Die Vrees van die Here in die Kerk van die Laaste Dae

David Wilkerson

Die meeste van die Ou Testament profete het voorspel dat God ‘n kerk in die laaste dae sal oprig wat vol van die heerlikheid en vrees van die Here sal wees. En die Skrif sê dat hierdie magtige kerk sal verrys tydens die wêreld se ergste uur van verwarring en boosheid.

Ek glo hopeloosheid, verwarring en wanhoop beskryf die beste wat die meeste mense vandag voel. In ‘n Mei die 6de brief aan die redakteur van die New York Post, het een vrou geskryf:

“Ek skryf hierdie brief omdat ek moeg is van al die misbruik, gelieg en verdorwenheid. Wat doen ons aan onsself? Kindermisbruik, dwelms, moord, bedrog, stygende belastings, dienstebesnoeing, haweloosheid, roof! Wat anders is daar aan die lewe in New York Stad? Wat gaan aan? Waarheen is ons gewetens op pad? Waarheen het basiese menslike waardigheid en waardes vedwyn? Om mekaar te verkul blyk om aan die orde van die dag te wees. En mense word doodgemaak omdat hulle terugbaklei! Dit lyk of ons dieper en dieper in hopeloosheid verval. Ek hou aan droom om hierdie stad te verlaat een of ander helder dag. Geteken, Charlene, Stem van Wanhoop.”

Dit is ongelooflik dat dieselfde verwarring, chaos en goddeloosheid wat in die wêreld gesien word, nou die kerk van Jesus Christus kenmerk. God het vir die profeet Hoséa gewys dat net voor die laaste-dae ontwaking in die kerk, God se kinders geestelike hoere sou word, en hulle sou hulle wend na ander liefdes ten spyte van al die goedheid en barmhartigheid wat Hy aan hulle betoon het.

Die kerk word uitgebeeld as “’n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe” (Hoséa 3:1). God sê egter van hierdie owerspelige vrou, “Toe het ek haar vir my gekoop” (Hoséa 3:2). En die Here Jesus in inderdaad die kerk gekoop met Sy eie kosbare bloed. Wat ‘n beeld van onbegryplike liefde!

Die afgelope paar jaar, het ek die ongeregtighede en kompromie wat in God se huis versprei, veroordeel. Ek glo dit is skriftuurlik om die stem te verhef teen geestelike hoerery. Ek sien gruwels in God se huis wat my so oorweldig, dat ek soms wonder waarom Hy nie met hemelse weerlig slaan nie.

Maar ons durf nie ‘n groot profetiese waarheid uit die oog verloor nie, een wat bekend was en verstaan is deur al die Ou en Nuwe Testament profete. Dit is die volgende: “Hierdie kerk mag tans ‘n owerpelige vrou wees, haar hart oorgegee aan ander, verdeeld, verward en ontrou. Sy mag moontlik geopenbaar word as een met ‘n bedrieglike hart, verlief op die wêreld en afvallig, ten spyte van die liefde wat aan haar bewys is deur die Here. Sy behoort egter steeds aan Hom. Hy het haar gekoop met Sy eie bloed. En Hy het belowe om haar te bearbei om na Hom toe terug te kom – om haar ‘n getroue, waardige bruid te maak.”

Die Here het vir Israel gesê, “Jy sal ‘n lang tyd moet stilsit vir my, nie hoereer nie en aan geen man behoort nie; en so ook ek teenoor jou” (Hoséa 3:3). Toe het Hy verklaar, “Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae” (Hoséa 3:5).

Toe hierdie profesie geskryf was, was Dawid al lankal dood. Die noem van sy naam in hierdie gedeelte is eerder ‘n profesie oor Jesus, Here oor almal. Dit is ‘n dubbele profesie, wat praat van letterlike Israel, maar ook die geestelike Israel van God, wat Sy kerk is. En die profesie in hierdie vers is dat die kerk in die laaste dae uit die chaos van hoerery en misleiding sal verrys en terugkeer om net die Here te soek.

