Die Steeds Toenemende Eise van Geloof

David Wilkerson

Wat is dit oor geloof wat aanhou om groter toetse van ons te vereis? Waarom groei ons verdrukkinge meer intens en erger hoe nader ons aan Christus kom? Net wanneer ons deur een beproewing kom wat ons getrou bewys het en ons harte verklaar het, “Here, ek sal U vir alles vertrou,” dan kom daar nog ‘n toets met verhoogde intensiteit.

Hierdie ervaring word gedeel deur alle Christene dwarsoor die wêreld. Ek sien dit in al my reise van vasteland tot vasteland en ons bediening ontvang dikwels briewe van lesers wat getuig van groeiende intensiteit in hulle beproewings.

‘n Goddelike pastoorsvriend het onlangs vir my vertel, “Ek het nog nooit Jesus liewer gehad as vandag nie. En tog was ek nog nooit so erg getoets soos nou nie. My huidige beproewing het my verstom en sprakeloos gelaat. Ek het nog nooit so hulpeloos en sonder wysheid gevoel nie. En ek sien geen menslike uitweg uit my probleme nie. Ek het eenvoudig nie meer antwoorde nie. Ek kry myself dat ek verlang na die hemel om van al hierdie konflik af weg te kom.”

Die feit van die saak is, dat elke heilige wat nader aan God se hart groei, sal vind dat sy laste en beproewings heftiger word. Ek noem hierdie ervaring die steeds toenemende eise van geloof. En dit is ‘n patroon wat ons dwarsdeur die Skrif sien.

1. Beskou die steeds toenemende eise op Abraham se geloof.

Wanneer ons begin om van Abraham te lees, vra God hom om sy familie te neem en op te pak om na ‘n onbekende bestemming te reis. Dit moes ‘n ongelooflike toets vir Abraham, sowel as vir sy geliefdes gewees het. Tog het Abraham in geloof gehoorsaam. Dit was deur geloof dat hy tussen vreemdelinge in vreemde lande gebly het en tog was hy ongedeerd en geseënd. En deur geloof was Abraham van elke krisis verlos deur bonatuurlike drome en visioene wat die Here aan hom gegee het.

Op een stadium, het God vir Abraham beveel om na die sterrehemel op te kyk terwyl Hy vir hom sê: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel...So sal jou nageslag wees” (Génesis 15:5). Met ander woorde: “Abraham, dit is hoe baie kinders, kleinkinders en familie jy gaan hê. Hulle sal soveel soos die sterre wees.”

Wat ‘n ongelooflike belofte. Hierdie woord aan Abraham was meer as wat enige menslike verstand kan verstaan. Wat was Abraham se reaksie op hierdie belofte?” “En hy het in die HERE geglo” (Génesis 15:6).

Wat was die resultaat van hierdie geloof van Abraham? Wat het sy innige, blywende vertroue in God se oë beteken? Ons vind die antwoord in ‘n enkele vers: “En hy het die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Génesis 15:6, kursief myne). Keer op keer het Abraham sy geloof in God geplaas en hy was regverdig geag in die Here se oë.

Teen die tyd dat Abraham 100 jaar oud was, het hy ‘n leeftyd van buitengewone toetse van geloof beleef. Deur dit alles heen, sê die Skrif dat hy God vertrou het. En nou sê die Here van hierdie getroue, gehoorsame man: “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Génesis 18:19).

Sien jy wat God self van hierdie man sê? Hy verklaar, “Ek vertrou Abraham. Hy het sy geloof bewys.” Dit het veroorsaak dat die Here sê, “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?” (Génesis 18:17). Toe God dit gesê het, was Hy op die punt om ‘n belangrike daad te doen. Hy het in wese verklaar, “Hoe kan Ek iets so belangriks van so ‘n getroue man wegsteek?” Daarom het die Here Abraham ‘n geheim, wat geen ander mens geweet het nie, vertel: Sodom was op die punt om vernietig te word.

In sy ouderdom het Abraham die seun wat God aan hom belowe het, ontvang. Isak se naam beteken “lag,” en vir ‘n tyd lank het hierdie seun se naam skynbaar Abraham se lewe beskryf. Alle aanduidings dui daarop dat Abraham sy latere jare sonder beproewings geniet het. God het hom blykbaar ‘n ruskans van beproewings gegee. Die toonbeeld is van ‘n baie ou man, wat gerespekteerd was en ‘n tydperk van vrede in sy lewe geniet het.

