Die Rooi Perd van Die Apokalips!

God se vrede bewaar in moeilike tye
David Wilkerson

“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kolossense 3:15).

Hierdie een vers bevat ‘n ontsaglike gebod: Die hele liggaam van Jesus Christus is deur God geroep om Sy vrede in ons harte, verstand en liggame te laat heers en regeer!

Die vrede van God moet die arbiter van ons lewens wees en as heerser oor alles troon. As daar ooit ‘n tyd was om hierdie oproep te laat weerklink, is dit vandag in hierdie uur van onrus en verwarring! Openbaring 6:4 praat van ‘n rooi perd wat oor die hele aarde ry, met hierdie mandaat:

“...en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee” (Openbaring 6:4).

Die man op die rooi perd gallop dwarsdeur die wêreld op hierdie oomblik, neem alle vrede weg en swaai ‘n bloedige swaard! Hy het deur die Soviët Unie gegallop en alle vrede weggevee!

Die afgelope jare het ons die algehele en totale disintegrasie van ‘n goddelose, Kommunistiese ryk gesien plaasvind. Maar nou het die rooi perd daardeur gegallop en daar is etniese oorloë, onrus, twis, chaos en verwarring.

In die voormalige Soviët staat van Geogië, het oorlogvoerende faksies geen genade nie. Drie burgerlike vliegtuie is afgeskiet en honderde lewens is geneem.

Joegoeslawië bestaan nie meer nie!

Die rooi perd het deur daardie eens vredevolle nasie gegallop en dit ‘n siedende hel van etniese oorloë en dispute gemaak. Bosniërs, Serviërs en Kroate is verdeeld en ontplof in ‘n inferno van haat, vrees en bloedvergieting. Hulle vermoor en verkrag by die duisende, met geen gewete hoegenaamd nie.

Vrede verdwyn in Suid Afrika, Wes Afrika, Somalië, Korea, Ierland en land wat ons skaars ken!

Die rooi perd gallop deur hierdie nasies, steel vrede en laat niks anders as oorlog agter nie.

“Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ‘n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking!” (Jeremia 8:15).

Geliefde, dit is alles ‘n vervulling van Openbaring 6:4! Die rooi perd is losgelaat, en oral waar hy gallop, laat hy in sy spoor ‘n etniese gees van haat: rasse-oorloë!

Katolieke teen Protestante in Ierland, Serviërs teen Kroate, Moslems teen Christene, Wittes teen Swartes, Swartes teen Asiërs. Nasies wat in vrede geleef het vir dekades ontplof nou in wilde orgies van haat, moord en doodslag! Wie het ooit gedink ons sou hierdie dag van geweld en bloedvergieting beleef?

Wat my egter die meeste verwonder, is dat so baie Amerikaners, Christene onder hulle, selfvoldaan reageer en Amerika sien as ‘n “eiland van vrede.” Ons sê vir onsself, “God sal nooit na Amerika kom en ons vrede wegneem nie!”

Dit is waar dat Amerika ‘n hawe van vrede was in ‘n rustelose wêreld. Ons strande is ‘n ondeurdringbare vesting waaraan geen vreemde troepe kon raak nie. Mense het hierheen gekom van oral oor die wêreld om hulle geld en hulle families te beveilig. Maar nou is dit alles op die punt om weggeneem te word!

Die rooi perd is losgelaat en hy sal nie goddelose Amerika oorslaan as hy vrede van die wêreld wegneem nie!

Gedurende die afgelope jaar, het ek die gesnork en hoefslae van hierdie rooi perd gehoor. Hy gallop op die winde, op pad na Amerika se strande en hy is op die punt om deur ons stede te gallop en alle vrede en orde weg te neem so ver as wat hy gaan!

Op watter gesag staan ek as ek dit sê? Op God se eie Woord!

“Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!” (Jesaja 48:22).

Selfs die mees liberale mense erken nou dat Amerika ‘n bose, goddelose nasie geword het. Niemand kan die uitrafeling van ons samelewing verstaan nie. Nou gallop die rooi perd van die apokalips! Ons vrede is op die punt om vir altyd van ons weggeneem te word en in sy plek sal daar ‘n bloedige swaard wees! ‘n Toenemende gees van haat en moord sal oorneem. Stede sal aan die brand wees, gewere sal losbrand, opstande en bloedvergieting sal plaasvind in die strate. Amerika sal ‘n bloedige oorlogsone word!

