Die Seëninge om In Christus te Wees

David Wilkerson

Paulus sê, “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efésiërs 1:3). Paulus vertel vir ons in wese, “Almal wat Jesus volg, is geseënd met geestelike seëninge in die hemelse plekke, waar Christus is.” Wat ‘n ontsaglike belofte aan God se mense.

Hierdie belofte word egter bloot woorde as ons nie weet wat hierdie geestelike seëninge is nie. Hoe kan ons die seëninge van God geniet as ons dit nie verstaan nie?

Paulus het hierdie sendbrief geskryf “aan die gelowiges in Christus Jesus” (Efésiërs 1:1). Hulle was gelowiges wat seker was van hulle verlossing. Die Efésiërs was goed opgelei in die evangelie van Jesus Christus en in die hoop van die ewige lewe. Hulle het geweet wie hulle in Christus was en was verseker van hulle hemelse posisie in Hom. Inderdaad, hulle was goed gegrond in die waarheid dat hulle “saam laat sit [is] in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:6).

Hierdie “getroues” het ten volle verstaan dat “Hy (God) Hom (Jesus) uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemel” (Efésiërs 1:20). Hulle het geweet dat hulle deur God uitverkies was “voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Efésiërs 1:4). Hulle het besef dat hulle aangeneem was “as sy kinders vir Homself...deur Jesus Christus” (Efésiërs 1:5). God het hulle in sy familie ingebring, want toe hulle die woord van die waarheid gehoor het, het hulle dit geglo en vertrou.

Die Efésiese gelowiges was waarlik geseënde mense. Hulle het in hulle verlossing deur Jesus se bloed gejuig, omdat hulle die magtige geestelike seën van vergifnis van hulle sondes geken het. Inderdaad, hulle was so bekend met die rykdom van God se genade, dat die meeste in staat was om ander daarin te onderrig. As hulle mense ontmoet het wat na God gehonger het, kon hulle hul die heerlikheid van die Kruis wys. Hulle kon vertel van God se barmhartigheid en liefde, van sy heiligheid, van om vlekkeloos voor Hom te wandel. Hulle kon spreek van die Opstanding, van God se goedheid, van hemel en hel, en van die gevolge daarvan om in sonde te lewe.

Ek vertrou dat die meeste wat hierdie boodskap lees soos daardie Efésiërs is: getroue, goed geleerde gelowiges. Jy ken die verlossende krag van die evangelie van Christus. Jy ken die lering van die wedergeboorte. Jy is goed geskool in die kennis van genade en aanvaar die oorwinning wat deur geloof alleen kom en nie deur werke nie.

As dit jou beskryf, het ek iets meer om te sê. Dit is dat baie Christene nooit in daardie blydskap, wat God aan hulle beloof het, ingegaan het nie. Laat my verduidelik.

Baie vergewe, gereinigde, verloste mense leef in ongelukkigheid. Hulle het nog nooit die gevoel van vervulling in Christus gehad nie. In plaas daarvan, gaan hulle heeltyd van pieke na valleie, van geestelike hoogtepunte na depressiewe laagtepunte. Hulle word altyd gekwel deur ‘n gevoel van, “Iets kort. Ek verstaan dit net nie.”

As ek terugkyk na my lewe, is ek verstom oor al die toegewyde Christene wat ek geken het wat nooit seker was van hulle verlossing nie. Dit was veral waar van baie Pinkster mense, goddelike mans en vroue wat die Here vir so lank as vyftig jaar gedien het. Hulle het al die waarhede en leerstellinge van die geloof geken en hulle het getrou bedien. Maar hulle het nooit ingegaan in daardie bonatuurlike blydskap wat vir hulle in Christus beskikbaar is nie.

In der waarheid, dit is moontlik om al hierdie dinge te weet — Jesus se offer vir ons, die reiniging van sy bloed, regverdigmaking en vryspraak deur geloof — en tog nooit in daardie volheid van God se seëning in te gaan nie. Hoe kan dit moontlik wees, vra jy? Dit is omdat baie Christene nooit verder gaan as die gekruisigde Verlosser na ‘n opgestane Here wat in heerlikheid woon nie.

