Die Wêreld se Mees Ongewenste Mens

David Wilkerson

Die wêreld se mees ongewenste mens lewe vandag! Hy is nie dood nie. Trouens, Hy is baie aktief in ons tyd. Hy het selfs ‘n familie hier in New York Stad. Net nou die dag het ek ure by Hom deurgebring oor hierdie boodskap! Baie van julle ken Hom ook. Die wêreld se mees ongewenste mens is sonder twyfel Jesus, Seun van die Lewende God!

In Moskou se Rooi Plein, is daar reusagtige portrette van Lenin, Stalin, en ander Kommunistiese leiers – almal in rooi fluweel getooi. Hulle behoort nog ‘n portret op die Rooi Plein te hang: ‘n portret van Jesus Christus – gedrapeer in swart sak – met hierdie woorde daaronder: “Die Mees Ongewenste Mens in Rusland – Jesus!” As jy na Engeland gaan na die sale van die Parlement of na die groot Engelse katedrale, sal jy die portrette sien van al die voormalige konings en koninginne. Sommige was geliefd; sommige was gehaat. Maar daar kort ook ‘n portret. Daar behoort, waar alle Engelse dit kan sien, ‘n groot portret van Jesus te wees met die opskrif: “Engeland se Mees Ongewenste Mens!” Of gaan na Washington, D.C., ons land se hoofstad, en kyk na al die portrette van die voormalige Presidente op Capitol Hill, in die sale van die Kongres. Sien die gedenkstene aan Lincoln en Washington. Daar behoort ‘n spesiale monument gebou te word met niks anders nie as ‘n portret van Jesus en hierdie woorde: “Hierdie Man is die Ware Vader van Amerika! Hy het dit Geplant, Water gegee, en Voorspoedig gemaak! Maar Vandag Is Hy Hierdie Samelewing se Mees Ongewenste Mens!”

Laat ons ‘n stap verder gaan in die biblioteke en klaskamers van amper enige kweekskool in Amerika. Luister na die goddelose, Christus-hatende teoloë – kyk na die boeke van hoër kritiek, hoe hulle hulle dit geniet om geloof te steel en te beroof. Of loop deur die groot katedrale en kyk na die getinte glasvensters met Jesus uitgebeeld op amper elkeen daarvan – hoor dan hulle sogenaamde evangelie! Dit is nie die ware Jesus wat hulle verkondig nie, maar ‘n ander. Waarom wil hulle nie eerlik wees nie? Hulle behoort ‘n bronsplaat onder daardie getinte glasprente van Jesus te sit wat lees, “Ongewens!”

Jesus was ‘n Jood gebore, maar die Jode wou Hom nie hê nie – ook nie nou nie. “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Johannes 1:11). In al hulle sinagoges, het hulle ywerig Sy koms bestudeer! Priesters en skrifgeleerdes kon Jesaja 53 aanhaal. Hulle het gedink hulle het geweet waar Hy gebore sou word en hoe om Hom te herken. Hulle het gesê hulle leef vir die dag van Sy koms – net soos die Jood vandag wag op sy Messias. Ek lees van die moordadige komplotte van die priesters en godsdienstige leiers en sê, “Hoe kon hulle beplan het om Christus te vermoor, of selfs Lásarus, as hulle so ernstig was oor die Wet wat sê, “Jy mag nie moord pleeg nie?” Waar kon soveel haat vir Jesus vandaan gekom het anders as direk uit die hel? Hoe kan die hedendaagse Jood Jesus soveel haat? Hy is die Seun van Dawid – Hy het gekom om al hulle wette te vervul. Sy hart was ingestel op Jerusalem. Hy was self ‘n Jood en ‘n profeet net soos Moses. So, waarom brand hulle oë met woede en verwerping by die noem van Sy Naam? Vandag sal Jesus sekerlik nie ‘n visum vir Israel kry nie! Dit is moontlik dat Hy burgerskap ontsê sou word. Hulle sou op Sy paspoort stempel “Ongewens!” Sy eie mense het Hom inderdaad nie aangeneem nie.

