Duiwel, Jy Kan Nie Meer oor My Loop Nie

David Wilkerson

In Jesaja 51, bring die Here ‘n kragtige boodskap aan almal wat geregtigheid najaag. Hy verklaar, “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek!” (Jesaja 51:1). ‘n Paar verse later, noem Hy diegene “wat geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is” (Jesaja 51:7).

Toe Jesaja hierdie boodskap gebring het, was sy onmiddelike gehoor Israel. God rig egter hierdie oproep aan elke toegewyde gelowige vandag. Dit is ‘n woord wat nie net vir natuurlike Israel bedoel is nie, maar vir almal wat die Israel van geloof uitmaak. Hy praat van almal wat Jesus ‘n met groter passie sal volg. In hierdie twee kort verse, vertel Hy vir ons, “Hier het ek ‘n boodskap vir jou in besonder.”

Die Here begin deur sy toehoorders aan te spreek as “ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie” (Jesaja 51:21). Teen die tyd wat Jesaja geprofeteer het, was Israel slawe van Babel. God wou hê sy kosbare mense moes weet dat Hy hulle benarde posisie raakgesien het. So ook spreek Hy vandag met elke Christen wat vasgevang geraak het in een of ander slawerny of binding. Dit maak nie saak of hierdie slawerny fisies of geestelik is nie. God se oog is op elke heilige wat steier onder die gewig van ‘n vreeslike las. En Hy gee vir hulle hierdie woord:

“Moenie vir ‘n oomblik dink dat hierdie las op jou gekom het as gevolg van sonde nie. Jy loop deur onder ‘n direkte aanval van Satan. Die vyand van jou siel het jou beskuldig en geteister. Nou, soos ‘n persoon wat dronk van wyn is, is jy beneweld van die effek. Die duiwel het jou onverhoeds gevang en jy dink jy het dit self veroorsaak. Maar jy moet nou na My luister. Ek wil jou aandag hê, want ek het ‘n woord om met jou te spreek.”

Miskien verduur jy huidiglik ‘n donker nag van die siel. Miskien sit jy op die ashoop van ‘n merkbare mislukking. Of miskien is jy belas met bande van sondige kettings om jou nek. Jy het dit nou al vir so lank gedra, dat jy in wanhoop weggesink het. Jy het die mantel van geregtigheid wat Jesus vir jou gegee het eenkant laat lê, omdat jy onwaardig voel om dit te dra. Jy is eenvoudig te depressief om in geloof voort te gaan.

Ek sê vir jou, God het ‘n boodskap net vir jou. En Hy vra jou om met jou volle aandag daarna te luister: “Daarom hoor dit tog...So sê jou Here, die HERE, en jou God wat die saak van sy volk verdedig; Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand...Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen” (Jesaja 51:21-23).

Die Here sê met ander woorde: “Ek is hier om jou saak te bepleit en om vir jou in te tree. En Ek maak hierdie belofte aan jou: Ek sal die beker van vrees wat jou lewe teister van jou af wegneem. En Ek sal dit plaas in die hande van diegene wat jou verdruk. Ek het genoeg gehad van elke demoon of persoon wat jou verdrukking veroorsaak. Ek sal nie toelaat dat hulle teistering voortduur nie. Ek vertel vir jou jou op hierdie oomblik, dit is alles verby vir jou verdrukkers.” Hy het sy toorn gerig op diegene “wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor kan gaan” (Jesaja 51:23).

Die Here gaan egter voort deur te sê, “En jy moes jou rug maak soos die grond en soos ‘n straat vir die wat daaroor gaan” (Jesaja 51:23). Sien jy die toneel wat  Hy beskryf? Hy sê, “Ja, Ek het gekom om jou te verlos. Maar Ek moet ook die rol wat jy hierin moet speel vir jou aantoon. Jy het in der waarheid toegelaat dat die duiwel met jou kon maak net wat hy wou.

“Eers het Satan jou met sy taktiek oorweldig. Maar in plaas daarvan om hom te weerstaan met my beloftes, het jy voor hom gebuig en gekruip. Jy het gewilliglik jou liggaam in vrees neergelê op die strate van wanhoop. En jy het jouself onderwerp aan sy duiwelse vernederings. Jy het toegelaat dat hy jou gesig in die stof vryf. Jy het hom oor jou laat loop. Jy is totaal geïntimideer deur sy owerhede en magte.”

