Die Tegemoetkomende Liefde van die Here

“Want U kom hom tegemoet met seëninge van die goeie; op sy hoof sit U ‘n kroon van goud” (Psalm 21:3). In die (Engelse) teks, is hierdie vers van Dawid ‘n raaisel. Die woord “verhoed” word gewoonlik geassosieer met ‘n hindernis, nie met seën nie. ‘n Moderne vertaling sou hier wees, “Die Here het Dawid verhinder met die seën van goedheid.”

Die bybelse woord vir “verhinder” dui egter op ‘n totaal ander betekenis. Dit beteken “om te verwag, vooraf te gaan, te voorsien en om vooruit te vervul, om skuld te betaal voordat dit verskuldig is.” Bowendien, dui dit in byna elk geval, op iets van genot. Jesaja gee vir ons ‘n blik op die soort genot. Dit kom van God wat ‘n nood vooruitsien en dit voor die tyd vervul. “Voor hulle nog roep sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (Jesaja 65:24).

Hierdie vers voorsien ons met ‘n ongelooflike prentjie van ons God se liefde vir ons. Hy is duidelik so angstig om ons te seën, so gereed om sy liefdevolle vriendelikheid te bewys, soveel so dat Hy amper nie vir ons kan wag om ons behoeftes met Hom te deel nie. Daarom gryp Hy in en vervul dade van genade, guns en liefde tot ons. En dit is die hoogste eer vir Hom.

In wese is dit presies wat Dawid in Psalm 21 sê: “Here, U stort U seëninge en liefdevolle vriendelikheid oor my uit nog voordat ek gevra het. En U offer my meer as wat ek ooit kon dink om te vra.”

Dawid verwys na ‘n wonderbare werk wat God teenoor Hom bewys het in die geestelike ryk. Dit is iets wat vir Dawid oorwinning gegee het oor sy vyande, antwoorde op gebed, die oorwinnende krag en onuitspreeklike vreugde. En God het dit alles gedoen voordat Dawid kon bid, om sy hart te ontboesem of om sy versoek voor te lê. Toe Dawid sy hart finaal uitgestort het, het hy ontdek dat God alreeds voorsiening gemaak het om sy vyande te verslaan. Dawid se oorwinning was verseker voordat hy eers naby die slagveld gekom het.

Inderdaad, toe Dawid Psalm 21 geskryf het, het hy van ‘n letterlike slagveld gepraat. Hierdie Psalm gaan hand aan hand saam met Psalm 20, beide van hulle verwys na ‘n geveg wat in 2 Samuel 10 beskryf word. In daardie 2de deel van Samuel, het Israel se vyande, die Ammoniete, die bataljon Arameërs gehuur om teen Dawid oorlog te voer. Dawid het sy militêre leier, Joab, en ‘n uitgekose weermag afgestuur om die vyand by die nasie se grens te gaan ontmoet. Hulle het die Arameërs in ‘n verpletterende oorwinning verslaan, en die vyand het in vrees gevlug.

Dawid was verheug, en het gedink, “Dit is die einde van die Arameërs. Dit sal nie weer vir ons nodig wees om met hulle te deel nie. Ons weermag het hulle ‘n doodsteek toegedien.” Hy skryf, “Ja, ek het hulle verpletter, sodat hulle nie weer kon opstaan nie. Hulle het voor my voete gesneuwel” (Psalm 18:38). Satan sal eenvoudig nie sy oorlog teenoor ons opgee nie. As ons hom eenmaal oorwin het, sal hy sy magte teen ons verdubbel en ons weer aanval. Skielik, is ons weer in ‘n geestelike oorlog wat ons gedink het ons gewen het.

En tog maak die Woord dit duidelik, “Toe die Aramese state sien dat hulle deur die Israeliete verslaan is, het hulle ‘n bondgenootskap gesluit” (2 Samuel 10:15). Hierdie vyand het weer bymekaar gekom en ‘n nuwe aanval beplan. Hulle sou nou teen Israel te staan kom met strydwaens van yster.

Natuurlik gaan hierdie storie om meer as net Dawid se probleme met die Arameërs. Dit gaan ook oor die volgelinge van Christus vandag en ons geveg met Satan. Dit gaan oor ‘n geveg wat ons gedink het ons lankal gewen het -- dalk teen wellus, ‘n gewoonte, ‘n versoeking wat ons eens op ‘n tyd oorwin het. In daardie tyd het ons gedink, “Al my vas en gebed oor die saak was die moeite werd. Ek het uiteindelik deur geloof, oorwin. Ek hoef nie meer daaroor gekwel te wees nie.” En tog gee God vir ons die storie om aan ons ‘n kritieke les te openbaar.

