Geloof Sonder Intimiteit Is Hoegenaamd Nie Geloof Nie!

Ek het nog altyd gewonder oor `n vraag wat Jesus gevra het in Lukas 18:8: "Maar sal die Seun van die mens by Sy koms nog geloof op die aarde vind?" Wat kan die Here hiermee bedoel? As ek vandag in die kerk van Jesus Christus om my rond kyk, dan dink ek nie dat daar al `n generasie was wat so gefokus is op geloof soos ons generasie nie.

Dit blyk dat almal besig is om oor geloof te gesels. Preke oor die onderwerp is volop. Seminare en konferensies oor geloof word reg oor die land gehou. Boeke oor die onderwerp staan in rye op die rakke van die Christelike boekwinkels. Menigte Christene stroom na vergaderings om onderskraag en bemoedig te word deur die boodskap van geloof.

Vandag is daar geloofspredikers, geloofsonderwysers, geloofsbewegings, selfs geloofskerke. Dit is duidelik dat as daar een tipe van vak is waarin daar gespesialiseer word in die kerk vandag, dan is dit geloof.

Tog is dit jammer: Wat die meeste mense vandag as geloof beskou, is geensins geloof nie. Om die waarheid te sê, God sal baie van dit wat geloof genoem word en beoefen word, verwerp. Hy wil dit dood eenvoudig nie aanvaar nie. Hoekom nie? Want dit is korrupte geloof.

Baie predikers van vandag, vermenslik die onderwerp van geloof. Hulle beskryf geloof asof dit slegs daar is vir persoonlike voordeel of om eie behoeftes te bevredig. Ek het sommige pastore al hoor verklaar, "Geloof is nie om vir God te vra wat jy nodig het nie. Dit gaan daaroor om Hom te vra om al jou drome te vervul. As jy dit kan droom kan jy dit kry."

Die geloof wat hierdie mense verkondig is aardsgebonde, gewortel in hierdie wêreld en is materialisties. Dit moedig gelowiges aan om te bid, "Here seën my, begunstig my, gee vir my." Die behoeftes van `n verlore wêreld word nie oorweeg nie.

Ek kan nie dit sterk genoeg stel nie: hierdie tipe geloof is nie wat God vir ons begeer nie. Dit kan nie oor voordeel gaan sonder goddelikheid nie.

Daar is `n spesifieke, gevaarlike leerstelling van geloof wat vandag voorgestaan word. Dit beweer dat die goddelikste gelowiges hulle is, wat hulle "geloof uitgeoefen het" om `n gerieflike lewe vir hulle self te verkry. Volgens hierdie leerstelling, is dit juis hierdie mense wat ons moet nastreef, hulle wat die grootste, duurste karre ry en wat die grootste, oordadigste huise het.

Dit is absolute kettery. As dit so was, dan sou die heiligste gelowiges diegene gewees het wat ander finansieel uitgebuit het. Dit sou beteken dat ons daaglikse fokus gevestig is om op alle maniere net vir ons eie gewin te werk. Dit is dood eenvoudig nie die evangelie van Jesus Christus nie.

Tog is my fokus in hierdie boodskap nie op voorspoed predikers of leerstellings van persoonlike voordeel nie. Dit is op hulle wat Jesus werklik liefhet en wat in Sy geloof wil lewe en Hom wil behaag. My boodskap aan elke gelowige wat so glo, is dit: alle ware geloof word gebore uit intimiteit met Christus. Om die waarheid te sê, as ons geloof nie kom van so `n intimiteit nie, dan is dit hoegenaamd geen geloof in die oë van die Here nie.

Soos ons Hebreërs 11 lees, vind ons `n enkele gemeenskaplike aanduiding van die lewens van die genoemde mense. Elkeen het `n besondere karaktertrek wat die tipe geloof, wat God liefhet, aandui. Wat was hierdie element? Hulle geloof was gebore uit `n diepe intimiteit met die Here.

Inderdaad, dit is onmoontlik om `n geloof te hê wat God tevrede stel, indien dit nie intiemiteit met Hom insluit nie. Wat bedoel ek met intimiteit? Ek praat van `n nabyheid aan die Here wat kom uit `n verlange na Hom. Hierdie tipe van intimiteit is `n noue, persoonlike band, `n gemeenskap. Dit kom wanneer ons begeerte na die Here meer is as enige iets anders in die lewe.

