Die Verskriklike Gevolge van Afvalligheid!

David Wilkerson

Ek het eenkeer ‘n prediker hoor sê, “Die Bybel praat nêrens van afvalligheid nie.” Daardie man ken nie sy Bybel nie! Die Skrifte praat baie van afvalligheid, omdat dit ‘n baie ernstige saak is – met ernstige gevolge.

As jy die geskiedenis van Israel en Juda lees, sien ons een geslag na ‘n ander afvallig word teen die Here. God het vir Hosea gesê, “Want my volk dwing om van my afvallig te word...” (Hosea 11:7). In Hebreeus, is die betekenis, “My volk het die gewoonte om hulle rûe op My te keer en hulle van My te onttrek. Hulle het nog altyd hierdie geneigdheid gehad!”

En Jeremia se hartsgeroep was: “Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle...” (Jeremia 3:14). “O HERE, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig” (Jeremia 14:7). “(Jerusalem se) oortredinge is baie, hulle afkerighede geweldig” (Jeremia 5:6).

Die terme afvallig en afkerig beteken bloot, “om jou rug op God te draai.” Dit is ironies dat God se mense meestal afvallig word na tye van groot seëninge of voorspoed. Dikwels as God ontsaglike barmhartighede oor Israel uitgestort het, het die mense gou van Hom af weggedraai.

“Waarom sou Ek jou vergewe? Jou kinders het My verlaat en gesweer by die wat geen god is nie. En toe Ek hulle versadig het, het hulle owerspel bedrywe...Want die huis van Israel en die huis van Juda het baie troueloos een My gehandel, spreek die HERE” (Jeremia 14:7,11). Die Here sê hier, “Ek het hulle geseën, Ek het hulle begunstig. En nou het hulle hul rûe op My gedraai!”

In hierdie gedeelte, beskryf Jeremia presies wie ‘n afvallige is. Eerstens is ‘n afvallige iemand wat eens op ‘n tyd die seëninge en guns van God geniet het. Hy het voor die Here gewandel met ‘n toegewyde, nederige, goeie hart. Hy was lief daarvoor om te bid en God se woord te bestudeer. Hy het gesweer, “Ek sal die Here altyd dien, met my hele hart.” En vir ‘n rukkie het hy die Here getrou gesoek. Hy het sy goddelose maniere laat staan en hom verlustig in die gemeenskap wat hy gehad het met ander heiliges in God se huis.

Maar toe het iets hierdie gelowige se hart laat wegdraai van die Here af. Hy het nie langer ware liefde gehad nie. In plaas daarvan, het rebellie ingesluip. Gou het hy beide die liefde en vrees van God verloor. Hy het nie langer in die Here se teenwoordigheid gebewe nie. Sy hart het stadig koud geword.

Vandag het hierdie afvallige heeltemal opstandig geword teen die nou pad en teruggegaan na wêreldse weë. Hy word heeltemal blind, dwaas en sonder begrip. Hy soek nie langer die Here of wend hom na sy woord nie. Alle begeerte om te bid is weg. En hy gaan nie meer na God se huis nie. Hy het homself heeltemal van die teenwoordigheid van die Here af verwyder – en hy is op pad na algehele afvalligheid!

Die Bybel maak dit baie duidelik: Afvalligheid is ‘n bose, bitter ding – en dit het verskriklike gevolge! “Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerigheid sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare” (Jeremia 2:19).

“Nogtans het Ek jou geplant as ‘n edele wingerstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerstok?” (Jeremia 2:21). Die Here sê, “Hoe kon jy van My af weggedraai het, as Ek jou geplant het en probeer het om jou te vestig? Jy het egter weggedraai en weggeloop!”

Jona was ‘n afvallige!

Jy ken waarskynlik die storie van Jona. Wees gewaarsku, geliefde – omdat dit wat met Jona gebeur het, met alle afvalliges gebeur!

Hier was ‘n profeet van God, ‘n man van ware geloof wat die Here liefgehad en gevrees het. Jona het inderdaad naby genoeg aan God gewandel om vertrou te word met ‘n profetiese woord vir ‘n hele stad-nasie. Die Here het vir hom gesê, “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig” (Jona 1:2).

