Die Struikelblok tot Ongeregtigheid!

David Wilkerson

Die Struikelblok tot Ongeregtigheid!

David Wilkerson

February 24, 1997

Sekere leiers van Israel het na die profeet Esegiël gekom om rigting en leiding te kry van die Here. Hierdie mans was nie soos baie van die Israeliete wat openlik hulle knieë voor afgode gebuig het nie. Nee, jy sou nie hierdie leiers in een of ander afgodstempel kry waar hulle offers aan valse gode gebring het nie. Hulle was leiers van die mense – en hulle wou voor almal voorkom as goddelike manne.

Maar van binne was hierdie leiers so wit soos grafte! Uiterlik, het hulle die voorkoms gehad van mans wat ‘n hart vir God gehad het en sy woord vir hulle lewens wou ken. En dit is die manier waarop hulle Esegiël genader het.

God het egter vir Esegiël geopenbaar wat in hulle harte was. Hy het vir die profeet gesê, “Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit...” (Esegiël 14:3). Die Here het in wese gesê, “Hierdie manne het na jou gekom en gesê hulle wil ‘n woord van My hoor – dat hulle in gehoorsaamheid aan my gebooie wil wandel. Maar hulle lieg. Hulle het geheime sondes in hulle lewens!”

Hierdie leiers het almal verborge, geheime afgodery bedryf. Hulle harte was in slawerny aan sondes waaraan hulle oorgegee het agter geslote deure. Niemand kon dit uit hulle voorkoms bepaal nie. In teendeel, hulle het nie as heidene of afgodedienaars voorgekom nie, maar as gerespekteerde manne van God wat hul bedienings uitgevoer het.

Die afgod van een leier kon anders gewees het as dié van ‘n ander. Vir sommiges, kon dit ‘n begeerte vir erkenning of ‘n strewe na mag gewees het. Vir ander kon dit een of ander geheime plesier van die vlees gewees het. Ander mag vasgehou het aan ‘n gekompromitteerde verhouding – ‘n buite-egtelike verhouding of ‘n homoseksuele sonde. Maar by elkeen van hulle, het daar ‘n stryd gewoed in hulle siele. Hulle was vasgevang tussen twee magtige systrome: Aan die een kant wou hulle van God hoor – en aan die ander kant, het hulle verborge sonde voor hulle oë opgerys.

‘n Struikelblok tot ongeregtighed is enige bose ding wat jou geestelike vooruitgang belemmer – enigiets wat tussen jou en God staan!

So ‘n struikelblok is enige bose verleiding wat jou beroof van ‘n standvastige wandel met God. Dit is enige boesemsonde wat veroorsaak dat jy wankel in jou geloof...enige begeerte wat skande in jou hart bring en aan die naam van Christus...enige geheime ding wat jou opgewonde maak en jou valse hoop gee...enige sonde waaraan jy vashou as jy na die Here kom terwyl jy leiding soek. Jy kan na God se huis kom, jou hande oplig en Hom hardop aanbid – en steeds ‘n struikelblok tot ongeregtigheid in jou hart hê!

“Hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit...” (Esegiël 14:3). In wese het God vir Esegiël gesê, “Hierdie manne is deur ‘n geheime sonde in hulle harte vasgevang. En hulle sonde is voor hulle oë. Dit is iets bekends aan hulle. Hulle weet baie duidelik wat hulle harte vasgevang het, omdat Ek met hulle daaroor gedeel het. Ek het hulle oortuig van sonde deur my Gees – en hulle weet presies wat hulle gemeenskap met My belemmer.

“Dit is my uitverkore mense, leiers van my kerk – en hulle weet van beter! Hulle het nie ‘n woord van jou nodig om dit uit te pluis nie. Hulle weet Ek haat afgodery. En hulle weet van Dawid se waarskuwing: ‘As ek ongeregtigheid in my hart gehad het, sou die Here my nie verhoor het nie.’ Maar hierdie manne is nie gereed om hulle sondige verslawing prys te gee nie. Hulle is nie gereed om te erken dat hulle mislei is en tereggewys moet word nie. Tog verwag hulle steeds dat Ek met hulle sal praat!”

