Geroep om Soos Christus te Wees

David Wilkerson

Onlangs het ‘n dierbare Christen vrou vir my vertel, “Ek leer wat my doel in die lewe is deur ‘n kursus wat ek neem.” Sy was besig om klaar te maak met ‘n agt-weke kursus wat bedoel is om mense te help ontdek wat hulle roeping is. Sy het gesê dat almal in die klas baie angstig was om te weet wat hulle lewensdoel is.

Ek het ‘n prediker op die radio gehoor wat iets soortgelyks geadverteer het. Hy het aangebied om luisteraars te help om hulle geestelike gawes te ontdek. As jy sy vraelys sou aanvra, invul en aanstuur, sou sy personeel jou spesifieke gawes evalueer. Dan sou hulle vir jou kon sê waar om jou plek in die liggaam van Christus te vind.

‘n Gefrustreerde paartjie in die bediening het aan my geskryf, “Ons soek na maniere om God se roeping in ons lewens te vervul. Maar ons het in allerhande struikelblokke vasgeloop. Ons is so moedeloos dat ons soms voel om op te gee.” Miskien sal hierdie paartjie hulle wend na die hulpbronne wat die ander mense gebruik. Ek is seker sulke hulpmiddels is tot ‘n mate van hulp.  Die Bybel sê God gee gawes aan sy mense en ek glo daar is spesifieke roepings.

Tog is ek oortuig deur die Skrif dat daar vir alle gelowiges net een kerndoel is. Ons spesifieke roepings word saamgevat in hierdie een enkele doel en elke gawe ontstaan daaruit. En as ons hierdie doel mis, sal al ons begeertes en strewes verniet wees.

Jesus som ons kerndoel op in Johannes 15:16: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly.” Ons doel is eenvoudig die volgende: ons is geroep en uitverkies om vrug te dra.

Talle opregte Christene dink om vrug te dra beteken eenvoudig om siele na Christus te lei. Maar om vrug te dra beteken selfs veel meer as siele wen.

Die vrug waarvan Jesus praat, gaan oor om soos Christus te wees. Eenvoudig gestel, om vrug te dra, beteken om die beeld van Jesus te weerspieël. En die frase “veel vrug” beteken die “toenemende gelykenis van Christus.”

Om meer en meer in Jesus se gelykenis te groei, is ons kerndoel in die lewe. Dit moet die middelpunt van al ons aktiwiteite, ons lewenstyl en ons verhoudings wees. Inderdaad, al ons gawes en roepings — ons werk, bediening en getuienis — moet uit hierdie kerndoel spruit.

As ek nie soos Christus in my hart is nie — as ek nie merkbaar meer soos Hy word nie — het ek God se doel vir my lewe totaal gemis. Dit maak nie saak wat ek vir sy koninkryk bereik nie. As ek hierdie een doel mis, het ek verniet gelewe, gepreek en gestreef.

Jy sien, God se doel vir my kan nie vervul word deur wat ek vir Christus doen nie. Dit kan nie gemeet word deur enigiets wat ek kan bereik nie, selfs nie as ek die siekes genees of duiwels uitdryf nie. Nee, God se doel word slegs in my vervul deur wat ek in Hom word. Om soos Christus te wees gaan nie oor wat ek vir die Here doen nie, maar oor hoe ek verander word na sy beeld.

Volgens die dissipels, was die tempel in Jerusalem ‘n groot, goddelike werk, ‘n wonderlike prestasie. Hulle het Jesus op ‘n toer geneem om Hom die grootsheid van die strukture te wys, die groot skares wat daagliks daar bymekaar gekom het en al die godsdienstige bedrywighede wat daar plaasgevind het. Hulle het gedink Christus sou net so beïndruk soos hulle gewees het.

In plaas daarvan, het Jesus hulle entoesiasme gedemp. Hy het hulle in wese vertel, “Dit gaan alles afgebreek word. Nie een steen sal hier oorbly nie. Al hierdie skares sal verstrooi word en selfs die herders sal vlug. Alles wat julle hier beïndruk — alles wat so godsdienstig lyk — gaan verwerp word. En dit sal gebeur omdat dit nie Christus openbaar nie. Dit is mens-gesentreerd en openbaar die mens.”