Maar in plaas daarvan om na Ninevé te gaan, het Jona gerebelleer en gevlug. Hy het gevlug na Joppe, ‘n hawedorp omtrent vyf-en-dertig myl noord van Jerusalem. Daar het hy ‘n kaartjie op ‘n vragskip gekoop en vertrek na Tarsis, ‘n stad in Spanje bekend vir sy magtige skepe en smeltery van edele metale. Dit was ‘n goddelose stad wat voorspoed, sukses en mag verteenwoordig het.

Die Middelandse handelskepe van Jona se tyd het op ‘n roete tussen Joppe en Tarsis geseil en by ander hawedorpe in Griekeland en Turkye aangedoen. So, Jona se reis was waarskynlik bedoel om ‘n drie-tot-vier weke reis te wees. En gou nadat die profeet aan boord die skip gegaan het, het hy na die onderste dele van die skip afgeklim en homself in ‘n kombers toegedraai en aan die slaap geraak.

Maar God het ‘n storm, wat inbreuk gemaak het op die afvallige se rustige seevaart, gereël. Skielik, sonder waarskuwing, het die winde woes geword, die golwe het opgerys, die seile was uitmekaar geskeur en die roer was van geen nut nie. Die bemanning was heeltemal aangewese op die genade van die storm. God het ‘n hele see onstuimig gemaak om by een man, wat ongehoorsaam was, uit te kom!

Die kaptein en bemanning het waarskynlik nog nooit so iets gesien nie. Vreesbevange het hulle begin om die hele vrag oor boord te gooi om die skip ligter te maak. Gou het al die matrose begin roep na hulle gode. Ek stel my voor hulle delf in hulle baadjie sakke, gryp hulle klein brons beeldjies en gesnede ivoorgode vas en soen dit. Jy het waarskynlik al baie mense dieselfde ding sien doen vandag – hulle soen hulle gelukbringertjies bygelowig in tye van nood!

Maar Jona het op een of ander manier deur dit alles geslaap, weggesteek in die onderste dele van die skip. Sy slaap was egter nie die slaap van ‘n ongeërgde of lui persoon nie. Dit was die slaap van droefheid – die diepe sluimer van ‘n man wat weet hy hardloop van God af weg!

Jona se gedagtes en liggaam moes uitgeput gewees het van die voortdurende angs en innerlike onrus van sy afvalligheid. Sy gewete het aan hom geknaag en hy kon nie daarvan af wegkom nie: Hy het sy bediening vernietig. Hy het verkeerd opgetree en nou was sy reputasie vernietig. Hy het ‘n gemors gemaak, dit alles verloor – en nou het hy geen toekoms gehad nie.

Op hierdie punt was alles verkeerd tussen Jona en die Here. Hy was heeltmal ongehoorsaam, ‘n vlugteling. En hy het die oordeel en kastyding wat hy geweet het kom, gevrees. Hy het waarskynlik sy eerste week op die skip deurgebring deur te dink, “Hoe kon ek dit gedoen het? Ek het die verkeerde besluit geneem. Ek het my rug op die Here gedraai!”

Selfs al is ‘n afvallige in staat om in die nag te slaap, is sy slaap dié van ‘n veroordeelde persoon. Hy onthou God se aanraking, sy liefdevolle arms rondom hom. Hy onthou toe hy in God se huis saam met al die heiliges was, waar hy aan die brand was vir die Here en God se hand op sy lewe gevoel het. Maar nou kan die afvallige net onrustig rondrol op sy bed – omdat hy sy rug gedraai het op sy liefdevolle Here!

Afvallige, as jy vlug van die roepstem van God en in ongehoorsaamheid leef, sal jy net die diepe slaap van droefheid hê. Jy sal voel soos ‘n veroordeelde persoon, uitgeput deur skuld en angs. En jy kan sekerlik weet jou storm sal kom – omdat God jou liefhet! Jy het dieselfde reis onderneem as Jona. En soos daardie afvallige profeet, sal jy rondgeslinger word deur ‘n lewe-en-dood stryd vir jou siel!