Die boek Maleági sê vir ons dat die priesters nag en dag in God se huis gehuil het en die altaar met hulle trane bedek het. Maar daardie manne het bedrog in hulle harte gehad teenoor hulle vrouens; hulle het links en regs van hul gades geskei. En om daardie rede het God hulle geroep nie gehoor nie. Geliefde, jy kan ‘n rivier van trane huil – maar as jy aan ‘n afgod in jou hart vashou, sal die Here jou nie hoor nie!

God het vir Esegiël gevra, “sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg?” (Esegiël 14:3). Met ander woorde: “Glo hierdie leiers werklik dat hulle by My kan kom raad vra terwyl hulle vashou aan ‘n geheime afgod? Verwag hulle van My om te ignoreer wat in hulle harte is en hulle versoeke in waarheid en geregtigheid moet verhoor? Hierdie afgodedienaars is nie bereid om na my woord te luister nie. Hulle is nie gereed om te doen wat Ek vir hulle sê nie. Waarom sou Ek met hulle wou praat?”

Enige gelowige wat aan ‘n geheime sonde vashou, of enigiets in teenstelling met God se Woord, kan nie die ware stem van God hoor nie!

Enigeen wat vashou aan ‘n sonde, sal nooit die waarheid aanvaar wanneer hy dit hoor nie. Waarom nie? Dit is omdat elke afgod ‘n leuen met hom saamdra wat was waarheid aanvaar sal word!

Wanneer die Heilige Gees ‘n gelowige oortuig van ‘n spesifieke sonde of gewoonte, kom Hy herhaaldelik met liefdevolle waarskuwings. God se Gees is teer, geduldig en liefdevol – en Hy sal vir ‘n gelowige wag om te reageer voor Hy kastyding bring. Hy sal voortdurend op daardie persoon se kompromie hamer met sy oortuigende woord.

Maar wanneer al die bearbeiding en waarskuwings van die Gees geïgnoreer word en sonde wortel skiet, is die straf kastyding en uiteindelik oordeel. God sal verblinding van die oë en ‘n hardheid van die hart toelaat. En op daardie punt, word dit onmoontlik vir die gewoontesondaar om sy eie verdorwenheid raak te sien. Wanneer hierdie verskriklike oordele nie aanvaar word nie, word die hardheid van die hart uiteindelik ondeurdringbaar.

Saul se hart was onder die heerskappy van die afgode van trots en jaloesie. Trots het voortdurend in hierdie man opgerys en hom jaloers gemaak op Dawid en enige iemand anders wat in heiligheid gewandel het. Saul se hart was oorwin deur sy afgodery.

Die Bybel sê vir ons Saul het keer op keer na die Here gegaan om raad van Hom te vra, maar God het geweier om met hom te praat. Die Here kon moontlik vir Saul gesê het wat Hy vir die leiers gesê het wat na Esegiël gekom het: “Sal Ek my laat raadpleeg deur diegene wie se harte verblind word deur trots en verborge rebellie?”

Hier is die treurige getuienis van hierdie afgodiese koning: “...En Saul antwoord: Ek is baie benoud...God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie...” (1 Samuel 28:15). Saul kon ween, hy kon profete raadpleeg, hy kon bid vir drome – maar die Here het geantwoord, “Nee, Saul. Ek praat nie meer met jou nie – omdat jou hart vasgevang is deur ‘n afgod!”

God het nie weer met Saul gepraat vir die res van sy lewe nie. Op een stadium het die koning ‘n heks geraadpleeg om ‘n duidelike woord te probeer kry. Op die ou einde, het hy in uiterste angs gesterf.

