God Het ‘n Plan om Sy Volk te Bewaar Wanneer die Wêreld Onderstebo Gekeer Word

David Wilkerson

Die hele wêreld is bang, verleë en verward! Selfs die heiligste Christen moet nou wonder oor al die snelbewegende profetiese gebeure wat vinnig ontvou.

Ek weet dat gelowiges dwarsdeur die wêreld ‘n vraag vir hulleself afvra, waaroor ek ook wonder: Is ons in die laaste dekade van die menslike geskiedenis?

Onthou dat “Een dag by die Here is soos ‘n duisend jaar, en ‘n duisend jaar is soos een dag” (2 Petrus 3:8). As jy dit letterlik interpreteer en beskou dat elke dag van die Skepping ‘n duisend jaar duur, beteken dit dat die jaar 200 ons naby die einde van die Sesde Dag sal bring. Die vraag is, sal die Sewende Dag een van ewige rus wees? Is ons werklik so naby aan die einde?

Ek weet nie – dit is slegs gissing. Maar een ding is seker: Ons het ‘n versnelling in wêreldgebeure gesien – veranderinge wat letterlik oornag plaasgevind het!

Skielik, sonder waarskuwing, het die Ystergorden geval! Amper oornag, was Oos Europa vry! Binne oomblikke, was die Sowjet ryk – eens dreigend teenoor die Verenigde State – op die randjie van disintegrasie en uiterste onrus.

Tot ‘n paar weke gelede, het die wêreld gepraat van vrede-dividende. Nou, in nog ‘n oornag verandering, het die leërs van die wêreld verander van ‘n ontwapeningshouding na ‘n noodtoestand. Die nasies se magte het saamgestrek in die Midde Ooste teen ‘n koste van $1 biljoen ‘n maand.

Kan dit wees dat, op dieselfde skielike wyse, die Antichris leier geopenbaar sal word? Kan dit ook wees dat God aan die einde van Sy geduld gekom het met die sondes en die bloedskuld van Noord Amerika, soos dit met Sodom en Gomorra gebeur het?

Skrikwekkende bankrotskappe in ons Spaar & Leningsorganisasies (nou ‘n $500 biljoen swart gat), die stygende nasionale skuld, siektes en landwye plae – is dit almal tekens dat ons land die gang van ‘n goddelike vloek betree, soos beskryf word in Deuteronómium 28? Lees wat God doen aan die nasies wat sondig teen die lig. Jy kan dit tans in Amerika sien gebeur!

Is ons reeds in die vroeë stadiums van die grootste depressie in ons geskiedenis? Die Groot Depressie van die 1930’s word geag as die ergste ooit. Maar talle ekonome glo ons is op die randjie van ‘n depressie wat ons ergste mak sal laat lyk.

Is God nou al besig om ons voorsiening van brood af te sny? Bring Hy verwoesting oor ons, soos Hy gedoen het met Jerusalem en Juda weens hulle sondes? In Jesaja 3:1-6, sal jy vind dat God wel brood afsny – met massiewe werkloosheid tot gevolg! Wanneer oordeel in Sion val, “het die mense geen loon getrek nie, ook vir die diere was daar geen loon nie” (Sagaria 8:10). Sal daar ‘n massiewe werkloosheid wees wanneer God Amerika se sondes oordeel?

Daar is ‘n gevoel van gevaar in die lug – elke situasie lyk onstabiel. Daar is ‘n gewaarwoding dat die wêreld op ‘n koers is waarvan daar geen omkeer is nie! Daar is sprake van oorloë, rasseoorloë en heilige oorloë. Israel is koorsagtig besig om vir oorlog gereed te maak soos nog nooit tevore nie – en hulle berei voor vir ‘n laaste konflik! Daardie land verwelkom 100,000 Russiese Jode met die hoop dat baie van hulle sterk soldate hulle leër sal help verdubbel.

Is dit die dag wat Jesus voorspel het – waartydens mense se harte sou beswyk van oorweldigende vrees as hulle die skrikwekkende dinge op die aarde sien gebeur? Kan dit wees dat ons werklik die geslag is wat die koms van die Here Jesus Christus sal aanskou? Het ons by so ‘n punt in die mens se geskiedenis gekom dat dit nou gesê kan word, “Hierdie geslag sal nie verbygaan tot al hierdie dinge vervul word nie?” Sal dit inderdaad in ons tyd gebeur?