Kom ons kyk na net vier voorbeelde van diensknegte in Hebreërs 11 wat met geloof gevul was en wat naby aan God gewandel het:

1. Ons eerste voorbeeld is Abel. Die Skrif verklaar, "Omdat Abel geglo het, het hy `n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy `n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur die selfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood" (Hebreërs 11:4).

Ek wil sekere belangrike punte in hierdie vers uitlig. Eerstens, God self het getuig oor Abel se geskenke of offers. (Neem kennis dat daar meer as een offer was. Abel het duidelik offerande aan die Here geoffer op `n gereelde basis.)

Tweedens, Abel moes `n altaar vir die Here bou, waarheen hy sy offerande kon neem. En hy het nie alleen onbevlekte lammers geoffer as offerande nie, maar ook die vet van die lammers. Die Skrif vertel vir ons, "Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet."

Wat stel die vet hier voor? Die boek Levitikus sê die volgende oor die vet, "Dit is voedsel, dit is `n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. Al die vet is die Here s'n" (Levitikus 3:16). Kortliks, die vet is voedsel vir God.

U sien, die vet was deel van die offer wat veroorsaak het dat `n soet aroma opgestyg het. Hierdie deel van die dier het gou vlam gevat en was deur die vlamme verteer wat dan die soet reuk veroorsaak het. Die Here het van die vet gesê, "dit is `n vaste voorskrif vir julle nageslag, waar julle ook al woon: julle mag geen vet of bloed eet nie" (Levitikus 3:17). Die vet is die Here s'n.

Die vet hier dien as `n soort gebed of gemeenskap wat aanvaarbaar is vir die Here. Dit verteenwoordig ons bediening aan die Here in ons geheime binnekamers van gebed. En die Here self verklaar dat sulke intieme aanbidding oprys na Hom soos `n soet, welriekende geur.

Die Bybel se eerste vermelding van hierdie soort van aanbidding is deur Abel. Abel het toegelaat dat die offer en die vet deur die vuur op die altaar van die Here verteer word. Dit beteken dat hy in God se teenwoordigheid gewag het totdat sy offer opgerys het na die hemel.

Dit is hoekom Abel gelys word in Hebreërs 11 se geloofssaal. Hy is die tipe dienskneg wat in gemeenskap met die Here was, wat aan Hom die beste van alles wat hy gehad het, geoffer het.

Soos Hebreërs verklaar, leef Abel se voorbeeld vandag voort as `n getuienis van ware, lewende geloof: "deur die selfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood" (Hebreërs 11:4).

Hoe het Abel so `n geloof verkry? Dink aan die besondere gesprekke tussen sy ouers, Adam en Eva, wat hierdie jong man gehoor het. Die paartjie het verseker gepraat oor hulle dae in die tuin met die Here. Verseker het hulle die wonderlike tye van gemeenskap met die Here genoem, terwyl hulle met Hom gewandel en gesels het gedurende die koel tyd van die dag.

Dink net wat het deur Abel se kop gegaan toe hy hierdie stories gehoor het. Hy het waarskynlik gedink, "Hoe wonderlik moes dit nie gewees het nie. My vader en moeder het `n lewende verhouding met die Skepper self gehad."

Soos wat Abel dit oordink het, moes hy `n besluit gemaak het in sy hart: hy het besluit dat hy nie net deur sy ouers se geskiedenis sou leef nie. Hy sou nie vir tradisie skik wat aan hom oorgelewer is nie. Hy moes sy eie aanraking van God hê.

Kon dit wees dat Abel vir homself gesê het, "Ek wil niks meer hoor van vorige ondervindinge met die Here nie. Ek wil Hom nou ken, vir myself, vandag. Ek wil `n verhouding met Hom hê, ek wil kameraadskap en sielsgemeenskap met Hom hê."

Dit is die tipe van "vet" wat ons elke dag aan God moet offer. Soos Abel moet ons Hom die beste van ons tyd gee in ons geheime binnekamer van aanbidding. En ons moet voldoende tyd daar spandeer, in Sy teenwoordigheid, Hom toelaat om ons offers van intieme aanbidding en gemeenskap te verteer.

