Ek Sal Jou Rus Gee

God se Geneesmiddel vir Veroordeling, Skuld en Vrees
David Wilkerson

God het aan Sy mense ‘n heerlike, onbegryplike rus beloof wat vrede en versekering vir die siel insluit. Die Here het hierdie wonderlike rus vir die kinders van Israel aangebied. Dit het ‘n lewe vol blydskap en oorwinning – ‘n lewe sonder vrees, skuld of veroordeling – beteken. Maar tot by die tyd van Christus, het geen gelowige geslag ooit ten volle in hierdie geseënde belofte gewandel nie. Soos die Bybel dit baie duidelik maak, hulle het dit nooit ontvang nie, weens hulle ongeloof!

“...dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:19).

Weens hulle ongeloof, het God se volk deur die lewe gegaan vol ellende, twyfel, vrees en rusteloosheid. Hulle het beloofde rus misgeloop tydens die tydperk van die konings en profete. God het dit ook aangebied in Dawid se geslag, maar hulle het ook nie daar ingegaan nie. In elke geslag was dit geweier – noot toegeëien nie, nooit begryp nie.

Dit is waarom, wanneer ons Hebreërs 4 lees, hierdie heerlike lewe van geloof steeds onopgeëis vind:

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9).

Hierdie gedeelte voeg ook by: “...dat sommige daar ingaan...” (Hebreërs 4:6).

My gebed is dat jy vandag in die rus sal ingaan wat God vir jou het!

Die Bybel vermaan hedendaagse gelowiges met ‘n waarskuwing:

“Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie” (Hebreërs 4:1).

Min gelowiges het in hierdie beloofde rus ingegaan. In teendeel, talle word rondgewaai deur winde en golwe van leerstellings. Derduisende maak daarop aanspraak om met die Gees van God gevul te wees – baie is egter rusteloos, skuldbelas, met geen versekering in Christus nie.

Solank as hierdie Christene omring word deur hulle gelowige vriende en alles goed gaan, kan hulle selvoldaan praat oor om in oorwinning te wandel. Maar wanneer die vyand sy woeste winde van teëspoed oor hulle waai, word hulle geruk en gepluk, met geen krag om te weerstaan nie. Talle word deur versoeking oorweldig. Op die ou end misluk hulle – en daarna word hulle verpletter deur skuld en skande en wonder selfs of hulle gered is. Hulle val heeltemal uitmekaar – uitgewis deur teëspoed!

In sommige kerke word oorwinning gemeet deur manifestasies van die vlees. ‘n Paar jaar gelede het ‘n paartjie ons kerk verlaat omdat, soos hulle dit gestel het, “Julle mense weet nie hoe om te ‘skree’ nie.” Hulle het gesê in hulle vorige kerk het die mense “geskree tydens dienste, dikwels vir drie of vier uur. Die mense het rondgedans en op die toppunt van hulle stemme geskree.

Die probleem was dat hierdie paartjie verslaaf was aan pornografie. Dikwels ná ‘n Sondagoggenddiens, sou hulle die middag in ‘n goedkoop pornografiese teater deurbring. Dan sou hulle terugkom vir die aanddiens om te probeer om hulle skuld “weg te skree” en so hulle gewetes stil te maak. Hulle stand in Chrisus was heeltemal gebaseer op hulle emosies en op ‘n bisarre nosie van werke.

Die feit bly staan, dat baie min gelowiges het enige konsep van wat dit beteken om te rus in hulle verlossing. Hulle besit nie die rotsvaste vrede en versekering wat vir alle Christene beskikbaar is in Jesus Christus, wat hulle deur enige storm kan dra nie. In plaas daarvan, is hulle verlam met pynlike vrees en veroordeling, en hulle gaan van een ekstreem na ‘n ander. Een minuut loop hulle oor van blydskap, is seker van die hemel en getuig vrymoedig. Die volgende oomblik is hulle neerslagtig – moedeloos oor selfs die kleinste mislukking.

Sulke Christene leef volgens voel-goed emosies. Hulle oordeel hulle versekering in Christus deur hoe “goed” hulle kan wees – hoe getrou hulle is om God se Woord te gehoorsaam, of hoeveel oorwinning hulle kan kry deur ontslae te raak van een of ander boesemsonde.