Tog, lees ons weer, “Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel” (Génesis 22:1). Na al die jare van stryd – al die verdrukkinge, die beproewings, die  steeds toenemende eise op sy geloof – het goddelike Abraham, wat die Here so vertrou en liefgehad het, die mees ondenkbare eis nóg op sy geloof beleef.

God het die voorvader beveel, “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer” (Génesis 22:2).

As ek hierdie lees, roep my menslike rede uit: “Here, hierdie man was alreeds tot op sy uiterste getoets. Hy hoef nie meer sy geloof te bewys nie. U ken reeds sy hart! U het self verklaar dat hy sy vertroue in U bewys het. Hy is nou in so ‘n wonderlike posisie. ‘n Lewensdroom het vir hom waar geword en u belofte is in sy ouer jare vervul. Waarom moet hy nog ‘n toets verduur?

“Hierdie man sal spoedig in heerlikheid saam met U wees. Wie gaan voordeel trek uit hierdie beproewing? Wie onder Abraham se geslag sal ooit van sy toets, wat op ‘n afgesonderde berg plaasvind, hoor? U weet Abraham sal U deur dit alles vertrou. Hy het dit reeds bewys, keer op keer. So, waaroor gaan hierdie beproewing? Is dit ‘n saak van tugtiging? Wat was daar om Abraham oor te tugtig? Hy is ‘n ou man. Hy het in alles ‘n bewese rekord van gebed en vertroue op U.”

Jy ken die storie. God het Isak se lewe gespaar deur hom met ‘n ram vir die offer om te ruil. En die Here het vir Abraham vertel: “Nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie...Omdat jy dit gedoen het...dat Ek jou ryklik sal seën...en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Génesis 22:12, 16–18).

In effek, het God aan Abraham vertel, “Ek weet nou dat jy nooit enigiets van My sal terughou nie, selfs nie jou kosbare seun nie. Ek weet dat Ek alles vir jou is, Abraham. En omdat jy dit bewys het, gaan Ek jou seën.”

Hoor wat die Gees in hierdie gedeelte sê: “Ander mag dalk nooit weet van jou steeds toenemende toetse van geloof nie. Jy mag dalk alleen in afsondering ly, met niemand om voordeel te trek uit jou getuienis van geloof en uithouvermoë nie. In werklikheid, mag jy veroordeel word vir jou lyding wanneer ander dink, ‘Waarom gaan hy deur al hierdie dinge? Daar is skynbaar geen rede voor nie. Ek wonder waar het hy in sy lewe misluk. Watter sonde het hy gepleeg om hierdie soort van lyding op homself te bring?’”

Tog, kan jy weet dat die God wat jou in jou beproewing ingelei het, weet wat jou beproewing beteken. Al jou trane word deur Hom in bottels opgevang en Hy voel elke pyn ook in sy hart. En die Here verseker jou: “Dit sal in seëninge uitloop. Dit sal ‘n impak maak op diegene in jou familie.”

Abraham was reeds in heerlikheid toe hierdie beloftes deur die Here vervul is. Maar sy familie, die nasie van Israel, en uiteindelik die hele mensdom, sou voordeel trek uit sy beproefde geloof. Net so, mag jy dalk nie meer daar wees wanneer God jou kinders en geestelike kinders seën nie. Maar die Here maak dit duidelik aan elke dienaar wat volhard met geloof in Hom: “Dit sal alles in seën uitloop.”

2. Beskou die steeds toenemende eise op Dawid se geloof.

Dawid was bekend as ‘n man wat God ten volle vertrou het. Hy het die tema van sy eie lewe beskryf toe hy geskryf het, “Die Here is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang” (Psalm 28:7).

