Die Passievolle Bruid

David Wilkerson

NIE almal wie in wat as die ekklesiastiese kerk bekend staan, gaan deel wees van die bruid van Jesus Christus nie. Nie almal wat sê, “Here, Here,” sal ingaan nie. Ons weet dit uit die Skrif.

Hoe dit ook al sy, binne ekklesiastiese kerk dwarsdeur die wêreld, bestaan daar ‘n uitverkore liggaam – ‘n heilige oorblyfsel – wat uit die bruid van Christus sal bestaan. Tans berei God daardie bruid vir ‘n bruilof met Sy Seun. En Hy sal hierdie bruid aan haar Bruidegom voorstel by die bruilofsmaal van die Lam!

Die gelowiges wat hierdie bruid uitmaak, mag behoort, of nie behoort aan die georganiseerde kerk. Maar hulle het almal een ding in gemeen: Hulle het ‘n passie vir Jesus! Dit is die eerste eienskap van almal wat uit die bruid van Jesus bestaan: Hulle is totaal en al smoorverlief op hul Here. Hulle word gekenmerk deur hulle liefde vir Hom, eerder as hulle kennis van Hom.

Vandag word die kerk in der waarheid geruïneer deur ‘n dooie, intellektuele najaag van teologie wat geen hart vir Christus het nie. Bybelskole en kweekskole is vol leraars en studente wat jare verdiep deurbring in leerstellinge, dispensasies, Bybelse onfeilbaarheid, argeologie, wonderwerke en die historiese Jesus.

Dit is hierdie “intelligensie” oor Jesus – met geen hart vir Hom nie – wat die hedendaagse Laodicense kerk gevorm het. Ons is in ‘n kerk wat intellektueel alles reg het. Ons weet hoe om die behoeftes van al ons mense aan te spreek. Ons besit hulpbronne en dink ons het niks nodig nie. En ons sit terug en dink, “Daar is niks wat ons kan byvoeg nie. Ons het alles!”

Sommige kerke hier in New York Stad dink hulle kan elke behoefte aanspreek. Op hulle personeel is beraders, sielkundiges en psigiaters – alles wat nodig is vir die menslike liggaam en verstand. Maar sulke kennis sonder ‘n passievolle hart vir Jesus, veroorsaak slegs ‘n tweemaal dooie gemeente.

Nog nooit in die geskiedenis was daar meer kopkennis oor geestelike dinge, met minder ywer vir Jesus nie. Hierdie laaste-dag Laodicense kerk is vol intelligensie oor Christus – maar hulle harte is gesluit vir Hom!

‘n Prediker kan voor ‘n gemeente staan en ‘n stroom van slimhede uitstort – geestelike kennis wat hy deur Bybelkollege, kweekskool of persoonlike studie bymekaargemaak het – en tog kan dit totaal vervelig wees. Sonder ‘n passievolle hart vir Christus, laat dit die hoorders doof! As daardie bedienaar Jesus slegs intellektueel ken – as hy nie verlief is op Hom nie – veroorsaak sy kennis dood, nie lewe nie.

Huidiglik, is die massas wat in die meeste gemeentes sit, besig om op te droog. Dit is ironies dat hulle gevoed word deur die mees geleerde predikers wat nog ooit op die kansel gestaan het. Hierdie mans is opgelei, en opgelei, en opgelei – en tog het hulle nog nooit ‘n hart of passie vir Jesus gehad nie! Ek sê vir jou, die kerk sal nooit ‘n bruid se hart van liefde vir Christus hê solank as wat die herders se harte koud is nie.

Jesus het sy bruid gewaarsku om uit te kyk vir sy spoedige terugkeer!

Jesus sê in Matthéüs 24:

“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 5:44).

Dit is die tweede eienskap van die bruid van Christus: ‘n verwagting van sy spoedige wederkoms! Jesus se bruid moet leef in aanhoudende, blye verwagting van haar Minnaar se roemryke terugkeer – omdat Hy te enige oomblik kan kom.