Ons weet maar al te goed dat die sekulêre wêreld Hom nie wil hê nie. Jesus is die lied van die dronkaards. Slegs in Amerika word die Naam van Jesus so gelaster. Hy is nie die voorwerp van vervloeking in Rusland of Sjina nie (Hulle vloek hulle voorsate en gevalle gode of leiers!). Maar Amerikaners vloek Christus. Romeinse soldate het Hom bespot deur ‘n doringkroon op Sy kop te sit. Nou bespot hierdie land Hom met groot gesofistikeerdheid: filmmakers met hulle beste talent en met miljoene dollars maak films oor Jesus wat vernuftige bespotting is – Sy goddelikheid word bespot en Hy word beroof van Sy Godheid.

Hier op Broadway, is Jesus sekerlik die mees ongewenste mens van almal. La Cage aux Folles met sy homoseksuele tema, daag Jesus uit met ‘n boodskap wat sê, “Dit is ons gebied! Ons wil nie hê Jy moet hier inmeng nie.” Times Square kerk, reg in die middel van Satan se setel (in sy nasionale hoofkwartiere!), is die grootste bedreiging vir sy koninkryk wat Broadway al ooit gehad het! Die hel is woedend, omdat die duiwel weet dat ‘n menigte na Jesus sal wil stroom. Selfs in die teaterdistrik, met die plae van VIGS en al die leegheid, het Jesus na Broadway gekom. Daar is nou ‘n kerk geplant deur Hom met mense wie se uitroep is, “Ons wil Hom hê! Ons wil Jesus hê!” Ons wil vir New York Stad, vir die dwelmsmouse, vir die pornograwe, vir die makers van films en Broadway-verhoogstukke en vir die heersende magte sê: “Julle wil Hom dalk nie hê nie, maar julle kan Hom nie weghou nie!” Hoe moet die engele juig om in die middel van Amerika se grootste stad – in die hartjie van sy misdaad en sonde en sy haat vir Jesus – honderde nou te sien saamkom in die Naam van die Here. Hoe moet hulle uitroep van blydskap, “Hulle wil ons Here hê! Hulle wil Hom hê!”

Selfs die “godsdienstige wêreld” wil Hom nie hê nie. Ek glo Jesus is mees ongewens vir afvallige, verdorwe kerkleiers, vir liberale kerkorganisasies, en vir kompromitterende, begeertegedrewe Christene. Daar is ‘n Jesus-afgodery in die godsdiens vandag wat so werklik en so lelik is as wat die afgodery van Baäl en al die ander afgode van antieke Israel was. Hulle het die ware Jesus van heiligheid, die Kruis, bekering, en afsondering verlaat en het in hulle verbeeldings ‘n ander Jesus uitgekerwe. Hulle Jesus is net soos hulle – en praat hulle sondes goed met woorde van broederskap, liefde, en eenheid. Hulle het die Naam van Jesus op ‘n baie verdorwe en bose beeld van hulle eie maaksel geplaas. Dit is nie Christus se evangelie nie en dit is nie die ware Jesus nie. Hulle gebruik die regte terme, maar hulle aanbid nie die Jesus wat ons ken nie. Paulus waarsku teen diegene wat “...kom en ‘n ander Jesus verkondig...’n ander gees...’n ander evangelie...” (2 Korinthiërs 11:4).

