Die Uiterste Gelooftoets

“Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek...het die waters hulle opgestapel, die strome het bly staan soos ‘n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see” (Exodus 14:29, 15:8).

Wat ‘n wonderlike getuienis het Israel gehad. God het sy uitverkore volk verlos deur die waters van die Rooi See aan beide kante op te stapel. Die Israeliete het veilig deurgeloop, maar die magtige Egiptiese leër was vernietig toe die golwe weer ingetuimel het.

Daar was groot gejubel in Israel oor wat die Here gedoen het. Die mense het gedans en gesing en geskree, “Die HERE is my (ons) krag en psalm...Die HERE is ‘n krygsman...En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan...o HERE, wie is soos U onder die gode...verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? U bring hulle (u volk) in en plant hulle op die bergland van u erfenis...Die HERE sal regeer vir ewig en altoos” (sien Exodus 15).

Drie dae later, sien ons egter dieselfde Israeliete brom teen die Here wat hulle verlos het. Toe hulle “geen water” in die woestyn gevind het nie, het hulle gemurmureer, “Wat sal ons drink?” Skaars twee-en-sewentig uur na hulle groot wonderwerk, het hulle die teenwoordigheid van God in hulle midde bevraagteken.

Die Psalmis het geskryf, “Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Selfsee” (Psalm 106:7). In wese het hy gesê, “Kan jy jouself so ‘n groot ongeloof voorstel? Hulle bevraagteken God by die plek van hulle verlossing, by die Rooi See. Hulle het pas een van die mees wonderbaarlike wonders in die hele geskiedenis gesien. En hulle het God se lof besing. Drie dae later, toe hulle geloof egter getoets was, het hulle uitgeroep, ‘Waar is ons God? Is Hy met ons, of is Hy nie?’”

“En die waters het hulle teëstanders oordek: nie een van hulle het oorgebly nie. Toe het julle aan sy woorde geglo, hulle het sy lof gesing. Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie. En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur” (Psalm 106:11-15).

Ten spyte van al hulle murmurering, het die Here wonderbaarlik vir hulle manna gestuur om te eet. En Hy het kwartels uit die lug vir hulle voorsien as vleis. Die Israeliete het soveel kos gehad, dat hulle nie geweet het wat om daarmee te doen nie. Die Skrif sê dat hulle geëet het todat dit by hulle neuse uitgekom het.

Toe hulle egter by Ráfidim aangekom het, was daar weer geen water nie. Weereens het hulle by Moses aangedring, “Gee ons water,” en gedreig om hom te stenig. Moses het toe ‘n rots geslaan en God het ‘n stroom water daar laat uitkom: “Hy het ‘n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke – ‘n rivier” (Psalm 105:41).

Let op die volgende vers: “Want Hy (God) het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg” (Psalm 105:42) Die Here was getrou aan sy Woord. Hy het weereens wonderbaarlik vir sy mense voorsien. Dit was egter hier by Ráfidim wat Israel stem gegee het aan hulle berugte beskuldiging: “Is God met ons, of is Hy nie?”

Die Bybel maak dit duidelik dat al hierdie beproewings deur God georkestreer was. Dit was Hy wat toegelaat het dat die Israeliete honger en dors was. En Hy het hulle in ernstige beproewings gelei vir ‘n spesifieke doel: om hulle voor te berei om op sy Woord te vertrou. Waarom? Hy was op die punt om hulle in ‘n land in te lei waar hulle die volle vertroue in sy beloftes nodig sou kry.

Terwyl ek hierdie gedeelte lees, wonder ek hoeveel Christene God se verlossing beleef het, net om gou weer by ‘n plek van uiterste beproewing te kom. In werklikheid, alle ware geloof word gebore in verdrukking. Dit kan nie op enige ander manier in ons gevorm word nie. Wanneer ons te midde van ‘n beproewing is en ons gaan na God se Woord – en ons kies om op sy beloftes aan ons te vertrou of ons nou leef of sterf – is die uiteinde geloof.

