Die Vreeslike Teenwoordigheid van God

David Wilkerson

Die Hebreeuse woord vir "vreeslik” beteken skrikwekkend, vreesaanjaend, groot — ontsagwekkend! Normaalweg gee hierdie woord ‘n negatiewe konnotasie, maar dit behels nie die hele Bybelse betekenis nie.

In die Ou Testament, was Jakob aangeraak deur ‘n heilige vrees. Tydens sy reis na Haran, het hy gaan lê en slaap, en in die middel van die nag het hy wakker geword en ‘n leer van engele, wat die hemel raak, gesien. Aan die bopunt van die leer, het die Here verskyn, en Hy het Homself aan Jakob geopenbaar en verklaar, “Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak” (Génesis 28:13).

“Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek!” (Génesis 28:16-17).

Daniël was nog iemand wat aangeraak is deur die groot vrees van God se teenwoordigheid: “En ek het tot die HERE my God gebid...grote en gedugte God” (Daniël 9:4).

God het ook vir die hele Israel gesê, “Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees” (Jesaja 8:13). Jesaja sê in wese, “Laat God jou hart aangryp met Sy heilige vrees!”

Jy mag moontlik glo dat hierdie soort vrees en verskrikking ‘n Ou Testament konsep van God beskryf – dat Jesus gekom het om vir ons ‘n Vader te openbaar wat vol liefde is. Ja, God is liefde (1 Johannes 4:8) – Hy is barmhartigheid, genade, vriendelikheid, geduld, lankmoedigheid en goedheid. Hy is ‘n volmaakte, liefdevolle hemelse Vader.

Maar Hy is ook ‘n Gees, hoog en heilig! Die probleem is, ons het te “vrypostig”met God geword. Ons maak asof Hy “soos ons” is. Dit is waarom ons nie Sy heiligheid erken nie. Die Bybel sê Hy is ‘n verterende vuur – ‘n heilige, vreeslik-in-mag Verlosser!

Johannes, bekend as die “apostel van liefde,” het die Here na die kerke gesien kom in Sy hele Nuwe Testament heerlikheid. Hy beskryf Hom op hierdie manier: “Sy oë soos ‘n vuurvlam...en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag. En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie an sy voete” (Openbaring 1:14-17). As Christene vandag maar net ‘n fraksie van God se heiligheid en verskrikking sou sien, sou niemand in staat wees om in ons kerkdienste staande te bly nie!

In Times Square Kerk bid ons vir ‘n groot en vreeslike openbaring van die teenwoordigheid van God – in ons dienste, ons harte en ons huise. Persoonlik, roep ek uit, “Here, laat ons U heerlikheid sien! Stort U teenwoordigheid uit onder ons! Laat U heerlikheid so wees dat sondaars oortuig word van hulle sonde en Christene van hulle luiheid. Wek ons weer op!”

Terwyl ek egter geween en gesug het in my gees, het die Heilige Gees gesê, “Verstaan jy die gevolge daarvan om vir so iets te bid? Sal jy die prys betaal vir so ‘n openbaring? Laat Ek vir jou wys wat dit sal beteken om hierdie versoek deur te voer...” Jy sien, daar is ‘n koste, ‘n prys om te betaal!

Geliefde, op hierdie oomblik is iets soewereins aan die gebeur! Dit is bo ons – ons het niks gedoen om dit te verdien nie! En dit gebeur omdat God se Woord sê die aangewese tyd het aangebreek om Sion te seën!

God het ‘n vasgestelde tyd vir elke beweging, elke ontwaking, elke herstel en uitstorting!

Wanneer daardie aangewese tyd kom, wek God mense op en bring hulle in beroering, asof uit ‘n slaap. Hierdie beroering vind altyd plaas in die mens se donkerste uur, wanneer alles hopeloos lyk – ‘n tyd wanneer slegs ‘n soewereine werk van God ons kan red!

So ‘n gebeurtenis vind glad nie plaas sonder volkome voorbereiding nie. Alles is gereed wanneer God die woord spreek, “Dit is tyd!” En God maak altyd werktuie gereed net voor Sy uitstorting. Hy maak mense stil in Sy teenwoordigheid, en Hy plaas hulle op strategiese plekke.

