Die Waarheid Oor Judas — Verraaier van Christus

David Wilkerson

“Judas Iskáriot, wat ook die verraaier geword het” (Lukas 6:16).

Hy was ‘n self uitgesoekte dissipels van Jesus Christus: ‘n verkondiger van die evangelie, ‘n geneser van die siekes, ‘n reisgenoot van Jesus. Hy was so vertrou dat hy die penningmeester gemaak is van die apostoliese evangeliespan. Hy is nie deur stemming verkies tot die posisie nie – Jesus self het Judas uitgekies vir die werk.

Volgens Augustinus sê tradisie “Jesus het Judas dikwels uit die dood verlos, en vir sy onthalwe sy pa van verlamming en sy ma van melaatsheid genees, en ná Petrus, het Hy hom hoër geag as al die ander dissiples.”

Maar ons weet sekere dinge aangaande Judas as ‘n voldonge feit: dat Jesus sy voete gewas het, hom sy brood in Sy eie beker laat dompel het, en hom die penningmeester gemaak het. Dit was egter die einste man wat Jesus in die Tuin van Getsémané verraai het – met ‘n soen van die dood!

Judas het ‘n wilde bende van Joodse offisiere in die tuin binnegelei, waar hy Christus geïdentifiseer het met ‘n soen. Na die soen, het Jesus in Judas se oë ingekyk en gesê, “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ‘n kus?” (Lukas 22:48). Hy het in wese gesê, “Is dit hoe jy my verraai, Judas – met ‘n kus, ‘n teken van toegeneëntheid?”

Ek wonder wat het deur Judas se gedagtes gegaan terwyl die toneel ontvou het:

Die bende het agteroorgeval toe Jesus se Naam genoem is. Toe, skielik, het hulle almal opgestaan in demoniese woede, swaarde en stokke geswaai – en hulle het Christus geboei en Hom na die huis van Annas gesleep. Vroeë kerkskrywers beskryf die toneel as volg:

“Sommige van hulle het Hom aan sy klere gegryp, ander aan die hare van sy hoof: sommige het Hom aan die baard gegryp, ander het Hom met woedende vuiste geslaan, en steeds smoorkwaad, omdat Hy hulle met ‘n woord agteroor neergegooi het, het hulle Hom op Sy rug gegooi, en Hom wreed onder hulle vuil voete vertrap het.... Soos ‘n brullende leeu sy prooi oor die grond sleep, dit verskeur en trek, so het hulle Christus oor die grond gesleep, spuwend, terwyl hulle Hom slaan en aan die hare trek....”

Dit word bevestig deur die Skrif: “Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul” (Psalm 22:13-14).

Judas se verraad van Jesus was so afskuwelik, so duiwels, dat een vroeë kerkvader gesê het: “Dit sou goed vir die wêreld wees, veral vir die kinders van God, dat Judas alleen in hierdie oortreding was, dat daar geen ander verraaiers daarin was behalwe homself nie.” Met ander woorde: Dit sou goed gewees het as daar net een Judas was.

Maar die wêreld is in der waarheid vol van Judas se soort! Die kerk sien steeds die verraad van Jesus Christus elke dag. Die gees van Judas is baie lewendig in die harte van talle voormalige volgelinge van Christus – en ook binne die mure van die kerk!

Ek wil vir jou ‘n reguit, prontuit vraag vra: Kon jy ‘n verraaier van Christus wees en dit nie weet nie? Het jy Jesus uitverkoop en Hom verraai? Verraaiers is diegene wat eens lojaal was aan die een wat hulle verraai. Slegs diegene binne die laer kan verraaiers wees.

Daar is twee feite wat ek met jou wil deel oor Judas. Dit mag dalk jou verras – maar moet hulle asseblief nie ligtelik opneem nie. Ek glo dit was aan my gegee deur die Heilige Gees as ‘n waarskuwing vir jou siel!