Dit is gedeeltelik waarom so baie Christene op die ou end afvallig raak. Hulle geloof is gewortel en gegrond in gevoelens, eerder as op die ewige Woord van God. Hulle het geen soliede fondament van waarheid om hulle geloof te ondersteun nie. Hulle het nog nooit tyd geneem om die betekenis van die Kruis of Jesus Christus en sy oorwinning te begryp nie.

Ek vra vir jou: Het jy al ooit afvallig geraak? Het jy al ooit koud geword teenoor die Here, opgehou om kerk toe te gaan, jou eie pad wou loop? Laat my vir jou vertel waarom dit gebeur het: Jy het afvallig geword, omdat jy nie ten volle verstaan het hoe om jou siel tot ruste te bring nie! Jy het nooit verstaan wat dit beteken om in Jesus Christus aanvaar te word nie – om op Sy geregtigheid staat te maak en nie jou eie nie.

Jesus het gesê, “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jule sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Christus sê vir ons baie eenvoudig: “Moenie probeer om saam met My ‘n pad te stap as jy nie rus in jou siel het nie!”

As jy nie hierdie rus het nie – hierdie wonderlike vertroue in wat die Woord van God sê Jesus vir jou gedoen het nie – sal Sy juk nie sag of lig wees nie. In teendeel, jy sal jou tyd deurbring om in die vlees te streef om God te behaag. Jy sal van warm na koud gaan – en in onnodige skuld en skande leef!

Ek glo die sleutel lê in hierdie woorde: “Leer van My!”

Jesus praat hier van die dissipline van leer wie Hy is en wat Hy aan die Kruis bewerkstellig het. Hy sê in wese, “Jy moet kennis dra van wat Ek vir jou gedoen het. Dan, wanneer jou siel tot ruste gekom het, kan jy My juk op jou neem. So, leer van My!”

Ons wil egter nie hierdie soort dissipline hê nie. Ons wil dit op die maklike manier hê! Ons is soos skoolkinders wat op die speelgronde wil bly eerder as om terug te gaan klaskamer toe. Ons sal jarelank onsself dissiplineer om te leer om ‘n dokter, ‘n verpleegter, ‘n bedienaar, ‘n onderwyser te word. Ons weet enige loopbaan of roeping vereis baie studie en moeite. Maar wanneer dit daarby kom om Jesus te dien, dan kies ons om leë doppe te wees! Ons volg Hom as geestelike domkoppe.

Miskien getuig jy vandag, “Ek lees nou my Bybel en bid elke dag ‘n bietjie. Ek voer die stryd in my lewe en huis. Ek probeer hard om beter te wees!”

Dierbare heilige, laat my dit vir jou reguit sê: Dit is nie genoeg nie! Nie een van hierdie dinge sal jou deur die komende storm bewaar nie. Dit is nie genoeg om hard te probeer, om beloftes aan God te maak en om te streef en te stry om beter te wees nie. Dit is nie genoeg om te sê, “Ek het meer ywer as voorheen” nie. Nee – dit gaan alles daaroor om ‘n openbaring te soek van wat Jesus vir jou gedoen het aan die Kruis!

Iets behoort in almal van ons uit te roep: “O Jesus, U Woord sê ek kan in algehele rus, vrede en versekering leef. Ek hoef nie in my vlees te streef, of in ‘n op-en-af toestand te leef terwyl ek rondgegooi word deur skuld en vrees nie. U het voor my die belofte van ‘n lewe van rus gestel.

“Maar ek het nie daardie rus nie! My lewe is net die teenoorgestelde – in voortdurende onrus, met geen standhoudende vrede nie, altyd onseker. O Here, ek wil U rus hê! Ek begeer om dit te hê met alles wat binne-in my is. Leer my deur U Gees hoe om in U rus in te gaan!”

Ek weet van slegs een manier om daardie rus te betree. Daar is ‘n waarheid dat – as dit verstaan en toegeëien word – dit jou in die heerlikste vrede en versekering moontlik aan hierdie kant van die hemel sal inlei. Dit is die fundamentele waarheid waarop alle ander gebou word.

Daardie waarheid is die leerstelling van regverdigmaking of vryspraak deur geloof! Dit is die waarheid wat alle aanvalle van onsekerheid beëindig. En dit die een leerstelling wat jy moet verstaan as jy hoop om daardie rus, wat Jesus bied, binne te gaan. Ons moet weet wat dit beteken om regverdig gemaak te wees of vryspraak te kry deur geloof in Jesus se werk!

