Die Versoekings van die Regverdige

“Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel” (Mattheus 4:1). Wat ‘n ongelooflike vers. Mattheus sê onomwonde dat God se Gees Christus na die woestyn gelei het, waar hy ernstige versoekings sou beleef.

Nog meer verbasend, hierdie vers volg op ‘n ervaring van verheerliking. Jesus was pas gedoop in die Jordaan. Terwyl Hy uit die water opgekom het, het die hemele geopen, en die Gees van God het soos ‘n duif neergedaal en op sy skouer kom sit. Toe het ‘n stem uit die hemel verklaar: “Dit is my geliefde Seun. Oor hom verheug Ek My” (Mattheus 3:17).

Miskien dink jy: As God so tevrede en bly was oor Jesus, dat Hy vir die hele wêreld vertel het dat dit sy geliefde Seun was, waarom het Hy Hom dan in die woestyn gelei om versoek te word?

Onthou net dat Jesus die voorbeeld is, van hoe ons, ons lewens moet lei. Johannes skryf, “Soos Hy is, so is ons in hierdie wêreld” (1 Johannes 4:17). Meer nog, “Hy was immers in elke opsig aan versoeking onderwerp, netsoos ons” (Hebreërs 4:15). Die boodskap uit die Skrif is duidelik: Almal wat aan Christus behoort — God se geliefdes, op wie sy Gees rus — sal ‘n veeleisende woestyn-ervaring hê. Gepaardgaande met sataniese versoekings.

Let op dat hierdie beginsels nie toegepas word op lou of koudgeworde Christene nie. Sulke beproewings kom net na hulle toe wat in die Gees wandel en met die Here gemeenskap het. Om die waarheid te sê hoe groter ‘n persoon se toewyding is hoe hewiger is sy versoekings.

En tog, as die Heilige Gees ons in die woestyn lei, het God ‘n ewigheidsdoel in gedagte vir ons. Moet net nie die fout maak om te dink dat God ons versoek nie. Dit is die duiwel wat dit doen: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie” (Jakobus 1:13).

Om uit te vind wat God se doel met ‘n woestyn-ervaring is, moet ons op Christus se ervaring let. Buitekant die woestyn, moet die menigtes hulle eie versoekings teenstaan. Hierdie versoekings is sleg en laag, soos hebsug, egbreek, geweld, steel, dronkenskap en dobbelary. Daardie mense leef op ‘n laer vlak in elke opsig.

Jesus het bo dit gestaan. Hy sou nie deur sulke growwe sondes versoek word nie, want Hy was regverdig, geliefd, verkose, sy versoekings sou op ‘n hoër vlak kom. Hulle sou dieper, misterieus en meer intens wees. Sy versoekings sou op die geestelike vlak wees, en sou ewigheids gevolge hê.

Dieselfde is vandag vir ons waar. ‘n Ware geestelike persoon word nie op die vleeslike vlak versoek nie. Byvoorbeeld, hy sal nie die versoeking voel om in ‘n kroeg te gaan drink nie, of in ‘n hotel met ‘n prostituut omgang te hê nie, of om ‘n ander man se vrou te begeer nie. Hy sal ook nie vloek, verdowingsmiddels gebruik of hom met dobbelary ophou nie.

In teenstelling sy daaglikse begeerte is om nader aan die Here te kom. Hy het Jesus Heer van sy lewe gemaak. Hy lees God se woord daagliks, bid en sy siel roep uit: “Heer ek wil nader aan U kom.”

Is dit jou situasie? As dit so is, sal jou versoekings meer wees, soos die soort wat Christus verduur het. Dit sal te doen hê met jou gehoorsaamheid aan God, en afhanklikheid van sy woord. Satan sal alles in sy vermoë doen om jou te versoek. Hy wil jou afkeer van God se plan vir jou lewe. Hy sal jou roeping probeer ondermyn, jou salwing probeer steel en jou probeer oortuig dat jou sekerheid van God se goedkeuring en seën ‘n leuen is.

Op die oomblik toe Jesus fisies swak was, het die duiwel sy eerste versoeking gebring. Die Skrif sê van Christus: “En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word” (Mattheus 4:2–3).