Ek kan nie ‘n enkele hoof “Christelike” platemaatskappy opnoem wat Jesus werklik wil hê nie. Hulle het Wall Street-tipe geldmasjiene geword en gebruik die Naam van Jesus as ‘n verkoopsfoefie! Ons word ontsteld oor films soos “The Last Temptation of Christ” wat ons Here bespot; maar selfs erger is hierdie “Christelike” platemakers en boekuitgewers wat rock en punk uitgee. Hulle is manipuleerders en hedendaagse geldskieters. Trouens, daar is niks godsdienstig oor dit alles nie. New Age musiek en humanistiese teologie sluip in Christelike boekwinkels in. Sommige van hierdie winkels word die grootste verkopers van goddelose gemors in Amerika. Hulle plate-afdelings kom reguit uit die hel en die meeste van die boeke is pulp, wat niks sê nie! Dit is alles besigheid. Ons hoef nie te kla oor Joodse besigheidsmanne wat wins maak uit Jesus se Naam tydens Pinkster en Kersfees nie. Evangeliese kerke maak wins uit Sy Naam 365 dae ‘n jaar! Jesus is ongewens vir hierdie bedrieërs. Dit is die dollar wat hulle wil hê! Dank God daar is ‘n paar uitsonderings, ‘n paar boekwinkels wat weier om ‘n kompromie te maak.

Jy sê, “O, dank God vir ons kerk. Ons wil Hom hê – ons het Hom nie ongewens gemaak nie. Ons het Jesus verwelkom en begeer Hom met ons hele hart!” Maar dink aan daardie verskriklike oomblik toe die meeste van die Here se dissipels teruggegaan het en Hom nie meer gevolg het nie, omdat die Woord te hard was. Jesus het omgedraai na Sy dissipels, die twaalf, en gevra, “Wil julle nie ook weggaan nie?” Raak jou hart nie bly as jy Petrus hoor sê, “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:68)? Tog, in die laaste uur het selfs die twaalf “almal Hom verlaat en gevlug” (Markus 14:50). Jesaja het gesê, “Hy was verag en deur die mense verlaat...soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg...Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop...” (Jesaja 53:3,5). Die profeet gebruik die term “ons.” Ons het Hom verag. Ons het Hom verwerp. Ons het ons gesigte vir Hom verberg. Ons het ons eie pad geloop. Dink aan die menigte afvalliges, diegene wat eens met Hom gewandel het. Hulle kruip nou vir Hom weg en wil nie in Sy teenwoordigheid wees nie. Sommige van julle wat hier lees, het weggeloop en jou eie pad geloop. Jy het teen Jesus gedraai en wil Hom nou ook nie hê nie.

My boodskap gaan eintlik hier oor die verwerping wat Jesus beleef van diegene wat aanspraak maak dat hulle Hom die meeste wil hê. Vra amper enigeen wat homself ‘n Christen noem hierdie vrae: “Wil jy Jesus hê? Voel jy ‘n behoefte na Hom? Begeer jy om Hom beter te leer ken?” Amper almal sal antwoord, “Ja, ek wil Hom regtig hê.” Laat my verduidelik wat ek bedoel met “Jesus wil hê.” Ek praat van ‘n verterende begeerte – ‘n verlange dat Hy alles vir jou sal wees. “...Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit. Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U...” (Jesaja 26:8-9). Die profeet praat van ‘n verlange en ‘n hunkering na Hom – selfs in die middel van die nag! Dit beteken om Hom te soek met ‘n roepende, smagtende hart. “Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte...ek is krank van liefde...My beminde is myne, en ek is syne...op my bed snags het ek gesoek na my sielsbeminde, ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie...” (Hooglied van Salomo 2:3,5,16 en 3:1). Dit is om Jesus te wil hê! Hy verteer die gedagtes nag en dag. Hy word die betekenis van die lewe.

Laat ons ook na hierdie saak van Jesus liefhê kyk en onderneem om uit te vind hoeveel ons Hom werklik wil hê.

Jy wil Jesus nie regtig hê as jy iemand of iets meer as Hy wil hê nie!

“Dan sal julle...die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29). Die hel sal vol mense wees wat dwarsdeur die ewigheid sal sê, “Maar ek wou Jesus regtig hê. Diep in my hart, het ek Hom nodig gehad!” En hulle sal nie lieg nie; hulle het regtig ‘n begeerte na Hom gehad. Maar daar was altyd iemand of iets anders wat hulle meer wou gehad het. Is jy verslaaf aan iemand of iets? Is daar een of ander soort slegte ding wat jou hart besit? Ons moet leer dat Jesus ‘n jaloerse minnaar is. Hy sal nie toelaat dat ‘n ander liefde ons liefde vir Hom besoedel nie.