Jesus het egter gewaarsku, dat in die laaste dae, goddelose bedienaars die kerk sou infiltreer in ‘n poging om die bruid aan die slaap te sus. Hulle sal probeer om haar hart weg te neem van haar Bruidegom deur aanspraak te maak dat, “...My heer (die Here) talm om te kom” (Matthéüs 24:48).

Hierdie evangelie word verkondig deur mense wat nie die prys wil betaal om Christus se gebooie te gehoorsaam nie. Hulle het sondige gewoontes en lei dubbele lewens – so, natuurlik sal hulle nie wil hê dat Jesus terugkom nie. Die gevolg is dat hulle ‘n leerstelling saamgeflans het om hulle te voortgaan met sonde te regverdig.

Die hart van hierdie leerstelling is die basis van “koninkryksheerskappy” teologie. Dit is die geloof dat Christus nie sal terugkeer nie, totdat die kerk sy regmatige plek ingeneem en geestelike gesag verkry het deur politieke posisies dwarsdeur die wêreld te wen. Die idee is dat Christenskap die kunste, wetenskap en onderwys sal oorneem en dit alles sal verander volgens die wet van God (of, meer akkuraat, die wet van Moses). Dit gaan alles oor om wetgewing in te stel oor heiligheid en geregtigheid.

Een voorstander van die koninkryksevangelie  sê, “Jesus kan onmoontlik terugkeer vir die volgende 30,000 jaar. Dit gaan ons só lank neem om beheer oor die aarde van die goddelose af terug te neem. Slegs wanneer ons die wêreld oorwin het en dit uitgestryk het, sal ons in staat wees om Koning Jesus terug te bring.”

Ek weet nie waar hy die getal van 30,000 jaar gekry het nie. Maar dit is net so erg as die man wat gesê het Jesus kom weer in September ’94.

Nee – hulle is albei verkeerd! Die Bybel sê dat diegene wat daarop aanspraak maak dat Jesus Sy koms vertraag, is “slegte diensknegte.”

“...daardie slegte dienskneg [sê] in sy hart: My heer talm om te kom” (Matthéüs 24:48).

Wat is die resultaat van hierdie valse leerstelling? Eerstens, dit veroorsaak die dood van alle liefde – die verdwyning van enige motivering vir heilig leef en van enige passie vir Jesus. Dit veroorsaak ook wat Jesus noem, die “medediensknegte begin slaan” (Matthéüs 24:48). Die voorstanders van hierdie leerstelling beland op die ou end in driftige, gemeen-begeesterde debatte – stryery met ander teoloë, onenigheid en geskreeu.

Hierdie leerstelling veroorsaak ook vreeslike wêreldsheid. Die meeste van die predikers van die voorspoedsevangelie het hierdie aspek van koninkryksteologie aangeneem. Hulle verkondig ook, “Die Here het Sy koms vertraag” – omdat hulle tyd wil hê om hulle sukses en voorspoed te geniet.

Sommige kompromitterende Christene sal sê, “Waarom sou ek leef in die verwagting dat Hy kom wanneer ek ‘n normale dood gaan sterf? Ek kan maak soos ek wil – drink, rook, vloek en fuif. En, soos die dief aan die kruis, sal ek net voor ek sterf uitroep, “Here, wees my genadig!”

Geliefde, moenie luister na hierdie verdoemende leerstelling van uitstel nie! As jy deel is van Jesus se bruid, sal jy so verlief wees op jou Here dat jy dit nie nie sal koop nie. In plaas daarvan, sal jy uitroep, “Ek weier om te hoor van sulke boosheid. My Here sê ek moet ten alle tye gereed wees vir Sy koms. Ek weet Hy is naby – ek kan dit aanvoel. My hart roep uit binne-in my, “Kyk, die Bruidegom kom.’ Waarom sou ek so ‘n dwase lering soos dié glo?”

