God Het Jou Nie Vergeet Nie

David Wilkerson

Het jy al ooit depressie beleef? Was jy al so bekommerd en verdwaas dat jy slapelose nagte verduur het? Het jy al tye gehad waarin jy so terneergedruk en beswaard was dat niemand jou kon troos nie? Was jy al so neerslagtig dat dit gevoel het of jy wou moed verloor en dat jou lewe ‘n algehele mislukking was?

Ek praat nie van ‘n fisieke toestand nie. Ek verwys nie na mense wat ‘n chemiese wanbalans of versteurd is nie. Ek praat van Christene wat van tyd tot tyd veg teen depressie, wat hulle van nêrens af tref. Hulle toestand kom dikwels nie van ‘n enkele bron af nie, maar van baie. Soms word hulle van alle kante af getref totdat hulle so oorweldig is, dat hulle nie verder kan sien as hulle wanhoop nie.

As dit jou beskryf, dan was Psalm 77 vir jou geskryf. Dit is bedoel om vir ons die weg uit ons bekommernis en vrees te wys. Hierdie Psalm was geskryf deur ‘n man genaamd Asaf, ‘n Leviet van priesterlike afkoms in Israel. Asaf was ook ‘n sanger en het as Dawid se koorleier opgetree. Asaf het altesaam elf Psalms geskryf. En hulle was so vol met regverdige bevele vir God se volk dat ek hierdie man ‘n lekeprediker sou noem.

Asaf het Psalm 77 geskryf nadat hy in ‘n aaklige put van wanhoop verval het. Sy toestand het so versleg dat Asaf ontroosbaar was: “My siel weier om getroos te word” (Psalm 77:3). Hierdie goddelike man was so wanhopig dat niks wat enigiemand gesê het, hom uit sy toestand kon kry nie. En Asaf kon homself nie eers sover kry om selfs ‘n woord te spreek nie: “Ek is onrustig en kan nie spreek nie” (Psalm 77:5).

Asaf was egter ‘n biddende man. Ons sien dit in dieselfde Psalm waar hy getuig, “My stem is tot God en ek roep...dat Hy na my kan luister” (Psalm 77:2).

Ek is seker dat Asaf Dawid se getuienis in Psalm 34, wat baie soortgelyk was, gehoor het: “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:16). Dawid het vroeër in hierdie Psalm gesê, “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered...Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos” (Psalm 34:5, 7).

Asaf het ongetwyfeld gehoor hoe Dawid die aangrypende storie vertel het van hoe hy na Gad gevlug het om van Saul af weg te kom. Dawid moes in daardie dorpie voorgee dat hy mal was om met sy lewe te ontsnap. Hierdie uitgeweke dienaar van die Here het op daardie tydstip so terneergedruk en soos ‘n groot mislukking gevoel, dat Hy tot God uitgeroep het. Hy het die Here in sy lyding gesoek en Dawid het getuig dat hy heeltemal verlos is. In werklikheid, God het ‘n lied in Dawid se hart geplaas.

Ons sien dat Dawid in Psalm 40, ‘n nuwe lied van geloof aan sy musikante gegee het. Hierdie lied het sekerlik sy weg tot in die hande van Asaf, die koorleier, gevind. Die Psalm verklaar, “Hy...het my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” (Psalm 40:1–2).

As die volk se aanbiddingsleier, het Asaf hierdie liedere oor verlossings en beantwoorde gebede gesing. Hy het hierdie waarhede aan Israel bedien, dit in liedere gerangskik en verkondig, terwyl hy die koor in ‘n verenigde stem van geloof gelei het. In werklikheid, in sy eie aanbiddingslied — Psalm 78 — het Asaf Israel berispe vir hulle ongeloof. Hy het hulle tereggewys en vertel dat God nie hulle gebede beantwoord nie weens hulle sonde:

“’n Geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie...En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel dek in die woestyn?...Sou Hy ook brood kan gee...? Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie...En hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk...Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God” (sien Psalm 78).

Asaf het egter nou sy eie stryd gestry. Die Bybel vertel nie vir ons wat hierdie man se depressie veroorsaak het nie. Al wat ons weet, is dat sy siel so beswaard was, dat hy glad nie kon slaap nie: “U hou my ooglede oop” (Psalm 77:5).

Op hierdie stadium, het Asaf geskryf dat hy teleurgesteld was oor God se stilte: “Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE...Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees?” (Psalm 77:3, 8–10). Israel se koorleier het skynbaar tot die gevolgtrekking gekom, “God antwoord nie my gebede nie!”

