Gered – Maar Ongelukkig!

David Wilkerson

Duisende van God se mense het op die strand gestaan en kyk terwyl ‘n bonatuurlike toneel ontvou het: “Die vinnige waters van die see het Farao se groot leër bedek!”

Wat ‘n ongelooflike toneel moes dit nie gewees het nie – die gesig en geluide was verstommend om te sien. Perde het gerunnik, soldate het geskreeu, tollende strydwawiele het in alle rigtings gespat, mans het opgekom vir lug en daarna onder die vloedgolf verdwyn en duisende liggame het op die strand uitgespoel.

‘n Beraamde een-en-‘n-half miljoen Israeliete het gesien hoe dit alles plaasgevind het – 600,000 mans, sê die Skrif en waarskynlik nog ‘n 900,000 vroue, grootouers en kinders. In my geestesoog sien ek die mense eenvoudig verstom staan – op hulle knieë val met hulle hande in die lug, oorweldig deur die aanskouing van God se groot krag in werking. Moses se suster Miriam het spontaan honderde dansende meisies in ‘n oorwinningsmars gelei. Duisende tamoboeryne het geratel, terwyl duisende jubelende stemme luide hosanna’s uitgeroep het.

As jy daardie dag daar was, kon jy dalk vir enige Israeliet gevra het, “Het hierdie groot bonatuurlike gesig só ‘n indruk gemaak op jou dat jy God nooit weer in twyfel sal trek nie – maak nie saak wat jy beleef op die reis vorentoe nie?”

Dit is amper seker dat hulle sou antwoord, “Ja! Ja! Hoe kan enigiemand twyfel in ‘n God wat ‘n hele leër begrawe? Hy is ‘n wonderwerkende God – ons het nog nooit so iets gesien nie. Ons sal nooit weer in Hom twyfel nie!”

Israel se groot geloof het egter net drie dae gehou!

Ek glo die volk van Israel wou God met alles in hulle harte vertrou en hulle was heel moontlik oortuig dat hulle dit sou kon regkry. Die mans en vroue van faam en die ouderling van hoë beginsels het almal hard begeer om hulle hele lewe deur te bring en Hom volkome te vertrou. Hulle was vas van plan om elke myl na die Beloofde Land vol geloof te marsjeer en dit binne te gaan terwyl hulle sê, “Ons het die tien plae in Egipte gesien. Ons het gesien hoe God die Rooi See oopgemaak en ons vyande vernietig het. Ons het al die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het. Wie sal tog ooit so in ‘n groot en magtige God twyfel?”

En so gaan dit vandag. Amper al die ware volgelinge van Christus beplan om God te vertrou tot op die heel einde toe. Ons almal beplan om ons lewens te leef vol van geloof en nooit te twyfel of te kla nie. Ons sê, “Ek het wonderwerke in my eie lewe gesien – Ek het my eie Rooi See belewenisse gehad. Hoe kan ek in Hom twyfel as Hy al hierdie dinge vir my gedoen het?”

Ek vra jou egter: Het jy al ooit gedink dat jy eendag kan word soos die ondankbare, murmerende, twyfelende Israel? Ongelukkig het baie Christene in hierdie laaste dae soos Israel geword! Die Bybel verklaar dat, in die eindtye, baie hulle geloof sal verloor en hulle eerste liefde sal verlaat. Hulle beland in die woestyn van twyfel en ongeloof – gered, maar ongelukkig!

Paulus het aan Timótheüs geskryf,

  • “En aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Timótheüs 1:19).

Paulus het dit kort na Pinkster geskryf – kort nadat God magtiglik in hulle midde opgetree het. En hy het gesê dat baie egter klaar skipbreuk gelei het deur ongeloof!

Jesus self het gesê,

  • “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8).

Met ander woorde: Wanneer Ek my mense kom haal, sal Ek ware geloof onder hulle vind?”

Eens was dit vir my moeilik om hierdie woorde te aanvaar. Ek het gedink, “Maar, Here – kyk na die groot geloof dwarsdeur die wêreld! So baie wandel in geloof, praat van geloof, verkondig geloof. Daar is selfs sogenaamde geloofsbedieninge!”