‘n Paar jaar gelede het ek geprofeteer dat in die komende dae meer as 1,000 vure New York in vlamme sal hul. Vandag, elke keer as ek by my woonstel se venster uitkyk oor die stad, sien ek daardie vure in my geestesoog! Ek ruik die rook – en ek hoor die gallop van die rooi perd! Die meenste Christene hou nie daarvan om dit te hoor nie – ons wil nie meer “oordeel en duisternis” hê nie. Dit is te ontstellend en skrikwekkend. Ons sal liewer voor ons televisies sit met niks wat ons ontstel nie.

Maar hierdie geweld is presies wat die Bybel vir ons sê om onsself teen voor te berei!

Ons hele uitkyk op die lewe is op die punt om te verander. Die manier waarop ons bid, die manier waarop ons dink – alles gaan anders wees. Drastiese veranderinge sal altyd volg in nasies waar alle vrede weggeneem was!

Net meer as drie jaar gelede, was Joegoeslawië se grootste probleem hoe om hulle toeristehandel te kon laat toeneem. Die land was besig om te verrys uit jare van agterlikheid, en het voorberei om die een-en-twintigste eeu binne te gaan met groeiende produksie en handel. Toeriste het begin om sy baie vredevolle, sonderlinge kusoorde te besoek. Nou het oorlog na Joegoeslawië gekom. Daar is bloedvergieting in die strate, met gruwelike verkragtings en moorde wat elke dag berig word!

Alles in Joegoeslawië het verander! Die mense fokus nie meer daarop om fabrieke te bou, toerisme te laat toeneem, aftrede en die verbetering van hulle huise nie. Nee – skielik, oornag, is hulle land in onrus!

Hulle kan net dink aan oorleef: waar om genoeg kos te kry vir die volgende dag; hoe om vier blokke ver te loop om water te kry sonder om doodgeskiet te word deur ‘n skerpskutter, en hoe om nog ‘n week te oorleef sonder dat ‘n vrou of dogter wreed verkrag word. Hulle hele gemoedstoestand het verander omdat alle vrede van hulle af weggeneem is!

Die tyd gaan kom in Amerika wanneer ons nie sal dink op sulke materialistiese, hebsugtige wyses nie!

Binnekort sal Christene nie meer dink aan huweliksverskille, die regte tandarts, die regte skole, kredietkaartrekenings, haarstyle, inkopiesentrums, vakansies en “hoe om dinge te hanteer” sielkunde nie. In plaas daarvan, sal ons dink, “Waarheen kan ek my kinders stuur om hulle van al die bloedvergieting te spaar? Gaan een of ander ontnugterde gek ons gebou aan die brand steek? Het ons genoeg kos weggebêre vir die week? Asseblief, God – wat gaan ek doen?”

Ons sal nie meer behep wees met ons psiges, ego’s, luukshede en depressies nie. Ons sal nie bid, “God, gee my hierdie week die genade om my kinders en hulle probleme te verdra” nie. Nee – ons sal dink aan blote oorlewing! Ons sal dink aan die algehele verbrokkeling van ‘n nasie onder die oordeel van God!

Amerika het reeds een Burgeroorlog gehad – en President Lincoln het dit die oordeel van God genoem! Daardie oorlog was Noord teen Suid. Maar nou beleef ons nog ‘n burgeroorlog – en dit sal nie plaasvind in een of ander rustige plek soos Gettysburg nie. Dit gaan in ons midde wees – in groot stede soos New York, Miami, Chicago, Los Angeles, Boston, Houston, Dallas, Detroit, St. Louis, San Francisco, Denver. En die bloedvergieting sal ons verbeelding oortref!

Selfs met al hierdie onrus wat oor ons kom, wil ek jou van een ding verseker:

Dit maak nie saak wat met Amerika of die lande van hierdie wêreld gebeur nie, geen mag in die hel kan ons beroof van die vrede van God deur Jesus Christus, wat Hy in jou siel inplant nie!

God sal Sy mense laat regeer word deur vrede. Die rooi perd en sy ruiter kan jou nooit beroof van die vrede wat Hy in jou hart plaas nie!

“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kolossense 3:15).