Dit is geen sonde om honger te wees nie. Wat is die probleem hier? Satan het Jesus uitgedaag: “As jy regtig God is, het jy God se krag in jou. Op die oomblik is jy in ‘n moeilike plek. Waarom gebruik jy nie die krag wat God jou gegee het, om jouself te help nie? het Hy nie daardie krag vir jou gegee om te sien of jy dit reg sal gebruik nie?”

“Jy het niks gedoen om in hierdie moeilike situasie te beland nie. en jy weet dat God nie graag sy kinders sien swaar kry nie. Daarom is daar geen rede om langer uit te hou nie. Daar is niks mee verkeerd, om jouself te help nie. Praat net en kry jouself uit hierdie situasie.”

Hier is een van die mees verraderlike situasies denkbaar, wat godvrugtiges elke dag tempteer. Soos jou voorbeeld, Jesus, het jy ook ‘n liefde vir God. Jy het jou hart beveel om geheel-en-al oorgegee te wees aan Hom. Op daardie oomblik lei die Here jou in ‘n woestyn-ervaring — en jy ervaar ‘n lang tyd van toetsing en droogheid. Na ‘n ruk, begin jy dit bevraagteken. Jy begin rigting verloor, jy twyfel oor God se roeping in jou lewe. Terwyl jy bid en oorwinning soek, word Satan se aanval erger.

Dit was Dawid se ervaring. Die Heilige Gees het hierdie godvresende man in ‘n lang woestyn-ervaring gelei. Na ‘n ruk was Dawid so ontmoedig dat hy uitroep: “Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders. Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig” (Psalm 12:1–2).

Dawid was so lank in gevaar, dat hy nou begin wegbly in vertwyfeling en wanhoop. Hy wonder wanneer dit alles sal ophou: “Hoe lank, Here, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg? Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag? Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef?” (Psalm 13:2–3). Hy vra vir God, “Hoekom moet ek dit self probeer oplos? Ek kan die rede of oorsaak nie vind nie.”

In Psalm 35 praat Dawid van ‘n vangstrik wat sy vyande vir hom gespan het. “Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word! Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe” (Psalm 35:4, 7). Wat is hierdie verborge vangstrik?

Dit is dieselfde versoeking wat Satan voor Jesus gegooi het. Die vyand wil hê jy moet onafhanklik van die Vader optree. As jy in die middel van jou beproewing is, dan sê die duiwel, “Jou beproewing is nie van God af nie. Jy hoef nie hierdeur te gaan nie. Jy het God se krag in jou, deur die Heilige Gees. Jy hoef nie nog een dag uit te hou nie. Sê die Woord — bevry jouself van jou beproewing. Stil jou eie honger.”

Satan se eerste plan was om ‘n kragonderbreking te veroorsaak. Hy het gehoop God sal nie sy vraag na brood beantwoord, as Hy vra nie. As die hemelse krag te kort skiet, kan Jesus sy goddelikheid in twyfel trek en sy ewigheids-roeping op aarde, laat vaar.

Tweedens het Satan geweet dat Jesus nie net gestuur was om te doen wat die Vader vir Hom sou voorsê nie. Daarom probeer hy Christus oortuig om gehoorsaam te wees, vir sy eie voordeel. As Jesus nou sy krag gebruik om lyding te voorkom, mag Hy later dieselfde doen om die kruis vry te spring.

Die duiwel het hier dieselfde versoeking gebruik op ontelbare menigtes van Christus se volgelinge. Sulke geloweiges was honger na God. Hulle was gesalf, biddend, vol van die Heilige Gees se krag. Maar dan word hulle gelei in ‘n woestyn-ervaring. En Satan versoek hulle om te twyfel aan God se leiding, en om God se krag te gebruik om hulleself te red van lyding.

Die vyand fluister, “Jy is gedaan van al hierdie geldelike probleme. God antwoord nie jou gebede nie. Jy is elke dag moedeloos oor alles wat hierdie beproewing oor jou en jou familie gebring het. Nou kan jy dit nie langer verduur nie.”