Die Here het my herinner: Uit daardie 600,000 Israelitiese manne wat vasbeslote was om Hom altyd te vertrou, het slegs twee hulle geloof behou. Dit is reg – 599,998 het hulle geloof verloor! Slegs Josua en Kaleb het aangehou glo en het nooit getwyfel nie – en hulle was die enigstes wat die Beloofde Land binnegegaan het. Al die ander Israeliete bo die ouderdom van twintig – almal wat die plae in Egipte gesien het, wat God geprys het vir die verlossing by die Rooi See – het twyfelend in ‘n ellendige woestyn gesterf.

Hierdie boodskap gaan oor hoe ‘n mens gered – maar baie ongelukkig kan wees!

Ek wil met jou praat oor hoe jy uit verskriklike slawerny verlos kan word, maar nooit die volheid van Christus binnegaan nie! Baie Christene bring inderdaad hulle hele lewens deur, verlore in ‘n woestyn – geteister deur depressie, vrees, rusteloosheid en ongeloof.

Eerstens moet jy weet wat die Beloofde Land simboliseer. Dit verteenwoordig nie die hemel soos sommige mag dink nie. Op die dag wat die Israeliete Kanaän binnegegaan het, het oorloë begin – maar ons weet dat wanneer ons in die hemel kom, alle oorloë sal ophou.

Liewer, Kanaän staan vir lewe in sy volheid – oorvloedige lewe. Kanaän was ‘n land van “melk en heuning,” – en dit beteken oorvloedige seëninge, ‘n vredevolle manier van lewe, rus van alle vrees.

Geliefde, vandag is ons Beloofde Land, Jesus Christus, wat binne-in ons leef! Hy is ons erfenis. Ons rus in Sy getrouheid, ons geniet Sy teenwoordigheid, en ons het blydskap in Hom al ons dae. God het nooit bedoel dat ons vasgevang raak in ‘n wildernis van leegheid en droogtes nie. Deur Sy Seun, het Hy vir ons oorvloedige lewe voorsien – ‘n lewe vry van alle bekommernis en angs. Dit is ‘n lewe wat totaal oorgegee is aan God se hande – om volkome op Sy wil en liefde te vertrou.

Maar dit was weens twyfel dat Israel twaalf betroubare manne uitgestuur het om die goeie grond te gaan verken. Ek het dikwels gewonder: Waarom sou hulle verkenners uitstuur as God reeds vir hulle gesê het dat die land goed was en hulle s’n was?

Dit was weens vrees! In vrees het hulle die twaalf uitgestuur – en tien van hulle het teruggekeer met ‘n lafaard se verslag! Hulle het stories vertel van reuse, stede met hoë mure, onmoontlike hindernisse. Hulle het gewaarsku, “Die mense daar is soos reuse – ons is blote sprinkane in vergelyking met hulle. Die land sal ons opeet!”

Slegs twee van die verspieders, Josua en Kaleb, het hulle geloof behou in God se krag om te verlos. Hulle het getuig, “Ons kan hierdie vyand van God verslaan as God ‘n behae in ons het. Hulle is ons kos! Hoe kan julle reuse vergelyk met ons magtige God?”

Maar daardie nag het die ander tien verspieders van tent tot tent gegaan en van stam na stam, terwyl hulle twyfel en vrees versprei het. En die hele nag lank kon gehoor word hoe die mense hard in hulle tente gehuil het:

  • “Toe het die hele vergadering uitgeroep – hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween” (Númeri 14:1).

Wat ‘n nag van skandelikheid was dit – en hoe bedroef moes God nie gewees het nie! Die engele in die hemel moes skepties gestaan en wonder het, “Hoe kon so ‘n ding gebeur? Hoe kon ‘n nasie so wonderwerk-versadig wees en God se krag en getrouheid teenoor hulle vergeet? Hoe kan enigeen tot die slotsom kom dat God nie in staat is om hulle in die land in te bring nie?”