Huidiglik kom hierdie laaste-dag volk uit die hoerkerke, uit al die sensualiteit, bohaai en vermaak. Hulle stroom nie na byeenkomste om mens te sien wonderwerke verrig nie. In plaas daarvan, gaan hulle agter Dawid – Koning Jesus – hulle Here aan! Hulle het geen ander begeerte behalwe Hom nie.

Dit is egter jammer dat sommige gelowiges steeds “hoereer.” Hulle oë is nie op Jesus nie. Hulle wil ‘n beroemde evangelie persoonlikheid hê; hulle is liefhebbers van mense en plesier. Hulle geniet die opwinding, die skares, die prag en praal.

Waarom word so baie hierin vasgevang? Waarom treur hulle nie oor die vleeslike vertoon in God se huis nie? Selfs sondaars sien die bedrogspul raak – maar baie Christene nie. Dit is omdat hulle steeds mensgesentreerd is nie Christus-gesentreerd nie. Hulle reis dwarsdeur Amerika om hulle gunsteling leraar of prediker te hoor.

Ek glo die meeste Christelike televisie programme vandag is niks anders as geestelike hoerery nie. Al die bohaai en lawwigheid maak dat ware goddelik mense bloos. Die wêreld is geskok, geamuseerd en verstom oor hierdie ongelooflike skynheiligheid – maar talle Christene eet dit vir soetkoek op!

So sleg as wat Christen TV egter is, glo ek dooie, droë kerke met net sulke verdorde herders is net so owerspelig. Hoe kan ons verwag dat sondaars na kerke toe sal gaan wat so dood is dat gelowiges dit nie eens kan verdra nie? Sulke kerke is die grap van die hel! Maar God belowe ons dit sal alles verander – omdat die vrees van die Here herstel sal word in die kerk van die laaste dae:

“En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees” (Openbaring 11:18). God se oordeel kom – maar eers roep Hy uit na diegene wat Hom heelhartig dien!

Die laaste evangelie oproep sal wees om “God te vrees en Hom eer te gee”: “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke” (Openbaring 14:6-7).

“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige...Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie?” (Openbaring 15:3-4).

Geliefde, in hierdie gedeeltes praat God van ‘n besondere soort vrees. Dit is nie die vrees van Sy toorn, oordeel of woede nie. Die Bybel sê die kerk sal “met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste dae van die kerk” (Hoséa 3:5). Hoe is dit moontlik om die goedheid van die Here te vrees?

Die Puriteinse skrywer Jeremiah Burrows het geskryf: “Ons is amper bang om die goedheid van God te verkondig, omdat so baie mense kwaadwillige harte het en die boodskap misbruik. Dit is waarom die verkondiging van die goedheid van God so baie siele verdoem het. God het Sy kerk egter so lief, dat Hy nie die boodskap van hulle sal weerhou nie, selfs met die risiko om die siele wat daardeur verhard word te verdoem.”

Jy sien, die goedheid van die Here is ‘n gevaarlike waarheid as jou hart nie reg is nie. Talle verkondig dit en ontspan geestelik deur dit as ‘n verskoning vir sonde te gebruik. Ewenwel, God sal nie die verkondiging daarvan van Sy kerk weerhou nie.

Laat my vir jou ten minste vier redes opper waarom die kerk die goedheid van God sal vrees.

1. Die kerk van die laaste dae sal die teenwoordigheid van Christus sien soos geen ander kerk in die geskiedenis nie.

Die kerk van ons eeu is so goddeloos en onverdienstelik. Maar God, in Sy groot liefde, sal die kerk in die laaste dae met soveel van Sy heerlikheid, goedheid en barmhartigheid vul, dat ons die grootste openbaring van die teenwoordigheid van Jesus sal beleef van enige kerk in die geskiedenis. Ons sal Hom in soveel mag en heerlikheid sien, dat ‘n groot, heilige vrees oor ons sal kom: “Wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thessalonicense 1:10).