Kan Asaf se storie moontlik jou eie geestelike stryd beskryf? Hier was ‘n goddelike, biddende, getroue man. Asaf was nie een of ander boosdoener nie. Hy het God se Woord liefgehad en die gemeente daarin onderrig. Maar nou het hy ‘n verskriklike depressie beleef.

Volgens ‘n onlangse koerantopname, weerspieël Asaf se gesindheid in Psalm 77 in werklikheid die geloof van die meeste Amerikaners. Die steekproef sê, dat die meeste mense dink dat God gebede hoor, maar min van hulle glo dat God hulle gebede beantwoord.

In der waarheid is Asaf se ervaring nie ongewoon vir gelowiges nie. Inderdaad, dit toon ‘n vurige beproewing wat volgens die apostel Petrus, baie algemeen onder Christene is. “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder jullle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Petrus 4:12). Petrus vertel vir ons in wese, “Jou beproewing is nie iets nuuts nie. Dit word al vir eeue lank deur God se mense beleef.”

Ek het gevind dat hierdie diep, donker beproewings ook beleef is deur die meeste groot predikers van die laaste 200 jaar. By voorbeeld, Charles Haddon Spurgeon was bekend as een van die goddelikste Bybelpredikers van alle tye. Spurgeon was ‘n biddende man wat die Here voortdurend gesoek het. Tog het hy ook diepe, folterende depressie beleef. (In daardie dae, was hierdie toestand “melancholie” genoem).

John Fletcher is nog ‘n dienaar van God wat groot depressies gely het. Hy het bedien onder niemand anders nie as John Wesley, wat Fletcher die goddelikste man op die aarde genoem het. Die teenwoordigheid van Christus was so kragtig in Fletcher se lewe dat sy vriende dikwels stil geword het as hy in die kamer ingeloop het. Hierdie man het die Gees van Christus uitgestraal.

Fletcher het egter ook die aaklige dieptes, wat Asaf beskryf het, beleef. ‘n Folterende melancholie sou uit die bloute oor hom kom en hom vir dae aaneen verdruk. Fletcher het verskriklike beproewings van wanhoop verduur met geen rasionele verduideliking daarvoor nie.

Andrew Bonar, ‘n goddelike, biddende pastoor van die negentiende eeu, het beskryf dat hy soortgelyke ervarings gehad het. Hy het die volgende pynlike storie in sy joernaal geskryf:

“Ek raak agter in die hemelse resies...God gebruik my nie meer in die bekering van siele soos Hy eens het nie...Ek moet vrygemaak word van die skadu van vrees, onsekerheid...Sommige van my naaste vriende lyk of hulle nie langer met my behoeftes simpatiseer nie...Skande en droefheid vul my weens my onheiligheid.

“O wat het ek verloor! My hart sink. Ek word bestraf deur die heiligheid wat ek in ander sien...Daar is skynbaar ‘n wolk tussen my en die Seun van Geregtigheid. Ek dink ek hoor die Here sê, ‘Ek het nie veel nut vir jou nie...”

Dit lyk of elkeen van die heiligste, mees toegewyde en biddende bedienaars so ‘n uur beleef het. Hulle almal beskryf dat hulle oorweldig was deur neerslagtigheid en moedeloosheid. En min van hulle kon verduidelik waar hulle donker wolk vandaan gekom het. Dit het selde gelyk of dit net een oorsaak gehad het, maar dit was eerder die gevolg van een probleem wat op ‘n volgende gestapel was.

Nie eers die goddelikste, mees toegewyde apostel Paulus was immuun teen sulke depressies nie. Hy het aan die Korinthiërs geskryf, “Verdrukking wat oor ons in Asië gekom het...dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (2 Korinthiërs 1:8).

Die Griekse woord wat Paulus in hierdie vers vir wanhoop gebruik, kan vertaal word as, “Ons kon dit nie verstaan nie; ons was wanhopig, selfs tot die dood toe.” Hy sê kortliks, “Ons het verlang om te sterf, want ons kon nie verstaan waardeur ons gegaan het nie. Ons was bo ons uithouvermoë verdruk.”

Dit is moeilik jou voor te stel dat hierdie woorde van Paulus gekom het. Wie het God meer vertrou as hierdie vreeslose apostel? Wie het meer gevas en gebid as Paulus? Wie het soveel gebede beantwoord gehad? Tog het daar ‘n uur van neerslagtigheid oor Paulus gekom soos wat hy nog nooit tevore beleef het nie. Wat was hierdie toestand?