In werklikheid het die dissipels op die verkeerde tempel gefokus. Hulle het hulle oë op hierdie mensgemaakte tempel gehou. Hulle fokus was op godsdienstige aktiwiteit en hulle was beïndruk met die verkeerde dinge. Wat hier gebeur het, het nie die Vader verteenwoordig nie. Die tempel het ‘n nes van diewe en geldwisselaars geword. Die profete en priesters het net aan hulleself gedink. Hulle het selfs hulle eie ouers beroof en misbruik. Die tempel het geensins oor Christus se doel gegaan nie.

Kortliks, Jesus het die dissipels se aandag verskuif na die geestelike tempel. Soos Paulus later vir die kerk sou skryf, “Weet julle dan nie dat julle die liggaam van Christus is nie?”

Ek glo dat baie Christene vandag soos die dissipels is. Ons word beïndruk deur groot kerkgeboue, deur menigtes wat op ‘n Sondag instroom, deur die uniekheid van die aanbidding en deur talle programme en bedienings. Maar Jesus se boodskap aan ons is duidelik: ons moenie fokus op geboue van steen en metaal, op vorme van aanbidding, of op hoe kerkdiens gehou word nie. Daardie dinge sal net ons aandag aftrek. In plaas daarvan, moet ons fokus op die geestelike tempel wees.

Die feit van die saak is, dat die Heilige Gees te alle tye in sy tempel teenwoordig is. Hy woon in ons liggame. En Hy is te enige tyd voorbereid om ons in sy doel in te bring. Dit beteken dat ons ons geestelike huis in orde moet kry.

Daar is kere wanneer ons geroep word om ‘n regverdige oordeel uit te spreek. Die Skrif roep elke Christen om valse leerstellings en valse profete te openbaar. Veral bedienaars moet dit wat nie soos Christus in God se huis is nie, veroordeel.

Maar Petrus sê dat die oordeel by die huis van God begin. En “huis” beteken nie net die kerk nie, maar ook ons menslike tempel. Ek moet myself beoordeel — en na die toestand van my eie tempel kyk — voor ek in staat is om enigiets in die kerk te beoordeel.

Jesus het gesê, “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg...As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Johannes 15:2, 6). Wat ookal in die kerk is wat Christus nie weerspieël nie — wat ookal korrup of vals is, of nie sy mense na sy gelykenis verander nie — sal mee afgereken word. Jesus sal dit uitdryf. En Hy sal daardie bediening en sy goddelose oortreders laat verdroog. Hy sal dit uiteindelik aan die kaak stel, bankrot maak en toemaak.

Ek is oortuig indien enige Christen wat vandag lewe, deur die tempel kon loop in Jesus se tyd, sou hy bedroef gewees het oor wat hy gesien het. Priesters het skelm geld in hulle sakke gesteek, gierigheid en korrupsie en geldmalligheid was aan die orde van die dag — alles sou skokkend wees. Daardie Christen sou wonder, “Hoe lank sal die Here sulke dwaasheid in sy huis toelaat?”

In der waarheid, die toestand van die tempel sou niks gewees het om oor bekommerd te wees nie. Jesus het reeds die goddeloosheid daar uitgedryf. Hy het ‘n lat en ‘n sweep geneem en sy Vader se huis gereinig. En Hy het al die korrupte bedienings wat daar geopereer het, uitgedryf.

Vandag dien ons dieselfde Christus wat die tempel gereinig het. En Hy is getrou om al die korrupsie in sy kerk uit te dryf, op sy tyd en op sy manier. As Hy verkies, kan Hy elke valse profeet oornag verwyder. Daarom moet ons Hom vertrou om vir sy kerk te sorg. Ons werk is om seker te maak dat geen wêreldsheid in ons eie menslike tempel insluip nie.

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Paulus se boodskap is eenvoudig: “Alle dinge behoort goed uit te werk in die lewens van diegene wat God liefhet en in sy weë wandel.”

Hierdie waarheid laat my wonder: waarom is daar so baie moedeloosheid en wanhoop onder Christene? Waarom is daar so baie predikante en pastore oor die wêreld wat moeg en gedaan is en die bediening by dosyne verlaat? Waarom is daar vreeslike kompetisies tussen bedienings?

