Die Salomo Kerk

David Wilkerson

Ek glo Salomo verteenwoordig die gees en aard van die hedendaagse, laaste-dag Laodicense kerk. En hierdie kerk – hier in Amerika en dwarsdeur die wêreld – stuur af op dieselfde ramp af as wat Salomo beleef het!

Die Skrif sê vir ons:

“En Salomo, die seun van Dawid, het hom versterk in sy koningskap; en die HERE sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak” (2 Kronieke 1:1).

Die kerk van Jesus Christus vandag is magtig versterk en geseën deur God. Voorsiening is gemaak vir ondernemings van allerhande soorte. Beskou die groot, pragtige geboue wat in die land gebou word. Een groot Pinksterkerk is onlangs gebou teen ‘n koste van $28 miljoen. Daar is ander kerkkomplekse wat $40-50 miljoen werd is.

Beskou ook die kerk se groot finansiële seëninge. Miljoene word spandeer op televangelisasie, boeke, bandopnames , sending, instellings, kolleges en parakerk bedieninge van allerhande soorte. Dink aan al die groot konvensies, die goed bygewoonde seminare, die godsdienstige prag en praal met die bywoning van megakerkdienste en programme.

Toe al hierdie werke begin het, het elkeen iets van God se salwing gehad. Die meeste het inderdaad begin met dieselfde seëninge wat God op Salomo uitgestort het. Dink daaraan: Salomo was goed georganiseerd. Hy was beter opgelei as sy vader, Dawid. En hy het alles groter en beter gedoen as wat enige vorige geslag ooit aan kon dink. Salomo se organisatoriese vaardighede was so goed – sy prag en praal so oordadig en asemrowend – dat toe die Koningin van Skeba aanskou het hoe hy die tempel bestyg het, het sy byna beswyk oor die skouspel.

Die dryfkrag agter Salomo was egter wysheid en kennis. Dit was sy hartsgeroep tot God:

“Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit- en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer?” (1 Kronieke 1:10).

Is dit nie ‘n wonderlike gebed nie? Dit klink so goed, en God was heel ingenome dat hy nie vir selfsugtige voordeel gevra het nie. Daar is egter een probleem: Dit is heeltemal mensgesentreerd! Hierdie baie talentvolle koning met baie selfvertroue het in wese gesê, “Gee my net die gereedskap, God, en ek sal die werk gedoen kry. Gee my die wysheid en kennis en ek sal alles onder hierdie mense in orde kry. Ek sal dit alles gedoen kry!”

Salomo se gebed was nie die gebed van sy vader, Dawid, ‘n man na God se hart, nie. Nee, Salomo se gebed was een van ‘n nuwe geslag – ‘n geleerde volk met nuwe idee’s en vaardighede. En sy uitroep was, “Ek kort wysheid en kennis!”

Ons het die kerk van die slapskyf geword!

Die dryfkrag agter die hedendaagse Laodicense kerk is wysheid en kennis. Watter groot strome van inligting vloei deur hierdie laaste-dag kerk: rekenaars met tallose megabytes, gerekenaardiseerde Bybels, gerekenaardiseerde kommentare, sagteware programme oor filosofie, berading, fondsinsameling, kindersorg. Al wat jy moet doen is om ‘n klein skyfie in jou rekenaar in te sit, ‘n knoppie te druk en die antwoord spring uit reg voor jou oë.

Ek is nie teen rekenaars of sagteware programme nie. Ons eie bediening sou nie so goed kon funksioneer daarsonder nie. Maar ek is geamuseerd deur die jong bedienaars wat baie tyd deurbring om sleutelborde te pons en faksmasjiene te gebruik om rieme inligting, idee’s, netwerke en strategieë uit te spu. Hulle preek ‘n gerekenaardiseerde evangelie – baie min mense word egter ooit daardeur gered of verlos.

Vandag is daar ‘n onversadigbare dors na inligting, wysheid en kennis soos nog nooit tevore nie. Nog nooit was daar soveel seminare en massiewe opleidingskonvensies nie. Groot skerms word benodig om te wys wie die leraars is op ‘n verhoor ver daarvandaan. En ná die tyd stroom die mense na tafels om honderde dollars se waarde van bandopnames te koop.