Die woord wat die Amerikaanse kultuur die beste beskryf vandag, is “ontrouheid.” Dit het selfs die bediening besoedel. Daar is ‘n nuwe soort huweliksreëling in Amerika vandag genaamd “oop huwelike.” Hulle wat dit beoefen trou en bly saam, en sit saam huis op. Maar elkeen word toegelaat om ander minnaars te hê en is vry om uit te gaan en vakansie te hou met ander – en dan terug te kom net soos hulle wil! Geen wonder kullery het so ‘n epidemie geword nie!

‘n Bedienaarsvriend het my vertel van die pyn om uit te vind dat sy vrou hom verneuk het. Daar was vreemde foonoproepe en gure liefdesbriewe gevind, geadresseer aan haar van ‘n ander man af. Dan was daar haar leuens, verskonings en reise wat haar vir dae aaneen weggeneem het. Uiteindelik het sy eendag sy kantoor binnegekom en gesê, “Ek wil jou nie meer hê nie. Ek wil ‘n egskeiding hê. Ek is verlief op ‘n ander man in die kerk. Ek stel nie belang in die bediening nie – ek respekteer jou en wil jou op my manier liefhê – maar ek gaan!” Hy was geskok, en nou twee jaar later, is hy nie nog daaroor dat hy haar verloor het nie. Tans, mag sommige van julle wat hier lees, dalk vasgevang wees in dieselfde strik van ontrouheid. Jy mag dalk owerspel pleeg met iemand by die werk of in die kerk of met ‘n familievriend – en jou hart is verdeeld. Jy wil uit jou huwelik uitkom.

Jesus weet wat dit is om verkul te word! Hy was geduldig en lankmoedig omdat Sy geliefde Israel deur die hele geskiedenis heen, ontrou was aan Hom en oor en oor geestelike owerspel gepleeg het. Die hart van Jesus smag na ‘n volk wat oë slegs vir Hom sal hê met geen ander liefde wat tussen hulle kom nie. Wat bring blydskap vir ‘n man of vrou? Dit is getrouheid – die vermoë om in mekaar se oë te kyk en vertroue te sien. Geen leuens nie! Geen geheime nie! Geen vreemdheid nie! So is dit met ons verhouding met Jesus. “Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie” (Spreuke 31:10-11). Kan Jesus in ons harte inkyk en ons met gerustheid vertrou?

Ek ken ‘n evangeliese susterskap wat ure deurbring net om “Jesus lief te hê.” Hulle bely die ontrouheid van Sy owerspelige bruid. Hulle probeer om Sy seer hart vol te maak – om hulle gebrek aan liefde op te vul – hulle praat van “Sy seer.” Hoe waar is dit dat Jesus vandag moet hartseer wees wanneer so min Hom liefhet met hulle hele wese! My hart breek en deur die trane bid ek, “O, Jesus! Hoe ontrou was ek aan U oor die jare! Hoe dikwels het die dinge van hierdie wêreld my hart in beslag geneem! Ek het gejaag na karre, antieke goed, sport. Daar was tye waar ek lief was vir die lofsange van mense, ek het dinge begeer, en het my tyd bestee aan ander belange.” Die Woord van God sê, “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15).

Jesus vra ‘n baie ontstellende vraag: “...Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Die woord “geloof” in Grieks beteken “afhanklikheid van en getrouheid aan.” Aan Hom! Hy het ‘n groot afval geprofeteer; dat selfs Sy uitverkorenes ernstig versoek sal word. So baie sal val en hierdie wêreld met sy begeertes en plesier najaag. My uitroep is, “O, Here, trek my na Uself. Laat my iemand wees op wie U kan vertrou. Laat my U liefhê sonder voorbehoud. Gee vir my ‘n rein, heilige, ongemengde liefde vir U!”

