Dit is Tyd om te Ween vir Amerika!

David Wilkerson

Ek het nog nooit daarop aanspraak gemaak dat ek ‘n profeet is nie. Maar daar kom ‘n tyd wanneer die Woord van God so ‘n vuur in my gebeente word, dat ek dit wat ek sien en hoor moet uitspreek! Noem dit ‘n boodskap van ‘n wagter, of wat ook al jy wil – maar ek moet aan jou meedeel wat God op my hart geplaas het betreffende hierdie nasie!

Ek glo God het ware profete – diegene wat soms deur die Heilige Gees gedring word om toekomstige gebeurtenisse en komende oordele te voorspel. Op ‘n paar geleenthede, het die Gees my inderdaad verplig om my te waarsku oor dreigende oordele. Maar die profesie wat ek nou vir jou bring, is nie ‘n voorspelling nie.

Ek wil jou liewer reguit neem na God se Woord – om vir jou ‘n paar ewige beginsels te wys van hoe die Here optree. Enige Bybelstudent kan weet hoe God van plan is om met Amerika te werk – of enige ander nasie – deur die geskiedenis en patrone van God se werkinge in die Ou Testament te bestudeer. Ons kan die toekoms ken deur die verlede te bestudeer!

Trouens, God se weë is absoluut onveranderlik wanneer dit kom by Sy optrede teenoor sondige nasies. Daar is geen skaduwee van omkering in Sy weë nie; Hy werk op dieselfde manier in elke geslag – omdat Hy regverdig is. Kortliks, Hy sal ons geslag op dieselfde manier hanteer as wat Hy gedoen het met elke ander geslag wat gesondig het soos wat ons sondig. En deur hierdie beginsels van Sy weë uit die Skrif te leer, kan ons aflei hoe presies Hy teenoor ons sal optree vandag.

Byvoorbeeld: Die apostel Paulus het aan die kerk in Korinthe voorspel wat sou met hulle gebeur as hulle sou voortgaan om Christus te versoek. Daardie Christene het gemurmureer en hulleself oorgegee aan onbeheerste begeertes. Daarom het Paulus eenvoudig in die geskiedenis ingekyk en gesien wat God aan Israel gedoen het, omdat hulle dieselfde sondes gedoen het.  Paulus het vir die Korinthiërs gesê: “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:9-11),

Die apostel het gesê, “Dit is ‘n duidelike patroon in die Skrif. Dit vertel vir jou wat God sal doen as jy aanhou om te sondig soos Israel gesondig het!”

Die apostel Petrus het ook sy lesers gewaarsku deur ‘n voorbeeld van die Ou Testament op te roep. Hy het gesê God wou hulle oordeel vir hulle gierigheid en onbeheerste begeertes, net soos Hy vorige geslagte geoordeel het: “En deur die stede van Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus  2:6). Petrus het gewaarsku, “As jy net soos Sodom en Gomorra sondig, sal die Here jou vernietig net soos Hy hulle vernietig het!”

Soos Paulus en Petrus, bring ek vir jou ‘n waarskuwing gebaseer op my studie van die Ou Testament – spesifiek die boek Jesaja. Terwyl ek onlangs deur hierdie boek gelees het, het die Gees my by hoofstuk 22 gestop. Skielik het ek begin sien hoe oordeel oor Jerusalem gekom het in Jesaja se dag – ten spyte van al die profeet se waarskuwings!

Jesaja 22 bevat ‘n skokkende verhaal van ‘n samelewing wat sy dag van genade weggesondig het. Jerusalem en Juda het te ver gegaan – en daar was geen omdraaikans nie! Die mense het heeltemal afvallig geword het het geleef asof hulle ateïste was. Daarom het God Jesaja beveel om vir Sy mense te profeteer – om ‘n “gevreesde vrystelling” van oordeel af te kondig!

