aangebreek nie” (Sien Klaagliedere 1-2).

Jy sien reeds die tekens van so ‘n ellende in Amerika. ‘n Paar weke gelede staan ek en kyk na ‘n honger hawelose man terwyl hy vullissakke oopskeur en gemufte kos in ‘n fles inskraap – kos wat slegs honde sou eet! God het vir my gefluister, “David, die bedelaars is ‘n teken, soos Ek jou meegedeel het. Amerika word gewaarsku. Die dag kom wanneer selfs die rykstes in die vullis sal krap.”

God se boodskap aan Sy kinders is egter heeltemal anders!

Hier is wat die Gees vir die regverdiges sê:

1. Ons hoef nie te vrees wanneer verwoesting kom nie:

“Jy hoef nie bang te wees vir ‘n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik” (Spreuke 3:25-26).

Dierbare heilige, dit is jou teenmiddel teen vrees! Die Bybel sê mans se harte sal beswyk as hulle al die verwoesting sien gebeur. En daar sal inderdaad ‘n ontsaglike vrees oral rondom wees. Maar geliefde, leer dit goed: Dieselfde krag van God wat die goddelose verwoes, bewaar die regverdige!

Jy sal die waarskuwings van Levitikus 26 en Deuteronómium 28 voor jou oë sien vervul word tot die letter. Jy sal egter in staat wees om vir jou siel te sê, “As God Sy beloftes van oordeel so getrou vervul, hoeveel meer kan ek Hom vertrou om getrou te wees om Sy beloftes aan my te openbaar?”

Met elke nuwe slegte-nuus krisis, kan jy opkyk en juig: “Die krag agter hierdie verwoesting, is my God aan die werk! Hy vervul Sy Woord aan die hele wêreld – en Hy sal Sy Woord aan my vervul!”

2. Christus alleen sal die enigste veilige skuiling wees!

Jesus self sal Sy liggaam gelowiges bymekaar maak, hulle omhels en hulle in Sy eie woning neem en sê, “Ek gaan julle wegsteek terwyl die storm broei!”

“En elkeen sal wees soos ‘n toevlug teen die wind en ‘n skuiling teen die stortreën” (Jesaja 32:2). Christus die Here is die enigste skuiling! Jy het niks anders nodig nie – geen neseier, geen ondergrondse skuiling nie – omdat jy in Jesus so veilig is as wat jy kan kry!

“U is ‘n skuilplek vir my, U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding” (Psalm 32:7).

“Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots” (Psalm 27:5).

Daar is geen rede om te vrees nie, geen rede om ontsteld te wees nie. Omdat, wanneer algehele verwoesting neerdaal, jou God jou in Homself sal wegsteek! Halleluja!