Luister egter na Israel se lasterlike woorde van twyfel en bitterheid:

  • “En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! En waarom bring die Here ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan” (Númeri 14:2-4).

Teruggaan na Egipte toe? Met geen water, geen manna, geen leiding, geen wolk of vuurkolom om hulle te lei nie? Hulle sou nie ‘n week op hulle eie uitgehou het nie. Selfs al sou hulle dit tot by die Rooi See gemaak het, hoe sou hulle daaroor gekom het? As hulle daar oorgekom het, hoe sou hulle in ‘n woedende nasie wat al hulle eersgeborenes verloor het, hulle leër en hulle Farao in die oë kyk. Egipte sou wraak wou neem!

Miskien is jy op hierdie oomblik in die geveg van jou lewe. Die vyand storm van alle kante op jou af. Jy weet jy het ‘n magtige God aan jou kant – maar al wat jy kan sien, is die stryd voor jou. Jy sê, “O God, waarom het U my in hierdie gemors laat beland? Ek gaan dit nie maak nie! Toe ek my bekeer het, het ek nie geweet dat dit so moeilik sou wees nie, dat ek so baie sou moes veg nie. Ek het gedink dat ek net saam moes marsjeer en alles sou goed gaan.”

So, nou is daar sommiges wat daaraan dink om alles op te pak en terug te gaan na hulle ou lewe. Maar hoe ver dink jy sal hulle kom? Hulle het geen rigting, geen voorsiening, geen Gees van God wat hulle lei nie. En wat dink jy gaan die duiwel met hulle doen wanneer hulle dit terug maak? Hy is woedend dat hulle in die eerste plek tot bekering gekom het – en nou het hulle opgestaan en teen hom getuig. Dink jy hy gaan sy arms oopmaak vir hulle? Nee! Hy is agter hulle bloed aan – hy sal probeer om hulle dood te maak! Hy wil wraak neem!

Onlangs het twee geteisterde jong vroue weggeloop van ons Hanna Huis af. En dit is so tragies dat hulle binne ‘n paar weke reguit in die dood ingestap het: Beide het ‘n oordosis dwelms geneem. Maar ons het keer op keer gesien dat verwoesting kom na diegene wat sê, “Ek gaan terug na Egipte toe!” Dit is omdat die duiwel ‘n harde slawemeester is – en die loon van sonde is die dood!

Nehemía het van Israel gesê:

  • “In hul wederstrewigheid ‘n hoof aangstel om terug te gaan na hulle slawerny” (Nehemía  9:17).

Hulle het teruggekeer na slawerny! Hulle het gedink hulle sou teruggaan na iets maklikers as die geestelike stryd wat hulle beleef het. Maar toe het hulle nóg groter probleme beleef!

Luister na hierdie ontsaglike woorde van die Here:

  • “Hoe lank sal hierdie volk my verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ‘n groter en sterker nasie maak as hulle” (Númeri 14:11-12).

God het gesê, “Ek het genoeg gehad van hierdie mense! Hulle bevestig hulle ongeloof. Hoe meer Ek vir hulle doen, hoe meer tree hulle op in twyfel en vrees. Nou gaan ek hulle van hierdie aarde afvee! Ek gaan hulle vernietig, Moses. En dan sal Ek ‘n nuwe volk uit jou bou, omdat jy getrou is.”

Maar Moses het by God gepleit om Sy groot barmhartigheid, lankmoedigheid en vergifnis te betoon:

  • “Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het” (Númeri 14:19).

Dit bring my by die die hart en kern van my boodskap.

Jy kan vergewe wees – maar steeds uitgesluit wees van volheid!

Jy kan die ontvanger wees van God se groot barmhartigheid, seëninge en beskerming – en tog nooit die lewe of die krag wat Hy vir jou beplan het, geniet nie. Dit is die gevolge van ongeloof!

God het Moses se smeking gehoor en hy het Israel se gruwelike sondes vergewe:

  • “Toe sê die Here: Ek vergewe volgens jou woord” (Númeri 14:20).