Jy sien, God se oproep tot bekering in Juda was verby. Daar sou nie langer ‘n profetiese stem in die land gehoor word wat roep, “Keer terug en word genees!” nie. Nou was dit te laat. Hierdie volk het iets so brutaal gedoen dat God dit nie een dag langer kon verdra nie!

Met trane en ‘n gebroke hart, het Jesaja hierdie verskriklike boodskap gebring: “Maar die HERE van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die HERE van die leërskare” (Jesaja 22:14). Hy het in wese gesê, “Julle het ‘n sonde gepleeg wat God nie sal vergewe nie. Julle het te ver gegaan – en dit is te laat om om te draai!”

As jy ten volle verstaan wat hierdie samelewing gedoen het om God uit te lok om Sy oordeel op hulle los te laat, sal jy sien hoe hulle dade die Amerikaanse samelewing weerspieël vandag!

Wat Jerusalem en Juda gedoen het om oordeel oor hulleself te bring, is presies wat Amerika huidiglik doen. En as die goddelose gedrag van God se mense die dreigende vernietiging van daardie samelewing aangekondig het, dan kondig ons sondige gedrag duidelik die pyne van doodangs van ons nasie aan!

As die profeet Jesaja vandag geleef het en die boosheid van ons nasie aanskou het, sou hy uitgeroep het, “Dit is tyd om te ween vir ons nasie! Die geskiedenis herhaal homself. Julle beker van ongeregtigheid is vol en loop oor!”

Hoofstuk 22 van Jesaja word genoem “die dal van die gesig.” En Jesaja se boodskap hier is so duidelik, so maklik om te verstaan, dat daar geen twyfel oor die betekenis kan wees nie.

Volgens verklaarders, het Jesaja duidelik op ‘n dak (of een of ander hoogte) gestaan en afgekyk oor Jerusalem en die omliggende vallei. Wat hy gesien het, was so weersinswekkend, dat dit hom gebreek het. Hy het vol beroering geween en vir almal wat verbygegaan het, gesê, “...Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie” (Jesaja 22:4).

Die profeet het gesê, “Moenie na my kyk nie. Jy sal nie hou waarvan jy sien nie! My hart is op die punt om te breek en my binneste is gereed om uit te kom. Ek is ten seerste gepynig en ek kan dit nie verduur nie. My volk is op die punt om vernietig te word!” “My hart duisel, angs oorval my...daarom is my heupe vol siddering...ek buig my krom...verskrik...” (Jesaja 21:4,3).

Dit was duidelik nie patriotisme aan Jesaja se kant nie. Dit was die las van die Here! Hier is ‘n beeld van ‘n man, gebroke oor sy samelewing se sonde – iets wat ons nie dikwels in die kerk sien vandag nie. Daar is bloot nie baie pastore of Christene in Amerika wat oordeel sien kom en gebroke is daaroor nie.

Vir ‘n lang tyd egter, het Jesaja gespraat van ‘n gesig van oordeel wat hy van die Here ontvang het. Hy het ‘n groot leër gesien – ‘n afdeling van strydwaens, vaardige boogskutters, kragtige perderuiters, manne op kamele – almal wat teen die stad opgetrek het!

Nou het Jesaja se profetiese gesig voor sy oë ontvou. Vyandige leërs het Jerusalem omsingel – en ‘n aanval was onderweg! Die geluid van millitêre bewegings het oor die heuwels weerklink: Die verskriklike, beroemde ruiters van Elam en hand-tot-hand krygers van Kir het in die voorhoede gemarsjeer. Oorlogsperde het gerunnik en gesnork, hulle hoewe het geklap oor die aarde. Strydwawiele het gedreun oor die platteland en groot stofwolke opgejaag. Infanterie troepe het Jerusalem se muur genader en nou het hulle raserig daarteen gekap met hulle spiese en koevoete. Dit moes ‘n angswekkende, ontsagwekkende gesig gewees het!