Inderdaad, dit is hoe ons geloof groei: van die een toets na die ander toets, todat die Here mense het wie se getuienis is, “Ons God is getrou.” Wanneer ons egter ons geloof in herhaaldelike toetse verloor – as ons aanhou om te murmureer en te kla oor ons omstandighede – dan verloor ons ons getuienis. Ons laat vaar die doel, waarvoor God ons geroep, uitverkies en verander het.

Later, toe Israel by Kades, by die Jordaanrivier gekom het, was hulle binne oogafstand van die Beloofde Land. God het hulle vertel dat dit nou die tyd was om in te gaan en die land in besit te neem. Hulle het gekies om twaalf verspieders na Kanaän te stuur om dit voor die tyd te verken.

Die mense het dit nie geweet nie, maar God se geduld met hulle was besig om op te raak. Hy het reeds belowe dat Hy voor hulle sou uitgaan. Hy het verklaar dat geen vyand teen hulle sou bly staan nie en dat Hy hulle gevegte vir hulle sou veg. Hy het belowe om elke vesting neer te werp, hulle in die land in te bring en hulle oorwinnaars teen al hulle vyande te maak.

Op tien geleenthede, het die Here Israel na ‘n plek van toetsing gebring. En op al tien geleenthede, het Hy hulle wonderbaarlik gered. Elke keer het hulle egter in hulle geloof gefaal. Nou was hulle op die punt om ‘n laaste toets te verduur.

God het geweet dat die mense vasgevang was in ongeloof en dat hulle geen geloof oorgehad het nie.

Tien of twaalf verspieders het teruggekom met ‘n ontmoedigende boodskap wat die hele vergadering geaffekteer het. Ons het soos sprinkane in hulle oë gelyk. En die stede is ondeurdringbaar, soos forte. Hulle mure reik al die pad op tot by die hemel. Ons is nie sterk genoeg om hierdie vyande aan te vat nie. Ons kan eenvoudig nie die land binnegaan nie” (sien Númeri 13).

Hou in gedagte dat God reeds vir hulle die bevel gegee het om voort te gaan en die land in besit te neem. Wat was die effek van die verspieders se verslag egter? “Toe het die hele vergadering uitgeroep – hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween” (Númeri 14:1). Die mense het na die goddelose verspieders geluister eerder as om te vertrou op die woord wat God gespreek het. En hulle het die hele nag gespandeer om hulle hande te vryf en te wens dat hulle dood was. Weereens het hulle uitgeroep, “Waarom moet ons aangaan? God het ons mislei.”

Josua en Kaleb was deel van die span van verspieders en hulle het beswaar aangeteken teen die verslag. Hulle het in geloof gespreek, “Die Here het gesê dat Hy die land vir ons gegee het. Ons kan nie in vrees verval en teen sy Woord rebelleer nie. Ons kan wen! Ons vyande se beskerming is weg. Die Here het hulle uitmekaargetrek en sy teenwoordigheid is met ons. Laat ons voorwaarts gaan.”

Wat was die mense se reaksie? “Laat ons hulle stenig!” Op daardie stadium het God genoeg gehad: “Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Númeri  14:11). God het gevra, “Hoeveel wonders moet Ek nog doen voor hulle My sal glo? Wat sal dit verg vir hulle om my Woord te aanvaar?”

Dit is tragies dat dieselfde waar is vir baie van God se mense van vandag. Ons leef in ‘n tyd waar die Woord beskikbaar is vir meer mense as ooit tevore en die evangelie kan te enige tyd deur die massamedia gehoor word. Hoeveel Christene se herinneringe van God se Woord is egter leeg wanneer hulle te midde van ‘n krisis is? Hoe dikwels wend hulle hulle tot die arm van die vlees en poog om hulleself te verlos uit ‘n krisis wat God self georkestreer het?