Satan sal eenvoudig net nie opgee in sy oorlog teen ons nie. As ons hom eenmaal oorwin het, sal hy sy magte teen ons verdubbel en terugkom na ons toe. Skielik is ons in ‘n geestelike oorlog wat ons gedink het ons reeds gewen het. En nou kom hy na ons toe met “yster strydwaens,” wapens en uitvindsels van groter krag en intensiteit as wat ons geken het.

“Die Arameërs het teenoor hom stelling ingeneem en die stryd aangeknoop” (2 Samuel 10:17). Dit is belangrik om te sien dat Dawid op daardie tyd nie meer in sonde geleef het nie. Die teendeel is, hy het in die vrees van God gewandel. En tog was Dawid menslik, hy moes gewonder het, “Waarom laat God dit toe dat die eens-dooie vyand teen my opstaan?”

Ons weet dat Dawid ‘n sagte hart gehad het. Sonder twyfel het hy sy siel ondersoek, en gewonder of daar sonde in sy hart was. Was hy aan iets ongehoorsaam? Hy het heel moontlik gedink, “Here, word ek gestraf?” Is dit nie wat deur ons gedagtes gaan wanneer ons ‘n vyand trotseer wat ons dink lank gelede al oorwin was nie? Ons raak verstrengel in self-ondersoek: “Daar moet ‘n sondige wortel in my wees. Hoe anders is dit moontlik dat ek so aanmekaar in dieselfde area versoek word? Ek moet vals, ‘n huigelaar wees, verrot aan die binnekant.” Ons eindig soos Dawid, en roep uit: “Help, Here, dit is bo my, en ek het ‘n wonderwerk nodig. Verlos my asseblief van hierdie ding eens en vir altyd.”

Ewe skielik in die middel van die verwarring en siels-ondersoek, het Dawid van die verbond onthou wat God met hom gemaak het: “Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ‘n koningshuis gaan vestig. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee” (2 Samuel 7:11-12).

God het Dawid aan die belofte herinner toe hy oppad oorlog toe was. Hy wou alle vrees van sy geliefde dienaar verwyder. Terwyl die satan al sy wapens uit die hel na Dawid gegooi het, het die Here hom gewys dat selfs voordat hy die slagveld betree, hy as oorwinnaar te voorskyn sal kom. In werklikheid, sê hy: “Ek gaan jou en jou saad plant sodat jou huis vir ewig sal staan. Dit sal nie vir jou nodig wees om deur jou vyande rondgestamp te word nie, omdat Ek hulle gaan afsny. Wanneer die Arameërs dus te voorskyn kom in hulle yster strydwaens, moenie jou ontstel nie. Jy sal staande uit die geveg kom.”

Dawid het hierdie beloftes aangegryp. En die eerste ding wat hy gedoen het was om sy oë van die naderende vyand af te haal. Hy het nou nie meer gehuil omdat hy in die moeilikheid was, en probeer om te verstaan waarom die geveg moes kom nie. In plaas daarvan, het hy homself in die openbaring van God se liefdevolheid gekoester: “Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet” (Psalm 18:19).

Dit is wat God vir elkeen van Sy kinders in gedagte het wanneer die vyand soos ‘n vloed oor ons kom. Die Here “ontmoet” ons met Sy liefde. Met ander woorde, Hy sê vir ons, “Jy mag dalk gewond raak, maar dit maak nie saak nie. Ek het jou alreeds oorwinnaar gemaak.”

As gevolg van God se “tegemoetkomende” belofte, is dit vir ons moontlik om op oorwinning aanspraak te maak, selfs voordat die geveg begin. Dawid sing, “Dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het, dat hy so jubel en juig. Die wens van sy hart het U vervul. Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie” (Psalm 21:1-2).

U mag dalk wonder, “Hoe kon Dawid juig? Hy het die mees intense aanval wat hy nog ooit geken het, beleef. Hoe kon hy bly wees terwyl hy dalk gewond of doodgemaak kon word?”