Terwyl Jesaja weggedraai het van hierdie skrikwekkende toneel, het hy op die plat dakke van die stad afgekyk – en hy kon nie glo wat hy sien nie. Die inwoners van Jerusalem was op die dakke – besig om te drink en partytjie te hou! Die mense het byeengekom om hulleself te vermaak deur op die Assiriese leër af te kyk terwyl dit voorberei om aan te val.

Jesaja was skepties oor wat hy gesien het – en hy het uitgeroep, “Rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting...” (Jesaja 22:2). Die hele tyd wat die profeet op en af deur die land geloop het en God se mense gewaarsku het, “Julle afgode sal neergewerp word. Die stad se mure waarop julle vertrou het, sal gate in gemaak  word. Jou heerlikheid sal verdwyn. Die tyd loop uit!”

Hoe het die mense egter gereageer! Hulle het mekaar op die dakke verdring om die beste uitsig oor die aankomende vyand te probeer kry! Die hele stad was in oproer, vol opwinding, vreugde en uitgelatentheid. Die Bybel gebruik hier ‘n woord wat beteken “onstuimig, luidrugtig, opgewonde.”

Mense wie se wonings die naaste aan die muur was, het ‘n goeie uitsig oor die vallei daar onder gehad en hulle het gasheer gespeel vir hulle vriende by “besigtigingspartytjies.” Hulle het uitgeroep, “Kom op – julle moet dit sien. Pak julle midddagete in en bring die familie!” Kinders het van vreugde gegil: “Kyk na al die wit perde! Kyk na al die blink strydwaens en die magtige soldate wat hulle skilde olie. Wat ‘n gesig!”

Hulle het almal geëet, dronk geword en feesgevier. En Jesaja kon homself nie inhou nie. Hy het uitgeroep: “...Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het?” (Jesaja 22:1).

Ek kan hierdie profeet van God in my geestesoog sien – skreeuend van die dakke af: “Is julle mense mal? Watter soort gees het julle beset? Watter soort siekte sou julle na die dakke dryf om partytjie te hou, terwyl verwoesting voor julle poorte wag? Oordeel is voor die deur – en julle word dronk!”

Ek het ‘n vraag vir jou: Wat is fout met ons Amerikaanse samelewing? Hoe kan ons hele nasie partytjie hou, dans, drink en versadig word met vermaak, terwyl duisende baba’s geaborteer word? Watter soort siekte het ons nasie so verblind dat die President voorgestelde wetgewing veto wat dokters verhoed om die breine van baba’s uit te suig weke voor hulle gebore word? Watter verskriklike siekte laat ons samelewing toe om vreugdevol voort te gaan met sy besoedelde plesiersoekery, terwyl die bejaardes geassisteer word met selfmoord?

Amerika word aangeval deur ‘n leër van aborsioniste, pornograwe, dwelmhandelaars en moordenaars van die bejaardes, wat na ons toe kom uit al die uithoeke van die aarde. En daar is egter net ‘n paar profetiese boodskappe wat gehoor kan word!

Ek is seker Jesaja se stem was verdring deur die skares wat partytjie gehou het: “O, dit is net daardie ou man, Jesaja – die onheilsprediker. Moenie aan hom aandag gee nie.” En so is dit vandag: Profetiese waarskuwings word bespot en geïgnoreer!

Ek vra vir jou: Waar is diegene wat treur vir Amerika – wat gebroke is oor die sondes van God se kerk en ons nasie?

Beskou daardie onnosele, blinde, dronk skare op die dakke van Jerusalem, waar hulle feesvier op die randjie van hulle oordeel. Geliefde, dit is waar jy die flitspunt van vernietiging ontdek!

Wat was hulle sonde wat God nie wou vergewe nie? Dit was baie meer as net God se waarskuwings ignoreer. Hulle het hul harte verhard in die aangesig van voorspelde oordeel!

Oordeel het alreeds begin plaasvind; dit was duidelik oral rondom hulle. En tog het die mense hulself verhard met die wete dat die hand van God hierdie oordeel oor hulle gebring het. Hulle hardheid was die onvergeeflike sonde!