Waarom het die Here die vroeë kerk beveel om sy vrede hulle lewe te laat heers? Dit was omdat Hy geweet het wat aan die kom was – en Hy wou hulle voorberei! In net ‘n paar jaar se tyd, sou ontsaglike onrus skielik oor hulle kom. Hulle sou gemartel en vervolg word. Hulle sou moeilike tye beleef, die verlies van huise, konfiskering van alle wêrelds goedere, aanvalle van bose mans wat gedink het hulle doen God ‘n guns deur hulle dood te maak. God het hulle gewaarsku, hulle voorberei: “Julle moet gegrond wees in My vrede – omdat dit alleen julle sal deurdra deur al die ongelooflike veranderinge wat voorlê!”

“...die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9).

Op hierdie oomblik in Amerika, is daar ‘n vals vrede wat in kerke versprei – ‘n vrede wat sal misluk in die moeilike dae wat voorlê. Dit is die vals vrede van hardkoppige, sondeverblinde Christene! Moses het sulke gelowiges “self-geseën” genoem – wat beteken self-mislei. Hy het Israel gewaarsku dat ‘n vloek sou kom oor alle bose, ongehoorsame kinders van God wat gewandel het in afgodery. Hy het gesê hulle sou hulle sondige weë toepleister met ‘n valse gevoel van vrede:

“En as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel – om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk” (Deuteronómium 29:19).

Moses beskryf hier die kind van God wat besluit om sy begeerte na boosheid te bevredig! Hy vind ‘n knus doktriene wat vir hom sê dat hy oukei is, steeds gered is en hemel toe gaan – hy kan egter steeds aan sy sonde toegee. Hy sê vir homself, “Ek sal doen wat ek wil en steeds nie die vrede in my hart verloor nie.”

Nie lank gelede nie, het ek ‘n oproep van ‘n toegewyde vrou van God gehad. Sy het vir gebed gevra oor wat in haar kerk aan die gang was. Die jeugpastoor het in sonde verval en die senior pastoor het geweier om hom af te dank. Ouers het die prediker gesmeek om nie toe te laat dat hierdie jongman hulle kinders onderrig nie. Maar die pastoor het geweier! Daarmee saam, het die ouer pastoor sekere onstellende veranderinge in die kerk gemaak. Hy het dit “buitestaander vriendelik” gemaak. Die kerk bied nou country-western aande, dans, en allerhande soorte dinge aan om mense te lok. Hy het selfs ‘n preek gepreek oor om té ernstig te wees as ‘n Christen: “Dit is tyd om te lag! Kinders, hou op om so hard vir goeie punte te leer. Draai so nou en dan stokkies – breek ‘n paar reëls!”

Hierdie pastoor preek ‘n teologie dat jy nooit jou saligheid kan verloor nie. Dit maak nie saak wat jy doen nie, jy is gered! Hy en sy vrou het R-gegradeerde films bygewoon en dit vir die gemeente aanbeveel. Hy het die mense se sondes afgemaak en hulle verseker, “Julle is oukei.” Diakens kan drink, rook en rondslaap op Saterdagaand en dan ‘n offergawe opneem Sondagoggend en dink, “Alles is wel.” Hierdie gekompromitteerde herder het sy gemeente vir hulle sonde verblind! Hy verkwansel ‘n vals vrede – en veroorsaak dat jongmense dink hulle kan drink, dwelms neem, met mekaar slaap en steeds gered wees! Hy verdoem hulle deur hulle aan die slaap te sus!

Al die vals vrede in Amerika gaan in duie stort!

Wanneer die rooi perd deur Amerika gallop – wanneer ons stede in vlamme gehul is, rasse-opstande uitbreek, federale troepe en tenks in ons strate afry – sal alle vals hoop in die lug verdwyn! Dink jy enige vals vrede sal dan staande bly? Nee! Elke vals profeet wat vandag in aksie is, sal moet wegkruip! Mense sal nie langer na hulle op televisie luister terwyl hulle roep, “Stuur vir my ‘n honderd dollars!” nie. In plaas daarvan, sal mense hulle TV-stelle stukkend slaan oor sulke dwaasheid!

Predikers wat op die kansel staan en sê, “Vrede en veiligheid,” sal sien hoe hulle kerke in duie stort! Desperate mans en vroue sal in die middel van byeenkomste opstaan en uitroep, “Pastoor, wat gaan aan? Dit is nie wat jy vir ons gesê het gaan gebeur nie. Wat sê die Bybel?” Maar hy sal nie weet nie! En die mense sal teen hom draai en skree, “Jy het vir ons gelieg!”