Sommige Bybelkommentators het geglo dit was ‘n kombinasie van beproewings. Daaronder was ‘n diepe siele angs wat veroorsaak was deur mense vir wie Paulus liefgehad het en later teen hom gedraai het. Hierdie hegte vriende het Paulus nie net verlaat nie, maar het ook leuens oor hom versprei. Hulle het sy naam belaster. Daarmee saam, was Paulus deur siekte neerslagtig gemaak. Hy het meer as een keer skipbreuk gely. En bose komplotte is teen hom gesmee in ‘n poging om sy lewe te neem. Boonop was Paulus bekommerd oor die versorging van talle kerke.

Dit sou skynbaar te swaar wees vir een man om te dra. Al hierdie dinge saam, sou egter steeds nie die diepe wanhoop, wat Paulus gevoel het, verklaar nie. Hy het geskryf, “Ek het in soveel foltering verval dat ek nie gedink het dat ek sou oorleef nie. Ek het gedink dit sou my doodmaak.”

Natuurlik was Paulus daaruit gered. Hy het daaroor getriomfeer. Maar hy het nooit daardie aaklige uur van wanhopigheid vergeet nie.

Baie goddelike mense — toegewyde, heilige, biddende dienaars van Jesus — weet waaroor Asaf se hulpgeroep gaan. Hulle toestand is nie ‘n lewenswyse nie. Nee, hulle is eenvoudig liefhebbers van God wat oorweldig is omdat Satan ingekom het soos ‘n vloedstroom. Soos Paulus, word hulle bokant hulle uithouvermoë verdruk.

Christus het medelye met ons swakhede. En selfs Hy het so ‘n diep beproewende uur beleef. Hy het vir Andréas en Filippus vertel, “Nou is my siel ontsteld” (Johannes 12:27). Toe Jesus dit gesê het, het Hy die Kruis in die gesig gestaar, wetend dat die tyd van sy dood naby was. Die Griekse woord vir ontsteld hier beteken verontrus of angstig.

Jesus het die mees intense beproewing van sy lewe beleef. In werklikheid was dit so diep en donker dat Hy later uitgeroep het, “My God, waarom het U my verlaat?” Hy het selfs aan die wat Hom gekruisig het, vertel, “Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis” (Lukas 22:53).

Wat ‘n stelling vir Jesus om te maak. Christus het egter in wese gesê, “Dit is Satan se uur.” Die tydperk net voor sy dood was die vyand se oomblik om Hom te teister. Die duiwel het al sy krag bymekaargemaak om die hart van ‘n biddende, heilige Man te teister.

Net so, kan jy seker wees dat jou donker, ontstellende uur, Satan se werk is. Die Here plaas nie so ‘n verskriklike depressie op sy mense nie. Hoe weet ons dit?  Net soos Asaf, bid ons, aanbid ons, streef ons daarna om God se wil te doen en ons begeer algehele vryheid van die sonde se mag. En dit is presies die soort lewe wat Satan wil kom bederf.

Terselftertyd, kan ons seker wees dat God ‘n baie goeie rede gehad het om toe te laat het dat hierdie uur gekom het. Jesus het sy dissipels vertel, “Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur?” (Johannes 12:27). Wat Hy bedoel het was, “Ek kan dit nie ten volle aan julle verduidelik nie. Al wat Ek kan sê is, God het hierdie oomblik van duisternis toegelaat.”

Het jy al ooit gedink, “Wat kan ek sê? Ek het geen woorde om te verduidelik waardeur ek gaan nie. Ek is beswaard, ek is ontsteld, maar ek kan nie sê waarom nie. Moet my nie vra om dit te verduidelik nie, want ek is nie daartoe in staat nie.”

Paulus toon ons God se spesifieke doen in ons diep beproewende, donker tye: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.

“Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus. Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding. En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos” (2 Korinthiërs 1:3–7).

Sien jy God se doel hier? Te midde van ons verdrukkinge, vertroos die Gees ons. En op ons beurt, is ons in staat om troos te bied aan ander, wat diep beproewings deurgaan. Dit is die Gees se werk: om sy mense te vertroos deur stemme wat beproef is. Daarom, kan ons weet dat as ons eie lyding erger word, die Here se vertroosting selfs groter in ons word.

Daar is twee geliefde broers op ons bediening se poslys genaamd Israel en Jesse Martin. Israel is 100 jaar oud en Jesse is 102. Een het opgehou werk op 92 en die ander een op 97. Hulle albei het die Here lief en ontvang my boodskappe nou al vir jare.