Nou, vergelyk Abel se offer met dié van sy broer, Kain. Kain het vrugte na die Here gebring, `n offer wat geen altaar benodig nie. Daar was geen vet nie, geen olie, niks om verbrand te word nie. As gevolg daarvan was daar geen soet aroma wat kon opstyg hemel toe nie.

Met ander woorde, daar was geen intimiteit teenwoordig nie, geen persoonlike wisseling tussen Kain en die Here nie. U sien, Kain het `n offer gebring wat nie vereis het dat hy in God se teenwoordigheid hoef te vertoef het of met Hom gemeenskap hoef te soek nie. Dit is waarom die Skrif sê dat Abel se offer "beter" was as Kain se offer.

Moet nou nie `n fout maak nie: God het die offer van Kain wat na Hom gebring is geëer. Maar die Here kyk na die hart, en hy weet dat Kain nie gesmag het om in Sy teenwoordigheid te wees nie. Dit was duidelik in die offergawe wat Kain gekies het.

Na my mening, verteenwoordig Kain menigte Christene van vandag. Sulke gelowiges gaan elke week kerk toe, aanbid God en vra vir Sy seën en voorspoed. Maar hulle het geen behoefte aan intimiteit met die Here nie. Hulle wil dat hulle hemelse Vader hulle gebede verhoor, maar hulle wil nie `n verhouding met Hom hê nie. Hulle soek nie Sy aangesig nie, verlang nie na sy nabyheid nie, en smag nie na sy gemeenskap nie. Soos Kain, het hulle eenvoudig geen behoefte om in Sy teenwoordigheid stil te staan nie.

In teenstelling, soek die intieme, getroue dienskneg na God se aanraking in sy lewe. Soos Abel, sal hy vir niks minder skik nie. Die dienskneg sê vir homself, "ek is vasbeslote om aan die Here al die tyd in gemeenskap met Hom te gee wat Hy van my verlang. Ek verlang om Sy stil, sagte stem met my te hoor praat. So, ek gaan in sy teenwoordigheid bly totdat Hy my sê dat Hy tevrede is."

2. Henog het ook hegte gemeenskap met die Here geniet. Om die waarheid te sê, sy gemeenskap met God was so intiem, dat die Here hom in glorie ten hemele laat vaar het lank voor sy lewe op aarde sou geëindig het. "Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou" (Hebreërs 11:5).

Waarom het die Here gekies om Henog weg te neem? Die openingswoorde van hierdie vers stel dit duidelik: dit was as gevolg van sy geloof. Te meer, die laaste deel van die vers verduidelik aan ons dat Henog geleef het soos God dit wou. Die Griekse werkwoord vir tevrede beteken hier, ten volle verenig, totaal in stemming, in totale eenheid. Kortliks, Henog het die hegste gemeenskap moontlik, wat enige menslike wese kon geniet, met die Here gehad. En hierdie intieme gemeenskap het God verheug.

Die Bybel vertel ons dat Henog met die Here begin wandel het na sy seun Matusalag se verwekking. Henog was toe vyf en sestig. Hy het toe die volgende drie honderd jaar gewy aan intieme gemeenskap met God. Hebreërs maak dit duidelik dat Henog so in voeling met die Vader was, so naby aan hom was in uurlikse gemeenskap, dat God besluit het om hom huis toe te bring na Homself toe. Die Here het in wese aan Henog gesê, "Ek kan jou in die vlees nie verder neem nie. Om My intimiteit met jou te verhoog, moet ek jou na My sy toe bring." So het Hy Henog na glorie toe weggevoer.

Volgens die Skrif is dit Henog se intimiteit wat God so verheug het. So ver ons kennis strek, het hierdie man nooit enige wonderwerke verrig nie, nooit `n diepsinnige teologie ontwikkel nie, nooit enige noemenswaardige werke gedoen wat in die Skrif genoem word nie. In plaas daarvan, lees ons hierdie eenvoudige verwysing na hierdie gelowige man se lewe: "geleef het soos God dit wou."

Henog het intieme gemeenskap met die Vader gehad. En sy lewe is nog steeds `n getuienis van wat bedoel word om waarlik in geloof te wandel.

3. Ons volgende voorbeeld van `n intieme pad van geloof met God is Noag. Hebreërs vertel ons, "Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was `n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van vryspraak wat deur die geloof kom" (Hebreërs 11:7).

