Die Wonderlike Voordele van Sondebelydenis

Ek wil graag met u praat oor twee baie belangrike aspekte van sondebelydenis:

  1. Wat dit vereis, en
  2. Die wonderlike voordele daarvan!

Hoe langer ek die pad saam met Jesus stap, hoe meer word ek oortuig dat sondebelydenis nie net vir die sondaar is nie, maar ook vir gelowiges. Dit is eenvoudig nie net iets wat jy een keer doen nie, maar God se mense word opgeroep om dit te doen totdat Jesus weer kom.

Ek hoop om u verder te wys dat elke Christen wat sy sonde erken en ‘n berouvolle gesindheid handhaaf, God se spesiale aandag oor sy lewe bring. Niks anders kan vir ons iets oopmaak soos wat sondebelydenis dit kan doen nie. As ons voor die Here wandel met opregte berou in ons harte, word ons oorstroom met ongelooflike seëninge!

Maar vir eers wil ek u vertel wat ek as noodsaaklik ag om ‘n berouvolle hart te verkry. Eerstens is hierdie tipe hart sag en buigsaam. Dit reageer en handel op goddelike bestraffing. Dit is sag en word maklik deur die Heilige Gees gevorm.

Maar die nommer een eienskap van ‘n berouvolle hart – sy absolute basis – is ‘n gereedheid om skuld te erken! Dit is ‘n gewilligheid om die blaam vir verkeerde dade te aanvaar – om te sê, "Ek is die een, Here, ek het gesondig!"

U sien, as daar geen erkennig van sonde is nie, kan daar geen belydenis wees nie:

"Want die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding..." (2 Korinthiërs 7:10).

As ‘n mens nie bereid is om te erken dat jy verkeerd is nie, sê jy eintlik dat jy nie nodig het om belydenis te doen nie. Jy sien jouself asof jy niks verkeerd in God se oë gedoen het nie.

Voor Pilatus Jesus in die hande van die moorddadige priesters en ouderlinge oorgegee het, wou hy vir die wêreld wys dat dit nie sy fout was nie. Daarop het hy beveel dat ‘n skottel met water gebring word, waarin hy sy hande gewas het en homself voor die woedende skare vrygespreek het. Hy het homself onskuldig veklaar aan die bloed van Christus.

"Maar toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!" (Matthéüs 27:24).

Die frase "Julle kan toesien" beteken hier, "Maak seker dat julle almal weet dat my hande skoon is. Ek het niks verkeerd gedoen nie. Ek het geen skuld nie!"

Natuurlik was Pilatus se hande nie skoon nie; hy was op pad om die Seun van God oor te gee aan moordenaars. Hierdie tipe denkwyse sluit ‘n mens af van enige moontlikheid van berou. "Bekeer julle of gaan dood!" die goewerneur sou ontsteld wees. "Wie ek?" sou hy gesê het. "Ek het niks verkeerd gedoen nie. Ek het my hande in onskuld gewas. Hoe kan ek sondebelydenis doen as ek nie gesondig het nie?"

Johannes skryf: "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.... As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. " (1 Johannes 1:8, 10).

Ek het in die kerk grootgeword en tydens my lewe het ek gesien hoe baie kerke in twee verdeel. Elke party sou van die ander ‘n vyand maak totdat een groep afstig en ‘n later ‘n ander kerk begin. Die twee partye sou dan vloeke oor mekaar uitspreek, mekaar beskinder, bespot en vreeslike gerugte versprei oor die ander.

As ‘n mens sou luister na die selfregverdiging van elke party, sal jy verbaas staan dat dit niemand se skuld was nie. Geen Christen aan enige kant sal enigsins enige verkeerde daad erken nie. Inteendeel, hulle kyk eerder na mekaar as "die vyand" en wag dat God hulle vervloek en oordeel. Hulle sê aan hulle opponente, "Wag julle maar net. Wanneer mense in julle kerk begin dood neerslaan, sal ons weet wie reg is!" Dit gaan vir jare so aan! Hulle eien dit aan hulleself toe dat God aan hulle kant is, en hulle bemoedig mekaar met Bybel versies wat hul eie agenda pas. Hulle was hulle hande en sê eintlik, "Ek het niks verkeerd gedoen nie!"