Dawid antwoord: “U skenk hom voorspoed en geluk, U plaas ‘n goue kroon op sy kop” (21:3). Wat Dawid hier sê is lewens-veranderend: “Ek staar ‘n magtige vyand in die gesig wat daarop uit is om my te vernietig. Maar my siel is rustig. Waarom? Die Here het my worsteling gesien. En hy het my oorlaai met versekerings van Sy liefde. My vyand mag dalk veroorsaak dat ek val, en soms mag dit lyk asof dit verby is met my. Maar God het vir my gesê dat as ek opstaan, sal ek sterkte ontvang en die geveg wen.”

Dawid het toe die volgende stelling van geloof gemaak net voordat hy na die oorlog gegaan het: “U plaas ‘n goue kroon op (sy) kop” (21:3). Die kroon wat Dawid hier noem is ‘n simbool van oorwinning en heerskappy. Dawid het gesê, “Ek gaan oorlog toe met God se belofte aan my. Hy het gesê ek sal uit die geveg stap met die kroon van oorwinning op my kop.”

Dit som die leerstelling van God se “tegemoetkomende goedheid” op. Hy het al ons worstelinge verwag -- al ons worsteling met sonde, die vlees en die duiwel -- en in Sy genade en goedheid, het Hy die skuld betaal voordat dit nog verskuldig was. Ons oorwinning is ‘n gedane saak. En tog is hierdie leerstelling nie van toepassing op Christene wat met sonde flankeer nie. Om te weier om weg te draai van hulle sonde, het hulle reeds aan die vyand oorgegee. Sulke mense wil eenvoudig nie vry wees nie. En hulle het reeds ‘n harde hart ontwikkel. Hulle het God se genade en liefde weer en weer getoets, totdat hulle dit uiteindelik verag het.

God se tegemoetkomende goedheid is spesifiek van toepassing op diegene wie vir Jesus liefhet en verras word deur sonde. Die Here verseker ons selfs al is ons tydelik mismoedig, ons sal uit die geveg kom en staan, alleenlik omdat Jesus ons skuld betaal het. Miskien is u gewond en vol bloed deur die swaard van die vyand. U het op ‘n manier misluk en nou is u mismoedig in u gees, en wonder u of u ooit weer sal herstel. Moenie net daar bly lê en wonder, “Waar het ek verkeerd gegaan nie?” Staan op, en staan op God se belofte van liefdevolheid. Bely en hou vas aan Sy vergifnis. Hy het belowe dat u uit elke geveg as oorwinnaar sal kom, gekroon deur Sy sterkte. “Laat U mag seëvier, Here, dan sal ons U krag besing en daaroor roem” (Psalm 21:13).

Die Heilige Gees verdryf alle vrees – vrees vir mislukking, van afsnyding van God, om die teenwoordigheid van die Heilige Gees te verloor -- deur Sy vreugde in ons te plant. Ons moet voortgaan in blydskap, soos Dawid gedoen het, omdat God ons daarvan verseker het dat ons sal heers.

En tog is daar so min Christene wat die vreugde en uitermate blydskap het. Menigtes het nooit rus vir hulle siele of die vrede van Christus se teenwoordigheid nie. Hulle loop rond asof hulle in rou is, en hulleself onder die duim van God se wraak sien, eerder as onder Sy beskermende vlerke. Hulle sien Hom as ‘n harde tugmeester, altyd gereed om die sweep op hulle rug te gebruik. En so leef hulle in ongelukkigheid, met geen hoop, meer dood as lewend.

Maar in God se oë, is ons probleem nie sonde nie; dit is vertroue. Jesus het ons sonde- probleem eens en vir altyd op Golgota reggemaak. Hy is nie voortdurend besig om ons op dieselfde snaar te druk, “Hierdie keer het jy oorskry nie.” Nee, nooit! Sy houding teenoor ons is die teenoorgestelde. Sy Gees is voortdurend besig om ons te bemin, en ons te herinner aan die Vader se liefdevolheid, selfs te midde van ons mislukkings.

Die oomblik as ons op ons sonde begin fokus, verloor ons ons perspektief van wat God wil hê: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek beloon” (Hebreërs 11:6). Hierdie vers sê alles. Ons God is ‘n beloner, en Hy is angstig om Sy liefdevolheid oor ons uit te stort waarmee Hy ons lank voor die vasgestelde tyd seën.

Dit is die konsep wat ons hemelse Vader verlang dat ons van Hom moet hê. Hy weet wanneer ons berou sal toon oor ons mislukkings en sonde. Hy weet wanneer ons berou sal kon. Maar Hy kan nie wag vir die regte dag nie. Daarom spring Hy in en sê, “Ek wil my kind daarvan verseker dat hy nie geoordeel sal word nie, omdat Ek hom alreeds vergewe het deur my Seun se suiwerings bloed.”