Wat was die mense se reaksie egter?

  • “...hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hulle nek verhard en in hul wederstrewigheid ‘n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny. Maar U is ‘n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie” (Nehemía  9:17).

God het steeds sy genade, liefde en lankmoedigheid aan ‘n ongelowige Israel betoon:

  • “...U [het] in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie. En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors. En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie” (Nehemía 9:19-21).

Jy kan moontlik dink, “Hulle is in ‘n goeie toestand! Hulle is vergewe, word steeds gelei, het steeds die Gees in ‘n mate geniet, was versorg, gevoed en geklee. Wat meer sou hulle wou hê?”

O, maar daar is egter iets baie verkeerd hier – iets baie hartseer en tragies! Jy sien, hulle was gered, vergewe en geseën – maar hulle was oppad na nêrens! Hulle het hulle lewens gemors, omdat hulle vir altyd uit God se beste uitgesluit was. Hulle was verdoem tot ‘n “wildernis lewe” -  droog, geteister, rusteloos, leeg, ongelukkig vir die res van hulle dae. En hulle sou dit nooit maak tot by die Beloofde Land nie!

  • “Hulle sal die land nie sien...nie” (Númeri 14:23).

Hulle was uitgesluit en onterf. God het letterlik Sy belofte aan hulle verbreek – die belofte om hulle in ‘n lewe van rus en vrede in te bring:

  • “Moet julle... my teëstand gewaar” (Númeri 14:34).

Waarom het God so drasties opgetree? Waarom het Hy Sy belofte verbreek en hulle verdoem tot ‘n lewe in ‘n huilende, droë woestyn vol slange? Dit was weens ongeloof – so eenvoudig soos dit! Hulle het ‘n gewoonte daarvan gemaak om al God se getrouheid in vorige tye te vergeet. En in elke nuwe krisis het hulle gemurmureer en gekla.

Maar geliefde, hulle was egter nie ‘n verlate volk nie. Hulle was verlos en vrygemaak van slawerny. Die bloed offers het voortgeduur. Die manna het aangehou kom. Die water het steeds uit die Rots gevloei. Die vuurkolom en die wolkkolom was steeds sigbaar. Maar Israel was ‘n gebrekkige, lewelose volk. Die Here het hulle selfs boos genoem!

  • “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:17-19).

Israel was nie afgekap weens afgodery, hoerery of gierigheid nie. Dit was weens ongeloof! God het vir hulle gesê, “Julle gaan nêrens nie. Julle lewe gaan vermors word in die wildernis!”

Kan jy jouself voorstel die ellende daarvan om jou hele lewe lank in vrees te lewe? Vir veertig jaar lank het hierdie mense in sirkels rongetrek, terwyl hulle lewens slegs rondom oorlewing gegaan het. Hulle het verlore geraak in nietige probleme – verveeld, vasgevang in ‘n saai bestaan, altyd aan die argumenteer, altyd siek en heeltyd bekommerd oor dinge wat nooit gebeur nie.

Dit is ‘n beeld van wat gebeur as jy jou geloof verloor! Jy bekommer jou oor elke nietige, klein probleempie wat sy opwagting maak. Jy bevraagteken God heeltyd, “Waarom?” En jy het nooit enige sterkte, krag, blydskap of hoop nie. God sê vir jou, “Gaan terug na die wildernis! Nee, Ek sal jou nooit verlaat nie. Maar jy gaan nêrens kom nie!”

Jy mag op hierdie stadium beswaar maak, “Hierdie alles is Ou Testament teologie. In die Nuwe Testament behandel God nie Sy kinders so erg nie.”

Maar die skrywer van Hebreërs antwoord, “O ja, Hy doen dit!”

  • “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie... Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 3:12, 4:11).

Ons word gewaarsku om nie in dieselfde ongeloof te verval wat Israel tot ‘n wildernis lewe verdoem het nie: “Jy sal nooit ingaan nie! God sal jou oorgee aan twyfel en ongeloof – en jy sal die res van jou Christelike lewe wandel in die uiterste ellende en ongelukkigheid!” Ongeloof kan ons keer om in te gaan, soos dit met Israel gebeur het.