Die boek Jeremia sê vir ons Efraim het onder die Here se ernstige kastydings beland weens sonde. Maar Efraim het hom bekeer en sy afgode laat staan en hulle verpletter. Dit is daardie man se getuienis: “Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het...” (Jeremia 31:19).

Verstaan jy wat Efraim hier sê? In wese is dit die volgende: “Toe ek afgode in my hart gehad het, het ek na die Here gegaan vir opdragte. Maar ek kon nie ‘n woord uit die hemel kry nie. Ek het niks van God gehoor nie – totdat ek my bekeer het en my afgode in stukke verpletter het. Toe het ek duidelike opdragte gekry!”

Slegs deur jou afgod te laat staan in heelhartige berou en bekering, kan jy die ware woord van die Here hoor – en duidelike, goddelike leiding kry. Jy sien, wanneer jy jou bekeer, is die eerste ding wat na jou toe terugkom, jou onderskeiding, wat die wysheid van God is. En hoe verder jy jou sonde agterlaat, hoe duideliker sal jy sien en hoor. God se stem sal duidelik en seker word met die gesag van waarheid.

 Maar Christene wat God soek terwyl hulle aan ‘n afgod vashou, sal nooit enige stem hoor nie – behalwe die stem van hulle eie hart! Hulle eie begeerte sal ‘n stem aanneem – en uiteindelik sal daardie gelowiges begin glo dit is die stem van God.

Geliefde, as jy weier om ‘n boesemsonde te versaak, hoef jy nie probeer om te vas nie. Jou pogings sal alles verniet wees. God sê, “...ons ongeregtigheid teen ons getuig...As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie, en as hulle brandoffer en spysoffer bring, het Ek in hulle geen behae nie...” (Jeremia 14:7,12).

Nog erger is hierdie woord: As jy na die Here kom terwyl jy ‘n struikelblok tot ongeregtigheid vertroetel, sal God jou nie weier nie. Hy sal jou gebed verhoor. Maar die woord wat jy sal kry, sal onrusbarend en skrikwekkend wees: “Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee” (Esegiël 14:4).

Byvoorbeeld: Israel het na God gekom en vir ‘n koning gevra. Hulle harte was gevul met ‘n begeerte om soos ander nasies te wees en dit het hulle afgod geword. Daarom het God hulle volgens hulle begeerte geantwoord: “Ek gee jou ‘n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid” (Hoséa 13:1).

God het gesê, “Ja, Ek sal jou gebed verhoor. Maar Ek ken die begeerte wat jou hart vasgevang het. Ek weet jy sal nie luister na enige woord wat Ek vir jou gee nie. Daarom sal Ek jou verhoor ooreenkomstig jou hart se begeerte. Ek gaan vir jou gee wat jy wil hê – totdat jy siek daarvan is!”

Toe die mense Saul gekroon het, het hulle gedink, “God het ons verhoor. Hy het ons gebede beantwoord. Is dit nie wonderlik nie? Die Here is met ons!” Maar God het hulle in sy woede verhoor – ooreenkomstig hulle afgodiese harte!

In die woestyn, het die kinders van Israel die Here versoek en gesmeek vir vleis om te eet.

Weereens was die mense se harte vol afgodery en ongeloof. En weereens het God hulle ooreenkomstig hulle begeerte geantwoord:

“Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die HERE alreeds teen die volk ontvlam het, en die HERE het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring” (Númeri 11:33).

Go het hulle nie teleurgestel nie. Hy het vir hulle die vleis, wat hulle begeer het, gegee. En terwyl die mense dit verslind het, het hulle gedink, “God het ons verhoor. Hy is tevrede met ons!” Nee – God het net gereageer op hulle afgodery! En terwyl die vleis nog in hulle monde was, het die mense begin sterf.