Maar die waarheid is dat albei groepe die Here kwaad gemaak het. Soos Pilatus, is nie een van hulle bereid om belydenis te doen nie – so eindig hulle onder God se oordeel! Hulle word ‘n gemeente van dooies, terwyl hulle in ‘n geestelike wildernis leef. Hulle families is in die moeilikheid. Hulle sukkel om met hulself saam te leef. En dit is alles net omdat niemand enige blaam wil aanvaar nie! Niemand erken, "Ek is die een waarmee gedeel moet word. Ek het gebed nodig!"

Maleagi was ‘n profeet wat deur God gestuur is om Israel te vermaan. Tog het die mense elke keer wat hy met ‘n sterk bewoorde boodskap na hulle gekom het, met spottende onskuld gereageer.

Die eerste keer wat Maleagi na hulle gegaan het, het hy gepreek en gesê, "Julle het die heiligheid van die Here ontheilig! Julle weet hoe om te huil en die altaar met julle trane te bedek, maar God het al julle offerhandes verwerp – want julle leef in sonde!"

Die mense het met skok gereageer en geantwoord, "Maar hoekom? Wat het ons verkeerd gedoen?"

Maleagi het geantwoord: "...julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het..." (Maleagi 2:13-14).

Hulle sonde was dat hulle hul vrouens geskei het en met heidense vrouens gaan trou het. En al die tyd het hulle steeds na die altaar gegaan, godsdienstige aktiwiteite uitgevoer, vol sonde in hulle harte. Hierdie mans het openlik teen God se bevele gerebelleer, maar het dit teenoor hulself ontken en gesê, "Wat bedoel jy? Ons is skoon!"

So het Maleagi ‘n tweede keer na hulle gekom en gesê, "Julle vermoei die HERE met julle woorde..." (Maleagi 2:17). Met ander woorde: "Dit wat julle sê, het God geskok. Julle onheiligheid het Hom vermoei!"

Weer het die mense kamma onskuldig gereageer: "...Waarmee vermoei ons Hom?..." (Maleagi 2:17).

Hulle het eintlik gesê, "Hoe kon ons God moeg gemaak het? Ons het niks verkeerd gedoen nie."

Maleagi het geantwoord: "...Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die HERE, en in julle het Hy ‘n behae; of waar is anders die God van die reg?" (Maleagi 2:17).

U sien, die mense het kwaaddoeners in die gemeente aangemoedig. Hulle het geweet dat hierdie rebelle in sonde lewe – maar hulle het hulle verseker dat alles reg is en dat hulle nie onder ‘n oordeel sou val nie. Eenvoudig gestel, hulle het God se boodskap verdraai – hulle het kwaad goed genoem en goed kwaad. Tog het hulle vir Maleagi gesê, "Hoekom sê jy hierdie dinge? Ons is onskuldig aan enige verkeerde dinge."

Weer het Maleagi na hulle terug gekom en dit hierdie keer uitgeroep: "Julle het God beroof!"

En weer het die mense met hulle verstokte reaksie geantwoord: "Wat bedoel jy? Hoe het ons God beroof?"

Maleagi het geantwoord: "...In die tiende en in die offergawe" (3:8).

Hy het gesê, "Julle bring net gemors na die Here se altaar toe! Julle offer diere wat lam, blind en mank is. Hierdie is nie die tiendes en offergawes wat aan God behoort nie. Julle beroof Hom van julle beste!"

Ten laaste het Maleagi moed opgegee omdat die mense nie na hom wou luister nie. Die laaste hoofstuk van hierdie boek vertel ons hoe hy by hulle almal verbygegaan het en na ‘n klein, oordeelkundige, berouvolle oorblyfsel van die volk gegaan het. Hierdie mense het God se bestraffing aanvaar en hulle was diep getref deur die Gees van God. Hulle het op Maleagi se oortuigende woorde gereageer – en die gevolg was dat God hulle kragdadig geseën het!

Dawid het gedurig sy hart voor God ondersoek en hy was gou om uit te roep, "Here, Ek het gesondig. Ek het gebed nodig!" "My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortreding bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe..." (Psalm 32:5).

