God Is Getrou - Selfs As Ons Nie Is Nie

Abraham word deur die kerk geken as 'n man van geloof. Inteendeel, die Bybel skilder hom vir ons as 'n voorbeeld van geloof: "Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken" (Galasiërs 3:6). "Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham" (vers 9).

God het aan Abram verskyn (soos hy toe genoem was) en gesê: "Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot" (Genesis 15:1). God het Abram ook beloof: ". jy sal in goeie ouderdom begrawe word" (vers 15). As toevoeging, het God belowe dat enigiemand wat hom probeer leed aandoen of hom vervloek ook vervloek sal wees: ". en hom vervloek wat jou vervloek ." (Genesis 12:3).

Geliefde, hierdie is 'n paar ongelooflike beloftes - beskerming, 'n lang lewe, hemelse ingryping, en God het persoonlik met Abram oor hierdie dinge gepraat!

Die Woord getuig dat Abram ". in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken" (Galasiërs 2:6). Dit sê ook dat Abram 'n "vriend van God" was.

Hier was 'n vroom, gelowige dienskneg van God - 'n man wat deur God self besoek was en aan wie persoonlike beskerming en 'n lang lewe sonder vrees of skade belowe is. En Abram het God geglo. Hy het geglo dat die Here hom sou beskut, beskerm en hom van alle gevaar sou bewaar.

U onthou Abram se verhaal van hier af. Hy het sy land op God se bevel verlaat - totaal in geloof. God het vir hom gesê, "Oral waar jy jou voet neersit sal jy die land in besit neem."

Abram, het in vrede gelewe op die berg tussen Betel en Hai toe 'n hongersnood die land getref het. Teen die einde het hy baie beeste gehad, en hy het weiveld en water nodig gehad om hulle te versorg. Hy het dus besluit om alles op te pak en verder te trek: " . sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef." (Genesis 12:10).

Dit was Abram se eerste fout. Hy moes nooit die land verlaat het waarheen God hom gestuur het nie. Toe Abram die Beloofde Land verlaat het, was hy omtrent sewentig jaar oud, en sy vrou, Sarai, was omtrent sestig. Soos hulle die heidense Egipte binnegegaan het, het Abram na sy mooi vrou gekyk en haar gevra om saam met hom aan sy slenterslag deel te neem:

"Kyk, ek weet dat jy 'n vrou is mooi van aansien. As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou - en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly" (Genesis 12:11-13).

Abram het gesê, "As ons by Egipte kom, sal die mans sien hoe mooi jy is - en hulle sal jou begeer en probeer om my dood te maak! Asseblief - vertel vir almal dat jy my suster is. Ek plaas my lewe in jou hande!"

Dit was 'n halwe waarheid. Abram en Sarai het dieselfde vader gehad maar verskillende moeders, so Sarai was sy half-suster. Sy sou net 'n "halwe leuen" vertel het - alles om Abram te red!

Hier is 'n man wat aan ons bekend was as die vader van die geloof. God het aan hom verskyn, en aan hom groter beskerming belowe. Maar, skielik, het hy nie langer meer die Here op Sy woord geneem nie! Abram het geweet dat Egipte 'n land van wellus, afgodediens, en verwarring was - tog was hy gereed om daarheen te gaan en sy familie in groot gevaar te stel.

Soos vermoed, toe hulle in Egipte aangekom het, het die woord van Sarai se skoonheid versprei. Elke prins en leier in die omtrek het van haar uitgevind. Abram het dit agtergekom en Sarai herinner: "Onthou jy is my suster. Ons het 'n ooreenkoms. My lewe is in jou hande!"

Dit was die optrede van 'n swakkeling - absolute gebrek aan geloof! Abram het sy lewe aan sy vrou se beskerming oorgegee, nie aan God s'n nie - vir sy eie menslike strategie. Wat 'n skandelike, ontroue optrede! Hierdie groot man van geloof was bereid dat sy vrou van hom weggeneem moet word en in 'n heidense harem geplaas word, waar daar 'n moontlikheid was dat sy onteer sou word deur bose leiers.