Christene raak aan die slaap wanneer hulle ophou om met verwagting na Jesus se spoedige terugkeer te kyk!

“En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak” (Matthéüs 25:5).

Tot en met die tyd wat hierdie lering uitgekom het, was daar geen slapende maagde in die kerk nie. Die vroeë kerk was wawyd wakker en het geluister na Jesus se woorde. Hulle lampe was gereed en het gebrand en hulle het ‘n goeie voorraad olie gehad.

Petrus het die gees van die vroeë kerk op hierdie manier opgesom:

“Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Petrus 3:12).

Net so, het Paulus gesê:

“...(Ons) wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 1:7).

Toe het hierdie goddelose prediking gekom: “Hy vertraag Sy koms!” En dit is toe dat sluimer en slaap oor die kerk gekom het. Maar die bruid van Christus het nog altyd deur hierdie misleiding gesien!

In elke geslag kom die duiwel na die bruid toe en fluister tot haar hart, “Jou Here kom nie binnekort nie. Gaan voort – sondig. Moenie eers daaraan dink nie. Jy het ‘n hele leeftyd wat voor jou lê.”

Maar die bruid antwoord altyd, “Kyk hier, duiwel – Jesus het vir my gesê om aan te trek! Hy het my aangesê om myself te versier en vir Hom te wag. Hy sê Hy kan te enige tyd kom. So, jy kan maar wegdoen met al jou grafieke en redes en datums.

“As Hy nie gou kom nie, waarom klop die pols van my liefde dan so vinnig? Waarom roep my verlangende hart uit, “Ja, my Geliefde, kom gou!’ En waarom het Hy onlangs soveel tyd saam met my deurgebring en my gespeen van die wêreld?

“As Hy Sy koms vertraag het, waarom hoor ek dan Sy voetstappe nader kom? Waarom hoor ek Sy woorde in my oor, ‘Gou, baie gou’? Waarom voel ek Sy hand reeds onder my kop [Hooglied van Salomo 2:6]? Sy Gees sê vir my, ‘Staan op, want Ek kom! Maak gereed om op te pak en te vertrek!”

In Johannes 20, vat Maria Magdalena die bruid wie se hart heeltemal oorgegee is aan Christus saam. Hierdie vrou se lewe was gekenmerk deur haar liefde en toegeneentheid teenoor Jesus. Sy was duidelik ‘n welgestelde vrou, omdat sy Sy behoeftes aangespreek het saam met die ander drie Maria’s. Sy het dit heel waarskynlik gedoen uit pure dankbaarheid, want die Bybel sê dat Jesus sewe duiwels uit haar gedryf het. (Talle glo Maria was ‘n prostituut, maar daar is niks in die Skrif wat dit te kenne gee nie.)

So ver as wat dit die wêreld aangegaan het, was Maria Magdalena nie ‘n intellektueel nie. Sy was ook nie ‘n groot teoloog nie. Toe die manlike dissipels saamgekom het om die dieper dinge van die Kruis te bespreek, was sy waarskynlik stil en het haar gedagtes vir haarself gehou. Vroue van daardie dae het selde openlik oor geestelike sake gepraat in die teenwoordigheid van mans.

Sy het ook nooit voor die mans van die sinagoge gepraat soos Petrus het nie. Sy het nooit met die skrifgeleerdes, Fariseërs of Sadduseërs gedebatteer nie. Hulle kon die hele dag lank praat oor elke jota en tittel van die wet, dit moreel beskryf en geargumenteer of daar ‘n opstanding was of nie.

Nee – nietige, klein Maria Magdalena was anders as al hierdie geleerde, intellektuele mans. Sy het egter iets gehad wat hulle nie gehad het nie – iets baie dieper as wat ooit bekend was aan Jesus se dissipels. Sy het ‘n openbaring gehad!