Vandag kyk die hele wêreld na Rusland en kan skaars glo wat besig is om plaas te vind in daardie land. Binnekort gaan die wêreld na Amerika kyk en nie glo wat hulle sien en hoor nie! God sê, “Ek gaan so ‘n ontsaglike ding doen dat dit ore sal laat tuit! Hulle sal terugstaan en sê, “Wat gaan aan?”

Die boodskap in Europa is reeds, “Moenie na die Verenigde State gaan nie – jy sal doodgemaak word!” Hoofberigte in Berlyn skreeu: “Bloedige Amerika!”

Die London Sun lees: “Land van Geweld! Amerikaanse Moordenaars!” Weens al die skokkende chaos, sal mans uitroep, “Waar is daar nog vrede, ‘n plek van veiligheid? Amerika was ons laaste hoop. Waarheen kan ons nou gaan vir vrede?”

Maar daar sal geen vrede wees nie! Die Bybel sê daar sal ‘n “skielike verderf” oor die aarde kom (1 Thessalonicense 5:3)!

Ek wil vir jou wys wat dit beteken om God se vrede in jou hart te laat heers tydens moeilike tye. Die Heilige Gees het hierdie twee dinge op my hart gedruk:

1. Moenie ontsteld word wanneer God jou gebede nie gou verhoor nie!

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Toe ek hierdie gedeelte weer onlangs gelees het, was ek getref deur iets wat ek nog nooit tevore raakgesien het nie. Daarin, het Paulus ons beveel om op te hou bekommerd wees, om na God te gaan met gebed en smekinge, en Hom dank vir die antwoord. Maar Hy het nooit iets gesê oor enige antwoorde kry nie! Paulus het niks gesê oor ‘n woord van leiding, verlossing, wonderwerke en genesing nie. In plaas daarvan, het hy gesê, ons ontvang ‘n gawe, die gawe van die vrede van God!

God verhoor al ons versoeke en smekinge met die gawe van Sy vrede:

“...laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7).

Met ander woorde, God se eerste antwoord vir al ons gebede en hartsgeroepe is Sy vrede! Alle biddende mense het hierdie een ding in gemeen: Dit maak nie saak hoe sleg hulle voel waneer hulle hul afgesonderde binnekamer binnegaan nie, hulle kom daaruit gevul met Sy vrede! Jy sien, God het Homself beperk tot Sy eie heerskappy. Dit is bekend as die voorsienigheid van God. Hy doen dinge hier en daar, en berei mense se harte voor en orkestreer gebeurtenisse. Maar totdat Sy voorsienigheid die verhoring van jou gebed uitwerk, sê Hy, “Ek gaan vir jou gee, nie wat jy dink jy nodig het nie, maar wat Ek weet jy nodig het – vrede van hart en siel!”

Die meeste biddende Christene sal vir jou sê hulle wag vir verhoring op baie gebede. Hulle mag moontlik ernstig, vurig en met vas en geween gebid, nie net vir maande nie, maar vir jare – en steeds word hulle nie verhoor nie! Hulle wag egter met vrede, ten volle oortuig dat God aan die werk is – en dat Hy op Sy tyd en op Sy manier, sal verhoor.

Baie van ons stry met die Here in gebed. Ons smeek Hom met geween en trane, ons slaan teen die hemel se poorte, en ons eis elke belofte op. Maar soos die dae, weke en maande verbygaan, begin ons te wonder: “Waarom verhoor U nie, Here? Wat blokkeer my gebed? Wat het ek gedoen om U te bedroef of te mishaag?”

Die feit bly staan, God het reeds vir ons gesê, “Hier – hier is My vrede wat alle verstand te bowe gaan! Neem dit – laat dit heers in jou hart, terwyl ek alles ten goede vir jou meewerk!” Ons moet in God se vrede bewaar word totdat Sy belofte deur die Heilige Gees uitgewerk is!

Die apostel Petrus sê vir ons God het ons belowe “...nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13).

Glo jy dat dit kom? Sal God Sy Woord gestand doen? Ja, Hy sal! Maar dit het nog nie gebeur nie. En tot dan, moet ons waaksaam wees om in vrede te wag en nie in wanhoop nie: “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (1 Thessalonicense 3:14).