Sy is deur Farao geneem. Die Woord sê, "Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil . " (Genesis 12:15-16).

Verstaan u wat besig was om hier te gebeur? Die beloofde saad moes deur Sarai gekom het - en sy kon deur die heiden mans onteer geword het!

Skande op hulle albei omdat hulle hierdie slenterslag ingegaan het. Daar was geen verskoning vir Abram se optrede nie. Kan jy jou voorstel dat enige goddelike man sy vrou in die hande van 'n heidense deugniet sal plaas? Ek kan net wonder wat deur Sarai se gedagtes gegaan het toe sy van haar man weggeneem was.

Tog het Farao 'n groot bruidskat aan Abram gegee vir Sarai, en allerhande seëninge op hom uitgestort - skape, osse, donkies, kamele en diensknegte. Oornag het Abram baie ryk geword. Maar ek wonder of hy ooit geslaap het daardie nag! Ek sou hoop dat hy sy nagte op sy aangesig voor God deurgebring het, sy lafhartigheid bevraagteken het en sy gebrek aan geloof. Hoe kon hy slaap as hy geweet het sy vrou was in die hande van 'n heiden? Sy kon besmet word - en die saad van God se belofte bederf.

Ek vra u - hoe kon so 'n man van geloof dit laat gebeur? Het Abram God se beloftes geheel en al vergeet? Waarom het hy nie besef, "Hulle kan my nie doodmaak nie, ek sal leef tot 'n rype ouderdom. Hy het belowe om my skild en beskerming te wees!"

As Abram God vertrou het - sou hy dapper opgestaan het en verklaar het, "Die vrou is my vrou. Hande af!" - God sou hom geëer het. God sou hom en Sarai beskerm het. "As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie" (1 Timoteus 2:13). Die ware Griekse verklaring van die vers is: "As ons troueloos is, bly Hy getrou ."

As u daardie dag saam met Abram op die toneel was, sou u dalk vir die man gesê het, "Abram, jy het regtig opgemors! Jy is veronderstel om 'n man van geloof te wees. God het persoonlik aan jou verskyn en al Sy beloftes aan jou gegee. Maar nou het jy dit heeltemal gemis. Jy het jou mooi vrou bedrieg en mishandel. Jy het teen die lig gesondig, Abram. Jy is onwaardig om God se seëninge wat Hy aan jou belowe het te ontvang. Dit is verby met jou!"

Nee! Dit was nooit in God se gedagtes oor Abram nie. God is getrou - selfs al is ons nie! Die oomblik toe Abram sy lewe aan God oorgegee het, het God 'n plan vir hom gehad. En God sou nie toelaat dat 'n huidige situasie of mislukking Sy ewigheidsplan met Abram se lewe sou stop nie.

God het hom belowe, "Ek sal jou skild wees!" En nou het God inbeweeg om Sy beloftes in vervulling te bring: Hy het Farao se huis met 'n plaag besoek! Ek glo dat die siekte wat Hy oor hulle gestuur het dit vir alle mans onmoontlik gemaak het om Sarai aan te raak. God het elke baarmoeder gesluit, deur elke man te stuit. Farao het nie aan Sarai geraak nie.

God het dus vir Abram en sy vrou beskerm. En nou was daar geen moontlikheid van enige heiden in Egipte wat kon sê: "Die saad was besmet!" Nee - God was getrou, selfs al was Sy mense nie!

Op een of ander manier het Farao besef wat aangaan. Ons weet nie of Sarai dit aan hom erken het en of God dit aan hom openbaar het nie. Maar toe hy uitvind dat Sarai getroud was, het hy Abram vermaan, en gesê: "Waarom het jy gesê: Sy is my suster?" ". neem haar en gaan weg" (Genesis 12:19). "Maar die Here het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? Waarom het jy gesê: Sy is my suster - sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting" (Genesis 12:17-20).

