In Donkerheid Gedrewe

David Wilkerson

“Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie...ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In jammernag en donkerheid is hulle gedrewe” (Isaiah 8:20, 22).

Laasnag het ek ‘n Christelike musiekfees bygewoon. Ek sal nooit vergeet wat ek gesien het nie en ek kan werklik sê dit was ‘n hartverskeurende belewenis. Sedert ek die konsert verlaat het, het ek urelank gehuil, in die Gees gekreun en die toorn van ‘n heilige God gevoel brand oor dit wat ek gesien het.

Ek het na die fees gegaan, omdat die “sterkunstenaar” van laasnag, in my kantoor was net ure voor die optrede, terwyl hy my huilend vertel het hoe lief hy Jesus het, hoe opreg hy was, dat hy meer wou leer oor heiligheid. Hy het vir my vertel dat my boodskappe hom van sonde oortuig het. Sy woorde het reg geklink – sy gesindheid was nederig. Op sy versoek, het ek na hom en sy groep gaan luister, omdat hy my verseker het ek sou nie aanstoot neem nie.

My hart is nou so ingestel op die massiewe menslike behoefte in New York Stad, en my groot bekommernis behels nou om die laaste siel van dwelms, alkohol en duiwelbesetenheid te verlos. Ek wou nie meer betrokke raak in die kwessie van ruk en rol, heavy metal en punk musiek in die kerk nie. Ek het gevoel ek het genoeg oor die onderwerp gesê en ek het dit vir die musikant gesê in my kantoor. Ons het saam gebid en ek het hom ‘n drukkie gegee toe hy my kantoor verlaat het.

Laasnag het ek met ‘n oop hart, vol liefde en deernis gegaan – vir hom, vir alle Christelike musikante, en veral vir die 3,000 of meer mense wat die fees bygewoon het. Ek het deur twee toewydingstipe gesange gesit, en toe het ek aandagtig geluister na wat die musikant getuig het en wat hy gesê het Christus gedoen het in sy lewe. Geen prediker op enige plek kon met meer oortuiging en opregtheid gepraat het nie – die woorde was reg. Hy het gepraat van afsondering, van gehoorsaam wees aan Jesus, van siele wen, van gebed, van ‘n heilige huwelik (hy was getroud), van ‘n heilige lewe leef. Ek het gebid terwyl hy gepraat het, “Dierbare Here, miskien het ek hierdie musikant en sy harde rock groep verkeerd beoordeel. Miskien doen U wel iets nuuts in die musiek wat die goddeloses verkies, om hulle te win – om hulle aandag te trek, om hulle te trek sodat hulle bedien kan word. Here, ek is gewillig om te juig daarin om te hoor dat U verkondig word, op enige manier, deur enige groep – as U daarin teenwoordig is – as U Heilige Gees dit seën”

Ek het eerlikwaar gevra of my skrywes oor die musiek van duiwels in God se huis net oudtydse vooroordele was en of bloot my afkeur vir rock musiek was. Was dit ‘n bohaai oor niks? Tog was iets nie reg nie. Daar was ‘n innerlike gewaarwording in my hart wat my ongemaklik gemaak het. Ek het geredeneer, “As Satan op een of ander manier hierin gekamoefleer is, as daar ‘n suurdeeg van kwaad is – sal dit openbaar word. Satan openbaar altyd homself op een of ander manier.”

Skielik het die sanger in die mikrofoon geskreeu, “Jesus kom – Hy gaan die hemele oop kraakmaak gereed!” Die lied was genoem, “Kraak die Hemele.” Skielik het rook uit die masjiene geblaas, die kloppende ritme was versnel tot ‘n wilde toon, vreemde ligte het begin flits, die musikante het soos spoke gestaan, wat uit ‘n modderige moeras oprys. Dit was spookagtig, vreemd, onnatuurlik – en die skare het wild te kere gegaan – dit het gelyk of hulle mal is daaroor. By dieselfde fees, het ‘n wilde groep met gepunte hare opgetree – met geverfde gesigte, pronkend soos homoseksuele poue.