Laat my vir jou vra: Dink jy God sal sonder om iets te doen, staan en toekyk en toelaat dat die duiwel jou van Hom af wegvat? Dink jy Hy sal jou eenvoudig laat wegloop en jou eie siel verdoem? Nooit! Jy het eens vir Hom gesê jy sal Hom jou lewe lank dien – en Hy het jou op jou woord geneem. Jesus het sy bloed oor jou gesprinkel. En nou sê Hy, “Dit is my bloed, vir jou gestort. Jy is Myne – en Ek sal jou nie laat gaan nie. Ek sal drastiese stappe neem om jou te behou as Ek moet. Ek sal jou moontlik in die buik van ‘n walvis plaas. Maar Ek sal nie toelaat dat jy kop eerste in die hel in hardloop nie!”

Daar is drie verskriklike gevolge van afvalligheid. Laat my met jou hierdie drie gevolge deel:

1. Gevolg nommer een: Jou afvalligheid maak jou ‘n gevaarlike mens om mee saam te wees!

Wanneer jy afvallig is, is jy een van die gevaarlikste mense op aarde – ‘n wandelende tydbom!

Afvallige Jona was ‘n gemerkte man. Hy het geweet God sou hom nie laat wegkom met sy rebellie nie. En toe hy by Joppe op die skip aan boord gegaan het, het hy die gevaarlikste man op die Middelandse see geword. Waarom? Dit was omdat God agter hom aan was!

Wanneer God ‘n stryd het met ‘n afvallige, affekteer dit almal rondom hom. Jy sien, wanneer die die afvallige se storm uiteindelik kom, tref dit almal – familie, kinders, medewerkers, vriende, selfs vreemdelinge. Die storm wat gemik was op Jona, plaas almal op daardie skip in gevaar, saam met die dosyne ander skepe op daardie gedeelte van die see. Honderde, miskien duisende lewens was blootgestel aan die groot gevaar.

Vir jare het ek gehoor dat verslaafdes en alkoholiste sê, “My verslawing is mý sonde, net mý probleem. Ek maak niemand seer nie, behalwe myself.” Nee! Die Skrif bewys dat dit nie net jou probleem is nie. Dit is die probleem van almal wat saam met jou leef. God agtervolg jou – en dit maak jou gevaarlik!

Een vrou het vir my geskryf: “My prediker pa het van die Here af weggedwaal. Hy het uit sy kerk bedank en die bediening heeltemal verlaat. Toe het hy my ma geskei en ‘n goddelose vrou getrou. Hy het al my broers en susters saam met hom afgetrek en veroorsaak dat hulle ook van God af weggedraai het. Nou probeer hy my laat afdwaal. Hy noem my ‘n skynheilige en sê ek moet by die familie bly. Maar, prys God, hy was nie in staat om my te beïnvloed nie. God bewaar my!”

Ek dink aan ‘n seker man en pa wat verlos was van ‘n verskriklike dwelmverslawing. Hy het wonderbaarlik gered geraak en was herenig met sy vrou en kinders. God het hierdie man met ‘n ordentlike werk geseën. En as hy in die aande van die werk af huistoe gekom het, het sy drie kinders op sy skoot geklim, gelukkig en opgewonde, terwyl hulle Jesus gedank het dat Pappa by die huis was. Hulle huishouding was vol van God se guns.

Maar toe het die versoeker opgedaag. Uiteindelik het hierdie man teruggegaan om kokaïen te snuif. Gou het sy vrou iets in sy gesig gesien wat sy vir ‘n jaar lank nie gesien het nie. Sy oë was weer rooi. Sy het ‘n gebed gefluister, “O, God – laat dit nie so wees nie!”

Maar sy het geweet hy was weereens verslaaf. Hy het van die werk af huistoe gekom teen middagete en het probeer om met koue water en koffie homself uit bedwelming te kry. Sy het toe geweet hy het nie meer werk toe gegaan nie, want hy het dit verloor. Nou was hy terug op die straat.

Die afvallige man het ‘n gevaar geword vir sy familie. Al hulle geld het opgedroog en al God se seëninge het verdwyn. Hy het probeer om almal te oortuig, “Dit is mý sonde, mý probleem. Ek probeer net myself vernietig.” Nee – hy was besig om sy hele familie te vernietig! Sy drie kinders het bitter en kwaad geword – kwaad vir God, Pa, Ma, die hele wêreld. En nou mag sy kleinkinders, die goddelike nalatenskap, wat hierdie man kon gehad het, moontlik nooit bestaan nie.