God se plan vir Abram het sonder onderbreking voort gegaan. Dit was nie deur Abram se gebrek aan geloof gedwarsboom nie, selfs al het hy God hopeloos gefaal. Net so, geliefde, wat God ook al vir jou lewe beplan, kan jy nie stop, as jy jou lewe in Sy hande geplaas het nie. Hy is getrou vir sover dit Sy planne met ons betref - selfs al is ons nie!

Vier-en-twintig jaar later het Abraham (soos hy toe bekend gestaan het) suid beweeg en tussen Kades en Sur kamp opgeslaan, en in Gerar gewoon. Hy moes toe ook rondbeweeg en sy groot kudde van voeding en water voorsien.

Abraham was nou nege en negentig jaar oud, en Sara (soos sy nou genoem was), was amper negentig. Deur al die jare het Abram gesien hoe getrou God in alle areas van sy lewe was. Hy het die konings oorwin wat Sodom ingeval het. Hy het Lot en sy familie gered. Hy het Melgisedek die koning van Salem ontmoet. Hy't die vader van Ismael, geword.

Sou jy nie dink dat Abraham die 24 jaar kon leer om God volkome te vertrou nie? Hy't al die jare gehad om God se bewarende krag aan die werk te sien in sy lewe - om God se leiding en ingryping te sien in al sy weë.

Maar in Gerar, het iets soortgelyks gebeur. Koning Abimeleg wat oor die land regeer het, het Sara raakgesien - en hy wou haar vir sy harem hê! (Dit moes 'n baie aantreklike vrou gewees het. Ek sou graag wou weet watter soort seep Sara gebruik het - en op watter dieët sy was, watter soort oefeninge sy gedoen het - om op negentig so deur almal begeer te word. Oral waar sy gegaan het, het haar reputasie van skoonheid versprei - soveel so dat die konings haar laat roep het!)

Wat het Abraham gedoen? Hy't na Sara gegaan en gesê, "Ek vra jou om my weer te help. Jy sal moet sê jy is my suster. Sara my lewe is in jou hande!"

Kan jy dit glo? Hy was nog steeds 'n lafaard, na vier-en twintig jaar! "Toe laat Abimeleg, die koning van Gerar, Sara haal" (Genesis 20:2). Sara het weereens in nog 'n heiden se harem ingegaan - maar God se saad is nog nie gebore nie. Weereens het Abraham sy vrou, sy familie en die toekoms van Israel in gevaar geplaas.

As jy daar moes staan en toekyk, twyfel ek nie daaraan dat jy jouself sou afgevra het, "Wat se soort man is dit? Is hy regtig veronderstel om 'n voorbeeld van geloof te wees, 'n prentjie van 'n man wat in God glo? Hy vertel blatante leuens!"

En tog, wat was God se reaksie? Hy't Abraham nie behandel soos ons hom sou behandel het nie. Hy't nie gesê, "Nou het jy dit regtig opgemors nie! Ek het jou voorheen uit 'n gemors soos hierdie uitgehaal, maar nou het jy weer direk terug gegaan na jou ou kompromie. Sal jy ooit in My groei, Abraham?"

"Nou sal ek jou moet straf. Jy moet verstaan hoe jy My gefaal het, my bedroef het, my wantrou het. Ek gaan eenkant toe staan en jou die gevolge laat betaal. Nou sal jy maai wat jy gesaai het!"

Nee - nooit! "As ons ontrou is, Hy bly getrou" (2 Timoteus 2:13). God het Abraham nie berispe of alleen gelos om sy eie heil uit te werk nie. In teenstelling, God se plan vir Abraham het ongehinderd voortgegaan - honderd persent op skedule!

