Die Verlossing van Jou Aangesig

Jy het ‘n Heilige Gees gesigontrimpeling nodig
David Wilkerson

DAWID het dapper verklaar, “...God ...is die verlossing van my aangesig ...” (Psalm 42:11). En hy herhaal dieselfde verklaring in ‘n ander psalm: “...God...die verlossing van my aangesig..." (Psalm 43:5). In die oorspronklike Hebreeus, is die gepaste vertaling ook, “God is die verlossing van my aangesig!”

Ek glo Dawid sê iets baie belangrik hier. Jy sien, jou aangesig is ‘n advertensiebord wat adverteer wat in jou hart aangaan. Al die blydskap of onrus wat binne-in jou is, word weerspieël op jou gelaat. Wanneer ek praat van gelaat, praat ek van ‘n gesigsuitdrukking, liggaamstaal en stemtoon.

Byvoorbeeld, wanneer my gedagtes belas is met die sorge van ons kerk – preke, finansies en verhoudings – het ek ‘n geneigdheid om te met hangskouers rond te loop. Ek lyk afgetrokke. Ek frons. Sommige mense sê vir my ek lyk hartseer.

Nie lank gelede nie, het ek met 52de Straat af geloop naby Hannah Huis, heeltemal ingedagte met kerksake en waarskynlik met hangskouers. Ek het by ‘n dwelmhuis aangekom waar ‘n vrou op die stoep gesit het en van oor tot oor geglimlag het. Ek kon sien sy was hoog op dwelms. Sy het my dopgehou terwyl ek nader gekom het – en toe naby genoeg was, het sy gesê, “Meneer, dit kan nie so erg wees nie.”

Ek was dronkgeslaan! Ek het gedink, “Hier is hierdie vrou, hoog op dwelms – en hier is ek, ‘n man van God. Sy glimlag en lyk goed – en ek is neerslagtig, asof alle hoop verlore is.” Wat ‘n teregwysing was dit vir my!

Ek dank God vir Sy groot verlossing – dat Hy ons siel, gees en selfs ons liggaam verlos. Maar baie van ons moet ons gesigte verlos kry! Ons het ‘n Heilige Gees gesigontrimpeling nodig – omdat ons gesigte die verkeerde boodskap aan die wêreld oordra!

Jy het waarskynlik al gehoor dat ‘n aspirien ‘n dag goed is vir die hart. Dit help om bloedstolling, wat hartaanvalle kan veroorsaak, te keer. Nou het navorsing egter gelei tot “aspirien-gesigontrimpeling.” Dr. Nageena Malik, ‘n navorsingswetenskaplike in Oxford, Engeland, het onlangs ‘n studie uitgevoer wat ‘n paar verstommende resultate opgelewer het. Haar navorsing wys dat aspirien help om plooie te verhoed deur die vel soepel te hou, te keer dat kollageen styf raak, en dit blokkeer sommige van suiker se slegte effekte op die liggaam.

So, nou sê die wetenskap jy kan eintlik jonger lyk deur aspirien te neem. Of, as jy ‘n meer radikale verandering in jou vookoms wil hê en dit kan bekostig, kan jy ‘n plastiese chirurg betaal om jou gelaatseienskappe te verander.

Maar, geliefde, dit maak nie saak watter soort gesigontrimpeling jy kry nie – medisinaal, chirurgies of enige ander soort. Jou gelaat sal steeds weerspieël wat binne-in jou hart aangaan! Jy kan nie jou innerlike emosies wegsteek nie. Jou gesig is die indeks van jou siel!

Niks verhard ‘n gesig soveel as sonde en bekommernis nie!

“Die goddelose trek ‘n onbeskaamde gesig...” (Spreuke 21:29).

As jy in New York Stad bly, is al wat jy moet doen, om te kyk in die strate – en jy sal gesigte sien wat verouderd en verhard is deur sonde! Besoekers uit die Middeweste kan dit nie verstaan nie. Die mense hier lyk twintig tot dertig jaar ouer as hulle werklike ouderdom. Sonde verouder mense vinnig!