Net ‘n paar weke gelede, was een van die top Wall Street makelaars van alle tye – ‘n man wat multimiljoene dollars hanteer het – geopenbaar as verslaaf aan heroïene. Hy het dit gesnuif net voor hy al sy besigheidstransaksies gedoen het. Hy het selfs sy vrou verslaaf laat raak, saam met ‘n ander Wall Street makelaar. Hierdie man het sy werk, sy huis, alles verloor. Hy en sy vrou leef nou in een van New York Stad se hawelose skuilings.

Geliefde, niemand leef en sterf net vir homself nie! Toe Dawid gesondig het deur die Israeliete te tel, het hy ook ‘n gevaarlike man geword. Die oordeel wat God oor hom gestuur het, het ook oor Israel gekom. Praat van ‘n dodelike storm: 70,000 mense het hulle lewens verloor! Dawid moes uitroep: “...Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u tog teen my wees en teen my familie” (2 Samuel 24:17).

Net so, stuur talle afvallige Christene hulle medewerkers na die hel. Eens op ‘n tyd was hierdie gelowiges ‘n getuienis by die werk. Hulle het ‘n Bybel op hulle lessenaars gehad en het altyd met graagte van Jesus gepraat. Hulle kollegas het geweet iets was waarlik anders in hulle.

Maar nou besef hierdie goddelose medewerkers daar het ‘n verandering plaasgevind. Hulle weet hul Christen kollega het afvallig geword! Hulle kan nie verklaar wat in geestelike terme gebeur het nie, maar hulle weet iets is anders. Hul eens ywerige Christen medewerker het soos hulle geword – en hy was hulle laaste hoop! Hulle kon hom moontlik eens gespot het, maar in die geheim het hulle gedink, “Te minste is hy iemand na wie toe ek kan gaan as ek in die moeilikheid is. Hy mag moontlik selfs bewys dat daar ‘n God is.”

Hierdie afvallige Christen het hulle van hul hoop beroof en daardie klein vonkie van geloof wat hulle moontlik kon gehad het, weggevat. Nou is hierdie heidene daarvan oortuig dit is onmoontlik om God te dien. Die afvallige het ‘n gevaar vir hulle siele geword!

2. Gevolg Nommer Twee: Jy sal bestraf word deur die wêreld!

Toe die skeepskaptein Jona aan die slaap gekry het, het hy hom wakker geskud en hom ernstig bestraf: “...Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God!...” (Jona 1:6). Hy het vir Jona geskree, “Wat dink jy doen jy dat jy so slaap, prediker? Val op jou aangesig en bid!”

Verbeel jou – ‘n profeet van God, bestraf deur ‘n heidense matroos! Al die matrose was wakker en het hulle gode aangeroep – maar die profeet van God was aan die slaap. Jona het sy getuienis verloor!

Ek kan my voorstel wat die profeet gedink het toe hy wakker geword het. Hy het die geslinger van die skip gevoel, die manne gehoor huil van vrees, die skip sien vol word met water. Hy moes gedink het, “Ô-ô – dit is die einde! God het my ingehaal. Ek is die oorsaak van hierdie verskriklike storm!”

Daarom het hy hom na die dek gehaas en bely. Hy het gesê, “Manne, dit gaan alles oor my. Ek is ‘n afvallige en hardloop van God af weg!” “...want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het” (vers 12). Al die matrose het uitgeroep, “Waarom het hy al hierdie moeilikheid oor ons gebring? Waarom was jy so bang vir jou God dat jy van Hom af moes vlug? Watter soort God dien jy, Jona?” (sien vers 10).

Die apostel Paulus het ook ‘n storm op die see verduur. Maar dit was nie omdat hy van God af weggevlug het nie. In teendeel, Paulus het vrede gehad met God. Hy kon met vertroue opstaan toe sy skip begin stukkend breek en die goddelose bemanning gerusstel: “Moenie bekommerd wees nie, manne – nie een van julle sal verlore gaan nie. Ek het verlede nag van my God gehoor. Hy het vir my gesê ons gaan gered word!”