God het ons op Broadway geplaas, by die kruispaaie van die wêreld, met ‘n boodskap vir die einde van tye. Soortgelyke bewegings vind plaas in ‘n aantal ander plekke, hier en oorsee! Tans is God besig om pastore en gemeentelede op te rig wat gebroke harte vir Hom het.

Toe  die vasgestelde tyd vir God gekom het om Israel uit Egipte te verlos, het Hy reeds ‘n man in die wildernis geplaas, opgelei en voorberei – Moses! Hy het reeds ‘n priester gehad – Aäron! En Hy het ‘n volk gehad wat aan die einde van hulleself gekom het, wat gereed was om ‘n boodskap van verlossing te hoor. Hulle was in die middel van ‘n vuuroond, en het hulle donkerste uur beleef!

Hulle verlossing kon nie 15 jaar voor dit, of 20 jaar voor dit, of enige ander tyd voor dit gekom het nie – omdat God ‘n tyd bepaal het! Hy het gesê hulle sou in gevangenis bly vir 430 jaar – en Hy het oor daardie tydperk gewaak tot op daardie dag!

Maar na daardie 430 jaar, kon niks Sy plan stuit om in aksie te kom nie. Gedurende daardie tyd, het God alles in plek gestel en aan elke besonderheid aandag gegee. Toe Hy Moses geroep het, was Hy in staat om al sy vrese ter ruste te lê: “Gaan heen, keer terug na Egipte: want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood” (Exodus 4:19). God het elke man wat Moses kon onthou laat sterwe! Hy het die pad gereed gemaak!

Op dieselfde manier, toe God se bepaalde tyd gekom het om Israel uit Babel te verlos, het Hy alles gereed gehad, almal in posisie! Hy het gesê Israel se ballingskap sou eindig na sewentig jaar – en in daardie sewentigste jaar, het Daniël ‘n beroering, ‘n dringendheid in sy hart ervaar. Dit was toe hy die boek van Jeremia gelees het en getel het dat die getal jare sedert die profesie, sewentig was!

Esra, die skrifgeleerde, was gevul met ‘n nuwe openbaring van God se begeertes – omdat God hom voorberei het om vir die volk ‘n heilige woord voort te bring! Nehemia was in die koning se hof geplaas as voorbereiding vir God se herbouplan! Haggai en Serubbábel was beide in beroering gebring vir die werk wat God sou openbaar!

Die profeet Haggai het gewaarsku dat wanneer God se tyd sou aanbreek, sommige dit nie sou glo nie: “Nog het die tyd nie gekom...nie” (Haggai 1:2). Maar toe God se bepaalde tyd gekom het, kon niks dit keer nie en niks kon dit verhinder nie! Dit is soos ‘n magtige Niagara wat oorstroom en alles in sy pad wegspoel.

Wanneer dit lyk of alles verlore is – wanneer dit lyk asof Satan oorwin – dan is dit wanneer God se bepaalde tyd aanbreek! Dit is wanneer God vir die kerk en die samelewing wys dat slegs Hý kan doen wat nodig is – omdat dit ‘n wonderwerk sal verg! Jesus het gesê as ons alles buite beheer sien tol en mense se harte versmag van vrees – dan moet ons opkyk, omdat ons verlossing naby is!

Dit is God se bepaalde tyd om die oorblyfsel op te wek in die hedendaagse Babel van New York Stad – om ‘n laaste getuienis op te rig vir hierdie verdoemde stad! Hy het ons voorberei om deel daarvan te wees!

Waarom word ons gedring om voorbidding te doen? Waarom verkeer ons in barensnood? Waarom het die Gees ons geroep om ons eie belange opsy te sit vir Hom?

Omdat God alle dinge in plek gestel het, om Sy Gees uit te stort! ‘n Stryd woed in die hemele, en Satan weet die uur is laat!

Wanneer die Here besluit het Hy gaan optree, hoe weet ons wanneer die bepaalde tyd vir God se verlossing aangebreek het? Drie dinge gebeur:

1. Wanneer God se bepaalde tyd aanbreek, stig Hy ‘n heilige vuur.

Toe dit tyd was om Israel uit slawerny aan Egipte te verlos, het God die aandag kry van diegene wat geroep is om die volk uit duisternis te lei. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het ‘n vuur gestig – Hy het ‘n brand begin!