“En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Johannes 20:1).

Dit moet plaasgevind het teen drie- of vieruur in die oggend. Maria het vroeg uitgekom na die graf toe, terwyl al die ander steeds geslaap het. Toe sy die steen afgerol gevind het met Jesus se liggaam weg, het sy gehardloop om Petrus en Johannes te gaan haal.

Toe die dissipels daar aangekom het, het hulle in die graf ingegaan en die linnekleed netjies opgevou gekry, maar geen liggaam nie. Hulle het duidelik verstaan dat Jesus nie daar was nie. Die Bybel sê, toe het die twee dissipels “...gesien en geglo” (Johannes 20:8).

Hulle het onthou van Jesus se woorde aan hulle oor Sy opstanding op die derde dag.

Hulle sien en glo was heeltemal prysenswaardig. Maar twee verse later lees ons,

“En die dissipels het weer huistoe gegaan” (Johannes 20:10).

Hulle was tevrede met die kennis dat Jesus nie langer daar was nie. So, daarom het hulle teruggegaan na besigheid soos gewoonlik.

Is dit nie net soos die kerk vandag nie? Talle Christene sê, “Ek het die krag van die evangelie gesien. So, natuurlik glo ek.” Hulle identifiseer hulle huidige verhouding met Jesus met blote kopkennis.

Dit was nie so met Maria nie! Intelligensie was nie genoeg vir haar nie. Sy wou Jesus self hê – en sy was nie van plan om weg te gaan nie:

“Maar Maria het buitekant by die graf gestaan en ween...” (Johannes 20:11).

Haar gees het uitgeroep, “Hierdie wêreld is ondraaglik sonder Hom! Ek kan nie huistoe gaan nie. Ek moet by Hom wees!” Sy was vasbeslote om daar te staan en in daardie graf in te tuur, totdat haar gebreekte hart verhoor was:

“Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:13).

Maria wou nie laat gaan nie. Sy het ‘n toegewyde hart gehad wat nie tevrede was met enigiets anders as Christus nie. Sy het die Here eenvoudig liefgehad. Hy was haar lewe!

Geliefde, dit is ‘n beeld van die bruid! Dit is daardie soort liefde – daardie brandende passie vir die Bruidegom – wat ‘n openbaring van Jesus bring.

En, Maria se toegewyde, verknogte hart het sekerlik vir haar ‘n wonderlike openbaring gebring:

“...en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het” (Johannes 20:11-12).

Dit was ‘n openbaring van die versoendeksel! Miskien onthou jy die beskrywing van die versoendeksel in die Ou Testament: Daar was een engel by die voete en ‘n ander een by die hoof. Hierdie engele in die graf het nou beteken dat Jesus self die versoendeksel was. Hulle het vir Maria ‘n openbaring van die versoendeksel van Christus gegee!

Terwyl die ander dissipels terug by die huis was, was Maria besoek deur die goddelike. Sy het dinge gesien wat niemand anders gesien het nie – omdat haar hart oorgegee was aan Jesus!

Ek wil ‘n stelling maak dat – as jy dit kan aanvaar – jou lewe sal verander: Diegene wat ‘n hart vir Christus het, sal die intelligensie van Christus ontvang!

As jy die kennis van Jesus soek sonder om ‘n hart vir Hom te hê, sal jy dit heeltemal misloop. Jy kan jou lewe deurbring om Christus te bestudeer, of onder groot Bybelleraars sit en tog nooit die hart van God ken nie. As jy egter ‘n hart of passie vir Jesus het, sal jy Sy openbaring ontvang!

Die bruid sê, “My Geliefde is tans in die hemel, as ‘n verheerlikte Man en as God. Hy is verwerp deur die wêreld. En omdat die wêreld my Christus, my Geliefde verwerp het, kan ek niks hier liefhê nie. My hart is nie op die aarde nie. Dit is waar Hy ook al is!”