Hierdie woorde was nie net vir Dawid nie. In die Skrif is gebeurtenis op gebeurtenis in Dawid se lewe opgeteken waarin hy groot geloof in onmoontlike situasies getoon het. Deur geloof, het Dawid ‘n leeu en ‘n beer met sy kaal hande doodgemaak. Deur sy geloof in God se plaas, het Dawid die Filistynse reus Góliat verslaan. Deur geloof het hy van Saul se pogings om hom te vermoor, ontsnap. En deur geloof het hy groot oorwinnings oor al sy vyande behaal. Later was Dawid deur geloof en berou, herstel tot die troon nadat sy seun Absalom hom probeer doodmaak het. Eenvoudig gestel, Dawid het heelhartig geleef in geloof in die lewende God.

Deur al hierdie dinge heen, het Dawid in die Here geroem: “o, Here, hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!” (Psalm 31:20). Dit is geen wonder dat die Skrif Dawid ‘n man na God se hart noem nie.

Ons weet egter uit die Skrif dat hierdie geseënde man erg versoek is. Dawid was oorweldig deur owerspel. Hy het dae, weke en maande in hartroerende pyn oor sy ander beproewings gespandeer. Daar was episodes in Dawid se lewe waartydens hy so gemartel en verdruk was, dat hy gesmeek het om te sterf. Inderdaad, Dawid het ernstige aanvalle van depressie beleef. Hy het so oorweldig geword dat geen raadgewer hom kon troos nie. Hy praat daarvan dat hy baie nagte homself aan die slaap gehuil het van intense eensaamheid en van hoe laag sy gees gesink het.

Tog het Dawid deur al daardie jare van heftige toetse en verdrukkinge, nooit sy geloof verloor nie. Min mense in die Skrif was so erg getoets en beproef soos Dawid. En hy het daardeur gekom met ‘n steeds toenemende geloof.

Ons het gesien hoeveel toetse en beproewings deur beide Abraham en Dawid, albei manne van geloof, verduur is. My vraag is as volg:

Is daar ‘n stadium in ons wandel met God waarin ons soveel vertroue het, so getrou bewys is deur jare van beproewing, dat ons ‘n ruskans kan kry van geestelike oorlogvoering? Is daar ooit ‘n vakansie van moeilikheid, ‘n tyd waarin ons vry van beproewings kan ontspan? Verdien ‘n leeftyd van voldoening aan geloof se eise vir ons ‘n verlof van die stryd? Is dit moontlik om niks meer oor te hê om te bewys nie, om ‘n punt in geloof te bereik waarin ‘n toets nie langer nodig is nie?

Die antwoord, volgens die Skrif, is nee. In werklikheid, die teenoorgestelde is waar: die beproewings van die getroues word toenemend erger en moeiliker. Die Bybel verkondig dit weer en weer, van die Ou Testament tot die Nuwe.

Weereens beskou ek Dawid se voorbeeld. In 1 Kronieke 21, vind ons Dawid as ‘n bejaarde heilige. Op hierdie stadium sê die Skrif dat hy baie geliefd was deur God, hy was deur engele bewonder en hy was ‘n beproefde man van groot geloof. Terwyl ek hierdie toneel beskou, praat my menslike verstand met my:

“O, Here, Dawid was lank genoeg in die vure van verdrukking. Keer op keer het hy baklei totdat hy neergeslaan het. Sy lewe is ‘n bevestigde getuienis van U getrouheid. Laat hom die tyd met sy kleinkinders geniet. U ken reeds sy hart. Waarom kan U hom nie in vrede laat aftree nie? Laat daar geen oorloë meer vir so ‘n getroue man wees nie.”

Was dit God se plan vir sy geliefde dienaar? Geensins. In plaas daarvan, lees ons. “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel” (1 Kronieke 21:1).

In ‘n daad van hoogmoed, het Dawid ‘n sensus gehou om uit te vind hoe digbevolk Israel geword het. Vir ‘n man wat sy hele lewe deur geloof in die Here gewandel het, was dit ‘n daad suiwer uit die vlees. En God was verontwaardig daaroor. Dawid het toe ‘n verskriklike beproewing beleef, miskien die ergste verdrukking van sy lewe.

‘n Pes het deur Israel getrek en 70,000 mans se lewens gekos. Toe Dawid besef het dat dit as gevolg van sy sonde gebeur het, het hy homself in sak en as geklee en op sy aangesig geval in hartverskeurende berou. Hy het sonder ophou gebid en homself net op God se genade beroep en die Here het die pes laat ophou.