Hierdie is die beeld: Moses was alleen op die berg van God, en skielik, soewerein, het ‘n vuur voor hom aan die brand geraak. ‘n Vlam was gestuur om ‘n man van God aan te gryp! Dit was ‘n tipe van die Heilige Gees – ‘n vuur wat nooit doodgaan nie!

Daardie vuur was binne-in Moses se boesem geplaas, en van daardie punt af aan, sou sy hart brandend wees met God se boodskap. Hy was nou afgesonder om ‘n werktuig van verlossing vir sy geslag te wees!

Is daar ‘n beroering in jou hart? Voel jy ‘n vuur brand in jou innerlike wese? God wil jou aandag hê – nie omdat jy goed of verdienstelik is nie, maar omdat Hy ‘n volk nodig het deur wie Sy Gees kan werk en vloei, wie se harte voorberei is vir Sy teenwoordigheid!

Die Skrif sê Moses het “nader” gekom toe hy die vuur gesien het. Hy kon verbygeloop het, maar hy het nie. Hy het al sy eie belange eenkant toe geskuif. “Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom” (Exodus 3:4).

God doen dieselfde ding nou al vir eeue lank – maar die meeste Christene kom nooit “nader” nie. God het ‘n vuur in hulle harte begin, in hulle kerk – maar hulle gaan voort op hulle eie pad en volg hulle eie belange en nie God s’n nie.

Geliefde, dit is die sleutel! Wanneer die vuur begin brand, probeer God jou aandag kry! Hy sê, “Jy is vasgevang in jou eie belange, in jou familiesake, vir so lank al – maar nou gaan Ek ‘n vuur aan die brand steek!”

Ons sal nie van God hoor totdat ons van ons eie pad af wegdraai en Hom ons volle aandag gee nie! Hy wag totdat alles eenkant toe geskuif is.

God het vir Moses gesê, “Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond” (Exodus 3:5).

In die Ou Testament, as iemand ‘n stuk land wou los wat hy besit het en jy het daarin belang gestel, het jy jou regte tot daardie land prysgegee deur die eienaar jou regterskoen te gee. Dan het jy jou linkerskoen uitgetrek en dit gedra en kaalvoet van daardie plek af weggeloop.

Moses het geweet God het eintlik vir hom gesê. “Trek jou skoene uit, Moses – gee al jou regte oor. Jou belange is nou sekondêr. Myne kom eerste!”

Ek sê vir jou, God gaan ‘n volk in hierdie laaste dae hê wat sal wegdraai van alles wat goddeloos is – selfs van goeie dinge wat tyd verspil! Hy gaan ‘n volk voorberei wat loopbaan, stokperdjies, sport en alle ander dinge opsy skuif as sekondêr aan Hom!

Wanneer jy God se vuur sien, hoe kan jy aan enigiets anders dink? Wanneer jy hoor jou naam word geroep, hoe kan jy enigiets anders sê as, “Ek het van God gehoor! Ek het uit die hemel gehoor!”

God het ‘n vuur in my siel geplaas en Hy het my aandag gekry. Ek het nader gekom en het Hom my naam hoor roep soos Hy met Moses gedoen het: “David, trek jou skoene uit (jou regte en plesiere, jou eie belange) en staan kaalvoet voor My. Ek het die geroep van slawerny aan sonde, dwelms, alkohol, demonies magte gehoor – en Ek het gekom om te verlos.”

“Ek het duidelik gesien die ellende van my volk...en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor” (Exodus 3:7). ‘n Drywer is ‘n tiran wat dwangarbeiders forseer. Ons weet wie hierdie tiran is – dit is Satan, wat teister en bespot!

Jy kan nie vir my sê die Here hoor nie die gehuil van 10,000 VIGS baba’s in New York Stad nie – of die gehuil van al die VIGS kinders, nou 4 en 5 jaar oud, wat op die punt staan om ons skole binne te gaan met slegs die helfte van ‘n verstand! God hoor die gehuil van getto moeders, van die armes, van die haweloses, die afvalliges!

God het gesê, “Ek het hierdie gehuil gehoor vanuit die hemel! Die duiwel het jou en jou familie lank genoeg geteister! Nou het Ek gekom om dit stop te sit!”

2. Wanneer dit gebeur, raak die duiwel woedend en probeer die vuur blus.

Moses het na die volk gekom met sy hart aan die brand – en watter groot beroering was daar nie onder hulle nie! Almal het gepraat oor die groot, nuwe ding wat God op pad was om te doen en hoop het hulle gebroke harte gevul!