Die klem is op meer toerusting, meer inligting, meer wysheid. Die denkwyse is, “As ons net genoeg kennis kan hê oor hierdie onderwerpe – genoeg boeke, genoeg seminare, genoeg opleiding – dan sal ons die taak verrig kry. Gee ons net die gereedskap, God, en ons sal die wêreld evangeliseer!”

Onlangs het ek die leier van ‘n jeugorganisasie gehoor sê, “As ek $100 miljoen gehad het, sou ek die wêreld kon win!” Hy het deur die land gereis en probeer om daardie hoeveelheid bymekaar te maak. Hy het in wese gesê, “As ons net genoeg geld, kennis, netwerke en strategieë kan hê, kan ons die hele wêreld vir God evangeliseer!”

Geliefde, ons sal nooit enigiets vir God kan bereik deur wysheid alleen nie, maak nie saak hoe belangrik en noodsaaklik dit is nie. Sy Woord sê:

“Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Korinthiërs 1:21).

Al die ware skatte van wysheid en kennis is verborge in Jesus Christus.

“In wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kolossense 2:3).

Salomo se evangelie was anders. Dit was gesê van Salomo:

“En hy het drieduisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend-en-vyf.  En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Libanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit: ’n ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse” (1 Konings 4:32-33).

Dit was Salomo se evangelie – drieduisend kort prekies van praktiese kennis en wysheid! Hy het nuwe liedere, wonderlike stories en groot toepassings van waarheid op menslike natuur en gedrag geskep. Jy kan baie van sy woorde van wysheid in die boek Spreuke lees. Hy het praktiese instruksies oor die huwelik en kinders grootmaak gebied. Hy het duidelike leiding gegee oor hoe om dinge te hanteer, hoe om op te tree, hoe om geseënd te wees. En almal was lief vir sy preke. Dit was so bondig, so tot die punt.

Maar, geliefde, tensy die gees van God die prediking of lering salf, bly dit dood. Dit word dooie-letter tensy die Gees dit aan die brand steek!

Op die ou end, het Salomo ‘n heeltemal kragtelose boodskap gelewer – omdat hy geen krag gehad het om te doen wat hy sê nie! Hy het homself oorgegee aan vreemde vroue. Hy het goddelose kinders grootgemaak, insluitend ‘n duiwel wat hom opgevolg het op die troon. Salomo het inderdaad op die ou end ‘n afgeleefde, beangste afgodedienaar geword wat sy dae deurgebring het in ‘n sensuele moddergat van immoraliteit. En sy hele geslag het ‘n klomp hoer-jagtende deugniete geword – ten spyte van al sy wysheid, lering en drieduisend spreuke!

Moenie vir een oomblik dink dat die hedendaagse “sondaar-vriendelike,” Laodicense kerk nie goeie, insiggewende, weldeurdagte prediking het nie. Die preke van hierdie laaste-dag kerk is bondig, homileties korrek, gesentreerd rondom hoe om die probleme van die lewe te hanteer. Dit is meestal vyftien-minute lange boodskappe, geïllustreer met duidelike punte en vol baie waarheid.

So baie daarvan produseer egter geen lewe nie! Egskeiding is steeds algemeen, selfs onder die herders. Hoerery en owerspel is alledaags. Tieners rook, drink en slaap rond. Mense se lewens word nie verander nie. Waarom? Dit is omdat kennis opsigself nie in staat is om iemand te red of te verander nie – insluitend diegene wat dit verkondig!

‘n Kerkdiens mag dalk goed georganiseerd wees, met uitstekende, nuwe, kontemporêre musiek. Die koor mag ‘n duisend nuwe gesange sing. Die herder mag sonde veroordeel en die regte pad duidelik uitwys. Maar sonder die Heilige Gees, word dit alles letter wat doodmaak!