God het dieselfde ding met Abimeleg gedoen as wat hy met Farao gedoen het: Hy't elke baarmoeder gesluit! Niemand kon Sara aanraak nie. God het vir Abimeleg gesê: ". en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie" (Genesis 20:6).

God het Abimeleg daarvan weerhou om dwaas op te tree om Sy doel te in die wiele te ry. Hy't Abimeleg daarvan weerhou om te sondig!

Ek weet alles van die weerhoudende hand van God af. As ek terug kyk oor die afgelope jare en my wandel met God, besef ek dat ek nie vandag hier sou gewees het, as Hy nie Sy weerhoudende hand op my gehad het nie. Hy sal Sy kinders net so ver laat gaan - en nie verder nie!

Ek onthou verskriklike teleurstellings in die begin jare van my bediening. By tye het ek oorweldig gevoel deur die finansiële verantwoordelikhede. Dikwels het ek soos 'n mislukking gevoel as 'n man en 'n pa. Ek sou so laag afsak, dat ek gedink het my geloof sal enige oomblik totaal verbrokkel.

By 'n aantal geleenthede, was ek oortuig dat dit nie die moeite werd is om voort te gaan nie. Ek het nooit selfmoord oorweeg of heeltemal opgegee met die Here nie. Maar ek was moeg vir al die verpligtinge - moeg omdat ek nie verstaan het waarom my lewe so baie probleme gehad het nie. Gedurende hierdie tye, sou ek na die bank gaan en kontant trek, in my motor klim en wegry, met die gedagte, "Dit is dit - ek het genoeg gehad! Ek gaan nou net verdwyn. God sal maar moet sorg vir my familie en hierdie bediening. Ek kan nie meer nie!"

Een spesifieke keer, het ek so gery, halfpad oppad na Mexiko van Dallas af. Maar God het in die agterste sitplek gesit. Hy't vriendelik gesê, "David, waarheen gaan jy?"

Soos Jona, het ek geantwoord, "Ek het genoeg gehad, Here. Ek kan nie meer nie! Ek gaan Mexiko toe. Niemand sal my daar ken nie, en daar kan ek vrylik getuig sonder al hierdie verpligtinge. Ek hardloop nie van U af weg nie, Here - Ek het U lief. Ek hardloop ook nie van my familie weg nie. Ek is ook lief vir hulle. Ek voel net nie asof ek die man van God is wat ek moet wees nie."

God het gesê, "Draai die motor dadelik om, David, voordat jy iets onnosel aanvang." Maar ek het aangehou met ry. Toe, skielik, hoor ek duidelik 'n stem sê, "Nou!! David - draai nou terug! As jy nog 'n verdere vyf myl ry, is jy op jou eie!"

Die vrees van God het my getref - en dit het my wakker geskud! Ek wou nog nooit hê dat God Sy Gees van my moet wegneem nie. Daardie waarskuwing was Sy geliefde hand, wat my weerhou het!

Sê vir my - hoveel keer was jy al op die punt daarvan om 'n simpel, verskriklike fout te maak? Maar dan het God se weerhoudende Gees oor jou gekom, en gesê, "Hou op - stop dit net daar!" Selfs as ons ontrou is, Hy bly getrou. Hy kom om ons te weerhou, om ons te hou - om ons daarvan te weerhou om dom dinge te doen!

Toe Samuel Dawid gesalf het om Israel se koning te wees, het die jong man 'n nuwe hart ontvang: "Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van die dag af en verder oor Dawid vaardig geword" (1 Samuel 16:13).

Dawid het 'n goddelike man geword, wys, geliefd, vol van die vrees van God: "En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die Here was met hom" (18:14).

Hy was 'n man van gebed. Hy't God geprys soos min mense dit ooit gedoen het, en God geëer met sy liedere en psalms. Niemand kon 'n meer intieme verhouding met God gehad het as Dawid nie.

