Die Pyn van God

David Wilkerson

Volgens die Skrif, moet ons nooit aan God dink as ‘n koue, ongevoelige Vader nie. Ons God voel diep! Hy is aantasbaar. Sy hart kan aangeraak word. Hy het in werklikheid medelye met ons swakhede (sien Hebreërs 4:15).

God voel nie net pyn nie, maar word ook bedroef. Jy onthou dat Jesus geween het by Lasarus se graf. Hier is ‘n beeld van God in die vlees wat ween! Dit wys vir ons dat die Here saam met ons voel en saam met ons huil. Jesus het immers gesê, “..Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9).

Ons kry nog ‘n duidelike kykie na God se pyn in die Tuin van Getsémané. Skaars ure voor die wagte gekom het om Jesus aan die hoëpriester oor te lewer, het Hy so erg geween en met soveel gevoel, dat bloed met Sy trane gemeng het. God was gepynig oor die sonde van die mensdom!

Het jy al ooit gewonder waarom Jesus in die tuin geween het? Dit was nie oor die pyn wat Hy aan die Kruis sou beleef nie. Nee, Jesus het nie gesmag daarna om die beker te verwerp nie.

Liewer, ek glo Jesus het afgekyk deur al die jare van die mensdom heen na die Wederkoms. En terwyl Hy daardie jare deurgekyk het, het Hy die ondenkbare gesien. Hy het menigtes mense gesien wat Sy vrye offer van ‘n volle, algehele verlossing verwerp het. En Hy het die pyn en lyding gesien wat hulle sou beleef as gevolg van hulle verwerping van Hom.

Jesus het nie gekerm, “Ek is op die punt om My bloed uit te stort en deur soveel pyn te gaan – maar julle gaan My verwerp. Ek sal met julle afreken op die Oordeelsdag. Julle het ‘n dag van afrekening wat kom!” nie.

Nee! Jesus het geween oor die menigvuldige miljoene wat sou kom – diegene wat Sy vrye offer van verlossing, guns, seën, leiding en salwing sou ken – maar dit egter nie self sou benut nie. Christus het geween omdat soveel verlore sou gaan, ten spyte dat daar ‘n geneesmiddel vir hulle beskikbaar was.

Dit is die pyn van God! Dit is die pyn wat die mensdom oor homself bring. Jesus het nie net ons sondes na die Kruis gedra nie. Hy het ook die pyn van die hele wêreld gedra!

Hier in New York Stad, ontmoet ons oral mense wat senuweeagtig en depressief is. Ons ontmoet dwelmverslaafdes, alkoholiste en hawelose mense wat buite die deure van die kerk sit. Aan al hierdie mense word die evangelie vrylik verkondig – en tog verwerp talle dit!

In die tuin, het Jesus deur Sy God-oë die groot massas van die mensdom en al hulle pyn gesien. En in daardie oomblik, is alles op Hom gestapel – jou pyn, my pyn, die pyn van elke mens wat Hom verwerp te enige tyd.

Ek glo egter ook dat Jesus ‘n droefheid in sy hart gehad het weens ‘n ander rede. Hy het geweet mense sou Hom bespot, Hom terg en Hom die lied van dronkaards maak. En dit het Hom gepynig dat oordeel voltrek sou word oor almal wat Sy offer verloën.

Toe Christus vir Sy dissipels gesê het, “...So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” (Matthéüs 26:40), glo ek dit wat uit pyn gewees. Hy het hulle nie bestraf nie. Liewer, dit het Hom gepynig omdat Hy geweet het hulle vlees was swak. En Hy het geweet wat hulle swakheid oor hulle sou neerbring.

In die volgende vers, sê Jesus, “...Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matthéüs 26:41). In Sy alwetende oë, het Jesus vooruit gesien hoe die dissipels Hom verlaat en vlug. Hy het hulle leegheid en pyn gesien nadat hulle Hom verwerp het en teruggekeer het na hulle vorige lewens as vissermanne.