Eers kon ek nie glo wat ek op die verhoog sien nie. Ek het die hardop gesê, “Dit kan nie by ‘n Christelike fees gebeur nie – hulle kan nie dit aan my Jesus doen nie! Hierdie mense kan nie so blind wees nie – die leiers van hierdie jeugbediening kan nie so ononderskeidend wees nie! O God – wat het met U kerk gebeur dat sy leiers, sy mense, nie die goddeloosheid van hierdie gruwel kan raaksien nie?”

Skielik was ek op die grond, op my rug, aan die ween en snik en ek het gekreun in die Gees. Ek het regop gaan sit en weer na die verhoog gekyk. Ek was gebelg deur wat ek in die Gees gesien het. Ek het demoniese beelde van daardie verhoog af gesien! Ek het Satan hoor lag! Lag oor die blinde ouers – die blinde herders – die blinde jeug – die afvallige kerk! Dit was ‘n openlike manifestering van Satan – erger as enigiets wat ek ooit op die strate van New York gesien het.

Ek het opgestaan en het letterlik gebewe met die vrees van God – oorweldig met ‘n gevoel van Sy heilige toorn teen sulke boosheid. Ek het in die skare ingehardloop en op die toppunt van my stem geskree – Íkabod! (Die heerlikheid van die Here het gewyk!) Íkabod! Ek het deur die skare gehardloop, stoele eenkant toe gestamp, geween, op die toppunt van my stem geskree, “Íkabod – dit is satanies! Stop! God word bedroef!” Ek was meestal geïgnoreer en ek dink die meeste het gedink ek was ‘n mal waansinnige. Ek twyfel enigeen het geweet wie ek was – die musikante kon my nie hoor nie, en die skare was te teenaan mekaar om my naby die verhoog toe te laat. Ek wou ‘n mikrofoon kry en skree soos Elia – “Dit is uitbraaksel op die tafel van die Here! Wie is julle leraars, dat julle so blind, so wêrelds, so mislei kan wees? Watter laster is dit?”

Ek sal nie stilbly oor hierdie saak nie! Ek sal nie stil wees terwyl menigtes van ons Christen jongmense mislei word deur gladdebek wolwe in skaapklere nie! Ware liefde vereis dat die waarheid verkondig word.

Wat my gees die meeste seermaak, en wat so moeilik vir my is om te verstaan, is dat hierdie spesifieke groep, en baie ander, Pinksterkerke bywoon. Die musikant waarna ek verwys, het vir my gesê hy het dwelms, drank, goddelose seks en ruk en rol vertonings prysgegee toe hy gered is. Hy het sy lang, meisieagtige hare afgesny, hy het opgehou aantrek soos ekshibisionis en begin om sy weë te verander. Dit was ‘n herder wat hom aangemoedig het om “op te hou om so ordentlik te lyk en ruk en rol te gebruik om die kinders te bereik.” ‘n Leraar, in sy sestigs, reis soms saam met hulle, leer hulle en sterk hulle in hulle goddelose metodes. Volgens hulle leraar, gaan ruk en rol die “normale musiek van alle Pinkster en evangeliese kerke wees.”

Dit is nou die middel van die nag en ek kan nie slaap nie! Ek kan nie ophou om innerlik te ween nie. Ek sonder my af met God in my studeerkamer en vra Hom ernstig om vir my te wys wat besig is om te gebeur, omdat ek ure tevore ‘n paar duisend jong Christene gesien het met opgehefte hande, wat gedink het dit was Jesus, waar dit sekerlik die duiwel was. Het die kerk – of wat die mens die kerk noem – so afvallig geraak dat daar hoegenaamd geen onderskeiding meer is nie? Het God moed verloor met sommige wat vasbeslote is om duiwelse praktyke in die realm van aanbidding in te bring?