Soos ons hierdie man se storie in Genesis lees, ontdek ons dat ". Noag is deur die Here begenadig" (Genesis 6:8). Die volgende vers vertel ons hoe hy hierdie seën ontvang het: "Noag was `n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef" (6:9). Noag het duidelik God se stem geken. Wanneer die Here ook al met hom gepraat het, het hy geluister. Oor en oor lees ons, "Toe sê God vir Noag" en "Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het" (sien 6:13, 22; 7:1, 8:15, 18).

Probeer om uself in te dink hoeveel tyd Noag by God moes spandeer het. Per slot van rekening, hy moes gedetailleerde instruksies vanaf die Here ontvang oor hoe om die ark te bou. Tog, Noag se intimiteit met God het verder as die opdragte wat hy ontvang het, gestrek. Die Skrif sê dat die Here sy hart met Noag gedeel het, en hom die boosheid van die menslike hart gewys het. En Hy het aan Noag Sy planne vir die toekoms van die mensdom bekend gemaak.

4. Abraham het ook `n intieme gemeenskap met die Here gedeel. Dink aan die manier wat God self sy verhouding met hierdie man beskryf: "Abraham vir wie Ek lief het" (Jesaja 41:8). Net so, vertel die Nuwe Testament aan ons, "Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek, en hy is `n vriend van God genoem" (Jakobus 2:23).

Wat `n wonderlike getuigskrif om die vriend van God genoem te word. Die meeste Christene het die welbekende gesang al gesing, "Wat `n vriend het ons in Jesus." Hierdie Bybelse uittreksels bring die waarheid met krag tuis. Vir die Skepper van die heelal om `n mens Sy vriend te hoor noem, blyk buite ons menslike begrip te wees. Tog het dit met Abraham gebeur. Dit is `n teken van hierdie man se groot intimiteit met God.

Die Hebreeuse woord wat Jesaja hier gebruik vir vriend beteken liefde en nabyheid. En in Grieks, beteken Jakobus se woord vir vriend `n kosbare, intieme metgesel. Albei impliseer `n diep, gedeelde intimiteit.

Hoe nader ons groei aan die Here, hoe groter word ons begeerte om heeltemal in Sy teenwoordigheid te lewe. Verder begin ons om duideliker te sien dat Jesus die enigste ware fondament is.

Die Bybel vertel ons dat Abraham uitgesien het ". na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is" (Hebreërs 11:10). Vir Abraham was niks in sy lewe permanent nie. Die Skrif sê die wêreld was `n "vreemde plek" vir hom. Dit was nie `n plek om in wortel te skiet nie.

Tog was Abraham nie `n mistikus nie. Hy was nie `n vroom persoon wat met heilige kennis te koop geloop het en in `n geestelike waas beweeg het nie. Hierdie man het `n aardse lewe gelei, nou betrokke by wêreldsake. Per slot van rekening, hy was die eienaar van duisende stuks vee. En hy het genoeg bediendes gehad om `n klein burgermag saam te stel. Abraham moes `n besige man gewees het om sy diensknegte te bestuur en die koop en verkoop van sy beeste, skape en bokke te hanteer.

Tog, ten spyte van sy baie besigheidstransaksies en verantwoordelikhede, het Abraham op een of ander manier nog tyd gevind vir intimiteit met die Here. En omdat hy naby aan God gewandel het, het hy meer en meer ontevrede met hierdie wêreld geword. Abraham was ryk en voorspoedig, met baie goeie dinge om hom mee besig te hou. Tog kon niks in sy lewe sy aandag aftrek van sy hunkering na die hemelse land wat voorlê nie. Elke dag het hy meer en meer gehunker om nader aan daardie beter plek te wees.

Die hemelse land waarna Abraham gesmag het, is nie `n letterlike plek nie. Dit is eerder om tuis te wees by die Vader. U sien, die Hebreeuse woord vir hierdie frase "hemelse land" is Pater. Dit kom van die werkwoord wat beteken Vader. So, die hemelse land wat Abraham soek was letterlik, `n plek by die Vader.

Wat beteken dit vir ons vandag? Dit beteken dat om aan te beweeg na daardie hemelse land, nie net oor die verkryging van die hemel eendag in die toekoms is nie. Dit gaan omtrent die daaglikse verlange om die Vader se teenwoordigheid nou reeds te ervaar.