“Jy het God se woord in jou hart. Hy het vir jou krag gegee deur die Heilige Gees. Waarom gebruik jy nie daardie krag om hierdie ellende te beëindig nie? Hou vas aan God se beloftes en verklaar jouself vry van hierdie beproewing. Dit is vir ‘n goeie saak.”

Hulle glo Satan se leuens. Hulle probeer vashou aan ‘n enkele belofte om sodoende uit hulle beproewing te kom. Hulle hou op om op God te vertrou, en eis dat hulle finansies sal ontvang. Maar hulle planne kom nie van die Heilige Gees af nie — en dit misluk.

Nou neem hulle sake in hulle eie hande. Hulle vergroot hulle kredietkaarte en gaan lenings aan. Hulle verval in skuld, maar spog, “God seën my.” Uiteindelik val alles plat. Dan raak hulle verbitterd. Hulle draai hule rug op God en val terug. Ek het dit telkens weer gesien.

Hierdie mense dwarsboom God se plan met hulle beproewing. Die Here wou hulle tot volle afhanklikheid en vertroue in Hom bring. Hy wou die beproewing gebruik om hulle los te maak van alle vertroue op mense en op hulle eie vermoëns. Hy wou ook in hulle ‘n meegevoel werk vir andere in dergelike omstandighede. Die Skrif sê dit was God se bedoeling, selfs vir sy eie Seun: “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Hebreërs 5:8). “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word” (2:18).

Hoe beantwoord Jesus die duiwel se versoeking? “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Christus sê met ander woorde, “Ek het nie na die aarde gekom om my eie behoeftes te bevredig of pyn te ontvlug nie. Ek het gekom om vir die mens te gee — nie om myself te red nie.”

Selfs op die hoogtepunt van sy lyding, het Jesus nooit sy ewigheidsdoel uit die oog verloor nie. As ons Heer afhanklikheid en meegevoel geleer het deur ‘n woestyn ervaring, sal ons ook. Ja, die ware gelowiges wat die meegevoel van Christus het, is hulle wat baie lyding ondergaan nie, en wat daarna kan getuig van God se getrouheid. Hulle kon saam met Paulus sê, “Verder moet niemand my moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam” (Galasiërs 6:17).

Toe Jesus op die hoogste punt van die tempel staan, fluister Satan, “As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien U voet teen ‘n klip stamp nie” (Mattheüs 4:5–6).

Sien jy die Satan se agterbaksheid hierin? Hy haal ‘n enkele belofte uit die Skrif aan — en hy versoek Jesus om sy hele lewe op hierdie een belofte te werp. Hy suggereer, “Jy sê mos God is met jou. Wys dan vir my. Jou Vader het my alreeds toegelaat om dit vir jou moeilik te maak. Waar was sy teenwoordigheid? Jy kan bewys dat Hy by jou is, as jy nou spring. As God by jou is, sal Hy ‘n sagte landing bewerkstellig. Dan kan jy jou vertroue daarop laat rus. As Hy dit nie doen nie, kan jy net sowel sterf as om te bly wonder of Hy met jou is. Jy het ‘n wonderwerk nodig om aan jouself te bewys dat Hy by jou is.”

Weereens, Dawid het net so ‘n versoeking ervaar. Hy getuig teenoor die wêreld van God se getrouheid teenoor hom. Tog bevind Dawid hom nou op moedverloor se vlakte. Die Satan kom na hom toe met beskuldigende uitdagings: “Kyk hoe lyk jy. Jy is ten gronde en jy weet nie eers waarom nie. Jy sê God is getrou, tog is jy geestelik droog. Jy bid die hele dag. Tog word jy elke oggend wakker met ‘n onverklaarbare verlange. Waar is God in al hierdie dinge?

Dawid roep uit, “Met ‘n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (Psalm 42:11). Hy voeg nog hierdie woorde by: “Aanskou tog, verhoor my, Here, my God! Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie; sodat my vyand nie kan sê: Ek het hom oorwin nie, en my teëstanders nie juig as ek wankel nie” (13:3–4).