Nou wonder ek – “Wie waag dit om só ‘n Jesus te verkondig – ‘n Jesus wat misleiding oorsien? Hoe blatant wanonderrig hulle Jesus Christus! Watter Jesus verkondig hulle?”

“Maar julle het Christus nie so leer ken nie” (Efésiërs 4:20).

Dit is wat Paulus gesê het in sy brief aan die Efésiërs. Hy het hulle gewaarsku om nie te lewe soos sommige “in die verdwaasdheid [hoogmoed] van hulle gemoed nie” (Efésiërs 4:17). Hy het gewaarsku oor diegene wat Christus onderrig op ‘n verdraaide manier, want hulle verstand was verduister. Hulle was “vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle harte” (Efésiërs 4:18).

Een of ander leraar, een of ander herder, het Jesus Christus verkeerd aan hulle geleer. Die Christus wat hulle geleer het, was nie die Christus van God nie, die Here van heiligheid, die Meester van reinheid nie. Hoewel hulle so dierbaar van Jesus praat, ween wanneer hulle die Naam noem en vertel van ‘n honger om in die weë van Christus te lewe – het Paulus van hulle gesê, dat hulle “ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondheid  om hebsug allerhande onreinheid te bedrywe” (Efésiërs 4:19).

Dit is wat ek gesien het laasnag by die musiekfees – ‘n groep musikante wat vroom fluitspelers was en baie jongmense reguit in die arms van Satan ingelei het met hulle gladde woorde oor Jesus, oor vergifnis vier – en dan met ‘n energie van die vlees en vleeslike gierigheid wat moeilik is om te peil – hulle stempel van goedkeuring plaas op hedonisme wat reguit uit die duiwel se skatkis kom. Hulle het deur hulle musiek en hulle wêreldse, spookagtige vertoning in wese gesê – dat Jesus en die gemors van hierdie wêreld verenigbaar is. Hulle het twee maskers gedra – een van opregte volgelinge van Christus, die ander van hansworse wat vermaak. Met hulle gesigte opgehef tot God, het hulle Hom vervloek deur hulle lasterlike bespotting. Jesaja het geprofeteer oor hulle, “Dan...sal hulle..en hulle koning en hulle God vloek; dan sal hulle na bo kyk” (Jesaja 8:21). Wat hulle verkondig en doen, is twee verskillende evangelies.

Hulle is mislei, en die gevolg is dat hulle self misleiers is. Hulle het verkeerd oor Christus geleer! Hulle is mislei, gemanipuleer en verkul! Hulle moes ‘n herder of leraar gehad het met genoeg Heilige Gees onderskeiding, met genoeg toewyding aan die ware en heilige Here – om hulle te waarsku en te wys dat God dit nie verdra as ons vashou aan die ou mens en die ou vleeslike maniere nie. Waarom het hulle herders nie onderskei dat hierdie seuns in onkunde en geestelike blindheid lewe en nie die ware vereistes van Christus verstaan nie? Waarom was daar nie met hulle gierigheid afgereken nie – nie so seer vir geld en roem nie, maar ‘n gierigheid wat nie daardie één ding wat hulle eens na dwelms en leegheid gelei het wou laat staan  nie. Dit kom nou alles uit – dat hierdie groepe oral afvallig raak, teruggaan na die sekulêre skare, terug na kokaïen, terug na groepies – en deel word van die skynheiliges en evangelie bedrieërs. Hulle herders word so maklik gekul, omdat hulle in alles blind is. Paulus het reg gesê, “Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem” (Efésiërs 5:12). Dieselfde musiek wat hulle speel, dryf hulle terug na duisternis.

Nou – is dit waarskynlik te laat! Hulle het die teregwysing van profete en wat werklik die waarheid verkondig het, verwerp! Hulle is soos diegene waaroor Paulus waarsku, wat so verlore geraak het deur geestelike onkunde en blindheid, dat hulle ongevoelig geword het vir veroordeling. Hulle is vas in hulle wêreldse weë! Hulle is so blind hulle glo hulle verheerlik Christus en seën menigtes jongmense wat die kerk “nie kan bereik nie.”