Weer moet ek wonder: Waarom het God toegelaat dat Satan soveel toegang tot hierdie beproefde, biddende man gehad het? Waarom die geloof toets van ‘n bejaarde heilige, wat reeds so naby aan die dood was? Ek verbeel my dat die bejaarde Dawid skaars in staat was om in berou te kniel. Waarom was so ‘n ondenkbare eis op sy geloof geplaas? Wat was dit in Dawid waarna God moontlik op soek was?

Ek is oortuig dat dieselfde vraag in die gedagtes van baie goddelike heiliges opkom oor hulle eie getroue lewens: “Here, U ken my hart. Ek het U vertrou deur jare van ondraaglike beproewings en toetse. U en ek weet beide dat ek sal vertrou, maak nie saak wat ek in die lewe moet verduur nie. So, waarna soek U? Waaroor gaan hierdie aaklige beproewing?”

Ek het twee reaksies op hierdie vraag, beide kom van wat ek in die Skrif sien.

1. Die eerste rede vir sulke voortdurende beproewings is goed bekend aan die meeste Christene. Dit is, dat die lewe van geloof voortdurend die mensdom se behoefte vir die Here in alle dinge demonstreer. Eenvoudig gestel, ons bereik nooit ‘n punt waar ons nie vir God nodig het nie. Die idee van ‘n “verlof van beproewing” veronderstel ‘n “verlof van behoefte.” En daar sal nooit ‘n tyd wees waar ons behoeftes deur ons omstandighede aangespreek word nie. Die Here is ons bron, ons alles in alles.

Die Bybel wys ons telkens dat wanneer Israel se behoeftes aangespreek was, het die mense opgehou om op God te vertrou. Hulle het behep daarmee geword met voorsiening, toe God reeds belowe het om in al hulle behoeftes te voorsien. Soos Jesus vir ons vertel, is ons doel nie om daarna te streef dat al ons behoeftes aangespreek word en aangespreek is nie, maar om te voed op elke woord wat uit die mond van God kom (sien Matthéüs 4:4).

2. Ek is daarvan oortuig dat ‘n addisionele rede agter ons steeds toenemende verdrukkinge — ons beproewings wat altyd groter geloof vereis — verder strek as enigiets wat met hierdie wêreld te doen het. Van wat ek in die Skrif lees, word God se uitverkorenes voorberei vir bedieninge in heerlikheid. En ons beproewings vandag is bedoel om oorwinnings te bring wat te doen het met die Here se doeleindes in die ewigheid.

Dit word duidelik in die lewe van die apostel Paulus gedemonstreer. In hom vind ons ons Nuwe Testament voorbeeld van die steeds toenemende eise van geloof.

3. Beskou die steeds toenemende eise wat op Paulus se geloof gemaak is.

Ons het almal al gelees van die gevare wat Paulus beleef het. In 2 Korinthiërs 11:24-28 het hy al die beproewings wat hy moes deurmaak, beide van “buite” en van “binne,” gelys:

“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely. Ek het ‘n nag en ‘n dag  op die diepwater deurgebring en ek was dikwels op reis.

“Ek was in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare van valse broeders. Ek het gearbei en geswoeg en het dikwels slapelose nagte deurgemaak. Ek het honger en dors geken en was dikwels sonder kos. Ek het koud gekry en was naak.

“Behalwe dit alles, beleef ek daagliks die druk van my sorg vir al die gemeentes” (my parafrase).

Paulus verklaar dat nie een van die uiterlike verdrukkinge hom geraak het nie en sy lewe het dit bewys. Inderdaad, elke keer wat hy op die punt was om nog ‘n stad binne te gaan, het die Heilige Gees hom herinner aan die boeie en verdrukkinge wat op hom gewag het. Paulus sê kortliks, “My blote teenwoordigheid bring dinge in beroering waar ek ookal gaan. Ek beleef intense fisieke lyding in elke stad. ‘n Boodskapper van Satan is aangestel om my te teister.” Tog kon hy dit alles verduur, want hy het gesê “ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie” (Handelinge 20:24).