In Johannes 14, vertel Jesus dat dit nou vir ons tyd is om ons hemelse posisie in Hom te ken. Hy verduidelik dit aan die dissipels, “Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe” (Johannes 14:19–20). Ons leef nou in “daardie dag” waarvan Jesus van praat. Kortliks, ons moet ons hemelse posisie in Christus verstaan.

Natuurlik ken die meeste van ons ons posisie in Christus — dat ons met Hom in hemelse plekke sit — maar net as ‘n teologiese feit. Ons ken dit nie as ‘n belewenis nie. Wat bedoel ek met hierdie uitdrukking, “ons posisie in Christus”? In eenvoudige woorde, posisie is “waar iemand geplaas is, waar iemand is.” God het ons geplaas waar ons is en dit is in Christus.

Op sy beurt, is Christus in die Vader en sit aan sy regterhand. Daarom, as ons in Christus is, dan sit ons werklik saam met Jesus in die troonkamer, waar Hy is. Dit beteken ons sit in die teenwoordigheid van die Almagtige. Dit is waarna Paulus na verwys wanneer Hy sê ons is gemaak om “saam [te] laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:6).

Jy mag sê, “Maar ek voel nooit dat ek in ‘n hemelse plek is nie. Ek voel altyd of ek in ‘n wildernis is en verdrukking en beproewing ly.  As dit is om in die hemele in Christus te wees, dan verstaan ek dit nie.” Ek verseker jou, jou tydperk van beproewings is algemeen vir alle gelowiges. Nee, die frase, “in Christus in die hemele” (Efésiërs 1:3) is nie iets wat jy kan bereik nie. Dit is wat God van jou sê. As jy in Christus is, dan sit jy volgens die Vader, naby Hom, aan sy regterhand.

Die werklikheid is, die oomblik wanneer jy jou vertroue in Jesus stel, dan word jy in Christus geplaas deur geloof. God erken jou in sy Seun, en plaas jou met Hom in die hemele. Dit is nie een of ander teologiese punt nie, maar ‘n waarheid en ‘n feitelike posisie. So, as jy nou jou wil aan die Here s’n onderwerp, dan is jy in staat om al die geestelike seëninge wat met jou posisie gepaard gaan, op te eis.

Natuurlik beteken “in Christus” nie dat jy hierdie aarde verlaat nie. Jy kan nie een of ander emosie of gevoel fabriseer om jou na ‘n letterlike hemel op te neem nie. Nee, die hemel moet afkom na jou toe. Christus die Seun en God die Vader het in jou hart ingekom en hulle woning daar gemaak: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

Ja, Jesus is in die paradys, die Man in heerlikheid. En ja, sy Gees beweeg oor die hele aarde. Maar die Here woon ook spesifiek in jou en my. Hy het ons sy tempel op aarde gemaak, sy woonplek. Beskou Jesus se kragtige stellings hieroor:

“En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Johannes 14:21). “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees … En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees” (Johannes 17:21–23, kursief myne).

Neem nog ‘n kykie na die vers in kursiewe skrif. Jesus sê in wese, “Die heerlikheid wat U My gegee het, Vader, het Ek aan hulle gegee.” Christus maak ‘n ontsaglike stelling hier. Hy sê dat ons dieselfde heerlikheid gegee is as wat die Vader Hom gegee het. Wat ‘n verstommende gedagte. Wat is egter hierdie heerlikheid wat aan Christus gegee is en wat Hy op sy beurt weer aan ons gegee het? En hoe openbaar ons lewens daardie heerlikheid.

Die heerlikheid wat Christus vir ons gegee het, is nie een of ander aura of emosie nie. Nee, die heerlikheid wat ons ontvang het, is eenvoudig onverhinderde toegang tot die hemelse Vader.

Jesus het dit vir ons maklik gemaak om toegang tot die Vader te verkry, deur die deur vir ons oop te maak by die Kruis: “Want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader” (Efésiërs 2:18). Die woord “toegang” beteken die reg om in te gaan. Dit dui op vrye toegang, sowel as met gemak naderkom: “In wie ons die vrymoedigheid eh die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efésiërs 3:12).