Sonde-sag predikers dryf hierdie geslag in donkerheid in

“...In... donkerheid is hulle gedrewe” (Isaiah 8:22).

Ek blameer hulle gladddebek, sonde-sag herders. Dieselfde herders sal eendag voor Christus se oordeelstroon moet staan en antwoord – nie net vir die musikante onder hulle sorg nie – maar vir al die Christen jongmense wat hulle op hulle beurt skade aangedoen en verwoes het. Sonder om terug te deins, verklaar ek dat lafhartige bedienaars, diegene wat geliefd en vereer wil word eerder as om verwerp te word omdat hulle die waarheid verkondig, hierdie geslag dryf tot in diepe geestelike duisternis.

Ons sou nie ‘n geslag afvallige, plesiermal, wêreldse gesindheid jongmense in ons kerke gehad het nie – jongmense wat nie eens die gebooie van ‘n heilige Christus ken nie – as ons meer heilige, dapper predikers en evangeliste gehad het wat die waarheid van Christus onderrig en verkondig met reinheid en gesag nie.

Ek beskuldig nie alle predikers en leraars nie – dank God vir die paar wat steeds nie vrees vir die skare of ‘n kompromie maak ter wille van getalle en sukses nie. Miskien sal die jeug nie luister na diegene van ons wat uitvaar teen hulle begeerte na die wêreld nie – maar wanneer die oordele toeneem – sal hulle hulle wend na predikers van heiligheid vir ‘n seker woord van God.

Daar is die gemors in Sion en vreemdelinge word verhef in die huis van God – deur blinde, gekompromitteerde, ononderskeidende Christen leiers. Hulle noem kwaad goed, en die raad van ‘n regverdige God word geminag. Harte verhard, ore sluit, oë gaan toe – omdat trots en vlees en goddelose vermaak die Heilige Gees by sy tempel uit bedroef.

Jesaja het waarsku, “...so sal hulle wortel soos poeier word...omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het. Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk...” (Jesaja 5:24,25).

Hel moet in ekstase wees oor die skouspel van bedienaars wat nie net afstand doen van die onsedelike musiekstandaarde van die jeug nie – maar dit in werklikheid bevorder, wat slegs demone moet bevorder. Wie bring hierdie wêreldsgesinde groepe na die kerk vir konserte? Wie moedig die jeug aan om die musiek van duiwels te omhels? Wie bespot evangeliste en profete en wagte wat daarteen uitvaar? Wie sit die radio en TV aan en bevorder die konserte en feeste wat nou verval in sataniese vertonings? Dit is die herders, jeugbedienaars, Christelike radio- en TV-stasie eienaars en bestuurders. Hulle almal sal leef om die goddelose oes te sien van hulle sagte evangelie en kompromie – terwyl hulle eie kinders verval in die gees van hierdie eeu.

Webster se Twintigste Eeuse Woordeboek omskryf hoerery as “die verlating van die aanbidding van God vir die aanbidding van afgodery.” ‘n Hoereerder is iemand wat dit uitvoer of bevorder. Enige geestelike leier wat hierdie afgodiese verlating van ware aanbidding uitvoer of bevorder, is ‘n hoereerder. En Paulus stel dit uitdruklik, “Geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie” (Efésiërs 5:5).

Jongmense – moenie luister na die hoereerders nie – luister liewer na die apostel Paulus – wat gewaarsku het, “Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. Wees dan nie hulle deelgenote nie” (Efésiërs 5:6,7).

Wys hulle tereg!

“En hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Efésiërs 5:11).