Hierdie mans is nie net natuurlike broers nie, maar is waarlik “broers in die Here.” Beide getuig dat uit ‘n leeftyd van groot beproewings, die blydskap en aangenaamheid van die Gees in hulle verdiep het. Hulle het vir ‘n hele eeu lank verskriklike rampe gesien — die Groot Depressie, twee Wêreldoorloë en vreeslike droogtes. En hulle het ook persoonlik baie gely gedurende hulle lang lewens. Op 100 jaar egter, is hierdie twee mans in staat om te glimlag en kan met meer vertroue as ooit verklaar, “Deur alles heen, het God nie misluk nie.” Hulle getuienis nadat hulle “alles gesien het,” is ‘n Heilige Gees vertroosting vir die res van ons.

Asaf se getuienis was, “Ek roep na die Here, ek bid die hele nag deur en ek weet Hy hoor my. Maar ek sien nie dat my gebede beantwoord word nie.”

Onthou, hierdie leier van Israel se koor, het van God se karakter getuig in Psalm 50:15, “En roep My aan in in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” Duidelik het Asaf verlossings deur gebed geken. Hy het antwoorde beleef op sy smekinge. Hy was ‘n getroue bedienaar en het ander herinner om God te vertrou en Hom nie te bedroef deur ongeloof nie.

Maar nou, toe ‘n gees van wanhoop oor Asaf gekom het, kon hy dit nie afskud nie. Hy skryf, “As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees” (Psalm 77:4).

Asaf het toe sy vorige beproewings en ander moeilike tye waardeur hy gedra is, in herinnering geroep. Hy het gesê hy “dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare...Ek wil dink aan my snarespel in die nag” (Psalm 77:6, 7). Hierdie getroue dienaar het probeer onthou hoe God sy gebede beantwoord het en hoe hy daarna met blydskap gesing het oor die oorwinnings van geloof.

Maar nou het hy die grootste beproewing van sy lewe beleef en hy was oorweldig in liggaam, siel en gees. Hy het verklaar, “Ek moet kla, want dit was dit veel vir my om te verdra.”

Wat was Asaf se klagte? Hy het gesê, “Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?” (Psalm 77:8–10).

Asaf was geteister deur hierdie vrae en het geskryf, “Dit is my grootste bekommernis” (Psalm 77:11). Hy het in wese verklaar, “Dit is wat my pla: God het verander. Daar is ‘n verandering in die Here wat ek gedink het ek ken. Hy het vir een of ander rede sy gesindheid teenoor my verander. Ek onthou al sy vorige verlossings in my lewe. Maar daar is nou niks vir my nie.

“God se guns is nie meer met my nie. Ek voel dat Hy my eenkant toe geskuif het. Ek is verward, beswaard, oorweldig en ek kry die gevoel dat God ver van my af weg is in hierdie beproewing. Ek weet dat Hy my gebede hoor, maar Hy antwoord dit nie. So ver as wat ek weet, het God my vergeet. Dit is duidelik dat Hy nie meer sy mense verlos nie.”

Geliefde, jy mag dalk nie depressief wees nie. Jy mag dalk nie so platgeslaan voel soos Asaf in sy beproewing nie. Jy twyfel nie dat God jou gebede beantwoord nie, en jy weet die Here is nie kwaad vir jou nie. Maar steeds is daar ‘n teleurstelling diep binne-in jou. Jy is gefrustreerd, want dinge in jou lewe werk nie uit soos wat jy gehoop of beplan het nie.

Hierdie frustrasie mag in verskeie areas van jou lewe wees: finansies, loopbaan, huwelik, kinders en bediening. Oral rondom jou, lyk dit egter of alles goed uitwerk vir al die ander. Jou broers en susters in Christus doen skynbaar goed. Maar jou lewe lyk of dit stil staan of selfs erger word. Nou het jy begin wonder, “Hoe sal ek ooit uit hierdie afwaartse spiraal kom? Daar is skynbaar geen hoop nie.”

Dawid het uit hierdie afwaartse spiraal gekom met ‘n lied. Asaf het ook. Inderdaad, menigtes van goddelike heiliges regdeur die geskiedenis het uit hulle depressie en moedeloosheid gekom op hierdie manier.

Die Skrif wys dat Dawid, Asaf, Job en ander Ou Testament heiliges uit hulle donker tye gekom het, deur te onthou van God se getrouheid aan vorige geslagte. Dawid het geskryf wanneer sy hart ook al verlate gevoel het, “Ek dink aan dae uit die voortyd; ek peins oor die dade; ek dink ná oor die werk van u hande” (Psalm 143:5). Asaf het dieselfde gedoen: “Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd” (Psalm 77:11). Inderdaad, Asaf sê dat die hele Israel “het daaraan gedink dat God hul rots was” (Psalm 78:35).