Baie toegewyde dienaars dra huidiglik laste wat hulle nie veronderstel is om te dra nie. Hulle is neergeslaan deur vrees en moedeloosheid. Hoe reageer die Here hierop? Hy vra, “Wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas... en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster” (Jesaja 52:5).

God is verontwaardig oor wat gebeur. Hy sê, “Wat sien Ek hier? Waarom word my mense so maklik beroof en verneder? Satan slaan hulle neer net soos wat hy wil, hy heers oor hulle, teister hulle en laat hulle ween en huil. En hulle bied geen weerstand teen hom nie. Dit belaster my naam, my majesteit en my krag.”

In sy verbasing, herinner God sy neergeboë mense, “My oorwinning is naby, my heil trek uit” (Jesaja 51:5). Hy sê in wese, “Ek het reeds die woord van jou verlossing gespreek. Ek het dit bepaal in my verbondsbeloftes. Ek het my magtige arm uitgestrek om jou uit jou wildernis ervaring uit te haal. So, waarom het jy nog nie dit wat ek bepaal het toegeëien nie? Waarom leef jy nie in die lig van my vryheid, blydskap en vrede nie?”

God beloof dan, “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere” (Jesaja 51:3). Hy verklaar, “Ek sal jou vertroosting bring. Al wat jy nou kan sien, is mislukking in elke area van jou lewe. Maar dit is op die punt om te verander. Ek gaan jou wildernis in ‘n Eden-agtige tuin verander. Jy is op die punt om my verfrissende oopte van vreugde en blydskap binne te gaan.”

Dit is nie leë, dwase beloftes nie. Dit is aan ons gespreek deur die Almagtige God, wat oor alles heers. Sy gedagtes oor sy mense is ten goede, nie mislukking en ondergang nie. Hy het ons lief en Hy is vasbeslote om ons van alle vrees en depressie te verlos. Maar die Here wil ons wys hoe ons tot so ‘n lae toestand gedaal het. Hy wys daarop, “Jy het voor die boosheid gebuig. Jy het gewillig jou liggaam op die grond voor hom laat lê. En jy het toegelaat dat hy op jou trap.”

Huidiglik is daar talle herders, evangeliste en goddelike lekepredikers wat onder ‘n wolk van vrees lewe. Waarom? Hulle gee Satan vrye toegang om hulle met twyfel te plunder. Week na week leef hulle met die gedagte om die bediening te bedank. Hulle trek die Here in twyfel. Hulle wonder oor sy leiding. Hulle leef sonder enige hoop op ‘n toekoms.

En God staan ongelowig teenoor alles. Hy sê, “Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras?” (Jesaja 51:12). Hy sê, “Waarom vrees julle wat mense aan julle kan doen? Hulle skinderpraatjies kan jou nie seermaak nie. Satan gebruik jou vrees om jou onder slawerny te bring. Tog het ek jou verlossing belowe. Wie is jy om na sy leuens te luister in plaas van na my Woord?”

Die Here voeg by, “Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie” (Jesaja 51:7). Met ander woorde: “Waarom meet julle julself aan ander se konsepte van sukses of mislukking? Ek gee jou beloftes van ewigheid. Maar julle het smaad op julself gebring. Julle het op die grond gaan lê as ‘n keisteen vir die vyand om op te trap.”

Ten slotte sê God, “dat jy gedurigdeur die hele dag bewe” (Jesaja 51:13). Hy beskryf gelowiges wat slagoffers word van morbiede introspeksie. Dawid het herken, “Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart” (Psalm 38:9). Dawid het geweet dat hy net by sy onrus bygedra het deur sy eie vreesagtige wroeging.

So, waar kom jou vrees vandaan? Waarom is jy so diep ontmoedig? Bly jy eindeloos in jou lae toestand?