Ek onthou omtrent tien jaar gelede het ‘n jong film aktrise – ‘n opkomende ster in haar twintigs – pas herstel van ‘n lang verslawing aan dwelms. Die koerante het berig dat sy probeer het om terug te keer na films – maar haar gesig het omtrent dertig jaar verouder! Ek het ‘n foto van haar gesien, en inderdaad, haar gesig was ingeëts met sonde en hardheid. Uiteindelik moes sy ouer rolle aanvaar, want haar vel het hard en verrimpel geword.

Aan die ander kant, het ek wonderbaarlike veranderinge in die gesigte gesien van die mans en vroue wat ons inneem in ons Timothy en Hannah Huise. Hulle begin met ons programme met ‘n bekommerde, afgetrokke gelaat – en binne dae, soos Jesus hulle innerlike mense genees, begin hulle te skyn. Hulle lyk asof hulle ‘n gesigontrimpeling ondergaan het – letterlik, Heilige Gees chirurgie!

Een jong vrou het in Hannah Huis ingekom ‘n jaar of so gelede, met die lyne van sonde diep in haar gesig ingeëts. Haar gelaat was uiters hard. Twee weke nadat sy haar saligheid ontvang het, kon niemand die verandering glo nie. Ek het haar nie eens herken nie!

Waarom so ‘n verandering in voorkoms?

“...Die wysheid van ‘n mens verhelder sy gesig, en die hardheid van sy gesig word daardeur verander” (Prediker 8:1)

Ek neem dat “wysheid” in hierdie vers Jesus Christus beteken. Die ware teenwoordigheid van Christus in jou hart het inderdaad ‘n direkte impak op jou gesig! Dit beïnvloed jou wandel, jou praat, jou stemtoon.

Bekommernis kan ook ‘n mens se gesig verhard, net soveel as wat ‘n groot sonde kan. Ons almal weet dat as Christene, moet ons nie bekommerd wees nie. Ons Here is ten volle bewus van al ons behoeftes en probleme. Jy sal moontlik egter sê, “Kom nou, Broer Dave. Jy is bekommerd, is jy nie?” Natuurlik is ek – maar ek is nie veronderstel om te wees nie. (En ek wonder hoeveel plooie op my gesig is as gevolg van bekommernis!)

Ek glo ons het ‘n “godsdiens van die aangesig.” Wanneer ons Jesus toelaat om Here van alles te wees – wanneer ons al ons bekommernisse op Hom werp, ten volle op Sy Woord vertrou en in Sy liefde rus – behoort ons voorkoms ‘n diepe verandering te ondergaan. ‘n Stil kalmte behoort uit ons gesigte te straal.

Die Skrif gee vir ons baie voorbeelde hiervan: Toe Hanna haar las neergelê het, was “...haar aangesig anders” (1 Samuel 1:18). Haar gesig was nie meer ingeëts met droefheid of hartseer nie. Blydskap het uit haar gestraal!

Toe Stéfanus voor die vyandige, woedende mans in die Sanhedrin gestaan het, was“...sy gesig soos die gesig van ‘n engel” (Handelinge 6:15). Stéfanus het tussen ongelowiges gestaan met die skynsel van Jesus Christus – en die verskil was vir almal duidelik!

Die mans in daardie sinagoge raad was so kwaad vir Stéfanus, dat hulle “...teen hom op die tande gekners” het (Handelinge 7:54). Het jy al ooit mense gehad wat hulle tande teenoor jou gekners het? Indien wel, onthou jy waarskynlik presies wat hulle gesigte weerspieël het!

Daar is talle hartseer, afgetrokke, moedelose, verrimpelde gelate in die huis van God!

Ek is oortuig ons het ‘n plig om ons gelate te laat spreek van God se getrouheid in ons lewens. Maar die probleem is, ons gelaatstrekke en liggaamstaal sê dikwels net die teenoorgestelde!

Talle gelowiges se gesigte sê, “My God het my teleurgestel! Hy gee nie meer vir my om nie. Ek moet al my laste en probleme alleen dra. Ek is bedroef en ween – Ek moet my eie noodlot uitwerk, my eie verlossing beplan – omdat God nie vir my optree nie!”