Ek kan slegs die hooftrekke van sy wonderlike, manjifieke leerstelling aanraak. Ek glo egter God begeer om Sy kerk verder in hierdie goddelike waarheid in te lei – om vir ons fundamentele mag te gee wat ons sal bo hou in die dae wat kom.

Dit is egter jammer, dat wanneer jy die onderwerp van “leerstelling” aan talle Christene noem, dan trek hulle hul neuse op. Hulle sê, “Ek wil glad nie daar die diep, moeilike dinge hoor nie. Gee my net Jesus!” Wat hulle egter bedoel is, “Ek wil nie tyd deurbring of dissipline toepas om te leer wat Jesus aan die Kruis gedoen het nie.”

Te veel Christene raak slegs emosioneel betrokke by die Kruis en bestudeer dit nooit werklik ten volle nie. Ek het al gehoor hoe talle predikers emosionele beroepe doen oor Jesus aan die Kruis – oor Sy slae, die doringkroon op Sy kop, die spykers wat in Sy hande ingeslaan is. Maar ek glo die prediking van die Kruis gaan oor baie meer as dit: Dit gaan oor die oorwinning van die Kruis! Dit gaan oor wat Jesus gedoen het vir die ganse mensdom.

Vir diegene wat begeer om “van Hom te leer” – wat Jesus se wonderlike werk op Gólgota wil verstaan – laat my so eenvoudig as moontlik hierdie konsep van regverdigmaking of vryspraak deur geloof verduidelik:

Twee dinge is betrokke in ons regverdigmaking of vryspraak deur die kruis van Jesus Christus:

*Eerstens, ons het vryspraak van al ons sondes. Toe Jesus na die Kruis gegaan het, het Sy bloed ons vrygespreek van alle skuld en ongeregtigheid.

*Tweedens, ons word deur God as regverdig in Christus aanvaar, deur geloof. Dit beteken God aanvaar ons nie as gevolg van ons werke of enige goeie dade nie, maar op die meriete van wat Jesus alleen aan die Kruis gedoen het.

“Wie sal beskuldig inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak” (Romeine 8:33).

Wanneer ons egter sondig, word ons aangekla deur twee sterk magte. Die eerste is Satan, wat die Bybel die aanklaer noem: “...hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:10).

Op hierdie oomblik, terwyl jy hierdie boodskap lees, staan die duiwel voor die hemelse Vader ek kla jou aan van elke nuwe mislukking, elke herhalende sonde. Hy haal ‘n lys uit van al jou tekortkominge, of dit nou in woord of in daad is en dring by by God aan: “As U heilig is, dan sal U iets hieromtrent doen. As daar enige geregtigheid in U is, sal U hierdie mens oordeel vir sy sonde. U moet hom veroordeel tot dieselfde hel wat U my veroordeel het vir my trots!’

Die meeste van die tyd het die duiwel ‘n goeie argument. Hy het ‘n reg om jou aan te kla omdat jy skuldig is – jy het gesondig, jy was ongehoorsaam. En dit lei tot die tweede sterk mag wat jou aankla: jou eie gewete.

“...terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:15).

Jy staan voor God met jou kop wat laag hang, omdat jy weet jy is uitgevang. Jou gewete gee jou te kenne, “Ek staan skuldig voor God.”

En God ontken nie ons skuld nie, omdat Hy nie kan lieg nie. Hy sien ons nooit as onskuldig nie – omdat ons bloot skuldig voor Hom staan, gevang in die web van sonde. Ons regverdigmaking het niks daarmee te doen dat ons onskuldig is nie. Wanneer God ons vryspreek weens die Kruis, is dit as skuldige wetteloses. Hy skeld ons nie kwyt nie; liewer, Hy vergewe ons – spreek ons vry van ons sondes deur Sy genade en barmhartigheid alleen.

*“Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie” (Jesaja 43:25).

*“...Want U het my sondes agter my rug gewerp” (Jesaja 38:17).

*“...ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:19).

God spreek ons vry wees die bloed van Jesus Christus. En hierdie vryspraak is heeltemal onverdiend. Ons verdien die hel, oordeel en veroordeling – maar Jesus het al ons sondes op Homself geneem by die Kruis en het ons heeltemal vrygespreek.

Verbeel jouself jy staan nou voor God se troon. Daar staan jy sonder enige verskoning, geen alibi nie. Satan is teenwoordig as jou wettige teenstander en hy lees die hele lys aanklagte af – met tye, plekke, gebeure, elke skandelike besonderheid. Hy maak beskuldiging van trots, biddeloosheid, hebsug en ontrouheid. En jou hart veroordeel jou – omdat jy moet erken, “Ja, dit is ek. Ek het dit alles gedoen!”