Talle eens ywerige herders het die bediening verlaat. En baie ander is op die randjie van bedanking. Hulle het in maande nie ‘n goeie dag gesien nie. Hulle vrouens het toegekyk hoe hulle in onrus en wanhoop wroeg en nog verder beswaard geword het. Hulle was bang dat hulle mans hulle werk, huis en stabiliteit sou verloor. Sommige was selfs bang dat hulle eggenoot aan die lewe sou wanhoop. Daarom het hulle alleen en wanhopig hul eie stryd met mismoedigheid gestry.

Baie herders is moedeloos omdat hulle so min vrug op hulle arbeid sien. Nie lank gelede nie, het ‘n geliefde herder my moedeloos geskakel. Hy het gevra, “Wat doen jy as jy alles gedoen het wat jy weet om te doen as ‘n herder, maar jy sien so min reaksie? Jy het ywerig gebid, jy het geva en jy het in Christus se geregtigheid gewandel. Jy is gehoorsaam en vertrou en jy verkondig ‘n geseënde woord. Tog verlaat mense die kerk met geen verduideliking nie. Of nog erger, hulle draai teen jou.

“Sê vir my, wat doen jy as die belofte wat God gegee het, nie vervul word nie? Wat gebeur na jare van bediening aan ‘n liggaam van mense en sommige begin dan wegval van die geloof? Jy doen alles wat jy geleer het in jare waarin jy God gedien het. Maar niks draai reg uit nie.”

Ek het gepraat met ‘n Lutheraanse prediker, wat gereeld met ander pastore van sy stad vergader. Hierdie is goddelike manne van verskillende denominasies wat mekaar in hulle onderskeie bedienings bemoedig. Tydens die eerste paar jaar, het hulle getalle gegroei. Maar die afgelope jaar, het die groep begin afneem. Nou dat daar minder en minder bedienaars opdaag, kruip mismoedigheid in. Gou het die pastore mekaar in vertroue geneem, “Ek werk harder as ooit tevore, maar ek sien min groei. Mense val selfs weg. Wat kan ek doen?”

Nou het die Lutheraanse pastoor ook moedeloos geword. Sy laaste woorde aan my was, “Bid vir my asseblief, Dawid. En bid vir die hartseer herders in my stad.”

Die tydskrif, Newsweek, berig dat 65 persent van Amerikaners sukkel om te slaap. Hulle word wakker met ‘n wolk van wanhoop wat oor hulle koppe hang. Miljoene neem nou self medikasie net om ‘n klein bietjie verligting te kry. Hier in New York Stad, is mense veral angstig en gespanne. Daar is ‘n heersende vrees van bio-terrorisme, ‘n kernaanval of tonnels wat opgeblaas word. Mense op Long Island is bang dat die atoomaanlegte daar gebombardeer mag word.

Nou, meer as ooit, het God se mense nodig om ‘n woord van Hom te hoor. En in hierdie tyd van wanhoop, het ons Here ons ‘n onwrikbare woord gegee: “Dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as jy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?” (Jesaja 51:13).

God vereis van ons, “Waarom vrees jy die vyand? Wat kan hy moontlik aan jou doen as Ek vir jou ‘n toekoms beloof het?” Geliefde, daar is geen scenario, geen moontlike toestand, waarin die duiwel ons kan vernietig nie. Jy sien, Jesus Christus het die hemel beloof aan diegene wat in geloof wandel. Wanneer ons sterf, gaan ons oombliklik na Hom toe. Daarom kan ons nie deur die duiwel vernietig word nie; ons beweeg bloot van die dood na lewe. Ons word ‘n nuwe liggaam gegee. En ons spandeer die ewigheid in heerlikheid saam met ons Here.

Van alle mense, moet God se heiliges skitterende voorbeelde wees van wat dit beteken om in vrede te lewe tydens hierdie vreesagtige tye. Ons moet gerus wees ten spyte van ons omstandighede en ons getuienis aan die wêreld bied. Dit is alles omdat ek my lewe in Jesus se hande geplaas het. Dit maak nie saak wat met my gebeur nie. Lewe of dood, ek is die Here s’n vir die ganse ewigheid.”