Sien jy wat Paulus hier sê? Deur geloof het ons by ‘n plek van onverhinderde toegang tot God gekom. Ons is nie soos Ester in die Ou Testament nie. Sy moes senuagtig wag vir ‘n teken van die koning om te kan inkom voor sy die troon kon nader. Slegs nadat hy sy septer uitgesteek het, was Ester goedgekeur om vorentoe te kom.

In teenstelling daarmee is ek en jy reeds in die troonkamer. En ons het die reg en voorreg om te enige tyd met die Koning te kan praat. Inderdaad, ons word uitgenooi om enige versoek aan Hom te stel: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Toe Christus op die aarde bedien het, het Hy volle toegang tot die Vader geniet. Hy het gesê, “Ek kan niks uit Myself doen nie. Ek doen net wat die Vader My sê en wys om te doen” (sien Johannes 5:19, 30; 8:28).

Verder, Jesus het nie nodig gehad om eenkant toe te gaan en te gaan bid om die Vader se wil te vind nie. Natuurlik het Hy dikwels en intens gebid, maar dit het gegaan oor gemeenskap met die Vader. Dit was ‘n ander saak met alledaagse aktiwiteite, waar Hy die skares geleer het, genees het of duiwels uitgedryf het. Jesus het te alle tye geweet dat Hy in die Vader was en die Vader in Hom. Hy het nie “opgegaan” na die Vader om dit te doen nie. Die Vader het reeds in Hom gewoon en Homself bekend gemaak. En Jesus het altyd ‘n woord agter Hom gehoor sê, “Dit is die weg... dit moet Jy doen....”

Vandag, word ons dieselfde hoeveelheid toegang tot die Vader gegee as wat Christus gehad het. Jy mag dink, “Wag ‘n bietjie, dit gaan my verstand te bowe. Ek het dieselfde toegang tot die Vader wat Jesus, die Skepper en Here van die heelal gehad het?”

Moenie ‘n fout maak nie: nes Jesus, moet ons dikwels en vurig bid. Ons moet soekers van God wees en op die Here wag. Maar in ons daaglikse wandel — ons kom en gaan, ons verhoudings, ons gesinslewe, ons bediening — hoef ons nie eenkant toe te gaan om God te smeek vir ‘n woord van krag of leiding nie. Ons het sy eie Gees wat in ons lewe. En die Heilige Gees openbaar aan ons die gedagtes en die wil van die Vader. Sy stem is altyd agter ons en ons hoor Hom sê, “Dit is die weg, wandel daarin.”

Die Heilige Gees het Paulus gebruik om hierdie verborgenheid te openbaar en dit is, “Christus in jou, die hoop van die heerlikheid.” Natuurlik het die kerk geleer van reddende genade. Hulle het geweet dat verlossing deur geloof was en nie deur werke nie. Hulle het Jesus immers gedien voor Paulus gekom het. Hulle het geweet van bekering en het die Vader se barmhartigheid beleef.

Maar toe het Paulus opgedaag en verklaar, “Bekering en goeie werke is nie genoeg nie. Dit is nie genoeg dat julle na Christus kom en glo nie, of dat julle groot geestelike kennis het nie. Julle het iets meer nodig as om net eenvoudig in Christus te glo. Nou moet julle in die seëning en volheid in Hom wandel.” “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom” (Kolossense 2:6).

Waarvan het Paulus gepraat? Wat het Hy bedoel met “wandel in Christus?” Het hierdie gelowiges dit nie al vir jare gedoen nie? Eenvoudig gestel, Paulus het van die seëninge van om in Christus te wees, gepraat. En hy het die kerk baie duidelik vertel dat hulle nie die volle openbaring van daardie seëninge geken het nie. Hy het ‘n ander gesindheid beskryf, wat sê:

“Ek wil nie ‘n blote kopkennis van my redding hê nie. Ek wil dit ten volle beleef. Ek wil weet wat dit beteken om in die volheid van Christus se verlossing te wandel. Ek wil nie net van die hemel weet nie. Ek wil elke hemelse seëning, wat God vir my beskikbaar gemaak het, vandag hê. Hy het ‘alle geestelike seëninge’ belowe en Hy het gesterf om my naby aan Hom te bring, waar ek daardie seëninge kan geniet. Ek wil hê dat my lewe dit weerspieël. Ek wil nou elke geestelike waarheid uit die hemel deel maak van van my daaglikse wandel. Hierdie seëninge mag nie langer net teologiese konsepte wees nie. Dit moet ‘n werklikheid word.”