Dit lyk hopeloos vir jou, Jy weet God se oë is te heilig om na sonde te kyk en Sy geregtigheid vereis dat jy vir jou wandade teen Sy heiligheid betaal. Jy is hulpeloos.

Maar skielik, hier kom jou Prokureur, jou Advokaat. Hy strek Sy hande met spykerletsels na jou toe uit – en jy weet iets is op die punt om te gebeur! Hy glimlag en fluister, “Moenie bang wees nie – nie een van hierdie aanklagte sal standhou nie. Jy sal vry en volkome vrygespreek uit hierdie hofsaal loop. Wanneer Ek klaar is, sal jou aanklaer nie een aanklag teen jou oor hê nie!”

Die beste van alles is, jou Prokureur sê vir jou dat Hy jou aangeneem het! Hy bepleit jou saak as jou Broer. Dan vertel Hy vir jou Hy is die Seun van die Regter – sodat jy nou ook aan die Regter se familie behoort!

Maar daar is steeds die saak van geregtigheid. Wat van die beskuldigings teen jou? Jy luister in absolute verwondering terwyl jou Advokaat jou saak bepleit:

“Regter, U weet dat Ek die wet vervul het en ‘n sondelose lewe gelei het. En toe het Ek hierdie mens se plek ingeneem en al die straf vir sy misdade op My geneem. Deur hierdie hande met spykerletsels en My deurboorde sy, het bloed voortgekom om al sy misdade uit te wis. Al hierdie beskuldigings en aanklagte wat U gehoor het, was op My rug gelaai. En Ek het die straf betaal vir hulle almal.

“Satan, jy het geen gronde om My kind te beskuldig nie. Al sy sondes was op My gelaai, en Ek het dit alles verskoon. Hy is nie skuldig nie – omdat sy geloof in die oorwinning van My offer hom volle, volkome vryspraak gegee het. Jy het geen saak nie!”

Terwyl die duiwel uit God se hofsaal wegsluip, kan jy die geseënde Here hoor uitroep:

“Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak” (Romeine 8:33).

Die eertse deel van regverdigmaking is die vryspraak van ons sondes deur genade – en die tweede deel is ons aanvaarding in God se Geliefde!

Paulus gee vir ons ‘n lys van daardie “onregverdiges” wat “die koninkryk van God nie sal beërwe nie:

“...geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9-10).

Maar dan het die apostel bygevoeg:

“En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Korinthiërs 6:11).

Hoe het hierdie mense, wat uit sulke verskriklike sonde gered is, regverdig voor God geword? Wat het met hulle gebeur, dat hulle nie langer boos was nie, maar liewer, aanvaar is deur God?

Eertste van alles, God is geen aannemer van persoon nie – of ‘n koning, ‘n koningin, ‘n president of eerste minister nie. Hy is glad nie beïndruk deur die eer van ‘n mens nie.

En tweedens, God word nie bekoor deur enige goedheid in ons nie. Lang gebede, vas, tiendes gee, Bybelstudie, welwillende dade – nie een hiervan maak ons regverdig of aanvaarbaar vir God nie. Selfs ons “goeie” vlees – goeie karakter, spraak, gedagtes en dade – is ‘n stank in Sy neus as dit gebruik word as ‘n pleidooi vir ons eie geregtigheid.

Min van ons glo dit blykbaar. Byvoorbeeld: Toe ons aanvanklik tot geloof in Christus gekom het, het ons vertrou dat ons sondes vergewe was. Ons het geglo ons was aanvaar, dat ons alle skuld en vrees kon neerlê. Ons kon sê, “Ek is gered deur geloof alleen in wat Jesus vir my aan die Kruis gedoen het!”

Maar dan, toe ons voortgegaan in ons wandel met Jesus, het nuwe dade van ongehoorsaamheid oor ons pad gekom. Ons was verpletter deur ons sondes en ons het gou ons visie van die Kruis verloor. Ons het probeer om ons geregtigheid uit te werk – om God se guns weer terug te wen – deur die volgende keer harder te probeer. Maar ons lewe het dan ‘n nagmerrie mallemeule rit van sondig en bely, sondig en bely....geword.