As jy ‘n afvallige is, sal jy waarskynlik ‘n tyd onthou waar jy met vertroue tydens enige storm of krisis kon staande bly. Soos Paulus, kon jy vir die wêreld sê, “My God kan!” Maar nou is die enigste ding wat mense in jou sien, vrees en uitputting. Soos Jona, is jy swak, glad nie opgewasse teen die vyand nie. Jy kan nie ‘n storm hanteer nie. Jy bring geen hoop na ‘n situasie nie. Jy het die waardigheid wat kom wanneer jy naby Jesus wandel, verloor. Wêreldse begeertes het al jou geestelike krag getap!

Die ergste van alles, jou afvalligheid stel vir die wêreld ‘n onaantreklike beeld van verlossing voor. Jy laat dit lyk asof beter is om ‘n sondaar te wees as ‘n Christen. Nou sê jou medewerkers vir jou, “Wat is jy so geïrriteerd deesdae? Waar is die blydskap wat jy eens gehad het? Waarom het jy opgehou om my sover te kry om saam met jou kerk toe te gaan? Het jy opgegee op God?”

Daar moet nie ‘n enkele gebied in ons lewens wees waarin dit lyk of dit meer aantreklik is om die duiwel te dien as om die Here te dien nie. Op elke gebied, moet ons die sagtheid, goedheid, vriendelikheid en genade van ons God hê. Ons lewens moet ‘n getuienis wees wat sê, “Dien Jesus. Hy maak ‘n weg waar daar geen weg is nie. Hy sal jou deur enige storm dra!”

Maar die afvallige het daardie getuienis verloor. Hy kan vir jou sê hoe dit in die verlede was om Jesus te dien. Maar dit is nie ‘n getuienis nie, omdat dit geen krag het nie. En dit is die bestraffing van die goddeloses! Wanneer die storm jou met sy volle krag tref en jy daag by die werk op met droewige trane, sal hulle vir jou sê, “Watter soort Christen is jy? Waarom sak jy nie af op jou knieë en roep jou God aan nie? Ek kan jou nie help nie. Hy kan!” Hulle sal vir jou getuig!

3. Gevolg Nommer Drie: God gaan jou afbring tot in die laagste put bekend aan die mens!

As jy van God af weghardloop, sal jy ingesluk word soos Jona – in die buik van ‘n groot beproewing! Jou beproewing kan jou gesondheid, jou finansies, jou familie wees. Dit sal egter gebeur, nie omdat God jou wil vernietig nie, maar omdat jy Syne is. Aanvaar dit op hierdie oomblik, afvallige: Geen man of vrou wat van God af weghardloop, kan die storm ontsnap nie. En geen menslike krag kan daarvan verlos nie!

“En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar...Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het” (Jona 1:12-13).

Hierdie goddelose matrose het Jona probeer red. Hulle was ervare seemanne en het die terrein van die diepsee geken. Toe hulle hul voorgestel het hoe Jona deur die haaie opgevreet word, het hulle geaarsel om hom oorboord te gooi. Maar, geliefde, as God agter ‘n afvallige aangaan, kan niemand sy goddelike plan keer nie!

As jy van die Here af wegvlug, maak ‘n nota: Jou krisis kom en dit sal die storm van jou lewe wees. Jou geliefdes en vriende sal jou daarteen probeer beskerm, maar nie een van hulle beste pogings sal werk nie. God het reeds besluit: Hy het ‘n doel daarmee om die storm te stuur. En Hy weet as jy daarvan gered word voor Hy jou kan tugtig, sal jy nooit gered word nie!

“...en Jona was drie dae en nagte in die ingewande van die vis” (Jona 1:17). Na die storm volg die donkerste, mees kritieke oomblik van jou lewe. Dit word die put van moedeloosheid genoem. Jona se beproewing het hom tot in die diepste dieptes van die aarde geneem, waar daar glad geen lig is nie. Hy het getuig: “Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge...” (Jona 2:6).