Feit nommer een: Die hoëpriesters en godsdienstige leiers het Judas nie nodig gehad om Christus gevange te neem nie.

Jesus kon maklik gevang gewees het sonder Judas se hulp. Hy het in die sinagoges, strate en markpleine onderrig. Sy gesig was een van die mees herkenbare in die hele Israel en Juda. Die Skrif sê die mense het Hom gevolg selfs na die stil plekke waar Hy Homself afgesonder het om te bid!

Jesus het vir die arresterende bende gesê, “Het julle soos teen ‘n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie” (Matthéüs 26:55). Met ander woorde: “Julle is goed vertroud met my – My gesig is welbekend aan julle. Waarom hierdie skielike aanval asof Ek ‘n algehele vreemdeling vir julle is?”

Dit is duidelik dat Judas se soen nie nodig was om Christus te identifiseer nie – omdat Christus se vyande Hom reeds goed geken het! Sy gesig was ingeëts in hulle gewetes. En die aura van Sy magtige teenwoordigheid was genoeg om Hom te identifiseer.

Inderdaad – dit is duidelik die oortreders van hierdie misdaad het Judas nie nodig gehad nie. Hulle het hom in der waarheid verag. Hulle het hom ligtelik opgeneem, hom gebruik en hom vinnig eenkant toe geskuif. Toe hy skielik berou gehad het oor hierdie verraderlike daad en die geld op die grond neergegooi en geskree het, “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai” (Matthéüs 27:4), het die Joodse leiers bloot vir hom gelag.

Hulle het gesê, “Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien” (Matthéüs 27:4) wat beteken, “Dit is jou probleem – hanteer jy dit. Ons het nie jou of jou trane nodig nie!”

Judas was nie nodig vir Jesus se hofsitting of sy kruisiging nie. Hy was in werklikheid nie daar vir een van die twee nie. Teen die tyd wat Christus gekruisig is, was Judas reeds dood, nadat hy selfmoord gepleeg het binne vier-en-twintig uur na sy verskriklike daad.

Feit nommer twee: Satan het ‘n Judas nodig gehad!

Satan was agter die skerms waar hy elke verraderlike skuif georkestreer het. Sy strategie was om ‘n verraaier te kry – iemand naby aan Christus, iemand wat Hy vertrou het, een was veronderstel was om onder Sy sorg te wees. Hy moes egter een hê wie se hart geneig was tot gierigheid – iemand wat hy kon verlei, swak maak en vrae en vertwyfelinge in sy gedagtes kon plant. Dan kon hy hom beset en hom in ‘n verraaier verander!

Jy sien, Satan wou baie meer hê as sy demoon-geleide bende wat die tuin binnegaan en Jesus gevange neem. Hy wou hê die hele affêring moes ‘n stelling maak – om ‘n sataniese getuienis te wees! Hy wou hê ‘n demoniese getuienis moes hardop weerklink in elke gebied van die skepping. En hier is die stelling wat hy wou maak:

“Jesus Christus kan jou nie bewaar nie – Hy kan selfs nie eens Sy eie mense red nie! Hy is nie ‘n ware Verlosser of ‘n Bewaarder van mense se siele nie. Hy het misluk om Judas te bewaar – en Hy het misluk om my, een van Sy engele te bewaar, en al die ander wat saam met my geval het. Ek gaan bewys dat Jesus geen mag het om iemand van struikeling te red nie. Hy sal jou oorgee aan jou vyand!”

Judas moes die duiwel se geïllustreerde preek wees oor hoe magteloos Jesus Christus was om die verlorenes te red – omdat Hy nie Sy eie dissipel kon red nie!

Satan wou dit laat lyk asof hy Judas uit die Meester se hande gegaps het. Hy wou wys hy het die mag om iemand naby aan Jesus te nader en hom willens en wetens weg te neem – en Jesus sou dit toelaat! Hy kon reg in die Here se trop inmarsjeer soos ‘n brullende leeu, ‘n lam met sy tande steel, hom verdoem en verwoes en veroorsaak dat hy selfmoord pleeg.