U ken Dawid se storie. Hy het ver verby versoeking gegaan, en owerspel gepleeg. Toe het dinge erger geword: Dawid het gelieg om sy sonde toe te smeer. Toe dit nie werk nie, het hy moord gepleeg sodat hy nie uitgevang kon word nie. Dawid het ‘n huigelaar geword, het gesondig in die aangesig van God se seëninge, en sodoende God se vyande verbly en skande op die naam van die Here gebring. En tog weet ons almal hoe die storie geeindig het. Dawid is vergewe en ten volle herstel, alhoewel hy swaar gestraf is.

My vraag is, by watter punt is Dawid vergewe? God het die profeet Natan gestuur om hom te konfronteer met sy sonde. Die Here het gesê, “Ek wil hê dat jy vir Dawid moet vertel hoe sleg sy sonde in my oë is. As gevolg van sy ongeregtigheid, sal die swaard nie van sy huis verwyder word nie. Die buite-egtelike kind van wie hy die vader by Batseba is, sal sterf. En sy vrouens sal verkrag word ten aanskoue van die hele Israel. Laastens moet jy vir Dawid sê dat Ek al sy sonde uitgewis het. Hy is nie langer onder oordeel nie. Ek sal hom nie doodmaak nie. Verseker hom daarvan dat hy volkome vergewe is.”

Dink daaraan: toe God dit vir Natan gesê het, was Dawid nog in ontkenning. Hy het dit nog nie eens bely nie. Sien jy wat gebeur het? God het die man vergewe nog voordat hy sy sonde in die gesig gestaar het -- nog voordat hy ‘n gebed kon doen!

God weet alles, en Hy ken Dawid se hart. Hy het geweet dat wanneer Natan hom sou konfronteer, Dawid sou uitroep, “O, Here, ek het verskriklik gesondig. Ek het die las vir ‘n hele jaar gedra. Dankie God, dat dit alles in die lig gebring is.”

God het geweet dat Dawid gebroke sou wees en berou sou hê oor sy sonde. En tog, belangrikste van alles, die Here het geweet dat Dawid in sy hart nie ’n gewoonte-egbreker of moordenaar was nie. Inteendeel, Dawid is verras deur sonde. Hierdie man het nie die een oggend opgestaan en besluit, “Vandag gaan ek toegee aan wellus nie. Ek gaan op my dak klim en rondloer totdat ek ‘n naakte vrou sien bad op haar dak nie. Dan sal ek haar hierheen bring en haar verlei.” Nee, ek is oortuig dat Dawid in ‘n oomblik van swakheid oorweldig is.

Eweneens, sien God u hart. U mag dalk vasgevang wees in ‘n binding, en oorweldig wees deur sonde. Maar die Here weet dat u nie eendag wakker geword het en besluit het, “Vandag gaan ek uit om hoerery te pleeg nie. Ek gaan ‘n manier vind om my humeur te verloor en te ontplof.” Nee, slegs geharde siele tree so op, evangelie-verwerpers en liefhebbers van sonde. Gebroke, berouvolle Christene speel nie met sonde nie; hulle is verras en oorval daardeur. Inteendeel, dikwels oorweldig die vyand hulle wanneer hulle met God se werk besig is.

Liewe Christen, God het u trane getel selfs voordat u hulle gestort het. Hy het u reeds vergewe, by die punt van die eerste steek van oortuiging en droefheid. Hy het u sonde weggevee selfs voordat die verskriklike pyn u hart geraak het en u uitgeroep het, “O, God, ek haat dit, ek verafsku dit. Ek is jammer ek het U bedroef.” Hy sien berou in u hart selfs voordat dit verskyn.

Dus het God geweet van die pyn wat Dawid in die gesig gestaar het. Hy het geweet dat vir die volgend paar jaar Dawid deur geweldige straf sou gaan. En God wou vinnig inbeweeg met Sy troos. Daarom het Hy ingestorm om Dawid te ontmoet met die seëninge van sy genade. Ons sien ‘n beeld daarvan later as Dawid Batseba as vrou in sy huis inbring om by hom te bly. Nadat hulle buite-egtelike kind gesterf het, het God hulle met nog ‘n kind geseën, wie se naam Jedidiah was, wat “God weet” beteken het. Die Here het Dawid verseker, “Ek ken jou hart, en ek sien jou gebrokenheid.”