Dawid was ook 'n man van groot geloof. Hy't vorentoe gegaan om Goliat te verslaan en het daarna 'n magtige krygsman vir Saul geword. Vrouens het gesing oor sy prestasies op die gevegsterrein. Dit was duidelik dat God se Gees op hierdie man gerus het, en God het duidelik 'n plan vir sy lewe gehad.

Maar toe het Saul vol gramskap agter Dawid aangekom, en Dawid moes vlug. Hy't gehardloop vir sy lewe, en in grotte weggekruip. Na 'n tyd, het Dawid eenvoudig net moeg geraak vir die speletjie. Hy't moeg geraak, onbekwaam om meer te hanteer. Hy moes gedink het, "As ek so spesiaal is vir God - as ek sy gesalfde is, die uitverkore persoon vir die uur - waarom is ek dan in sulke groot moeilikheid? Waarom is so baie teen my?"

Dawid het toe 400 van sy manne gevat en na Gat gevlug - die tuisdorp van Goliat, vir wie hy verslaan het. Praat van 'n ontroue handeling! Dawid het nie vir God gevra oor hierdie stap nie. In teenstelling - hy het besluit om sy lewe in die hande van koning Agis van Gat te sit, en skuiling by hom te soek.

Maar in Gat, het vyandskap teen Dawid opgekom. Almal het gefluister. "Is dit nie die man waaroor die mense gesing het nie? Het hy nie duisende Filistyne vermoor nie? Hy's die een wat ons reus doodgemaak het!"

Dawid is gevange geneem en na die koning geneem. Hy't geweet hy was vas, in die moelikheid - daarom het hy gemaak asof hy mal was! Hy't voorgegee dat hy 'n mal man was, onsamehangend geraas, hy't die mure gekrap, kwyl het teen sy baard afgehardloop. Hy't gehoop dat sy kranksinnigheid hom op 'n manier sou vrymaak van die kloue van koning Agis.

Wat 'n swak getuienis was dit nie voor sy manne nie! Agis het skaars na Dawid gekyk en gesê, "Waarom het julle 'n mal man na my toe gebring? Die man is van sy kop af. Kry hom hier uit!"

Wat sou ons gedoen het as ons daar was? Ons sou gesien het hoe hierdie goddelike, vroom, sagte man onsamehangend raas, skreeu en al krappend op die gras kruip. En ons sou gesê het, "Jy is nie die koning van Israel nie. Jy't alles verbrou, Dawid. Jy't idioot gespeel!"

Inderdaad, Dawid was ontrou op daardie oomblik. Maar God was steeds getrou! Hy't Dawid nie afgeskryf nie. Nee - terwyl Dawid hom voorgegee het as 'n mal man en soos 'n idioot opgetree het, het God se ewigheids plan met hom steeds aangegaan. Saul se koninkryk het by die dag swakker geword. God was besig om alles in sy plek in te skuif om Dawid se seëninge te verseker.

As u na God gegaan het en al Dawid se dwaashede uitgewys het, glo ek God sou geantwoord het: "Ek het Dawid as koning gesalf en hy sal koning wees! Ek ken sy hart: Hy sal vinnig vergifnis vra, en terug na My toe hardloop - omdat hy 'n berouvolle hart het! Hy is nog steeds onder My guns en seën, en My plan vir hom is nog steeds binne skedule!"

Miskien het u, soos Dawid deur 'n soort van kranksinnige tyd in u lewe gegaan. U het uiterlike chaos in die gesig gestaar - en u het opgegee, en gesê, "Ek kan niks meer hanteer nie!" U het volgens u vlees opgetree, die idioot gespeel, voor God uitgehardloop.

U het kwaad vir uself, teleurgesteld, skaam. U het gedink, "Hoe kan 'n gesalfde, Gees-vervulde persoon soos ek, God so verskriklik teleurgestel het? Verseker moet sy seën nou van my weggeneem word. Ek was so gemeen, 'n bedrieër, oneerlik, ontrou. God kan my nie meer gebruik nie. Hy kan nie meer werk namens my nie!"