Israel se ongeloof het God se ewige doel vir hulle toekoms omver gegooi. Moses het van hulle gesê, “Hulle [is] kinders in wie geen trou (geloof) is nie” (Deuteronómium 32:20). Nou was die Here gereed om hulle te onterf en te vernietig. Toe Moses tussen beide getree het, het God verklaar: “Ek vergewe, volgens jou woord. Maar...al die manne wat my heerlikheid en my tekens  gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het...en na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie” (Númeri 14:20-23).

Sien jy wat God het gesê het? Elke Israeliet van twintig jaar en ouer sou in die woestyn sterf: “Julle lyke sal in hierdie woestyn lê...En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank...totdat julle lyke in die woestyn verteer is” (Númeri 14:29,33).

God het sy ewige doel vir Israel vir nog agt-en-dertig jaar uitgestel. En in daardie vier dekades, het die kerk in die wildernis bestaan uit twee generasies: diegene bo twintig wat geen visie gehad het nie en die jongeres wat op die Here gehoop het.

Wat ‘n kragtige beeld is aan ons gegee wat betref die verskriklike gevaar van ongeloof.

Dink aan die skrik en finaliteit in God se woorde aan daardie ongelowige geslag. In wese het Hy gesê, “Julle sal nie ingaan nie. Ek kan julle nie meer gebruik nie. Ek het julle keer op keer getoets en julle het julleself heeltemal sonder geloof in elke situasie bewys. Ek kan julle vir nog ‘n honderd keer toets, maar elke keer sal julle weer in My nie glo nie.

“Julle het My aan die einde van my handelinge met julle gebring. Julle is vergewe, maar julle het geen toekoms in my werk en doel nie. Julle leef nou net om dood te gaan. Julle gaan al julle oorblywende jare vermors.”

Ek het persoonlik sulke vermorste lewens van eens getroue gelowiges gesien. Die kosbare vrou van ‘n sendeling in Afrika het gesterf, terwyl hulle die Here gedien het. Sy het ‘n treurende man en hulle baba dogter agtergelaat. Die man kon dit nie hanteer nie. Hy het gesê, “God, as dit die manier is hoe U u kinders behandel, dan kan ek U nie dien nie.” Daardie man het sy dogter met vriende in Afrika gelos en teruggekeer na sy tuisland. Hy het as ‘n alkoholis gesterf.

Sonder geloof, is dit onmoontlik om God te behaag. Jy mag beswaar maak, “Maar alles waaroor jy sover gepraat het, is Ou Testament. Ons leef in die tyd van genade.”

Onthou, God se Woord in die boek van Hebreërs: “En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie...Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:18-19,21).

Hebreërs het die Nuwe Testament kerk gewaarsku: “Neem Israel se voorbeeld in ag. As julle dit nie doen nie, kan julle op dieselfde manier as hulle val. Julle sal verval in ‘n bose ongeloof. En dit sal julle lewens verander in een lang, aanhoudende wildernis.”

Beskou wat met die ongelowige geslag, wat teruggekeer het na die woestyn, gebeur het. God het hulle opvallend vertel, van die leiers af tot by die regters, tot by die Leviete afwaarts, dat sy hand teen hulle sou wees. Van toe af, sou hulle net benoudheid en maerte van siel ken. Hulle sou nie sy heerlikheid sien nie. In plaas daarvan, sou hulle fokus op hulle eie probleme en verteer word deur hulle eie wellus.

Dit is presies wat gebeur met ‘n ongelowige volk: hulle beland daarin om verteer te word deur hulle eie welstand. Hulle het geen visie nie, geen belewenis van God se teenwoordigheid nie en geen gebedslewe nie. Hulle gee nie langer om oor hulle naaste, of ‘n verlore wêreld of selfs hulle eie vriende nie. In plaas daarvan, is die fokus van hulle hele lewe op hulle probleme, hulle swaarkry en hulle siektes. Hulle gaan van een krisis na ‘n ander, vasgevang in hulle eie pyn en lyding. En hulle dae is vol verwarring, twis, afguns en verdeeldheid.