Moses se boodskap was, “God gaan jou besoek. Hy gaan jou uit jou verdrukking bring. Hy gaan jou en jou kinders, jou vee – alles – verlos!”

God het Sy boodskap met tekens en wonders bevestig! Hy was ernstig om Sy mense te laat weet dat die bepaalde tyd aangebreek het. Daarom het Hy vir Moses drie tekens gegee: Eerstens het Moses se staf verander in ‘n slang, toe terug in ‘n staf toe hy dit weer optel. Tweedens het Moses se hand melaats geword toe hy dit in sy boesem gesteek het, en toe was dit genees toe hy dit verwyder het. Derdens het hy water uit die rivier in ‘n beker gegiet en dit het bloed geword.

Beskou nou hierdie beeld: Moses en Aäron is aan die brand! God begin Homself te openbaar – Sy woord van verlossing het gekom. ‘n Liggaam van gelowiges is opgewek, en God besoek sy volk. Maar te midde van die beloftes, het Hy ‘n ernstige waarskuwing gerig: “Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur ‘n sterkte hand nie” (Exodus 3:19).

God het Moses en al die mense gewaarsku: “Ja, verlossing kom. Ek sal julle uitlei. Al wat Ek belowe het, sal gebeur – maar die duiwel sal woedend wees. Julle is in vir ‘n geveg! Dit sal nie maklik wees nie, want Satan sal alles doen wat hy kan om hierdie werk te stuit!”

Farao, die koning van Egipte, verteenwoordig Satan, koning van die afgrond en god van hierdie wêreld! Geliefde, moenie vir een oomblik dink die duiwel sal dood speel wanneer God se volk in beroering gebring word en die boodskap van God se besoeking van Sy mense verkondig word nie!

Moses en Aäron het vir Farao gesê, “Laat God se volk trek!” Maar Farao het geantwoord, “Wie is die HERE na wie se stem ek moet lusiter om Israel te laat trek?” (Exodus 5:2).

Ek wil vir jou die volgende vra: Het jy daaraan gedink dat jou familie in so ‘n stryd is? God het jou en jou huisgesin gered, en Hy het jou geroep om vir hulle in barensnood te verkeer. Maar dink jy Satan sal hulle laat gaan sonder om te baklei?

Jy sien, die Bybel sê vir ons dat dinge erger geword het vir Israel in plaas van beter (Exodus 5:6-14). Moses het verkondig, “God is met ons. Die antwoord is hier en binnekort sal julle groot oorwinning sien!”

Maar dit was ‘n ander saak met die volk! Satan was woedend oor God se besoeking, en die uitbreek van wraak wat gevolg het, het reguit uit die hel gekom. Israel se leiers was geslaan en hulle steenmaak kwota’s was baie groter gemaak: “Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak...nie” (Exodus 5:7,9). In wese: “Lê ‘n swaarder las op hulle – laat hulle raap en skraap vir strooi!”

Die Israelitiese leiers het met Moses en Aäron vergader toe hulle uit Farao se paleis gekom het en by hulle gekla het, “Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring” (Exodus 5:21).

Hulle het in wese gesê, “Moses, al hierdie gebede op God se berg, al julle gepraat oor ‘n groot besoeking van God, al julle gepreek oor herstel en genesing – dit bring ons nêrens nie! Dit ontstig dinge te veel en ons kan nie nóg meer van hierdie woede van die vyand hanteer nie! Ons sien geen teken dat God aan die werk is nie. Ons is verwerp, nie verlos nie!

En die Skrif sê, “Maar hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens” (Exodus 6:8).

Hierna, het selfs Moses moed verloor! “God, waarom het U my gestuur? Waarom het U my in beroering gebring? Waarom het U hierdie vuur in my siel laat brand? Waarom hou U nie U woord nie?”

“Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie” (Exodus 5:23).

Moses het vergeet dat God hom gewaarsku het dat dit sou gebeur. God het gesê, “Farao sal jou nie laat gaan nie, tensy hy gedwing word!”

Dierbare heilige, ons is ook gewaarsku: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Van Pinkster tot op hierdie dag, het elke uitstorting van die Heilige Gees die toorn van die hel na vore gebring! Ná die uitstorting van die Gees in die Bovertrek, is menigtes gered. Die Here het neergedaal en alles in sig laat bewe. Die armes het die evangelie gehoor en die kreupeles het opgespring! Tekens en wonderwerke was daar in oorvloed!