Geliefde, God antwoord ons ooreenkomstig ons afgode! Hy waarsku: “Ja, jy sal kry wat jy begeer. Jy het jou begeerte vertroetel. Maar dit sal jou alles kos!”

Bileam was ‘n groot som geld aangebied saam met groot prestige en eer deur die Midianiete – as hy net die kinders van Israel sou vervloek. Toe Bilieam God oor die saak geraadpleeg het, het die Here hom ‘n uitdruklike “Nee” gegee.

Toe het die ambassadeurs van Midian weer teruggekom met ‘n aanbod van selfs groter verleiding. Weer het Bileam na die Here gegaan en gevra, “God, U het die aanbod gehoor. Moet ek gaan?” Maar hierdie keer het Bileam God geraadpleeg met ‘n hart wat aan die brand was van begeerte. Hy het ‘n begeerte gehad na mag, finansiële voordeel en erkenning. Hy wou nie sy afgod van gierigheid neerlê nie – en dit het ‘n struikelblok tot ongeregtigheid in sy hart geword!

Wat was God se antwoord aan Bileam? “Staan op en gaan saam met hulle!” Die Here het Bileam geantwoord ooreenkomstig die begeerte wat sy hart vasgevang het. Jy sien, Bileam wou nie God se wil hê nie; hy wou nie in reinheid wandel nie. Hy wou sy eie wil hê – wat persoonlike voordeel was. Terwyl hy egter saamgery het, het hy gedink, “God stem saam met my hieroor.”

Nee! Bileam was tragies verkeerd. Hy het die voorwerp van God se woede geword, omdat hy uitverkoop was aan die mag van begeerte. En dit het vir hom ‘n vloek geword: Bileam was vernietig saam met die res van God se vyande.

Nie lank gelede nie, het ‘n Christen man na my gekom en my ingelig dat hy van sy vrou gaan skei. Hy het in wese gesê, “Ons huwelik is hopeloos. Dit het net ellende vir my gebring. So, nou gaan ek daar uitkom.

“Ek weet jy sal vir my sê ek is verkeerd – dat dit onskriftuurlik is. Maar ek het regtig daaroor gebid. En die Here het vir my gesê dat Hy nie van my verwag om met daardie soort hartseer saam te leef nie. Hy het vir my gesê dit is die regte ding onder omstandighede. So, ek gee nie om wat jy sê nie – omdat ek vrede daaroor het.”

Het hierdie man ooit van God gehoor? O, ja – God het sy gebed verhoor. Hy het hom ooreenkomstig die afgode in sy hart verhoor. God het toegelaat dat die begeerte in sy hart ‘n stem aanneem!

Jare gelede het ‘n jong bedienaar huilend na my gekom. Hy het erken dat hy ‘n buite-egtelik verhouding gehad het met ‘n jong vrou in sy kerk. Hy het dit op hierdie manier verduidelik: “My huwelik was vol probleme, omdat my vrou my nie verstaan nie. Maar hierdie ander suster is baie geestelik. Ons bou mekaar op in die Here. Dit is hoe dit alles begin het.

“Eers het ek gehuil soos wat ek nooit tevore in my lewe gehuil het nie. God het regtig met my gedeel. Maar toe het dit begin om reg te voel. Skielik het ek beter gepreek as ooit. En die kerk het begin groei. Wanneer ek gebid het oor my verhouding met hierdie vrou, was al reaksie wat ek gehoor het, ‘God verstaan. Hy weet hoe seergemaak jy is. Dit is alles reg – omdat sy eendag jou vrou sal wees.’”

God het hierdie man se gebed verhoor – om deur sy afgod te antwoord! Daardie jong prediker het alles gehoor wat hy wou hoor. Maar toe het God skielik die leuen daarvan geopenbaar – en die koste was vir hom amper ondraaglik.