Hebreërs vertel ons dat al vier die mans wat ek genoem het - Abel, Henog, Noag en Abraham - gesterf het in geloof (sien Hebreërs 11). Elke man was los van die gees van sy ouderdom. En elkeen het gesoek na `n ander land. Die wêreld was nie hulle tuiste nie.

Tog beteken dit nie dat hulle gewag het totdat hulle hemel toe gegaan het om nabyheid met die Here te geniet nie. Die teenoorgestelde is waar: as pelgrims wat deur hierdie lewe reis, het hulle aanhoudend die nabyheid van God gesoek. Niks op aarde kon hulle keer om soekend voort te beweeg na `n dieper en hegter nabyheid aan die Vader nie.

Deur hulle getroue voorbeelde, het hierdie manne gesê, "Ek is op soek na `n plek nader aan my Vader. En daardie plek is anderkant dit wat hierdie wêreld my kan bied. Ek koester die menigte geseënde geskenke wat God vir my gegee het in my geliefde familie en goddelike vriende. Niks op aarde kan die liefde wat ek vir hulle het, vervang nie. Maar ek weet daar is selfs `n groter liefde wat by die Vader ervaar kan word."

Hebreërs 11 praat van baie ander wie se intieme pad van geloof die Here verbly het. Met geloof het hierdie diensknegte groot wonderwerke bewerk en baie asemrowende dinge gedoen. En soos ons hulle lewens ondersoek, sien ons dat hulle ook dieselfde gemeenskaplike aanduier gedeel het: hulle het ook die wêreld en sy plesier versaak om naby aan God te loop.

Kan u dieselfde aanspraak maak? Smag u hart na `n hegter pad met die Here? Is daar `n groeiende ontevredenheid in u rakende die dinge van die wêreld? Of is u hart vas aan tydelike dinge?

Markus 4 vertel `n storie van Jesus en sy dissipels in `n boot wat deur `n stormsee rondgeslinger word. Ons sluit by die storie aan waar Christus net die see kalm gemaak het deur `n enkele bevel. Nou draai Hy na die dissipels en vra, "Toe sê hy vir hulle: 'waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?'" (Markus 4:40).

U mag dink dat dit kras klink. Dit was menslik om in so `n geweldige storm te vrees. Maar Jesus het hulle nie berispe om daardie rede nie. Hy het eerder aan hulle gesê, "Na al hierdie tyd saam met My, ken julle My nog steeds nie. Hoe kon julle so lank saam met My geloop het en My nie intiem leer ken het nie?"

Inderdaad, die dissipels was verbaas oor die voortreflike wonderwerk wat Jesus nou net gedoen het. Die Skrif sê, "Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: 'Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?"(4:41).

Kan u dit dink? Jesus se eie dissipels het Hom nie geken nie. Hy het elkeen van hierdie manne self geroep om Hom te volg. En hulle het langs Hom die evangelie aan menigtes verkondig. Hulle het wonderwerke van genesing verrig, en massas honger mense gevoed. Maar hulle was steeds in die duister oor wie hulle Meester eintlik werklik was.

Dit is tragies, maar dieselfde is waar vandag. Menigtes van Christene het al in die boot saam met Jesus gery, langs Hom die evangelie verkondig, menigtes in Sy naam bereik. Maar hulle ken nie werklik die Meester nie. Hulle het nog nooit intieme tyd saam met Hom deurgebring nie. Hulle het nog nooit stil by Hom in Sy teenwoordigheid gesit nie, hulle harte aan Hom oopgemaak nie, gewag en geluister om te verstaan wat Hy vir hulle wil sê nie.

Ons sien `n ander toneel rakende die dissipels se geloof in Lukas 17. Die dissipels kom na Jesus en vra, "Gee ons meer geloof" (Lukas 17:5).

Baie Christene vandag vra die selfde vraag: "Hoe kan ek geloof ontvang?" maar hulle soek nie die Here self vir die antwoord nie. In plaas daarvan, haas hulle hul na seminare wat sê hulle leer gelowiges hoe om hulle geloof te vermeerder. Of hulle koop stapels boeke wat 10 vinnige stappe bied om geloof te vermeerder. Of hulle reis honderde kilometers ver om te luister na lesings oor geloof deur prominente evangeliste en leeraars.