Om Jesus te sien in al Sy krag sal in ons ‘n ontsaglike vrees vir Sy goedheid veroorsaak. Eerbiedige verwondering sal van ons besit neem terwyl ons sulke onverdiende openbarings van Sy teenwoordigheid beleef. Hy sal skielik na Sion kom en wonderlik in ons midde wandel, en ons sal die ontsaglike openbaring van wie Hy is begin vrees.

Hier is die goedheid van God wat ons siele sal oorstroom met beide ontsag en vrees: dat God kies om Homself te openbaar aan die mees owerspelige kerk van alle tye, die een wat Sy oordeel die meeste verdien. En asof dit nie genoeg is nie, plaas Hy in ons ‘n hart wat na Hom soek en gee ons rein hande, suiwer harte en ‘n heilige vrees. Wie kan dít alles inneem?

Selfs diegene wie se harte reeds op Hom gerig is, wat wandel in Sy teer liefde en heiligheid, word uit geestelike owerspel en hoerery geroep. Het ek of jy verdien om ‘n hart vol liefde vir God te hê? Nee!

Lees die stories van die helde van geloof in Hebreërs 11. Hulle het wrede bespottings en slae verduur. Hulle was geboei, in die tronk gestop, middeldeur gesaag, vermoor met die swaard, gejag, honger, naak en het gebrek gely. Hulle was egter vol geloof, onverskrokke en onwrikbaar. Dink jy vir een oomblik dat ons teenoor hulle opweeg in toewyding, geloof en opoffering? Vandag raak ons paniekerig as ons ‘n maand se huur nie kan betaal nie, of ‘n paar maaltye misloop. Wanneer ons ‘n paar maagkrampe kry, dink ons ons sterf!

Wat van Moses, wat die skande van Christus groter rykdom geag het as al die skatte van  Egipte? Hy was sonder kos vir veertig dae in die teenwoordigheid van God en het gesê, “Ek sal liewer sterf as om te sien dat hierdie mense sonder U teenwoordigheid is.” Wat van Paulus, wat eers gestenig, skipbreuk gelei, geslaan en in die tronk gegooi is? In hierdie eeu van die vlees pamperlang, kom nie één van ons naby hierdie soort oorgawe aan God nie!

Ek vra myself af waarom Jesus so werklik is, so geopenbaar is onder ons by Times Square Kerk. Is dit omdat Hy na ons aangetrek was deur ‘n onbeperkte liefde vir Hom? Het Hy in ons sekere uitstaande kwaliteite van heiligheid en reinheid gesien?

Glad nie. Die waarheid is dat, soos Israel, is ons almal geneig tot afvalligheid. Aan onsself oorgelaat, word die hoerery gou geopenbaar. Wanneer ons vuurwarm prediking hoor wat ons veroordeel, bely en bid ons, word ons nugter, opreg en getrou. Maar binne ‘n kort tydjie, sonder ‘n profeet of herder wat die spieël van die Woord voor ons oë hou, verval ons in geestelike luiheid.

Dit is egter die rede waarom daar ‘n volk van God sal wees in die laaste dae wat Sy goedheid ernstig sal vrees. Hulle ken die swartheid van hulle eie harte, hulle ken hulle geneigdheid om koud en onverskillig te word. En tog sê God van ons, “’n Owerspelige vrou geliefd deur ‘n vriend wat nader is as ‘n broer.”

Jy sien, God gaan ‘n heilige oorblyfsel opwek wat nooit sal teruggaan na die wêreld nie. Hy sal in Sy kerk ‘n hart plaas wat Hom voortdurend soek, ‘n hart heeltemal op die Here gerig. Hy sal ons dring om slegs Hom lief te hê.