Selfs vandag het ons die idee dat wanneer ons sondig of God teleurstel, het ons nodig om Hom tevrede te stel. Ons huil ‘n rivier van trane en beloof, “Ek sal dit nie weer doen nie, Here.” En ons sing daardie ou evangelie liedjie wat ek so verafsku: “Vergewe my, Here, en beproef my nog een keer...”

Ons tree op asof harder probeer in ons vlees ons kan red! Ons dink as ons net hierdie vlees van ons kon verander, sou God tevrede wees. Daarom werk ons heeltyd aan ons ou mens, om hom in fatsoen te kry vir ‘n oorwinnende Christen wandel. Maar dit sal nooit gebeur nie!

Jy sien, toe Jesus na die Kruis gegaan het, het hy ons “ou mens” gekruisig. En daardie ou mens van die vlees was uitgewis in God se oë. In plaas daarvan, was daar net een Man oor – slegs Een waarmee God sal onderhandel – en dit is Sy Seun. Toe Jesus Sy werk op aarde afgehandel het en aan die regterhand van God gaan sit het, het God gesê, “Van nou af erken Ek slegs een Mens, slegs een geregtigheid. En enigeen wat na My toe kom, moet deur Hom kom – My Seun. Almal wat regverdig sou wees, moet Sy geregtigheid aanvaar en geen ander nie!”

Ons word aanvaar in God se oë slegs deur geloof in Christus en Sy werk:

“...waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Efésiërs 1:6).

Sien jy hoe belangrik dit is om in Jesus te bly – om gou na Hom te kom wanneer jy misluk? Jy moet leer om na Hom te hardloop en te roep, “Jesus, ek het U teleurgestel! Ek kan nie dit verstaan nie. Maak nie saak wat ek doen nie, ek kan nooit voor die Vader erken word nie – behalwe as ek na Hom kom in U. My enigste pleidooi is die bloed!”

Sommige Christene mag antwoord, “Maar ek het ‘n hoë prys betaal vir die oorwinning wat ek behaal het. Ek het deur baie pyn en lyding gegaan. Ek het gevas en gebid en swaarkry verduur. En ek het my boesemsonde doodgemaak. Ek het suksesvol al my welluste en sondige begeertes neergelê.

“Maar nou vra U my om al dit weg te gooi en dit as drek te verklaar? Is my stryd om te gehoorsaam niks werd vir God nie? Beskou Hy al my geregtigheid, al my harde werk as ‘n besoedelde kleed?”

Ja! Dit is alles stinkende vlees – en niks daarvan sal standhou voor God nie. Dit maak nie saak wat jy oorwin het nie. Jou geregtigheid sal nooit werk as ‘n middel tot aanvaarding nie. Daar is slegs een geregtigheid – en dit is die geregtigheid van Jesus Christus! Die geregtigheid en oorwinning bereik deur menslike stryd alleen, is tydelik. Mislukking volg gou.

“Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” (Romeine 10:3).

Paulus sê in wese, “Hierdie mense het nie hulle eie werke laat vaar nie. Hulle streef steeds in die vlees om God te behaag!”

Die enigste manier om in God se goeie boekies te kom, is om die waarheid te erken: “Daar is geen goeie ding in my vlees nie, niks goed in my goeie werke om my verlossing te verdien nie. Ek kan nie regverdig word deur enigiets wat ek in my eie krag doen nie. My geregtigheid is in Christus alleen!” Paulus sê van die gawe van geregtigheid:

*“...veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus” (Romeine 5:17).

*“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Korinthiërs 5:21).

*“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Korinthiërs 1:30-31). Die enigste ding waarin ons moet roem, is in Jesus – en Sy groot werk vir ons!

Jeremia het die oorwinning van die Kruis van Christus vooruit gesien. Hy het verkondig:

“In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon: en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” (Jeremia 33:16).

Die profeet het vooruit gekyk na ons tyd – na ‘n liggaam van gelowiges wat in groot versekering van geloof sal wandel. Hy het in wese gesê, “God se Spruit sal binnekort uitspruit. En deur Sy offer, sal ‘n volk opstaan wat in versekering en vrede leef, omdat hulle in staat is om te sê, ‘Die Here is my geregtigheid.’”

Geliefde, regverdigmaking deur geloof is die mees nederigmakende ding in die wêreld. Dit is moeilik om te sien dat God nie ons vlees aanvaar nie – dat ons ons aanhoudende strewinge moet laat vaar en rus in Jesus se gehoorsaamheid. Ons moet inderdaad leer om heeltemal op Christus te vertrou vir alle krag om te gehoorsaam.