Jesaja was verder skepties: Nie net het die mense die oordeel wat voor die deur gestaan het, uitgetart nie, hulle was daardeur vermaak – maar hulle het feesgevier te midde van ‘n pessiekte.

Mense het dood neergeslaan omdat ‘n pessiekte in die stad versprei het: “...Die wat in jou verslaan is, is nie deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie” (Jesaja 22:2). Historici bevestig dat Jerusalem getref is deur ‘n pessiekte in hierdie tydperk. Vlugtelinge het daarheen gevlug voor die invallende leër uit en in die stad saamgedrom met min kos en water. Gesondheidstoestande was beroerd en het die pessiekte tot gevolg gehad. Mense het links en regs begin sterf. Die stank van dood was verskriklik.

Maar die burgers van Jerusalem het gewoond geraak aan die pessiekte. Hulle het verhard geword teenoor die dood orals rondom hulle – soveel so, dat hulle hulself op die dakke kon vermaak, terwyl mense net onder hulle besig was om te sterf. Hulle het die stad se skaars water, kos en wyn gemors op hulle eie plesier!

Ek vra vir jou: Klink dit nie verskriklik bekend nie? Dit is ‘n beeld van Amerika, in hierdie geslag!

Ons het geword soos Duitsland voor daardie nasie verslaan is in die Tweede Wêreld Oorlog. Ek het ‘n boek by die huis met duidelike foto’s van die dronkpartytjies wat dwarsdeur Berlyn plaasgevind het. Hitler was in sy bunker, op die randjie van selfmoord, terwyl Geallieerde magte nagtelike bomaanvalle geloods het. Tussen die vlae van bomme, het mense uitgehardloop om saamgeflanste kroeë te maak en die nag weg te dans en te drink! Berlyn het een massiewe partytjie geword. En dit het alles gebeur net voor die stad vernietig is – met die mense wat die ewigheid in gestaar het.

Selfs nou, hier in New York Stad, bestaan fondsinsamelings vir VIGS navorsing hoofsaaklik uit deurnag dans en drink partytjies. Ek sien plakkate dwarsdeur Greenwich Village en Soho wat lees: “VIGS Navorsingspartytjie. Gratis drank.” Mans wat soos geraamtes en die dood lyk, dans die nag om en jaag van een partytjie na ‘n ander – alles in die naam van fondsinsameling vir VIGS navorsing. Hulle sterf van die siekte – maar hulle hou aan om partytjie te hou!

Huidiglik versprei ‘n VIGS plaag dwarsdeur Amerika. Maar ek glo iets selfs erger kan met hierdie nasie gebeur – weens iets wat ek sien in Jesaja 22!

Veronderstel die verskriklike, vleisverterende siekte genaamd ebola slaan met mening toe in Amerika. (Dit is die vleisverterende siekte wat ‘n persoon binne ‘n week kan doodmaak.) Of miskien begin een van die nuut ontdekte eksotiese siektes lewe uitwis binne dae. Duisende Amerikaners sou vinnig begin sterf.

Ons land wou wees soos dit was tydens die negentiende eeu, toe pokke in die strate gewoed het. Tydens daardie verskriklike pessiekte, het mense gevlug uit die stede uit. Maar na ‘n rukkie, toe die gesig van begrafnisse en lykwaens alledaags geword het, het die mense afgestomp geraak daarteen.

As so ‘n uitbraak die Verenigde State vandag sou desimeer, dink jy ons nasie sou hulle na God wend? Sou ons wakker word en ons bekeer? Sou die goddeloses uitroep vir  genade en genesing?

Nee! In teendeel – Amerika sou vol wees van die wildste, ongelooflike orgies en partytjie in die geskiedenis van ons nasie. Dit is inderdaad die geskiedenis van elke nasie wat afvallig geword het van God soos ons het!

Terwyl alles in Jerusalem nader gekom het aan ineenstorting, het die rykes en invloedrykes voorsiening gemaak om na veiligeheid te vlug: “Al jou owerstes het almal saam gevlug...almal wat in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug...” (Jesaja 22:3).