Wat ‘n verskriklike toestand waarin Jona hom bevind het: in totale duisternis, seegras wat om sy lyf gedraai het en water wat heeltyd teen hom geklots het. En die fisieke druk moes ontsaglik gewees het. Selfs duikbote moet onder druk geplaas word om in die dieptes af te gaan. Jona se oordromme moes in konstante pyn gewees het.

Afvallige, kan jy jou voorstel om in daardie soort donker, stinkende gemors te wees? Kyk goed daarna – omdat dit ‘n beeld is waarnatoe jy op pad is! Daar gaan ‘n nag van verskriklike duisternis oor jou kom, ‘n tyd van absolute wanhoop en moedeloosheid.

Jona het twee opsies in hierdie donker put van wanhoop gehad. En dieselfde twee opsies is beskikbaar vir elke afvallige wat afgaan in die buik van ‘n donker krisis:

1. Jy kan jouself oorgee aan die moedeloosheid en hopeloosheid, oortuig dat God jou haat oor jou ongehoorsaamheid. Jy kan sê, “Ek is so ver weg, ek kan nooit weer terugkeer na God toe nie. Daar is geen hoop vir my nie!” Wanhoop sal jou lewe beheer en jou selfs dieper in die putte van depressie laat afsink.

Jona kon maklik toegegee het aan hierdie gees van moedeloosheid. As hy het, sou hy gesterf het in die walvis se buik en sy naam sou nooit weer genoem word nie. Jy mag beswaar maak, “Maar God het Jona aangestel vir ‘n sending. Hy sou hom nooit daar laat sterf het nie.” Nee! God kon iemand anders gekry het vir Jona se sending. Ons het almal ‘n vrye wil om te kies – en Jona moes ‘n keuse maak oor sy gesindheid.

Geliefde afvallige, jy kan ook opgee in jou storm! Wanneer alles teen jou is – wanneer jy afdaal tot die laagste put van angs en ingesluk voel deur wanhoop – sal jy dink God het jou verlaat. Jy sal versoek word om te sê, “Dit is nutteloos. God gee nie om nie. Hy kan my onmoontlik liefhê, omdat Hy al hierdie moeilikheid op my laat afkom het.”

Wanneer jy by daardie punt van wanhoop kom, het jy ‘n keuse om te maak. Dit bring jou by jou tweede keuse:

2. Jy kan God aanroep vir genade. Jy kan terugkeer na die Here, maak nie saak hoe ver jy van Hom af weggevlug het nie!

Dank God, Jona het die regte keuse gemaak: “En Jona het tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp – U het my stem gehoor” (Jona 2:1-2).

Die hele doel van jou storm is om jou te druk soos dit vir Jona gedruk het – om terug te keer na God toe! Die Here druk jou om terug te keer na jou eerste liefde – om terug te kom na sy huis, Hom aan te roep en jou pad uit die moeilikheid uit te vertrou en te bid. Jy hoef slegs te kies om dit te doen!

Hierdie ware verhaal is bedoel om jou beide te waarsku en te bemoedig. Nes jy, het Jona gedink God was klaar met hom. Hy het uitgeroep: “Ek is weggestoot, weg van u oë; tog  sal ek weer u heilige tempel aanskou. Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedwaal tot by die grondslae van die berge. Die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit...” (Jona 2:4-6).

Maar op die ou end, het Jona die regte besluit geneem en gebid: “Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel...Ek daarenteen sal aan U offer met ‘n stem van lof; wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die HERE” (Jona 2:7-9).

Ek het ‘n bedienaarsvriend wat ek ‘n aantal jare gelede ontmoet het. Ek was baie lief vir hierdie man. Hy was een van die vriendelikste, sagste mense wat ek al ooit ontmoet het – ‘n eenvoudige, goedgelowige man wat ‘n las vir verlore siele gehad het. Almal het geweet hy was geroep om ‘n groot werk vir God te doen.

Toe het hy moeilikheid begin optel in sy huwelik. Elke keer wat ek hom gesien het, het dit gelyk of hy ‘n bietjie kouer as die vorige keer was, ‘n bietjie meer moedeloos. Toe eendag, het ek ‘n oproep gekry van ‘n gemeenskaplike vriend wat gesê het hierdie pastoor het bedank uit die bediening. Hy het sy familie gelos en weggeloop saam met ‘n vroulike dwelmverslaafde wat afvallig geword het van die Here.