Alle geestelike werk wat bevlek is met die geringste stukkie duisternis, noem God onvrugbare werke! Dit weerlê die groot leuen van die duiwel wat bevorder word deur die smouse van “nuwe golf” musiek, wat redeneer, “Maar dit kan nie van die duiwel wees nie. Kyk na al die kinders wat gered word! Luister na hulle wonderlike getuienisse. Hulle bereik regtig die jeug – talle word gered. Hulle spreek op ‘n manier wat die kinders verstaan – hulle verheerlik Christus in hulle spraak.”

God het nog nooit ‘n werk beoordeel deur resultate nie. Niemand is méér suksesvol daarin om bekeerlinge te behou as Moslems nie. Geen kerk is ryker as die Vatikaan nie. Die Jehova Getuies maak daarop aanspraak dat hulle menigtes win vir Christus.

God beoordeel alles met lig! Dit beteken, deur hoe goddelik, hoe Christelik dit is – deur hoe duidelik, hoe rein, hoe deursigtig dit is. Hy verwerp en spoeg uit Sy mond alles wat selfs net ‘n donker deeltjie in het. Johannes het die Heilige Stad sien neerdaal uit die hemel van God, met die heerlikheid van God. Dit is ‘n heilige volk, ‘n bruid getooi en gereed gemaak vir die Bruidegom. Sy hoofkenmerk is dit: “En sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen” (Openbaring 21:11).

Wat van God af is, is helder soos kristal! Dit is ‘n heiligheid so rein, dit is so deurskynend soos suiwer jaspissteen. Diegene wat getel is in hierdie heilige Sion, hierdie Nuwe Jerusalem wat van God af neerdaal – het uitgestap in die lig. Daar is geen hoegenaamd geen donkerheid in hulle nie – hulle is oorgebring in Sy lig! Hulle wandel in die lig – hulle haat duisternis – hulle bestraf dit wanneer dit verskyn. Die vyand het in godsdienstige kring ingekom om te vernietig wat rein en helder is deur ‘n heidense element in te bring wat ‘n skadu of film skep. As Satan die geringste mate van dwaling, of goddelose suurdeeg kan inbring, weet hy die Heilige Gees sal terugtrek omdat Hy bedroef word. Dit is waarom geen mengsel – geen skaduwee of donker hedonisme in die Christus se kerk toegelaat moet word nie.

Die Bybel praat ook van elke saad wat volgens sy eie soort opbrengs gee (Genésis 1:12). ‘n Goddelose saad produseer goddelose vrug, dikwels nie herken tot volwassenheid nie. Die ruk en rol “profete” van hierdie geslag, bring saad voort volgens hulle eie soort – ‘n saad wat eendag vrug sal voortbring wat sal verdroog en sterf. Judas maak dit baie duidelik, “Hulle...wat sonder vrees...hulleself voer, waterlose wolke deur winde voortgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld” (Judas 12).

Wat van die goedklinkende getuienisse, die opregte en oortuigende prekies? Paulus het die antwoord, “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik. En hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Romeine 16:17,18).

O hoe het God se kinders onderskeiding nodig. Groot misleidings heers oral, nie net betreffende die rock en punk musiek van die jonges nie, maar ook betreffende nuwe vorms van aanbidding en lofprysing wat bevorder word. Sommige daarvan is gebore uit die Heilige Gees, maar baie is gebore uit die vlees – en slegs diegene wat wandel in die lig, ken die verskil.

Daar is ‘n herlewing van aanbidding en lofsang in die land vandag en baie fokus op gebed, voorbidding en nuwe openbaring. Daar is geen twyfel dat daar meer en meer Christene vir ‘n uur of twee bly staan nie – met groot gemeentes wat hardop sing en prys. Daar is glimlagte, gelag, blydskap, handeklap, opgehefte hande, gedans – nog nooit in hedendaagse tye was daar ‘n groter gejuig in die laer nie.