Geliefde, ons het daar aangekom! Ons het nou by daardie plek in die mens se geskiedenis gekom waaroor al die profete gewaarsku het – die verskriklike Dag van die Here! Ons is – op die punt om die groot, skrikwekkende lyding en verdrukkinge te sien gebeur!

In alle waarskynlikheid kan ons miskien ‘n kort uitstel van die huidige wêreldkrisis hê. So ‘n asem skep lei egter tot ‘n groter hardheid van hart! Terwyl Farao Israel onder slawerny in Egipte gehou het, was hy desperaat om Egipte verlos te sien van die plaag van padda’s deur die Here gestuur. “En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het” (Exodus 8:15).

‘n Vals vrede mag gegun word vir ‘n kort seisoen. Maar selfs met ‘n kort reses – selfs as een of ander vredevolle skikking gemaak word – dink ek nie daar sal ‘n terugkeer na bekering wees nie.

Nee! Die mensdom sal deur die grootste dronk, dwelmmal omwenteling ooit gaan! Mense sal alle grense ophef. Dit sal ‘n tyd van seksuele vergrype en materialisme wees, ‘n Bélsasar se fees. Alles sal wild gaan!

Maar wees verseker dat, soos die profete verkondig het, sal die wêreld onderstebo gekeer word. Die fondamente van die aarde sal geskud word – en alles sal in puin gelê word.

“KYK, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om… Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die HERE het hierdie woord gespreek. Die aarde treur, dit verwelk… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ’n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jesaja 24:1-14).

“Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel…Die aarde waggel geheel en al soos ’n dronkaard en swaai heen en weer soos ’n naghut…en hy sal val en nie weer opstaan nie” (Jesaja 24:19-20).

Hoor die woorde van God se profeet Jesaja! Die aarde is nie op pad na hernuwing nie. Dit is op pad na algehele verwoesting!

As Jesaja een boodskap aan hierdie geslag kon bring, sou dit die een in verse 17-18 wees: “Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde! En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.”

Jesaja het nie alles vergeestelik nie. Hy bedoel, letterlik, dat die gelag sal ophou. Verwarring sal heers. Huise sal toegesluit word: “Daar is ’n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban...en die fondamente van die aarde bewe” (Jesaja 24:11,18).

Dit was berig dat die Universiteit van Suid Californië groot hoeveelhede voedsel, water en ander noodvoorrade berg ter voorbereiding van die groot aardbewing wat binnekort verwag word. Hulle glo ‘n letterlike aardbewing is op hande!

So, wat sal gebeur met die ware volgelinge van Jesus in sulke tye? As die wêreld stadigaan erger gaan word totdat Jesaja se profesie vervul word – sou ons deur sulke rampspoed moes gaan – hoe sal God dan vir ons sorg?

God het ons duidelik in besonderhede gewaarsku oor die moeilikheid wat kom – Sal Hy nie ook vir ons openbaar hoe Hy beplan om ons te beskerm nie?

Die antwoord is, JA! God het ‘n defnitiewe plan! Dit is baie eenvoudig, tog is dit so seker en absoluut soos die heelal self!

God se plan om Sy kinders te bewaar kan opgesom word in een sin: God gaan sy kinders bewaar deur die krag van Sy voorafbepaalde Woord!

Ons gaan bewaar word deur die gesproke woord van God – ‘n woord van verlossing wat afgekondig is sedert die grondlegging van die wêreld! Dit is iets wat God bepaal het voor die wêreld was!

Net ‘n paar weke gelede was die V.S. weermag aan die slaap gevind deur Irak se oorname van Koeweit, en oornag moes ‘n noodplan ontwikkel word. Die Pentagon het geskarel om ‘n gebeurlikheidsplanne op te trek in geval van nog verrassings. Die Oorlogskamer is nou in ‘n dag-tot-dag, uur-tot-uur noodtoestand!

Geliefde, ons God word nooit onkant betrap nie! Niks verras Hom nie! Hy hoef nie ‘n noodvergadering met die hemelse leër te belê om te kom met ‘n laaste-dae strategie vir beskerming nie. Hy het geen “Operasie Bewaring” nie. God het ‘n plan in bestaan gespreek lank voor daar nasies, weermagte, oorloë, depressies, plae en geweld was.

God het dit alles vooruitgesien, en Hy het ‘n woord van bewaring in wording gespreek wat ewig en onwankelbaar is soos Sy eie karakter! Paulus sê dat God “voorafbepaalde tye...vasgestel” het (Handelinge 17:26).