Dit is ‘n wonderlike seën om al ons vorige verlossings te onthou. Deuteronómium vertel vir ons, “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou...gelei het...Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet...nie” (Deuteronómium 8:2, 11).

Die herinnering aan God se verlossings was egter meer as ‘n seën vir die Ou Tesamentiese heiliges. Dit was ‘n noodsaaklike roetine. Die Israeliete het allerhande soorte rituele en vieringe uitgedink om die Here se verlossings in hulle lewens te onthou.

Net so word die kerk van Jesus Christus geroep om God se vorige verlossings te onthou. Aan ons is daar egter ‘n baie beter manier gegee om te onthou as in die tyd van die Ou Testament. Jy sien, sedert die tyd van Dawid en Asaf, het God sy Heilige Gees uitgestort. En die Gees woon nou in ons menslike liggame.

Die Heilige Gees vertroos ons nie net in ons donker tye nie. Hy bring nie net God se vorige getrouheid tot ons gedagtes nie. Die Gees gee ons ook ‘n begrip van die doel agter ons vurige beproewings. En Hy doen dit sodat ons geloof nie sal faal nie.

Ons sien die verskil in Asaf se lewe. Hierdie toegewyde goddelike man deel nie enige soort begrip in Psalm 77 aan ons mee nie. Eenvoudig gestel, ons weet nie watter doel hierdie donker uur in sy lewe bereik het nie. Al wat hy ons kon vertel was, “U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie” (Psalm 77:20). Asaf se gevolgtrekking was, “God se weë is nie altyd bekend nie. Ek weet nie waarom Hy toegelaat het dat ek in so ‘n depressie en moedeloosheid verval het nie. Ek juig net omdat Hy my vrygemaak het.”

Paulus se reaksie in die Nuwe Testament verskil heelwat hiervan. Hy vertel vir ons, “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:10). Dan voeg hy hierdie belangrike stelling by: “So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Korinthiërs 2:11). Kortliks sê hy, “Sonder die Heilige Gees, sou die stappe van God in ons lewens nie verstaan kon word nie.”

Ons sal eenvoudig nooit God se vrede in ons verdrukking ken nie, totdat die doel daarvan ‘n duidelike waarheid in ons siele geword het nie. Ons moet verstaan dat ons donker uur, ons pynlike toets, deur die Here toegelaat word vir sy eie heerlike doel. Wat is daardie doel? Dit is eenvoudig dat ons die fokus van ‘n ontsaglike Heilige Gees vertroosting gaan wees.

Ons gaan uit die vuur kom gereining en sterker. En ons sal ‘n bediening gegee word wat groter is as dié van die wêreld se grootste predikers. Wat sal hierdie bediening wees? Dit is die bediening van beproefde vertroosting en oorwinning vir lydende mense. En die gevolg van hierdie bediening sal wees soos Daniël beskryf het: “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Daniël 12:10).

Wat ‘n ontsaglike roeping het ons! Ons ly groot beproewings, sodat ons God se vertroostende hande vir ander kan word.

Twee jaar gelede het my dogter Debbie en haar man Roger hulle twaalf jaar oue dogter Tiffany aan breinkanker verloor. Ek ken die pyn waardeur hulle gegaan het, die nagte van wonder, “Wat kan God se doel moontlik hierin wees?”

‘n Tyd gelede was Debbie in ‘n winkelsentrum waar sy ‘n vrou gesien sit het met trane wat oor haar wange gestroom het. Debbie het gevra, “Kan ek jou moontlik help?” Die vrou het gereageer, “Jy kan nooit verstaan waardeur ek gaan nie.” Op die ou end het Debbie die vrou oortuig om haar van haar pyn te vertel. Die vrou het verduidelik, “Ek het ‘n kind aan kanker verloor.”

Op daardie oomblik, het die wonder van die hemel neergedaal. Debbie het haar vertroostende arms rondom daardie vrou geplaas. En terwyl my dogter haar eie storie vertel het, het albei vroue ‘n maat van God se genesende liefde gevind.

Liewe heilige, God het jou nie in jou diep, donker beproewing vergeet nie. Ek laat jou met hierdie bemoediging van die Psalmis: “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. U het ons in die net gebring, ‘n swaar las op ons heupe gelê. U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed...Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed. Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!” (Psalm 66:10–12, 19–20).