Ek sien oral kerke wat vasgevang is in materialisme en diep in die skuld is. En die hele tyd smeek die mense vir antwoorde in hulle lewens. Ek vra jou, hoe kan dit die oorvloedige lewe wees waarvan Paulus sê dat ons veronderstel is om te geniet? Dit lyk glad nie na ‘n goeie lewe nie. Eerlikwaar, dit lyk na ‘n lewe van ellende. Gaan in enige Christen boekwinkel in en lees die titels op die rakke. Die meeste is self-help boeke oor hoe om eensaamheid te oorkom, hoe om depressie te oorleef en hoe om vervulling te vind. Waarom is dit so?

Dit is omdat ons alles verkeerd benader. Ons is nie geroep om suksesse te wees nie, om vry van moeilikheid te wees nie, om spesiaal te wees of om dit “te maak” nie. Nee, ons mis die een roeping, die een fokuspunt, wat veronderstel is om die middelpunt van ons lewens te wees: om vrugbaar in die gelykenis van Christus te word.

Toe ek nege-en-twintig jaar oud was, het ‘n ouer, welbekende evangelis my vir ete genooi. Hy het my raad gegee, “As jy dit nie maak teen die tyd wat jy vyftig is nie, sal jy dit nooit maak nie. Ek het nog vyf jaar en daarna, is my kanse vir sukses verby. Daarom gaan ek ‘n nasionale TV program begin.”

Ek het vir myself gesê, “Maak dit? Dit klink nie na die taal van Christus se roeping nie.” Kort daarna, het God hierdie man nie meer gebruik nie. Hy was verlore in die vergetelheid en al sy drome was verpletter. Dit is jammer dat ek deesdae nog stories soos syne in my reise hoor. Verskeie bedienaars het vir my vertel, “Ek gaan ‘n mega-kerk bou.

‘n Man wat eenkeer ons kerk bygewoon het, het my vertel, “Ek word so kwaad wanneer ek sien dat almal so suksesvol is, terwyl ek so baie finansiële behoeftes het. Dit is nou my beurt. Ek gaan doen wat dit ookal verg.” Die laaste wat ek van daardie man gehoor het, was dat die gereg agter hom aan was.

In der waarheid, baie van ons is geroep om gewone Christene te wees. Maar ons plaas soveel druk op onsself om tred te hou met die hedendaagse mededingende gees in die wêreld. Ons dwing ons kinders om dokters, prokureurs, prominente sakelui en selfs “suksesvolle” predikers te wees. Maar ons hoef nie enigiets te verrig om ons doel in die lewe te vind nie. Ons het nie nodig om geboue op te rig, boeke te skryf of skares te lok nie. Paulus sê dat ons voorbeskik is om aan die beeld van Christus gelyk te word en dit is ons een doel: “Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eergeborene kan wees onder baie broeders” (Romeine 8:29).

Jesus was totaal oorgegee aan die Vader en dit was vir Hom alles. Hy het verklaar, “Ek doen niks behalwe wat my Vader vir my sê nie.” Paulus sê vir ons dat elke gelowige veronderstel is om dieselfde patroon en rigting te volg en om dieselfde kerndoel te hê: “Ek is hier vir my Here.”

So, wil jy die “veel vrug” dra wat gevorm word wanneer jy meer soos Christus word? Ek vra myself daardie vraag terwyl ek vir hierdie boodskap voorberei. En die Gees het vir my gefluister, “David, jy moet gewillig wees om te kyk na hoe jy teenoor ander optree.”

Eenvoudig gestel, vrug dra, kom daarop neer oor hoe ons mense behandel. Ons vervul ons lewensdoel slegs wanneer ons begin om ander so lief te hê soos wat Christus ons liefgehad het. En ons groei meer soos Christus wanneer ons liefde vir ander toeneem. Jesus het gesê, “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad: Bly in hierdie liefde van My” (Johannes 15:9). Sy gebod is duidelik en eenvoudig: “Gaan en wees lief vir ander. Bewys aan ander dieselfde onvoorwaardelike liefde wat Ek aan jou bewys het.”

Die Gees wys my op drie areas waar Christus se onvoorwaardelike liefde mag begin:

Jesus se gebod het daarmee te doen oor hoe ek my vrou en kinders behandel. Vir enkellopendes is dit hoe jy jou kamermaats, mede Christene en die mense naaste aan jou behandel.