Jy mag nou wel nie bewustelike sulke dinge vir jouself sê nie – maar dit wys op jou gesig! Miskien het jy op hierdie einste oomblik ‘n bekommerde voorkoms. Dit mag moontlik wees weens familie probleme – jou huwelik, kinders of finansies. Elke dag word jy wakker en hierdie probleme tref jou in die gesig. Hulle hang oor jou soos ‘n donker wolk!

Ek wil vir jou wys uit God se Woord dat wat jy deurgaan nie nuut is nie. Iemand anders was presies waar jy is:

“...snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word...As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees...U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie. Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare. Ek wil dink aan my snarespel in die nag...

“Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?...Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis...” (Psalm 77:3-11).

As die psalmis sê, “Dit is my grootste bekommernis,” bedoel hy letterlik, “Dit is wat ek moet verduur.” Ek vra jou: Kan jou toestand moontlik erger wees as hierdie man s’n?

In sy eie woorde, kan hy nie meer getroos word nie. Sy gees is oorweldig. Hy kan nie slaap nie. Hy is so bekommerd dat hy nie kan praat nie. Hy moet in sy geheue delf om aan beter tye te dink. Hy voel terneergedruk en alleen, deur God vergete en herinneringe van beter dae bly hom by.

Die psalmis kom uiteindelik uit sy moeilikheid uit met sy gelukkige gelaat herstel. Waarom? Is dit omdat hy sê, “My stem is tot God en ek roep...Op die dag van my benoudheid...” (Psalm 77:2-3).

Daar is baie Christene wat glo in Jesus en Hom op Sy Woord neem – en tog hou hulle aan om te ly, dag na dag, jaar na jaar, omdat hulle nie hulle probleme na Hom neem nie. Hoeveel huise is ellendig, omdat een huweliksmaat behep is met sy eie probleme of sy kinders s’n, en hy vergeet die behoeftes van sy gade?

Byvoorbeeld – ‘n vrou mag haar kinders se probleme vir só lank dra dat hulle werklik ingeëts word op haar gesig. Jaar na jaar, hoor haar man slegs klagtes van haar – hy sien nooit blydskap in haar gesig nie – omdat sy belas is met haar kinders se laste. Die man probeer in liefde vashou, maar haar obsessie put hom mettertyd uit. Om saam met haar te woon, word soos om in ‘n lykshuis te woon!

Sy vrou vernietig stadigaan haar huwelik – en haar geduldige man word verbitterd – omdat sy vasgevang is deur haar probleme! Sy het geen vrede, geen kalmte, geen glimlag, geen normale dae of nagte nie. Sy is verteer deur droefheid en sy kan dit nie neerlê nie. Dag vir dag, is dit dieselfde ou storie: Sy slaap daarmee, eet daarmee, praat daaroor – en sy bly altyd depressief.

Selfs haar vriendinne word uiteindelik deur haar afgesit. Hulle probeer om vir haar krag te bied deur gebed. Maar hulle raad en bemoediging om alles oor te gee aan Jesus, word nie aan gehoor gegee nie. Dit is asof hierdie vrou nooit ‘n woord hoor nie. En, bietjie vir bietjie, val haar vriendinne weg. Uiteindelik, is al wat oorbly in hierdie vrou se lewe, haar eie klein wêreldjie – alles vasgevang in iemand anders se probleme!

Talle sulke mense word raad-op en skei uiteindelik of het ‘n senu-ineenstorting. Hulle gesigte is ingeëts met die lyne van hartseer. En hulle bekommernis het verwoestende gevolge op hulle kinders en selfs hulle kleinkinders.

As dit jou beskryf, smeek ek jou: Vandag, op hierdie einste dag, sonder jou af om êrens alleen met die Here te wees en roep uit tot Hom! Vertel vir Hom van al jou probleme – alles oor jouself. Vertel vir Hom jy is raad-op, dat jy dit nie meer kan verdra nie en dat jy dit alles op Sy skouers laai. Praat jou hart uit teenoor God!

Dit verstom my dat so baie mense wat sê dat hulle verlief is op Jesus, by ‘n moeilike plek uitkom en tog wend hulle hul nie na Hom nie. Waarom sluit ons onsself nie toe in Sy teenwoordigheid en stort ons harte voor Hom uit nie?