Laastens, toe die tyd sou aanbreek om Judas so ver te dryf om selfmoord te pleeg, sou Satan sy getuienis uitgeskreeu het teenoor die hele hel, hemel en die wêreld: “Sien julle wat met hierdie man gebeur het? Kyk na hom, hy was ‘n dissipel van Jesus. Maar Jesus kon hom nie bewaar nie!”

Satan moes ‘n Judas gehad het! Hy wou hom gebruik om sy demoniese stelling te verkondig aan drie verskillende realms:

1. Satan wou eerstens ‘n stelling maak teenoor al die owerhede en magte van die duisternis. Ek glo die duiwel het beplan om Judas se val te gebruik om sy eie val en die val van daardie engele, wat by hom aangesluit het in sy rebellie, te regverdig!

As die duiwel ‘n intieme dissipel van Jesus kon verwoes – een wat self duiwels uitgedryf, die siekes genees, wonderwerke verrig het en in die volste lig van waarheid gewandel het – dan sou hy vir elke gevalle engel en demoniese mag kon sê: “Sien? God se liefde is onvolmaak. Sy deernis het tekort geskiet! Dit was lank gelede geprofeteer dat Judas sou kom, en tog het God niks gedoen om hom te beskerm of te red nie.

“God sou my ook bewaar het – Hy kon ons almal weerhou het van hoogmoed. Maar nou kan jy duidelik sien dat God weer misluk het om Sy eie te bewaar!”

2. Satan wou ‘n stelling maak aan al die heilige engele. Hy wou pyle van twyfel in die hemel self inskiet om die getuies in die hemel wat nie gevalle en besoedel is nie, te bederwe.

Moenie vir ‘n oomblik dink dat die duiwel sy stryd laat vaar het om die hemele neer te bring en homself as God te verhef nie. Hy is die aanklaer van nie net die broeders nie, maar van alles wat van God af is – insluitend die engele!

Na Judas se selfmoord, het Satan vir hulle in die hemel geskreeu: “God kon nie eens een van Sy eie dissipels red nie – en Hy het ons, Sy geskepte engele nie bewaar nie. Wat laat julle dink Hy sal julle bewaar?

“Hy het die mens geskep, en nou is dit duidelik Hy kan nie die mens bewaar nie. Sy eie mense het Hom verraai! So, wat verhoed nóg ‘n rebellie onder julle?”

Ons weet die stryd duur steeds voort, dat Satan steeds veg teen die hemelse leërskare. Hy het met die aartsengel Mígael geveg, wat die Woord van God aan Daniël wou bring. En hy gebruik sekerlik vandag elke leuen en diaboliese strategie om twyfel en rebellie in die leërskare van Jehova te probeer plant!

3. Die ergste van alles, Satan se stelling was bedoel vir die mensdom – vir jou en my! Die boodskap wat hy gestuur het, was primêr bedoel vir God se kinders op aarde. Hy wou dit gebruik om alle geloof te vernietig!

Die duiwel ken die Skrifte goed – en hy weet dat alle daaropvolgende geslagte sou terugkyk na die eerste gebeurtenisse as voorbeelde “aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Satan wou ook ‘n voorbeeld hê – ‘n patroon om vir elke daaropvolgende geslag te wys dat hy daarop aanspraak gemaak het, dat God misluk het om Sy eie kinders van struikeling te bewaar. Die verraad van Judas was bedoel om die geloof van God se kinders in Sy reddende, bewarende krag te skud en te ondermein.

Wat daarvan, sê die duiwel, as Jesus Judas as ‘n “duiwel” geopenbaar het: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!” (Johannes 6:70). Satan antwoord, dit is selfs ‘n nog groter getuienis van my krag! As Jesus geweet het Judas het die duiwel in hom, waarom het Hy Hom dan nie oorweldig nie? Waarom het Hy Judas laat voortgaan as ‘n duiwel? Waarom het Hy my nie uitgedryf nie?