Geliefde, dit is nie ‘n ingewikkelde kwessie nie. Vra jouself eenvoudig af: het jy Jesus nie net as jou Verlosser ontvang nie, maar as die Here op die troon in die hemel? En het jy aanvaar dat die Here op die troon, in jou lewe? As dit so is, watter gevolge sien jy in jou lewe? Wat is die verskil in jou lewe wanneer jy in die oggende opstaan en weet dat Christus jou nie net van jou sonde verlos het nie, maar ook in jou leef? Wat is die effek daarvan op jou lewe om te weet, dat Hy sy lewe gegee het om die mure van skeiding af te breek, sodat Hy naby jou kan wees om jou te kan liefhê en gemeenskap met jou hou?

Aan ons is die hemel in ons siele gegee op hierdie aarde. Ja, daardie voorsmaak van hemel is bedoel om ‘n voorsmaak te wees van die heerlikheid wat vir ons wag. Maar dit is ook aan ons gegee as ‘n deel van ons erfenis om huidiglik te gebruik. Ons Verlosser Jesus Christus het na ons gekom om ons meer as verlossing te gee. Hy het gekom sodat ons die volheid van die lewe kan hê elke dag.

Dit beteken nie dat ons nie langer pyn of lyding sal beleef nie. Elke Christen sal steeds versoekings en swaarkry beleef. Maar te midde van ons beproewings, is ons in staat om oorvloedig in danksegging te wees, weens sy ewigdurende goedheid aan ons. Paulus vertel vir ons dat dit die presiese rede is waarom God ons laat sit het saam met Christus: “Sodat Hy...kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in die goedertierenheid oor ons in Christus Jesus” (Efésiërs 2:7).

Hier is die effek wat ons in ons daaglikse lewens moet sien: God het sy liefdevolle, hartlike goedheid aan ons getoon. Daarom kan ons wakker word, “Halleluja! God, Christus en die Heilige Gees wil naby my wees.”

Wat is hierdie seëning? Dit is die voorreg van aanvaarding: “ Waarmee Hy ons begenadig [aanvaar] het in die Geliefde [Christus]” (Efésiërs 1:6). Die Griekse woord vir “begenadig” hier, beteken hoogs bevoordeel. Dit verskil van die Engelse gebruik van “aanvaar,” wat geïnterpreteer kan word as “ontvang as genoegsaam.” Dit beteken iets wat kan verduur word, wat ‘n gesinheid van, “Ek kan daarmee saamleef” suggereer. Dit is nie die geval met Paulus se Griekse gebruik nie. Sy gebruik van “begenadig” vertaal as, “God het ons hoogs bevoordeel. Ons is baie spesiaal vir Hom, omdat ons op ons plek in Christus is.”

Jy sien, omdat God Christus se offer aanvaar het, sien Hy nou net een, korporatiewe man: Christus en diegene wat in geloof aan Hom verbind is. Kortliks, in God se oë,  het ons vlees gesterf. Hoe? Jesus het met ons ou natuur aan die Kruis weggedoen. Daarom, wanneer God nou na ons kyk, sien Hy slegs Christus. Op ons beurt, moet ons leer om onsself te sien soos God ons sien. Dit beteken om nie net op ons sondes en swakhede te fokus nie, maar op die oorwinning wat Christus vir ons aan die Kruis behaal het.

Die gelykenis van die Verlore Seun voorsien ‘n kragtige illustrasie van die aanvaarding en begenadiging wat kom wanneer ons ‘n hemelse posisie in Christus gegee word. Jy ken die storie: ‘n jong man het sy erfdeel van sy vader geneem, en dit vermors op ‘n sondige lewe. Toe die seun heeltemal bankrot was — moreel, emosioneel en fisies — het hy aan sy vader gedink. Hy was oortuig dat hy alle guns by Hom verloor het. En hy het gevrees dat sy vader vol toorn en haat teenoor hom was.