Toe Paulus eerste hierdie waarheid geopenbaar het, het dit die kerk geskud. Dit was ontsaglike nuus op daardie tydstip. Sommige teoloë het in werklikheid gereageer, “As ek vrygespreek is – as God so barmhartig is om my vrylik te vergewe deur geloof alleen – laat my dan selfs meer sondig, sodat God dit kan geniet om my meer genade te skenk!”

Maar Paulus het gevra, “...Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?” (Romeine 6:1). Sy antwoord: “Nee, stellig nie!” Daardie mense het nie die evangelie verstaan nie. As gevolg van die Kruis, het God alles oor ons ou vleeslike mens beskou as weggedoen!

Ek glo Paulus het in wese gesê, “Waarom sou enige Christen, nadat hy vrygemaak is van so ‘n dooie man, teruggaan en die lyk opwek? Waarom teruggaan na ‘n lewe van sonde as God versekering en vrede vir jou wil gee – om alle skuld en veroordeling weg te neem? Weens die Kruis, kan jy die Here dien met vreugde en blydskap. En jy kan Hom gehoorsaam deur ‘n nuwe verpligting genaamd liefde.”

“So,” jy vra, “moet ons bloot deur geloof die geregtigheid van Jesus aanneem?” Ja, absoluut! Dit is waaroor die Christen wandel gaan. Dit gaan alles oor om te rus deur geloof in wat Jesus bewerkstellig het!

Die ou mens is dood en die nuwe Mens is Jesus. En as ons ons geloof in Hom plaas, aanvaar God ons ten volle. Hy beskou ons regverdig, aan die boesem van Sy dierbare Seun. So, wanneer jy sondig of misluk, vlug vinnig na jou Prokureur, jou Advokaat. Bely jou mislukking teenoor Hom en rus in Sy geregtigheid.

Jy mag vra, “Maar, het goeie werke nie enige plek in hierdie leerstelling nie?” Natuurlik het dit – maar op hierdie voorwaarde: Goeie werke kan jou nie red nie, jou nie regverdig maak of vryspreek nie en ook nie aanvaarbaar vir God maak nie. Die enigste ding wat jou red, is jou geloof in dit wat Jesus gedoen het!

En wat het Hy gedoen? Hy het jou gered, verskoon en aanvaar in die geliefde – knoppe, sondes, mislukkings en al. God sien jou slegs in Jesus Christus – en dit is waarom ons na ons Verlosser moet kom elke keer wanneer ons val. Die bloed wat ons vergewe en reinig die eerste keer wat na ons Jesus gekom het, is dieselfde bloed wat sal voortgaan om ons te bewaar totdat Hy terugkom.

Saam met hierdie versekering kom ‘n groter verpligting. En dit is, ons moet al ons werke doen nie in ons eie krag of sterkte nie, maar in Syne:

“...want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Romeine 8:13).

Die enigste manier om teen die vlees te veg, is deur die Heilige Gees! Hy alleen het die krag om te verlos:

“...maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra...” (1 Korinthiërs 10:13).

As jy jou aan die Gees onderwerp, sal Hy saam met jou deur elke stryd loop. Hy sal jou toerus met alle krag, wysheid en gesag – alles wat jy nodig het om sonde te beveg!

En wanneer jy besef wat Jesus aan die Kruis bewerkstellig het, sal jy sonde meer haat as ooit tevore. Jy sal begin om Hom te gehoorsaam, tot Hom te bid, met blydskap na Hom te smag – omdat Hy jou gevestig het op die Rots van Sy genade. Dan kan jy sê, “Wie kan my nou beskuldig? Christus het my geregverdig! Ek rus in Hom as my geregtigheid.”

Liewe heilige, bid dat God hierdie kosbare leerstelling ‘n werklikheid maak in jou gees: “Heilige Gees, kom en maak my verstand en hart oop. Ek wil hierdie fundamentele waarheid verstaan en nie paniekerig raak elke keer wat die vyand iets teen my siel bring nie. Help my om nie deur vrees, skuld en veroordeling rondgegooi word nie. Help my liewer om sterk te staan onder die Kruis van my Verlosser – wat vir my die res sal voorsien!”

 “...en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 2:1).

Jy het ‘n Prokureur – so hardloop na Hom. Laat Hom jou saak bepleit. En tree in Sy rus in deur geloof in Sy wonderlike werk vir jou. Amen!