Hierdie waarheid was die kern van Maleági se profesie aan Israel. God het aan die priesters van die dag gesê, “En boonop doen julle dit; julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie” (Maleági 2:13). God het bedoel, “Ek aanvaar nie langer julle offers of julle aanbidding nie. Ek sal niks wat julle bring, aanvaar nie.”

Waarom het God hierdie manne se bediening nie langer aanvaar nie? “Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het...Neem julle dan in ag” (Maleági 2:14–15). Dit het alles te doen gehad met hulle huwelike.

Ons kan nie hierby verby kom nie. As ek die man en bedienaar moet word wat God my geroep het om te wees, dan moet my vrou in staat wees om eerlik voor die hemel, die hel en die hele wêreld te kan sê: “My man het my lief met die liefde van Christus. Hy maak foute, maar hy groei in sy geduld en begrip vir my. Hy word meer liefdevol en sorgsaam. En hy bid saam met my. Hy is nie vals nie. Hy is wat hy verkondig.”

Ek help om wat hulle ‘n mega-kerk noem, te lei. Ek hou konferensies vir bedienaars regdeur die wêreld en preek vir duisende op ‘n keer. Ek het Teen Challenge, ‘n Christen rehabilitasie bediening vir alkoliste en dwelverslaafdes, wat nou 500 sentrums wêreldwyd het, gestig. Ek het ongeveer twintig boeke geskryf, ‘n Bybelskool gehelp vestig en ‘n huis vir weggegooide moeders en hulle kinders opgerig. Daarvoor het ek eer ontvang.

Maar as dit nie ook my vrou se getuienis is nie — as sy ‘n geheime hartseer in haar hart het en dink, “My man is nie die man van God wat hy voorgee om te wees nie” — dan is alles in my lewe verniet. Al my werk — die preke, die prestasies, die liefdadigheidswerk en die baie reise — beteken dan niks. Ek is verdroog, ‘n nuttelose tak wat geen vrugte van Christus se gelykenis dra nie. Jesus sal veroorsaak dat ander die dood in my sien en ek sal van min waarde in sy koninkryk wees.

Jy kan evangeliseer so veel as wat jy wil, jy kan getuig en traktaatjies uitgee. Jy kan week na week kerk toe gaan en God se lof besing. Maar wat het jou huweliksmaat van jou te sê? Watter soort lewe lei jy in jou huis?

‘n Middeljarige pastoor en sy vrou het diep bedroef en in trane na my gekom. Die prediker het my tussen sy trane deur vertel. “Broer Dave, ek het teen God en my vrou gesondig. Ek het owerspel gepleeg.” Hy het met goddelike droefheid geruk terwyl hy sy sonde aan my bely het. Toe het sy vrou na my gedraai en saggies gesê, “Ek het hom vergewe. Sy berou is vir my eg. Ek weet hy is nie daardie soort man nie. Ek is oortuig dat die Here ons sal herstel.”

Ek was bevoorreg om die begin van ‘n pragtige herstel te sien. Ons kan nooit opmaak vir ons vorige foute nie. Maar wanneer daar ware berou is, belowe God om alles wat die sprinkane vernietig het, te herstel.

Die verraad wat Maleági beskryf, gaan nie net oor owerspel of hoerery nie. Dit sluit alles in wat nie soos Christus is nie, soos gemeenheid, bitterheid en oneerlikheid. Hierdie soort verraad vernietig ook ons lewensprestasies. God sê aan almal wat dit doen, “Ek sal nie jou dade, jou aanbidding of enigiets wat jy vir my bring, aanvaar nie. Ek het ‘n appeltjie met jou te skil.”

Ek wens dat elke paartjie wat ‘n Christus-gesentreerde huwelik geniet, sal opstaan en die waarheid vertel, “Dit is nie maklik nie.” ‘n Huwelik is ‘n dag-vir-dag poging op dieselfde manier as wat die Christelike lewe is. Soos die pad van die Kruis, beteken dit om al jou regte daagliks prys te gee. Natuurlik weet Satan jou hart is daarop gevestig om meer soos Christus te word in jou huis en daarom sal hy gedurig beproewings oor jou pad bring.