U is so verkeerd! God sal nie toelaat dat u huidige worsteling Sy plan en doel vir u lewe omverwerp nie. U mag dalk van die koers afgedwaal het - maar God se plan is nog steeds op koers. Dit beweeg steeds in volle vaart vorentoe!

Wanneer ek bid, hou ek altyd my "huil handdoek" naby. Sommige tye gaan ek gebuk onder so 'n geweldige las, dat ek in die handdoek huil totdat daar nie meer trane oor is nie. Ek sal vir maande oor 'n sekere oorweldigende nood bid - en tog, by tye bly my gebede onbeantwoord.

By een so 'n geleentheid het ek 'n rivier trane gestort - en ek het van my knieë af opgestaan sonder vrae, sonder die wete dat ek deurgebreek het. Ek het daardie handdoek opgetel en dit oor die kamer gegooi, en geskree, "O God - ek het 'n rivier vol trane gehuil! Ek het gepleit en gebid vir so lank. Maar U antwoord my nie! Here, wat wil U van my hê?

Ek het daar weggestap en my hart was swaar, en tog net die volgende week, is die een gebed na die volgende geantwoord!

Die hele tyd was ek besig om woedend tot God uit te roep - en het my handdoek teen die muur gegooi, gedink Hy het my gefaal - Hy was besig om agter die skerms te werk! Hy was besig om mense se harte te beweeg, en dinge te rangskik - en die plan wat hy ingedagte gehad het, uit te werk.

Ek moes na Hom terughardloop en belydenis gaan doen - en soos 'n baba gehuil oor my ontrouheid. "Ek is jammer Here - vergewe my!" O, as ek maar net vir nog een dag uitgehou het!"

Ek was nie getrou om te bly vertrou nie - maar Hy het getrou gebly!

Dit was die man wat gesê het hy sal Jesus nooit verlaat nie. Tog, het Petrus dit nie net ontken dat hy Hom nie ken nie - maar hy het dit met 'n rits godslasterende woorde, wat uit sy mond gekom het, gedoen!

Wat daarvan as u naby die vuur gestaan het, en na Petrus geluister het? U sou gedink het, "Is dit die man wat op die berg van Verheerliking was? Die een wat hande op die siekes gelê het, en hulle is genees? Die een wat met die sleutels van die koninkryk vertrou is? Luister na wat uit sy mond kom!

"Hoe kan die man wat so intiem saam met die Here gestap het, bely, "U is die Christus, die Seun van die lewende God" - en dan so afblaas, lieg, vloek en Jesus verloën? Dit is verby met Petrus. Hy mag net so wel terug gaan na sy visvang nette. Ons sal nooit weer van hom hoor nie."

Nee - nooit! Die ewigheids doel van God in Petrus se lewe was nie gedwarsboom nie. Dis waar, Petrus was verskriklik ontrou. Maar God het getrou gebly. Hy kan nie ontken wie Hy is nie!

As u na die Here sou hardloop en geskree het, "Het U nie gesien hoe Petrus U vervloek nie?" Sou Hy geantwoord het, "Ja, Petrus het My gefaal, maar Ek ken sy hart. Hy gaan binne 'n paar uur op 'n heuwel wees, waar hy sal huil en uitroep. Hy is oppad terug na My toe. Inteendeel, hy was oppad na die Pinkster fees toe - na 'n lewe van bediening vir My!" "As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie" (2 Timoteus 2:13).

Maak nie saak waardeur u gegaan het in die verlede nie, God kyk na u hart! As u 'n gebroke en berouvolle gees het, sal Hy daar wees vir u. Sy ewigheids plan vir u sal nie gedwarsboom word nie. Hy sal die plan deursien!