Maar die duiwel het skielik sy handlangers gestuur om die werk van God te midde van die heerlikheid te probeer verhinder. “Die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig. En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe” (Handelinge 4:1-3).

Dwarsdeur die Nuwe Testament, het die oomblik wanneer God beweeg, het Satan gereageer. En as Satan nie teen jou optree nie, het jy miskien nog nie sy koninkryk in jou omgewing bedreig nie!

Jy sien, God wil ons toets voor Hy met volle vaart voortgaan! Ons het ‘n geneigheid om te deur te bid, om verligting te kry van ons las, en dan om terug te sit en te wag. Maar sataniese teistering is ‘n teken dat ons God aanraak! Verduur jy swaarkry? Bid voort. Begin die antwoord ontvou? Bid meer! Begin die reën te val? Bid nog harder!

Toe God Moses na die berg geroep het, het Hy hom in ‘n wolk van heerlikheid opgeraap en vir ses dae niks vir hom gesê nie. Die hele tyd was hy afgesonder met God in die vuur van Sy heiligheid, waar God hom voorberei het vir die woord om te kom: “En op die sewende dag het Hy Moses geroep uit die wolk” (Exodus 24:16).

Is jy gewillig om te wag op die berg in die heerlikheid? Ek vra dit omdat ons so dikwels “vinnige” seëninge wil hê – geen sweet, geen trane, geen gewag op God nie! Ons dring aan op ons regte en gaan voort met ons lui manier, deur dit bloot “deur geloof in besit te neem.”

As God weereens met hierdie geslag praat – as Sy heerlikheid kom – sal dit wees vir ‘n man, vrou en kerk wat afgesonder is saam met Hom totdat die vuur van Sy vreeslike, onsagwekkende teenwoordigheid alle self en sonde wegbrand. Ons kan geen wolk van Sy teenwoordigheid hê, geen desperate honger om na Hom te gaan nie, totdat Hy spreek!

Dit is my laaste punt – die laaste ding wat gebeur wanneer God besluit om op te tree:

3. Baie sal onaangeraak bly wanneer God se vreeslike teenwoordigheid geopenbaar word in ons midde.

Wat gebeur wanneer die heerlikheid van die teenwoordigheid van Jesus geopenbaar word? Diegene wat boetvaardige, regverdige harte het, val voor Hom neer in aanbidding! Hulle reinig hulleself en roep uit, “God, reinig my!” En wanneer hulle Sy heerlikheid beleef, wil hulle meer hê! Hulle gaan van heerlikheid tot heerlikheid!

Oor en oor is hierdie woorde geskryf, “En die Here het vir Moses gesê, kom op na die Here toe....” Moses het een openbaring van God se heerlikheid na ‘n ander gekry, totdat sy gesig uiteindelik geskyn het met die Here se heerlikheid! Israel kon dit nie verdra om na hom te kyk nie!

Ons het immers gehoor hoe Moses by God pleit in Exodus 33:18, “Laat my tog u heerlikheid sien.” God sal ‘n volk in hierdie laaste dae hê wat Hom geen rus sal gun nie, totdat Hy weereens Sy vreeslike heerlikheid openbaar!

Op een stadium sien ons Moses en Aäron, Nadab en Abihu, en sewentig van die ouderlinge opgaan na die berg, na die teenwoordigheid van God! “En hulle het die God van Israel gesien” – hulle het Hom gesien soos duidelik soos die hemel self – en die aanskoue van Sy heerlikheid was “soos ‘n verterende vuur op die top van die berg” (Exodus 24:10,17).

Hulle het God gesien, in Sy teenwoordigheid geëet en sigbaar Sy ontsagwekkende heiligheid aanskou (Exodus 24:11). Slegs veertig dae later het hulle heeltemal afvallig geword!

Aäron het afgekom en afvallig geraak, en die ouderlinge het teruggekeer na die weë van die vlees! Die presiese oomblik waarop God planne uitgelê het om hulle te verlos en hulle magtiglik te gebruik sodat alle nasies hulle sou vrees, het hulle gehardloop om afgode te omhels!