Diegene wat wou vlug was leiers, mense wat “geweet het.” En hulle het geweet Jesaja was reg – daardie samelewing het ‘n punt bereik waar hulle nie kon omdraai nie: “Want dit is ‘n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die HERE van die leërskare, in die dal van die gesig – omgooi van mure en geskreeu na die gebergte toe” (Jesaja 22:5).

Hierdie mense het rondgejaag en gekyk hoe hulle een laaste finansiële sukses kon maak waardeur hulle hulself kon beveilig teen die samelewing se ineenstorting. Hulle gesindheid was, “Ek moet gou baie geld maak. Dan sal ek ‘n veilige, beskermde plek kry om weg te kruip.”

Jesaja het presies geweet wat hulle van plan was om te doen. Hy het uitgewys dat die stadstesourier, Sebna, “...hier ‘n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom ‘n woning uithol...” (Jesaja 22:16). Die profeet het in wese gesê, “Kyk! Jou stadstesourier is in die berge, besig om vir homself ‘n skuiling te bou. Hy sê dit is ‘n graf – maar hy is daar om weg te kruip!”

Geliefde, dit is tans die Amerikaanse droom vir menigtes! Die gesegde onder Wall Streeters, besigheidsmense en politici vandag is, “Kry ‘n goue valskerm!” Met ander woorde: “Maak baie geld – en hardloop dan vir die berge!”

Dink daaraan: Waarom koop so baie welgestelde mense plase in Utah, Nevada, Wyoming en Montana? Wat weet hulle wat die meerderheid Amerikaners nie weet nie?

Hulle sien die vyand saamkom by die poort! Hulle weet Amerika kan nie meer hulle ekonomiese selfmoord wetgewing dra sonder om in duie te stort nie. Dit is nie bloot ‘n vermoede van hulle kant af nie; hulle weet die einde is naby. Hulle hou nie partytjie nie, maar berei voor!

Daar is egter geen veilige plek om weg te kruip nie! Jesaja het vir die gewetenslose vlugtelinge in Jerusalem gesê Hy sal “...jou vas inmekaar draai soos ‘n tol garing, jou soos ‘n bal wegslinger na ‘n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer! En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk” (Jesaja 22:18-19). Met ander woorde: “God gaan jou skop soos ‘n voetbal, uit in die ope. Daar is geen veilige plek buite Jesus Christus die Here nie!”

God in Sy barmhartigheid, het een laaste poging aangewend om Jerusalem te red!

Die Here het Sy Gees oor die mense gestuur terwyl hulle partytjie gehou het. Skielik het hulle oë oopgegaan vir die gevaar waarin hulle was: “En die beskutting van Juda word weggeneem...” (Jesaja 22:8).

Ons word nie presies vertel wat gebeur het toe die Heilige Gees neergedaal het en die partytjie onderbreek het nie. Ons weet nie of iemand na die tempel gegaan het om te bid nie en of iemand na Jesaja toe gegaan het om te vra wat om te doen nie. Maar daar was waarskynlik ‘n kort periode waar mense ten minste aan God  gedink het en ‘n paar gebede opgesê het. Diep binnekant het hulle geweet God se hand was in hierdie oordeel.

Miskien onthou jy ‘n soortgelyke toneel in ons nasie ‘n paar jaar gelede. Toe die oorlog teen Irak uitgebreek het, was dit berig dat President Bush ure met sy aangesig op die vloer deurgebring het waar hy saam met Billy Graham gebid het. Die Kongres het ‘n nasionale dag van gebed uitgeroep. Kerke was stampvol. Selfs die koerante in New York Stad het ‘n oproep gedoen tot gebed.

Dit het egter vir een week geduur! Wat het gebeur? Dieselfde dinge het in ons nasie gebeur wat in Jerusalem gebeur het: “En in dié dag kyk jy na die wapens...” (Jesaja 22:8).