Paulus se diepste, heftigste beproewings het te doen gehad met die probleme en laste van ander. Hy was na trane gedryf oor diegene in die kerk wat groot ellende beleef het. Hy het in soveel woorde gesê, “Die slae en skipbreuk het geen invloed op my nie, omdat ek nie my lewe enigiets waardig ag nie. Dit is eerder die dinge van binne — die geestelike stryd, die emosionele pyn oor my geliefdes — wat my die meeste angs gee.”

Ek kan met Paulus in Handelinge 20 identifiseer. Hier vind ons die apostel in Éfese, wat totsiens sê aan die heiliges in daardie stad. Teen hierdie tyd, was Paulus naby die laaste paar rondtes van sy resies. Hy het die goeie stryd gestry en die geloof behou en nou was hy op pad na Jerusalem. Daarom het hy die gelowiges in Éfese gegroet en hulle vertel, “Julle sal my nie weer sien nie.”

Paulus het toe oor hierdie gelowiges ‘n diep pynlike boodskap met trane en angs geprofeteer: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissiples weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29–30).

Watter ondraaglike waarheid was dit nie vir Paulus om te beleef aan die einde van sy dae nie. Hoe hartsverskeurd moes hierdie man nie gewees het nie. Ek kan my nie indink hoe moeilik daardie afskeid vir so ‘n liefdevolle herder, wat sy alles vir daardie gelowiges gegee het, moes gewees het nie.

Terwyl ons Paulus sien wegseil, wil my vlees sê, “Here, hy het genoeg stryd gehad! Laat hom na Jerusalem gaan en ‘n rustige tyd sonder laste geniet. Laat hom die liefde en gemeenskap van die gelowiges daar geniet. Laat sy laaste dae vol vrede en kalmte wees, sonder pyn of verdrukking.”

Tog, binne ‘n week nadat hy in Jerusalem aangekom het, is Paulus uit die tempel uitgesleep terwyl die hele stad in opstand was. Weereens was die apostel in kettings geboei. Na al die beproewing en lyding wat hy verduur het, het daar ‘n steeds toenemende eise op Paulus se geloof gekom. Dit beteken nog ‘n gevangenskap, nog ‘n hofverskyning, nog ‘n beproewing.

Omdat Paulus homself op die Keiser beroep het, was hy nou op pad na Rome; Maar voor dit ooit kon gebeur, moes Paulus nog meer lyding verduur. Die skip waarop hy gevaar het, het skipbreuk gely in ‘n magtige storm en almal wat aan boord was, moes na die strand toe swem. Toe hulle uiteindelik op die land gekom het, was Paulus deur ‘n giftige slang gepik en dit het veroorsaak dat die bemanning teen hom gedraai het, omdat hulle gedink het dat hy vervloek was. Dit was asof Satan gesê het, “Apostel, jy is nou-nou dood.” Maar Paulus het die slang afgeskud, met geen gevolge van die dodelike gif nie.

Die groep het weer weggeseil en Paulus het uiteindelik in Rome aangekom. Uiteindelik, dink ons, “Hier is ‘n ruskans, ‘n verlof vir Paulus.” In plaas daarvan, het hy die volgende twee jaar onder huisarres deurgebring, vasgeketting aan ‘n Romeinse soldaat in ‘n klein, goedkoop, gehuurde huisie. Dit was in daardie nederige omstandighede waarin Paulus as ‘n martelaar gesterf het.

Steeds toenemende verdrukkinge wat meer standvastige geloof vereis, word ‘n struikelblok vir baie gelowiges.

Paulus was beskuldig deur mede Christene dat hy deur God getugtig was. Hulle het gesê dat sy lyding die resultaat was van gebrek aan geloof, of weens een of ander boesemsonde wat hy weggesteek het. Verder, het die boodskapper van Satan, wat aangestel was om Paulus te teister, nooit opgehou nie, maar hom tot op sy sterwensuur gefolter.

Soos ons Paulus sy laaste dae sien deurbring in daardie klein tronkhuisie — terwyl hy uitgereik het met die goeie nuus van Jesus na die Jode, wat hom een vir een besoek het — vind ons dit onmoontlik om te verklaar waarom hierdie geliefde dienaar so ‘n uiterste beproewing moes verduur na al die jare van lyding. Menslik gesproke kan ons dit nie verstaan nie.