Dikwels roep ons uit, “O Here, praat met my! U sê U skape ken U stem en ek moet ‘n woord van U kry. Ek gaan nêrens totdat U met my praat nie!” Ons wag en wag vir daardie stil, rustige stem om te kom. Hy het egter reeds met ons gepraat, maar ons herken dit nie!

Die boek Hoséa gee vir ons ‘n voorbeeld hiervan. God het vir Hoséa gesê, “Efraim...het nie erken dat Ek hulle genees het nie” (Hoséa 11:3). Efraim in hierdie gedeelte verteenwoordig die ware volk van God. Die Here het in wese gesê, “Ek het My volk geantwoord, maar hulle het dit nie geweet nie! Ek het hulle geroep gehoor en vir hulle My vrede gegee!”

Ons het in werklikheid nie langer ‘n verskoning om die binnekamer teleurgesteld en dors te verlaat nie! Jy kan moontlik sê, “Ek het so opreg gebid. Ek was so gereed, so oop. Maar ek het niks gehoor nie!” Ja, jy het! Jy het gehoor, “...my vrede gee Ek aan julle...” (Johannes 14:27).

Hy het jou genees, maar jy het dit nie geweet nie! Hy het vir jou vrede gegee, maar jy het dit nie geniet nie! Jy het uitgeloop en toegelaat dat dit jou verlaat, omdat jy dit nie toegeëien het nie!

Hou aan Sy vrede vas, laat dit heers en regeer in jou hart!

2. Jy moet jy baie dinge laat staan voor Sy vrede oor jou kan heers!

As jy wil hê die vrede van God moet in jou lewe heers, moet jy sekere dinge laat staan:

  • Jy moet ophou probeer uitvind hoe God alles sal uitwerk.
  • Jy moet ophou om bekommerd en besorg te wees: “Wees oor niks besorg nie...” (Filippense 4:6).
  • Jy moet ophou om vir God te sê wat jy dink reg is vir jou.
  • En bo alles moet jy ophou om te dink dat jy ‘n mislukking is: Hou op om te dink dat jy God nie behaag nie!

Een van Satan se mees effektiewe strikke om Christene te beroof van vrede, is om hulle te oortuig dat hulle in die vlees moet strewe om God te behaag. Hy teister my heeltyd met hierdie een!

Soms wanneer ek ‘n stil plek nodig het om te bid, ry ek twee ure weg na die heuwels van Pennsylvania. Nie lank gelede nie, was ek daar en die het die Here geprys en Sy teenwoordigheid geniet, terwyl ek oor groen velde en woude uitgekyk het. Maar skielik het iets my getref: Ek het gevoel asof ek niks vir die Here doen nie!

Ek het gebid, “Here, ek bereik nie veel vir U koninkryk nie. Al wat ek doen, is bid, kry boodskappe vir preke, en gaan kerk toe en preek. Die hele wêreld is op pad hel toe en ek doen niks vir U nie!”

Het sulke gedagtes jou al ooit getref? Jy doen alles wat jy weet om die Here te behaag, maar jy voel steeds nie heilig nie. Ek weet ek het nie. Ek voel in werklikheid amper nooit heilig nie. Dit is waar selfs in my beste tye – selfs wanneer ek preek onder die Gees se salwing!

Jy sê, “Jy, Broer Dave? Jy voel soms asof jy nie veel vir God bereik nie?” Ja! Die duiwel kom in en laat ons almal onwaardig en onvervuld voel. En ons verloor ons vrede deur toe te gee aan hierdie verskriklike gevoelens!

Luister na Paulus se gebed vir ons:

“En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees” (Romeine 15:13).

Paulus het in wese gesê, “Jy moet gevul wees met hoop, blydskap en vrede terwyl jy met Jesus wandel!” Jy mag sê, “Ek wil op hierdie pad wandel met hoop, blydskap en vrede. Ek wil voortdurend gevul wees, soos Paulus sê. Maar hoe?” Ek dink nie God se vrede kan ooit in volle mate na ons toe kom nie, totdat ons ophou om die Vader slegs as ons Regter te sien en Hom te laat wees wat Hy die graagste vir ons wil wees! Hy sê vir ons in Sy Woord wat Sy begeerte is: Hy wil ons liefdevolle kinderoppasser wees!

God beskryf Homself op hierdie manier in Hoséa:

“En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie” (Hoséa 11:3).