Toe die Here die mense van Jerusalem blootgestel het aan gevaar, moes hulle teruggedraai het na Hom. In plaas daarvan, het hulle hul tot eie bronne gewend – die sterkte van hulle wapenrusting! Hulle het vir hulself gesê, “Ons het goeie, stewige skilde. En die stad se muur is sterk. Ons het al die materiaal wat ons nodig het om die bresse te vul. Ons kan onsself versterk.” Eenvoudig gestel, hulle het God het nie nodig gehad nie!

En dit is net hoe ons gereageer het gedurende die Golf Oorlog. Televisie het daaglikse berigte gebring oor die magtige heldedade van ons weermag. Ons het gekyk hoe V.S. tenks vinnig deur die woestyn gedreun en die vyand oorweldig het. Ons het in verwondering gekyk hoe ons vliegtuige laserstraalbomme afgeskiet het en teikens kolskoot getref het. Een generaal het geroem, “Ons is in staat om ‘n missiel op enige skoorsteen in Irak te tref!”

Dit het alles geëindig met ‘n tydtikkerlint parade met Broadway af. Maar was dit eer aan God tot wie ons gebid het? Nee – dit was vir ons generaals! God was heeltemal uit die prentjie gestoot!

Ek verkleineer nie ons weermag nie. Ek dank God hulle was suksesvol. En ek dank God vir die soldate wat hulle land so goed gedien het. Maar die feit bly staan dat Amerika meer op sy militêre mag vertrou het as op Almagtige God! “...Maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie” (Jesaja 22:11).

Dit is waarom Jesaja so hard geween het: ‘n Valse sekuriteit het die mense beetgekry en God was nie langer in hulle gedagtes nie. In plaas daarvan, het almal vasgehou aan ‘n brute selfvertroue wat gesê het, “Ons sal dit alleen doen!”

Vandag is Amerika vasgevang in die misleiding van ‘n valse sekuriteit. Die Russiese ryk het geval. Irak is verslaan. En nou dink ons, “Wie is sterk genoeg om ons magtige leër uit te daag? Daar is niemand oor om ons met bomme aan te val nie. Daar is nie langer die vrees vir ‘n kernbom nie.” Ons vertrou op ons wapenrusting!

Maar wees gewaarsku – Rusland is nie dood nie! Die beer wat die Bybel sê, gewond sal word, sal weer lewend word. En daardie Russiese beer is tans aan die roer. Ek weet nie of dit deur ‘n staatsgreep of deur ‘n verkiesing sal plaasvind nie – maar die twee of drie mans wat in opvolgers is vir die leierskap van Rusland, is almal anti-Christelik, anti-Semities en anti-Amerikaans. Kommunisme is steeds baie lewendig!

Hierdie mans wat binnekort aan bewind sal kom, sal nie bang wees om Amerika of die wêreld te dreig nie. Hulle sal nie hulle vingers van die kernbom se knoppie afhaal nie. En tans is die Russiese leër besig om sy wonde te lek en jeuk om hulle skande voor die wêreld te verwyder. Wanneer dit uiteindelik vrygestel sal word, sal dit sy voormalige state oorwin – en dan Europa dreig met ‘n kernbomslagting!

‘n Diktator sal oornag opstaan – ‘n man wat die hele wêreld bedreig. Hitler het opgestaan uit chaos, en net so sal ‘n nuwe, strydlustige Rusland. Wag en kyk as afgesante van die hele wêreld begin om na Moskou te stroom. Moenie mislei word deur die relatiewe vrede wat ons nasie nou geniet nie. Dit is bloot die stilte voor die storm!

Wat aktiveer God se gevreesde vrystelling van oordeel op ‘n samelewing?

Watter finale verontwaardiging, watter brutale dade, veroorsaak God se oordeel? Wat was Israel se ongeregtigheid wat oordeel aan die gang gesit het? Waarom het God gesê, “Dit is genoeg. Nou het julle te ver gegaan!”