Ek is so bly dat ek nie in Moses se skoene gestaan het gedurende daardie veertig jaar in die wildernis, terwyl hy daardie deurmekaarspul van ‘n gemeente gelei het nie! Hoe sou jy daarvan jou om ‘n herder te wees wat deur God gesê is, “Moenie meer geloof aan jou mense verkondig nie. Dit sal nie help nie! Hulle is verhard in hulle ongeloof, vas in hulle twyfel, gewoonte-murmureerders. Ek gaan hulle verdra – maar hulle gaan hulle dae uitleef in ellende terwyl hulle in sirkels beweeg. Jy het veertig jaar van ongelukkige begrafnisse voor jou!”

Selfs Moses moes leer: God se barmhartigheid, vergifnis en goedertierenheid kan nie die gevolge van diepgaande ongeloof uitwis nie! Ongeloof breek elke belofte van God. Dit sluit jou uit die volheid van Christus uit, uit alle hoop. En dit dryf jou in ‘n droë wildernis in!

Ek glo oorgrote meerderheid van Christene tree nooit in die rustige lewe van Christus se volheid in nie. Hulle bring al hulle dae deur gered, maar ongelukkig! Hulle beleef nie die blydskap van oorwinnings wat deur geloof gewen is nie; hulle ken nooit ‘n lewe vry van aanhoudende bekommernis nie; hulle geniet nooit die vrede en blydskap wat kom na diegene wat alles in die Here se hande toevertrou nie. Slegs ‘n paar Josua’s en Kalebs tree ooit deur geloof in daardie oorvloedige lewe in!

Hier is nog ‘n belangrike les wat ons uit Israel se ervaring moet leer.

Ons moet baie versigtig wees met wat ons voor die Here sê wanneer ons moeilikheid teëkom!

Hoe gevaarlik is dit om twyfel voor ander uit te spreek! Die Skrif sê dat die tien verspieders wat “’n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe deur ‘n plaag voor die aangesig van die Here” (Númeri 14:37).

En wat het gebeur met die murmerende vergadering gebeur? Wat van almal wat uitgeroep het, “Waarom God sou ons in hierdie land inbring net om ons deur die swaard te laat sterf? Hy moes ons liewer in die woestyn laat sterf het”?

Die Here het hulle geantwoord: “Reg so, julle sal in die woestyn sterwe.”

  • “So waar as Ek leef, spreek die Here, waarlik, soos julle voor my ore gepreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes...van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het” (Númeri 14:28-29).

Dit mag vir jou soos harde woorde klink. Jy mag moontlik dink, “Maar die Israeliete was net menslik! Hulle was ontwortel uit die land, het heen en weer getrek, terwyl hulle oor hulle kinders bekommerd was. Hulle vrees was net menslik – maar hulle reaksie was net natuurlik. God sal dit sekerlik verstaan.”

Nee! God soek nie “net menslike” reaksies nie – Hy soek geloofsreaksies! Hy soek ‘n volk wat sal sê, “Ek glo God se Woord – en ek glo Hy is baie meer as ek oor my familie begaan! Ek sal nie in vrees optree nie, want Hy is getrou om my deur hierdie moeilike tye te dra. Selfs siekte en dood kan my nie van Sy liefde en sorg vir my skei nie.”

  • “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). “Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereining van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Hebreërs 10:22).

As ons dit gaan maak in hierdie laaste dae, moet ons sterk wees in geloof – en ons geloof moet slegs in God se Woord gegrond wees!

Satan se strategie is om jou te laat twyfel in die werklikheid van Jesus! Hy sal alles in sy vermoë doen om jou te laat twyfel dat God met jou in alle dinge is. Satan het vier-en-sewendtig hoogs opgeleide teoloë aangestel om twyfel te laat ontstaan oor die goddelikheid van Christus. Hierdie groep word genoem die “Jesus Seminaar,” en hulle is veronderstel om onder die top Bybelkenners in Amerika te wees. Hulle vergader twee keer per jaar om te stem oor watter woorde van Jesus vals en watter eg is. So ver, het hulle gestem dat amper al Sy woorde mites is – vals! 