Persoonlik dink ek ons kan eenvoudig nie verduidelik waarom soveel regverdige mense onoorkomlike lyding moet beleef nie. Ons sal nooit in staat wees om al die redes op te noem waarom swaarkry toeneem vir hulle wat God innig liefhet nie. Ons mag dink, “Dit is alles bedoel om ons geduld te leer.” Of, “Dit leer God se mense om Hom meer te vertrou.” Dikwels wanneer ons egter hierdie dinge sê, is dit niks meer as clichés nie. Natuurlik is dit betekenisloos vir diegene wat kritieke krisisse beleef.

Ek wil ‘n spesiale woord bied aan diegene wat deur riviervloede en vurige oonde van verdrukkinge gekom het en wat steeds toenemende beproewings beleef. Ek glo dit is moontlik dat jou tyd van beproewing niks te doen het met tugtiging nie. Eerder, dit gaan oor die volgende:

Iets ewigs — iets wat te doen het met jou lewe in die nuwe wêreld wat kom — is die rede vir jou beproewing. Die stryd wat jy nou verduur gaan nie oor hierdie wêreld nie, nie oor die vlees nie, nie oor die duiwel nie. Dit stryd wat jy beleef gaan eerder daaroor om jou vir jou ewige diens in heerlikheid voor te berei. Jy word voorberei vir diens aan die ander kant.

Dink daaraan: Die presiese dag wat jy jou lewe aan God toegewy het om Hom te vertrou, maak nie saak wat die koste is nie, het Hy geweet dat jou huidige beproewing sou kom. Hy het toe geweet — en jy weet dit nou — dat jy Hom sal liefhê deur alles wat teen jou kom. Deur genade is jy vasbeslote om ‘n oorwinnaar te wees.

Ek is oortuig daarvan dat alles wat jy nou beleef op die Nuwe Jerusalem dui. Die apostel Johannes skryf oor die tye wat kom: “En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien” (Openbaring 22:3). “En nag sal daar nie wees nie...en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid” (Openbaring 22:5). “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

Al hierdie dinge praat van aktiwiteit. Dit stel voordat God besig is om ons voor te berei vir wat Hy aan ons in die nuwe wêreld wil toevertrou. Eenvoudig gestel, Hy het planne ver ons bokant ons begrip. Paulus praat hiervan wanneer hy sê dat ons God voortdurend met alle blydskap sal dien: “En saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus: sodat Hy in die eeue wat kom kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus” (Efésiërs 2:6-7, kursief myne).

Dink daaraan: ons sal getuienisse hoor van die Here se genadige goedheid vir eeue wat kom. En daar sal groot, kragtige sang wees. Stel jou voor die lofprysingsbyeenkoms wat sal plaasvind wanneer al die engele sing oor sondaars wat nou gered word. As daardie hemelse wesens juig oor een sondaar, soos Jesus sê, hoe sal dit klink wanneer miljoene van die verlostes van alle tye inmarsjeer?

In ‘n onlangse tyd van groot beproewing, het ek die Here gevra: “As daar lesse is wat ek nodig het om te leer uit hierdie huidige beproewing, leer my asseblief.”

Die Gees het duidelik tot my hart gespreek: “Jou huidige beproewing het niks met tugtiging te doen nie. Dit het geheel en al niks met hierdie wêreld te doen nie. Ek berei jou voor vir jou diens en bediening in my koninkryk.”

Geliefde, ek glo ons word van alles wat van hierdie wêreld is, gespeen. Die pyn wat ons huidiglik ervaar is verskriklike geboortepyne. God het toegelaat dat ons so van menslike krag verswak word, dat ons moet ophou streef en Hom toelaat om ons die res van die pad te neem.

Daar is ‘n ou evangelie lied: “By and by / When the morning comes / When all the saints of God are gathered home / We will tell the story how we’ve overcome / And we’ll understand it better / By and by.”

Ek het getuig van God se goedheid deur my leeftyd. En in die nuwe wêreld wat kom, gaan ek ook my storie oral oor in die hemel vertel: van hoe werklik, naby en genadig Jesus teenoor my was in my slegste tye. Eer aan die Here!