Hy het geweet dat die gebeure wat sou volg, Petrus sou bring by verloëning van Hom. Jesus het gesien dat hierdie eens dapper dissipels na die berge sou vlug en skree, “Hoe kon ek Jesus verloën het? Hoe kon ek so ‘n verskriklike ding gedoen het?”

So, toe Jesus vir hierdie manne gesê het, “Kon julle nie saam met My waak nie?”, het Hy nie bedoel, “Ek het ‘n vriend nodig tydens My moeilike tye” nie. Nee – Hy was God! Hy het nie iemand nodig gehad om Hom by te staan en Hom te bemoedig nie.

Liewer, Jesus was in pyn vir Sy dissipels. Hy het in wese gesê, “As julle nie saam met My waak nie, sal julle nie gereed wees nie. Julle sal nie in staat wees om dit wat gaan gebeur te hanteer nie!” Hy het geweet van die afvalligheid wat in hulle harte sou ontstaan omdat hulle te lui was om hulleself te omgord. En die gedagte aan hulle daaropvolgende lyding het groot pyn vir Sy hart gebring.

Moenie vir ‘n oomblik dink dat Jesus nie bedroef was oor Judas nie. Niks in Sy hart kon daardie man bloot wegstuur en sê, “O duiwel, gaan doen jou werk” nie. Ek glo egter Jesus het van binne geween toe Judas uit die Bovertrek geloop het om Hom te gaan verraai.

Christus se alwetende oë het vooruit gesien hoe daardie dissipel dertig stukke silwer op die grond gooi en ween, “Ek het die lewende God verraai!” En Jesus het sekerlik Judas se droefheid gevoel toe daardie geteisterde man uitgegaan het om homself te hang.

Ek wil iets met jou deel wat die Here onlangs in my hart openbaar het:

God put geen plesier daaruit om oordeel uit te deel nie!

Elke keer wat ons teen God sondig, vereis sy geregtigheid dat Hy Sy kinders tugtig. Dit is egter God se pynlikste werk – om oordeel oor diegene te bring wat Sy wette breek!

“Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe” (Esegiël 18:32).

God sê, “Dink jy ek geniet dit wanneer mense sterf? Nooit! Ek kry geen plesier uit die ondergang van enige sondaar nie.”

Jesus het geen plesier geput uit Judas se dood nie. Hy het nie geroem en gesê, “Kyk wat met verraaiers gebeur!” nie. Die Here put ook geen plesier uit die dood of verwoesting van dwelmverkopers, aborsiedokters en selfs moordenaars nie. Hy is nie gelukkig wanneer enigeen in sonde sterf nie.

Hoe anders is ons as die Here in hierdie saak! Ons slaan ons hande saam en sê, “Dankie, Here – U het met daardie boosheid afgereken.” Ons voel niks van God se pyn wanneer ‘n sondaar misluk nie!

Jy mag vra, “Maar God sê in Spreuke 1:26, ‘Daarom sal Ek ook lag by julle ondergang’?”

Nee! Die konteks van hierdie gedeelte begin in vers 20. Dit lees, “Die Wysheid roep hardop daar buite, sy verhef haar stem op die pleine...spreek...Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat?...” (Spreuke 1:20-22). Wysheid praat in vers 26, wat lees, “Daarom sal Ek ook lag by julle ondergang...”

Dit is wysheid – nie God nie – wat die sondaar spot. Hierdie gedeelte adresseer diegene wat alle wysheid opsy stoot en sy raad uittart. Jy sien, daar is ‘n wet betrokke – ‘n vasgestelde beginsel van God – wat ons wysheid noem. As jy die straat oorsteek wanneer die ligte rooi is en deur ‘n motor getref word, dan spot die wysheid in daardie robot oor jou ondergang.

God sou nooit kon lag oor die ondergang van selfs die mees goddelose mens nie. Hy kan nie diegene bespot wat verwoes word deur hulle sondes nie. In teendeel, Hy sê vir ons Hy put geen plesier uit die dood van enige sondaar nie.