Dank God vir diegene in die laer wat in Gees en in waarheid aanbid – wat rein hande ophef en wat suiwer harte het – wat voor Sy heiligheid kom met ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees. As hulle in heiligheid lewe, bewe voor God se Woord, bekeerd en vry is van die slawerny van sonde – is dit ‘n heerlike en aanvaarbare offer vir God. God woon in die lofprysinge van Sy kinders – maar slegs as daardie kinders met praktiese geregtigheid lewe.

Maar daar is ‘n gejuig wat oppervlakkig en betekenisloos is!

Daar is die gejuig van die oorwinnaar en die gejuig van die afgodedienaar – en ons beter die verskil ken. Die Here het Moses beveel, “Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ‘n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer...” (Exodus 32:7,8).

Soos Moses en Josua die laer van Israel genader het, het Josua “die stem van die volk hoor hoe hulle juig...” (Exodus 32:17). Maar dit was nie die gejuig van diegene wat die vyand oorwin het nie. Die ware herder Moses, wat pas uit die teenwoordigheid van God se heiligheid gekom het – kon maklik onderskei dat die groot gejuig wat van die Here se uitverkore volk gekom het, nie rein was nie. Iets groots was verkeerd – dit het nie geklink soos die heiligheid van God nie.

Moses het gesê, “Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtsang” (Exodus 32:18).

Dit was al wat dit was, betekenislose, oppervlakkige geraas – maar ‘n gruwel in die ore van ‘n heilige God. Hulle het geen reg gehad om te sing nie; hulle harte het ‘n afgod begeer. Hulle harte was oorgegee aan pret en plesier. Hulle het voor ‘n goue kalf gestaan – en in die Naam van die Here brandoffers gebring. Die volk het “gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te gaan speel” (Exodus 32:6).

Ek ontvang baie briewe van Christene wat ek weet deur die skool van Christus gekom het. Hulle het deur erge lyding en geestelike oorlogvoering gekom by ‘n plek in God waar niks ander saak gemaak het nie, maar om Hom in sy volheid te ken. Hulle was gedrewe deur so ‘n diepe honger vir God, dat hulle begin het om te dors na Christus soos “’n hert smag na waterstrome.” Hulle sê vir my hoe ongemaklik hulle voel in hierdie groot byeenkomste waar die gejuig in die laer voortgaan. Dit lyk goed en bolangs klink dit goed. Maar hulle kan nie deel daarvan wees nie, want hulle onderskei iets is basies verkeerd. Hulle kan dit nie verklaar nie – die Gees van God in hulle laat hulle nie toe om daaraan deel te hê nie. Hulle onderskei een of ander onuitspreeklike duisternis – iets subtiel, maar onheilspellend oor al die vleeslikheid wat gepaardgaan met die singery, gejuig en gedans. Dit is amper té professioneel, té aangesit, te vleeslik. Hulle vertrek, terwyl hulle dink, “Is dit ek – is daar iets verkeerd met my? Is ek te veroordelend? Waarom is ek nie gemaklik tussen al die singery en dansery nie?”

Diegene wat in die lig uitgestap het, kan maklik die skadu van duisternis onderskei. Hulle sal nie mislei word deur valse gejuig, valse gedans, valse aanbidding, of valse gebed nie.

Ware Sionheiliges juig met bewing! (Psalm 2:11). Hulle weet dat blydskap slegs behoort aan die “opregtes van hart:” (Psalm 97:11). Hulle kan sing en dans wanneer die Gees hulle dring, maar saam met Dawid, kan hulle sê, “Sion hoor dit en is bly, en die dogters van Juda juig oor u oordele” (Psalm 97:8). Sionheiliges, “Wees bly in die HERE, en loof sy heilige gedenknaam” (Psalm 97:12).

Geen punk of rock of valse gejuig en lofprysing vir diegene wat in die lig wandel nie. Hulle prys Hom vir beide Sy goedheid en omdat hulle bewe vir Sy groot en gedugte Naam.

“Die HERE is Koning; laat die volke bewe! Die HERE is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke. Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy! “ (Psalm 99:1-3).