Jesaja gee vir ons die antwoord: “En in dié dag roep die Here, die HERE van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed; maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedring, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons” (Jesaja 22:12-13).

Selfs te midde van hulle brutale rebellie, het God se Gees die mense tot bekering geroep. Tot op die heel laaste was die heilige uitroep in die strate gehoor: “Ween, rouklag, trek die roukleed aan!”

Maar in plaas van rouklag, het die mense aangehou partytjie hou! In plaas van om te treur en te huil, het hulle gerinkink met kos en wyn. Hulle het geredeneer, “Teen hierdie tyd môre sal ons almal dood wees. Waarom moet ons enige van die vee bewaar? Laat ons al die skape slag en een laaste, vraatsugtige feesmaal hou. Gou – bring die wynvaatjies. Ons gaan almal smoordronk word!”

Toet het hulle gedans en gedrink op die dakke, terwyl hulle gekyk het hoe die vyand hulle posisie inneem: Strydwaens het in rye gaan staan. Stormramme het in posisie gerol. Legioene perderuiters het gereed gestaan vir die stryd. Daar was reeds bresse in die muur gemaak. Binne ‘n paar ure, sou alles verby wees. Die burgers van Jerusalem het geweet hulle gaan sterf – dat hulle die ewigheid in die gesig staar.

Ek sou daarvan hou om vir jou te vertel dat teen die uur van die realiteit van die dood, mense na die tempel gestroom het om te bid. Ek sou daarvan jou om vir jou te vertel dat hulle Jesaja gesoek het en hom gesmeek het hoe om God van plan te laat verander en die vyande van die poorte af te verwyder. Maar hulle het nie! Fatalisme het reeds oorgeneem – en die mense het verkies om die dood as ateïste binne te gaan!

Tot op hierdie stadium kon hulle gered word. Die Gees het hulle steeds tot bekering geroep. Maar nou, sou geen hoeveelheid barmhartigheid, vrees of waarskuwings hulle beweeg nie. Dit was asof hulle hul wynglase opgelig het in ‘n heildronk tot God en gelag het in sy gesig: “Dit is op U, God. Sien U in hel!”

Dit was die laaste belediging teen God – dit wat oordeel veroorsaak! En, geliefde, dieselfde gesindheid is algemeen in Amerika vandag. Ons nasie word gekenmerk deur wat genoem word die “sensualiteit van wanhoop.” Die denkrigting is, “Ek weet ek gaan hel toe. Maar ek wil nie God in my gesig hê nie!”

Amerika het sy neus opgetrek vir God!

Waarom so ‘n boodskap? Dit klink so somber!

Jy mag wonder: Wat is die doel van ‘n boodskap soos hierdie? Waarom sal God wil hê ek moet so ‘n profesie deel? Ek glo daar is verskeie redes:

  1. Om ons fokus op die dinge daarbo te hou, sodat ons nie verstrik word deur die wêreld nie.
  2. Om ons te herinner dat God altyd mense soek wat in die bresse sal tree en vir die nasie en hulle medemens bid.
  3. Om ons te laat besef hoe kort die tyd is.
  4. Om ons aan Jesus se woorde aan Sy dissipels te herinner: “En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur” (Johannes 14:29). “Maar let op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Lukas 21:34).

Miskien dink jy, “Broer Dave, ek weet nie hoe te reageer wanneer ek dit lees nie. Ek voel so terneergedruk.”

Nee! Dit is nie die reaksie van een wat voorbereid is om huistoe te gaan om by die Here te wees nie. Sterf is bevordering. Jesus vertel liefdevol vir ons dat as ons hierdie dinge sien begin gebeur, moet ons opkyk en jubel – want ons verlossing kom!

Dit is glad nie nodig om bang te wees nie. God het ons nie ‘n gees van vrees gegee oor sulke dinge nie, maar ‘n gees van krag, liefde, selfbeheersing en ‘n gesonde verstand. Kyk op – jou Verlosser kom! Halleluja!