Enige afgod wat geherberg word, word ‘n struikelblok tot ongeregtigheid in die hart. Jy mag sê dat jy naby Jesus leef, dat jy gemeenskap met Hom het. Maar as jy aan ‘n afgod vashou, kan daar geen gemeenskap met Hom wees nie. Net soos God vir Esegiël gesê het, “Hierdie leiers is vervreemd, geskei van My, weens hulle afgodery. Hulle afgode het alle gemeenskap met My verhinder!”

“Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig af van al julle gruwels” (Esegiël 14:6). In Hebreeus beteken die woord vir “gruwel” “julle afskuwelike dade” – dit is, al daardie dinge van die Heilige Gees verafsku.

In wese sê God kortliks: “Wil julle My raadpleeg en ‘n ware woord kry? Ek het genoeg gehad van julle skynheilige trane, julle nagemaakte bekerings. Laat staan julle afgode. Dan sal Ek julle met waarheid antwoord!”

Diegene wat weier om hulle struikelblok tot ongeregtigheid neer te lê – wat weier om hulle afgode te erken en hulle te verpletter – beland op die ou end in sterk misleiding!

Afgodedienaars is verdoem om in misleiding te lewe – en glo dat ‘n leuen die waarheid is!

“Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdeling wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg – hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee.

“Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van die volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is. En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek – Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel” (Esegiël 14:7-9).

God sê in hierdie gedeelte dat Hy gierige profete mislei. Ons weet egter dat God niemand kan mislei nie. Dit beteken eerder, “Omdat julle verhard is in julle sonde, met geen uitroep of begeerte om dit te laat staan en julle te bekeer nie, sal elke woord wat julle van nou af hoor julle in jul sonde versterk. Selfs die preke wat julle hoor, sal spreek tot julle afgode. Alles sal julle in jul misleiding versterk!”

Ons sien ‘n beeld hiervan in 1 Konings 22, met Koning Agab. Hierdie man was waarskynlik die mees afgodiese koning in die geskiedenis van Israel. En op daardie stadium, het hy ‘n verbintenis gesmee met Koning Josafat om saam teen Ramot-Gilead te gaan oorlog voer.

Vierhonderd profete het voor Agab gestaan en hom aangemoedig om voort te gaan met die aanval. Kan jy jou die toneel voorstel? Daar het ‘n horde vleiende manne gestaan en almal het woorde gespreek wat Agab se afgodery gevoed het. En al daardie vierhonderd stemme het vir hom gelieg – en hom versterk in sy sonde en vir hom gesê dit was alles reg om voort te gaan.

Maar luister na wat die Skrif gesê het:

“En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Gilead? En die een het so gesê, en die ander weer so. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so” (1 Koning 22:20-22).

Hier was een van die ergste afgodedienaars van alle tye, ‘n man wie se hart heeltemal vasgevang was deur gierigheid en wellus. En nou het hy die Here geraadpleeg. So, wat het God vir Agab gegee? Hy het vierhonderd profete vir hom voorsien wat die begeerte in Agab se hart weerspieël het: “Alles lyk goed. Daar is vrede en voorspoed op die pad vorentoe. Gaan voer oorlog!”

Wat ‘n verskriklike tragedie! Agab kon God se stem nie hoor nie, weens die afgode wat in sy hart gewortel was. En God het hom verhoor deur vir hom ‘n sterk misleiding te stuur – een wat hom sou vernietig!

“...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie...daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:10-12).

God laat nie net misleidende stemme toe nie, maar in werklikheid beskik Hy dit: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur...” (2 Thessalonicense 2:11). Ek sien dit dikwels gebeur in Christene se lewens. Byvoorbeeld, een man het Time Square Church onlangs verlaat omdat hy sê die preke was te hard en te wetties. Maar hierdie man het ‘n afgod gehad – ‘n boesemsonde wat hy nie wou laat staan nie.  Hy het “gelei” gevoel na ‘n kerk waar hy gemaklik in sy sonde is. Nou kan hy vrylik rook en drink – en nooit word ‘n woord daaroor gesê nie.