Ek kan u sonder twyfel sê dat u nooit werklik u geloof sal vermeerder op enige van hierdie wyses nie. As u vermeerderde geloof wil hê, dan moet u dieselfde ding doen wat Jesus in hierdie paragraaf vir Sy dissipels gesê het om te doen. Hoe het Hy hulle versoek vir geloof hanteer? "Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink" (17:8).

Jesus het in wese gesê, "trek aan julle kleed van geduld. Kom dan na My tafel en eet saam met My. Ek wil dat julle My daar voed. Julle werk vir My met blydskap heeldag lank. Nou wil Ek dat julle met My gemeenskap hê. Sit hier by My, maak julle harte oop en leer van My. Daar is so baie dinge wat Ek in julle lewens wil spreek."

Moenie langer tervrede wees met teologiese argumente rakende geloof nie. Moenie na nog meer maniere om dit te verkry, soek nie. Gaan net saam met Jesus en laat Hom in u hart spreek. Ware geloof word gebore in die geheime binnekamer van intieme gebed. So, gaan na Jesus en leer van Hom. As u kwaliteit tyd in Sy teenwoordigheid spandeer, sal geloof verseker kom. Hy sal geboorte gee aan geloof in u siel soos u dit nog nooit van tevore geken het nie. Glo my, wanneer u Sy stil, sagte stem hoor praat, sal geloof in u ontplof.

Daardie plek, daardie stad, is in Christus deur geloof. Die rus waarna ons vaders gesmag het word in Hom gevind. Ons het vandag die belofte ontvang wat hulle slegs kon vooruitsien en deur geloof omhels.

Jesus sê, "Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van My koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly" (Johannes 8:56). Abraham het `n dag voorsien dat Christus aarde toe sou kom en die fondasie bou wat hy deur sy geestesoë kon sien. En die patriarg het hom verbly omdat hy geweet het dat geseënde mense in daardie dag sou leef. Hy het geweet dat hulle onbelemmerde toegang tot hemelse gesprekke en gemeenskap met God sou hê.

Vandag, inteendeel, mis baie Christene hierdie belofte geheel en al. In plaas daarvan leef hulle in onnodige verwarring. Hulle skarrel hier en daar, probeer om `n geloof op te wek wat "resultate toon." Hulle word gereeld gevang tussen `n vlaag van aktiwiteite, doen dinge vir God wat op die ou einde net `n las is. Hulle rus nooit ten volle in Christus nie. Hoekom? Hulle sluit hulle self dood eenvoudig nie toe saam met die Here nie en spandeer nie stiltetyd alleen saam met Hom nie.

As jy verlief is op iemand, dan wil jy in daardie persoon se teenwoordigheid wees. Julle wil beide julle self deel met mekaar, julle wil julle harte vir mekaar oopmaak en intiem raak. Dieselfde is waar van ons verhouding met Jesus. As ons Hom liefhet, moet ons aanmekaar dink, "ek wil by my Here wees. Ek wil Sy teenwoordigheid geniet. So, ek gaan Hom nader trek en wag in sy teenwoordigheid totdat ek weet Hy is tevrede. Ek sal bly totdat ek Hom hoor sê, "Gaan nou, en verbly jou in My liefde."

In hierdie dae, het ek die Here se stil, sagte stem iets aan my hoor fluister in my tye van gebed saam met Hom. Hy sê, "David, moet asseblief nie nou al gaan nie. Bly by My. Daar is so min wat met My gemeenskap het, so min wat My liefhet, so min wat bly om te hoor wat Ek in my hart het. En Ek het so baie om te deel." Dit is amper `n uitroep, `n pleidooi wat ek in Sy stem hoor.

Dan sê die Here aan my, "Laat Ek jou wys waar ek jou geloof vind, David. Ek vind dit wanneer jy na My toe kom. Dit is in jou wag op My en jou bediening aan My, totdat jy hoor en weet wat op My hart is."

"Jou geloof is in jou groeiende behoefte om in My teenwoordigheid te kom. Dit is in jou uitsien na ons volgende tyd saam. Dit is in daardie gewaarwording, dat deur alleen by My te wees die vreugde van jou lewe is, wat jy ontwikkel het."

"Dit is nie meer vir jou werk om nader aan My te kom nie, nie meer `n moeilike taak nie. Nou sien jy heeldag uit daarna. Jy weet dat wanneer jou werk gedoen is, jy na My toe gaan kom, om My te voed en gemeenskap met My te hê."

Dit is ware geloof.