Die geveg in Dawid se hart, is aan alle mense bekend. Op sekere tye lyk God so ver verwyder en stil. Ons bevind onsself in worstelinge wat ons nie verstaan nie. Soos Dawid roep ons uit: “Hoe lank nog, Here? Wanneer sal U vir my wys dat U by my is? Gee my tog ‘n teken, iets goeds wat van U af kom.”

Nou mag jy wonder, “Wat is verkeerd daarmee om onsself op God se beloftes te werp? Die Bybel sê dat al God se beloftes ‘ja en amen’ is vir almal wat glo” (sien 2 Korinthiërs 1:20). Natuurlik word ons bevry deur die getroue beloftes van die Here.

Maar daar skuil ‘n groot gevaar in om een vers uit te sonder, ongeag van enige ander Skrifgedeeltes, en jou geloof alleen daarop te bou. Laat ek u ‘n voorbeeld gee. Ek ken ‘n vrou wat hopeloos vasgevang was in haar finansies. Sy het ‘n hele reeks wonderwerke nodig gehad, net om te bestaan. Toe sit sy haar hele geloof op een enkele vers: “Bring die hele Tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleagi 3:10).

Hierdie vrou het van die tempel se dak afgespring, en uitgevind dat daar nie ‘n net was nie. Die duiwel het daarin geslaag om haar te geloof te verwoes. Hoe? Hy het haar oortuig om alle ander skriftuurlike raadgewing te verontagsaam.

Ja, God beloof om die hemele oop te maak vir hulle wat gee. Maar Hy verwag ook ‘n sekere hartsingesteldheid van hulle wat gee. “As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het” (2 Kronieke 6:26). Hierdie vrou het nooit gehoor gegee aan ander gedeeltes wat klem lê op die noodsaaklikheid om te vergewe nie. Sy het jaloesie en afgunstigheid in haar hart gekoester.

Die meeste valse leringe, en godsdienstige sektes stam van hierdie wanopvattinge af. As mense probeer om een belofte uit te lig uit die Skrif, daag hulle God uit om Homself as getrou teenoor hulle te bewys. Tog ignoreer hulle gewoonlik die voorwaardes wat aan die belofte gekoppel is. Daarom antwoord die Here Satan op hierdie manier: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4).

Ek vind dit baie diepsinnige dat God toelaat dat sy Seun hier, op die dak van die tempel, so ‘n gevaarlike besluit moet neem. Omdat Jesus ten volle mens maar ook ten volle God was, moes daar vrae by Hom opgekom het. Het Hy miskien gewonder, “Vader, U het my geroep om my lewe neer te lê. En ek doen dit graag. Maar waar is U in hierdie saak? Waarom het U toegelaat dat ek so versoek word?”

Hoe het Jesus gereageer? Hy sê, “Daar is geskryf, jy moet die Here jou God nie versoek nie” (Mattheüs 4:7). Wat bedoel Jesus hier met “God versoek?”

Israel is ‘n voorbeeld daarvan. Tien keer het die Here vir hulle sigbaar bewys gelewer dat Hy getrou is aan die Israeliete. Tog vra die mense elke keer dieselfde vraag: “Is God met ons of nie?” God noem dit “om Hom te versoek.” As God dit toegelaat het, sou daar geen einde gekom het nie.

Nou gebruik Jesus dieselfde woorde — “versoek God” — in sy antwoord aan die Satan. Wat sê dit vir ons? Dit wys vir ons dat dit ‘n groot sonde is om God se teenwoordigheid in twyfel te trek, ons mag nie twyfel dat Hy by ons is nie.

Dikwels versoek Christene die Here in hulle woestyn-ervarings. Dan sê hulle, “Here, ek kan nie verder gaan as U nie vir my wys dat U by my is nie. Satan beskuldig my en ek kan nie help om te voel dat hy wen nie. Is U met my? As U my nie gou hieruit verlos of vir my ‘n teken gee dat U by my is nie, gee ek oor.”

Tog, net soos met Israel, het God reeds vir ons bewys dat Hy met ons is. Ten eerste het ons in sy Woord heelwat beloftes dat Hy met ons is. Ten tweede, het ons, ons eie privaat ondervinding van God se aanwesigheid in ons lewens. Ten derde, het ons ‘n Bybel vol van getuienisse van God se getrouheid in vergange eeue, teenoor sy kinders in benoudhede. Sonder twyfel het ons God Homself oor-en-oor bewys. Tog vra ons nog bewyse — of anders.