Uur na uur, dag na dag, sal God ons op dieselfde manier bewaar as wat Hy nou die son, die maan, die sterre, die sterrestelsels en die natuurkragte bewaar – deur Sy voorafbepaalde, gesproke woord. Dit is dieselfde woord wat lig, duisternis, die getye, die seisoene en die lug wat ons inasem bewaar!

God se voorafbepaalde woord is gespreek: “Laat daar lig wees! En daar was lig” (Génesis 1:3). Van daardie oomblik af aan, en dwarsdeur tyd en ewigheid, was daar en is daar en sal daar altyd lig wees!

God het gesê, “Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel...twee groot ligte...die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag” (Génesis 1:14,16).

Skielik, deur die krag van Sy voorafbepaalde woord, het ‘n bal van intense vuur in die uitspansel verskyn. Dit was so majestueus dat slegs ‘n ewige, alwetende God dit kon skep! En net so skielik, het daar in die uitspansel ‘n kleiner planeet verskyn, wat om die aarde wentel en die lig van die son weerkaats – dit was die maan.

Die son, die maan, die biljoene sterre en die talryke sterrestelsels bly almal in hulle voorgeskryfde wentelbane, gehoorsaam aan die gesproke woord van ons Here. Sy eens-gesproke woord hou alles in plek!

God hoef nie ‘n enkele woord te herhaal en Hy hoef ook nie aan te hou om die planete te herinner om in hulle wentelbane te bly nie. Hy hoef nie aan te hou om die seisoene te beveel om te verander of die getye te waarsku dat hulle nie die lande moet oorstroom nie. Hy het die woord een keer gespreek – en dit was, en sal altyd wees, totdat Hy weer spreek en ‘n nuwe hemel en aarde skep!

Job het gesê dat God deur Sy woord “bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter ‘n seël wegsluit” (Job 9:7). Petrus het gesê, “Dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde...Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel” (2 Petrus 3:5,7).

“Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Hebreërs 11:3). Hy het bloot die woord gespreek en uit niks het Hy alles geskep!

Jesus Christus dra alle dinge deur die krag van Sy woord! “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Hebreërs 1:3). “En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kolossense 1:17).

Jesus het ‘n onderhoudende woord gespreek tot alle geskape dinge! Toe Hy aarde toe gekom het as mens vir 33 jaar, was alle dinge gedra deur die ewige woord wat Hy gespreek het aan die begin. Slegs op Sy bevel, het hierdie magte verander en ‘n nuwe orde gehoorsaam. Toe Jesus se dissipels Hom die see sien kalm maak het, het hulle gesê, “Wat vir ‘n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is” (Matthéüs 8:27).

So seker as wat Hy alle dinge geskep het deur die krag van Sy Woord, het die Here ‘n ewige woord van bewaring en beskerming vir al Sy kinders in die lewe gespreek!

Sedert die begin, het God belowe om almal te bewaar wat op Hom vertrou. Hy het hierdie ewige woord teenoor Abraham gespreek: “Ek is vir jou ‘n skild” (Génesis 15:1).

Daardie woord was vir die hele ewigheid! En God het dit uitgebrei na al Abraham se nakomelinge – almal wat van die geloof is. Hy sal ons skild wees dwarsdeur die ewigheid!

God het ‘n woord gespreek in die begin, en elke geslag het bewys – deur dik en dun, deur alles wat Satan teen hulle kon werp – God is ons skild!

Jarelank het ek gewonder wat die volle betekenis is van die Here se woorde: “Dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (Deuteronómium 8:3). Nou weet ek!

Moses het hierdie woorde gespreek teenoor die Israeliete toe hy hulle aan God se getrouheid herinner het. Die betekenis is die volgende: “God het toegelaat dat jy honger beleef – Hy het jou verneder deur jou op ‘n plek te bring waar alle menslike vernuf verniet was. As God nie bonatuurlik vir jou gesorg het nie, sou jy gesterf het!

“Die saak was nie kos nie, maar liewer die vertroue in God! God, wat die wêreld in wording gespreek het, het ook ‘n woord van bewaring vir jou. Al Sy woorde is joune deur geloof!”

Toe Israel in die woestyn was, het God ‘n nuwe ding vir hulle gedoen. Hy het die woorde gespreek, “Laat daar manna wees – laat hulle wonder wat dit is!” Hy het iets nuuts geskep!