God het ons ‘n rotsvaste belofte vir lewe op hierdie aarde gegee. Hy sê dat wanneer ons vyand probeer om oor ons te loop, “sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is was spreek: Hier is Ek!” (Jesaja 52:6). Met ander woorde, God sê, “Wanneer jy jou donkerste beproewing beleef, sal Ek kom en ‘n woord tot jou spreek. Jy sal My hoor sê, ‘Dit is Ek, Jesus, jou Verlosser. Moenie bang wees nie.’”

Christus het sy belofte tot op die letter aan ons vervul in Matthéüs 14. Die dissipels was op ‘n boot in ‘n vreeslike storm waarin hulle heen en weer geslinger was deur stortvloede van wind en golwe. Skielik het die mans gesien dat Jesus op die water na hulle toe geloop het. Die Skrif sê, “En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ‘n spook! En hulle het geskreeu van vrees” (Matthéüs 14:26). Wat het Jesus gedoen in daardie vreesagtige oomblik? “Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê; Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie” (Matthéüs 14:27).

Ek het gewonder waarom Jesus hierdie spesifieke woorde gebruik het, “Hou goeie moed.” Waarom sou Hy hierdie woorde aan mense, wat gedink het dat hulle op die rand van die dood was, sê?

Die woord moed beteken om verlig, bly en verlos te wees van vrees. En hier in die dissipels se tyd van benoudheid, het Jesus die woord aan sy identiteit verbind. Onthou, hierdie mans het Hom persoonlik geken. En Hy het van hulle verwag om in geloof op sy woord te handel. Hy het gesê, “Die Vader het belowe dat Ek na julle in jul storm sou kom. Dit staan geskryf, ‘Daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek!' (Jesaja 52:6). Nou het Ek na julle gekom in julle storm. So, skep moed.” Net so verwag ons Verlosser dieselfde geloofsreaksie van ons in ons benoude tye.

Volgende plaas God sy vinger op die ware oorsaak van sy mense se vrees en ontevredenheid: “Dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het” (Jesaja 51:13). Hy sê, “Jy het My in jou krisis vergeet. Jy het toegelaat dat jou omstandighede jou beroof van die herinnering van wie Ek is. Ek is die Skepper van die heelal en besit alle mag en majesteit. Ek is in staat om jou te enige tyd te verlos. Jy het dit egter heeltemal vergeet.”

Die Here wys dan daarop, “Jy het ‘n gevangene van jou eie vrees geword, gebind deur onnodige twyfel en bedenkinge. In plaas daarvan om jou na my Woord te wend, stry jy teen jou boeie. “Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie” (Jesaja 51:14). Eenvoudig gestel, ons het behep met ons omstandighede geword. En ons het misluk om sy Woord aan ons te onthou: “Wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7).

Die Here se boodskap hier kon nie duideliker gewees het nie: “Jy sien my nie as ‘n God wat jou omstandighede kan uitsorteer nie. Jy is so angstig om verlos te word van jou probleme, dat jy weggedraai het van my heerlikheid en mag. In plaas daarvan, sukkel jy voort en roep, ‘God, kry my hieruit.’ Al wat jy egter nodig het, is ‘n kykie na my majesteit.”

Dink daaraan: ons Here het nog nooit een keer sy volk gefaal nie. Hy dring by ons aan, “Kyk terug na my kinders se geskiedenis in beide Testamente. Ek het hulle keer op keer en in elke geval verlos. Ek het nooit toegelaat dat die vyand diegene wat op My vertrou, vernietig nie.

“Kyk nou na jou eie geskiedenis met My. Het Ek al ooit misluk om jou te verlos? Was jy al ooit sonder my voorsiening? My dienaar Dawid het getuig, ‘Ek is oud en grys, maar nog nooit gesien dat God se mense brood bedel nie.’ Ek is ‘n liefdevolle Vader. En Ek sal altyd in al jou behoeftes voorsien.”

““Ontwaak, ontwaak beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan...Skud jou los uit die stof” (Jesaja 52:1-2). God roep uit tot sy neergeboë dienaars, “Staan op en skud die stof af. Ek is julle Here. En julle is steeds my regverdiges.