Jy mag antwoord, “Ek is net nie in die gewoonte om dit te doen nie. Ek is nie veel van ‘n biddende mens nie. In plaas van om na God te gaan, dra ek self die hele las.”

Wanneer ‘n sonde probleem of krisis toeslaan, het baie Christene ‘n geneigdheid – soos Adam en Eva – om weg te hardloop en weg te kruip. Maar, geliefde, die beste tyd om te leer om na Jesus te hardloop, is op so ‘n tyd – wanneer jy in groot nood is! Dawid het gesê dit was sy geheim van verlossing in tyd van moeilikheid:

“Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek” (Psalm 143:9).

Jy kan begin om dit vandag te doen. En as jy dit doen, sal jy ‘n wonderwerk sien gebeur: Jou las sal gelig word. Jou hart sal verander. Jy sal ‘n hele nuwe realm van oorwinning beleef – en jy sal ‘n gesigontrimpeling in die proses kry!

Laat my nou by die hart van my boodskap uitkom:

Ek wil met jou praat oor die “Naamlose Bekommernis”!

Daar is ‘n onverklaarbare geestelike depressie wat oor die heiligste van God se dienaars kom op een of ander stadium. Die Psalmis sê:

“Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my?...o My God, my siel buig hom neer in my...” (Psalm 42:6-7).

Kenners is nie seker oor wie die skrywer van hierdie Psalm is nie. Maar ons weet verseker dat iets hom pla. Sy siel is diep ontsteld – maar hy kan nie verklaar waarom nie!

Die psalmis is aan die brand vir God. Hy smag na die Here soos ‘n hert smag na water (sien Psalm 42:2) – dors na Hom, smag na sy intimiteit. Hy vra, “...wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?” (Psalm 42:3).

Ons kom nooit te wete wat die psalmis se bekommernis is nie. Hy het dit sonder twyfel self probeer uitpluis en na God uitgeroep, “Waarom, Here? Waarom is hierdie onverklaarbare geestelike depressie in my? Ek het U liewer as ooit. My hart smag na U. Maar om een of ander rede gaan ek deur hierdie depressie. Ek voel so neerslagtig – maar ek weet nie wat my pla nie. Ek kan dit nie verklaar nie” “My trane is my spys dag en nag...” (Psalm 42:3).

Het jy al hierdie soort onverklaarbare swaarmoedigheid beleef – ‘n onverwagte, naamlose geestelike neerslagtigheid? Jy doen goed die een dag, met geen bekende sonde in jou lewe nie. Maar eendag word jy wakker met ‘n ontsteltenis diep in jou siel. Een of ander soort depressie het oor jou gekom – en jy kan nie jou vinger daarop lê nie!

Daar is ‘n dierbare Joodse broer genaamd Joël wat ons kerk bywoon. Hy is ‘n digter en ek weet hy het ‘n sensitiewe gees. Ek het hom eendag gesien toe hy by die duikweg ingegaan het en hom gegroet, “Hoe gaan dit?” Joël het met ‘n halwe glimlag geantwoord. Toe, met ‘n grappige kyk, het hy gesê, “Oukei, reken ek. Ek voel iets wat ek nie kan verklaar nie.”

Ek weet presies wat hy bedoel het – omdat ek persoonlik pas uit net so ‘n belewenis gekom het. Ek kan saam met die psalmis sê dat ek honger en dors na God, dat my siel smag na intimiteit met Hom. Ek het geen familie of persoonlike probleme wat ‘n ontsteltenis in my siel kan veroorsaak nie. Ek het in werklikheid nog nooit nader aan die Here gevoel nie.

Maar van nêrens af het ‘n naamlose bekommernis oor my gekom! Ek het ‘n gevoel van waardeloosheid gehad – ‘n verveling en monotonie. Ek het gevoel dat ek miskien nie veel bereik nie. My gedagtes was neerslagtig, en ek kon nie verklaar hoekom nie. Ek het glad nie na bid gevoel nie.