Israel kon hulle prinse en leiers byeengeroep het om planne te maak en ‘n strategie saam te stel oor hoe God vir hulle sou kosgee en sorg. Maar niemand sou kon dink dat God die grond met klein, wit, ronde saadjies sou bedek nie – ‘n nuwe soort voedsel wat die mensdom nog nooit gesien of geproe het nie. Dit was engelevoedsel!

Wil jy weel hoe God jou gaan bewaar in al jou moeilike tye? Deur ‘n nuwe woord te spreek, indien nodig! Deur alles wat jy nodig het te skep deur die krag van Sy woord! Al wat God hoef te doen, was om die woord “manna” te spreek – en ‘n hele geslag Israeliete was bewaar!

Jesus het dieselfde woord gebruik toe Satan Hom versoek het om ‘n klip in brood te verander om Sy hongerpyne te stil: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4).

Jesus het geweet Hy was die saad van Abraham! Hy het geweet dat God se ewige woord van bewaring vir Hom gespreek was: “Ek is jou skild [bewaarder]” (Génesis 15:1). Jesus kon ‘n situasie beleef wat hopeloos was volgens menslike standaarde, en tog rus in God se woord: “Ek is jou Bewaarder!”

Terwyl Hy honger en dors beleef het in die wildernis, was sy hart gerus, want Hy het geweet die Vader het die woord gespreek dat Hy veilig was! Sy sending was gespreek tydens die grondlegging van die wêreld, en geen wapen gesmee teen hierdie sending sou iets uitrig nie! Hy het op Sy Vader vertrou om Hom te bewaar op God se eie manier – deur die krag van Sy woord!

Aan die einde van 40 dae, het Jesus ook engelevoedsel geëet. Hy het vleis gehad waarvan geen mens iets af geweet het nie, sowel as water van heerlikheid! “Daar het engele gekom en Hom gedien” (Matthéüs 4:11).

Vandag probeer talle Christene uitvind hoe God Sy kinders gaan bewaar wanneer die ondergang in volle krag kom. Sommige beplan om na die outback van Australië te gaan, ander na die berge van Colorado of Montana.

Party praat van oorlewingsplase en Christelike gemeenskappe. Ek het dit self probeer! Ek het ‘n 250-akker plaas gekoop en mere daarop gebou en dit met vis gevul. Ons het 50 Swart Angus beeste aangekoop en was gereed om die Verdrukking, depressie of wat ook al sou kom te deurstaan!

Maar dit was nie God se plan nie! Die koeie het Bang se siekte gekry en moes verkoop word. Die hooi wat ons verbou het, het minder gekos om te koop as om te produseer. Ons het op die ou end amper “Shangri-la” weggegee teen 10 sent vir ‘n dollar – aan ‘n bediening wie se doel nie oorlewing was nie, maar evangelisasie!

Jesus waarsku ons “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons aantrek nie?” (Matthéüs 6:31). Ons hemelse Vader weet wat ons nodig het, en Hy het hierdie ewige woord gespreek: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Alles wat jy nodig het! Sy voorafbepaalde woord oor ons was vasgestel in die hemel lank voor enige van ons gebore is! God, die Skepoer, het ‘n woord van finaliteit gespreek: “In elke geslag sal Ek almal wat My eerste soek, beskerm, onderhou, voed en bewaar.” En daardie woord is so vas soos die woord wat die planete in posisie hou!

Ek glo God se grootste begeerte vir Sy kinders in hierdie moeilike tye, is om vir ons ‘n onwrikbare oortuiging te gee dat Hy ons sal bewaar van die mag van die bose. God probeer desperaat om ons te vul met vertroosting en vrede. Hy het gesweer dat Sy woord blywend en vir ons is:

“Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Hebreërs 6:17-19).

Is jou siel geanker in hoop? Geniet jy die sterk vertroosting gebaseer op die wete dat God nie kan lieg nie en dat Sy woord voortgegaan het om jou te bewaar in bose tye?

Gerbruik jou tyd om die hele Psalm 91 te lees en in te neem en jy sal vind die ewige woord van God verlos eens en vir altyd. Dit is gegee deur ‘n God wat nie kan lieg nie – en hoewel dit tot Dawid gespreek was, is dit steeds van toepassing vir elke geslag sedertdien en veral vir ons.

Laastens, ons het ‘n selfs sterker, beter hoop as Job, Dawid of enige ander Ou Testament Gelowige: Ons is die Liggaam van Christus!

Ons is die been van Sy been en vlees van Sy vlees! “Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efésiërs 5:30).