Eens was hierdie jongman ‘n geëerde lid van die huishouding en in harmonie met sy vader. Hy het die seëninge, orde en voordele van sy vader se huis gesmaak. Trouens, die verlore seun verteenwoordig die teruggevalles, diegene wat God klaaglik gefaal het.

Die verlore seun het amper gesterf van honger voordat hy daaraan gedink het om terug te gaan huistoe. Toe hy egter uiteindelik moeg geword vir sy sondige lewe, het hy besluit om terug te gaan na sy vader. Dit verteenwoordig die pad van berou en bekering.

Toe hy die huis verlaat het, het sy vader hom waarskynlik verseker dat hy kon terugkeer. Enige liefdevolle ouer sou dit gedoen het: “My deur is altyd oop vir jou. En ek wil hê dat jy dit onthou wanneer jy nou vertrek. Weet dat my hart met jou gaan. Wanneer jy aan die einde van jouself kom, kom asseblief terug. Jy sal altyd hier welkom geheet word.” Hier was onverhinderde toegang, ‘n vader wat altyd beskikbaar is.  Daarom het die verlore seun vir homself gesê, “Ek sal opstaan en na my vader gaan” (Lukas 15:18). Hy het sy seëning van toegang uitgeoefen.

Hierdie gebroke man was vol van berou en droefheid oor sy sonde. Die Skrif sê hy het uitgeroep, “Ek is nie waardig nie, ek het teen die hemel gesondig.” Dit verteenwoordig diegene wat tot bekering kom deur goddelike berou.

Kry jy die idee? Die verlore seun het hom van sy sonde bekeer, hy het die wêreld verlaat en hy het die geopende deur, wat sy vader vir hom belowe het, binne gegaan. Hy het in berou en bekering gewandel en sy toegang toegeëien. Maar hy was nog nie in aanvaarding nie.

Wat ‘n tragiese plek om in te wees. Hier was ‘n gelowige wat reg gewandel het en waarlik berou gehad het oor sy vorige sondes. Hy was moeg om sy skuld, skande en veroordeling te dra. Tog het hy nie geweet of hy deur sy vader aanvaar sou word nie. Hy het gedink, “My pa moet kwaad wees. Hy sal my seker haat omdat ek alles wat hy vir my gegee het vermors het. Hy gaan vol toorn en oordeel wees wanneer ek by hom kom.”

Die verlore seun moes moeg geword het soos wat hy aan al die maniere gedink het waarop hy op sy eie kon verander. Hy was tot die dood toe moeg om te dink hoe om te verbeter en om homself daarvan te weerhou om te val. Hy het reeds ‘n lang lys van leë beloftes aan homself gemaak, net om weer en weer te val.

Dit is jammer, maar ek glo dit is die toestand van menigtes van gelowiges vandag. In werklikheid, Jesus het deels hierdie gelykenis gegee om ons oë oop te maak vir ons posisie in Hom. En Hy beklemtoon, “As julle die Vader gesien het, het julle My gesien. Ek en die Vader is een.”

Soos die verlore seun nader aan die huis gekom het, is ek seker dat hy boodskappers teëgekom wat hom vertel het, “Jou vader treur oor jou. Hy noem jou sy ‘verlore skaap.’ Hy het keer op keer uitgegaan om jou te soek.” Maar die jongman het waarskynlik geantwoord, “Ek weet my vader is ‘n liefdevolle man. Maar ek het so vreeslik gesondig. As jy maar net geweet het wat ek gedoen het.”

Hy het geen vrede gehad nie, omdat hy nie sy posisie geken het nie. Hoe jammer is dit om die blydskap van die hemel kort te kom, die vrede wat alles verstand te bowe gaan, omdat jy nie weet of jy aanvaar is nie. Soos die verlore seun, is menigtes van gelowiges, wat gefaal het, daarvan oortuig, “Ek is nie waardig nie. God kan my nie aanvaar nie.”

So, wat het met die verlore seun gebeur? “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Lukas 15:20). Wat ‘n pragtige toneel. Die sondige seun was vergewe, omhels en geliefd deur sy vader, met geen toorn of veroordeling hoegenaamd nie. Toe hy sy vader se soen ontvang het, het hy geweet hy was aanvaar.