Sy wysheid roep egter uit tot almal. Dit roep op die oomblik uit op die strate net buite Times Square Kerk. Diegene wat veronderstel is om God se stem te hoor – wat in plaas daarvan daardie wysheid uittart – sal mee gespot word op die Oordeelsdag. In daardie tyd, sal wysheid uitroep, “Hoe dwaas was jy!” “Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie” (Spreuke 1:28).

Dieselfde hoofstuk in Spreuke bied egter hoop. Dit openbaar God se hart in die laaste vers:

“Maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil” (Spreuke 1:33).

Ons sien ‘n ander beeld van God se pyn wanneer Jesus ween oor die stad Jerusalem!

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek! Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Lukas 19:41-44).

Wie ween hier? Dit is Jesus – God in die vlees!

Hy het nie op een of ander seepkis gestaan en Sy vinger rondgeswaai en geskree, “Eendag sal ‘n leër kom en jou vroue en kinders doodmaak!” nie.

Nee – Jesus het geween terwyl Hy geprofeteer het. Hy het veertig jaar vooruit gekyk, na die tyd toe Titus se leër Jerusalem sou binneval, die stad sou verkrag en die tempel sou vernietig. Dit sou ‘n slagting bo alle slagtings wees. En terwyl Jesus dit vooruit gesien gebeur het, het Hy oor die stad geween.

Die inwoners van Jerusalem sou Hom verwerp – op Hom spuug, Hom bespot, teen Hom uitvaar, Sy Naam vloek en Hom kruisig. Hier was Hy egter, besig om te ween en in pyn oor hulle – omdat God se geregtigheid oordeel vereis! Geregtigheid sou ‘n heidense leër in die strate inbring – en mans, vroue en kinders sou doodgemaak word sonder genade.

Ek glo egter Jesus het ook geween oor wat Jerusalem kon beleef het: ‘n besoeking van God. Hule kon seën, vergifnis en ‘n nuwe hart gehad het. Maar hulle het dit alles verwerp! Die volgende vers sê vir ons waarom Jesus se pyn so groot was:

“En terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye” (Lukas 20:45-46).

Jesus het in die tempel ingegaan met ‘n sweep en al die geldskieters uitgedryf. Waarom hierdie ernstige bestraffing? Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het dit was die sondes wat die komende oordeel verhaas het!

Jesus het die pyn gevoel van daardie verskriklike toekomstige toneel. Hy het al die uitroepe gehoor van die vroue wat ‘n messteek in hulle mae sou kry. Hy het al die geskree gehoor van die kinders wat vertrap sou word deur Titus se leër. En Hy het getreur terwyl Hy gesien het hoe steen vir steen van die tempel afgebreek sou word.

Jesus het al hierdie dinge vooruit gesien en gesê, “Verstaan julle geldskieters nie? Wat julle hier doen, bring God se oordeel mee!” God was in pyn oor Sy uitverkore volk – omdat hulle sonde hulle sou vernietig!

Daar moes trane in Jesus se oë gewees het toe Hy daardie sweep geklap het. Ek glo nie ‘n enkele hou het iemand in daardie tempel geraak nie. In plaas daarvan, het dit tafels en waentjies getref terwyl dit in die wind geklap het. Hy het die sweep gebruik as ‘n roede van liefde. Dit was sy manier van sê, “Word wakker! Julle forseer God om dit wat Hom die seerste maak op julle neer te bring!”

Laat my vir jou nog ‘n kykie gee van God se pyn:

“Toe sê die HERE vir Moses...jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel...Hulle het vir hulle ‘n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer...Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk. Laat My nou dan begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer...Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o HERE, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egitpeland uitgelei het? Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk...Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen” (Exodus 32:7-14).

Wanneer talle Christene hierdie gedeelte lees, skryf hulle foutiewelik meer genade en barmhartigheid toe aan Moses as aan God. Hulle dink, “Moses pleit vir groot barmhartigheid oor Israel, terwyl God gereed is om hulle te vernietig.”

Niks kon verder van die waarheid af wees nie! Daar was slegs een rede waarom Moses kon bid soos hy hier gedoen het: Dit was omdat Hy God se barmhartige hart geken het!