Geliefde, dit het my gesig geaffekteer! My gelaat was hartseer en die gevoel het vir dae lank aangehou. Uiteindelik het ek gebid, “Here, wat gaan aan? Waarom voel ek so? Ek weet U het my lief – maar ek voel soos ‘n totale mislukking!” Die hele dag lank het ek gevoel my oë wil vol trane word – en ‘n paar keer het die trane vrylik gevloei. Ek het op die ou end saam met die psalmis gesê, “Waarom is jy terneergedruk, O my siel? Waarom is jy ontsteld? Waarom die innerlike treurigheid?”

‘n Vroue-bedienaar het my eenkeer vertel, “Soms word ek wakker met ‘n leë gevoel. Nou besef ek, ek is baie versekerd in die Here en het ‘n wonderlike intimiteit met Hom. Ek glo my gees is sterk. Maar ek beleef hierdie depressiewe gevoelens wanneer ek in die oggend wakker word en ek kan dit net nie verklaar nie. Ek voel my lewe gaan nêrens heen nie – asof ek op drie wiele ry in plaas van op vier.”

Hierdie verdrukking is algemeen onder mans en vroue in die bediening. Een pastoor se vrou het vir my vertel, “My man het ‘n goeie kerk en is gerespekteerd. God het baie deure vir ons oopgemaak en ons behoeftes word goed voorsien. My man het alles wat hy ooit begeer het – alles waarvoor hy ooit gebid het.

“Maar soms kom iets oor hom en dit bekommer my. Hy raak rusteloos en sê vir my dat hy nie voel of hy veel bereik nie. Hy kan nie verklaar wat oor hom kom nie – en dit laat my regtig onseker voel.”

Ek glo hierdie naamlose bekommernis is agter talle “twee-jaar leraars” en “vier-jaar predikers.” Dit is bedienaars wat in ‘n kerk bly vir ‘n sekere tydperk, dan rusteloos word en weggaan. Of, soms sal hulle bly, maar verplig voel om “iets te laat gebeur” in die gemeente. ‘n Vreemde rusteloosheid neem hulle oor.

Dit is dikwels tydens sulke tye dat ‘n pastoor besluit om sy kerk ‘n groot bouprokjek van stapel te laat stuur. Een gebedsgroep in ‘n sekere stad het vir ons bediening geskryf en vir gebed vir hulle pastoor gevra. Hulle het geskryf:

“Iets makeer ons pastoor en ons kan dit nie verklaar nie. Hy wil ‘n gimnasium bou – en ons gemeente is meestal bokant sestig-jarige ouderdom! Almal wonder wat op aarde hy wil doen met ‘n gimnasium. Niemand wil dit hê nie. Ons pastoor kan nie verklaar waarom hy ‘n gimnasium wil hê nie, en sy vrou weet ook nie wat daaragter skuil nie. Bid asseblief dat hy gou hieroor sal kom – voor hy dit bou!”

Daar is baie ander in die bediening wat net soos hierdie man is. Maar laat ons nou oor jóú praat. Voel jy dat jou lewe stilstaan? Is jy terneergedruk, swaarmoedig, met allerhande soorte hartseer, verwarrende gedagtes in jou siel – alles onverklaarbaar? Bly jou gebede onbeantwoord? Dra jou drome nie vrug nie? En voel jy dit affekteer jou gelaat, jou gesig?

Ek het goeie nuus vir jou: Dit is ‘n bekommernis van die regverdiges! Dit tref slegs diegene wat honger na Jesus. Ons is nie bang vir so ‘n bekommernis nie – omdat die Heilige Gees ‘n aandeel daarin het!

Ek is nou in my sestigs en ek het genoeg van die lewe beleef om te weet dat ‘n tyd kom waarin dit met elke Christen gebeur. Maar ons moenie probeer om dit te verklaar nie – omdat ons nie kan nie! Die psalmis het nooit hierdie “waarom” antwoorde gekry nie. En daar is nie ‘n boek, berader of sielkundige op die aarde wat vir jou kan vertel waarom ‘n naamlose bekommernis oor jou gekom het nie.

Ek glo hierdie vreemde bekommernis is “die versugting van die Heilige Gees” binne-in ons. Hy laat ons weet hoe dit voel om sonder God te wees – om op jou eie te wees, sonder vertroosting, hoop of leiding. Hy laat toe dat ons net ‘n smakie kry van so ‘n vreeslike, aaklige toestand!