Revisionisme is die teologiese mode van die dag. Drie onlangs gepubliseerde boeke maak aanspraak op die volgende betreffende Jesus:

  • Hy was ‘n lae-stand ongeletterde.
  • Hy het nie verlossing van sonde deur Sy offer verkondig nie.
  • Het het nooit die Bergpredikasie gelewer nie.
  • Hy het nooit die kreupeles genees, siektes gesond gemaak of ‘n wonderwerk verrig nie.
  • Daar was geen brode en visse nie. Daar was geen water wat in wyn verander het nie, geen opwekking van Lasarus nie.
  • Daar was geen Kruisiging of Opstanding nie. In plaas daarvan, was Sy liggaam opgevreet deur wilde honde.
  • Daar was geen maagdelike geboorte nie. Alle verhale van Sy lewe is mites.
  • Die aanbidding van Christus is alles propaganda.

Sulke grootpratery duur al vir eeue lank. Maar teoloë kom nou eers af van hulle ivoortorings om dit te propageer.

Een evangelistiese kenner het gereageer, “Hierdie mans probeer om Jesus en die evangelies te dekonstrueer. Maar hulle kan nie ‘n geloofwaardige verduideliking gee waarom mense deur die eeue heen gereed was om vir Hom te sterf nie.” Hy is reg – daardie soort toewyding word nie gegee aan ‘n man wat deur die honde opgevreet is nie. Dit word gereserveer vir Een wat opgewek is en in die hemel gekroon is!

Hierdie blinde kenners is lagwekkend; ek dink nie hulle kan selfs ‘n fladdering in die Here se hart veroorsaak nie. Wat wel die Here se hart beïnvloed en hom kwaad maak, is die ongeloof van diegene wat daarop aanspraak maak om aan Hom toegewyd te wees!

Laat die Jesus Seminaar maar God spot; laat eenmiljoen homoseksuele deur die strate paradeer en Sy naam laster. Ek dink nie dit is wat die Here die meeste aanstoot gee nie. In teendeel, in Sy gemoed is hulle niks in vergelyking met die bekommernis en murmurering van Sy eie mense nie! Wat God die meeste aanstoot gee, is ongeloof!

Alles wat God se Gees onstel, is in Sy kerk – omdat dit is waar sy belange is! God is bekommerd dat sy mense in hulle geloof geskud word, dat hulle Hom nie in hulle krisis vertrou nie. Geliefde, ons ergste sonde is ons onwilligheid om te glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Dit gee Hom meer aanstoot as owerspel, hoerery, dwelms, alkohol of alle ander vleeslike sondes.

Sy Woord sê,

  • “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos” (2 Petrus 2:9). “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Hierdie verse is óf die evangelie óf dit is ‘n leuens. As dit die evangelie is, dan moet ons daarop staan. God wil hê dat ons in staat moet wees om te kan sê, “Here, as ek sterf terwyl ek hier staan en U vertrou om my deur te dra, laat my dan in geloof sterf. Lewe of dood, ek is U s’n!”

Laat al die winde en golwe van die hel na jou toe aankom. Laat alles na jou toe aankom. Ons God het gesê Hy kan – en Hy weet hoe om jou te verlos.

Hy het bedoel dat jy en ek alle blydskap, vrede, oorwinning en rus in ons wandel met Hom sal hê. Hy soek manne en vroue wat sal opstaan teen die dinge wat in hierdie duistere eeu gaan gebeur  – dienaars wat met ‘n kalmte en vrede sal staan omdat Christus in hulle woon.

God begeer van harte dat jy op so ‘n plek van vertroue sal kom. Hy wil hê dat jy nooit weer sal vrees nie – maar dat jy waarlik in sy krag en bekwaamheid sal rus. Hy weet hoe om jou van alle strikke, beproewings en versoekings te verlos –

- as jy Hom maar net sal vertrou.