Jy sien, God het hier uit Sy geregtigheid gepraat – en geregtigheid vereis dat die mense verteer moes word. Maar Moses het geweet dit sou God te veel pynig om Sy kinders te vernietig. Hy het geweet God het hierdie mense liefgehad. Daarom het hy gepleit, “Here, Ek weet dat U geregtigheid uitroep en U moet dit uitvoer. Hierdie hardnekkige volk behoort uitgeroei te word.

“Maar ek weet iets anders ook, Here. Dit is dat U nie die pyn sou kon verduur as U dit sou gedoen het nie! U mag dalk 10,000 of 12,000 sou kon vernietig – maar hoe meer U vernietig, hoe meer pyn sal U hê. Ek ken U hart, God – en ek weet dat U Israel nie kan vernietig nie, want U het haar lief!”

Die Bybel sê God het “berou” gehad – wat beteken Hy het van plan verander oor hoe Hy Israel sou oordeel. Hy sou hulle nie vernietig nie. In plaas daarvan, sou die mense wegteer in die wildernis. God sou egter nooit sy barmhartigheid van hulle af wegneem nie. Hoewel die volk aangehou het om Sy hart te pynig met hulle ongeloof vir nog agt-en-dertig jaar, sou die Here hulle steeds beskerm, hulle lei, hulle voed en hulle klee tot op hulle sterwensdag.

As ek dink aan wat Job deurgegaan het, sien ek hoe God se hart gepynig moes gewees het!

Ek wonder hoeveel keer het die Here God Job gesien en gesmag om te sê, “Genoeg! Ek kan nie toelaat dat my dienskneg deur nog meer van hierdie verskriklike pyn gaan nie. Ek moet dit stopsit!”

As jy dink Job het gely, moet jy weet hoeveel God saam met Hom gely het. Ek verbeel my God het gesê, “Kom net daardeur Job, en Ek sal vir jou alles teruggee wat jy verloor het. Hou net vas en Ek sal vir jou een-en-‘n-half keer meer gee.” Uiteindelik, toe Job se lyding verby was, het God gesê, “Ek gaan vir jou dubbel teruggee, Job. Ek sal vir jou twee keer meer gee as wat jy voorheen gehad het!”

Ons sien ook God se pyn toe Hy oordeel moes uitdeel aan Dawid omdat hy Israel laat tel het. God het Dawid beveel om nie die volk te tel nie, sodat hy nie versoek sou word om op die arm van die vlees te vertrou nie.

Dawid het egter gedoen wat die Here verbied het. En dit het God se hart gepynig:

“En hierdie saak was verkeerd in die oë van God; daarom het Hy Israel swaar getref” (1 Kronieke 21:7).

God moes Dawid oordeel. Die koning het in homself geroem dat hy ‘n oorvloed van magtige krygers gehad het. Daarom het die Here ‘n engel gestuur om Sy oordeel te voltrek deur Israel met die pes dood te slaan. Gou het die trotse mense soos vlieë gesterf.

Dawid het geluister terwyl boodskappers vir hom die verskriklike berigte gebring het – 10,000 dood in Hebron, 5,000 dood in Benjamin; 6,000 dood in Juda. Die dodetal het net aanhou toeneem.

Kort voor lank, was 70,000 Israeliete dood. Die doodsengel het heen en weer deur die land gegaan en mense links en regs doodgeslaan. En nou het hy oor Jerusalem gestaan met sy swaard uitgetrek, gereed om toe te slaan. Die oorblyfsel van Dawid se magtige krygers was op die randjie van totale vernietiging!

God het toegeslaan, presies op die hart van Dawid se trots. Hy was besig om hierdie man te probeer red – om hom van die vyand van sy siel te red. En, die Skrif sê vir ons:

“...Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig” (1 Kronieke 21:16).

Toe Dawid van al die sterftes in Israel gehoor het, het hy op sy knieë in berou neergeval. Hy het gehuil, “O God, dit is my fout! Hierdie mense is onskuldig. Here, spaar hulle asseblief. Plaas U oordeel op my!”

God kon dit nie verdra om Dawid se pyn langer te voel nie. Uiteindelik het Hy vir die engel geroep, “”Genoeg! Sit weg jou swaard. Die pyn is vir My te veel!”