Die Bybel is duidelik, ons moet in geloof met God wandel, sonder bewyse, anders word ons troueloos soos Israel.

Op die berg het die Satan Jesus met hierdie aanbod versoek: “Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Mattheüs 4:9). Dit klink so vreemd, so belaglik, hoe kan dit nou ‘n versoeking wees? Het die Satan regtig gedink Jesus kon daarmee versoek word?

Glo dit as jy wil, maar dit was ‘n magtige, verleidende versoeking. Satan het Jesus uitgedaag deur te sê, “God het jou geroep om jou lewe af te lê vir ‘n verloregaande wêreld. Jy het nou gekom om die gevangenis vry te maak uit my greep. Jesus, ek sê vir jou jy kan dit alles bereik in ‘n oomblik!”

“Ek belowe dat as jy net vir ‘n oomblik voor my voete neerval en my aanbid, sal ek die geveg staak. Ek sal my mag oor hierdie gebied prysgee. Ek sal niemand meer oorweldig en verslaaf nie. Geen demoniese binding meer nie, geen aanvalle van my demoniese magte nie. Ek weet dat jy die mensdom so lief het, dat jy nie sal huiwer om deur God vervloek te wees vir hulle part nie. Waarom wag jy? Jy kan jouself nou offer en die wêreld bevry.”

Dit weerkaats die woorde van die apostel Paulus: “Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, weg van Christus af” (Romeine 9:3). Satan het op Christus se meegevoel met mense gedruk. Hy het Jesus versoek met ‘n visioen van ‘n wêreld waarin die duiwel sy heerskappy oor sondige mense prysgegee het - alles net in ruil vir een daad.

Hoekom was die duiwel gewillig om al sy mag hiervoor prys te gee? Weereens het hy sy eie vel probeer red. Satan het geweet sy ewige verdoemenis sal op Golgotha verseël word. As hy maar net kon verhoed dat Jesus na die kruis sal gaan, kon hy dit voorkom het. As hy Jesus kon oortuig om sy lewe nou prys te gee, sou die kruis nooit plaasgevind het nie. Die duiwel het, as’t ware gesê: “Wees nou vervloek, Jesus, en red die wêreld.”

Jy mag jouself afvra, “Hoe hou dit verband met my?” Satan gebruik nog ‘n soortgelyke aanbod om die gelowige te versoek. Ek sal verduidelik.

Ten eerste weet Satan dat ware gelowiges nooit voor hom sal neerbuig en hom sal aanbid nie. Daarom kom hy na ons toe met dreigemente en beskuldigings. Hy sê: “Jy hoef my nie te aanbid nie, — want ek het alreeds toegang tot jou vlees. Ek ken al jou swakhede en geneigdhede. Ek het daaraan gewerk vandat jy ‘n kind was. En ek kan jou daarmee pla wanneer ek wil.”

“Daar is geen oorwinning in die kruis vir jou nie. Die verbondsbeloftes is alles leuens. Ek het algehele beheer oor jou sondige natuur, jou ingebore sonde. Ek het dit keer-op-keer vir jou bewys. Jy weet dat ek jou te enige tyd kan oorweldig, net wanneer ek wil, wanneer jy dit die minste verwag.

“Gaan maar aan, getuig van jou vryheid in Christus. Die oomblik wanneer jy jou luidste lofprysing sing, sal ek jou gedagtes met boosheid vul. Ek sal jou sonde so kragtig voor jou oë bring, dat jy sal wanhoop daaraan dat jy ooit bevry sal wees. Jy is kragteloos. Selfs nou gee jy in vir my geringste versoeking.”