Vir agt-en-dertig jaar, het Moses gekyk hoe die Israeliete in daardie ongelowige geslag een vir een gesterf het. As hy teruggekyk het na diegene wat hulle lewens vermors het in die wildernis, het hy gesien dat alles waarteen God hulle gewaarsku het, gebeur het. “Die hand van die Here was teen hulle, om hulle te vernietig totdat hulle almal omgekom het” (sien Deuteronómium 2).

Net so is sommige Christene vandag bloot tevrede om te bestaan totdat hulle sterf. Hulle wil nie waag om God te glo of om volwasse te word nie. Hulle weier om sy Woord te glo en het verhard geword in hulle ongeloof. Nou leef hulle net om te sterf.

Israel se ongeloof het begin as ‘n klein flikkering, maar dit is aangeblaas tot ‘n vlam wat ‘n hele vergadering verswelg het.

Laat my jou wys waar Israel se ongeloof in ‘n verwoestende vuur verander het. Dit het gebeur net na daardie ongelowige verspieders die slegte verslag teruggebring het. Die mense was bang om God te blameer en daarom het hulle hulself geblameer, “Ons is swak en hulpeloos. Ons het nie wat dit verg nie. Daardie reuse vyande is te magtig vir ons. Hulle sal ons uitmekaarskeur.”

Hulle het die hele nag lank gehuil. En toe hulle die volgende dag by hulle tente uitkom, was hulle gesindheid, “Ons gee op. Dit is sover ons gaan. God het nie ons gebede beantwoord nie. Daar moet iets goddeloos in ons wees. Die pad is te moeilik.”

Ons is almal met tye skuldig aan sulke ongeloof. Dikwels wanneer ons nóg ‘n stryd moet deurstaan, dan laat ons toe dat die vyand ons ontmoedig. Ons word oorval deur ‘n onverklaarbare eensaamheid en ‘n gevoel van algehele ontoereikendheid. Ons word oortuig dat die Here ons nie hoor nie. En ‘n hulpgeroep bars in ons harte los, “God, waar is U? Ek bid, ek vas, ek bestudeer u Woord. Al wat ek wil hê is ‘n nouer wandel met U. Waarom verlos U my nie hiervan nie?”

Ons hou aan om na ons binnekamer van gebed te gaan, maar ons voel nie na bid nie. Ons siele is droog, leeg en uitgeput van ons stryd. Tog waag ons dit nie om in ons toestand die Here van verwaarlosing te beskuldig nie. Daarom nader ons Hom met ons koppe wat hang, moedeloos en swak. Ons bid, “Here, ek blameer U nie. U is goed vir my. Ek weet die probleem is by my. Ek het U soveel kere gefaal.”

Al wat God van ons in sulke tye hoor is hoe nutteloos ons voor sy aangesig is. Dit is egter nie nederigheid nie. In teenstelling, dit is ‘n direkte belediging van ‘n Vader wat ons met ‘n verbondsbelofte aangeneem het en beloof het om ons lief te hê en ons hele lewe lank te ondersteun. As ons vir Hom vertel hoe sleg ons is – hoe swak, leeg en nutteloos ons vir Hom is – dan verag ons alles wat Hy in ons bereik het.

In wese sê ons vir God, “Vader, al u vorige handelinge met my – al die openbarings wat U vir my gegee het, die intieme gemeenskap wat ons gehad het, alles wat U my gelei het om te spreek en aan ander te getuig – was verniet. Al u seëninge en wonderwerke in my lewe het geen impak op my gehad nie.” Hoe hartseer moet dit God nie maak nie! En dit is net omdat ons nie goed voel nie. Ons laat toe dat ons moedeloosheid ons oortuig dat al God se werke van liefde, al sy verstommende werke in ons lewe niks vir ons beteken het nie.