“As God nie kon sorg vir Sy eie dissipels nie, hoe kan Hy vir jou sorg?”

Geliefde, die vyand wil ‘n saadjie van twyfel in die gedagtes van alle mans en vroue saai – en Hy wil sy boodskap keer op keer herhaal, so lank as wat die Here ‘n aarde het, sal hy skreeu van – geslag tot geslag, tot by die ewigheid: “God kan nie Sy kinders bewaar nie!”

Verbeel jou wat die hoëpriester en die Joodse Raad moes gedink het toe hulle met Judas, die armsalige man voor hulle, ‘n transaksie beklink het. Hulle het hierdie duiwelse voorbeeld gesien van Christus verraai en in ondergang beland. Hulle moes vir hulleself gesê het, “Ons is reg! Jesus is nie God, of die Seun van God nie. As Hy was, sou Hy gekeer het dat hierdie dissipel geval het.”

Jy kan sien hoe hulle hul boekrolle oopmaak en aanhaal: “Dit is geskryf deur die Psalmis, ‘Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder...Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil’ (Psalm 121:4-7). As Jesus God was, sou Hy hierdie Skrif vervul het!

“Ook is dit geskrywe: ‘Want Hy is wat jou sal red uit die net van die voëlvanger...Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie” (Psalm 91:3,10). Jesus kan nie God wees nie, omdat Hy toegelaat het dat Judas verstrik word. Boosheid het hierdie man oorval – en hy was ‘n intieme dissipel!” “As Jesus God is, waarom bewaar Hy nie hierdie man nie? Waarom word Judas nie verlos nie?”

‘n Paar weke gelede, gedurende ons Vrydag gebedsbyeenkoms, het ons die getuienis gehoor van ‘n moeder en haar tiener dogter wat aangeval is deur ‘n jeugbende. Die bende het die meisie se klere geskeur en haar ma aangerand. Op een of ander manier het hulle sonder enige verdere skade ontsnap.

Toe hulle vorentoe gekom het om te getuig, het die moeder ‘n sonbril gedra om haar swart geslane oë weg te steek. Nou sukkel die dogter met haar geloof. Sy het in trane vir my gesê, “Kyk na my lip – ‘n meisie het my daar gebyt en nou het ek hierdie letsel vir my lewe lank. Pastoor Dawid, my moeder het die Here vir so lank gedien. Waarom het God toegelaat dat dit met ons gebeur? Waarom werk Sy beloftes nie? Waar was Hy?”

‘n Paar maande gelede, het vure en plundery deur Los Angeles versprei. Maar vir die eerste paar dae van daardie opstande, was al die Teen Challenge sentrums in daardie gebied gespaar, insluitend ‘n groot winkel in die hart van die stad. Daardie winkel word gebruik om klere en toestelle, wat teen kosprys verkoop word om die armes en behoeftiges te help, in te stoor.

Toe, op die derde of vierde dag van die opstande, was die winkel afgebrand tot op die grond. Sowat 5,000 vierkante voet van goedere en spasie was heeltemal vernietig. Niks het oorgebly nie!

Sommige van die jong Teen Challenge bekeerlinge het gevra: “Waar was die engel van die Here? Waar was die beskerming? Dit was ’n goeie onderneming in God se naam. Waarom het Hy toegelaat dat alles vernietig word?”

In hierdie moeilike tye, wanneer alles geskud word, sal Satan probeer om groot vrees by jou in te boesem!

Meer en meer gaan jy hoor van God se mense wat deur beproewing en lyding van allerhande soorte gaan. En Satan sal daardie voorbeelde gebruik om jou te probeer oortuig dat God nie daar sal wees wanneer jy Hom nodig het nie – dat Hy jou nie van die bose sal bewaar nie!