“En die HERE het die engel beveel om sy swaard weer in die skede te steek” (1 Kronieke 21:27).

Dit was asof God gesê het, “As Ek toelaat dat geregtigheid voortgaan, sal ek nie in staat wees om Dawid se verskriklike pyn te verdra nie. Hy sal sterf van ‘n gebroke hart!”

Hier is ‘n ontsaglike beeld van God se hart van pyn. Dawid het Hom bedroef, en God se geregtigheid het straf vereis. Maar God het nie oor Dawid gestaan en Homself oor sy onheil verkneukel nie, “Het jy jou les al geleer?” Nee – Dawid se trane het God se teer hart bereik! Die Here het Dawid se pyn gevoel en het medelye gehad met sy swakheid. En Hy het gesê, “Genoeg!”

Ek glo wanneer ons God forseer om ons te straf en te oordeel vir die sondes wat ons pleeg, veroorsaak ons vir Hom ‘n “dubbele pyn!”

Die eerste deel van God se verskriklike “dubbele pyn” is wanneer ons sondig in Sy teenwoordigheid, teen Sy lig en liefde.

Dit is egter nie net sonde self wat God bedroef nie. Dit is omdat Hy weet dat die gevolge van ons sonde binnekort sal volg. God ken die prys wat ons moet betaal: Ons sonde gaan ons dryf na droefheid en ellende! En dit pynig Sy hart grootliks.

Die tweede deel van God se “dubbele pyn” is dat ons sonde veroorsaak dat Hy Sy Woord hou om ons te oordeel. Hy moet toekyk soos ‘n liefdevolle Vader en luister na ons angskrete terwyl Hy ons tugtig – alles vir die doel om ‘n goddelike karakter in ons te vorm.

Nie lank gelede nie, het ek voor ‘n krisis te staan gekom – ek was aan die einde van dit wat ek kon verdra. Ek het gehoor dat lasterlike dinge van my en van ‘n medepastoor gesê word by Times Square Kerk. Dit was verskriklike, snedige geskinder. Ek kon nie glo mense het sommige van die dinge gesê nie. Dit het my erg seergemaak.

Nadat dit vir ‘n tyd lank aangehou het, het ek begin om God aan Sy Woord te herinner:

  • “’n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om” (Spreuke 19:9).
  • “...’n leuenaar luister na ‘n tong wat onheil stig” (Spreuke 17:4).
  • Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak” (Spreuke 11:13).
  • “Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering geopenbaar” (Spreuke 26:26).

Met verloop van tyd, het ek wanhopig uitgeroep: “O God, hoe lank sal U toelaat dat dit voortgaan? Die leuens verander soveel keer, ek weet nie eens wat hulle van dag tot dag is nie. Ek kan nie daarteen veg nie. U is my verdediger, Here – en U sê U sal U mense wreek. Maar ek sien nie dat oordeel voltrek word nie. Here, asseblief – hoeveel meer moet ek verdra voor U sal optree?”

Terwyl ek gedink het aan die laster wat teen my aan die gang was, het ek begin dink aan ander beleërde herders en dienaars. Daar is so baie heiliges vandag – heilige, regverdige mense – wat verskriklike beproewings moet verduur weens bose woorde wat teen hulle uitgespreek word deur medewerkers, familie en selfs vriende.

“Waarom, Here?” het ek gebid. “Waar is U regverdige oordele? Waarom laat U steeds toe dat U mense skade ly? Waarom wag U so lank om geregtigheid te laat seëvier?”

Die Here het geantwoord, “David, Ek is barmhartig, lankmoedig en stadig om kwaad te word, omdat dit My pynig om My oordeel uit te deel. As jy My pyn kon voel, sou jy nooit, ooit begeer om My oordeel te sien plaasvind nie. Jy sou verstaan waarom Ek so lank gewag het om dit te voltrek!”

Toe het God vir my ‘n skrikwekkende beeld van die oordele gewys wat Hy moet stuur teen diegene wat teen Sy Woord sondig. Verskriklike dinge sal inderdaad diegene oorval wat voortgaan met hulle sonde van skinder en laster.