Ek glo die verlore seun het huistoe gekom as gevolg van die geskiedenis met sy vader. Hierdie jong man het sy vader se karakter geken, en het blykbaar groot liefde van hom ontvang. Waarom sou hy andersins teruggekeer het na ‘n man wat kwaad en wraaksugtig sou wees, wie hom sou slaan en sou gemaak het dat hy elke sent moes terugbetaal het wat hy verkwis het?

Die verlore seun sou nie verwyt of veroordeel word het vir sy sonde nie. Hy het heel moontlik gedink. “Ek het geweet my vader is lief vir my. Hy sal nie my sonde voor my kop gooi nie. Hy sal my terugneem.” As jy die soort geskiedenis het, kan jy altyd teruggaan huistoe.

Let daarop hoe die verlore seun se vader hom “ontmoet” het met die seëninge van goedheid. Die jong man was van plan om ‘n hartstogtelike belydenis teenoor sy pa te maak, hy het dit al die pad huistoe herhaal. En tog toe hy sy vader sien, het hy nie eens ‘n kans gehad om ‘n volle belydenis te maak nie. Sy vader het hom onderbreek deur na hom te hardloop en hom te omhels.

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (Lukas 15:20). Die vader was bly toe sy seun terugkom, hy het hom oorlaai met soene, en gesê, “Ek het jou lief, seun. Kom huistoe en word herstel.”

Die vader het dit alles gedoen voordat sy seun sy belydenis kon voltooi. Die jong man kon net die eerste sin van sy toespraak uitkry, en sê, “Vader, ek het teen God en teen U gesondig. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie” (15:21). Maar sy vader het nie vir hom gewag om klaar te praat nie. Vir hom, is die jong man se sonde reeds vergewe. Die vader se enigste reaksie was om ‘n opdrag aan sy werksmense te gee: “Bring die klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ‘n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!”

Op watter punt is die verlore seun vergewe? Dit het lank terug gebeur toe hy nog in die varkhok rondgekruip het opsoek na kos. Sy sonde is uitgewis die oomblik wat hy gedink het, “Ek gaan terug huistoe. Ek moet teenoor my vader gaan bely dat ek gesondig het.” Hy is deur sy vader vergewe nog voordat hy sy belydenis kon uitspreek – voordat hy boetedoening kon doen, trane van berou kon stort, of probeer het om hom terug te betaal. En sy vader het hom buitensporig oorlaai met seëninge van goedheid.

Sonde was nie die kwessie vir die vader nie. Die enigste saak in sy gedagtes was liefde. Hy wou hê dat sy seun moes weet dat hy aanvaar word, selfs voordat hy ‘n belydenis kon uitspreek. En dit is die punt wat God wou maak aan almal van ons: Sy liefde is groter as al ons sonde. “Die goedheid van God lei ons tot bekering” (Romeine 2:4).

Natuurlik is dit moontlik “om die rykdom van Sy goedheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid te (verag); en nie bewus te wees dat die goedheid van God ons lei tot bekering nie” (2:4). Diegene wat dink dat hulle in hulle sonde kan voortgaan, en God se genade oor en oor toets, word verhard deur hulle aanhoudende sonde. Hulle glo hulle kan aanhou sondig teen Sy goedheid sonder om skade te ly.

Maar geleidelik word hulle harte ontboetvaardig en verlang hulle nie langer daarna om belydenis te doen nie. Hulle eindig met ‘n verharde hart, en stoor sodoende wraak op teen hulleself. Hulle kan God nie blameer nie; Hy was getrou en het probeer om hulle te ontmoet met seëninge van goedheid, en tog het hulle dit verwerp. Dit is die grootste sonde wat enige een kan pleeg.

Hier is die manier tot reiniging en herstel: ontvang die Here se belofte. Hy sê vir ons, “Ek sal jou help om in My weë te wandel. En ek sal My vrees in jou hart plant. Ek weet jy kan dit nie vir jouself doen nie. Ek sal dit vir jou doen, met jou samewerking. Hierdie werk is vervul slegs deur geloof in die voltooide werk van die Kruis. Al wat Ek vra is dat jy My belofte aan jou moet glo. Die werk is reeds deur My volbring. Dit is jou werk om dit in geloof te aanvaar. Dit is My liefde vir jou.