Jy sien, ons liggame is Sy tempel – en Hy is gestuur om ons voor te berei as ‘n rein bruid vir Christus. Hy weet wat dit verg om ons onbevlek vir die Bruidegom te hou. En Hy weet hoe belangrik dit vir ons is om uit te roep tot God vir daaglikse krag en vir mag oor elke boesemsonde. Ons kan eenvoudig nie in hierdie tye staande bly, tensy ons intiem met die Here is nie – Hom volkome vertrou en voortdurend vlug na Sy teenwoordigheid.

Die Heilige Gees ken ook die gedagtes van God en die weg uit elke probleem uit. Hy het die krag om ons te verlos uit enige las of swaarkry. En vanuit Sy heiligdom in ons hart, blaas Hy Sy invloed op al ons emosies – Hy bearbei, pleit, bemoedig, vertroos, oortuig van sonde, lei, leer, vermaan en manifesteer die werklikheid van Christus.

Ons verwaarloos egter hierdie wonderlike gawe binne-in ons. Ons ignoreer God se Gees heeltemal! Ons gaan voort met ons daaglikse sake asof Hy nie in ons woon nie. En die bewyse staan op ons gesigte geskryf – ons swaar, hangende voorkoms!

Dit is jammer om te sê – maar talle Christene verwaarloos dit om God te soek!

Baie van ons lees die Bybel met verveling. Ons maak God se Woord oop net omdat ons weet ons moet, en sy boodskap registreer nie met ons nie. Dit bring geen opwelling van lewe nie. Ons bid ook minder en minder. Ons sien nie meer uit daarna om ons af te sonder om met die Here te praat nie.

Geliefde, die gawe van die Heilige Gees binne-in ons voorsien ons met al die krag, hulpbronne, hoop, genade en vrede wat ons ooit nodig sal hê. En tog onderwerp ons Hom aan die verskriklike mishandeling van verwaarlosing! Dit is algehele mishandeling teen die Gees vir ons om onnodige laste te dra – om voor ‘n goddelose wêreld te wandel met bekommernis en neerslagtigheid, asof God dood is.

Dit is waarom die Heilige Gees sug en steun in ons gees, met onuitspreeklike versugtinge. Hy sug binne-in ons as Hy vir ‘n tydperk Homself onttrek! Nee, Hy verlaat ons nie heeltemal nie – maar met tye verwyder Hy Homself vir ‘n tydperk om ons geloof te toets.

Waarom sug Hy? Dit is omdat, eerder as om na Hom te hardloop, bly ons die hele nag wakker en praat met vriende, lees hoe-om boeke en probeer hard om antwoorde te kry. En die hele tyd verwaarloos ons Sy teenwoordigheid! Hy sit in die einste heiligdom van ons hart, bied ons aan alles wat ons nodig het. Maar ons dring daarop aan om ons behoeftes met ander te bespreek en rond te loop met ‘n droewige gelaat!

Wanneer die Heilige Gees in my lewe gesug het, het ek gewoonlik myself ondersoek en gevra, “Here, wat het ek verkeerd gedoen? Is daar een of ander verborge sonde in my? Ek het gegrawe en gegrawe vir antwoorde – boeke gelees, woordstudies gedoen. Ek het desperaat probeer uitvind waarom ek deur ‘n naamlose bekommernis gegaan het.

Soms kom hierdie oorweldigende gees steeds oor my. Maar nou weet ek waaroor dit alles gaan – ek is nie meer bang daarvoor nie. Ek weet dit het niks te doen met in sonde wees nie. Liewer, dit is die Heilige Gees aan die werk binne-in my. Hy sug sodat ek sal terughardloop tot in Jesus se arms in!

Dit is presies die effek wat die Gees se versugting op die psalmis gehad het. Dit het hom ‘n nuwe honger vir God gegee:

“Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander! Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade. O God, u weg is in heiligheid. Wie is ‘n groot God soos God? U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak” (Psalm 77:11-15).

“...laat dié my bring na u heilige berg en na u woning, dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap...” (Psalm 43:3-4).