Die gedagte van goddelike vergelding – van oordeel wat op iemand neerkom – het my oorweldig. Ek roep uit, “O, Here, moenie om my onthalwe oordeel nie! Asseblief, moenie dit doen nie, selfs nie teen diegene wat my skade gedoen het nie. Moenie dit doen om my te regverdig nie!”

Ek het God se pyn gevoel – Sy traagheid om te oordeel! En daardie pyn het in my hart geduur vir ongeveer vyftien minute.

Toe het die Here met my gepraat: “David, jy weet hoe pynlik dit is om jou kinders te tugtig, omdat jy hulle liefhet. Dit is dieselfde vir My. Dit pynig My om My oordeel uit te deel en die wat Ek liefhet te tugtig!”

Uiteindelik het God my toegelaat om die pyn te sien wat Hy verduur die hele tyd waarin Hy my moes tugtig!

Ek kan duidelik vier of vyf kere onthou waarin die Here my swaar getugtig het. In daardie tye sou ek sê, “O, God, dit is pynlik! Ek wil nooit weer deur iets soos hierdie gaan nie.”

En nou het God vir my gesê, David, Ek wou ook nie weer daardeur gaan nie. Dit het My gepynig om toe te kyk en jou seerkry toe te laat. Ek het dit alles onwillig gedoen. Ek het geen plesier daaruit geput nie. Dit was droefheid vir My hart. En tog moes dit gedoen word – omdat Ek jou liefhet!”

God het vir my op die harde manier geleer dat ek nooit oor enigeen se kastyding moes juig nie. Mag die Here egter barmhartigheid betoon aan daardie Christene wat juig in die kastyding van ‘n ander:

“As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie” (Spreuke 24:17).

Nie net moet jy nooit bly wees wanneer jy sien dat God sy oordele voltrek nie. Jy moet ook God se pyn voel as Hy dit uitdeel! Jy kan eenvoudig nie juig in die teenwoordigheid van ‘n Meester wat ween terwyl Hy sweepslaan nie, voor ‘n Christus wie se hart gebroke is nie.

God se oordele oor ander behoort jou hart te breek. Dit behoort jou te laat uitroep, “O God, dit is genoeg! Asseblief – laat U engel sy swaard terugsit.”

“Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11).

God praat hier van Sy eie hart, sowel as ons s’n. Sy kastydings is nie vreugdevol vir Hom nie, maar droewig en pynlik!

Wanneer God egter optree om te oordeel, sweef Hy oor sy kinders terwyl Hy hulle tugtig. Terwyl Hy een hou na ‘n ander slaan, wag Hy om te sien of die laaste hou ‘n traan veroorsaak het. Hy kyk vir selfs die geringste teken van berou of bekering. En Hy hou op by die eerste aanduiding daarvan! Hy smag daarna om te sê, “Genoeg – niks meer nie! Dit pynig My te veel.”

Geliefde, jy moet werk maak met hierdie saak van God se pyn. Jy moet jouself kasty – om jou gedagtes gevange te neem en te sê, “O, Here, laat ek vir my vyande bid – vir die diegene wat probeer om my skade te doen!”

God het die mees goddelose, vulgêre sondaar op die straat lief. En as Hy daardie persoon liefhet, hoeveel meer het Hy die Christen lief wat jou skade doen en homself jou vyand gemaak het?

Miskien het jy teen hierdie tyd ‘n idee van hoe ver ons van die hart van God af is. Ons het nog soveel om te leer oor Sy hart. Nee, Hy verbly Hom nie in oordeel nie. Hy put geen plesier uit die verwoesting van die goddeloses nie, ook nie in die kastyding van Sy kinders nie. In teendeel, dit pynig Hom verskriklik.

Laat my vir jou vertel waarin die Here Hom verbly:

“Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die diepstes van die see werp” (Miga 7:18-19).

Dank God vir Sy groot deernis, beskikbaar vir almal. Hy verbly Hom in barmhartigheid.

Halleluja!