Die bruid se hart is by haar Bruidegom – gesetel in die hemel aan die regterhand van die Vader!

Aan Maria was ‘n goddelike, bonatuurlike intelligensie bokant enige intellektuele kennis gegee.

Jesus het aan Maria verskyn en vir haar verdere openbaring gegee:

“...En toe...draai sy om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as U Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem” (Johannes 20:14-15).

Maria het in wese gesê, “Gee Hom vir my. Hy is myne – myne!” Ek vra vir jou: Kan jy glo dat selfs as niemand op aarde Jesus ken nie, ken jy Hom? Kan jy glo dat, selfs as niemand op die aarde Jesus het nie, het jy Hom? Hy is immers ‘n persoonlike Verlosser! “Hy is – myne!”

“Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! Dit beteken Meester” (Johannes 20:16).

Jesus ken die name van diegene wat Hom liefhet -  en Hy noem Maria by haar naam!

Jesus het vir haar iets gesê wat Hy vir niemand anders gesê het nie. En om dit te doen, het Hy haar Sy boodskapper vir “al die broeders” genoem. Die volgende vers lees: “...Raak My nie aan nie...” (Johannes 20:17).

Die oorspronklike Grieks beteken hier, “Hou op om aan My vas te hou.” Jesus weet Maria was nie van plan om Hom te los nie. Haar hart het uitgeroep, “Ek het U eenkeer verloor. Maar ek gaan U nooit weer verloor nie!”

Dit moet baie moed van Maria geverg het om Jesus se woorde aan haar te gehoorsaam. Jy sien, Hy het vir haar gesê dat Hy vir ‘n ruk sou weg wees. Hy sou opvaar na die Vader:

“...gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Johannes 20:17).

Geliefde, hier is ‘n ander groot openbaring! Jesus het in wese gesê, “Ek gaan huistoe na My Vader toe, waar Ek die Hoof van My kerk sal wees. Maar jy gaan ook! Ja, God is My Vader – maar Hy is ook jou Vader. En jy sal saam met My kom!” Jesus het profeties gepraat – van om te sit in hemelse plekke saam met Sy kerk.

Maria het vinnig teruggekeer na die dissipels. Toe was almal in een kamer bymekaar, waarskynlik besig om hulle ou visgereedskap skoon te maak. Hierdie manne was ook glad nie teoloë nie. Maar hoewel hulle net vissermanne was, was hulle vir drie jaar lank opgelei by die Meester se voete.

En nou het Maria ingeloop met die openbaring. Hierdie manne moes gaan sit en luister na ‘n vrou wat van Jesus gehoor het. Kan jy jou die toneel indink? “Wat het Hy gesê?” “Hoe het Hy gelyk?” Maria het eenvoudig geantwoord, “Al wat ek weet, is dat ek Hom gesien het. En Hy het vir my gesê om hierheen te kom en vir julle iets te sê!”

Ek hou daarvan om te hoor hoe toegewyde mans en vroue van God die woorde sê wat Maria gesê het: “Ek het van Hom gehoor – en ek het iets om te sê!” Sulke Christene het hulle afgesonder met Jesus en passievol na Hom verlang. En op Sy beurt, gee Hy vir hulle Sy hart en verstand. Wat hulle van Hom ontvang, is nie blote teologie nie. Nee, dit is iets baie groter as dit. Dit is ‘n openbaring wat so brand in hulle harte, dat hulle na hulle vriende hardloop en uitroep, “Luister na wat Jesus vir my gesê het!”

Vir die afgelope agt jaar of so, het ek talle uitnodigings ontvang om te praat by bedienaarskonferensies en konvensies. Ek het egter net twee hiervan aanvaar. Waarom? Dit is omdat ek nie Christus se openbaring gehad vir meeste van hierdie spesifieke mans nie. Ek sal nie iets spreek, tensy die Here dit eers tot my gespreek het nie.