“Jy het toegelaat dat die vyand jou oortuig dat jy vuil en onrein is. Hy sê jy het geen reg om Christus se mantel van geregtigheid aan te trek nie. Maar Ek beveel jou om op te staan, om daardie mantel weer aan te trek en jou regmatige posisie in te neem om saam met Hom te heers. Jy het nie nodig dat Satan meer oor jou loop nie. My Woord het jou regverdig gemaak.”

Hoe kan gelowiges vandag wakker word uit ons toestand en die stof afskud? Wat is vir ons nodig om nie langer voor die vyand te buig nie? Dawid het geantwoord, “Al my fonteine is in jou!” (Psalm 87:7). Hy het gesê, “Al my tevredenheid word in U gevind, Here. U alleen is die fontein van my vervulling. U is alles wat ek nodig het om vervul, bly, gelukkig en in vrede te wees.”

Ek het by dieselfde gevolgtrekking gekom lank gelede. Niks versadig my siel se verlange buite Jesus nie. Niks op hierdie aarde kom by wat ek in Hom het nie: nie familie nie, nie vriende nie en ook nie suksesse in die bediening nie. Jy kan al die boeke wat ek geskryf het neem, al die miljoene wat aangeraak is in ons uitreike en selfs my liefde om te preek. Jy kan dit alles wegneem, omdat niks daarvan kan vergelyk met die blydskap van intimiteit met Christus nie.

Gee my net ‘n groter openbaring van Christus. Laat my selfs nader aan Hom leef. Laat my sy weë beter verstaan. Dit is wat my siel laat uitroep, “Halleluja!” en my hart spring van blydskap. My dors word slegs geles wanneer ek van sy fontein drink.

Jesus is ook die rede waarom ek nie langer omgee as my omstandighede nie verander nie. Ek is tevrede dat my Here iets van Homself aan my geopenbaar het. En die genade van Hy voorsien is genoeg vir elke omstandigheid wat ek mag verduur.

Christus het self so ‘n magtige genade gedurende sy wandel op aarde beleef. Toe Hy met die kruis gekonfronteer was, het hy drie keer beangs gebid, “Vader, laat die beker by My verbygaan.” Die derde keer wat Hy gebid het, het ‘n engel gekom en Hom bedien. Op daardie stadium, het Jesus krag ontvang om die gebeure wat sou volg te kon verdra. En volgens die Skrif, het Hy selfs meer ernstig gebid. Die Bybel sê egter dat Jesus se pyn steeds daar was.

Ek vind dit wonderbaarlik. Selfs nadat Jesus deur die Vader self versterk is, het Jesus steeds sy pyn gedra. Dit het Hom skynbaar net meer vasbeslote gemaak om te bid. Jy mag sê. “Die Vader het Jesus toe nie verlos nie.” Ja, Hy het. Die krag wat Christus uit die hemel ontvang het, het Hom deur sy beproewing gedra. Inderdaad, dit het Hom die hele pad tot by die kruis en verder na heerlikheid gedra.

Ons weet almal dat Jesus ons voorbeeld is. En hier verskaf Hy vir ons ‘n duidelike illustrasie waar Hy in wese bid, “Vader, Ek erken Ek soek verlossing. Ek is egter nie haastig om losgemaak te word van hierdie beproewing nie. Ek wil nie met my omstandighede stoei nie. Ek wil U net in my krisis ken. Nie my wil nie, maar U wil geskied.”

Ek dank God vir die baie oorwinnings en suksesse wat ek gedurende by vyftig jaar in die bediening geniet het. Maar soos Jakob moet ek erken, “Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare” (Génesis 47:9). Die Hebreeuse woord vir teëspoed hier beteken, benoudheid, nood, ellende, rampe, probleme, hartseer en swaarmoedigheid. Kortliks, ek weet wat dit is om ‘n gevangene te wees van vrees en wanhoop. Toe ek ‘n jong pastoor was, het ek soms gevoel om die bediening te laat vaar. Ek was so neerslagtig dat die duiwel my sy keisteen om op te trap gemaak het. En baie nagte het ek op God geskreeu, “Waar is U?”

Ek het egter ook met Jeremia geïdentifiseer. Hy het die stelling gemaak, “En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:9). Net wanneer ek by my die einde van myself gekom het, het ek opgehou omgee of God my omstandighede sou verander. Dit is wanneer Hy my in sy rus inbring en ek nie meer neerbuig nie.