Hoe kan jy sê jy wil Hom hê, maar tog so min tyd met Hom deurbring?

Waarom het Jesus gesê, “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene is, sal jou in die openbaar vergelde” (Matthéüs 6:6)? Dit is omdat die Here intimiteit begeer. Hy wil alleen wees saam met die liefde van Sy hart! Ons het so baie wat sal bid, wat nooit ‘n biduur sal misloop nie. Hulle sal na enige huisselbyeenkoms gaan – en dit is sekerlik skriftuurlik vir twee of drie om saam te stem in gebed. Maar daar sal ‘n roepstem van die Here kom en Hy sal fluister, “Kom alleen – maak toe die deur – laat daar net die twee van ons wees.” Geheime, afgesonderde gebed is die mees intieme ding wat jy met jou Here kan deel. As jy nie hierdie soort verhouding het nie, ken jy Hom nie regtig nie.

Sonder intimiteit met Jesus, word selfs jou goeie werke goddeloos: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here! Het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matthéüs 7:22-23). Nou moet niemand wat profeteer, wat duiwels uitdryf, soos ek, sê, “Dit is nie vir my bedoel nie!” Wat bedoel Jesus? Die sleutel is, “Ek ken jou nie.” Daar was geen intimiteit nie; iemand doen verskriklik baie in Sy Naam sonder om Hom werklik te ken. Dit beteken ons kan so vasgevang raak daarin om goed te doen, met programme, met ander help, dat ons ons aanraking met Jesus verloor. Op die ou end doen ons dinge in Sy Naam, maar die dinge word goddeloos omdat hulle in die krag van die self gedoen word.

Wanneer ons alleen tyd met Hom deurbring, is dit meestal vir ons voordeel en selde vir Syne. Dink ons ooit aan Sy behoeftes? Jesus het ‘n mens geword met al die mens se behoefes, insluitend die behoefte vir vriendskap en liefde. Hy het verwerp gevoel soos ons, omdat Hy nooit sy menslikheid afgelê het nie. Jesus is God en steeds mens. Dat Hy steeds medelye het met ons, beteken Hy beleef steeds die hartseer en behoeftes van die mens. Ek het onlangs gedink, “Here, het U ooit toe U op aarde was gevra, het enigeen My bloot lief vir Myself – as Jesus, die mens?” Kyk na die menigtes wat teen Hom gestamp het van alle kante af, terwyl hulle vir hulp, vir barmhartigheid, vir sig, vir genesing, vir kos, vir tekens en wonders gevra het. Hy het hulle gesien as skape wat geen herder het nie: Hy het hulle geroep gehoor en geween. Maar só min het gekom en niks gevra nie – só min het gekom net om Hom lief te hê!

Daar was ‘n sondares, ‘n verlore vrou, wat gekom het net om vir Hom te gee: “En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf...Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf” (Lukas 7:37-38,44-46).

Het jy al ooit Sy voete met jou trane gewas? Het jy gekom om niks vir jouself of vir jou bediening of vir jou familie te vra nie – maar bloot om op Hom ‘n gawe van gegeurde olie uit te giet, ‘n albaste fles van liefde en aanbidding? Luister na Sy hartsgeroep: “Jy het my nie ‘n soen gegee nie! Geen water vir my voete nie! Maar sy het dit vir My gedoen!” In Matthéüs, in Hoofstuk 26, het ‘n ander vrou na Jesus gekom en parfuum op Sy hoof uitgegiet toe Hy gesit en eet het. Die dissipels het dit gesien en met minagting gesê, “Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee geword het” (verse 8-9). Ons is net soos daardie dissipels: vir ons dit is ‘n mors van tyd om alleen te wees en Sy behoeftes te bedien wanneer so baie arm, lydende mense ons tyd en smeekgebede nodig het. Jesus het gesê, “Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het ‘n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie” (verse 10-11).