Ek onthou so ‘n tyd van moedeloosheid in my eie lewe. Ek het sleg gevoel oor my prediking, omdat ek gedink het dat ek so min daarvan toegepas het in my lewe. Ek het gebid, “Here ek het duisende preke gepreek, maar ek het nie veel daarvan toegepas nie. Ek voel so ontoereikend. Ek beskuldig U nie van enigiets nie, Here. Ek weet die probleem is by my.”

Maar die Heilige Gees het my baie duidelik geantwoord en laat verstaan: “Genoeg van hierdie selfbejammering. Staan op! Jy is geliefd, geroep en gekies. En ek het jou met my Woord geseën. Nou, gaan uit en preek dit. Jy het niks vergeet van wat jy gepreek het nie. As jy iets nodig het, sal Ek jou daaraan herinner.”

Die Here het my letterlik, maar liefdevol uit my gebedskamer uitgejaag. En Hy het dit gedoen, want daar moet vinnig met ongeloof afgereken word. Wanneer ons moedeloos word in ons geloof, moet ons onsself dissiplineer om alles waardeur God ons gedra het, te onthou. Ons moet die wonders onthou wat Hy voorsien het in ons moeilike tye. En ons moet juig met die wete dat Hy bly is oor dit wat Hy in ons gedoen het.

Twee dinge het op dieselfde tyd gebeur tydens Israel se agt-en-dertig jaar in die woestyn.

Terwyl een geslag van Israeliete dag vir dag gesterf het en hulle ongelukkig en sonder blydskap was, het God ‘n nuwe “geslag met geloof” opgerig. Hierdie jonger geslag het gesien wat met hulle vaders en moeders gebeur het en het besluit “Ons wil nie so leef nie – knorrig, leeg en net op hullself gefokus nie. Hulle het geen geloof en geen visie nie. Hulle het hulle doel om te lewe verloor.”

Beskou wat Moses van hierdie nuwe geslag gesê het: “Want die HERE jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hiedie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie” (Deuteronómium 2:7).

Daar is ‘n rede waarom ek hierdie agtergrond gee. Dit is om jou by die hart van my boodskap te bring. Dit is, dat ek glo die kerk van Jesus Christus vandag by sy eie Jordaan staan. In werklikheid, die water vloei oor sy walle met selfs groter intensiteit.

Jy sien, daar kom ‘n tyd in die lewe van elke gelowige – sowel as in die kerk – wanneer God ons by die uiteindelike gelooftoets bring. Dit is dieselfde toets wat Israel aan die woestynkant van die Jordaan moes deurgaan. Wat is die toets?

Dit is om na al die gevare wat voorlê te kyk – die reuse kwessies wat ons beleef, die hoë mure van verdrukking, die owerhede en magte wat ons wil vernietig – en onsself totaal op God se beloftes te werp. Die toets is om onsself te verbind aan ‘n leeftyd van geloof en vertroue in sy Woord. Dit is ‘n verbintenis om te glo dat God groter is as al ons probleme en vyande.

Ons hemelse Vader soek nie ‘n geloof wat een probleem op keer hanteer nie. Hy soek na ‘n leeftyd van geloof, ‘n lewenslange verbintenis om Hom vir die onmoontlike te glo. Hierdie soort geloof bring ‘n kalmte en rustigheid na ons siele, maak nie saak wat ons toestand is nie. En ons het hierdie kalmte omdat ons dit vir eens en vir altyd uitgemaak het, “My God is groter. Hy is in staat om my uit enige en alle verdrukkinge te verlos.”

God het ‘n streep getrek en elke Christen staan daarby. Ons Here is liefdevol en lankmoedig, maar Hy sal nie toelaat dat sy mense in ongeloof bly nie. Hy sal nie staan en kyk hoe sy kerk sy getuienis verloor nie en hoe hulle hande vryf en ween nie, “Is God met ons, of is Hy nie? Waarom verlos Hy ons nie uit hierdie beproewing nie?”