Ek het dikwels gewonder waarom dit lyk of vleeslike Christene in die kerk ander daar kry net soos hulself. Ek sien mense wat skinder vriende maak met ander wat skinder; wellus gevulde vroue wat aangetrek word na mans wat rondkyk; homoseksuele wat ander homoseksuele vind. Hoe word hulle “gelei” na mekaar? Dit word alles deur God beskik!

Nee, God oorweldig niemand se vrye wil nie. Maar sy werk om ‘n sterk misleiding te stuur gebeur omdat mense weier om hulle bose praktyke te laat vaar. Hy sê, “Die enigste hoop wat Ek het om jou te bereik, is om jou aan die einde van jouself te laat kom – om te sorg dat jou sonde jou siek maak!”

Ons sien hierdie proses aan die werk in die boek van Númeri, toe Israel geween het en vir vleis gesmeek het. God het hulle gebed op hierdie manier verhoor: “Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie – ‘n hele maand lank. Totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die HERE wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?” (Númeri 11:19-20).

God sê in wese, “So, wil jy jou vlees behaag? Wil jy vashou aan jou sonde? Dan sal Ek jou daarin laat verswelg totdat dit jou siek maak, totdat dit geen plesier meer vir jou gee nie – totdat jy uitroep, ‘Genoeg!’”

Talle Christene wend hulle na die Bybel om die Here te raadpleeg, terwyl hulle steeds vasklou aan ‘n struikelblok tot ongeregtigheid – en selfs die Skrif spreek tot hulle afgode!

Wanneer afgodedienaars die Bybel oopmaak, vind hulle dikwels net wat hulle wil hê reg voor hulle oë. Hulle lees net wat hulle nodig het om oortuiging van sonde op te hef, om hulle gerus te stel – om hulle in hul misleiding te versterk!

‘n Aantal jare gelede het ‘n getroude man na my gekom om my te oortuig dat God vir hom ‘n vrou gewys het wat sy volgende vrou sou wees. Sy huidige vrou was gestrem. Hierdie man het vir my gesê, “Ek het my vrou lief en ek het nie planne om haar te verlaat nie. Maar ‘n stem hou aan om vir my te sê dat hierdie ander suster eendag my vrou sal wees. Ek weet dit klink moeilik om te glo – maar wanneer ek my Bybel oopmaak, kry ek bevestigings oral waar ek gaan. Byvoorbeeld – die ander dag het ek na die Psalms geblaai en die woord wat ek gelees het, was, ‘Hy het hulle  gelei na die hawe van hul begeerte.’”

Daardie woord sou genoeg bewys gewees het vir hierdie man dat hierdie ander vrou in sy hart ‘n “hawe van begeerte” was. Die woorde wat hy gekry het, was glad nie profeties nie; dit was alles sy eie wellustige begeerte wat ‘n stem gekry het! Hierdie man was na Skifte “gelei” wat verkeerd toegepas was – en hulle het hom in sy ernstige misleiding versterk.

Dit is een ding om ‘n stryd met sonde te hê en te weier om daarmee vrede te maak. So ‘n persoon sê, “Ek haat hierdie slawerny – en ek sal nie daarmee volhou nie! Ek soek verlossing. God, ek sal getrou bly aan U!”

Maar as jy vrede maak met jou sonde – wanneer dit elke dag voor jou oë is, maar jy weier om dit te sien – sal jy een bevestiging na die ander begin hoor. En dit sal nie God se woord vir jou wees nie – maar God wat toelaat dat jou eie sondige hart praat!

Wanneer Christene leer om met hulle sonde saam te leef – of daardie sonde nou onvergewensgesindheid, skinder of sensualiteit is – word die sonde deel van hulle lewe. En dit maak nie saak hoe dikwels hulle in die kerk gesien word nie – met opgeligte hande, terwyl hulle die Here aanbid – hulle bly afgodedienaars in God se oë. En uiteindelik sal God sy salwing heeltemal van hulle wegneem.