Geliefde, hier is die enigste definisie van “afgod” wat jy ooit nodig sal hê: Dit is enigiets wat God daarvan weerhou om in jou lewe te werk! Enigiets wat die Heilige Gees verhinder om jou in die wolk in te bring!

Ek sien iets vreesaanjaend, onverstaanbaar – dit is, dat God se volk soveel heerlikheid kan beleef in die vreeslike teenwoordigheid van God, en in net ‘n paar kort weke, hulle dan totaal en al wend na afgodery! “Daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel” (Exodus 32:6). God het vir Moses gesê, “En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het” (Exodus 32:8).

Jy mag dalk sê, “Ek is nie so nie. Ek sou nooit my kon wend tot afgodery nie!” Maar hierdie geneigdheid is in almal van ons! Hulle was dieselfde kinders van God, wat eenparig geantwoord en gesê het, “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:8).

Hulle het ‘n volle openbaring van God se teenwoordigheid gehad. Hulle was onder die wolk, het God gehoor spreek, het wonderwerke gesien en het gehoorsaamheid belowe. Maar dit alles het vanuit hulle verstand en lippe gekom, omdat hulle harte steeds verdeeld was!

Die kinders van Israel het vir Moses gesê, “Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê, en ons sal dit hoor en doen...Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk...dit is alles goed wat hulle gespreek het. Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (Deuteronómium 5:27-29).

Ek het al dikwels in pyn uitgeroep, “God, stuur U vreeslike teenwoordigheid – reinig ons!” Ek sien nou dat ons alles by Sy voete moet neerlê, en ons harte moet heeltemal gespeen word van hierdie wêreld. Want as ons ‘n verdeelde hart het, sal die koms van Sy vreeslike teenwoordigheid slegs die afvalligheid van talle verhaas! Diegene wat op kwaad uit is, hoogmoedig of hardkoppig is, sal omdraai en teruggaan!

In die Nuwe Testament, sê die Here Hy sal “hulle kandelaar verwyder”: “Onthou waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openbaring 2:5).

Hulle getuienis sal van hulle af weggeneem word, en hulle sal geen deel hê in wat God doen nie! Hulle lampe sal flikker en sterf! Hulle sal wees soos die maagde wat geen olie, geen vuur – geen getuienis nie!

Die Here sal sê, “Ek sal my Gees uitstort en ‘n nuwe werk doen – maar jy het geen deel daarin nie. Ek wil jou gebruik en seën, maar jy het jou na jou afgode gewend. Jy het opgestaan om te eet en te drink en te speel!

“Nou gaan ek jou kandelaar verwyder. Ek gaan jou getuienis wegneem. Julle het geen deel om van My te getuig nie, omdat jou hart nooit by My was nie!”

God was reeds klaar met baie gelowiges en baie kerke – en al wat oor is, is swak, pieperige, oppervlakkige, waardelose “getuies.”

Prys God, Hy berei ‘n volk voor wat aan die brand gesteek is, verteer word deur Hom en brandend is van liefde – want Hy is gereed om op te tree teen die duiwel se koninkryk! “Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen....Ek is die HERE” (Exodus 5:24 - 6:1).

Satan kan nie ons gebede keer nie! Hy kan nie die werk van Christus terughou nie! Die duiwel sal ernstig mee gedeel word. En die mag teen hom sal so groot wees, dat hy, soos Farao, God se volk sal laat trek!

“Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit...gaan dien die HERE soos julle gespreek het” (Exodus 12:31).

Geliefde, dit is presies wat die Here vir jou gaan doen! Hy gaan afkom en die werk van die duiwel oorweldig in jou huis en familie. Eendag, miskien in die middel van die nag, sal die duiwel sê, “Ek word geteister deur aanhoudende gebede – gaan! Dien God!”

God het ons geroep om die hel te bombardeer, om vestings neer te werp, om te oorlog te voer teen die owerhede en magte van die duisternis. Dit is omdat God op die punt staan om ‘n werk te doen, een wat nog nooit tevore beleef is nie!

Ons is nie per toeval op Broadway, by die kruispaaie van die wêreld nie! En die beroering in jou hart is ook geen toeval nie! ‘n Goddelike doel en ‘n plan is op die punt om te ontvou – en ten spyte van al die teistering van die duiwel, kan jy met sekerheid sê, “O, ja! Dit is ‘n seker teken dat ek God aanraak. Die duiwel is woedend!”

Dank God – Hy is aan die werk!