Die Gees laat toe dat hierdie naamlose bekommernis ons lewens verpes totdat ons sê, “Ek kan nie hierdie ding verklaar nie! Ek weet ek kan nie die duiwel in my eie krag beveg nie en ek kan nie enige versoeking oorwin sonder die Heilige Gees nie. Ek is moeg om na ander te gaan om ‘n antwoord te probeer kry. O Here – ek roep nou uit tot U. Ek kan niks doen sonder U nie. Heilige Gees, neem oor!”

Eenvoudig gestel, wat ons beleef in hierdie bekommernis, is ‘n eensaamheid vir Jesus. Dit is nie regtig ‘n depressie nie. Nee – dit is ‘n smagting om ons Verlosser se teenwoordigheid te geniet! Dit is waaroor die versugting en gesteun alles gaan.

Jy sien, wanneer ons nie Sy teenwoordigheid het nie, wys dit op ons gesig. En die psalmis skryf, “...omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (Psalm 42:3).

Dit is duidelik dat hy so terneergedruk was, dat dit op sy gesig en in sy liggaamstaal weerspieël het. Deurdat ander hom in soveel droefheid en hopeloosheid gesien het, het hulle vir hom gesê, “Jy is veronderstel om ‘n man van geloof te wees. So, waar is jou God?”

Geliefde, as jy nie na die Here toe hardloop nie en jou gesig dit weerspieël – dan het die wêreld die volste reg om vir jou dieselfde vraag te vra: “Kyk na jou! Jy lyk verskriklik – so hartseer, so hopeloos. Waar is jou God? Waar is die Christus waaroor jy so baie preek?”

Sê jou gesig vir ‘n verlore, verwarde geslag, “My siel is gerus, my gedagtes vol vrede – omdat ek die Gees van God self het wat in my woon! Hy lei my en vertroos my beswaarde siel. En ek hoef geen onheil te vrees nie – omdat ek slaap en wakker word in die reddende krag van die Heilige Gees, wat in my woon!”

Laat my jou vertel hoe God my uit my bekommernis uitgehaal het!

Ek het onlangs deur net so ‘n tyd van swaar versugtinge en gesteun gegaan toe God vir my ‘n spesiale woord uit die hemel gestuur het. Terwyl ek deur die heuwels van Pennsylvania gestap het, het die Here hierdie woord in my hart laat val – en ek het dit weer en weer herhaal totdat my naamlose bekommernis opgelig en weg was. Die woord is ‘n eenvoudige vers:

“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir jou” (1 Petrus 5:7).

Dit is een ding om hierdie vers aan te haal – en ‘n ander om dit te glo! Terwyl ek deur die woud geloop het, was ek daaraan herinner dat die Here vir my omgee en vir waardeur ek gaan. Hy het medelye met my swakhede. En ek roep, “O Here, U gee wel vir my om! U het my lief. U waak heeltyd oor my!”

Skielik het die Heilige Gees vir my siel gefluister: “Dit is die geheim! Dit is waarom die Vader My gestuur het – om te help om jou te oortuig van hierdie Woord. Jy moet glo, maak nie saak waardeur jy gaan nie, maak nie saak wat jou las is nie, Hy gee om!

“God is nie kwaad vir jou nie. Hy kruip nie vir jou weg nie. Inteendeel, Sy hart is in beroering oor jou. Hy gee om oor alles wat jou affekteer. Sal jy dit glo, David? Sal jy al jou bekommernisse op Hom werp – al jou sondes, mislukkings, probleme en behoeftes?”

Dierbare heilige, as jy waarlik glo dat God jou liefhet en as jy al jou sorge op Hom werp, kan jy in heerlike vryheid leef. Jou gesig sal ophelder, net soos myne! Wanneer ek nou in die koue, sorgelose strate van New York Stad loop, werp ek al my bekommernis op die Here. En ek word herinner, “My hemelse Vader waak oor my. Hy het my lief – en Hy gee om!”

En die volgende keer wat ek daardie dwelmverslaafde vrou in 52ste Straat sien, kan ek sê, “Jy is reg – dit is werklik glad nie so erg nie. Dit is goed!” Halleluja!