Dit is waar baie Christene dink die storie eindig: “Die verlore seun was weer aanvaar deur sy vader. Is dit nie wat die meeste tel nie?” Ons sien ons eie verhouding met die Vader op dieselfde manier. Ons het sy liefdevolle soen beleef, sy barmhartigheid en vergifnis. Maar dit is hoe ver ons die verhouding geneem het. Ons het opgehou met ons kennis van God se liefde vir ons.

Die feit bly staan, ons is steeds nie terug binne ons Vader se huis nie. Ons het nie ons sitplek by sy feestafel ingeneem nie. Volgens Jesus se gelykenis, is daar baie, baie meer. Ons Vader sal nooit tevrede met ons wees, totdat ons al die seëninge, wat kom wanneer ons deur Hom aanvaar is, geniet nie. Hy wil ons laat sit in sy huis, ons te alle naby Hom hou om die feesvieringe en blydskap van sy huishouding te geniet.

Inderdaad, dit is die vader wat sê, “Laat ons eet en vrolik wees” (Lukas 15:23). Die Griekse woord vir “vrolik” beteken hier, “om in ‘n vreugdevolle, juigende gemoed te plaas.” Beskou die vreugdevolle toneel wat plaasvind: “Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees....En hulle het begin vrolik word...[met] musiek en beurtsang” (Lukas 15:22–25).

Let op wat pas in hierdie toneel gebeur het. Die verlore seun was nie gevra om homself af te stof en te gaan was voor hy na die fees toe kom nie. Nee, sy vader het hom voorberei om binne te gaan. En Hy het nie net die ou klere gewas nie. Hy het hom ‘n hele nuwe stel klere, wat dui op ‘n nuwe lewe, gegee. Die seun mag beswaar gemaak het, “Maar pa, ek is nie waardig nie.” Die vader sou egter geantwoord het, “Ek kyk nie na jou verlede nie. Ek juig omdat jy my liefde aanvaar het. Ons is versoen en ons is een. Dit is my blydskap.”

Maak jy daarop aanspraak dat jy in Christus begenadig en aanvaar is? Miskien het jy beleef wat die verlore seun beleef het: Gesoen deur die Vader, omhels deur sy liefde, aanvaar in sy huis. As dit so is, glo jy waarskynlik, “Ek sit saam met Christus in die hemele.” As dit so is, waar is jou blydskap? Waar sien jy die Vader se fees in jou lewe, die gesing, die dans, die vrolikheid van hart?

Miskien is die mees sprekende toneel in hierdie gelykenis die laaste een, toe die ouer broer van die werk af huistoe gekom het. Terwyl die fees binne die huis plaasgevind het, het hy buite gestaan en deur die venster gekyk. Tot sy verbasing, het hy sy vader van blydskap sien dans oor sy verlore broer.

Hou egter in gedagte dat hierdie ouer broer ook aanvaar was. Maar die gelykenis maak dit duidelik dat hy hartseer en ongelukkig was. Waarom? Omdat hy in al die jare by sy vader, nooit in die blydskap en genieting van sy vader se huis ingegaan het nie. Hy het nooit die seëninge wat sy vader tot sy beskikking gestel het, geniet nie. In werklikheid, aan die einde, het sy vader hom herinner aan die seëninge wat die heeltyd syne was: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune” (Lukas 15:31).

Ek vra jou: het jy die al die seëninge van jou begenadiging en aanvaarding beleef? Jesus maak dit kristalhelder dat ons die blydskap en vreugde van ons hemelse Vader is. Hy juig oor ons. Maar as ons nooit sy huis binnegaan en in ons aanvaarding rus nie, dan beroof ons Hom van daardie blydskap.

Ek dring by jou aan: laat jou sonde en wêreldse strewes agter. Lê af elke vleeslike las wat jou so maklik omring. En gaan binne en neem jou posisie in Christus in. Hy het jou geroep om in daardie blydskap van jou aanvaarding in te gaan. Dan, wanneer jy wakker word môre oggend, sal jy jouself vind waar jy uitroep, “Halleluja, ek is deur God aanvaar. My hart loop oor van dankbaarheid en blydskap.”