Ek ken predikante wat vrygemaak is van bindinge, vir tientalle jare. Maar later in hulle lewe, op ‘n tyd van groot geestelike salwing of seëning, kom die ou wellus weer te voorskyn. Die duiwel bring dit voor hulle om hulle bang te maak en gedagtes van veroordeling wakker te maak. Dit het van tyd tot tyd met my gebeur tydens my bediening. Die duiwel het my uit die slaap gehou met slegte gedagtes en my probeer oortuig dat die verbondsbeloftes leuens was — dat ek magteloos was teen die oormag van die sonde en dat die sonde in my altyd weer die oorhand sal kry.

Hoe antwoord ons die duiwel se beskuldigings? “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Dit maak nie saak hoeveel beskuldigings die Satan teen jou kop gooi nie. Jy hoef geen sonde uit jou verlede te vrees nie. As Christus se bloed dit bedek het, kan die duiwel niks doen om jou van die Vader te skei nie.

Natuurlik sal ons altyd skielik verras word deur sondes. Maar die Heilige Gees is getrou om al hierdie ou luste en begeertes te vernietig as ons Hom aanroep om ons te help. Hy sal nie toelaat dat dit ons vernietig nie. God se verbondsbeloftes maak ons vry van die sonde se oorheersing.

Stel jou voor dat jy op Jesus afgekom het op dag een-en-veertig — die dag na Jesus se versoeking in die woestyn. Sy gesig straal want engele het sy gees versterk. Hy verbly Hom, Hy loof die Vader, want Hy het ‘n groot oorwinning behaal. Hy het die vyand se versoeking oorkom.

Jy sien Jesus straal lewe en selfversekerdheid uit. Nou is Hy gereed om die magte van die hel die hoof te bied. Dapper stap Hy aan na die stede wat in duisternis en donkerheid verkeer. Hy preek die Evangelie, seker van God se woord. En Hy maak siekes gesond, seker dat sy Vader met Hom is.

As jy na jou eie lewe kyk, sien jy die teenoorgestelde. Jy moet nog jou eie woestyn-ervaring meemaak. Jy het vurige aanvalle van die duiwel ervaar, en jou siel is terneergedruk. Jy kan nie help om te dink: “Jesus het nooit deur sulke beproewings gegaan soos ek nie. Hy was bo dit verhewe.”

Jy gaan kerk toe in so ‘n gemoedstoestand — versoek, getoets, moedeloos. Voor jou staan jou predikant — iemand wat lyk asof hy sterk staan in die geloof. Hy klink so seker van God se teenwoordigheid, asof hy pas deur engele besoek is. Jy dink, “Hy het nog nie sulke probleme soos myne gehad nie.”

As jy net geweet het. Jy was nie daar toe God hierdie man geroep het, om te preek nie. Die Heilige Gees het hom ‘n heerlike roeping gegee — en hom dadelik na die woestyn gelei om versoek te word. Jy weet niks van die dae, weke en maande wat hierdie man geworstel het met ‘n diepe honger na God, wat nie bevredig is nie. Jy weet nie van die leuens wat Satan in sy kop gesit het nie, die bose gedagtes waarmee hy geteister is nie. Jy was nie daar op die dae wat hy niks was in sy eie oë nie. Jy weet ook nie dat van sy beste preke gebore is in sy eie beproewings en versoekinge nie.

Paulus waarsku ons om nie ons regverdigheid te meet aan ‘n ander sin nie: “Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk met sommige van die wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig” (1 Korinthiërs 10:12).

Ons kan nie andere se harte sien nie. Wie sou op dag een-en-veertig kon raai, dat Jesus net uit so ‘n ernstige versoeking gekom het. Wie sou kon raai dat die glorie wat uit Hom gestraal het, gebore is in die ergste stryd soos wat geen een van ons ooit sal ken nie?

Ons moet net na Jesus kyk. En ons moet net op sy regverdigheid vertrou, en sy heiligheid. Hy het aan ons almal vrye toegang daartoe gegee.

God het jou lief, in die besonder tydens toetsings. Sy eie Gees het jou in die woestyn gelei. Maar sy eie Seun was alreeds daar — en Hy weet presies wat jy deurgaan. Laat Hom toe om algehele vertroue en afhanklikheid van Hom, in jou te bou. Jy sal daaruit voortkom met selfversekerdheid — en goddelike meegevoel en krag om andere te help.