Dit is die uitroep van my hart elke keer wat ek voorberei om te preek: “Here, as U nie met my gaan praat nie, gaan ek nie met hulle praat nie!” As al wat ek het, ‘n les is, sal dit niks beteken nie. Ek wil soos Maria Magdalena wees – om so oorgegee te wees aan die Here, dat Hy vir my Sy gedagtes gee en sê. “Gaan vertel vir die broeders!”

Jy mag moontlik sê, “Maar, Broer Dave – Maria Magdalena kon al haar tyd deurbring om Jesus te dien. Sy kon toegewyd vir Hom wag die hele dag lank, omdat sy nie in ons woeste tye geleef het nie.

“Sy hoef nie vyf dae ‘n week vroeg op te gestaan het en in ‘n goddelose omgewing te gewerk het nie. Dit was nie vir haar nodig om gedruk, gestamp en gestoot te word op die bus of trein werk toe nie. Sy het nie seksuele teistering beleef by die werk nie. Dit is baie anders vir my. Hoe kan ek ‘n diep toegewyde lewe leef in hierdie goddelose tye?”

Ek erken dit ruiterlik – ons Christene in New York Stad leef nie in ‘n oulike, stil, godsdienstige, wetsgehoorsame omgewing soos Jerusalem of Betanië nie. Nee – ons leef tussen die boosste, slegste, mees besoedelde, goddelose, gemeenste, lelikste, vuilste geslag van alle tye.

Maar die Here het dwarsdeur die geskiedenis gekyk na hierdie tyd en Hy het presies geweet hoe ons geslag sou wees. Hy het alles vooruitgesien wat ons vandag beleef. En Hy verwag nie van ons om New York Stad te verlaat en na een of ander stil plaas of bergtop te vlug, sodat ons kan bepeins, bid en toegewyd aan Hom kan bly nie.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Ek dank God vir almal wat in staat is om dit te doen. Ek het dikwels gedink dit is wat ek behoort te doen. Toe ons hoofkwartiere in Texas was, het ek gedink ek sou daar aftree en bloot boeke skryf tot die Here my huistoe neem. Maar nou is ek hier in New York Stad – in Times Square van alle plekke!

Dit is sekerlik goed om weg te breek om die Here te soek en jou fisieke liggaam te verkwik. En dit is waar dat Jesus weggebreek het om te bid en te bepeins. Maar Hy het dit gewoonlik net gedoen vir ‘n gedeelte van die dag of gedurende ‘n hele nag.

Ek glo die grootste toewyding is dit wat uitgeoefen word in die voorste linies – in die hitte van die stryd, met vure wat oral brand. Ek ken inderdaad talle gelowiges wie se toewyding versterk is te midde van woeste aktiwiteite en geestelike oorlogvoering. Hulle hoef nie op ‘n bergtop te wees om Hom lief te hê met hulle hele hart nie; hulle hoef nie in een of ander verlate dorpie te bly om te verlang na sy koms nie. Hulle het geleer om Jesus net so passievol lief te hê tydens hulle rit na die werk as in hulle gebedskamer.

Geliefde, jou sin van Jesus se nabyheid aan jou kan nie afhang van jou gevoelens nie. Wanneer jy terneergedruk, depressief en bedruk voel en nie tyd het om die Here te soek nie, sal die duiwel jou toestroom met gevoelens van skuld en onwaardigheid. Jy sal dink Jesus het jou verlaat en sê, “Ek sal terugkom wanneer jy vir My tyd het.”

Nee – die nabyheid van Jesus word gehandhaaf deur geloof! Dit het niks met jou gevoelens te doen nie. So, wanneer iemand jou stamp en stoot op die duikweg of in ‘n hysbak, sê net, “O God, ek glo deur geloof dat U hier is, dat U naby my is. Beskerm my, Here – bewaar my. Moenie dat hierdie gemors in my sisteem insypel nie!”