Om sonde besef te hê beteken nie net om te probeer om dinge met die persoon aan wie jy ‘n onreg gedoen het, reg te maak nie. Nee – dit gaan daaroor om dinge met God reg te maak! God is die Een teen wie ons gesondig het. Ja, ons moet ook ons broers en susters om vergifnis vra wanneer ons hulle ook al kwaad aangedoen het. Maar die belangrikste is om ons sonde voor God te bely. Dawid het gesê: "Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou " (Psalm 51:5-6).

Dawid het daarin geglo om sy hart te ondersoek – hy het geglo in die streng dissipline om sonde uit sy hart te delg: "Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!" (Psalm 139:23-24).

Hierdie man het gedurig sy hart oopgemaak vir God se soeklig. Hy het gesê, "Here, kom en ondersoek elke hoekie van my lewe. As ek op enige wyse teen U gesondig het en ek weet nie daarvan nie, kom en openbaar dit asseblief aan my. Ek het berou!"

Miskien ondersoek u ook u hart. Maar tog kom u weg van wat die Gees deel en sê, "Dankie tog, ek is skoon. Ek het geen sonde in my nie. "Geliefdes, u word mislei! Die Skrif sê dat almal gesondig het en ontbreek aan die heerlikheid van God. "Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee volgens sy weë, volgens die vrug van sy handelinge" (Jeremia 17:10)

Jesaja het bely: "Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede – ons ken hulle" (Jesaja 59:12).

Die profeet het gesê, "Ons weet alles van ons eie sondes af!" Natuurlik weet God wanneer ons verkeerde dinge doen of sê, maar ons weet dit ook!

Wat was hierdie bekende sondes waarvan Jesaja gepraat het? Dit was "...die afval en verloëning van die HERE en afwyking van agter ons God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart " (Jesaja 59:13).

Daar is een sonde op hierdie lys wat ons maklik regverdig – en dit is om uit ‘n eerlike hart onwaarhede te spreek. Dit beteken om vir iemand iets te vertel wat jy gehoor het en wat jy glo is waar, maar in werklikheid nie waar is nie. Jy mag dit "uit jou hart uit" sê – tog is daar geen manier om verby hierdie leuens te kom nie!

Sommige Christene dink dat hulle feitlik enigiets oor enige iemand kan sê solank hulle opreg daaroor is. Hulle redeneer, "Ek bedoel nie om iemand seer te maak nie. Dit mag dalk nie wees wat ander daaroor dink nie, maar ek glo met my hele hart dat dit waar is."

Tog, wat as die woord van ‘n goed bedoelde hart ‘n leuen is? Hoe kan enige Christen dit regverdig om so iets te sê? Hoe kan enige iemand dink, "My hande is skoon"? Selfs as daardie afbrekende stukkie inligting wat oorvertel word waar is, dan word daar so maklik 'n stertjie aangelas en dan gaan die waarheid verlore en word dit vertrap! Daarom verbied God 'n kwaadpratery, "Spreek nie voortdurend al te hoog nie. Laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie, want die HERE is ‘n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef" (1 Samuel 2:3).

God weet – en ons weet – alles oor ons sondige tonge. En Hy sal geen kwaadpraat of skinder duld nie, al kom dit ook al op watter manier!

Esra was ‘n goddelike skrifgeleerde, hy het die wet van die Here liefgehad en het omsigtig voor Hom gewandel. Hy was ook ‘n groot gebedsoldaat en ‘n getroue prediker van God se Woord. Dit sou moelik wees om te glo dat hierdie man enige sonde moes bely.

Maar Esra se hart het gebreek oor al die kompromieë wat hy onder God se mense gesien het. Toe hy Jerusalem toe was, het hy onreinheid, afgodery en gemengde huwelike gesien. Natuurlik was nie een hiervan sy sonde nie – tog het hy nie daaroor gespog en gesê, "Almal rondom my mag besig wees om terug te val, maar my hart is reg voor God!" nie. Nee! In plaas daarvan, het Esra homself op die grond neergewerp, hy het gehuil en sonde bely asof die sonde van die mense sy eie was. Hy het homself met God se mense geïdentifiseer – en hy het gedeel in hulle skande!

"...terwyl Esra bid en hy wenende neerval en belydenis doen voor die huis van God, ...geen brood het hy geëet en geen water gedrink nie, want hy het rou bedrywe oor die ontrou van die ballinge" (Esra 10:1, 6). "...het ek op my knië my gebuig en my hande uitgebrei na die HERE my God en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog" (9:5-6).