Kortliks, daar is geen ander skool wat so moeilik en intens is as die skool van die huwelik nie. En jy gradueer nooit nie. God maak dit vir ons duidelik: Ons lewens met ons geliefdes is die hoogtepunt, die toppunt van al ons toetse. As ons hier nie slaag nie, sal ons nêrens in ons lewens slaag nie.

Om soos Christus te wees, is om Jesus in ander te erken. In my reise, ontmoet ek baie kosbare mans en vroue wat ek weet ten volle aan die Here oorgegee is. Die oomblik wat ek hulle ontmoet, spring iets in my hart op. Hoewel ons nog nooit tevore ontmoet het nie, het ek ‘n getuie van die Heilige Gees dat hulle vol van Christus is.

Ek kan steeds sommige van hulle se gesigte sien: predikers, biskoppe en arm straatevangeliste. En die oomblik wat ek hulle ontmoet, besef ek sonder dat ‘n woord tussen ons gespreek word, “Hierdie man was by Jesus. Hierdie vrou het vrede in Christus.” Wanneer ek hulle groet, sê ek altyd een ding wat ek ook graag wil hê ander van my moet sê: “Broer, suster, ek sien Jesus in jou.” Ek bedoel dit nie om te vlei nie; dit is die getuie van die Heilige Gees.

Ons weet dat om soos Christus te wees, beteken om ander lief te hê soos wat Hy ons liefhet. Dit beteken egter ook om ons vyande lief te hê — hulle wat ons haat, ons beledig, ons gebruik en diegene wat nie in staat is om ons lief te hê nie. En ons moet dit doen sonder om iets terug te verwag. Natuurlik, is dit in menslike terme onmoontlik om so lief te hê. Daar is nie enige hoe-om boeke, enige vasgestelde beginsels, of enige hoeveelheid menslike intelligensie om ons te wys hoe om ons vyande lief te hê soos wat Christus ons liefhet nie. Tog word ons beveel om dit te doen. En ons moet dit doen met toenemende strewe. Volgens Jesus is dit die vrug wat ons moet dra.

So, hoe moet ons dit doen? Hoe moet ek die Moslem wat ‘n blok van die kerk af in my gesig gespoeg het, liefhê? Hoe moet ek die mense wat my ‘n valse profeet op die Internet Web noem, liefhê? Hoe moet ek die homoseksuele wat op Vyfde Laan paradeer met borde wat sê, “Jesus Was Gay,” liefhê? Hoe moet ek hulle waarlik in Christus liefhê? Ek weet nie eers hoe om ander Christene in my eie krag lief te hê nie.

Dit is baie eenvoudig, dit moet die werk van die Heilige Gees wees. En Jesus het tot die Vader gebid, “Sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Johannes 17:26). Christus vra die Vader om sy liefde in ons te plaas. En Hy belowe dat die Heilige Gees ons sal wys hoe om daardie liefde uit te leef:

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort en aan julle verkondig” (Johannes 16:13–15).

Hoor jy wat Jesus hier sê? Die Heilige Gees sal getrou al die maniere waarop Christus ander liefgehad het, versamel en “aan julle verkondig.” Inderdaad, die Gees verbly Hom daarin om ons meer van Jesus te wys. Dit is die rede waarom Hy in ons liggaamlike tempels lewe: om ons van Christus te leer. “Omdat Hy by julle bly en in julle sal wees...Hy sal julle alles leer” (Johannes 14:17, 26).

In apostoliese tye, was die kerk so gevul met Christus se gesag, dat dit veroorsaak het dat konings en heersers gebewe het. Paulus en sy jong herders en evangeliste het die evangelie vreesloos verkondig. Hulle het hele stede en nasies met die boodskap van Jesus gevul. Die kerk was daarvoor bekend dat dit soos Christus was met sy krag om hemel en aarde te beïnvloed.

Vandag egter, het die grootste deel van die kerk ‘n swak, kragtelose instelling met baie min van Christus se gesag geword. Dit word oral in die wêreld bespot en uitgelag. Soos ek van nasie tot nasie reis, kan ek sien waarom. Ek vind dikwels die kerk in ‘n treurige toestand en gekenmerk deur denominasionalisme. Elke groep maak aanspraak daarop om van Christus te wees en ‘n Bybelse evangelie te verkondig. In sommige gevalle, kan hierdie groepe nie eers saam om ‘n tafel sit nie.