Sy eie dissipels kon nie by Hom staan in sy uur van nood nie – nie eens een uur nie! Hy het vir hulle gesê, “My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My” (Matthéüs 26:38). Wat Hy in werklikheid vir hulle gesê het, was die volgende: “Ek ly! Ek het julle nou nodig! Dit is My uur: nou begeer Ek julle liefde en ondersteuning!” Maar Hy het hulle aan die slaap gevind: “So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” (vers 40). Al waarvoor Hy gevra het, was een uur – een uur gefokus op Sy behoeftes – een uur van hulle liefde toe Hy gely het! Ons sê vandag vir onsself, “Hy is God! Hy het geen behoeftes nie – Hy ly nie – Hy ween nie meer nie. Wat kan ons tog vir Hom gee?” As Hy nou geen behoeftes het nie – as Hy net een of ander gevoellose God buite ons wêreld is – waarom staan Hy dan by die deur en klop? Waarom wil Hy steeds inkom en saam met ons eet? (Sien Openbaring 3:20). Waarom sê Hy steeds vir Petrus drie keer na Sy opstanding, “Het jy My lief?” Hy wil duidelik steeds liefgehê word! “Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie.” (Psalm 69:20).

Ons kan nie Hom waarlik liefhê totdat ons Hom toelaat om alles te wees wat Hy belowe het nie!

Ek het jare gelede voor die kansel gestaan langs my vrou Gwen en gehoor hoe my pa (wat die bedienaar was) vir Gwen vra, “Sal jy David aanneem as jou wettige man?” Ons het troubeloftes uitgeruil en elk gesê, “Ek sal.” Gwen het my lief op ‘n duisend maniere, maar nooit meer nie as wanneer sy my toelaat om die man in die huis te wees. Dit het haar ‘n tydjie geneem om opsy te staan en my die “manlike” dinge te laat doen – veral omdat ek nie baie meganies is nie! Maar sy het geleer om my taktvol te bemoedig om hierdie rol te vervul. God het bedoel vir ‘n man en vrou om Sy verhouding met ons, Sy bruid, te weerspieël: “Want jou Maker is jou Man...” (Jesaja 54:5). Ons is “’n bruid wat vir haar man versier is” (Openbaring 21:2). Maar Jesus is nie soos enige aardse man nie. Wanneer Hy sê, “Ek sal,” het Hy al die mag en heerlikheid om toe te sien dat dit gedoen word! Jy kan die Here se betrouloftes aan Sy geliefdes dwarsdeur sy hele Woord kry.

Ons liefde vir Hom eien dit toe, rus daarop, en laat Jesus toe om God te wees vir ons. Hier is sommige van die troubeloftes wat Hy gemaak het aan almal wat hulle liefde en trou aan Hom belowe het: “...Ék sal julle opneem, en Ék sal julle dra en red...” (Jesaja 46:4). “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet...nogtans sal Ek jou nie vergeet nie” (Jesaja 49:15). “Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:7). “Ek sal hulle genees...en aan hulle weer vertroosting skenk” (Jesaja 57:18). “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek” (Jesaja 65:24). “Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

Jesus is ons geregtigheid, ons gesondheid, ons saligheid, ons rots van verlossing, ons daaglikse brood, ons vertroosting, ons voorsiener, ons sterk arm, ons verdediging, ons lig, ons blydskap, ons vrede – ons alles in tyd van nood! Laat Hom God wees vir jou – glo elke troubelofte en rus daarin. Moenie jou bekommer nie en moenie probeer om dinge self uit te werk nie. Bewys aan Hom jy sal Sy krag vetrou!

Jy kan Hom nie beter liefhê as om Hom bloot alles vir jou te wees nie. Glo en rus in Sy troubeloftes om jou te bewaar, om in al jou behoeftes te voorsien, om deur dik en dun by jou te bly, en om jou nooit te verlaat of te begewe nie. Liefde is om Hom waarlik Here vir jou te laat wees.