Esra het nie net sy eie swakheid bely nie, maar die sondes van die hele gemeente. Hy het getreur, gehuil en die hartseer van die sonde wat deur die hele huis van God versprei het, gevoel. Ek vra u: Neem u berou en sondebelydenis so ernstig op?

Daniël het dieselfde soort berouvolle hart gehad. Hy was ‘n regverdige man van gebed en toewyding en het so heilig gelewe dat ‘n mens nie van hom sou verwag om berou te hê en te bely nie. Maar Daniël se hart was sensitief vir sonde – en hy het homself ook met die vreelike sondes van die mense geïdentifiseer: "Here, aan ons kom toe die beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het… Ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van U gebooie en verondeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte die profete, wat in u Naam gespreek het nie, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie" (Daniël 9:5-10).

Daniël het herhaardelik die woord ons gebruik. Hy het kortliks gesê: "Ons elkeen word geaffekteer!"

Die sleutel word in die volgende vers gevind: "En terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God" (Daniel 9:20).

Daniël het gesê, "O, God, deel met my terwyl U met U mense deel. As daar enige swakheid by my is, bring dit uit en wys my!"

Geliefde, die Here het in die laaste paar weke hierdie boodskap aan my geopenbaar. Ek het gehoor dat ‘n baie beledigende ding oor my gesê is. Dit het my hart diep geraak en seergemaak. Ek het vir ‘n hele week daaroor gekla en God gevra, "Waarom ek, Here?"

Die volgende week was ek by ‘n vriend en ek het begin praat oor kwaadpraat. Ek het die persoon wat my beledig het se naam genoem en elke bose woord wat hierdie man gespreek het, herhaal.. Ek het gekla, "Dit is alles ‘n leuen uit die hel – en dit maak my seer!"

Daardie nag by die huis, het God se Gees met my gepraat: "Hoe is dit wat jy aan jou vriend gedoen het enigsins verskillend van wat aan jou gedoen is?" Ek het gedink, "Wat bedoel U, Here?" Die Heilige Gees het gefluister, "Jy het op jou beurt weer kwaad gepraat van daardie man, deur te vertel wat aan jou gedoen is. Jy is net so skuldig!"

Alles wat aan my in privaatheid vertel is, het ek aan iemand anders gaan vertel en in daardie persoon geplant! Onmiddelik het ek voor die Here in berou neergeval. En van daardie dag af, het Hy my gewys hoe versigtig ek met woorde moet wees.

Nie lank voor daardie insident nie, het ek ‘n oproep van ‘n pastoor in die Weste ontvang. Die pastoor het genoem van ‘n sekere evangelis wie ‘n gesamentlike kennis van ons is. Hy het gesê, "Ek moet jou vertel, broer Dawid, ek is bekommerd oor hierdie man. Hy het gebed nodig, en ek vra jou om ook vir hom te bid. Hy het sy salwing geheel en al verloor. En elke keer wat ek hom sien, het hy gewig verloor. Dit gebeur alles omdat hy na ‘n vrou in ons dorp wat ‘n Isébel gees het, luister. Hy is onder haar invloed!"

Skielik het alles vir my duidelik geword. Hierdie pastoor het goed bedoel en was waarlik bekommerd. Maar hy was besig om kwaad te praat oor ons evangelis vriend – en ek was net so skuldig deur na dit alles te luister!

Die Heilige gees het my in my hart aangespreek terwyl ons nog op die foon was. Ek het dadelik aan die pastoor gesê, "Broer, los dit – moenie nog ‘n woord sê nie! Los dit alles in God se hande." Ek wou nie my lippe besoedel of my gees vergiftig nie. En ek glo dat as ek vandag met daardie evagelis sou praat, sou hy sê, "Ja, ek weet van die gerugte wat rondgaan, en dit maak my seer. Maar, nee, hierdie vrou is nie ‘n heks nie. Sy is ‘n goddelike, biddende Christen!"

Die aaklige dinge wat ek van daardie man gehoor het, het 'n verkeerde gesindheid in my eie hart gelaat waarmee ek moes afreken. ‘n Saadjie van wantroue is in my geplant en ek voel steeds die seer daarvan. Die enigste manier wat daardie saadjie nou sal uitkom is deur vir hierdie evangelis vriend van my te bid en hom lief te hê. Net dan sal al die gemors ontwortel word!