Gelukkig is daar Christelike leiers in baie lande wat oor denominasionele grense gaan om ons konferensies te help aanbied. Maar ‘n groot gaping bestaan steeds tussen kulture en rasse. Sekere groepe word op neergesien en word nie eers na die byeenkomste genooi nie. Ook is daar nuwe godsdienstige bewegings wat oral ontstaan met ware herlewing wat plaasvind. Maar sommige van hierdie het eksklusief geword en maak daarop aanspraak dat hulle alleen die waarheid het.

Ten slotte, in die kerk is daar nog ‘n soort verdeeldheid, wat glad nie soos Christus is nie. Dit is die gaping tussen die groot en die klein: diegene wat groot dinge in die Here se naam doen versus hulle wat geroep is om kleiner werke te doen.

God het ‘n vermaning vir hierdie soort verdeeldheid: “Want wie verag die dag van klein dinge?” (Sagaría 4:10). Dit was sy woord aan die Israeliete wat die tempelfondament wat Serubbábel gelê het, verag het. Hulle het neergesien op die nuwe werk omdat dit nie so skouspelagtig soos Salomo se tempel was nie.

Vandag gaan dit net so en baie herderskonferensies beklemtoon mega-kerk groei. Bedienaars van klein kerke word eenvoudig vertel, “Woon hierdie mega-kerk seminaar by en jy sal die sleutel tot sukses vind. Jy sal uiteindelik ‘n kerk so groot soos syne hê.” Dit veroorsaak egter net dat predikers meer moedeloos word. Hulle word oortuig, “Ek doen niks betekenisvol vir God nie. Hy gebruik my nie.”

Eerlikwaar, ek sal dit geniet om ‘n bedienaarskonferensie te hou waar al die sprekers predikers van klein of gemiddelde grootte kerke is. Ek het geen begeerte om te hoor oor hoe om ‘n groot kerk te bou of hoe om ‘n groot begroting in te samel nie. Ek wil liewer by twintig of dertig kleiner kerkleiers hoor wat God vir hulle sê en wat die openbaring van Christus is wat hulle ontvang.

Miskien dink jy, “Ek is een van daardie geringe mense. Die dinge wat ek in God se koninkryk doen, is so gering. Ek is nie betrokke by enigiets belangriks vir die Here nie.” Dit is nie die geval nie. Laat my jou vertel hoe ek glo God die hele saak beskou.

Die mees bruikbare mense in die kerk van Jesus Christus is diegene wat oë het om te sien en ore het om te hoor. Ja, sommige mense doen groot dinge wat deur baie gesien en gehoor word. Maar sommige van daardie bedienaars het nie oë om die behoeftes van gebroke mense raak te sien nie. Hulle is projek-georiënteerd eerder as behoefte-georiënteerd.

Die eenvoudige feit is dat die Christus wat in my woon, nie blind of doof is nie. En sy Woord sê, “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Johannes 3:17). Jesus sien al die behoeftes en seerkry rondom my. Hy hoor die geween en gekreun van die beangstes en verslaafdes. En as ek meer soos Hy moet wees, dan het ek sy oë nodig om dieselfde dinge te sien.

Dit is die liefde van Christus: om die ontstellende geskreeu van die wese te hoor, die kind van die ghetto...die eensame, gedempte hulpgeroep van die homoseksueel wat siek vir sy sonde is en sy foltering in alkohol verdrink...die pynlike krete van die hongeres, die armes en die gevangenes. Om soos Christus te wees, is om sulke “oë wat sien en ore wat hoor” te hê.

O Here, gee my ‘n oor wat hoor. Help my om op te hou om mense te vertel hoeveel ek weet. Help my liewer om te hoor wat U vir diegene sê wat geen publieke stem het nie. Help my om ‘n student te wees by die voete van die onbekende predikers en dienaars in die liggaam wat waarlik veel vrug dra. Laat my hoor wat U deur hulle sê. En laat my ander liefhê nie in woord alleen nie, maar in daad en in waarheid.