Salomo het ‘n kop vol kennis gehad en ‘n mond vol liedere. Hy kon preek en leer met ontsaglike vaardigheid. Hy het ‘n goed-georganiseerde onderneming gehad, met talentvolle leiers. Alles in sy kerk het gelyk of dit fatsoenlik en ordelik was. Maar alles wat Salomo gedoen het, het uiteindelik beland in Prediker, in die frase, “Dit is alles tevergeefs en wanhoop!”

Die Salomo kerk het al die antwoorde gehad. Dit het pragtig gelyk aan die buitekant. Maar dit was heeltemal leweloos! En op die ou end is alles tevergeefs en beland in afgodery, sensualiteit, leegheid en wanhoop.

Vergelyk die Kerk van Salomo met Dawid se kerk in Sion!

Die dryfkrag agter Dawid se kerk was algehele afhanklikheid van die Heilige Gees. Hier is wat Dawid onderskei het:

“Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword...” (1 Samuel 16:13).

Toe Dawid op sy sterfbed was, het hy vir sy seun Salomo in soveel woorde gesê,: “Ek wil vir jou vertel waarom God my geseën het. Ek wil hê jy moet weet wat die geheim van my bediening is – waarom die koninkryk vrede het en waarom God met my was oral waarheen ek gegaan het.” Luister na Dawid se laaste woorde aan sy seun: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong” (2 Samuel 23:2).

Dawid het in wese gesê, “Ek het nie op my wysheid en kennis vertrou nie. Ek het nie op enige deel van my vlees vertrou nie. Ek was ‘n swak man – maar ek het op die Heilige Gees vertrou! Elke woord wat ek gespreek het, was deur Sy leiding en salwing. Sy woorde het my mond gevul!”

Vyf-en-dertig jaar gelede, toe ons die deure van die bediening oopgemaak het vir dwelmverslaafdes en alkoholiste hier by 416 Clinton Weg in New York Stad, was ons leuse, “Die Heilige Gees is hier in beheer!” Jy sien, dit was nie “hoe om dinge te hanteer” prediking wat bendelede soos Nicky Cruz en Israel gered het nie. Hulle het nie op hulle knieë geval omdat ons ‘n bondige, pittige preek verkondig het nie. Hulle was nie van sonde oortuig deur puntsgewyse illustrasies en geaardheidstories nie. Nee – hierdie voormalige dwelmverslaafdes het voor hulle vriende getuig, “Ek was eens op die strate net soos jy. Maar kyk nou na my! Die Gees van God het my verander!”

Dit was die krag en werking van die Heilige Gees wat Nicky en Israel op hulle knieë voor God gebring het. Die Gees het neergedaal – en daardie geharde kriminele het op hulle aangesigte geval en om genade uitgeroep tot God!

Salomo het gespreek van bome, hissop, diere, kruipende goed en visse. Maar Dawid het gespreek van intimiteit met die Here, van gebrokenheid en verslaentheid. Hy het gespreek van “die rots” wat Christus is. En Dawid was oortuig en verander deur sy eie prediking. Hy het die teenwoordigheid van die Heilige Gees so waardevol geag in sy lewe, dat hy die Here gevra het om nooit Sy Gees van hom af weg te neem nie. Dawid het geweet hy was niks sonder die Heilige Gees nie!

In Salomo se kerk egter, versamel ‘n prediker bloot egte, Bybelse inligting en skep ‘n preek daaruit. Dan werp hy dit voor die gemeente en sê vir homself, “Dit is die Woord – dit moet ‘n impak hê. Dit moet groei en verandering in my hoorders veroorsaak, omdat dit God se magtige Woord is.”

Dit is nie so nie! Jy kan soveel Woord verkondig soos jy wil – preek na preek, lering na lering met wysheid en kennis in oorvloed. Maar as dit nie gesalf is met die Heilige Gees nie, is dit ‘n dooie woord! As ‘n prediker nie tyd deurbring op sy aangesig voor God nie, sal hy nie die vuur van God in sy siel hê nie. En daar sal geen drang van die Heilige Gees wees in sy woord nie, maak nie saak hoe wys en insiggewend dit klink nie. Dit sal eenvoudig nie lewe veroorsaak nie!

Paulus het gesê,

“En my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Korinthiërs 2:4-5).

“Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer...Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:13-14).

Jy behoort nooit kerk toe te gaan sonder om te bid, “God, gee my Heilige-Gees ore om te hoor. Help my om te hoor, te verstaan en U Woord in my lewe toe te pas!” Jy moet Heilige-Gees horende ore hê net soveel as wat ‘n herder ‘n Heilige-Gees tong moet hê!

Laat my vir jou wys hoe jy kan onderskei tussen ‘n Heilige-Gees Dawid kerk en ‘n Laodicense Salomo kerk!

In ‘n Heilige Gees kerk sal jy altyd ‘n hartverskeurende uitroep tot bekering hoor. Jy kan in werklikheid nie ‘n Heilige-Gees mens wees totdat jy self “uit jou diepste wese geroep” het nie. En dit is iets wat Salomo nooit gedoen het nie!

Ons lees nooit van Salomo wat sy diepste wese voor God uitgeroep het nie. In plaas daarvan, het hy gestaan by die inwyding van die tempel met koninklike klere aan, en ‘n genadige, majesteuse, hoogdrawende gebed gebid. Dit was alles opreg, noukeurig en ordelik. Maar dit was nie ‘n uitroep uit sy diepste wese nie – en dit het nie sy eie hart deurgedring nie!

In sy gebed, het Salomo die gemeente vermaan:

“Laat jou hart dan volkome met die HERE onse God wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag” (1 Konings 8:61).

Salomo het die insettinge waarvan hy gepraat het, geken. Onder hulle was daar hierdie waarskuwings in Deuteronómium vir elke koning van Israel:

  • “Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie.”
  • “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie.”
  • “Hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie” (Deuteronómium 17:16-17).

 Dit was baie duidelike, reguit insettinge. Skaars het Salomo egter koning geword, of hy het al drie gebreek!

  • “En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte...” (1 Konings 10:28).
  • “En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao, Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese....Salomo het hulle met liefde aangehang” (1 Konings 11:1-2).
  • “Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe...” (1 Konings 10:27). “So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde in rykdom en wysheid” (2 Kronieke 9:22).

Salomo se gebed om volmaak voor God te wandel, het geen effek op sy lewe gehad nie – omdat hy geen oortuiging van sonde in sy hart gehad het nie:

“So het Salomo gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie” (1 Konings 11:6).

Waar daar geen Heilige Gees gesalfde prediking is nie, is daar geen oortuiging van sonde nie – geen volle najaag van die Here nie!

Salomo het gesondig sonder berou, selfs toe hy teen sonde gepreek het. Hy kon in die Skrifte lees dat hy nie mag afgaan na Egipte toe om perde te koop nie – en tog het hy dadelik begin om te onderhandel om ‘n duisend nuwe perde en waens te koop! Hy kon hoor ‘n profeet verkondig dat die koning nie vrouens vir homself moes bymekaarmaak nie – en tog het hy onmiddellik uitgegaan om ‘n harem te inspekteer vir toekomstige vroue.

Salomo het geen bewyse van berou getoon nie, geen teken van bekering nie. Hy kon openlik toegee aan al hierdie groot sondes en immoraliteit, en tog teruggaan na sy kamer en nog ‘n spreuk skryf.

Vergelyk egter Salomo se ongeërgdheid teenoor sonde met Dawid se algehele berou en gebrokenheid omdat hy teen God gesondig het. Dawid se kerk was nie volmaak nie; dit was inderdaad ‘n Korinthiese kerk. Dawid het owerspel gepleeg. Hy het ‘n onskuldige man vermoor. Hy het vir ‘n tydperk in verskriklike misleiding gewandel. Tog, nadat Dawid gesondig het, het hy hierdie hartverskeurende uitroep uit sy innerlike wese gemaak:

“Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë...Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:4-6,13).

Dawid het later weer gesondig deur die volk Israel te tel, wat hy beveel is om nie te doen nie. Hy het pas al die reuse en die oorblyfsel van Gat verslaan. Hy het die Assiriërs uitgedryf en die hele land het vrede gehad. Op daardie stadium het Dawid groot seën en oorwinning beleef. En hy was egter deur die duiwel mislei!