Vra Hom nou, “Here, waarom lees ek nóú op hierdie oomblik hierdie boodskap? Waarom sit ek tussen die goddelikes?” Ek së vir jou – dit is weens Sy goedheid! Hoe kan jou hart nie gevul wees met heilige vrees wanneer jy dink aan hoe goed Hy vir jou was nie? Waarom oorstroom Hy jou siel met blydskap? Waarom maak Hy jou siel opgewonde met Sy liefde en teenwoordigheid?

Watter onpeilbare goedheid is dit – en, geliefde, die beste kom nog! Volgens wat God vir Hoséa gesê het, sal ons strewe na God meer intens word. Ons verlange na Jesus sal toeneem. Ons sal nie omdraai nie en ons sal nooit ‘n ander Koning nodig hê nie. Ons sal ons na niemand anders as Jesus wend vir leiding nie. Daar sal nie langer ‘n ander liefde tussen ons kom nie.

“En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid...En Ek sal My met jou verloof in trou” (Hoséa 2:18-19). Hy sê in wese, “Ek gaan jou ‘n getroue volk maak!”

Dit sal egter nie met almal gebeur nie. Wanneer die Heilige Gees neerdaal en beweeg, moet ons op Hom reageer. Dit is slegs dan wanneer Hy ons in die volheid bring waarvan Hy praat. Wat ‘n ontsaglike gedagte: nie net het Hy ons gered nie – Hy gaan ons bewaar! En die liefde wat ons nou het, gaan warmer, helderder en sterker word totdat Jesus kom of wanneer ons gaan om saam met Hom te wees.

2. Hierdie kerk sal die beloofde, laaste skudding van alle dinge sien.

“Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe...sodat die onwankelbare kan bly” (Hebreërs 12:26-27).

Meer en meer sien ek dit as ‘n profesie van wat Jesus in Sy kerk gaan doen. Hou in gedagte, ons stryd is teen geestelike boosheid in hemelse plekke.

Ongeveer vyf jaar gelede het ek moedeloos geword toe talle herders hulle kerk oopgemaak het vir rock konserte. Tieners het wild tekere gegaan, in die kerkbanke gedans en reguit uit die kerk gegaan na die agtersitplekke van motors vir seks. Ouers het met gebroke harte vir my geskryf, “My tiener was aan die brand vir God. Toe het ons herder en jeugherder hierdie wilde groepe ingebring, en ek het my seun verloor. Hy het afvallig geword. Hy het ‘n aptyt vir okkultiese musiek, net hier in ons kerk. En die herder bespot ons betwyfeling!”

Eens het ons in Times Square Kerk die voormalige president en eienaar van die drie ergste heavy metal “Christen” etikette in Amerika gehad. Die Heilige Gees het hom een dag wakker gemaak en vir hom gesê hy was ‘n verskaffer van vuilheid en was besig om ‘n geslag te verdoem. Hy het hom bekeer en waarsku sedertdien herders en jeugleiers deur te sê, “Ek het dit vervaardig, en ek weet wat daarin is!” Talle van hierdie leiers wil egter steeds nie luister nie. Die duiwel het hulle verblind.

Dank God, Hy het belowe om dit alles te skud. Wanneer God onder Sy mense begin beweeg, sal die huis van God ‘n voorstelling op aarde wees van die stryd wat in die hemele gevoer word. Hy sal begin wandel in hulle byeenkomste met kragtige oortuiging van sonde – en hulle sal almal wit word, hulle harte beswyk van vrees!

‘n Groot beweging van Sy Heilige Gees sal plaasvind en menigtes kinders sal Jesus sien en na Hom getrek word. Hulle sal alles wat Hom nie behaag nie, vewerp. Hulle sal nie hoef te sê, “My ouers het my hieruit gesmeek: nie, of “Ek was daaruit gepreek en veroordeel” nie. Nee, ek glo Jesus wil kom en tussen hulle wandel, om Sy teenwoordigheid te openbaar, sodat hulle kan sê, “Kyk, Jesus het aan my verskyn, en ek het Sy teenwoordigheid beleef. Dit het my verander!”