Klou jy vas aan ‘n afgod in jou hart? Wees gewaarsku – al wat jy ooit van God se woord sal ontvang, is versterking in jou misleiding. Die woord wat bedoel is om genesing te bring, sal net vir jou verwoesting bring. Jy sal gelei word deur die gees van jou afgod – en alles wat jy lees of hoor, sal verdraai word!

God se Woord wys vir ons waarom Hy sulke drastiese stappe moet neem – Waarom Hy afgodedienaars so hard moet antwoord!

“En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees; sodat die huis van Israel nie meer agter My wegdwaal nie en hulle nie meer verontreinig met al hulle oortredinge nie.  Dan sal Ek vir hulle ‘n God wees, spreek die HERE” (Esegiël 14:10-11).

God sê vir ons in sagte terme: “Ek sal doen wat dit ook al mag verg om jou weg te kry van jou besoedelde afgod af. Ek sal jou nie in misleiding en verwoesting laat verval nie. Ek sal jou terugtrek na My toe!

“As dit nie werk nie, sal Ek kastyding bing as Ek moet. Ek sal die hamer van my Woord op jou neerbring. Ek sal jou kasty en oordeel. En Ek sal dit doen omdat Ek jou liefhet en jou nie wil verloor nie! Ek het gekom om jou lewe in oorvloed te gee. Maar jy kan nie daardie oorvloed hê terwyl jy aan daardie afgod in jou hart vashou nie!”

“...as julle hulle weg en hulle handelinge sien...en julle sal weet dat Ek nie tevergeefs alles gedoen het wat Ek daarin gedoen het nie. spreek die Here, HERE” (Esegiël 14:23). Die Here sê met ander woorde: “Julle weet dat my sterk optrede teen julle om ‘n rede is. Ek sal julle eenvoudig nie laat gaan nie!”

Ek vra jou: Het jy ‘n struikelblok van ongeregtigheid in jou hart? Is jy onder heerskappy van ‘n boesemsonde? Word jy mislei deur ‘n slawerny wat jou maklik kan vernietig? Indien wel, en as jy deur hierdie boodskap jouself onder oortuiging van sonde bevind, is daar hoop vir jou.

Dit maak nie saak wat jou afgod is nie – gierigheid, seksuele sonde, pornografie, alkohol, dwelms, bitterheid of onvergewensgesindheid. God sê dit is nou reg voor jou oë – en jy weet wat dit is. Vra Hom om jou oë daarvoor oop te maak. Vra die Heilige Gees om die vrees van God in jou in te boesem – om jou sag te maak vir sy oortuigende woord en stem. Jy moet jou sonde haat – en besluit om geen vrede daarmee te maak nie!

Roep nou uit tot Hom: “Here, moenie my blind laat nie! As daar enige misleiding of verleiding in my is, openbaar dit. Bring die voorhamer van u Woord om al my mure van misleiding te verpletter. Dring tot my deur. Ek wil geen leuens meer glo nie. Ek wil nou net u stem hoor. Ek wil U mag en gesag hê om oor my lewe te heers!”

Daar is verlossing vir jou, as jy dit waarlik wil hê. Maar God sal vir jou wag om jou afgode te laat staan. Hy sal jou bemagtig deur sy Gees die oomblik waarop jy gereed is om dit af te lê.

Geliefde, hoor my goed: As jy vandag jou afgode sal neerlê, sal God Homself aan jou openbaar op ‘n baie spesiale manier. En binnekort sal jy eendag na jou voete kyk en daardie lewelose afgode sien lê onder jou in stof en as. En jy sal besef jy wandel in Jesus se wonderlike teenwoordigheid – nie langer ‘n slaaf van ‘n gebondenheid nie, maar ‘n kind van God, vrygemaak deur waarheid!