Dawid was so verblind deur sy sonde dat geen mate van redenering hom kon verander nie. Joab, wat Dawid se misleiding raakgesien het, het hom gewaarsku, “Waarom dring jy aan om voort te gaan met hierdie sonde?” Maar Dawid het volgehou en gesê, “Ek wil weet hoeveel krygers ek het!”

Geliefde, dit is ‘n ontnugterende gedagte dat ‘n regverdige, Godvresende dienaar deur sonde mislei kan word! Dawid het onder hierdie misleiding vir amper tien maande lank geleef. Hierdie keer, het geen profeet egter gekom om sy sonde te openbaar nie. Dit was die Heilige Gees wat hom oortuig het!

‘n Kort rukkie nadat die telling begin het, het Dawid moed verloor; hy het nie eens klaar getel nie. Hy het nou grys hare gehad en was oud en hy het sensitief geword vir die stem van die Heilige Gees. Die Bybel sê vir ons:

“Maar Dawid se gewete het hom gekwel...” (2 Samuel 24:10).

Die Hebreeus stel hier voor: “O God, ek is verwond in my hart vir wat ek teen U gedoen het!”

Dit is die kenmerk van die Heilige-Gees Dawid kerk: ‘n hartverskeurende uitroep! Natuurlik is daar mense in hierdie kerk wat misluk en wat in misleiding leef. Maar soos Dawid, word hulle so sensitief vir die werking en beweging van die Heilige Gees, dat hulle nie altyd ‘n profeet nodig het om vir hulle te sê dat hulle gesondig het nie. Hulle kom tot bekering nog voordat ‘n profeet na hulle toe kom – omdat hulle verwond voel deur hulle sonde!

In Salomo se kerk, word misleiding nooit mee gedeel nie. Uiteindelik lei dit tot blindheid en verwoesting. Maar in Dawid se kerk, is daar ‘n uitroep tot goddelike berou, ‘n uitroep vir verlossing – deur ‘n verwonde, bedroefde hart omdat teen God gesondig is!

Dawid het van sy sonde gesê:

“Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom. Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore...Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, my uit groot waters getrek. Hy het my verlos van my magtige vyand, van my haters, omdat hulle te sterk was vir my” (2 Samuel 22:7-8; 17-18).

Hier is die tragiese einde van die evangelie volgens Salomo!

Na alles waaroor Salomo geskryf en gesing het, het hy sy lewe afgesluit met hierdie tragiese woorde:

“...Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie...Dit is nie ‘n goed wat in die mense kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie...” (Prediker 2:23-24).

Salomo het filosofies gesê, “Jy gaan slapelose nagte hê. En jy sal nie in staat te wees om enigiets aan die wanhoop te doen nie. Jy sal nie in staat wees om jou gevoel dat alles tevergeefs is, te verander nie. So, die beste ding wat jy kan doen, is om al die genot wat jy kan aan te gryp en alles wat jy kan uit die lewe te druk. Geniet jouself net!”

Dit is hoe Salomo gesterf het. En dit is die evangelie van die hedendaagse Salomo eeu! Alles eindig in Prediker, in leegheid en wanhoop. Talle mense wonder op die ou end, “Waaroor gaan die lewe? Waarheen is ek op pad? Wie is ek?”

Dawid se evangelie sê egter,

“Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak...” (Psalm 3:4-5).

As jy die Heilige Gees het, sal jy God se stem ken en Hy sal joune ken. En jy sal in staat wees om rustig te slaap!

Beskou nou hierdie profesie vanuit die Nuwe Testament:

“Daarna sal ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel” (Handelinge 15:16).

God gaan die Salomo kerk verwoes – en Hy gaan Dawid se kerk uit daardie puinhoop oprig! Hierdie oorblyfsel kerk sal goddelike berou hê oor sonde. Dit sal in angs en berou uitroep. En dit sal heeltemal afhanklik van die Heilige Gees wees!