Ware liefde smag na Sy geselskap, maak nie saak hoe woes jou omstandighede is nie. Om in ‘n stad te woon, kan inderdaad sy voordele hê. In New York sien en hoor ons so baie van moord, verkragting, hebsug, geweld, misdaad en losbandigheid dat ons verplig is om Jesus meer lief te hê. En ek glo sommige van die mees toegewyde mense wat die bruid sal uitmaak, kom uit goddelose voorstedelike gebiede.

Laat my vir jou gee wat ek noem “die toegewyde lewe vir pendelaars en duikweg koord-hangers.” Dit beskryf in hooftrekke die toewyding vir “stedelike bruidskap.” Dit is ‘n eenvoudige manier vir besige, stadsjapie of pendelende Christene om ‘n diep toegewyde lewe te lei. Daar is niks geheimsinnig daaraan nie. In teendeel, dit is baie prakties:

Toewyding aan Jesus Christus is totaal afhanklik van Hom om vervul te wees!

Eenvoudig gestel, toewyding aan Jesus is om Hom alleen te vertrou om elke behoefte van jou liggaam, siel en gees aan te spreek. Dit beteken om op te hou om te kyk na enige persoon of bron buite Hom om daardie behoeftes aan te spreek. Ek hoor baie enkellopende mense sê, “Ek is moeg om eensaam te wees. Ek het ‘n maat nodig. Ek is immers menslik. My behoeftes sou aangespreek word as God net vir my iemand gee!”

Nee, ‘n maat sal nooit in staat wees om so ‘n behoefte te vervul nie. ‘n Maat kan jou in werklikheid net twee keer so ellendig laat voel – omdat jy nie net jou eie kopsere sal hê nie, maar ook syne (of hare). Totdat Jesus jou fokus is – totdat jy Hom sien as jou enigste ware vervullling – sal jy dieper en dieper in wanhopigheid wegsink.

‘n Man of vrou mag moontlik sê, “My huwelik is dood! My behoeftes word net nie aangespreek nie. Ek is verskriklik ongelukkig. Die enigste rede waarom ons steeds getroud is, is omdat ek nie in egskeiding glo nie.”

As dit jou beskryf, dan het jy nog nooit geleer wat die bruid van Christus moet leer nie. Wanneer jy ly in jou siel – wanneer dinge jou nie tevrede stel nie – moet jy na Jesus hardloop soos Maria het, totdat Hy die bron van jou algehele vervulling word!

Op een stadium wou Jesus vir Sy dissipels bewys dat Hy in beheer was van elke situasie. Toe het Hy vir Petrus geroep om uit die boot te klim en op die water te loop om Hom tegemoet te gaan. Petrus het gehoorsaam – en so lank as wat hy gefokus gebly het op Jesus, was hy ook in beheer van alles en het werklik op water geloop. Maar toe die dissipel op sy omgewing begin fokus het, het hy begin sink.

Die les hier is elementêr. Ek vra jou egter: Wat doen jy wanneer jy daardie sinkende gevoel kry? Draai jy na jou broer in die boot en roep jy ‘n vriend om hulp? Of hou jy jou oë vasgenael op Jesus en roep uit, “Here, red my”?

Die bruid van Christus sal bestaan uit diegene wat opgehou het om hulp, vertroosting, verligting of vervulling van enigiets op hierdie aarde te vind. Hulle het geleer om heeltemal te vertrou op die Een wat hulle liefhet om al hulle honger en dors te versadig.

Het jy hierdie soort wandel met Jesus? Ek moedig jou aan – hou jou oë gefokus op jou Bruidegom. Verwag Sy koms op enige oomblik. En moenie na enigeen of enigiets ander kyk om jou te vervul nie.

Bly passievol verlief op Jesus – en vertrou Hom om Homself in Sy volheid aan jou te openbaar.

Halleluja!