Jy mag ‘n aanraking van God ontvang in die kerk en bemoedig huistoe gaan. Maar wanneer die gevoel afgewerk het, besef jy dat jou omstandighede dieselfde is. Wat is die oplossing, vra jy? Enige verandering wat kom, moet in ons gebeur, nie in ons situasie nie. Ons moet so oorgegee wees aan Jesus, dat Hy ons alles word, ons enigste bron van vervulling.

‘n Pastoor het vir my ‘n pragtige storie hieromtrent vertel. ‘n Jong vrou in sy kerk was gebore met ‘n uiterste gelaatsverminking. Deur al haar tienerjare het sy daarvan gedroom om ‘n man te ontmoet wat haar sou liefhê ten spyte van haar gebrek. Haar begeerte het tot in haar twintigs geduur en sy het ook begeer om ‘n kind te hê. Deur daardie jare, was sy getrou om haar versoek voor die Here te bring met die hoop dat Hy sou antwoord.

Nie lank gelede nie, het die jong vrou die pastoor genader. Sy het aan hom ‘n koekie seep en ‘n babaratel oorhandig. Sy het gesê, “Pastoor, ek het nodig dat jy hierdie dinge uit my hande neem. Hulle het te doen met ‘n droom wat ek sedert ‘n jong meisie gehad het.

“Elke keer as my pa sy hande gewas het, het hy my gevra, ‘Liefling, gaan haal vir my seep.’ Ek het daarvan gehou om dit vir hom te gaan haal. Dit het my laat voel of hy my nodig gehad het en dat hy my wou hê. Toe ek ouer geword het, het ek altyd gehoop dat my man vir my dieselfde sou sê. Dan sou ek in liefde reageer, net soos ek met my pa gedoen het. Wat die babaratel betref, dit herinner my aan my begeerte na ‘n kind.

“Ek wil hê dat jy weet dat ek nie meer hierdie dinge nodig het nie. Ek het daardie drome neergelê. En ek het hulle verruil vir ‘n beter een. Jy sien, ek het vrede met my toestand. Ek weet dit sal nooit verander nie. Daarom het ek dit aan die Here oorgegee. Nou vervul Jesus my lewe volkome. Hy het my bron van blydskap geword. Ek het in Hom gevind wat geen man my ooit kan gee nie. Hy het my ou drome geneem en Homself aan my gegee.

“Die Here is my man. En die kinders wat jy na my toe sien kom in die kerk, is die kinders wat Hy vir my gegee het. Ek is geseënd sonder mate. So, asseblief, neem hierdie simbole van my af weg. Ek is uiteindelik verlos van hulle las.”

Die pastoor sê dat al die moedeloosheid van hierdie vrou nou weg is. Sy kan nie gelukkiger wees nie. En sy het die mees liefdevolle persoon in sy kerk geword.

Toe, met teer woorde, het die pastoor erken dat hy ook besig was om te verander. “Ek het my droom om ‘n groot kerk te hê laat vaar,” het hy gesê. “My gemeente het nie gegroei soos dit moes nie. Ek wou vrug op my bediening sien. Daardie begeerte het veroorsaak dat ek gestreef het om suksesvol in ander se oë te wees.

“Maar ek wil nou net een ding hê. En dit is ‘n kerk wat liefhet. Ek wil ‘n herder wees van mense wat vir mekaar omgee, ‘n liefdevolle familie van gelowiges. Dit maak nie saak hoe groot of klein ons is nie. Wanneer ek voor die Here staan, wil ek weet dat ek my mense geleer het om lief te hê soos Jesus liefhet.” Hierdie man het in God se rus ingegaan.

Selfs ons mees goddelike drome kan dwaas word as ons dit nie verruil vir Christus nie. As ons Here sulke dinge vir ons wil hê, sal Hy dit in vervulling bring. In die tussentyd, moet ons in sy rus leef. Hy herinner jou nou: “Ek het jou verlossing beveel. Staan nou op uit die stof. Die vyand kan nie meer oor jou loop nie. Ek het jou bemagtig.”