‘n Man in ons kerk het my onlangs na ‘n diens kom sien. Hy het gesê dat hy slegte gerugte oor sy vorige kerk in ons kerk versprei het. Maar God het hom van sy kwaadpraat oortuig en nou voel hy baie sleg daaroor. Die moeilikheid was dat hy net ‘n oproep van ‘n man in sy vorige gemeente ontvang het. Daardie man wou oor sy kerk skinder al was hy nog steeds ‘n gemeentelid daar. Die man het my vertel, "Ek weet wanneer hy in my huis kom, gaan hy wil praat oor ons ou kerk, maar ek wil nie meer enige skinderpraatjie hoor nie. Ek is siek en sat daarvoor!"

Bose saad van kwaadpraat bring net hartseer – aan die saaier en aan die hoorder!

Die boek van Daniël noem verskeie voordele vir die wie ‘n berouvolle hart het. Ja, vir almal wie hulle sonde erken, doen God die wonderwerke!

Ek wil net graag vier van die baie voordele van sondebelydenis aan u uitwys. Daniël het hierdie vier dinge ontvang as gevolg van sy innige belydenis. En elkeen daarvan is vir ons beskikbaar as ons net wil bely:

1. Een voordeel is ‘n nuwe en duideliker beeld van Jesus Christus.

Lees wat het na Daniël se berou gebeur: "Ek het my oë opgeslaan , en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksems en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte Toe het ek alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien..." (Daniel 10:5-7).

Wie dink u was hierdie persoon wat Daniël in die gesig gesien het? Dit was Jesus! Wat ‘n wonderlike voordeel het die Helige Gees aan Daniël geopenbaar toe hy sy sonde bely. Hy het hom ‘n duidelike gesig van Christus in al Sy heerlikheid laat sien!

Verstaan dit asseblief: Daniël het nie gebid om hierdie gesig te ontvang nie. Al wat hy gedoen het was om berou te hê oor sy sonde en belydenis te doen. Jesus het in hierdie openbaring dit op homself geneem om na Daniël te kom; die Here het dit geïnisieer! U sien, wanneer ons berou het en ons dinge met God en met ander regmaak, hoef ons nie ‘n openbaring te soek nie. Jesus sal homself aan ons openbaar!

Daniël het ook vriende gehad wat godvresend was, omdat hy tussen die regverdiges gewandel het. Tog sê die Skrif dat nie een van hulle die gesig gesien het wat Daniël ontvang het nie: "...die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; maar nogtans het ‘n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ek alleen oorgebly..." (verse 7- 8).

‘n Ware berouvolle hart hoef nooit vir die Here weg te kruip nie – omdat daar nie meer langer enige vrees vir oordeel is nie! As u u sondes erken, berou toon en restitusie doen, kan u met vertroue in die Meester se gesig kyk. U hoef nie meer te sidder van vrees wanneer u die donderende woord van God se bestraffing hoor nie – want u sal Christus in al sy heerlikheid sien. U sal voor sy vlammende oë staan terwyl al die ander wegvlug!

2. ‘n Tweede voordeel van berou is die verwydering van alle vrees.

"En kyk ‘n hand het my aangeraak ... En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek... Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom " (Daniël 10:10-12).

Wys my ‘n Christen wat weier om sy sonde te erken – een wat sê, "My hande is skoon" – en ek sal u iemand met valse vroomheid wys. Sulke mense glimlag, het ‘n selfversekerd stappie en roem daarin dat alles goed gaan. Maar dit is alles ‘n fasade! Die Bybel maak dit duidelik dat enigiemand wat sy sonde wegsteek, nie vooruit sal gaan nie. God neem sy Gees van hom af weg en sy siel word rondgeslinger soos die golwe. Sy onberouvolle hart is vol vrees en rusteloosheid!

Maar wys my 'n Christen vol berou - een wat sensitief is vir sonde, gewillig is om ondersoek te word en uit te roep, "Ek is skuldig, O God!" - en ek sal u iemand wys wie binnekort sonder enige sweempie van vrees sal wees. God sal Sy magtige hand in die gelowige se hart insteek en alle wortels van vrees uitruk. En gou sal daardie persoon die onmeetlike guns en seën van God ontvang!