Ons is Sy huisgesin. God se Woord sê, “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige” (1 Timótheüs 5:8).

Jy sien, om selfs aan die gedagte te dink dat die Hoof van ons huis nie vir ons sal voorsien nie, is om Hom te beskuldig dat Hy Homself verloën en om Hom ‘n heiden te noem! “Want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente” (Efésiërs 5:29). Dit is onmoontlik vir Christus om Sy eie liggaam te verwaarloos!

God sou Sy eie vlees moes haat om vir jou of my te verwaarloos in ‘n tyd van moeilikheid! O, maar dit staan geskryf, “Hy koester, Hy voed [gee kos en sorg vir] Sy geliefdes!”

Moenie probeer uitdink hoe Hy dit vir jou sal doen nie! Jy kan nie, net soos jy ook nooit sou kon geraai het Hy sou die Rooi See oopmaak, of dat Hy die Hebreeuse jongmanne lewendig kon hou in ‘n vuuroond, wat so warm was dat dit hulle teisteraars buite die ingang doodgemaak het nie.

Of dat Hy die monde van honger leeus kon sluit die hele nag lank terwyl Daniël tussen hulle gestaan het, onaangeraak! Of dat God water uit ‘n rots sou laat kom. Of dat een engel ‘n leër van 185,000 mans in een nag sou uitwis! Of dat ‘n kraai ‘n profeet in die wildernis sou kosgee. Of dat ‘n vat meel en ‘n fles kookolie nooit leeg geword het vir maande aaneen nie. Of dat Jesus sou betaal vir Sy dissipels se belastings deur geld uit die mond van ‘n vis te kry. Of dat Hy 5,000 mense kon kosgee met net ‘n paar broodjies en visse. Of dat Hy water in wyn kon verander!

Ons sou dit nooit kon uitdink nie! Hy het die woorde van die ewigheid!

En God sal ons onderhou dwarsdeur die ewigheid! In die hemel sal ons geen ander bron van onderhoud hê as die Seun van God nie. Ons gaan onderhou word deur Sy teenwoordigheid. Die woord wat ons sal bewaar vir altyd, is dieselfde woord wat ons nou ook onderhou, maak nie saak hoe verlate of verwoes hierdie ou wêreld word nie!

Daar is ‘n dogmatiese bohaai wat vir jarelank in die kerk voortsleep: Sal ware gelowiges deur die Groot Verdrukking gaan? Sal ons wie Jesus liefhet leef om al hierdie verskriklike dinge te sien?

Sommige sê Jesus sal kom en Sy bruid wegneem vóór die lyding. Sommige sê Hy sal kom ná drie-en-‘n-half jaar van verdrukking. Ander sê ons sal deur dit alles gaan. Sommige sê slegs Jode sal deur die Groot Verdrukking gaan.

Laat my jou gerusstel! Hierdie Skrifgedeelte behoort vir ons versekering te gee, maak nie saak watter leerstelling reg is nie:

“Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie...Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?...En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9,13-14).

Hierdie gelowiges het uitgekom! ‘n Groot menigte! En dit is die punt: Hulle het ingegaan – maar hulle het uitgekom!

Nie net het hulle groot lyding deurstaan nie, maar hulle het uitgekom, jubelend met ‘n baie spesiale getuienis! Hulle het gesê, “Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid” (Openbaring 7:12)

Hierdie mense het nie net “oorleef” nie – hulle het gesing oor Wie hulle uitgebring het! God het Homself aan hulle bewys op allerhande maniere! Hulle het geleer om “Hom dag en nag te dien.”

Geliefde, God is nie geïnteresseerd om ons bloot fisies te bewaar met kos, water en skuiling nie. Dit is geen groot oorwinning nie. Hierdie oorwinnaars het getriomfeer in die ergste van tye, omdat die hele woord van God vir hulle lewend geword het!

Hulle het Sy sterk arm en Sy heerlikheid en wysheid tot die einde gehad. Elke woord uit Sy mond het ‘n werklikheid geword. Hulle het Hom met danksegging geprys!

Stel jouself voor – geen wanhoop, geen ineenkrimping en geen oorgawe aan sataniese dreigemente nie! Hierdie oorwinnaars het uitgekom, gewas, geklee in wit en seëvierend! (Openbaring 7:14).

Broers en susters, wees bemoedig. Sy Woord sê, maak nie saak waardeur ons gaan nie – ons kom daaruit!