Die Hebreeus in hierdie vers vertaal, “Ek het na hulle gekom in hulle wanhoop en hulle teer verpleeg in slegte, ongelyke plekke. Ek het hulle in my arms gehou soos ‘n kinderoppasser!” Maar, die Skrif sê Efraim “...dwing om van My afvallig te word...” (Hoséa 11:7). Die woord “dwing” hier beteken “in afwagting te wees, in twyfel te hang.”

Efraim was nie seker van die Here se liefde en teerheid nie. En God het vir Hoséa gesê, “My volk twyfel in hulle liefde vir My. Hulle ken My nie werklik nie – hulle ken nie My geaardheid nie. Hulle is onseker van My liefde!”

Dit was waar – Efraim kon nie glo dat God hulle steeds liefgehad het nie. Hulle was afgodedienaars, afvalliges, twyfelaars – vasgevang in allerhande vrese! Hulle het waarskynlik gedink, “Ons het God se misnoë op onsself gebring. Ons het moedswillig gesondig. Hy sal ons sekerlik oordeel en Sy toorn oor ons almal afstuur!” Maar God het gesê, “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim...?...my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelye opgewek” (Hoséa 11:8).

Watter liefde en barmhartigheid? God het na hulle verlang en gesê, “Hoe kan ek jou prysgee? Ja, daar was ‘n tyd toe Ek kwaad was vir jou. Ja, jy is ongehoorsaam, en soms bedroef jy My. Maar jy is steeds My kind – en Ek het jou lief!” Geliefde, die Here jou jou nooit prysgee nie! Selfs nou verlang Sy hart na jou. Hy waak oor jou en versorg jou soos ‘n kinderoppasser!

Luister na Sy woorde van vertroosting en genesing aan jou:

“Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het” (Jesaja 57:16).

Die Here sê in wese, “Ek sal nie kwaad wees vir jou nie. As woede al was wat jy in My gesien het, sou jou gees beswyk! Jy sou dit nie kon hanteer nie – dit sou te oorweldigend wees. Jy sou in die versoeking wees om moed te verloor!”

“Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan op hulle eie weg” (Jesaja 57:17).

“Ek was kwaad oor jou mislukkings. Ek het My woede teenoor jou verwoord, maar dit het niks gehelp nie. Jy het bloot in jou hardnekkige weë voortgegaan, My waarskuwings weerstaan en was ongehoorsaam aan My. Daarom het Ek Myself vir jou verberg!”

“Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges” (Jesaja 57:18).

“Ek sien jou hart – Ek ken al jou mislukkings. Maar Ek sien jou ook treur oor jou sonde, jou smagting en verlange na My. Selfs al het jy misluk, het jy nie van My afvallig geword nie. En nou gaan Ek jou genees! Ek gaan jou herstel om jou siel te vertroos. Ek sal jou weer lei en leiding gee!”

Ek vra jou: Klink dit asof God moed verloor met Sy volk wanneer hulle misluk?

Nee – nooit! Hy mag Homself vir jou verberg vir ‘n rukkie; Hy mag Sy woede vir ‘n seisoen laat sied. Maar, sê Hy, “Ek sal jou terugtrek met bande van liefde. Haal af jou juk, jou las – Ek wil jou genees!” “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek...” (Hoséa 11:4).

Dierbare heilige, jy mag tans deur diep waters gaan. Ek bedoel nie noodwendig sonde, versoeking of beproewing nie; Ek praat van gebeure wat op jou afgedruk word wat oorweldigend is, wat jy nie kan verstaan nie. Winde en golwe van allerhande soorte stroom oor jou, dinge bokant jou begrip. Dit kom na jou huis, jou kerk, jou werk, van oral af. Maar God wil jou deur dit alles dra! Hy wil jou verpleeg terug tot by geestelike gesondheid! As al wat jy nou kan glo is, dat Hy jou liefhet ten spyte van al jou hardnekkige weë – dat Hy jou smeek om Hom as jou Goddelike Oppasser te sien – is dit genoeg!

Vertrou in Sy goedheid. Glo in Sy liefde en barmhartigheid. Moenie Hom langer beskuldig dat Hy kwaad is vir jou en nie met jou praat nie. Wend jou na Hom en sê, “Here, U is my oppasser. Dra my!” Laat Sy vrede in jou hart en oor jou hele lewe heers.

Halleluja!