Ons is uitstekende voorbeelde van geloof in beproewing gegee: Volgens kerktradisie, was die apostel Paulus onthoof. Hebreërs 11 lys die helde van die geloof wat op brandstapels verbrand is, lewend afgeslag is, in olie gekook is – alles omdat hulle hulle getuienis van die Here Jesus Christus nie wou terugtrek nie.

My boodskap hier is egter nie bedoel om te handel oor waarom God se kinders ly nie – waarom sommige toegelaat word om soveel te verduur wanneer Sy beloftes so magtig is nie. Ek ken nie al die antwoorde daarop nie. Maar ek weet wel dat Paulus die volgende gesê het: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18).

Niks kan vergelyk met die heerlikheid waarna ons uitsien nie! “As ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17).

Ek weet ook dat God lyding gebruik om ons voor te berei. Ons sal deur ekonomiese lyding, siekte en ander beproewing gaan. Ek weet nie waarom my vrou, Gwen, soveel verskeie kere kanker gehad het nie, of waarom my dogters Bonnie en Debbie kanker gehad het nie. Ek verstaan nie daardie soort lyding nie.

Maar ek weet dit: As jy nie voorberei word deur beproewings nie, sal jy luister na die duiwel wanneer hy vir jou fluister, “God is nie ‘n Bewaarder van sy kinders nie” – en jy sal soek na ‘n maklike rit na die hemel toe! Jy sal jou wend na een of ander voorspoedskerk om jou ore gestreel te hê. Dan, wanneer die eerste probleem opduik, sal jy op die ou end al jou geloof wegsmyt – omdat dit nie jou diepste probleme en behoeftes aangespreek het nie!

Wat was agter Judas se val? Hoe het hierdie dissipel ‘n verraaier geword? Dit is belangrik om te weet – omdat dit vir ons ‘n waarskuwingsteken gee van ons eie lewens, voor ons ook struikel en val:

1. Die liefde vir geld het wortel geskiet in Judas se hart!

“Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee” (Lukas 22:4-5).

Die woord “ooreengekom” beteken hier “onderhandel.” Terwyl Judas voor hierdie bose priesters gesit het, wou hy nie net skik vir net vyftien of twintig stukke silwer nie – hy moes dertig hê of niks. Dit was sy laagste prys!

Bybelkenners maak allerhande verskonings vir Judas se verraad. Baie sê dat geld nie sy motief was nie – dat hy Jesus net wou dwing om ‘n aardse koninkryk op te rig.

Maar geld was in werklikheid die motief! Waarom anders sou hy onderhandel en ‘n prys beding het? Hy kon eenvoudig gesê het, “Kyk, ek wil net hê Jesus moet in hierdie posisie ingedwing word sodat Hy Sy mag kan vertoon” – en hy sou enige bedrag silwer geneem het. Maar die liefde vir geld het al die liefde wat Judas vir Jesus gehad het, uitgedrywe!

Die liefde vir geld is inderdaad die wortel van alle soortgelyke kwaad (sien 1 Timóthéus 6:10). Dit is die saad wat die duiwel in ‘n man of vrou se hart plant en alle liefde vir Christus uitdryf. Die behoefte om geld bymekaar te maak kom op. Dan kom die behoefte om dit te tel en seker te maak dit word nie verloor nie. Daarna kom die behoefte om daarop te bou.

Jy het dalk een of ander doelwit vir jouself opgestel – van aftree, of finansieel versekerd te wees. Ek is seker Judas het ook ‘n finansiële doelwit gehad. Maar hierdie tipe doelwit is nooit genoeg nie – omdat die doelwit altyd hoër gelig word!

Die duiwel sê vir jou, “As jy die Here wil dien, wag totdat jy ‘n sekere bedrag in die bank het. Dan sal jy vry wees om Hom te dien!” Maar nadat jy dit gekry het, fluister Satan: “Dit is regtig nie genoeg nie, omdat rentekoerse daal. Jy het regtig nog meer nodig....” En die bedrag hou aan eskaleer!