"...Daniël, geliefde man ...staan..." (Daniël 10:11).

Jesus het vir Daniël gesê, "Staan regop, berouvolle, belydende man! Ek gaan al jou vrees wegneem. En Ek gaan jou op die been bring en jou seën met my guns!"

Geliefde, laat God u hart ondersoek. Vra die Heilige Gees om alles wat u gesê of gedoen het wat Hom bedroef het aan u te openbaar. Dink aan die mense oor wie u geskinder het of kwaad van gepraat het, en erken hoe sondig dit was. Gaan na of bel daardie persoon en doen restitusie.

Dit is nie genoeg om te sê, "As ek enigiets verkeerd teen jou gedoen het …" Dit is nie berou nie. Berou is om te erken dat wat jy gedoen het, ‘n sonde was! So uit daarmee. Vertel die persoon presies wat u gesê of gedoen het en maak dit reg.

Ek belowe u – as u dinge regmaak, sal u in u lewe soveel guns van God vrystel soos wat u nog nooit belewe het nie! Die Here sal u oë, u ore en u verstand oopmaak – en u sal ‘n openbaring kry van dinge wat moet kom: "Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val..." (vers 14).

3. ‘n Derde voordeel van sondebelydenis is ‘n nuwe paar lippe.

Daniël het nuwe lippe wat deur God se reinigende hand aangeraak was, gekry: "En kyk, een wat soos ‘n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek..." (Daniël 10:16).

Wanneer Daniël gepraat het, het hy gepraat "asof hy met die Here praat"!

Jesaja was ‘n goddelike man wie kragtige woorde geprofeteer het. Maar toe hy voor die Here in al Sy heerlikheid gestaan het, kon hierdie profeet net sê, "...ek is ‘n man van onrein lippe..." (Jesaja 6:5).

God het die kole van die altaar geneem en die tang op Jeaja se lippe gesit en al die drek, self en vlees weggebrand – alles wat nie soos Hy was nie. En Hy het Jesaja ‘n nuwe paar lippe gegee! Ek glo die profeet het nooit weer nodig gehad om sy lippe te reinig nie.

Tog doen God dit vir elke persoon wat sondebelydenis doen! Wanneer u tong en lippe eers gereinig is, sal u nooit weer iets wil spreek wat nie soos Jesus is nie. Die woorde uit u mond sal rein wees!

4. Laastens, ‘n vierde voordeel van sondebelydenis is vrede en krag.

"...vrede vir jou, wees sterk, ja sterk!. En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en het gesê: My Heer kan maar spreek, want u het my versterk" (Daniël 10:19).

Daniël se siel was in benoudheid en angs. Hy het oor sonde getreur – gebid, gevas, gehuil – en dit het hom plat op die grond gehad, totaal gedreineer. Hy het gekla: "...deur die gesig het krampe my oorval en ek het geen krag oorgehou nie" (Daniël 10:16).

Toe het Jesus na hom gekom en sy liggaam aageraak. En skielik is Daniël gevul met vrede en krag. "... Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja sterk...." (Daniël 10:19).

Jesus het aan Daniël gesê, "O, Daniël, Ek het jou lief. En Ek wil jou My vrede gee. Staan nou op en wees sterk!"

Die berouvolle Christen kan neerslagtig, moedeloos en oorweldig wees deur sonde en moegheid. Maar die Here kom altyd om sy liggaam aan te raak - om hom nuwe krag en vrede te gee!

Ek vra u : Het u ‘n eerlike, berouvolle hart? Wil u een hê? Val vandag op u knieë neer en roep uit en doen sondebelydenis – vir uself, vir u familie, vir u geliefdes, vir u kerk. U sal ‘n ongelooflike openbaring van die Here ontvang. U sal begin praat met rein lippe. U sal nie langer in enige vrees van enige aard lewe nie. En u sal vrede en krag van God se magtige hand ontvang.

Die beste van alles is dat al hierdie voordele daagliks oorvloedig aan u geskenk word: "Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil" (Psalm 68:20).

Dit is wanneer u die blydskap sal ken om in sondebelydenis te wandel.

Halleluja!