Gou het die storm hierdie man in volle krag getref. Eerstens was daar finansiële verwoesting. Toe het hy ontdek sy minnares kon hom op die ou end glad nie bevredig nie. Sy het hom immers verslaaf gekry aan dagga. Nou was hy in diep depressie, ellendig en wanhopig.

Ek sal nooit die kyk op hierdie paartjie se gesigte vergeet toe ek hulle ontmoet het nie. Nie een van hulle wou opkyk om my in die oë te kyk nie. Hy het nou dwelms verkoop. En sy het geweet sy het ‘n evangelie prediker se familie opgebreek. Beide was in die buik van die walvis, heeltemal moedeloos.

Ek het vir die man gesê, “Ek het jou steeds lief, vriend. Ek wil hê dat jy moet weet dat ek die pad saam met jou sal stap. Nog belangriker, die Here het jou lief. Asseblief – laat my jou aan die hand vat en jou terugbring na die Verlosser. Die Here sal alles herstel wat die sprinkane opgevreet het.”

Maar my vriend was so neerslagtig, so moedeloos, dat hy geantwoord het, “Nee, Broer David, ek is te ver heen. Ek het te diep, te opsetlik teen Jesus gesondig. Daar is geen manier waarop Hy my kan vergewe vir wat ek gedoen het nie. Ek het te laag gedaal!”

Ek het by hulle gesit vir twee ure lank met my Bybel oop en hulle probeer oorreed om terug te kom. Maar niks wat ek kon sê kon hierdie voormalige bedienaar vertroos nie. Ek kon hom nie uit sy wanhoop uithaal nie.

Soos Jona, het hierdie man twee keuses gehad. Selfs al het hy gevoel God het opgegee op hom, het moes hy slegs uitgeroep het vanuit die buik van sy hel, “O, God, ek het teen U gesondig. Verlos my!” En die Here sou onmiddellik afgereik het om hom te verlos.

Maar elke keer daarna wat ek uitgereik het na hierdie man, het ek besef hy gaan dieper in die put in. Uiteindelik het ek alle kontak met hom verloor. Die laaste wat ek gehoor het, was hy ver heen, steeds gedompel in die dieptes van wanhopigheid.

Wat van jou wat hierdie boodskap lees? Het jy afvallig geword en weier jy om terug te keer na Jesus toe? Jy mag sê, “Broer Dave, jy weet nie wat ek gedoen het en hoe ver ek gegaan het nie.” Laat my vir jou vertel, vriend: As jy jouself gaan toelaat om te verswelg in jou vrees, skuld en veroordeling, sal jy daardeur verpletter word – en met ‘n harde hart opeindig!

Of, jy het ‘n ander keuse. Jy kan sê, “Nee! Ek het ‘n boodskap van hoop gelees – ‘n boodskap van sterkte en krag in Jesus. Ek kan huistoe gaan na my Here toe. Ek kan terugdraai na Hom toe!”

Ek glo toe Jona begin bid het in die walvis se buik, het God dadelik begin om ‘n lekker kol droog te maak êrens in die hol vis en gesê, “Jona, kom sit nou hier en aanbid My.” Jona moes ‘n wonderlike herlewingsbyeenkoms met God gehad het in daardie donker plek. In die tussentyd, het God daardie walvis deur die Middelandse see gelei, hom laat strand en Jona laat opgooi. Dáár het ‘n man van God uitgekom – vrygemaak, gesalf en terug op skedule met die Heilige Gees se plan!

God het alles vir Jona herstel. En Hy wil alles wat die duiwel van jou af weggeneem het, herstel. Hy wil vir jou alles teruggee in oorvloed. Dit is waarom Hy hierdie heerlike beloftes het vir al sy afvallige kinders:

“Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die HERE...omdat hulle hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het. Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God” (Jeremia 3:20-22).

Al wat julle moet doen is om bloot terug te keer. Dit is God se werk om jou geneigdheid om afvallig te word, te genees: “...Ek sal julle afkerighede genees...” (Jeremia 3:22). Keer terug na jou genadige, liefdevolle Verlosser. Hy belowe om jou die hele pad terug te bring na Homself!