Die Bybel sê egter:

“Maar die wat wil ryk word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang... Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg” (1 Timótheüs 6:9-11).

As jou lewe daarop gefokus is om ‘n lewe te maak – op die najaag van geld – dan het jy dieselfde gees van Satan in jou wat Judas in hom gehad het! Dit was blote hebsug wat Judas verander het in ‘n dief, ‘n verraaier en ‘n moordenaar van Jesus Christus. En dit bewys Paulus se argument dat liefde vir geld die wortel en kiem van allerhande soorte boosheid is!

Terwyl jy hierdie boodskap lees, vra jouself af. Het jy Christus op dieselfde manier uitverkoop? Het jy ‘n verraaier van Hom geword, terwyl jy onderhandel vir meer geld ten koste van jou siel?

Daar is niks verkeerd daarmee om ‘n spaarrekening te hê nie. Maar as jy Jesus verwaarloos omdat jou lewe daarin opgevang is om meer geld bymekaar te maak, dan het jy Jesus ook uitverkoop, so seker soos wat Judas dit gedoen het!

2. Judas het blind geword vir die verandering wat hom oorweldig het!

Satan het ‘n sluier oor Judas se oë gegooi, omdat hy nie kon sien hoe hy verander het nie. Die dissipel het blind geword vir die boosheid en ondergang wat in sy hart posgevat het.

Judas was bekend met die profesieë oor die een wat die Verlosser sou verraai. Ek wonder hoeveel keer hy hierdie woorde gehoor of gelees het: “Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig” (Psalm 41:10).

Maar selfs nie een keer het Judas aan homself gedink as die een wat daardie verskriklike rol vervul nie! “Ek, die voorwerp van profesie? Jeremia en Jesaja het my dag gesien? Ek is nie ‘n verraaier van Christus nie – ek is bloot ‘n dissipel. Ek is nie boos nie!”

Jesus het baie duidelik ‘n vinger na die dissipels gewys en gesê, “Maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig...een van julle sal My verraai” (Johannes 13:18,21). Was Judas so blind dat hy nie kon sien hý was die man nie?

Vandag, lees ons ook Bybelse profesieë wat van ons dag praat. Byvoorbeeld, Jesus het gesê dat baie mense in die laaste dae Christus weer sal kruisig en Hom openlik tot skande maak, omdat hulle harte koud word: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matthéüs 24:12).

Daardie profesie was honderde jaar gelede uitgespreek. Ek vra jou egter: Is jou hart koud teenoor die Here vandag? Jesus het gesê dat sonde oral sal vermeerder – en dat die liefde van baie gelowiges koud sal word! Is jy die man of vrou op wie hierdie profesie nou sy vinger lê?

Laat my met jou deel oor die mees skandelike ding wat kan gebeur met diegene wat Jesus eens geken en liefgehad het: Sonder om dit te weet, het hulle die duiwel se laaste dag “Judas stelling” geword! As jou liefde koud word, sal die duiwel jou as sy voorbeeld gebruik – op dieselfde manier wat hy Judas gebruik het!

Satan sal jou uitwys voor al die magte van die hel, al die engele in die hemele en almal wat jou op aarde geken het – en hy sal sê: “Kyk! Hy het eens saam met Jesus gewandel – en Jesus het hom nie bewaar nie! Ek het weereens in die Here se trop ingesluip en nog ‘n lam baie naby aan Christus gesteel. Ek het nou sy hart, en ek sal hom ruïneer en vernietig. Deur sy val bewys hy dat God nie ‘n Bewaarder is nie!”

Niks kan vir jou erger wees as dat jy voor die Here moet staan en moet rekenskap gee van al jou vriende en kennisse, omdat jy van Hom af weggedraai het nie. Jy sal dalk sê, “Moenie daardie las op my plaas nie – ek is slegs verantwoordelik vir my eie dade. Ek hoef nie van iemand anders rekenskap te gee nie!”