Ons sal nie meer bystaan en treur, hartseer wees en ween terwyl ons uitroep, “O, God, vreemdelinge is in U heiligdom ingebring en het dit besoedel!” nie. In plaas daarvan, sal ons juig as menigtes getuig, “Jesus het na my toe gekom! Hy het ‘n nuwe liefde in my hart vir Hom gegee. Niemand behalwe die Heilige Gees het nodig gehad om my te veroordeel nie; niemand moes vir my sê om reg te kom nie. Dit was alles Jesus – en ek begin Hom soek met my hele hart!”

Ons sal baie vreemde en wonderlike dinge sien tydens hierdie groot skudding. Reeds sien ons ‘n nuwe geloof in ‘n werklike hel Amerika aangryp. U.S. News and World Report noem dit, “Hel se Nugter Terugkeer.” Volgens die hoofberig, glo drie uit vyf Amerikaners nou glo in hel en veroordeling.

Kyk wat gebeur wanneer die Here begin om dinge werklik te skud – in die ekonomie, in die natuur, in die regering, in leierskap. Onlangs, het The New York Times ‘n groot storie berig oor multimiljoen-dollar sport figure wat hulle tot Jesus bekeer. In voetbal, bofbal, basketbal en ander sport, word atlete links en regs gered. Talle ontdek dat groot geld vir hulle slegs ellende, dwelmverslawing of alkoholisme gebring het. Nou het hulle gebedsbyeenkomste in hulle klubhuise!

Wag totdat hierdie beweging Broadway tref en dan die Kongres. Wag totdat een of ander staatsman op die kongresvloer kom en preek – en niemand loop uit nie!

Hierdie beroering gaan so wydverspreid en ontsaglik wees, dit sal vrees inboesem in almal wat weet hoe betekenisvol dit is. Ons sal uitroep, “Here, U het gesê hierdie skudding sal plaasvind net voor U koms. U moet voor die regte deur wees!”

3. Daar sal so ‘n rein en heilige ontsag tydens aanbidding wees, dat dit vrees in beide heiliges en sondaars sal inboesem.

“Vreeslik is God uit jou heiligdomme” (Psalm 68:35). God sal voor ons oë doen wat Hy vir Moses gedoen het. Hy sal veroorsaak dat al Sy goedheid voor ons oë verbygaan (sien Exodus 33:19). Maar dit sal ‘n groter heerlikheid wees as wat Moses aanskou het. Wat hy gesien het, sal somber wees in vergelyking met die heerlikheid wat voorlê.

Toe Moses hierdie openbaring van die goedheid van God gesien het – van Sy geregtigheid, barmhartigheid en waarheid – het hy gou gemaak om Hom te aanbid: “Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval” (Exodus 34:8). En ons sal ook! Elke dag sal ‘n nuwe openbaring van Sy goedheid meebring. Sondaars en familielede sal hulle tot die Here bekeer, en die mees onwaarskynlike mense sal getuig en preek. Daar sal geen geslaap, verveeldheid, geen gedagtes wat dwaal wees in Sy teenwoordigheid nie. Ons sal gou maak om eerbiedig te wees en te aanbid.

‘n Herlewing van lof en aanbidding word nou verkondig onder baie charismate en evangelie kerke. Iets ontbreek egter in al hierdie gepraat oor lofprysing – en dit is die nugter vrees van God. “O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Exodus 15:11).

Dawid wys vir ons duidelik wat kortkom: ‘n bewing in Sy teenwoordigheid! “Dien die HERE met vrees, en juig met bewing” (Psalm 2:11). Hierdie laaste-dae kerk sal voor Hom kom, harte gereinig en bekerend – en soos Moses, sal hulle gou maak om te aanbid.

Die Puriteine het hierdie gesegde gehad: “Blydskap verander in verwaandheid in die hart.” Dit is waar as ons blydskap nie spruit uit bekering nie. Ons wil die blydskap hê sonder die ontsag, vrees en erns.