Dit bring my by God se waarskuwing:

Slegs een ding kan God se wonderlike plan vir u in die wiele kan ry - en dit is die sonde van hoogmoed! Ons sien dit in die lewe van Saul. Die Woord sê vir ons dat God se Gees op die man was vandat Samuel hom met die pad langs gesien kom het. God het Saul geroep, en Hy het hom gebruik.

Maar daar was iets in Saul wat vinnig verskyn het - 'n arrogante hoogmoed! Saul wou nie sy sonde erken nie. Hy het inteendeel ander geblameer om sy aksies te regverdig. Hy was meer geïntereseerd daarin met om sy voorkoms te versorg as met wat God van hom gedink het.

Geliefdes, dit was die verskil tussen Dawid en Saul - hoogmoed! Dink daaroor na. Dawid het net so erg soos Saul gesondig. Per slot van sake, Saul het nooit 'n ander vrou se man doodgemaak nie.

Maar Dawid het sy sonde vinnig bely. Toe Natan sy ernstige daad aan hom uitgewys het, het Dawid dit nie geregverdig nie. Hy het onmiddelik uitgeroep. "God, moet asseblief nie U Heilige Gees van my wegneem nie! Al wat ek wil doen is om U tevrede te stel. Ek wil nie vir myself leef nie. Ek weet ek het U gefaal. Maar, asseblief, vergewe my - maak my hart skoon!"

Toe Saul in sy sonde gevang is, het hy aan Samuel se kleed vasgegryp en uitgeroep, "Moenie my koninkryk van my wegneem nie! Asseblief, staan by my. Moenie dat ek sleg lyk voor ander mense nie."

Saul het deur die verskillende stadiums gegaan. Hy was meer geïntereseerd in wat die mense van hom sou dink as dat hy die Heilige Gees kon bedroef!

Geliefde, dit is hoogmoed - 'n hooghartige, onbeweeglike gees - wat mense tot 'n val bring! Maar 'n gebroke hart, 'n berouvolle gees, gryp die hart van God aan. Dit maak nie saak waardeur u gegaan het nie, of hoe u die almagtige God gefaal het nie; as u soos Petrus is - as u hardloop en dit alles voor Hom uithuil, nadat u misluk het - sal Hy by u staan. Hy staan altyd by die wat 'n gebroke hart en 'n berouvolle gees het.

Net voordat ek die boodskap geskryf het, het ek gebid, "Here, maak my 'n stem vir U in die laaste dae. Ek weet dat ek nie 'n stem vir U kan wees as U nie aanhou om my te verander nie. Ek kan nie vir U praat totdat die dinge van hierdie wêreld niks meer vir my beteken nie - totdat ek die beeld van Jesus Christus is nie. Asseblief, Here - verander my.

Selfs terwyl ek gebid het, het ek so ongenoegsaam gevoel - so ver van wat God van my vra. Ek het gedink, "Ek dink nie ek sal dit ooit maak nie. Ek sal nooit waardig genoeg wees nie."

Dit was toe dat die Here hierdie boodskap vir my gegee het! Hy't gesê; "Jy is reg, David - jy sal nooit waardig genoeg wees, deur jou eie standaarde en werke nie. Maar op hierdie oomblik kyk ek nie na jou om groot dinge vir My te doen nie. Ek wil hê dat jy moet weet, selfs soos jy nou hier lê en bid, is Ek aan die werk en is Ek getrou aan jou, vir My ewigheids doel. En ek gaan My plan enduit volvoer vir jou lewe!"

Geliefde, die Here gaan dit vir almal van ons doen! Hy gebruik die swakste, belaglikste dinge van die wêreld om Sy doelwitte te bereik. Ons almal faal God; nie een van ons in Sy kerk is volmaak nie. Tog elke keer as ons ontrou is aan Hom bly Hy getrou aan ons!

Haal dus u oë af van al u mislukkings en swakhede en rig dit op Sy getrouheid. Hy kan Homself nie verloën nie. Hy is uiterlik getrou aan Sy woord - en Hy gaan u deur al u gevegte lei. Halleluja!