Dis nie so nie! Hoeveel by jou werk het jou eens geken as ‘n liefhebber van Jesus? Jy het teenoor hulle getuig, jy het hulle vertel wat Jesus vir jou gedoen het. Hulle het jou wandel met Christus geken.

Maar jy het jou rug op Hom gedraai. En jy het verander – maar jy weet egter nie dat jy verander het nie, omdat die duiwel jou verblind het! Dag vir dag, week na week, jaar na jaar, het jy verhard geword in jou hart.

Almal wat jou eens geken het as ‘n liefhebber van Jesus sien ‘n ander persoon. En ‘n skare van getuies sal op die Oordeelsdag opstaan en jou veroordeel voor die Regter: “Jy kan my nie oordeel nie, God, omdat ek na hierdie lewe gekyk het! Tien jaar gelede was hy aan die brand en lief vir U met sy hele hart. Ek was diep in sonde – en tog het ek hom dopgehou. Ek het gesien hoe naby hy aan U was.

“Toe het my misluk – en ek het gedink, ‘Watter kans het ek?” Laat my bloed op hom wees, Here! Die bietjie hoop wat ek gehad het om my tot U te bekeer, was van my af weggeneem deur sy mislukking om deur te druk!” Dit is hoe jy die Judas getuienis word!

Jesus het die laaste woord gehad oor Sy bewarende mag.

In Sy laaste gebed saam met Sy dissipels, het Jesus Sy eie stelling gemaak – aan die hemel, hel en die hele mensdom:

“Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf [Judas], sodat die Skrif vervul sou word” (Johannes 17:12).

Het jy die waarheid gehoor van wat Jesus sê? “Ek het net een verloor – en Ek het hom nie werklik verloor nie, omdat hy van die duiwel af was van die begin af. Ek het almal bewaar wat ooit hulle harte vir My gegee het!" Ek glo Judas kon gered gewees het – omdat Jesus alles vir hom gedoen het wat Hy kon doen. Dit was nie God wat Judas se hart verhard het nie. Hy het bloot vooruitgesien dat Judas homself teenoor Christus sou verhard, keer op keer. Jy sien, Judas het ‘n verdeelde hart gehad – en hy het gekies om hom nie te bekeer nie! Dit is hoe hy op die ou end Satan se werktuig geword het.

Hoor die woorde goed, dierbare heilige: “Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie” (Johannes 17:12).

Die voorbeeld van Petrus moet ons bemoedig. Jesus het vir hom gesê, “Petrus, Satan is agter jou aan. Hy het begeer om jou te sif, te verwoes en jou ook in ‘n verraaier te verander. Maar Ek bid vir jou, dat jou geloof nie ophou nie!”

Petrus se geloof het nie opgehou nie – omdat Jesus hom bewaar het! Hoewel hy op die uur van versoeking gesondig het, het hy steeds ‘n hart gehad wat Christus liefgehad het – en Petrus het teruggekom na Jesus, sy hele hart aan Hom gegee en hom ten volle bekeer. Jesus het daardie honger hart gesien en gesê, “Ek gaan jou van die magte van die duiwel bewaar!”

Geliefde, God sal jou bewaar “omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4). Jy kan blaai na Psalm 91 en elke vers glo betreffende Sy beskerming oor jou. Jy mag deur ‘n seisoen van lyding gaan, maar niemand kan jou vrede met God aanraak nie!

Ons weet dalk nie wat môre inhou nie – maar ek bid dat as gelowiges, ons saam met Job sal kan sê, “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom” (Job 13:15). En ek weet verseker dat as die Here Sy muur van beskerming afhaal, is dit vir ‘n rede. Ons sal dit dalk nooit verstaan nie. Maar ons kan dit weet: “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie” (Psalm 121:4).

Dit is waar en dit is seker: Hy “is magtig om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

Halleluja!