Ek het gesien wat sommige “blydskapvierings” noem – vlieënde baniere, optogte, en harde, vreugdevolle gesing. Maar onder dit alles, het dit geen fondament van die heerlikheid van Sy heiligheid gehad nie. Dit was vlees, glad nie die spontane uitstorting van ‘n werk van God in die siel nie. Dit was meer van ‘n juigsessie – ‘n gejuig vir ‘n Jesus wat nie gevrees word nie.

Dit is waar, ons word beveel om Hom te dien met vreugde en blydskap; dit kom voor reg deur die Woord. Maar daar is ook ‘n geneigdheid in die kerk om oor te gaan na ligsinnigheid, verwaandheid en lawwigheid, en om die vrees van God te verloor deur nie ernstig te wees of voor Hom te bewe nie. Ek glo wat aan die kom is, is egter ‘n aanbidding so rein, so vol van Jesus, dat dit almal met enige boesemsondes met veroordeling sal tref!

4. Daar sal ‘n heiligheid op die gelaat van God se dienaars wees – en dit sal ‘n bestraffing wees teenoor diegene wat in sonde leef.

“’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is” (Psalm 89:8).

‘n Heilige man van God het eens geskryf: “Sekerlik, wanneer die gelowiges verhef word tot hulle heiligheid, wanneer elkeen van hulle hulle harte gevul sal hê met God, sal dit oorvloedige vrees veroorsaak in die harte van diegene wat selfs net met hulle sal praat.” Met ander woorde, wanneer jy vol is van Jesus, word jy outomaties ‘n bestraffing en teregwysing vir iemand wat boesemsondes in sy hart het!

‘n Skuldige gewete kan nie die blik van ‘n heilige kind van God verduur nie. Eeue gelede, sou ‘n regverdige dienaar van God genaamd Basil, in die tronk gegooi word. Offisiere was gestuur om hom in hegtenis te neem. Maar toe hulle sy kamer binnekom en hy omdraai om na hulle te kyk, was sy gelaat so vol van Christus, dat die offisiere agtertoe geval het op die grond. Hulle kon nie ‘n hand op hom lê nie!

Ek het ‘n jong herdersvriend wat so vol van Jesus is dat sy gesig straal. Onlangs was hy in ‘n restaurant met ‘n paar ander jong predikers wat ook die Here liefhet. Hulle het gehoor ‘n baie bekende evangelis was ook in die restaurant en hulle wou hom ook graag ontmoet. Hierdie man was in die proses om herstel te word van ‘n onbloting van sonde in sy lewe – en my jong vriend wou hom seën.

Toe die jongman hom ontmoet, kon die evangelis hom nie in die oë kyk nie; in plaas daarvan, het hy begin grappies maak. Uiteindelik het die evangelis na die jongman se vriende daar naby gedraai en gesê, “Julle ouens was al te lank saam met hierdie predikertjie. Julle het almal daardie heilige gelaat van hom!” Hulle het die man verlaat, diep bedroef.

‘n Ware goddelike persoon is ‘n bestraffing vir diegene wat met boesemsondes leef. Sy gelaat is nie hartseer – rooi-oë, wenend en bedroef nie – maar dit is eerder vol vrede, met God wat deur hom skyn. Dit is ‘n voorkoms van versekering wat sê, “Alles is reg tussen my en God.” Hierdie soort helder, vredevolle, heilige voorkoms is deurdringend – ‘n bakenlig van oortuiging van sonde vir ‘n donker en sondige wêreld.

Geliefde, ek sê weer vir jou met versekering: In die laaste dae, sal ‘n kerk kom wat vol van die vrees van God sal wees – en dit sal die regverdige vrees van Sy goedheid wees. En daardie heerlike openbaring van Sy goedheid en heerlikheid sal hulle bewaar van die mag van die bose!