Jy mag keer op keer getoets wees. Nou het die tyd gekom dat jy ‘n besluit moet neem. God wil geloof hê wat die uiteindelike toets sal deurstaan. Dit is ‘n geloof wat nie sal toelaat dat enigiets jou sal losskud van jou geloof en vertroue in sy getrouheid nie.

Nadat Moses se tyd met Israel tot ‘n einde gekom het, kom ons by die boek van Josua. Almal van die ou, ongelowige geslag was weg. En die nuwe geslag met geloof het by dieselfde plek van beslissing gaan staan waar hulle vaders gestaan het, die Jordaan. Wat het gebeur? Die rivier het voor hulle oopgegaan, net soos die Rooi See. En hulle het deurgeloop na die ander kant toe.

Onmiddellik na hulle aankoms het hierdie nuwe geslag egter ‘n magtige vyand getrotseer. Hulle het hulleself gekry waar hulle opgekyk het na magtige Jerigo, ‘n stad met dik, ondeurdringbare mure. Jy ken die res van die storie: daardie mure het ingeval, deur geloof!

Wat is geloof werklik?

Daar is so baie teologie insake die tema van geloof. Eenvoudig gestel, ons weet dat ons dit nie kan oproep nie. Ons kan dit nie skep deur te herhaal, “Ek glo, ek glo regtig...” nie. Nee, geloof is ‘n verbintenis wat ons maak om God te gehoorsaam. Gehoorsaamheid weerspieël geloof.

Toe Israel Jerigo aangevat het, was die mense beveel om nie ‘n woord te sê nie, maar om eenvoudig net te marsjeer. Hierdie getroue gelowiges het nie vir hulleself gefluister, “Help my om te glo, Here. Ek wil graag glo,” nie. Nee, hulle was gefokus op die een ding wat God van hulle gevra het: om sy Woord te gehoorsaam en vorentoe te gaan. “Geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die Woord van God” (Romeine 10:17). Om die Woord te hoor, impliseer om dit te gehoorsaam.

Hulle was beveel om in ‘n sekere volgorde te marsjeer en om hulle instrumente ‘n seker aantal kere te bespeel. Wat vertel dit alles vir ons? In God se oë, was geloof eenvoudig ‘n saak om sy Woord te gehoorsaam.

Dink daaraan. Toe Josua vertel is, “Julle het nog nie tevore hierdie pad gevolg nie,” het God bedoel, “Dit is ‘n tyd om julle oor te gee aan algehele vertroue. Tot nou toe, het julle van brood alleen geleef. Nou gaan dit geloof verg. Julle kan nie op julle gevoelens of julle vermoëns vertrou nie. Julle sal op elke woord wat Ek vir julle sê moet vertrou.”

Toe die Woord gekom het, was die boodskap as volg: “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:9).

Geliefde, dit is geloof. Dit beteken om jou hart daarop in te stel om alles wat in God se Woord is, te gehoorsaam, sonder om dit te bevraagteken of dit ligtelik op te neem. En ons weet dat as ons harte vasbeslote is om te gehoorsaam, sal God seker maak dat sy Woord aan ons duidelik en sonder verwarring sal wees. Verder, as Hy ons beveel om iets te doen, sal Hy ons met die krag en sterkte voorsien om te gehoorsaam: “Laat die swakke sê: Ek is ‘n held” (Joël 3:10). “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (Efesiërs 6:10).

Daar kom ‘n tyd wanneer almal van ons moet sê, “Jesus, ek wil in geloof saam met U wandel. Ek is moeg daarvoor om op en af te wees, om U elke keer te bevraagteken wanneer daar ‘n stryd oor my pad kom. Ek trek ‘n streep. U het beloof om die stryd vir my te stry. En ek vertrou U.”