Twee jaar voor die PTL bediening geval het, het die Gees van God oor my gekom en my beveel om ‘n lang brief vir Jim Bakker te skryf. Ek het geskryf, “Binne twee jaar, teen 15 Maart, sal PTL dood wees.” Ek het ‘n visioen gesien van leegheid – van vuilgoed wat hoog staan en vlêrmuise wat in die geboue nesmaak.

Jim het die brief gelees en my geskakel en gevra, “Wat moet ek doen?” Ek het vir hom gesê om ontslae te raak van alle homoseksuele in sy bediening. Nie lank na die gesprek nie, het Jim op televisie verskyn en elke woord wat ek gesê het bespot. Twee jaar later, op die presiese dag, het die woord van die Here oor PTL waar geword – net soos Hy vir my gesê het.

Op hierdie oomblik ervaar ek in my gees dat in minder as vyf jaar, sal daar glad nie meer sogenaamde evangelie televisie netwerke wees nie. Hulle sal almal in bankrotskap en algehele verwoesting beland!

Om te luister na die Salomo-evangelie wat vandag op baie van Christen TV verkondig word, sou ‘n mens dink Jesus gaan terugkeer na die aarde in Beverly Hills terwyl Hy ‘n Rolls Royce ry. Hierdie beeld van Christenskap is die mees gruwelike ding waarvan ek nog ooit gesien of gehoor het. En God sê Hy moet dit vernietig – omdat Hy Dawid se huis op hierdie puinhoop gaan bou!

Die enigste ding wat sal oorbly, is ‘n paar lokale televisie programme met ware mense van God wat die evangelie verkondig. En al die vals glimlagte, die goddelose fondsinsameling sirkusse, die populêre teologie, die verkondiging van voorspoed, sal vernietig word.

Vandag is die meeste van die sogenaamde geestelike herlewings blote kartonstrukture. Hulle sal almal brand in die chaotiese dae wat voorlê. Watter Christen sal lag wanneer ons stede in vlamme opgaan? Wie sal ligsinnig en dwaas wees wanneer die ekonomie in duie stort?

Die Bybel sê van die Jode in die laaste dae:

“...Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; En hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sagaria 12:9-10).

Huidiglik is daar Jode wat rouklaag en ween vir hulle Messias by die Klaagmuur in Jerusalem. En nie lank gelede nie, het sowat 10,000 Lubavitcher Jode ‘n optog gehou in Brooklyn waar hulle uitgeroep het, “Dit is die jaar van ons Messias!” Hulle hande was opgehef, trane het oor hulle wange gestroom en hulle het geween en uitgeroep vir hulle Messias.

As ek dink aan die 25 miljoen baba’s wat in hierdie land geaborteer word en al die verlore mense wat hel toe gaan, verstaan ek nie waarom menigte Christene lag nie. Waarom sou miljoene Jode en miljoene ontnugterde sondaars op pad hel toe hulleself aan die slaap huil, terwyl charismate lag? Wanneer die herlewing kom, sal die blydskap wees weens berou en bekering en weens die insameling van die laaste oes van siele.

“Daarna sal Ek...die vervalle hut van Dawid weer oprig...” (Handelinge 15:16).

God gaan Sy kerk van die laaste dae op die murasies bou. Dit beteken Hy moet die boosheid wat in Sy kerk plaasvind afbreek en alle gruwels vernietig. En op daardie puinhoop, sal Hy ‘n heilige, berouvolle kerk oprig wat hartverskeurende uitroepe van bekering uiter.

Ek dank God vir die Dawid kerk wat Hy tans besig is om te bou uit die hope ruïnes. Talle wat inderdaad hierdie boodskap lees, kom uit geruïneerde agtergronde. Dierbare heilige, as dit jou beskryf, wees verseker – God gebruik jou om Sy Dawid kerk te bou!

As jy ‘n oorweldigende sonde-probleem het, moenie jou wend tot een of ander boek of bandopname wat veronderstel is om vol wysheid en kennis te wees nie. In plaas daarvan, val op jou aangesig neer en praat dit uit met God! Wees ‘n Heilige-Gees Dawid Christen en roep uit tot die Here met jou hele hart. Hy bou Sy kerk op jou einste geroep! Halleluja!